Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

DIE STORIE AGTER DIE STORIE – Deel 10
Herlewing kan die gevaarlikste tyd ooit wees!

Ek glo elkeen van ons bid gereeld vir herlewing. Waarin God Homself weer opnuut, soewerein, as ‘n lewende God in Sy heerlikheid onder ons sal openbaar.

Ek weet nie van jou nie, maar dit is gedurig my gebed. Veral sedert ek beleef het hoe die Here in 1997 vir my hierdie visioen gegee het van herlewing wat weer, soos daar in 1860-61 in Andrew Murray se tyd, hier in die Wes-Kaap gaan begin en gaan rol oor die hele Suid-Afrika, in die res van Afrika in, en daarvandaan na die res van die wêreld.

As ek die verhale lees van die meer as 200 herlewing wat sedert 200 nC oral oor die wêreld spontaan, op God se soewereine inisiatief, net begin gebeur het, en die impak wat dit op mense en op die gemeenskap om hulle gemaak het, weet ek: ek wil dit self belewe. As God in Sy groot genade dit wil. Ek wil die voorreg hê om eendag aan my kleinkinders en aan ander te vertel van alles wat gebeur het in daardie tyd. Soos ons tans hoor en lees wat gebeur het ‘n 100 jaar gelede tydens die herlewing van Asuza-straat in 1906.

Maar ons moet onthou, soos Hand 5 ons tereg waarsku, herlewing is ook een van die mees-gevaarlike tye ooit! Ons is immers op ‘n besondere manier in die teenwoordigheid van ‘n heilige God, wat nie sonde voor Sy oë kan verdra nie! Hy het selfs Sy Seun se lewe gegee om met sonde, en die straf wat op sonde rus, regverdiglik te handel.

Daarom moet ons erns maak met dit wat Lukas ons daar in Hand 5 vertel. Gaan lees maar weer self daardie gebeure in die Ekklesia die dag toe, éérs Ananias, en tóé Saffira, sy vrou, dood deur van die jongmanne in die geloofsfamilie, uit die byeenkoms gedra moes word! Omdat hulle gewaag het om te lieg vir ander gelowiges oor die bedrag waarvoor hulle hulle eiendom verkoop het.

Stel jou voor jy was daardie oggend in die byeenkoms van die Ekklesia! Hier kom Ananias die byeenkoms in met ‘n sak vol geld wat hy voor Petrus, wat die byeenkoms gelei het, kom neersit.

“En waarvoor is dit?” hoor ek Petrus vra.

“Daar is soveel in die Ekklesia wat te min het, dat ek en my vrou besluit het om ons een eiendom te verkoop en al die geld te gee sodat ander wat nie het nie ook genoeg kan hê”, hoor ons dan Ananias sê.

“Al die geld…?” vra Petrus net weer om Ananias ‘n tweede kans te gee. Want God het deur die Heilige Gees reeds aan Petrus geopenbaar wat die ware toedrag van sake is. Naamlik dat Ananias en sy vrou besluit het om van die geld vir hulleself terug te hou en tog vir die gemeente te sê dit wat hulle gebring het was ál die geld.

Die res van die verhaal ken jy.

Sidder jy ook as jy oor hierdie gebeure dink?

Dit laat ‘n mens net opnuut besef dat sonde van watter aard ook al altyd gevolge het. Paulus het nie gelieg toe hy daar in Rom 6:23 vir gelowiges gesê het “die loon van die sonde is die dood” nie!

Daarom mag nie een van ons ooit waag om met sonde, in watter vorm ook al, ligtelik om te gaan nie. Daarom durf ek en jy nie in ons eie lewe, waag om doelbewus, bewustelik, aan te hou met dinge, gedagtes, gewoontes, handelinge, wat ons voor ons siel weet teen God se wil en plan vir jou lewe is nie!

Maak klaar met daardie dinge, maak klaar! Dit is lewensgevaarlik, en dit gaan jou ‘n prys kos as jy doelbewus daarmee aanhou.

Die Ekklesia, van minder as ‘n maand oud, het dit op die harde manier geleer daar in die begin. En die rimpeling-effek van hierdie gebeure - want die nuus het natuurlik soos ‘n veldbrand oor die hele Jerusalem versprei - was dat die res van die gemeenskap die Ekklesia, en veral hulle byeenkomste, begin vermy het! Dit was immers lewensgevaarlik om daarna toe te gaan!

Tog lees ons hierdie veelseggend sin daar in Hand 5: “… maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag. Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg.”

Sien, ons is partykeer so bang ons affronteer mense deur dit wat in die byeenkomste van die Ekklesia gebeur! Daarom probeer ons heeltyd om almal net gelukkig te hou en alles moontlik te doen om so gebruikersvriendelik as moontlik te wees.

Tog moet ons besef dat die oomblik as ons God toelaat om God te wees, en totaal in beheer te wees in ons midde, en ons die Woord en Sy wil onverdun aan mense begin bedien, sal daar altyd dinge wees wat die groter meerderheid mense, veral godsdienstige mense, gaan verjaag!

Maar die bemoedigende in dit alles is, is dat diegene wat in die proses ‘n ontmoeting met ‘n lewende Jesus het, wat kies om Hom te glo en Hom te volg, al kos dit wat, sal kom en bly … al gebeur wat ookal onder ons. Want wat meer soek ‘n mens … wat meer voed ‘n mens werklik … as om in die teenwoordigheid van die lewende Jesus Christus, die Opgestane Here en Koning, te wees!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

RANGEERWERF

deur Johann P. Boshoff

Hierdie selfpublikasie, met die volledige titel RANGEERWERF: DIE WAARHEID GELIEG, bestaan uit nege (9) homofiliese kortverhale met sterk biografiese inslag opgeneem. Dit is 'n rangering deur die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar