Artikels

Titel: Help die Onnie!

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Piet Magriet se “Woede” laat gryp my ook nou na my woordpompie hier vroeg in die nuwe jaar. Wat sy daar skryf is so belangrik. Die wat dit nog nie gelees het nie kan dit gerus gaan lees. Moenie nét dit lees nie, lees ook die kommentaar wat daaroor geskryf word.
Al die onderwysers daar buite sal weet dat dit nie net help om positief te wees nie. Dit is moeilik in die klaskamer. Dinge loop lelik skeef in die onderwys en dit help nie ons gee die nuwe kurrikulum die skuld nie. Kinders sukkel. Die wat nie hiermee saamstem nie gee nie om vir die kinders nie of gaan toe oë deur die lewe.
Ek gaan nou hier my kop binne in ‘n bynes steek met ‘n paar opmerkings.
1. Leerders gee nie meer om nie. Hulle is sonder dryfkrag.
2. Leerders leef in die waan dat hulle nie hoef te werk nie, hulle sal deurgesit word. Wat ook al.
3. Leerders wil nie weet dat hulle regte ook verantwoordelikheid teenoor ander beteken nie.
4. Leerders het die mag in hulle hande en is te onvolwasse om dit te gebruik.
5. Leerders is in beheer van hulle huishoudings. Pa en Ma moet maar spring. As daar probleme by die skool opduik is ma en pa aan leerder se kant anders is hulle die varke in die fairytale en kry hulle hel by die huis.
6. Leerders val uit die bus omdat hulle nie die mas kan opkom nie. Hier praat ek van leerders wat in spesiale skole moes wees, maar a.g.v. die regering se ontkenning nie die opsie het nie. Hulle raak gefrustreerd en word die “probleemkinders” in die klas omdat hulle al die onderwyser se aandag vereis.
7. Leerders van verskillende kulture beland in dieselfde skool en in dieselfde klas. Hulle verstaan mekaar nie, en laat ons eerlik wees, die onderwysers verstaan ook nie altyd die kultuurverskille en hoe dit die leerders beïnvloed nie.
Dit is maar die puntjie van die ysberg soos ek dit sien.
Die eintlike probleem is dat hierdie probleme hulle wortels in die ouerhuis het. Dit spoel oor na die onderwys waar die omstandighede om dit aan te spreek deur oorvol klasse en onopgewasse onderwysers gekeer word. Ek dink elke goeie onderwyser besef dit diep binne en is daaroor bekommerd maar word deur die tsunami meegesleur.
Ek is dag vir dag besig om oplossings vir die probleem te soek. Wat dit so lekker maak is dat geen oplossing permanent is nie omdat die leerders net positief reageer tot hulle agterkom dat dit net nog ‘n manier is om hulle sovêr te kry om te werk. Daarna moet jy al weer reg wees met die volgende oplossing.
Ek wens ek was ‘n sielkundige sodat ek meer en beter opsies kon uitdink.
Mammie en pappie wat die voorreg het om hier te kan lees. Julle is die enigste oplossing. Moenie landuit hardloop en dink jou kind kan in ‘n ander land beter opvoeding kry nie. Nee, bly hier. Maak seker dat jy jou kind dissipline leer, respek vir sy medemens leer en by hom ‘n wil kweek om nuwe kennis op te doen. Dan kan die onderwysers met hom werk en sal hy selfs hier uitstaan en suksesvol wees. Ons land het kinders soos joune nodig. Jy en jou kinders is deel van die oplossing vir hierdie land.
Daar is sulke kinders in al my klasse en hulle maak dit nog vir my die moeite werd om aan te gaan met onderwys. Sonder hulle het ek al handdoek ingegooi.
Gooi gerus ‘n stuiwer in die armbeurs. Dit help my dalk in die klas want ek is nie te oud nie en wil nog leer.



Kommentaar

Help..
Vandag eers terug van wegbreek en moes eers kom lees. Ek skryf al vanaf verlede jaar stuk-stuk aan 'n artikel/happie oor 'n aspek hieroor. My vraag is, wie het die ouers al mooi bekyk? Groete, Vossie.
4 jaar 4 maande 1 week 5 dae 14 ure 52 minute oud


My stuiwer in jou goudpot
Naas,
Daar draai ‘n duisend gedagtes in my kop om en om terwyl ek so deur jou artikel lees.

Eerstens stoot daar ‘n gevoel van bitterheid in my op teenoor sommige ouers. Mense moet nou nie hier kom sê dat ek alle ouers onder dieselfde kam skeur nie, ek besef tog te goed dat daar baie ouers is wat hulle deel doen, en ek besef ook dat daar ouers is wat werklik moet werk om net in basiese behoeftes te voorsien.
Daar is nie ‘n bediende in daardie huishouding nie en die kinders leer dus om hulle deel te doen. Hulle leer roetine en dissipline, verantwoordelikheidsbesef en dus eiewaarde. Dit kweek respek, nie net vir homself nie maar ook vir ander. Waardering vir dit wat hy het en dit wat hy kry.
Jy kan maar ook gaan kyk en sien dat dit hierdie ouers is wat genoeg tyd en aandag aan sy kind gee.

Ek is verbitterd teenoor ouers wat kinders verwek en nie ‘n flenter omgee oor hulle opvoeding nie. Julle kan my maar stenig, maar daar is duisende ouers wat werk net om van die las van huiswerk en kinders- grootmaak te ontvlug. Daar is altyd uitsonderings op die lys, maar dit is hierdie kinders wat geen dryfkrag het nie. Hulle het geen eiewaarde nie, geen selfrespek nie. “Laat God’s water maar oor God’s akker vloei.
Niemand gee om nie, hoekom moet ek. Ek het nog nooit vir iets gewerk nie, hoekom moet ek nou?”

Daar is wel kinders wat uit sulke en ander haglike omstandighede kom, wat besef dat hulle anders wil wees.
Dit is gewoonlik vir daardie kinders waar die onderwyser sy goud werd is in dubbel sy gewig. Hy of sy is die steunpilaar vir daardie kind wat wil. Die onnie is die opvoeder. Christal is heeltemal reg, vir daardie onnie is skoolhou ‘n roeping, nie ‘n werk nie. Vir ons samelewing is hierdie onnie onvervangbaar.

Regte? As kind het ek geen regte gehad nie. Slegs voorregte. My kinders het ook geweet dat kinders voorregte het. Dit was ONS as OUERS se VERANTWOORDELIKHEID om toe te sien dat ons kinders ‘n dak oor hulle kop, klere aan hulle lyf, ‘n goeie opvoeding ens gekry het. Dit was nie hulle REG nie. Ek het my kind ‘n goeie opvoeding gegee want EK was, is en sal altyd, VERANTWOORDELIK vir sy optrede wees. Voetsek met jou REGTE!!

Kinders wat oorbeskerm word leer nooit om verantwoordelike grootmense te wees nie. As ‘n kind verkeerd opgetree het moet hy verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Die onderwyser het meer as genoeg werk om te doen, dink jy hy is sommer net verveeld en roep jou in vir ‘n bietjie geselskap? Nee, hy is besorgd oor jou kind se opvoeding, want dit is wat hy is, ‘n OPVOEDER. Hy doen dit nie omdat hy MOET nie, hy doen dit omdat hy WIL !! Die minste wat jy as ouer kan doen is om die onderwyser by te staan in sy taak wat eintlik jou taak is.

Jy as ouer moet beheer hê oor jou kind. Hierdie beheer kry jy van sy geboortedag af. Dit is HIER waar dissipline en roetine begin. Jou verantwoordelikheid begin by konsepsie, maar jou beheer begin hier. Sodra jy beheer aan die kind afstaan sal hy of sy jou oorheers en jy sal nog lang trane huil.

Volgens my is enige onderwyser goed toegerus om probleme te hanteer. Daardie “hands on” ervaring wat jy elke dag opdoen gaan elke sielkunige verby. Teorie is een ding, maar jy pas daardie teorie elke dag toe en jy kan sien wat werk en wat nie. Die sielkundige moet kom handvat en nouer met die onderwyser saamwerk. Hy het baie om by die onderwyser te leer.

Een leemte wat daar wel bestaan , is dat onderwysers wat vir skoolbeginners skoolhou, nie goed genoeg toegerus is om leerprobleme te identifiseer nie. As ek my sin kon kry sou ek daar ‘n verandering wou sien plaasvind en ek werk hard daaraan.

Wat baie verblydend is, is dat daar ‘n tendens onder jong ouers is wat sug na inligting oor kinderopvoeding. Nie soseer net boekekennis nie, maar hulle klop aan vir hulp by dié met ervaring van kinders grootmaak. Daar is ‘n vlaag van belangstelling. Naas, dit is hier waar mense soos jy, nie net in jou hoedanigheid as onderwyser nie, maar ook as ouer, bydraes van onskatbare waarde kan maak. Weereens, nie omdat jy MOET nie, omdat jy WIL.

Laastens, ons het kinders gekry om van hulle aanvaarbare volwassenes te maak wat hulle plek volwaardig in die samelewing kan volstaan. Hulle moet die aanslae, uitdagings en tribulasie van die lewe met moed, durf en daad kan aanpak. As ons daarin slaag, dan slaag ons in ons roeping as ouers.

Piet Mariet



4 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 4 ure 40 minute oud


Dissipline
Vir my as ouers is dit die beste hulpmiddel wat ek my kind se onderwyser of onderwyseres kan gee deur hulle in die huis te dissiplineer. Gehoorsaamheid om opdragte dadelik uit te voer. Respek vir hulle self en ook vir ander. Dan moet ons ook 'n voorbeeld stel.
Hulle moet nie met verskonings leer om weg te kom nie. As hulle oortree het is daar 'n straf. Klaar!
Voorregte word ontneem. As die kind in die huis nie die reels kan gehoorsaam hoe gaan hy eendag 'n wetsgehoorsame volwasse word? Die opvoedingstaak moet tuis begin word. Behulpsaamheid met klein takies en verantwoordelikheid om sy humeur self in toom te hou. Daar is pragtige webadresse beskikbaar om ons as ouers te help. My ma sal dit met graagte verskaf aan ouers wat belangstel.
4 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 5 ure 1 minuut oud


Help die onnie!
Daar was vir TE lank deur baie ouers die taak van opvoeding aan die onderwyser oorgelaat wat reeds gebuk gaan onder geweldige laste. En soos jou bydrae en Piet Magriet se Woede en by my eie erfie Kinders met leerprobleme ook bewys, daar is 'n behoefte dat ouers weer MEER betrokke MOET raak by die kind/leerling/student.

Ons het riglyne nodig. Daar is soveel inligting op die internet beskikbaar - die probleem is by die beskikbare tyd wat die ouers het! Die dag het nie genoeg ure om deur duisende webadresse te soek en dan deur nog duisende inligtingsblaaie te moet soek na jou kind se probleem en moontlike oplossing.

Die reaksie by die kommentare by hierdie soort van bydrae's is 'n uitroep vir hulp uit alle oorde!

Piet Magriet het my gekontak paar weke gelede met 'n versoek om te help ... en daar het ons weer besef HOE nodig dit is om steeds meer en meer te wete te kom oor probleem oplossings. Verskeie tegnieke en beproefde idees te omskep vir die unieke situasie van die leerling met probleme. Waar is die oorsprong van hierdie probleem?

Hoe uniek is my kind se geval? Wat het ander ouers gedoen in soortgelyke situasies? Voorwaar 'n besprekingspunt wat die lyne op Woes gaan laat rol!

4 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 12 ure 24 minute oud


Help die onnie
ek glo dit is nie meer maklik om onderwyser te wees nie. Ek glo ook dat ouers in sommige huise nie meer dissipline toepas soos dit behoort te gebeur nie. Ouers werk albei en het nie altyd tyd om die aandag en liefde te gee soos dit moet wees nie. Kinders kom dikwels met take huis toe en dan moet die ouers ook help. Hulle is moeg as hulle van die werk af kom, en wil nog hulle televisie program ook kyk. Kinders maak nie meer skoon waar hulle mors nie en leer nie netheid wat hand aan hand gaan met dissipline tuis nie. Hulle leer nie hoe om hulle emosies te bestuur nie. Dit is werklik 'n probleem, want in sommige gevalle weet hul ouers nie eers hoe om hulle eie emosies te bestuur nie. Ek glo ook aan die voorbeeld wat 'n ouer stel. Dit is baie waar dat kinders die ouer se voorbeeld volg. Ek wil nie daarmee te kenne gee dat ouers sleg is nie. Sommige ouers glo hulle is reg, maar het weer nie die kennis om te besef dat hulle groot foute maak in die opvoeding van kinders nie. Ek het ook as ouer baie foute gemaak, want jy is ook soms as ouer onseker of jou optrede altyd reg is. Ek wil geensins ouers afkraak nie. Daar is ook goeie ouers wat net lewe vir hul kinders en ook help om vir die kinders 'n goeie toekoms te bou. Kyk maar by die sport, koor, musiek ens. hoeveel ouers ondersteun hul kinders wel nog deur hulle daarheen te neem en saam met hulle te deel. Die lewe het so moeilik geraak dat jy nie eerns meer jou kind alleen iewers heen kan laat gaan nie. Dit is nie altyd meer veilig nie. Naas ek haal my hoed af vir al die onderwysers wat onder moeilike omstandighede skool hou en ook nie al die kulture ken nie maar hulle gee nog om. Skoolhou is nie 'n werk nie ek sien dit as 'n roeping.
4 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 14 ure 2 minute oud


lees gerus my laaste kommentaar by piet magriet se artikel 'woede'. Vertel wat dink jy daarvan.
groete
tribalmoon
4 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 16 ure 1 minuut oud


picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar