Artikels

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Soveel mense...soveel opinies, opmerkings, aanmerkings en aannames. Dis nou een gebied waarvan ek maar min kennis en ondervinding gehad het. Dit was nou voor Juliemaand 2013. Van toe af is ek heel bekend met die doen en late in die fisioterapiepraktyk. En laat ek maar bysê, dis nogals ‘n ondervinding en ‘n half! So moes ek toe mos skoueroperasie kry om ‘n amper afgeskeurde spier te lap. Daarna twaalf weke se redelike intensiewe fisioterapie en vyf keer per dag se erg tydrowende oefensessies by die huis ook nog.

Die klompie daar, wat al vriende geword het, was toe ook so dierbaar dat ek vroegoggend voor werk en teetyd daar met hulle toerusting kon oefen, sodat ek die goete nie elke dag hoef rond te karwy nie. So kon hulle darem ogie ook hou dat dit reg gedoen word. In “ons” praktyk is dit so ‘n oopplan-opset. Almal oefen, gesels, lag en werk so deurmekaar. So leer die dames daar die ander kollegas se pasiënte ook ken en die pasiënte vir hulle. Een groot Happy Family en ‘n heel gesellige atmosfeer. Maar laat ek nou maar vir julle die ander realiteit ook skets. Daar word net so hard gekla (soms selfs geswets!), gehuil, gekreun en gesteun tussen die swaarkry deur. En om doodeerlik te wees, jy kry SWAAR in hoofletters daardie eerste ruk! Maklik en lekker is dit beslis nie!

Maar soos die Engelsman sou sê, is daar ‘n method in the madness, al voel dit soms na plein onsinnige, kranksinnige malligheid. Die mens is mos ‘n gemaklike wese, wat nou nie te graag buite sy gemaksone wil beweeg nie. Mens voel soos ‘n masochis of iets en dit was vir my nogal ‘n kopskuif om te besef jy moet jouself uit eie vrye wil seermaak om beter te word! Dit voel of mens eerder meer kwaad as goed doen en ander skade aanrig met al daai gestrekkery. Daar vorm voortdurend bindweefsel binne-in wat heeltyd losgestrek en gewikkel moet word. Maar sommer vinnig besef jy dit kan nie anders nie. Nie net omdat dit vir jou eie beswil is en om vinniger gesond te word nie. Besluit jy dis nou te seer en jy gaan een ou streksessietjie maar bietjie oorslaan, sê jy behoorlik les op! Dis daardie pyn met die volgende oefensessie bloot net nie werd nie!


Wat ons stomme, oningeligte pasiënte in ons “verdrukking” nie besef nie, is dat al daardie snaakse bewegings, strekke en oefeninge wetenskaplik so uitgewerk is om resultate te lewer en nie bloot daar is om ons mee te boelie vir die lekkerte en vir geld nie. En dat dit NIE enige skade kan aanrig nie! Ek kry die arme fisioterapeute soms maar jammer wanneer hulle uitgeskel word terwyl hulle ons maar net probeer help. Waar elke mens die reg het om oor sy eie gesondheid en wat met sy lyf gebeur te besluit, moet mens darem besef wanneer iemand jou net probeer help vir jou eie beswil. As mens nie gehelp wil wees en wil saamwerk nie, moet jy wegbly en nie agterna huil nie. Don’t shoot the messanger!

Wanneer mens die stelsel en metodes (en natuurlik die Engel wat dit toepas) begin vertrou en jouself ophou jammer kry, raak dinge sommer stukke beter. Jy besef hulle werk met ‘n fyn uitgewerkte, stelselmatige meesterplan, glo my vry! Dit help ook natuurlik in so ‘n opplan praktyk om saam te lag en saam te huil. En natuurlik vir jouself en mekaar te lag ook! Wanneer mens self in ‘n mediese beroep staan, besef jy die waarde van ‘n inskiklike pasiënt en wil ek elkeen van hulle bedank. Ek besef nou terdeë presies hoe moeilik dit is om aan die ontvangkant van die medisyne te wees.

Hiermee wil ek dan graag ook hulde bring aan die Engele in die fisioterapie beroep. Hulle wat genoeg omgee vir hul pasiënte en vir die saak, dat hulle maar met Job se geduld die gekla verduur en met meer geduld vir elke volgende “slagoffer” verduidelik waarom die swaarkry so belangrik is. Ek wil elkeen van hulle dan ook bedank vir daardie goeie en noodsaaklike werk wat hulle (soms ten koste van hulle eie lywe se welstand), met soveel trots en toewyding doen. Dankie vir al die raad, mooipraat en daai magic pleisters wat so baie help vir die spasmas en die seer. Vir die paar wat ek leer ken het, is dit nie ‘n werk of beroep nie, maar ‘n roeping. Ek plaas ook die skamele ou gediggie hier wat ek spesiaal vir hulle geskryf het, net sommer so vir die fun.

Liewe Fisio’s baie baie dankie
vir al jul hulp waar ons self nie kan nie
Jul elkeen lief en dierbaar verby
en jul vriendskap reeds kosbaar vir my

Hier word hard geswoeg en -werk
so word ons darem stuk-stuk sterk
Maar tussen die gekerm en geween
is daar darem altyd ‘n grappie of twee

Elsabe, Steph, Adre, Ruda
en die dierbaarste Cyntetia
Jul elkeen so ‘n spesiale mens
vir jul wil ek net die beste wens



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Fisio
Mooi huldeblyk. Sterkte vorentoe.
4 jaar 2 maande 3 weke 1 dag 10 ure oud


engel
Dankie vir die deel en ja soms maak hulle darem net die lewe draagliker. Mooi ode hier gepen
4 jaar 8 maande 6 dae 13 ure oud


Fisio
Maritha,
Ek handeklap applous jou skrywe en jou Ode en ek sekondeer.

My behandeling het egter skeef geloop.
Ek meet 6 voet een duim in my sokkies en ek trek die skaal op 135 kilogram en ek is stukkend gebreek van heup, na bobeen en is beslaan met plaat in die bekken en kobalt-chroom roundbar in die beenmurg met skroewe vasgebout en ek lê die kateltjie so vol dat sy wielietjie frame knak en hier kom die tweetjies hand-aan-hand aangestap:
"More meneer - meneer van Tonder nê?"

Ek is al deur baie besoekers en baie gesondheid mense en baie, baie en ek bevestig:
:"Jip dit is ek, wie is julle nooietjies?"

"Ons is van die fisio en ons kom meneer weer help om te loop."

En ek kyk en ek meet en ek weeg en ek skat:
Sou ek regop staan, sal die tweetjies se koppe net mooi by my belt pas.

Ek weet egter ek is in die Hospitaal en nie by een van daai rooi lig kuier plekke nie en ek vra:

"Nooietjies, ek sienm nie katrolle en loop ringe en stiebeuls en handvatsels en . . . hoe gaan julle my leer loop?"|

"Meneer, ons gaan jou nou uit die bed help en ons gaan weerskante van jou stelling inneem en ons gaan jou omhels en op die manier gaan ons jou wys hoe om die eerste treetjie te gee."

Ek gaan nie verder vertel nie - dit kan julle raai:
Ek het die bed se laken onder myselwers uitgepluk, dit ge tou-rol en om my voel laat vasmaak en dit was my oefen strap en twee dae later verstom ek die Dokter toe ek toilet toe stap.

Een maand later, gaan Anita ( die familie ouditeur) deur die Mediesefonds se eis state en sien dat daai twee dametjies slaat my Mediese fonds wragtig met R12000 !

Daai geld is maar net weer terug geskryf nadat nig Heksie met hulle klaar was!
4 jaar 8 maande 1 week 6 dae 16 ure oud


fisoi
soos arnold se i hulle engele of bullies
4 jaar 8 maande 1 week 6 dae 23 ure oud


FISIOTERAPEUT – ENGEL OF BOELIE?

Ek haal ook my hoed vir hulle af.
4 jaar 8 maande 1 week 6 dae 23 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar