Titel: Help die Onnie!
Weergawe:
Aantal woorde: 616
Kere gelees: 843
Datum gepubliseer: 02 Jan 2008
Piet Magriet se “Woede” laat gryp my ook nou na my woordpompie hier vroeg in die nuwe jaar. Wat sy daar skryf is so belangrik. Die wat dit nog nie gelees het nie kan dit gerus gaan lees. Moenie nét dit lees nie, lees ook die kommentaar wat daaroor geskryf word.
Al die onderwysers daar buite sal weet dat dit nie net help om positief te wees nie. Dit is moeilik in die klaskamer. Dinge loop lelik skeef in die onderwys en dit help nie ons gee die nuwe kurrikulum die skuld nie. Kinders sukkel. Die wat nie hiermee saamstem nie gee nie om vir die kinders nie of gaan toe oë deur die lewe.
Ek gaan nou hier my kop binne in ‘n bynes steek met ‘n paar opmerkings.
1. Leerders gee nie meer om nie. Hulle is sonder dryfkrag.
2. Leerders leef in die waan dat hulle nie hoef te werk nie, hulle sal deurgesit word. Wat ook al.
3. Leerders wil nie weet dat hulle regte ook verantwoordelikheid teenoor ander beteken nie.
4. Leerders het die mag in hulle hande en is te onvolwasse om dit te gebruik.
5. Leerders is in beheer van hulle huishoudings. Pa en Ma moet maar spring. As daar probleme by die skool opduik is ma en pa aan leerder se kant anders is hulle die varke in die fairytale en kry hulle hel by die huis.
6. Leerders val uit die bus omdat hulle nie die mas kan opkom nie. Hier praat ek van leerders wat in spesiale skole moes wees, maar a.g.v. die regering se ontkenning nie die opsie het nie. Hulle raak gefrustreerd en word die “probleemkinders” in die klas omdat hulle al die onderwyser se aandag vereis.
7. Leerders van verskillende kulture beland in dieselfde skool en in dieselfde klas. Hulle verstaan mekaar nie, en laat ons eerlik wees, die onderwysers verstaan ook nie altyd die kultuurverskille en hoe dit die leerders beïnvloed nie.
Dit is maar die puntjie van die ysberg soos ek dit sien.
Die eintlike probleem is dat hierdie probleme hulle wortels in die ouerhuis het. Dit spoel oor na die onderwys waar die omstandighede om dit aan te spreek deur oorvol klasse en onopgewasse onderwysers gekeer word. Ek dink elke goeie onderwyser besef dit diep binne en is daaroor bekommerd maar word deur die tsunami meegesleur.
Ek is dag vir dag besig om oplossings vir die probleem te soek. Wat dit so lekker maak is dat geen oplossing permanent is nie omdat die leerders net positief reageer tot hulle agterkom dat dit net nog ‘n manier is om hulle sovêr te kry om te werk. Daarna moet jy al weer reg wees met die volgende oplossing.
Ek wens ek was ‘n sielkundige sodat ek meer en beter opsies kon uitdink.
Mammie en pappie wat die voorreg het om hier te kan lees. Julle is die enigste oplossing. Moenie landuit hardloop en dink jou kind kan in ‘n ander land beter opvoeding kry nie. Nee, bly hier. Maak seker dat jy jou kind dissipline leer, respek vir sy medemens leer en by hom ‘n wil kweek om nuwe kennis op te doen. Dan kan die onderwysers met hom werk en sal hy selfs hier uitstaan en suksesvol wees. Ons land het kinders soos joune nodig. Jy en jou kinders is deel van die oplossing vir hierdie land.
Daar is sulke kinders in al my klasse en hulle maak dit nog vir my die moeite werd om aan te gaan met onderwys. Sonder hulle het ek al handdoek ingegooi.
Gooi gerus ‘n stuiwer in die armbeurs. Dit help my dalk in die klas want ek is nie te oud nie en wil nog leer.
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
Meeste gelees in die laaste 24uur
Meeste kommentaar ontvang in die laaste 24uur

Artikels
Algemeen
