Artikels

Titel: Ek Is Afrikaans

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek lewe nog in 2010. Ek is omtrent 350 jaar jonk, die jongste van alle volwaardige tale. Van my baba dae onthou ek nie veel nie, net soos jy. My ma was Hollands en nie die moderne naam Nederlands nie. My pa was Nederduits. Meer as 1000 jaar gelede is hy Saksies genoem en hedendaags word hy dikwels Platduits genoem. My voorouers het drie duisend jaar gelede noord van die Kaukasiese berge begin om Europa toe te trek. Dit was baie soos die boere voortrekkers 170 jaar gelede.

Jan van Riebeeck se sieketrooster Stahl het eerste aan my gedink. Kort nadat mense uit die kasteel die reg gegee is om as vryburgers te boer, het Hollanders, Nederduitsers, ander Europeërs en Hottentotte (vandag Khoi genoem) in die taalverwarring begin om Afrikaans te praat, ‘n soort van eenvoudige taal vir alle mense aan die Kaap. Hulle het mekaar begin verstaan.

Die Khoi was my vroedvrou en later kinder oppasser. Hulle het al die potensiaal van my pa taal benut om vereenvoudig te kan word. Hulle het die woordeskat van my ma taal aangeleer. Later, toe die Franse Hugenote hier geland het, het hulle gou besef hoe waardevol ek was om in te skakel by die vryburgers. Daarmee het my kleuterdae tot ‘n einde gekom.

Hoekom vertel ek my geskiedenis? ‘n Taal sterf wanneer die mense wat dit praat, nie meer die geskiedenis van die taal ken nie. Dit is iets anders as om die taal te voed. Die kos is al die gedagtes wat jy in die taal uitdruk van die wieg tot die graf, van liefde tot haat, van nederigheid tot hooghartigheid, van pyn tot vreugde, van tafel tot bed, van werk tot ontspanning, van eensaamheid tot saampraat en ‘n boel ander dinge. Ek is die gom wat mense aan mekaar bind, of tragies, uit mekaar laat spat. Dit besorg my groot verdriet want dit is nie hoekom ek lewe nie. Ek lewe om dit wat goed, waar en reg is te kan dien.

As jy in die son loop, gooi jou liggaam ‘n skaduwee. So is ek die skaduwee van jou gees. As jy in water swem kan jy verdrink, maar ek hou jou bo totdat jy die wal bereik. Ek bly by jou wanneer jy siek of gesond en dronk of nugter is. Jy en jou geliefdes kan maklik stry kry, maar as julle my genoeg gebruik om mekaar te leer ken sal julle in vrede leef. Ek is jou poort na vrede en vryheid, na die skep van ‘n beskaafde toekoms. Jy my al gehoor toe jy nog in jou ma was en jy sal my hoor wanneer jou geliefdes jou omhels by jou dood. Hier op aarde ken jy enkele tale waarvan ek een is, maar by die Vader is daar baie tale waarvan elkeen almal ken.

Van my geboorte af kon Afrikaanses my nie skryf nie want daar was geen taalkundiges wat dit die moeite werd geag het om my te probeer skryf nie. Ek was geminag deur die Hollanders en Engelse. Op skool het kinders niks van my geleer nie. Soos aspoestertjie moes ek maar in die kombuis werk. Die kerk het nie vir my plek gehad nie. Die rykes wou my nie ken nie. Die owerheid het my weg gejaag. Ek was baie eensaam en het gewonder of ek nie maar moet sterf nie.

Toe begin die grens boere van trek praat. Party se redes was menslikheid nie waardig nie. Maar ek het baie opgewonde geword. Die Voortrekkers het my begin praat, al was hulle godsdiens in my ma taal beoefen. In 1875 het die GRA (Genootskap van Regte Afrikaners) in die Paarl vir my begin voorbrand maak. My vreugde het geen einde gehad nie. Maar die onweerswolke het oor die twee republieke van die Transvaal en Vrystaat begin opsteek. Die diamant en later goud gieriges het geen tyd vir my gehad nie.

Toe kom die verskriklike oorlog van 1899-1902. Die engelse wou die twee republieke inpalm vir diamante en goud. Waar hulle ook al gewen het (dorpe en konsentrasie kampe) was die Afrikaners verbied om my te praat as hulle ‘n gesprek wou voer met die Engelse. Baie swart mense het skielik Engels probeer praat omdat hulle gehoop het dit sal hulle vrymaak van die Afrikaners. Dit is vandag erger.

Na 1902 en uniewording in 1910 het dinge aangaande versleg. Afrikaners is verbied om my te praat in die staat departemente, skole en hospitale. Ek het getreur. Maar in 1904 is ‘n vlam aangesteek deurdat hulle die Zuid Afrikaans hospitaal gebou het met geskenkte sjielings en ponde. Die wat my gepraat het was brandarm as gevolg van die oorlog. Maar die Engelse het hulle misgis. Die hospitaal het ‘n vuur aangesteek. Afrikaners kon hulle self versorg en na mekaar omsien. Ek het daardie vuur help versprei.

Dit alles het daartoe gelei dat ek in 1925 aangewys is om naas Engels die tweede amptelike landstaal te wees. Weer het my vreugde geen einde geken nie. Ek het soos ‘n jong vrou gevoel wat op die punt staan om te trou. Mense het begin om verhale, gedigte en rapporte met my te skryf. Ek was op pad om ‘n volwaardige vrou te word. Mense wat Engels praat het my probeer onderdanig maak. Maar geleidelik het van hulle vir my eerbied begin kry.

Toe kom die depressie. Weer is ek verneder. Baie mense wat my gepraat het, was skielik sonder werk. Hulle moes maar in die myne en op die paaie en spoorlyne gaan werk. ‘n Nuwe vlam het begin brand, maar ek was baie ongelukkig daarmee. Hulle het ‘n geheime organisasie begin om die land oor te neem gebruik makend van my. Toe genl Herzog daarvan hoor, het hulle die stryd aangesê. Geheime werk is konkel werk. Dra die hoer Babilon nie die naam “Moeder van geheime” op haar voorkop nie? Sal sy nie die wêreld verlei na die opstanding van die draak nie, die een wat die Koning van hemel en aarde wil onttroon nie? Ongelukkig was hulle mag reeds te groot. Hy het in eensaamheid op sy plaas gesterf met net my om sy gedagtes besig te hou. Ek het baie gehuil.

Kort daarna het die tweede wêreld oorlog begin. Dit het tot baie verdeeldheid gelei. Ek is dikwels dikwels beskuldig as die oorsaak daarvan, so asof ek ‘n getroude hoer is wat nie omgee vir haar gesin nie. Wat sou die profeet Hosea daarvan se? Die geheime organisasie het alles in die stryd gewerp en gesorg dat die Nasionale party die verkiesing in 1952 wen.

Uiteindelik was ek vry. Mense wat Afrikaans praat, het wonderlike dinge met my begin doen soos skrywers, rolprent makers en wetenskaplikes. Maar in 1975 het ek baie bedroef geword. Die monument wat hulle vir my in die Paarl opgerig het, het eerder vir my soos ‘n grafsteen gevoel. Die wêreld het internasionaal begin word en Engels die taal daarvan. Al hoe meer van my gebruikers het begin om Engels te besig, veral die wetenskaplikes. Hulle het ook begin om Engelse woorde te gebruik wanneer hulle my gebesig het.

In 1994 was die wêreld goed op pad om die internasionalisme te verhef tot globalisme. Die Nuwe Suid Afrika is gebore. Maar ek moes begin eet van die oorblyfsels op borde. Meeste van die wat so met my gespog het en selfs probeer verkoop het, het ewe skielik my vermy asof ek melaats is. Orals in die samelewing soos staats departemente, universiteite, skole en besighede is ek weer uitgeskuif soos na 1902.

Wat sal die toekoms vir my inhou? Ek is nog jonk. Ek wil nie sterf soos ‘n eensame ou vrou wat baie lank gelewe het nie. Ek het nog baie drome wat bewaar moet word. Na 1994 is ek verstrooi oor die hele wêreld soos die jode na 0060. Sal al hierdie mense my nog as hulle moeder erken en vir my sorg? Sal die mense in Suid Afrika dit nog doen? Gaan ek nog in gebede by die Allerhoogste opgedra word? Ek wil nie nou al sterf nie, maar nog ‘n vol lewe geniet. Wie sal na my weeklag luister?

Mooi loop
At de lange
Pretoria
Julie 2010

Weergawe: 1
© Kopiereg voorbehou






Kommentaar

Beste Woesers,

Iemand skryf aan my met die private Woes e-pos:
‘n Heel gawe verhaal, met een klein fouthie aan die begin:
Esperanto is in 1954 deur die VN as 'n taal aanvaar, wat dit dan die jongste volwaardige taal maak.

Ek moet hierop in openbare belang kommentaar lewer.

Esperanto is nie ‘n natuurlike taal nie, maar ‘n sintetiese, gekonstrueerde taal. Dit beteken niemand het dit aanvanklik in die baarmoeder gehoor nie. Daar word geskat dat hedendaags sowat 1 000 mense dit wel so gehoor het en dus natuurlike sprekers genoem kan word. Alhoewel UNESCO dit ampetlik erken het, is dit in geen land nog erken nie.

Esperanto is die brein kind van die Poolse Jood LL Zamenhof wat in die laat 1870's daarmee begin het. Hy het sy werk gepubliseer in 1887. Wat woordeskat betref, is dit etimologies te sterk verwant met die Slawiese tale. Wat morfologie betref, is dit nie veel eenvoudiger as Afrikaans nie.

Daar word beweer dat die aanleer van Esperanto baie kort is en die aanleer van ander natuurlike tale baie verkort. Dit is byvoorbeeld 20x korter as om Duits te leer.

Waarom dan nie Afrikaans aanleer nie wat omtrent 7 miljoen natuurlike sprekers het. Daar is omtrent 1 miljoen Esperanto sprekers waarvan ongeveer 10 000 dit vloeiend kan praat en skryf. Die meeste gebruikers het dit aangeleer vir besigheid. Daar is wel ‘n klein versameling literatuur soos gedigte en verhale beskikbaar.

Die eerste wereld kongres van Esperanto sprekers is in 1905 in Boulogne-sur-Mer in Frankryk gehou. Die opkoms was sowat 200 mense. Na die tweede wereld oorlog het dit gegroei tot 1000 en meer. Dit gee my ‘n plan. Waarom hou ons nie ‘n gereelde wereld kongres vir Afrikaans nie? Die eerste sal maklik meer as 5000 sprekers trek van al die kontinente en binne ‘n paar jaar groei tot 20000.

Daar is die afgelope dekade baie voorbrand gemaak dat Esperanto Engels moet vervang as globale taal. Ek het baie weersin in globalisering en wil nog ‘n artikel daaroor skryf. ‘n Taal soos Spaans sal ‘n baie beter globale taal wees. Natuurlik is Afrikaans ook ‘n moontlikheid vanwee die eenvoud en universele beskrywing krag daarvan. Gelukkig sal die assosiasie met apartheid dit nie moontlik maak nie.

Die grootste probleem met Esperanto (en enige ander sintetiese taal) is dat dit nie in ‘n enige kultuur gebed is nie. Die EU (Europese Unie) het gehoop dat Esperanto ‘n amptelike EU taal sou word, maar dit is juis as gevolg van die afwesigheid van ‘n kulturele basis dat daar niks van gekom het nie. Idiomatiese uitdrukkings word doelmatig nie gebruik nie omdat hulle in ‘n bepaalde klutuur ingebed is.

Esperanto is dus nie die jongste taal nie omdat dit nie ‘n natuurlike taal is nie.

Lank lewe Afrikaans.

Mooi loop
At de Lange
1 jaar 10 maande 1 dag 14 ure 16 minute oud


beslis, At, ek moet baie engels praat by my werk, maar gelukkig net wanneer ek opleiding gee, anders is ek geseënd dat drie van my kollegas by my in dieselfde kantoor ook afrikaans verkies en die ander gee nie om nie, hulle besig in elk geval hulle eie taal.
maar moeder Afrikaans is my leeftaal, ek kuier saam met haar by my kinders, by vriende en by my verloofde [al is hy ten volle tweetalig], ek maak kos met haar en saam met haar gaan ek kerk toe, kuier in my Bybel en loof die Here ons Vader. bowenal speel ons volkspele met haar musiekwoorde en speletjie-beskrywings.
1 jaar 10 maande 2 dae 3 ure 3 minute oud


Jy het die taalgeskiedenis so in prageenvoud hier weergegee ... ek kan nie anders as om dit met my lesers te deel nie! Op 'n positiewe noot: Toe ek twee weke terug 'n voorlegging vir 'n Bybelskool aan 20 Xhosasprekendes hier plaaslik doen, en ons moes besluit deur watter taalmedium ek dit moet aanbied, was 19 uit die 20 dit eens dat ek dit in Afrikaans moes doen - hulle sal dit in Xhosa tolk. L.T.
1 jaar 10 maande 2 dae 3 ure 57 minute oud


Beste Annie,

Baie dankie vir jou kommentaar.

Die feit “het ... nie woorde om dit wat op my hart lêê te deel nie” wys pragtig daarop dat jy stomkennis van alles het waaroor ek geskryf het. Jy het alles in jou stomkennis herken. Dit gebeur veral met ‘n moedertaal. Dit is een rede waarom ‘n moedertaal so waardevol is.

Ai, die vrou Afrikaans, hoe lief het ek en duidelik ook jy haar nie.

Mooi loop
At

Beste Barend,

Die idee het ontstaan terwyl ek in die Zuid Afrikaans hospitaal gele het. Daar word van alle personeel, van onder tot bo, verwag om Afrikaans of Engels met hulle pasiente en besoekers te praat, afhangende van met watter taal hulle aangespreek word. Dit is in die stigtings akte van die hospitaal so bepaal. Met so ‘n beleid kan Afrikaans nie sterf nie. Ja, sy die vrou, begelei ons van geboorte tot die graf, van voorspoed tot ellende en daardeur.

Mooi loop
At

Beste Lentelus,

Baie dankie vir jou kommentaar. Die vrou Afrikaans laat dit toe om selfs met haar te vloek, maar ook met haar lof te prys. Met haar kan ons alle gedagtes verwoord. Dit kos net oefening in sorgvuldige gebruik.

Mooi loop
At
1 jaar 10 maande 2 dae 6 ure 31 minute oud


'n Tswana deel my mee: geen taal vloek lekkerder dan Afrikaans nie. Dalk is dit ons behoud...
1 jaar 10 maande 2 dae 7 ure 24 minute oud


Ek het die stuk baie geniet. Die skryfstyl en personifikasie is werklik puik. Die prentjie wat geskilder is toon aan dat waar 'n wil is is 'n weg. Laat ons 'n strewe 'n doel maak. Kyk waar kom jy vandaan en moet nie die moederskoot weggooi nie.
1 jaar 10 maande 2 dae 9 ure 8 minute oud


skitterend! nee, dit sê nie presies hoe ek voel oor hierdie kosbare skrywe van jou nie. vir eenkeer het ek nie woorde om dit wat op my hart lê te deel nie. die verloop vanaf geboorte en kleuterdae en al die vernederings is baie goed saamgevat.
a.
1 jaar 10 maande 2 dae 10 ure 19 minute oud



Agter Geslote Deure

deur Johan Botha

Hoe sê ‘n vyfjarige kind vir iemand groter as hy om hom nie te verkrag nie? Hoe reageer hy as hy sien hoe sy ma mishandel word deur ‘n dominerende vark van ‘n pa wat op drugs is? Wat gebeur met hom wanneer hy ouer word en probeer om by die samelewing in te pas, ‘n samelewing waar hy sukkel om met ouer mans te kommunikeer? Hoe probeer hy om sy eie identiteit te skep en ‘n beter mens van homself te maak? Dan word hy aangesê om sy pa te vergewe? Hoe? Waar sal alles eindig? Hierdie is sy lewensverklaring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar