Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit is nou al ’n paar dae wat ek met die ding in my gedagte wêreld rondloop. “Vertel jou storie.” Gee jou getuienis. Ons het mos maar almal ’n storie en wanneer ek na ander mense se verhale luister klink myne so min. So gewoon en alledaags, maar gister, toe my lewe vir ’n oomblik buite sy wentelbaan geruk word weet ek, nou is die tyd vir my storie. As dit nie is om iemand anders moed te gee nie, dan net vir my om weer te onthou.

Ek is getroud toe ek pas 21 geword het. Ek het altyd gesê ek wil nie kinders hê nie. (Moenie praat van dinge waarvan jy NIKS weet nie. Dit wat jy sê het ’n manier om ’n selfopgelegde profesie te word.)

Toe ek 27 word begin die biologiese klok tik op pad na Benoni! Net voor die Emperor’s Palace. Ek wou kinders hê. Ons het alles in plek begin sit. ’n Spaar plan uitgeneem sodat die kindjie in privaat skole kon wees terwyl mamma en pappa in die sweet van hulle aangesig hulle brood en botter en hopelik bietjie biltong ook verdien het. Niks gebeur. ’n Swangerskap toets of drie elke maand.... en die antwoord bly nee. (Die mens wik maar God beskik!)

Ons gaan vir toetse, ons gaan vir ‘n laparoskopie. Die dokters sê dat vrugbaarheidsbehandeling nie die ding gaan doen nie, so ons probeer nie eens nie. Ek sit in my kar in ’n parkeer area naby Krugersdorp en al wat ek kan dink is – ‘al sou die vyeboom nie bot nie, al sou die olyfoes misluk, nogtans sal ek in my Here jubel, sal ek juig in God my redder!’ Dit refrein deur en deur. Die aand staan ek in my sitkamer met hande uitgestrek na bo terwyl Anneli van Rooyen se Halleluja speel. Ek kan net huil. Daar is geen ander emosie as die trane wat van my wange afdrup.

Die pyn van elke maand se “nee” is meer as wat ek aan enige mens kan verduidelik. Elke tweede vrou is swanger. Elke winkel trollie het ’n snotneus kleuter of baba in. Jou oë word vanselfsprekend getrek deur ’n magie wat boep staan. Vir ander vrouens voel dit na hitte gloede, vir jou lyk dit na ’n stralekrans. Elke maand maak jy vrede, net om twee weke in die volgende maand in weer te begin dink, ‘miskien die maand.’

In daardie tyd het ons begin Bybelskool doen en daar het ek eerste woord gekry van ’n geskenk wat wag, maar dat ek dit versigtig moet oop maak. Steeds niks. Toe besluit ek, ‘as ek dan nie vir my eie kind kan lief wees nie, sal ek lief wees vir ander mense se kinders.’ Ek raak betrokke by die kerk se jeug en raak lief vir die jongmense asof hulle werklik myne is. Hulle raak deel van my seerkry en hulle bid saam. Hulle profeteer oor my.

Die 23ste Desember 2004 is die datum wat die spesialis gesê het dat daar bykans geen kans is om ons eie kindjie te hê nie. Ek sal nie vergeet hoe ek gestaan en huil het in my man se arms in die parkeer area van die hospitaal nie. Dit het gereën buite en dit het gereën in my binneste. Ons het soveel liefde, soveel om te gee...

My pa is einde 2000 dood gery op sy fiets. Alhoewel ek vrede gemaak het met die verlies aan hom, is daar dae wat dit my nog akuut vang. Die 4de Junie 2005 was een so ’n dag. Daardie week was celebration week by die kerk. Vir my was dit ’n stukkend voel dag, ’n dag waar ek net langs my daddy wou gaan sit en onder sy vlerk inkruip. ’n Dag wat ek so graag wou hoor ek moenie worry nie – hy is daar.

In die kerk het die een man gepraat oor ’n aand by die Koning en wat jy Hom sou vra as jy die kans kon hê. Die gemeentetjie is klein en intiem en almal het gereeld spreekbeurt gekry – maar daardie dag het ek (wie gewoonlik baie te sê het) nie lus gehad om te praat nie. Ek wou net sit en wees. Chris het so op ’n hoek begin en mense gevra wat hulle van die Here sou vra as hulle kon en al wat ek kon doen, is om my duim nael te kou asof my lewe daarvan afhang. En wrintie kom stop die man voor my: “Marlize, as jy ’n nag by die Koning kon hê, wat sou jy vra?” Vir die eerste keer het ek myself toegelaat om hardop te vra vir die begeerte van my hart.

“As ek mag vra sou ek vra vir ’n kindjie van my eie. Een wie ek kan bring tot voor die Here en sê ‘hier is hy Here, die kind wie U my gegee het.’” Ek kon nie meer die sluise keer nie. Alles in my menswees het geskreeu vir hierdie kleine mensie. Daar was stilte.

Later die aand het hulle gesê mense wie gebed wou hê moes vorentoe gaan. Ek het net besluit dat ek nie sal gaan as my man nie saam my daar gaan staan nie. Te lank het ek alleen hierdie ding gedra. Hy het vorentoe gegaan...

Jy staan mos maar so, met jou eie innerlike stryd, smekend om ’n antwoord. ’n Direkte boodskap van die Here af en so baie maal is dit ’n blote gebed, ’n smeking van ’n ander mens wie meng met die smeking van jou hart, maar jy loop weg, altyd met die hoop, maar nooit met die absolute versekering nie. Daardie aand van die 4de Junie 2005 was anders. Daardie aand het die Here direk gepraat.

’n Jong meisie van skaars 22 het gekom en begin bid en geprofeteer en sy het begin met: “Die Here sê julle sal ’n seun hê.” En dadelik het ek gedink ‘ek wil so graag ’n dogtertjie hê’ – die cheek! En onmiddellik sê sy: “He will doubly honour you!”

“Ek sien ’n jong man met volle wapenrusting aan en agter hom is ’n horde ou mense en siek mense en kinders en teen hom kom ’n weermag. En ek vra vir die Here, ‘maar hy kan nie alleen teen hierdie mense baklei nie, die mense by hom is nie in staat om te baklei nie.’ En die Here sê vir my dat hy nie nodig het om oorlog te voer nie, hy moet wag op Hom.” Die “conviction” in haar stem laat my besef dat hierdie werklik is.

Later die aand kom sy en sê dat die Here sê sy naam moet Neal wees. Dit beteken kampioen.

My hoop het ’n vaste versekering geword. Al sou ek nog vier jaar moes wag het ek geweet Hy sal doen wat Hy sê. Drie maande later op die 3de September 2005 het ek die eerste van drie swangerskap toetse gedoen... die eerste van drie positiewe swangerskap toetse!
Toe ek my nuus met ’n kollega deel was haar woorde: “Your faith must be really strong.” Nee, my geloof was nie sterk nie, my God is almagtig!

Van die begin af het ek urienweg insfeksies gehad en op twaalf weke ’n dreigende miskraam. Ek het geworstel, gevra en gepleit en selfs ooreenkomste probeer aangaan. Later het stille aanvaarding gekom dat maak nie saak wat nie... Hy bly God en ek sal Hom bly dien al verstaan ek nie.

Toe, na omtrent twintig weke kom die bloedtoets uitslae – daar is ’n kans dat ons seuntjie gestremd kan wees. Die dokter beveel ’n amniosintese aan. “En wat moet ek met die uitslae doen?” vra ek. “Besluit of jy wil termineer.” Kom die antwoord kort en saaklik.

Ek en my man het die vorige week oor dit gepraat. Ons het gesê as dit down sindroom is dan doen ons niks, maar die dokter sê dat dit nie downs is nie en hy kan ook nie sê watter gebrek sonder die amniosintese nie. Ons doen nie die toets nie. Hierdie kind is deur God in my liggaam geplaas, hy is ’n kampioen, hier is sy eerste oorwinning en maak nie saak wat nie, hierdie is ons geskenk.

Een middag ry ek oor ’n bult buite Hartebeespoortdam en ek vra die Here of ek maar mag vra dat my kind normaal is en duidelik hoor ek die vraag in my hart: “Wat is normaal vir jou, Marlize?” En ek wonder - wat is werklik normaal? Is ek? Jy? Ek gesels toe maar voort: “Here, as my kind U kan ken, U Woord kan lees, met U kan gesels – dit sal vir my voldoende wees en Here wat ’n bonus as hy hande en voete en werkende ledemate het, maar Here, ’n verhouding met U is vir my die belangrikste.” Toe is dit klaar. Ek het geweet wat normaal vir my is.

Neal Kenwyn (na aanleiding van Kennith en Wynand – die twee oupas se name – ewe interessant beteken Kennith “handsome” en Wynand “bold in battle”) Venter is gebore op 2 Mei 2006. Normaal in die mediese beskrywing. ’n Bonus vir ons! Ons kampioen is nou al 4 en ’n half jaar oud.

Drie jaar later begin ek en Andries dink aan ons “doubly honour”. Om presies te wees, eind April 2009. Vir jaar lank doen ek elke maand ’n toetsie of twee. Neal begin saambid tot pappa God vir ons dogtertjie. Ons het klaar haar naam uitgekies. Shalo, van shalom af. Hier is die betekenis (safe, i.e. (fig.) well, happy, friendly; also (abstr.) welfare, i.e. health, prosperity, peace:— × do, familiar, × fare, favour, + friend, × great, (good) health, (× perfect, such as be at) peace (-able, -ably), prosper (-ity, -ous), rest, safe (-ty), salute, welfare, (× all is, be) well, × wholly.) Hierdie keer het ek ’n vaste versekering – Hy het belowe Hy sal ons dubbeld eer en Hy het ’n goeie “track record”.

’n Span van Elijah Africa kom besoek en Andries gaan gesels het hulle, ek en Neal gaan saam, soos ons maar altyd doen. Ons drie is mos ’n span. En ons vra hulle om asseblief vir ons te bid sodat ons weer swanger raak. Dit was êrens in Junie 2010. Middel Julie doen ek die eerste van twee positiewe swangerskap toetse. Ons jubel en juig. Neal gee openlik eer met uitsgestrekte hand voor hy in die Jeep klim.

Hierdie swangerskap loop vlot. Ek is lekker naar! Slaap ongemaklik. Ons gaan kuier vir ses weke in Suid-Afrika van 31 Augustus tot 8 Oktober. Ek skip die bloedtoetse want hulle is te duur maar doen wel die sonar. Die klein klits is toe 14 weke vêr en speel in ’n stadium met die naelstring! Neal neem selfs twee foto’tjies met die sonar masjien. Iets wat die radiografis sê bly my by. Hy vra of ek al ’n laparoskopie gehad het. Ek sê ja en daar was bietjie vergroeisels volgens die dokter wat dit gedoen het. Hy sê dit is eintlik baie snaaks dat ek al ’n tweede swangerskap beleef. Hy gaan nie verder daarop in nie. Ons weet ons beleef wonderwerke – hierdie is maar net beloftes wat die Here waarmaak, maar ek bêre dit in my agterkop.

Tot gister. Toe ruk my lewe uit wentelbaan uit. Die dokter bel en sê die bloedtoetse wat ek gedoen het op Maandag wys ek het ’n 1:22 kans vir ’n Down Sindroom baba. (Dit nadat ek die middag met my ma geskypechat het en gesê het geen nuus van die dokter is seker maar goeie nuus.) Hy sal dadelik ’n afspraak maak vir ’n amniosintese vir Woensdag. Die kans op miskraam is baie klein -1:300. My gemoed hardloop rond. Ek is nie bang vir die gestremde baba nie, maar die toets. Die Here weet ek weet dat hierdie swangerskap ’n waarmaking van sy woord is, sê nou ek doen iets wat die swangerskap in die weegskaal plaas? Sê nou my toets van die Here se belofte doen dat ek hierdie lewe, wie reeds voor die grondlegging van die aarde geskep is, in gevaar plaas?

Vanoggend toe die dokter bel en sê die afspraak is bevestig toe sê ek baie dankie, maar ons gaan nie die toets doen nie. Ons sal opswot en probeer om so gereed as moontlik te wees, maar nee, ons is net bly om swanger te wees.

So hierdie is my storie. Ek is 17 weke swanger en ek word weer soos meer as vier jaar terug die vraag gevra: “Marlize, vertel jy nou vir my wat is normaal? Kan jy alles beplan? Kan jy in beheer wees van alles?” En ek dink aan kinders wie gestremd raak na geboorte. Ek dink aan mense wie beroertes kry in hulle groot mens jare en wie skielik soos kinders is. En ek besef dat dit die lewe is. Jy kan nie die lewe vooruit beplan nie, jy kan dit net leef. En met die krag van die Here alleen en sy ryklike genade (as jy in Hom glo en selfs wanneer jy nie glo nie – want selfs dan het jy dit sonder dat jy weet) kan jy.

Daarom vanaand ten aanskoue van jy wie hier lees wil ek sing, met trane in my keel wat my mondhoeke trek en my oë verblind, ‘Al sou die vyeboom nie bot nie, al sou die olyfoes misluk, nogtans sal ek in my Here jubel sal ek juig in God my redder!’

My Here is ’n waarmaker van sy woord, wanneer ek nie meer weet waarheen nie is Hy altyd daar. Selfs al voel ek skuldig oor ek nie gereeld Bybelstudie doen nie, nie ure in gebed spandeer nie, is Hy daar. “He will never leave me nor forsake me.”

Wat is normaal? Here, dat my kind U ken, U loof, U woord ken en U gehoorsaam. Here as my kind ander na U kan lei. Here en as ek mag vra ’n verstand wat funksioneer, ’n liggaam wat kan hardloop en speel en drukkies gee en soentjies uitdeel. As ek mag vra...

Hierdie kind se naam is van Shalom af. Ons glo in ons harte der harte hierdie mensie ’n dogtertjie is, as die Here ons met nog seun wil seën dan sal ons maar ’n manlike vorm van Shalom moet kry, want hierdie kind se naam beteken - veilig, gelukkig, vriendelik, gesondheid, vooruitgang, vrede. Hierdie kind is alles wat die duiwel van ons wil steel. Hierdie kind IS Shalom! Geheel en al.

Ek sal jubel in my Here, ek sal juig in God my Redder!

Shalom!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Hierdie kind
Maak nie saak wat die lewe vir julle inhou nie, beleef die goeie en die slegte, want dit is wat LEWE is.

Sommige gebede word nie verhoor nie, en dan moet jy steeds die sonstrale, tussen jou trane deur, kan sien skyn.

Weet net, ongeag van wat voorlê, julle sal dit kan hanteer. Julle sal okei wees !

8 jaar 11 maande 1 week 2 dae 11 ure oud


'n Wonderlike getuienis! Dit gryp die leser aan die hart, en daar is soveel ander wat met jou kan identifiseer.... Gestremdheid, afhangende in watter mate, beteken baie, baie trane - maar dit hou jou op jou knieë... (as jy wil, lees my Groen Kombersie) Sterkte! Ek is bly om te sien jy weet goed waar ons Hulp vandaan kom.... Ek dink aan jou. xx
8 jaar 11 maande 1 week 3 dae 22 ure oud


Hierdie kind se naam in Shalom!
Hoe pragtig! Weet net dat Abba vader net die beste vir ons wil hê
8 jaar 11 maande 1 week 4 dae oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Grafte op die Berg

deur Johannes de Swart

Prosigma, dagboek van 'n paranoiese skisofreen



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar