Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek het onlangs begin wonder oor die ewige kommer wat dreig om nie net my eie nie, maar verseker ook so baie ander se lewens te oorheers, en hoe ek dit met geloof in God moet versoen. Diegene wat die National Geographic en Discovery Kanale op DSTV volg sou al opgemerk het hoeveel programme hedendaags fokus op allerlei sake wat verband hou met die waarheid van die Woord van God, die oorsprong van die mens, allerlei interessante teorieë oor Christus en sy Kerk en dies meer. Daar is verseker geen fout daarmee om kennis te versamel en dinge te bevraagteken nie en tot opbou te gebruik nie, maar, dis asof daar skielik ‘n beheptheid ontstaan het om meer te weet as wat ons veronderstel is om te weet, terwyl die Woord van God dit duidelik stel dat ons slegs ten dele weet. Daar word bespiegel en ondersoek, en die oningeligte in hierdie areas van kennis kan al te maklik verval in valse geloof in dinge wat hulle self nie werklik begryp nie. ‘n Mens wat bietjie kennis oor ‘n onderwerp het is dikwels baie gevaarlik en loop die risiko om tot verkeerde gevolgtrekkings te kom. Dit plant die saadjie van kommer, selfs al is dit net in die onderbewuste. Daarom, by gebrek aan genoeg kennis en om self beter te probeer verstaan hoe bekommernis in al sy aspekte die mensdom affekteer, gebruik ek die volgende eenvoudige voorbeeld.

Die onlangse konflik tussen Israel en die Hezbollah in Libanon en die gepaardgaande massavernietiging, dood en verwoesting, val my op en ek wonder waaroor alles eintlik gaan. Waaroor baklei die mense behalwe vir die vanself sprekende? Waaroor is hulle so bekommerd dat hulle tot so ‘n uiterste gaan. Is bekommernisse die werklike aanleiding tot daardie gewelddadige konflik wat telkens weer opvlam, nieteenstaande prysenswaardige pogings tot vrede en geregtigheid deur allerlei partye. Wat my natuurlik laat dink aan wat werklik die motivering vir die VREDE sou wees. Is dit gegrond op werklike “omgee” of word dit gebaseer op ‘n dieperligende of selfs onnoembare bekommernis? Wat sou die oorsaak wees? Wat is George W. Bush en sy regering se werklike motivering om daarby betrokke te raak? Is dit daardie vae en wye begrip van VREDE wat deesdae so ydellik deur die mens gebesig word, en ten alle koste nagestreef word? Daardie VREDE wat eintlik gaan oor ‘n menslike broederskap van leef en laat leef. Of is dit bloot polities van aard, net vir Bush om weer as President verkies te word, om die Joodse gedeelte van die Amerikaans Kongres tevrede te hou, eintlik net Bush se persoonlike drang na selfverwesenliking, of is dit sy familie en andere se belange in die oliebedryf wat die bekommernis is? Wat is ons eie regering se ware belang daarby en waaroor die bekommernis? Ek glo nie een van die partye wat vrede aldaar probeer bewerk sal dit oor die lang termyn regkry nie (wat daardie vrede ook dan nou al sou omvat). Israel en sy bure baklei immers al van lank voor Moses se dae af, en sal seker nog baklei solank as wat die mens op die aarde is. Dis maklik om van die kantlyn af kommentaar te lewer soos wat ek nou doen, want diegene wat daarin vasgevang sit, is net sulke mense soos ek en jy en bekommer hulle gevolglik. Hulle kommer moet geweldig wees en op suiwer menslike grondslag kan dit verseker verstaan word.

Eerstens dan, wat is kommer. Volgens sommige geleerde bronne is bekommernis onder andere ‘n vorm van angs oor ‘n toestand of gebeurlikheid se uitkoms. Dis vrees vir die onbekende, ‘n aanhoudende en herhalende toestand van ongemak oor die toekoms of die uitkoms van ‘n aangeleentheid. Dis daardie knaende “Wat as”, of “as ek net….”. Dit is ook soms net ‘n doodgewone behoefte aan sekere dinge, soos die behoefte om iets te hê of te bereik. Alles hang natuurlik af van die aard en graad van die aangeleentheid en die verwysingsraamwerk van die persoon wat dit beleef. Sommige mense soek die antwoord op hulle kommer op allerlei op plekke, soos in “Die Sterre Voorspel”, sommige raadpleeg waarsêers, ander gooi dolosse en vra die voorvadergeeste om die regte pad aan te dui. Ons sien dit selfs deesdae voor sommige sportwedstryde hoe ‘n pryssanger die voorvader geeste opsoek voor ‘n wedstryd.

Bekommernis gee soms aanleiding tot konflik, in ‘n mindere of selfs baie ernstige mate. Ons verstaan dikwels nie waaroor ander mense hulle oor sekere dinge bekommer nie, en ook dikwels, wanneer ‘n saak afgehandel is, verstaan ons self ook nie waarom ons bekommerd was nie. Soms is dit slegs ‘n effense gevoel van “om darem net te weet”, soms is dit net afwagting vir iets aangenaam of onaangenaam, soms net nuuskierigheid, maar dit kan ook in graad vererger tot ‘n manie of onoorkombare en verterende drang om uitkoms. Dis dikwels ‘n bydraende faktor tot depressie. Bekommernisse en ons alledaagse behoeftes gaan ook hand aan hand. In die menslike wetenskappe is al heelwat navorsing en bespiegelinge neergepen hieroor, juis oor daardie dinge waar sonder ons nie kan klaarkom nie. Een van die meer bekende teorieë is die van Abraham Maslow wat in 1943 in sy A Theory of Human Motivation alle menslike behoeftes ingedeel het in vyf hoofkategorieë. Die sterkste daarvan is volgens sy teorie die biologiese drang tot selfbehoud met kos en voortplanting as integrale deel daarvan, gevolg deur veiligheid, liefde, status en selfverwesenliking. ‘n Logiese afleiding sou dus wees om te aanvaar dat gesonde bekommernis ‘n integrale deel van menslike natuur is, en dat daar niks daarmee verkeerd is nie. Die klem moet egter op die woord “gesond” wees en nie op die bekommernis opsigself nie. Die teenpool hiervan sal natuurlik totale traak-my-nie-agtigheid wees, ‘n situasie waarin ons noodwendig nie sou oorleef nie. In die era van toenemende massakommunikasie verander gesonde bekommernis dikwels tot ‘n soort van massahisterie of beheptheid met sake en al die moonlike gevolge daarvan, al dan nie.

En dan, wat is geloof? Diegene van ons wat in Afrikaanse en ander kerke gekatkiseer het, het gewoonlik geleer en bely dat: “Geloof is die vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, en 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”. Dit is al, en dit klink so maklik, totdat bekommernis sy immer teenwoordige nek uitsteek soos kakiebos na die eerste somerreën.

Kom ek maak ‘n aanname. As ek Statistiek Suid-Afrika sou glo, is sowat driekwart van ons land se wettige inwoners aanhangers van een of ander vorm van die Christendom. (Lyk nie so as ek Sondae na kerk by Menlyn verbyry nie). So dan behoort ek seker na die hele aangeleentheid van bekommernis en geloof uit ‘n Christelike oogpunt te kyk. Ek is geen teoloog nie, so ek redeneer maar dinge uit soos ‘n dom leek gelowige dit sou doen. Die kenners moet my maar reghelp.

So, wat help dit om bekommerd te wees. In Prediker 1 verse 9 en 10 staan geskrywe: “Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie. Is daar iets waarvan 'n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het”. Ons bekommer ons vandag so dikwels en gedurig, en oor so baie dinge. Nie dat ons bekommernisse uniek is nie. Dis maar net ‘n soortgelyke herhaling van wat reeds vroeër gebeur het, en die verskeidenheid van bekommernisse is so veel en so oud soos die mensdom self. Ek noem ‘n paar wat algemeen voorkom. Ons bekommer ons oor dinge soos ons regering se beleid oor dit en dat, die gat in die osoonlaag, of ons kinders ‘n toekoms het, die inflasiekoers, geweld en misdaad, die sedeloosheid in die land, die dreigende oliekrisis, die toestand van ons polisie en regstelsel, die toestand van ons hospitale en skole, die tydbom in die Midde Ooste, VIGS en ons domastrante agbare Minister van Gesondheid, werkloosheid, wat ander mense van ons dink, of ‘n nuwe besigheid gaan werk, of ons veilig van vakansie gaan terugkom, oor die ongelooflike vermorsing van belastinggeld en ander hulpbronne, oor ons eie finansies en beroep sekerheid, oor die omgewing, oor ons gesondheid, oor ‘n eindelose spektrum van persoonlike en familiesake, en, en, en, alles waaroor ons dikwels nie werklik beheer het nie.

Sommige van ons is slawe van die Oprah-en-Kie-tipe benadering waar die mens altyd voorop gestel word en alles self kan oplos deur allerlei tegnieke en benaderings waarin God en Sy gebod selde ter sprake kom. Ons vergeet dikwels van die woorde van Jesus in Matheus 6 verse 28 en 30 waar Hy sê: “En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?” So waaroor bekommer ek myself dan?

Moet alles nie maar net aan God oorgelaat word nie? Sal dinge nie maar vanself gebeur en weer regkom soos wat iewers deur God bepaal word nie? Is geduld nie die antwoord nie? Wat help dit om te beplan as alles tog net tevergeefs is? Soos die Prediker sê hoofstuk 12 vers 8: “Alles tevergeefs, sê die Prediker, dit is alles tevergeefs”. Is boedel oorgee en fatalisties raak, bloot leef en laat leef, eet en drink en vrolik wees; en basta met môre, nie die regte lewensbeskouing nie? Iemand gee my onlangs ‘n interessante en siniese aanhaling wat sê: “Eat, drink and be merry, for tomorrow you may not die after all.” Wat maak dit tog saak hoe ek leef of op wie ek trap om by my eie plesier, vooruitgang en selfverwesenliking uit te kom? Wie gee in elk geval om wat van my word? As ek egter so fatalisties en sinies wil optree, vergeet ek egter ‘n groot waarheid. “En ook - dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is 'n gawe van God”. Prediker 3 vers 13.

Maar, dan kom ook die groot MAAR. Die liewe Here waarin ons glo en van wie ons glo alle dinge kom, het ons almal verstand ook gegee, en die geleentheid en opdrag om dit te gebruik. Die Woord sê immers in 1 Tessalonisense 5 vers 21 “Beproef alle dinge; behou die goeie”. Ons moet dus ons verstand gebruik om te dink, te redeneer en te besluit. Dit kan ook insluit om bekommerd te wees oor dinge en te sorg dat dit reg uitwerk. Die voorbeelde van die gawe van verstand is legio uit die Bybel. Dink maar aan Salomo en sy wysheid, Daniel wat drome kon uitlê wat niemand anders kon nie, die vele verwysings na wysheid in die boeke Prediker, Spreuke en elders. As jy op ‘n soekenjin op die web die woorde Bybel, verstand en wysheid intik, is daar ‘n massa skakels beskikbaar. Wat my veral opgeval het was die verwysing van verstand en die gebruik daarvan deur Paulus in sy brief aan die Efesiërs in hoofstuk 5 verse 16 tot 18, wat sê: “en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. Moenie dronk word van wyn nie - daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul”. En dan waarskuwings teen eiewysheid soos in Jesaja 5 vers 21 wat sê: “Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is”. Die voorbeelde hiervan is ook legio.

Nou laat dit alles my wonder. As ons daarop roem dat so baie van ons landgenote Christene is, waarom leef ons dan nie so nie, waaroor bekommer ons so baie? Waarom die swartgalligheid? Geen sosiale geleentheid gaan verby sonder bespreking van allerlei bekommernisse nie. Bekommernis het ‘n leefwyse geword. Waarom luister ons nie net soms in geloof nie? Kan ons nie maar streef na daardie balans tussen gesonde bekommernis wat immers nodig is vir voortbestaan, en die Voorsienigheid van die Alwyse God nie? Waarom is dit so moeilik om net te glo? As ek dit nie glo nie, dan lieg ek mos as ek sê “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde”, en wat daarop volg.

Ek moet bieg dat ek ook nie verstaan nie, en nie antwoorde het nie. Dis vir my net so duister en ‘n bekommernis. Miskien moet verstand net gebruik word tot op daardie punt waar verstaan nie meer werk nie, en glo oorneem. Miskien moet ons almal weer soos die kinders word vir ‘n slag en daardie ongelooflike gevoel van absolute geloof ervaar. Daardie gevoel wat niemand, selfs nie in Bybelse taal kan beskryf nie. Ek het dit eenmaal self beleef en gaan nie eers probeer om dit te verwoord nie. Daar is niks op hierdie aarde wat eers naastenby daarmee kan vergelyk word nie, en ek smag daarna om dit weer te beleef. Daardie gevoel wat beskryf word in Filippense 4 vers 7 as: “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”. Miskien moet ek my verstand net gebruik om te verstaan waar daardie punt is waar ek moet ophou probeer verstaan, en dan net verder onvoorwaardelik glo.

Ek het nou meer vrae as antwoorde en ons kan jare hieroor debatteer. Ek self is permanent bekommerd oor een of ander ding, en dit blyk dikwels beuselagtighede te wees as ek later na die geheelbeeld kyk. Miskien lê die antwoord opgeskryf in die woorde van Hosea in hoofstuk 10 vers 12 waar hy sê “Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.” Dalk moet ons almal vir ‘n slag weer die woorde van Jesus in Markus 5 vers 36 lees. Dit sê: “Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net.” En dan moet ek dalk net sê “AMEN”.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kommer
Beste Daniel,

Dit is 'n puik artikel. Dit is 'n juweel. Jy span die net wyd. En jy knoop twee sake wat met mekaar te doen het: geloof en kommer.

Ek wil nie jou artikel oorskryf of die glans daarvan vir my neem nie. Maar tog voel ek om die volgende by te las. Kommer gaan oor dit wat nog (in tyd) moet kom. As ons oor iets in die verlede bekommer, is dit eintlik oor die gevolge daarvan in die toekoms.

Jesus leer ons om ons nie te bekommer nie omdat niks sonder die wil van die Vader gebeur nie. Party mense sal wil beweer dit beteken dat ons geen toekomsverwagting moet he nie, nog goed, nog sleg. Volgens hulle moet ons vir die nou lewe. Dit is waansin wat in hedendaagse hedonisme seevier.

Jesus leer ons dat ons moet leer om die wil van die Vader te ken. Ek kan nie aan 'n onderwerp dink waaraan hy meer aandag gegee het nie. Waarom? Die wil van die Vader word geopenbaar in die verloop van tyd ("kairos" ipv "chronos"). Hoe meer ons die wil van die Vader ken, hoe minder is daar in die toekoms wat ons geheel en al sal verras of in ewigdurende ellende sal dompel.

Wat is geloof? Die Heidelbergse kategismus geen 'n antwoord op grond van die biref aan die Hebreers. Maar as ons die hele bybel in ag neem, lyk die antwoord iets anders. Ek sal dit probeer uitdruk.

God die Vader het 'n wil wat alles laat gebeur. God die Seun van die mens het hierdie wil volkome nagekom. God die Gees lei ons om hierdie wil te leer ken.

Mooi loop

At de Lange

10 jaar 5 maande 3 weke 6 dae 12 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

MAMMON

deur Piet Schoombie

Mammon handel oor 'n beroepsgholfspeler se lewe en ervarings plaaslik en oorsee. Soos die boek se naam aandui, speel geld deurgaans ’n belangrike rol..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar