Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek weet dat elke person op sy eie manier glo. Vir my om myself uit te druk hoe ek glo, moet ons by Abraham begin. Ons moet onthou Abraham het agt seuns gehad. Die oudste was Ismael, daarna Isak, en daarna nog ses seuns. “En Abraham het weer ‘n vrou geneem met die naam van Ketúra. En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar” . (Gen 25:1-2) Die Bybel leer ons oor een seun se toekoms waarmee die HERE ‘n spesiale verbond mee gesluit het, die van Isak. “Maar my verbond sal Ek oprig met Isak wat Sara vir jou anderjaar op hierdie tyd sal baar.”(Gen 17:21) Ismael en die ander seuns leer ons nie van in die Bybel nie, maar tog was hulle uit die nageslag van Abraham.

Behoort net Israel as nasie dan aan die HERE? Nee. “Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van ‘n menigte van nasies word. Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies. En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees. Verder het God aan Abraham gesê: Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag.” (Gen 17:4-9)

Ons leer ook dat Melgisédek ‘n koning en priester was. “En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.” (Gen 14:18-20) So voor Isak al was daar ander nasies wat ook die HERE gedien het. Israel word vir ons as voorbeeld voorgehou in die Bybel.

Maar, in Efesiërs 2 leer ons die volgende: “Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.” (Eph 2:11-16)

Die eerste verbond met Abraham, is gevier met nagmaal tussen Abraham en Melgisedek, waar Melgisedek die wyn en die brood gebring het. Nou lees ons in Hebreërs die volgende: “Soos Hy ook op ‘n ander plek sê: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs— Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword en is deur God genoem ‘n hoëpriester volgens die orde van Melgisédek;” (Heb 5:6-10)

Wat beteken dit? Melgisedek was ‘n priester van die HERE en deur die HERE self aangestel. Hy het nie uit ‘n stam gekom wat priesters was soos die Leviete nie. Nou kom Jesus en word hy weer aangestel volgens die orde van Melgisedek, met ander woorde, deur die HERE self aangestel. Daarom ook dat Jesus weer die Nagmaal instel met brood en wyn, soos dit gevier is deur Abraham en Melgisedek. Verder was Melgisedek ook koning, en so word Jesus dus ook as koning van God se volk aangestel.

Maar wat is die verbond wat die Bybel van praat wat die HERE met Abraham aangegaan het? Kom ons kyk na ‘n opsomming van die verbond. Die eerste punt wat ek wil aanhaal is wat die voordele en nadele van ‘n verbond is. ‘n Verbond het altyd twee kante, die een kant leer ons wat sal gebeur indien ons by die verbond hou, en dan die anderkant wat sal gebeur indien ons dit nie doen nie. Ek wil dit graag verduidelik aan die hand van Deuteronomium 30 vanaf vers 15: “Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk. Wat ek jou vandag beveel, is om die HERE jou God lief te hê, in sy weë te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge te hou, sodat jy kan lewe en vermenigvuldig en die HERE jou God jou mag seën in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. Maar as jou hart hom afwend en jy nie luister nie en jy jou laat verlei, sodat jy jou voor ander gode neerbuig en hulle dien, dan verkondig ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom; julle sal die dae nie verleng in die land waarheen jy oor die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem nie. Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon in die land wat die HERE aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee.” (Deu 30:15-20)

Die laaste gedeelte is vir my ontsettend belangrik. Ek moet kies om my kant van die verbond te hou, dan sal die HERE Sy kant hou. Die vermoë om te kies is al aan ons gegee in Genesis 3:22 “Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken.” Indien jou Bybel nie so sê nie, is dit omdat die vertalers dit verander het in die nuwe vertaling om by hulle dogma in te pas. Die mens het as deel van die sondeval die vermoê gekry om te weet wat is goed en wat is kwaad. So my hele lewe gaan dus oor keuses, keuses wat of goeie gevolge gaan hê, of wat kwade gevolge gaan hê.

Nou, met die tweede punt wil ek graag kyk wat die stappe van ‘n verbond is. Dit word volledig vir ons beskryf met die uittog van Israel uit Egipte, na die land Kanaän. Dit is immers wat die HERE vir Abraham beloof het waar sy nageslag hulle sal vestig. Dit is dan ook my rigtingwyser vir vandag, aangesien ek ook in Kanaän wil uitkom. Die enigste verskil is Israel het die fisiese tog gemaak, terwyl ons vandag die geestelike tog kan meemaak om by ons Kanaän uit te kom. Dit is die plek wat die HERE vir my bestem het. Ek sal eers beskryf wat Israel moes doen, en dan volg wat dit vir ons as Nuwe Verbondsgenote moet doen en wat dit beteken.

•Besnydenis

Verbond voor Christus: Besnydenis van die voorhuid. Dit moes hulle herinner dat hulle deel is van God se uitverkore volk. “Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie. Maar elke slaaf wat ‘n man met geld gekoop het, dié moet hy besny; dan kan hy daarvan eet. Geen vreemde inwoner of huurling mag daarvan eet nie. In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie. Die hele vergadering van Israel moet dit hou. En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie. Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef”. (Exo 12:43-49)
Verbond met Christus as Lam: Besnydenis van die hart. My optrede moet verander. Ek moet besef dat ek niks kan doen om myself te red nie. Ek moet glo dat Jesus alles gedoen het om die verhouding tussen my en die Vader te herstel. Ek moet besef dat ek ‘n sondaar is en dat ek verlore sal gaan as ek volhou om my eie lewe te lei. Ek moet tot bekering kom. Ek moet soos ‘n kind van die HERE optree. Ek moet die liefde van die HERE volgens 1 Johannes 3 begin uitleef op aarde. My optrede moet die bewys wees dat ek kind van God is. Geen uitwendige besnydenis is nodig nie. Maleagi 3:18: “Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie”. Jer 31:33: “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees”. So dit beteken ook dat geen onbesnedene mag deel hê aan die nagmaal nie, aangesien die nagmaal die bewys is dat ek my lewe prys gegee het, en ‘n lewe kies wat ek in gehoorsaamheid aan die Vader sal leef.

•Brood

Verbond voor Christus: Brood sonder suurdeeg moes geëet word. Suurdeeg was ‘n teken dat jy opgepof was en dat jy sonde gehad het. So hulle brood moes wys dat daar nie sonde was nie.
Verbond met Christus as Lam: Jesus is die brood van die lewe. Hy het geen sonde gehad nie. Joh 6:35: “En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.”

•Lam slag

Verbond voor Christus: Hulle moes ‘n lam slag en eet. “Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ‘n lam neem volgens die families, ‘n lam vir ‘n huisgesin. Maar as ‘n huisgesin te klein is vir ‘n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken. Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem. En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.” (Exo 12:3-6)
Verbond met Christus as Lam: “En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers”. (Open 5:6-10)

•Bloed van die Lam

Verbond voor Christus: Hulle moes die bloed aan die deurposte smeer. Dit het beteken dat die dood by die huis verby gegaan het.Exo 12:13: “Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie.”
Verbond met Christus as Lam: Ons moet onder die bloed van Jesus kom. “Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” (Mat 26:27-28)

•Waar was die wet?

Verbond voor Christus: Wet op kliptafels geskryf. Eksodus 20.
Verbond met Christus as Lam: Wet op die hart geskryf. Jer 31:33: “Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.”

•Op wie was dit van toepassing?

Verbond voor Christus: Beide Israel en buitelanders. Eks 12:49 “Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef. Eks 12:38 En ‘n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste—’n groot hoeveelheid vee.” So selfs in Moses se tyd was die vreemdelinge deel van Israel.
Verbond met Christus as Lam: Daar is geen verandering nie. Want dit is nie nodig nie. Daar was reeds vir ons voorsiening gemaak. Jesus het net dit kom volbring wat nodig was sodat Hy dit kon volbring wat op Hom gewys het en alle sonde op Hom kon neem. Dit geld vir elke persoon wat glo dat Jesus die Lam is, Israel en vreemdeling.

Wanneer word ek dus deel van die Verbond met Christus as Lam? Met Nagmaal, soos in Israel se tyd met die pasga.

So is dit met ons as kinders van die HERE. Ons almal word deel van die verbond wanneer ons besluit om Hom te volg en ons lewe neer te lê. Ons almal wat die Bybel ken volg Israel en die pad wat hulle moes neem tot in Kanaän, omdat dit die voorbeeld is wat vir ons opgeskrywe is en wat ons stap vir stap kan navolg. Dit is ook die land wat aan Abraham as ‘n ewige besitting gegee is. Na ons dood gaan ons almal, al Abraham se nageslag, leer om die HERE te dien vir wie Hy is, en om eendag saam in die Nuwe Jerusalem te kan woon. “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.”(Jes 2:3, Miga 4:2)

Die wat nie die voorbeeld van Israel het nie sal op hul dade geoordeel word. “Of behoort God net aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie? Ja, ook aan die heidene, aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof. Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.” (Rom 3:29-31)

Indien u nie die HERE kies in hierdie lewe nie, as u van Hom geweet het, sal u nie in die duisendjarige vrederyk opgewek word nie, en sal u skuldig staan by die wit troon oordeel. “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.”(Open 20:5). “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”(Open 20:11-15)

Watter stappe volg dan op die verbond?

Ons moet uit Egipte trek, deur gedoop te word. Dit is waar die krag van Satan, in Israel se tyd, die Farao, gebreek word in jou lewe, en jy jou onder die heerskappy van die Vader plaas. Hier verlaat jy die gebied waaroor die Satan heers, en hoef jy nie meer bakstene te maak om Satan se koningkryk uit te brei nie. Na die dood het die sonde nie meer mag oor jou nie. “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” (Rom 6:11-16)

Soos Israel by Mara, moet ons ook die doping in die Heilige Gees ontvang. “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.” (Joh 7:37-39)

By Sinai gaan ons tyd spandeer om die wet van die HERE in ons harte te ontvang. Hierdie is die leer gedeelte van ons lewe waar ons sal uitvind wat is reg en wat is verkeerd vir die HERE, en dit is wat ons dominee of pastoor moet doen. Dit is wat met Israel by Sinai gebeur het. Gedurende hierdie tyd sal party van ons ook as ouderlinge en diakens funksioneer in ons plaaslike gemeentes.

Sodra ons opleiding verby is, sal ons ‘n roeping ervaar om ons eie bediening in Kanaan te begin. Die oproep sal direk van die HERE af kom om jou op te roep vir jou bediening. Sommige persone sal die oproep aanvaar en Kanaan ingaan, terwyl die res sal sterf in die woestyn.

Die meeste mense wat in Kanaan ingaan sal glo dat hulle ‘n koning moet dien soos Israel. (‘n Koning is iemand wat oor jou sal heers en mag ‘n geestelike vader wees of self jou kerkverband.)

Meeste van die mense wat in Kanaan ingaan, sal sterf terwyl hulle hierdie koning dien, terwyl ‘n oorblyfsel geroep sal word om in ballingskap te gaan. “En aan hierdie volk moet jy sê: So spreek die HERE: Kyk, Ek hou julle die weg van die lewe voor én die weg van die dood: hy wat in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard of die hongersnood of die pes; maar hy wat uitgaan en oorloop na die Chaldeërs wat julle beleër, sal lewe, en sy lewe sal vir hom ‘n buit wees.”(Jer 21:8-9)

Sodra die mense hulle tyd in ballingskap volbring het, sal hulle terugkeer na Jerusalem en die ware tempel van die HERE (die Kerk) herstel.

Dit dan ‘n kort oorsig van hoe ek glo.

Wat dan van Israel as nasie vandag? Hulle moet ook deel word van die verbond wat met Jesus bekragtig is. Die volk Israel van vandag en die land Israel van vandag het NIKS met die Bybel te doen nie. Jesus het self verklaar dat hulle verwerp is, omdat hulle Hom verwerp het. In Matteus kom die volgende voor: “Luister na ‘n ander gelykenis: Daar was ‘n sekere huisheer wat ‘n wingerd geplant het; en hy het ‘n heining daarom gesit en ‘n parskuip daarin gegrawe en ‘n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak. Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen? Hulle antwoord Hom: Die slegte mense—hy sal hulle ‘n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee. Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë? Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel. En toe die owerpriesters en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek. En hulle het probeer om Hom in hulle mag te kry, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom vir ‘n profeet gehou het.” (Mat 21:33-46) Lukas het weer ‘n ander gedeelte opgeteken: “en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” (Luk 19:42-44)

So my standpunt is dat alle mense een maal lewe, en dan sterf. Die wat nog nooit van Jesus gehoor het nie en nie geken het nie, en die wat deel is van die verbond, sal in die duisendjarige vrederyk leer hoe om die HERE te dien en ontslae te raak van ons seining van wie gered word, en wie nie. Na die oorwinning oor Satan en sy magte, Gog en Magog, vind die wit troon oordeel plaas, en sal die persone wat oorwin het, saam in die Nuwe Jerusalem lewe.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

How boring
Dit alles net om saam in die Nuwe Jerusalem te lewe.

Kyk, Ek maak 'n nog nuwer verbond. Geen meer rituele nie. Los die bad, die slukkie wyn en die stukkie brood vir die sukkelaars.

Leef en laat leef. Keer terug na Moses (die regte een, nie jy, die vals een nie)se aanbevelings, koop wyn en sterk drank en hou jy en jou gesin en al julle vriende en familie partytjie so veel julle kan. Die lewe is vervelig genoeg onder die twee ou verbonde. Vergeet van Jerusalem, dis net 'n klomp geboue in die woestyn. Ons elkeen se eie liggaam is die tempel van die Lewende God. Eer mekaar dan as die lewende tempels van die Lewende God.

Amen
6 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 15 ure oud



Van ons ander lede

Kroniek van die Suid-Afrikaanse Weermag (1912 - 1994)

deur Francis Gillieron

Geskiedenis van die Suid-Afrikanse Weermag vanaf 1912 tot sy ontbinding in 1994



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar