Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Daar is dit toe weer so! Beurtkrag in die middel van die somer. Bid jou dit aan, juis in dié seisoen waarin veronderstel word dat daar minder krag verbruik word. Die eintlike probleem is egter nie beurtkrag nie, maar te min breinkrag! Dis nie ’n geval waar slim sy baas gevang het nie. Dis eerder ’n geval waar dom sy gat gesien het. Dom het al die gekwalifiseerde ingenieurs, geoloë, administrateurs en ervare kontrakteurs op pensioen gestuur en ’n klomp onervare knaters, ekskuus kaders, in hulle plekke aangestel.

Gelukkig het my rekenaar darem ’n battery om vir ’n paar uur digitale resultate te lewer. Verder moet die paraffienlamp en kerse maar instaan vir beligting. ’n Alternatief as ligbron is natuurlik ’n gaslamp met ’n baie helderder uitstraling. Die ou gaskannetjie word egter gespaar om ’n eetdingetjie op gaar te maak of ’n koffietjie mee te stook. Nie paraffien, gas of kerse kan egter nie die TV of die musieksentrum laat werk nie. Ook die skottelgoedwasser, stofsuier, wasmasjien en strykyster is so dood soos die spreekwoordelike mossie!

Ek slaan my oë op na die massiewe kragpale en oorhoofse kabelnetwerke en wonder waar sal ons krag vandaan kom? Beslis nie van Eskom af nie. Hulle is te besig om kragstasies te probeer bou, wat al lankal gebou moes word, of hulle probeer naarstigtelik vasstel wat presies met gereelde instandhouding van infrastruktuur bedoel word. Verder probeer hulle nat steenkool droogmaak of hulle maak in die algemeen sommer net droog.

Vir so ’n  totale gemors en nasionale ramp moet daar natuurlik verskonings gesoek word. Die beste en mees voor die hand liggende is daardie stokou en magiese verskoning van “Apartheid”! Heel onlangs is Jan van Riebeek ook nog by die hare ingesleep. Die arme drommel het in sy tyd seker nie eens geweet wat vir ’n ding elektriese krag is nie.

Die volgende historiese syfers illustreer heel duidelik hoe Eskom oor die afgelope jare heeltemal onbeholpe en pateties onbekwaam rondgeploeter het. In die 20 jaar vanaf 1974 tot 1994 is daar 8 steenkoolkragsentrales in bedryf gestel. Verder is ook een  kernkragsentrale, twee gasturbine-installasies en vyf hidroëlektriese-eenhede opgerig. In totaal dus 16 krag-opwekkingseenhede in die 20 jaar waarin die totale bevolking met 14 miljoen toegeneem het. In die daaropvolgende 20 jaar vanaf 1994 tot 2014 het die bevolking met ’n verdere 16 miljoen gegroei, maar  slegs 3 gasturbine-installasies is opgerig. ’n Paar nuwe steenkoolsentrales is wel in aanbou, maar skynbaar word daar meer gestaak as met die oprigting gevorder. Die handjie vol windplase wat wel ook gedurende dié tydperk tot stand gekom het, was hoofsaaklik die inisiatief van die privaatsektor.

Vir enige persoon met slegs gemiddelde intelligensie moet dit dus duidelik wees dat daar êrens vorentoe ’n mistroostige, koue, donker en kraglose toekoms op hierdie land aan die Suid-punt van Afrika wag. Dit kan egter nog op ’n manier gehanteer en oorleef word solank daar dieselaandrywing, windkrag en sonkrag vir aanwending beskikbaar is. Maar wat van water? Dis ’n vraag wat glad nie of baie selde gevra word. Daar bestaan geen substituut vir hierdie lewegewende vloeistof nie. Geen mens, dier, fauna of flora kan vir meer as ’n paar weke sonder water oorleef nie.

Maar wat daarvan? Daar kan tog nooit ’n tekort aan water in hierdie pragtige groen land ontstaan nie. Daar is dan so baie riviere, standhoudende fonteine, ondergrondse waterbronne en periodieke reënval in die meeste streke van die land. Hoe kan daar dan sprake van ’n watertekort wees as daar gereeld nog massas water in die oseane aan ons kus uitvloei? Presies dit is een van die faktore wat maak dat ons op ’n waternood afstuur.

Miljoene megaliters water  wat vir baie noodsaaklike doeleindes opgeberg kon word, stroom tans ongehinderd weg om gretig deur die Atlantiese en Stille Oseaan opgeslurp te word. Die Woord  leer ons tog dat daar tydens die vet jare vir die maer jare gespaar moet word. Hoe lyk die opgaarfasiliteite wat oor die afgelope jare geskep is. In die twintig jaar vanaf 1974 tot 1994 is damme met ’n opgaarkapasiteit van 12.4 miljoen megaliter landswyd gebou. In die twintig jaar daarna tot 2014, is slegs nuwe damme met ’n kapasiteit van 2.4 miljoen megaliter bygevoeg.

So waarom paniekerig raak as daar steeds ’n toename van meer as twee miljoen megaliter in die land se opgaarstelsel plaasgevind het? Drie baie goeie redes maak dit ’n bron vir ernstige kommer. Soos met die kragsentrales, vind daar ook nie altyd behoorlike en gereelde  instandhouding van die bestaande damme plaas nie. Die gevolg is dat baie daarvan se inhoudsmaat aansienlik gekrimp het as gevolg van toeslikking oor die jare. Tweedens het die bevolking in die afgelope twintig jaar met 16 miljoen bykomende waterverbruikers toegeneem. Derdens word bestaande waterbronne deur nywerheidsafval en menslike gemors só besoedel dat dit vir huishoudelike gebruik al meer nutteloos raak.

Dié syfers en tendense skreeu onteenseglik ten hemele. Daar kan met redelike sekerheid afgelei word dat die opgegaarde water per kop van die groter bevolking tans heelwat minder is as wat dit twintig jaar gelede was.

Watergewys boer ons dus teen ’n ontstellende tempo agteruit. Hierdie onheilspellende tendens kan slegs teengewerk word deur die onbeheersde bevolkingsaanwas met behulp van wetgewing te vertraag en jaarliks aansienlik meer opgaardamme te bou. Verder behoort aanlegte vir die ontsouting van seewater al langs die kuslyn ook dringend aandag te geniet.

Is hierdie net ’n klomp bangmaakstories as deel van ’n politieke agenda om die regering mee swart te smeer en in ’n slegte lig te stel. Nee, ongelukkig is dit veel meer as net fiktiewe scenario’s, want ons ervaar reeds die harde werklikheid daarvan in ons daaglikse lewens. Tans is dit ’n kragbeurt, weldra ook ’n waterbeurt en uiteindelik ’n kosbeurt in ’n tou voor ’n supermark. Onthou, sonder krag en sonder water kan die landbou nie voldoende voedsel vir 54 miljoen mense produseer nie!

Ons het gevolglik meer as Eskomkrag nodig om ons te staal vir die groot dors en moontlik ook honger, wat onvermydelik vir ons voorlê. Knyp dus die oë styf toe, kners op die tande en skop stewig vas vir die skrikwekkende slaggate wat in die pad van die toekoms vir ons wag!





  MOENIE die titel en jou naam hier invoeg nie. Dit word outomaties bo aan bygevoeg.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

krag
Voorwaar 'n groot bekommernis. Krag is egter ons kleinste probleem, dis inderdaad die water tekort wat ons strepie gaan trek. Dankie vir die deel.
3 jaar 4 maande 1 week 1 dag 4 ure oud


Krag
En hierdie is nie maar net die woorde van 'n doemprofeet nie, dis ongelukkig die heilige en vreesaanjaende waarheid wat jy puik geskryf het, soos ek al so gewoond aan is!
Skryf vir ons 'n artikel oor hoe ek en Jan en San alleman ons deel kan doen en voorsiening te maak vir die maer jare, seblief tog.
3 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 1 uur oud


GEE MY KRAG
Dankie Anze. Dis my 1ste stukkie stryfwerk in ses maande. Was besig met die Engelse vertaling van my laaste boek, VREEMDELING.
Groetnis.
3 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 22 ure oud


Krag
slaan jy die spyker presies op sy kop met hierdie interessante leesstuk.. mooi gepen en lekker gelees Dankie Piet
3 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 1 uur oud



Maalkolk

deur Rachelle du Bois

Adele Coetzee will nie vir Francois Bekker as nuwe plaasbestuurder op Goedgeloofd hê nie. Sy kan self hul familieplaas bestuur. Francois is ‘n indringer en hoort nie op die plaas nie. Sy vertrou hom nie, maar Francois besluit dat hierdie tierwyfie getem moet word. Deon Kelder woon op die buurplaas Goedehoop en hy is verlief op die misterieuse nuwe onderwyseres by die plaaslike laerskool, Madri Viljoen. Waarvoor het die hoogsbegaafde Madri gevlug en wat kom maak sy hier op Heidelberg? Hy wil haar hê, maar dis toe nie so maklik nie, want haar pynlike verlede kom staan soos ‘n skim tussen hulle. En wie is Alex ….?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar