Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

My skreiende aanval op die Afrikaner en sy gebrek aan kultuur het die verwagte reaksie uitgelok, waaroor ek dankbaar is. Dit wys darem dat die Afrikaner sensitief is oor sy herkoms. Maar, dit het nog steeds nie aan my bewys dat die moderne Afrikaner in die nuwe Suid Afrika enige sinvolle kultuur in hom het nie.
  Verstaan my mooi, ek is baie trots op my herkoms omdat my voorgeslagte se spore juis deur al die provinsies en die Suid Afrikaanse geskiedenis loop. Ek kan my stamboom terugspoor deur voortrekkerleiers, boeregeneraals en selfs ‘n draai saam met die Stormjaers van die Ossewa Brandwag.

Ek kots ook nie op my Afrikanerafkoms of voel om iemand se voete te was oor die misdrywe van my voorgeslagte nie. Ek vertrou dat hulle, binne die politiek van die dag, gedoen wat hulle geglo reg was vir die voortbestaan van die Afrikanernasie. Nie dat alles wat hulle gedoen het daaromrede reg was nie. Genoeg foute is begaan wat deur al die verskonings ter wêreld nie reggestel sal kan word nie. Oom Paul Kruger het egter eenkeer gesê dat ons die toekoms moet bou op die mooi en die goeie van die verlede. Dis net jammer dat net die slegte baie goed onthou word en dat die goeie dinge uit die geskiedenis liefs vergeet word. Ons bou al verskonend-vraend liewer die toekoms op die geraamtes in ons voorouers se kaste.

Ek glo egter steeds aan ‘n morele waardesisteem gegrond op die woord van God soos dit geskryf staan en nie soos ons dit graag wil interpreteer nie. Die Bybel is nie in konteks geskryf soos ons so graag beweer nie, dis geskryf as riglyn vir ons eenvoudige mensdom. Die Bybel is al wat die oumense gehad het, en al het hulle baie foute gemaak en al was hulle nie engeltjies nie, het hulle in moeilike tye en deur baie jare stewig geankerd gestaan (hoe anders sou die Afrikaner na die Tweede Vryheidsoorlog weer op sy voete kon kom en kon ontwikkel in ‘n land wat nie hoef teruggestaan het vir die grotes in die wêreld nie). En, omdat ek aan die beproefde glo, het ons ons kinders “outyds” grootgemaak en is vandag trots om te kan sê dat hulle hulle plek met waardigheid kan vol staan in ‘n harde wêreld (en gesog is oor hulle betroubaarheid, kennis en vernuf). Hulle is nie skaam om by hulle ouers aan huis te kom nie en ook nie skaam om hule vriende na ons huis toe te bring nie. Om die waarheid te sê, het hulle vriende somtyds baie meer tyd by ons aan huis deurgebring as by hulle eie huise.

Die dinge waaroor ek skryf, is dinge wat ek fisies tussen die Afrikaner van die dag beleef het. Miskien veralgemeen, ja, maar in ‘n sekere opsig baie verteenwoordigend ook.

Ek skryf aan niemand voor wat hy of sy moet lees, watter musiek hulle na moet luister of vir watter rugbyspan hulle moet skree nie. Ek probeer ook nie die tradisionele manier van kinderopvoeding propageer nie. Dis elkeen se vrye keuse hoe en wat hy of sy wil doen met hulle lewe. Ek beweer ook nie dat die Afrikaner godloos geraak het nie. Daar is nog genoeg gemeentes en denominasies met voldoende lidmate. Wat my egter pla is die manier waarop daar deesdae op geleerde kerkvlak bespiegel word oor die maagdelike geboorte van Christus, die opstanding van Christus en ander basiese Christelike waarhede. Dit pla my ook as ons begin om voelers vir gesprekvoering uit te steek na die lede van ander godsdienste, so asof die Hindu en Moslem en Bhoedis dieselfde god as ek aanbid en ek daarom sy hand moet vat.

Ek is nie ‘n voorstaander van ‘n Boerestaat of die een of ander Boererepubliek nie – ons het ons kans gehad. Dis net die afwesigheid van die Afrikaner wat my omkrap as die ANC regering bereidwilligheid toon om na minderheidsregte te kyk. Die twee of drie Afrikanerstemme wat daar was, is doodgelag deur die honende gehoor. “He’s crying over his Afrikaans.” Daar gaan nie in die toekoms wette op die wetboek wees wat die regte van die Afrikaner gaan beskerm in die skole of op universiteit nie. Die kosteaspek gaan maak dat Afrikaans op die lange duur sy plek gaan verloor. Die welgesteldes sal hulle kinders na Afrikaanse privaatskole kan stuur, maar die gewone ou het nie daardie voorreg nie. Geleidelik sal die “average” Afrika kultuur in die geïntigreerde skole die bietjie Afrikanerkultuur wat oor was verswelg. Daarom dat ek sê dat daar te min kultuur oor is in die gemiddelde huishouding om die Afrikaner as ‘n entiteit staande te hou.

“Mô, boetie het sy bike gevat en mall toe gery. Ek’s seker hy check ‘n chick uit daar by die videoshop. Ek soekie die chicks wat daar uithang nie, hulle’s low-class. Ek’t hom anyway gesê hy moet chips saambring vir vanaand se movie as hy terugkom.”

Die moderne Afrikaner het so verwêrelds dat jy hom beswaarlik nog kan uitken tussen al die ander.
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ek wens meer mense wil wakker skrik en insien waarvan jy praat. dis 'n jammerte dat wat jy se so waar is dat dit die morele toestand van die hedige Afrikaner openbaar. Ongelukkig is dit soms die bakteria op ons velle wat meer "kultuur" het as ons.
10 jaar 3 maande 2 dae 2 ure oud


Afrikaner Noeticus
Na ek jou eerste artikel gelees het wou ek iets kwytraak maar nou sal my aanloop ietwat moet verander. Mens hoef nie moeite te doen om die dinge wat jy noem te sien gebeur nie. Jy maak heelwat akkurate waarnemings maar ek self verskil van jou oor 'n paar fyner punte. Ek dink ons albei weet dat daardie selfde ou wat so oor alles braak ook oor hordes ander dinge in die lewe dink en dit gaan nie alles oor rugby en dronkverdriet nie. Ek het ook al mense op die baadjie trakteer en myself liederlik misgis met wie en wat ek te doen gekry het. Daar is mense wat omtrent lyk en praat of hulle uit 'n Ou-Afrikaner prentjieboek uitgestap kom wat nie veel diepte in denke openbaar nie en dan is daar tiener outjies wat met chicks uithang by die shop wat al deur diep waters in belewings en denke gegaan het.

Daar het duidelik baie verander oor die laaste eeu maar jy gaan nie vandag se astrante jeug oortuig om die kappiekommando te join of “suiwer” Afrikaans te praat nie. Ek self kom uit 'n geslag wat baie Engels vermengd geraak het in dubbelmedium skole en met Engelse vriende. Baie mense wat byvoorbeeld in Port Elizabeth of Oos Londen grootword kom wel van trekkers uit die noorde se nasate wat see toe getrek het maar daar vermeng die Afrikaanse kultuur vanself met die Engelse wat in 1820 en later daar gevestig het se nasate. Ek ken menige Engels en Afrikaans vermengde gesinne wat albei tale as huistale gebruik.

As die produk van kultuur vermenging vir jou na verwêreldsing lyk kom uit ek uit 'n deeglik verwêreldse agtergrond terwyl my ouerhuis streng “boerlik/dalk onwêrelds?” probeer bly het. Ek vind dit egter nie teleurstellend of verwerpingswaardig dat lede van my geslag en later van die spoor af geklim het nie. Ek vind dit opwindend en uitdagend want ons leef nog en ons taal leef ook, ten spyte van al die eksterne invloede. Solank daar 'n gesonde kern oorbly in die taal is dit na my mening gesond dat daar geëksperimenteer word met ander kulturele en taal toevoegings sodat dit dan uit persoonlike ondervinding beoordeel kan word eerder as op hoorsê en of suiwer akademiese bespiegeling.

Wanneer mens kyk na al die verskillende rigtings waarheen Afrikaners gespat het kan mens dit sien as verwerping en aftakeling van die oue of as navorsing van die onbekende en uitbreiding van en verryking van die oue.

Ek dink ook die Volk soos dit voorheen bestaan het bestaan nie regtig meer nie. Ek dink egter 'n Volk bestaan nog en sal uit al die skommelinge opstaan as 'n tipe gereformeerde weergawe van die volk wie se verkrummeling ons tans betreur wat 'n veel ryker kultuur as net braaivleis, bier en rugby sal hê sonder dat mens alles wat goed of lekker is uit ons kulturele verlede hoef prys te gee. Was dit nie Siener wat gesê het ons sal eendag 'n mengsel van Afrikaans en Engels praat nie? Dalk was hy 'n verraaier of maar net nog 'n ou boer wat oudergewoonte verder as sy neus kon dink. Dis een ding wat Afrikaners deur ons geskiedenis heen goed kon doen, in die verte kyk, of dit nou met oë gerig op die fisiese of geestelik horison is.
10 jaar 3 maande 2 dae 5 ure oud


'n (Afrikaner) Prof het my in die 70's goeie raad gegee wat my nou nog bybly:

Meneer, moet jou nie aan aardse dinge steur nie...
10 jaar 3 maande 2 dae 12 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Bertha se Stories

deur natasha dutton

"...my issues is maar soos joune, my vrese gegrond op ervarings, dinge waarvoor jy ook bang is. Die enigste verskil is, ek is 'n stort mens, geen badprop wat my geparfumeerde water in toom kan hou nie. Die lewe is nie 'n bad vol foam bath nie, nee jong, so maklik is dit nie. Die poepwalms laat jou verstik, nie eers te praat van die vloeistowwe nie! Maar dis die lewe." Wel, nou weet jy wat om van hierdie boek te verwag...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar