Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ons lees soms ‘n ding in die Bybel en sê dit selfs honderde keer vir mekaar sonder om werklik die geweldige implikasies daarvan te verstaan nie.

‘n Voorbeeld hiervan is dit wat daar in 2 Kor 6:1 staan: “As medewerkers van God doen ons ‘n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.”
Ek en jy is God se medewerkers …
Ek het so onder die indruk daarvan gekom dat dit wat ek bid en gehoorsaam na-sê en –doen, soos wat God my sê, êrens inpas in dit waarmee Hy besig is.

Kyk maar byvoorbeeld wat daar in Eseg 37 plaasvind.
Soms vra die Here bepaalde profetiese aksies en deklarasies van ons waar ons die dinge, wat in God se hart is, moet uit-sê of doen. Om so as’t ware ‘n “pad voor te berei en gereed te maak” vir wat God volgende gaan doen (vgl Jes 40:1 tot 5; 62:10).

Daar waar ek en jy in gehoorsaamheid en in geloof handel en praat, is daar altyd reaksie van God se kant af.

Dit is asof ons gehoorsame aksies en woorde, letterlik die vensters en deure oopmaak sodat God kan inkom om te doen wat Hy wil doen.
Dit is hoe Hy gekies het dit moet wees.

God kom letterlik in beweging daar waar ons nie kan sien nie, as ons Sy Woord in gehoorsaamheid (op grond van Sy opdrag aan ons) bid, of sê of doen in ‘n bepaalde situasie hier op aarde.

Dit klink amper heiligskennis as ‘n mens dit sê, maar ons sien dit male sonder tal gebeur in die Skrif. Kom ek noem ‘n paar sulke voorbeelde:
· In Eks 14:21 steek Moses sy staf uit oor die see en God verdeel die water
· In Eks 17:9 tot 13 lees ons as Moses sy staf op die berg omhoog hou, bewerk God die oorwinning in die oorlog
· In Eks 17:6 slaan Moses die rots - omdat God so gesê het – sodat daar water kan wees. Hoe logies is dit nou eintlik!
· In 2 Kon 13:14 tot 19 lees ons hoe ‘n koning met sy pyle ‘n paar keer op die grond slaan en dit bepaal hoeveel keer God oorwinning oor die vyand gaan gee
· Joh 9:6 en 7 en 2 Kon 5:10 tot 14 is van die gevalle waar genesing plaasvind omdat mense doodgewoon in gehoorsaamheid gaan doen het wat God gesê het

Dan is daar natuurlik hoevele voorbeelde waar mense profeties bepaalde deklarasies moes maak en letterlik namens God moes sê wat Hy wil wat moet gebeur. Waar hulle letterlik Sy stem word:
· Jer 6:18,19; 22:29
· 1 Kon 17:1,13-16
· In Rom 1:16 beskryf Paulus die evangelie as ‘n krag van God wat letterlik net vrygelaat moet word (wanneer ek en jy daaroor getuig teenoor mense)
· Jes 55:11 – Hierdie man se woorde is My woorde, sê God. Hy is My stem!

Dit is aangrypend dat die Griekse woord wat ons met “getuig” vertaal die werkwoord homologeo is wat letterlik “om dieselfde te sê” beteken.
En dit is presies wat getuig is. Bybelse getuienis is om presies dieselfde te sê as wat God sê. Alleen dan is ons getuienis effektief en word ons getuienis en woorde God se woord aan mense.

Die Bybel gaan selfs verder en beskryf dit dan as “saad” wat ons in mense se lewens saai. So word dit God se manier om nuwe lewe te reproduseer in mense se lewens deur Sy Woord. En word dit deel van Sy manier om mense te wederbaar (1 Pet 1:23); of om hulle skoon te maak (Joh 15:3); of om hulle volwasse te maak (Mat 13:23); of om hulle te verlos (Joh 8:31,32); of te genees (Ps 107:20).

Job 6:25 help ons om te verstaan dat ons woorde God se beloftes verseël (marats is die Hebreeuse werkwoord). Soos wat iemand in die Naam van die koning, met die seëlring van die koning, dokumente verseël.

Pred 12:11 help ons verstaan dat ons woorde soos spykers is wat ingeslaan word wat dinge finaal vaskap en vasmaak. So maak ons woorde soms God se woorde “vas” in ‘n bepaalde situasie – wanneer ons in gehoorsaamheid sê wat God wil hê ons moet sê.

Eseg 37 help ons verstaan dat ons God se medewerkers word waar ons biddend en profeties begin lewe spreek as God so sê.
Hoeveel Christene het nie met die muur in Berlyn oor die jare gaan “praat” nie, omdat God so gesê het. En op ‘n dag het dit geval!
Hoeveel Christene bid tans “Genees ons land”, of “Bring herlewing” omdat hulle ervaar dit is nou wat in God se hart is.

In my eie persoonlike lewe het ek belewe dat God my roep om dit wat daar in Jes 62:10 staan te doen: “Gaan uit, gaan uit by die poorte, maak die pad gereed vir die volk! Vul die grootpad op, vul dit op! Vat weg die klippe! Steek ‘n banier op dat die volke dit kan sien!”

Wat ek hieronder verstaan is om soos God se Gees my lei, die ou Bybelse waarhede, wat vir my nuut geword het, aan mense te bedien en dan in die proses te sien hoe God die verhoog self sal voor berei vir dit wat nou in Sy hart is.

Daarom roep ek jou vandag op as medewerker van God om te begin doen wat jy moet doen. Om te bid as jy moet bid. Om te praat as jy moet praat. Om ‘n belofte van God profeties te begin nasê in bepaalde situasies, al voel dit hoe “onnosel” en totaal onlogies.

Ons is immers God se medewerkers, Sy stem, wat Hy wil gebruik.
2 Kor 5:18-6:2 sê immers: “Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. As medewerkers van God doen ons ‘n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. Hy sê: “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Hoofstuk .9
Dankie vir hierdie waardevolle les.
Koekoe
10 jaar 2 weke 4 dae 7 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Sielswoorde

deur Driekie Grobler

Voedsel vir siel - 20 Christelik-geinspireerde gedigte voorgedra deur Jana Swart.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar