Artikels

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek wou Grootpens as my skuilnaam gebruik om vele redes. Hopelik sal dit gou duidelik word. Toe gebruik ek maar Ontluiker as skuilnaam. Baie van die artikels wat ek beplan om op Woes te publiseer, sal die begrip ontluiking (“emergence”) behels.

Maar ek is ook trots op my voorgeslagte. Miskien moes ek maar my eie naam gebruik om een voorvader te kan noem. Dit was my oupa se oupagrootjie - Hans Dons de Lange, die Witkraai soos die Zoeloes hom begin noem het.

Die de Lange’s stam van omtrent 5 stamvaders af. Die laaste een het as mediese dokter van die Oos-Frisiese eilande gekom. Ek vermoed dat Hans Dons een van sy nasate was. Hy was ‘n legendariese figuur in die Voortrekker tydperk, iemand soos die Amerikaners se Davy Crocket. Daar was maar min oor hom opgeskryf. Skrywers word verbied om webtuistes te verstrek. Daarom die volgende truuk:
Gebruik
groottrek.co.za/delange.htm
en maak seker dat www. heel voor is.

Ek sou graag meer oor my oupa en pa wou skryf. Hulle was in gees baie soos Hans Dons. Maar ek moet my na ander sake haas.

Eerstens, ek is diep onder die indruk van die verskeidenheid tussen WOESers betreffende persoonlikhede, belangstellings en formele opleiding. Woes is amper soos ‘n mark in ‘n groot dorp van ‘n Afrika staat. Genoeg om van te kies teen ‘n prys wat altyd beding moet word. Luukshede van eerste wêreldse lande is skaars soos hoendertande.

Tweedens moet ek ook sorg dat hierdie profiel nie in ‘n volle outobiografie ontaard nie. Dit waaroor ek wil skryf, is verweef met my persoonlike lewe en moet so as agtergrond dien. Maar ek noem biografieë as sulks omdat die lees van biografieë vanaf die vroegste tye een van die vrugbare maniere is wat ek meer van skeppery geleer het. Hierdie mense het almal een ding in gemeen – hulle het uitstaande dinge gedoen omdat hulle so skeppend was.

Ek het honderde biografieë gelees oor mense wat in die kunste, godsdiens, politiek, akademie, besigheid, industrie, sport, ontdekkings en ander velde presteer het. Ek het selde aantekening geneem, maar eerder probeer om hulle skeppende siele te verstaan. Ek het dikwels gelag, gehuil, of verstom of verontwaardig geword.

Outobiografieë verskil in drie opsigte van biografieë.
1 Die persoon skryf self van sy/haar eie lewe. Die persoon skryf oor gebeurtenisse wat andersins nooit oor geskryf sou word nie.
2 Die persoon is meer as dikwels skokkend openhartig deur ‘n blik op sy/haar siel te gee met al die letsels daarin.
3 Die person motiveer dikwels waarom iets gedoen is. In hierdie motiverings is waardevolle inligting verskuil oor sy/haar skeppery.

Seker die twee treffendste outobiografieë wat ek gelees het, is die van Anwar Sadat en Benjamin Franklin. Ek het Sadat, tweede president van Egipte, se werk begin lees met die valse verstandstolling (“mind set”) dat hy ‘n Moslem was. Gaandeweg het ek hom begin bewonder. Ek wou aan hom skryf dat hy eintlik soos ‘n ware christen gewerk en gedink het. Maar hy was reeds vermoor. Jare later lees ek toe dat hy lid was van die Koptiese kerk wat deur die evangelis Markus begin is, die oudste christelike kerk ooit.

Franklin, een van die “founding fathers”, het my net so aangegryp. Die uiters vreemde ding is dat sy boek kortaf stop by ongeveer 40 jarige ouderdom. Maar wat van al die ander jare daarna? Jare later het ek besef hoekom hy dit gedoen het. Dit was net woorde. Hy wou beklemtoon dat sy dade daarna die biografie eg sou maak. Die les het hy waarskynlik geleer by Jakobus, broer van Jesus. Watter les? Wys jy jou woorde en ek wys my dade sodat ons kan sien wie eg is.

Ek self het een keer my hand geslaan aan ‘n soort van biografie. Dit was baie kort en eerder bedoel vir verdere oop gesprek. Dit handel oor Michael Faraday, wetenskaplike en christen soos min. WOESers kan dit self nagaan onder die opskrif (dit is ‘n truuk)
Being mental. LO24112
Gebruik
learning-org.com/00.03/0019.html
en maak seker dat www. heel voor is.
Gebruik Google se gevorderde soeker met sleutel frase
“Michael Faraday”
en met webwerf (“site”)
learning-org.com
om te sien hoe die gesprek verloop het.

Nou hoekom die skuilnaam Grootpens? Een rede is figuurlik. Iemand wat baie eet, ontwikkel gewoonlik ‘n groot pens. Ek het tienduisende boeke en artikels met my kop geëet. Die (s)pens van my kop is groot.

Die ander rede is letterlik. My pens is groot, maar ek eet omtrent net ‘n vuisvol per dag. My maag het nie meer plek nie as gevolg van al die vergrote organe in my buik. Die res van my liggaam is nie vet nie. Die vergrote organe is die gevolg van ‘n oorerflikheid siekte wat sedert my geboorte stadig op my gewreek het. Dit word hemochromatose genoem - “hemo” vir bloed, “chroma” vir kleur en “tose” vir afwyking. Dit is omdat my bloed te veel (2000%) yster in het. Die yster kan net in orgaan weefsel (nie spier weefsel nie) gestoor word. Die organe vergroot baie stadig oor dekades om die yster te stoor. In hulle geval is groter slegter totdat hulle een na die ander begin ingee.

Wat my bloed se kleur betref, dit is hedendaags maroen in die dag, selfs as ek pas bloei. Onder my vel gee dit ‘n brons kleur - ‘n tipiese simptoom. Snags teen 2 uur die oggend het die bloed ‘n blou kleur. Ek is dus van bloubloed herkoms ;-)

Die eerste orgaan wat ingegee het, was die pituere klier wat tot helle angs en depressie gelei het. Die tweede was die pankreas wat tot diabetes gelei het. Die derde was ‘n parotus klier wat my gesig verwring het. Die vierde was die prostaat wat tot urienweg obstruksie gelei het. Die vyfde was die hart wat tot tachikardie aanvalle gelei het. So kan ek aangaan. Drie weke nadat ek nege maande te vroeg op mediese pensioen gegaan het, het ek in ‘n diep koma verval. Die internis het my familie gewaarsku dat ek 90% dood is. Hy kon niks meer doen nie, maar het hulle kortaf beveel dat hulle en die gemeente maar vir my moes bid. Na baie dae het ek ontwaak en na baie meer dae kon ek intensief verlaat. Die Here het hulle gebede verhoor en my verdere tyd gegun.

Ek vertel van hierdie mediese toestand omdat Afrikaners in hoofsaak van germaanse afkoms is. Hemochromatose is ‘n germaanse siekte wat nie onder asiate, afrikane of indiane gevind word nie. Dit kom die meeste voor van alle genetiese siektes, omtrent 1 uit 250 by germane. Maar dit word selde gediagnoseer omdat dit ‘n komplekse siekte is. Liewe Afrikaner, laat jou huisdokter jou vir moontlike hemochromatose diagnoseer by ‘n patologie laboratorium. Dit sal sowat R250 kos. As jy die siekte het, moet jy dadelik bloed skenk of jy wil of nie. Dit is al manier om die oormaat yster uit jou liggaam te verwyder. Moenie wag tot jou organe begin ingee nie. Die skade is onomkeerbaar.

Mooi loop.

At de Lange
Pretoria
Maart 2009

Weergawe: 1
© Kopiereg voorbehou



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

rex
Grootpens ...
Ek hoop jy is nog aan die gang, At. Gelukkig dat jy die skryfwerk het om jou dae te vul, ne?
7 jaar 1 maand 3 weke 2 dae 6 ure oud


Grootpens (deel1)
"Stil, hier loop 'n man verby ....." Sterkte, ek haas my om Deel 2 te lees!
7 jaar 11 maande 2 dae 20 ure oud


Groot Pens deel1
Dankie At, dit is baie interessant.
Ek het vir my de Lange vriende aangestuur.
Bly positief en bly glo dat jy heeltemal gesond gaan word want die Here kan jou ten volle genees. Ek bid vir jou.
Groete
Franna
8 jaar 5 maande 2 weke 21 ure oud


Grootpens
Blikskottel!! Dit was my eerste reaksie toe ek jou Grootpens 1 gelees het.
1. Ek kan net twee ure perdag op internet wees, en dit is te min om dit alles mooi in te neem, en om enigsens kommentaar te lewer.
2. Jy is 'n "profesional" !! Sal mos nou skaam wees on enige iets te publiseer!!
3. Miskien moet ek ook my hart uit praat op my profiel. Miskien.

Dit gaan my jaaare vat om al jou goed te lees!!
So 'n bietjie stom nou.
Ou At, jy moet vasbyt
Mooi bly nou. Sien jou later.
Danie
8 jaar 6 maande 1 week 12 ure oud


Ek het die baie geniet... Hosea het gese as gevolg van 'n gebrek aan kennis gaan my volk ten gronde. Die probleem het begin by die boom van kennis van goed en kwaad... interessant ne. Ek lees verdere aan jou artikels...
8 jaar 6 maande 3 weke 3 dae 8 ure oud


BAIE interessant! Ek lees graag meer...
8 jaar 7 maande 3 weke 5 dae 23 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Alles-in-een-toerustingspakket

    deur Christo Nel

    Wat Joyce Meyer gedoen het in Engels, doen Christo Nel nou in Afrikaans! Hier voor jou het jy iets unieks in Afrikaans. Leer om in Jesus se Naam mense te bedien, met behulp van die Alles-in-een- Potpouri-toerustingspakket uit die Nuwe Wyn-kelder!



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar