Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Vrydag 20 Augustus is ons om 6h30 reeds by die Groote Schuur hospitaal. Ook maar goed, want ons is die laaste voertuig wat hulle by die hek toelaat om in te gaan na die parkeer area. Skoon vergeet van die hospitaal werkers se staking. Die deur en lang gang waarmee ek gewoonlik ingaan na die hospitaal is gesluit en ek moet met my ou slap beentjies die opdraand op sukkel na ‘n ander ingang. Dit voel vir my ek klim Tafelberg uit en kom uiteindelik uitasem en lam by die ingang aan. Hier sien ek vanmore is die sukuriteit ekstra streng en al wat Mamma is (dit is soos die vrou in die sekuriteits uniform al wat dame is aanspreek) moet hul handsakke oopmaak vir inspeksie. Gelukkig het Pappa nie weer my boere knipmes in sy sak vergeet soos ‘n vorige keer nie, anders was dit ‘n hele konsternasie, want dit word beskou as ‘n wapen van massa vernietiging. Ou Shatsie (dis nou my vrou) hou wag by die rooi bakkie, want die bakkie se kappie kan nie sluit nie en ons het heelwat goed daarin gepak. Sy sal maar solank ‘n boek lees om die tyd te verdryf.

Ek sit en wag vanaf 7h00 in die wagkamer en kom agter die groterige Maamma wat altyd die vloere mop het nie vanoggend opgedaag met haar trollie met moppe en mageftes nie. Ek het ‘n spesmaas sy is dalk betrokke by die toi toiers hier buite die hospitaal.

Ek gaan soos gewoonlik vir my drie maandelikse ondersoek en toetsing by die Mg (Myasthinia Gravis) kliniek wat deur die Universiteit Kaapstad hanteer word. Ek en ‘n paar ander van ons van ± 150 Mg lyers in die land is hier proefkonyne vir die studente neuroloë van die Universiteit Kaapstad. Dit is amper soos wat jy jou voertuig vir padvaardigheid toets by die verkeers afdeling se toets stasie vat. Hulle kyk dan hoe sterk jou bene, arms, vingers, oë, mond, tong en asemhaling is. Ook tot watter mate jou spraak geaffekteer is. Hulle doen dit deur jou tot vyftig te laat tel. Vanoggend het hulle my sommer gestop op 15, want toe kon hulle al hoor my stem kom deur my neus. So, jy is eintlik weer terug op skool. Op skool as jy goed doen is jou punte hoog en as jy sleg doen is jou punte laag. Hier is dit net anders om, as jou punte hoog is dan vaar jy sleg en is die kanse goed dat jou medikasie verhoog word. Jou gewig bloeddruk asemhaling en suiker word ook sommer geneem en getoets en bloed monsters word getrek vir ontleding.

Vandag sien ek is ons net ses wat wag op die hoof dokter met haar span studente wat haar bystaan. Soos wat ek verstaan tel die neurologiese afdeling van die Universiteit Kaapstad onder die 7 bestes in die wêreld en gebruik hulle ook uitruil studente van oorsee wat hieromtrent by ons kom studeer. By navraag blyk dit die ander ± ses konyne het weens die staking besluit om nie te kom nie. Na ‘n lang gewag maak die aspirant dokters en hul leier hul opwagting en vra om verskoning dat hulle so laat is, want hulle kon nie die hospitaal betree nie, asgevolg van die staking. Vanoggend het ek ‘n dokter wat se naam amper soos ons oud president Madiba klink en ek sukkel so bietjie om dit uit te spreek. Hy verseker my egter hy is nie familie van ons oud president nie. Ek spreek hom toe maar net aan as dokter. Hy skryf my toetsings op en die hoof Neuroloog gekontroleer dit en skryf my medikasie voor vir die volgende drie maande. Omdat ons net ‘n paartjies is, is ek sommer vanoggend gou klaar met my padwaardigheid toets. Die MG motor het dus nie die toets met “flying coulours” geslaag nie. Ongelukkig vir my was my punte uitslag vyf punte uit twintig hoër as my vorige toetsing. Dit beteken vir my ‘n dubbele dosis medikasie totdat my kondisie weer stabiliseer.

Die verswakking in my kondisie glo ek is as gevolg van antibiotika wat my huisdokter vier weke vantevore voorgeskryf het vir ‘n bors verkoue wat ek opgedoen het. Ek was egter amper reeds weer beter toe ons deur die Overberg reis en ‘n graanboer een of ander spuitstof op die graan spuit wat my dadelik negatief affekteer het. Ons was nog nie eens 15 km weg vanwaar hulle die spuitstof langs die pad op die graan spuit nie, toe kon ek reeds nie meer praat nie. Ons weet nou uit ondervinding dat die spuitstowwe wat in vrugteboorde en op graanlande gespuit word nie goed is vir die kondisie nie. Dit is nie die eerste keer dat dit gebeur het nie. ‘n Ander lyer van Mg het ook vasgestel dat die spuitkannetjies met huishoudelike spuit se spuitstof vir insekte haar onmiddellik affekteer en lam maak.

WAARSKUWING:
Dit is dus ‘n waarskuwing aan alle mense met ‘n auto-umuun kondisie. Wees versigtig en vermy areas waar daar spuitstowwe gespuit word, hetsy onkruid doder of plaagbeheer middels. Wees ook versigtig met antibiotika. Dit het my lank geneem om te besef dat dit ‘n negatiewe invloed op my kondisie het. Dit mag dalk dieselfde uitwerking op ander lyers van die kondisie hê.

Om my medikasie te kan bekom moet ek nou eers na die kantoor van die hospitaal Superintendent (so ‘n half kilometer se stap verder) om ‘n vorm en stempel te kry sodat ek my 13 houertjies met verskillende pille en medikasie kan kry by die hospitaal apteek.

By die uitgang sien ek ‘n samedromming van mense en besef dat die uitgang seker gesluit is asgevolg van die toi toi daar buite. Ek skakel vir Shatsie op die sel en verduidelik die situasie. Ek verduidelik dat ek nie ‘n probleem het as ek tot more toegesluit bly nie, want daar moet seker iewers ‘n bed wees in die Hospitaal vir my, maar ek het die bakkie se sleutel so sy sal maar in die bakkie moet slaap as die deur nie oopgaan nie. Glo my sy was nie so baie daarmee ingenome nie. Gelukkig, na ‘n half uur se wag word die deure oopgemaak en ek slaak ‘n sug van verligting. Ek kry my koers na die ander gebou waar ek my medikasie en stempel moet gaan haal. Hier kan ek egter nie in nie, want die deur is gesluit van die binnekant en ‘n sekuriteitswag hou hier die wag.

Met niks om te doen nie slaan ek die ge-toi toiery gade. ‘n Groterige Mamma in ‘n rooi T hemp sing en stamp voete en maak ‘n geraas wat ek nie mooi kan volg nie. Sy is redelik bedeeld bolangs en as sy opspring gaan die bedeelheid af en as sy afgaan gaan die bedeelheid op. Sy spoor ook die ander aan om haar voorbeeld te volg. Net ‘n paar het rooi T hemde die ander het meeste geel T hemde aan. Hulle is nie baie nie. Ek skat so tussen 30 en 35 mense wat aan die optog deelneem. Die groot Mamma met die rooi T hemp beduie vir die toi toiers om so bietjie uit te sprei. ‘n Man met ‘n (wat vir my lyk na ‘n televisie) kamera op sy skouer loop gebukkend en afneem sodat dit lyk na, (so glo ek) baie mense wat aan die optog deelneem. Daar is ook ‘n ander kamera man wat met ‘n groterige kamera met indrukwekkende lense en lig flitse al om die groepie beweeg en foto’s neem. Noudat ek die besigheid so staan en beskou besef ek wat se harde werk dit is om die storie van toi toi vol te hou met die kameras wat heeltyd op jou gefokus is. Ek wonder of hulle darem ook ‘n tee break neem soos as hulle op diens is in die hospitaal en of hulle vooraf darem ‘n bietjie jim om fiks te word vir die gespringery. Ja-nee met my slap beentjies sal ek seker definitief nie kwalifiseer om te toi toi nie dink ek by myself. Maar nouja oor ‘n paar dae het hulle seker weer oorgenoeg tyd om weer bietjie te rus en op die mop te lê as die toi toiery klaar is. Dit neem ‘n uur voordat die optog verby beweeg het na ‘n ander area en die sekuriteitswag die deur probeer oopsluit. Probeer, want hy sukkel 15 minute om die deur oop te kry.

Wat ek eintlik nie kan glo nie is dat so ‘n klein persentasie soveel mense kan intimideer. Die dokters werk almal, die personeel is almal op hul poste. Al wat ek wel agtergekom het wat nie op hulle poste is nie, is die moppers. Dit is nou die mense wat in die gange loop met moppe om die vloere skoon te hou.

Nadat ek my stempel gekry het by die hospitaal Superintendent sit ek af na die apteek waar jy jou lêer wys en jy ‘n nommer kry. Vandag is my nommer 106 wat beteken daar is 106 mense voor my wat nog medikasie moet kry. Ek neem plaas op een van die drie oop stoele, want die ander 117 stoele is reeds gevul en ek begin om my beurt af te wag. Ek kyk om my rond en sien mense in rolstoele, mense met krukke, ou mense, jong mense, siek mense. Ja, mens kan sommer sien hulle is siek. Die meeste staar strak en niks siende voor hulle uit, wagtende dat hulle nommer oor die interkom geroep word en hulle hul leêr by die venster kan inhandig en dan kom daar maar weer die eindelose wag totdat jou medikasie opgemaak is. Iewers is ‘n kennisgewing op die muur wat die maksimum wagtyd bepaal, maar niemand steur hulle meer daaraan nie, want dit is seker lankal nie meer van toepassing. Hier is jy maar net gelukkig om jou medikasie te kry, ongeag hoe lank jy daarvoor moet wag. Hier is tot een swart vrou met ‘n swart kleed aan en swart kopdoek wat alles bedek behalwe haar twee oë. Ja hier is alle kleure en rasse, jonk en oud deurmekaar gegooi, en almal net ‘n nommer, niks meer nie.

Langs my sit ‘n vrou en haar twee dogters. Die dogters skat ek tussen 16 en 19 jaar oud. Uit hul gesprekke met mekaar lei ek af dat die moeder terminaal siek is en dat die twee dogters haar vergesel om haar moreel te ondersteun. Watter mooi gebaar van die twee kinders dink ek by myself. Hulle is in so ‘n intense gesprek met hulle moeder dat elk weerskante van haar sywaarts gedraai is sodat hulle in haar gesig kan kyk om te gesels. Ek kan nie alles hoor waaroor hulle praat nie maar merk op dat hulle kort, kort ‘n laggie met haar deel. Ja dink ek, mens kry tog nog kinders wat hulle hele dag opoffer om met hul moeder op die hospitaal bankies deur te bring om haar moeilike dag vir haar korter te maak. Hulle is maar yl gesaai, want ek sien nie meer van hulle hier om my nie. Op die ander kant van my sit ‘n swartman in sy middeljare. Ek raak aan die gesels met hom. Hy verduidelik waar hy bly en hoe ver hy moet loop om die eerste taxi te haal. Dan klim hy oor op twee ander taxi om by die Hospitaal uit te kom. Ja dink ek, ek het niks om oor te kla nie. Nie eens die slakke pas van die verkeersknope in die oggend om tot hier te kom nie. Ek hoef nie een taxi te haal nie. Dit is 13h30 toe my nommer uiteindelik uitgeroep word en ek my 13 houertjies met verskillende medikasies vir die maand by venster nommer drie kon gaan afhaal. Van die 13 houertjies neem ek dan 25 pilletjies elke dag en een inspuiting weekliks om my ou beentjies, armpies en mond weer reg te kry. Ek sê dankie Vader vir hierdie medikasie. Ek weet ek is nou soos ‘n ou perd wat sy werk gedoen het en nou genadebrood eet. Ja die ou pilletjies is goeie genadebrood, dit kry my weer aan die gang. Miskien beteken ek tog vir iemand iets vorentoe. Miskien is die Vader nog nie met my klaar hier nie. Miskien het Hy nog ‘n werkie vir my.
Die medikasie wagkamer is nou so vol van mense wat wag vir hulle medikasie dat die helfte teen die muur leunstaan.

Terwyl ek weer my half kilometer aandurf na waar my voertuig geparkeer staan wonder ek of dit nie ‘n beter storie vir die kamera manne sou wees om op te neem waar die mense staan en wag vir hul medikasie nie. Ek glo dat net ‘n kwart van die mense se stories van hulle siekte kondisies, wat hulle hier maak en hoe hulle moet sukkel om tot hier te kom boekdele sal beslaan en baie interresanter sal wees as die toi toiers se storie. Selfs die studente dokters se stories sal interresanter wees as die toi toier se storie. Waarom maak die media so ‘n ophef en gooi brandstof op die vuur van die toi toiers se stories deur hulle elke beweging op film vas te lê. As hulle nie so gefotografeer word nie het ons dalk niks toi toiers nie. Of is hulle nou baie meer fotogenies.

Wat ek nie mooi verstaan nie is dit nou nodig om soos ‘n klein keindjie ‘n vloermoer te gooi deur te toi toi instede daarvan om deur bemiddeling en onderhandeling dit reg te stel. Beteken onderhandeling dan nie dat die een bietjie afkom met wat hy vra en die ander ‘n bietjie opkom met wat hy bereid is om te gee nie. Nee dit lyk my daardie tipe onderhandeling bestaan nie meer nie. Nou is dit ‘n geval van dit is wat ons wil hê en basta of ons toi toi. Of laat ek dit so stel, dit lyk my die toi toiers ruk heel handuit en vertrou nie die onderhandelaars by die onderhandelings tafel nie. Miskien is dit net baie lekkerder om te toi toi as wat ek my kan voorstel en word medemens respek in die grond ingetrap.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

hospitaal toi toi
jy sal dit nie glo nie maar ek dink ons vriendin Aggie Swchartz het verlede week saam met jou daar gesit in die wagkamer met haar Myastinia Gravis.Indien nie wil ek he jty moet kontak maak met haar sodat julle ouens mekaar bietjie kan ondersteun ek gee haar e-mail adres vir jou dawie schwartz
E-mail Address(es):
dawieschwartz@vodamail.co.za

kontak haar asseblief,sy is 70 jaar ook vol sports behalwe vir die probleem wat haar hoofsaaklik in haar oe affekteer.ons woon almal hier op Grootbrakrivier my nommer as jy haar nie in die hande kry nie is 0722423533 johann brits
9 jaar 3 weke 1 dag 1 uur oud


goeie vertelling Schatz. Ek het lekker gelees. Skud maar net my kop oor al die dinge.
9 jaar 3 weke 4 dae 13 ure oud


antwoorde het ek nie, maar ek weet by ons is intimidasie aan die orde van vandag gewees, ek het heelwat gesprekke gehoor, dat alles nie net om salaris gaan nie. ja. . .ek wonder soms wat hulle dink? baie goeie vertelling.
a.
9 jaar 3 weke 4 dae 14 ure oud



Mari

deur Rachelle du Bois

Die pragtige Mari Wolmarans vat haar seuntjie en vlug weg uit ʼn gewelddadige huwelik. Sy is die rykmanslewe gewoond, maar nou is sy sonder heenkome of inkomste. Sy gaan woon by haar broer Thinus waar sy die aantreklike kunstenaar Dewald Bosman ontmoet. Sy is geskok en verward toe hy aanbied om met haar te trou ter wille van die drie-jarige Dirkie. Sy is nie gereed vir ʼn tweede huwelik nie, maar sy neem tog sy huweliksaansoek aan ter wille van haar seun. Dit sal egter slegs in naam wees tot sy anders besluit. Maar sal sy? Sal sy vir Dewald kan liefkry soos hy vir haar? Dewald is betower deur die verruklike Mari. Sy het sy voete onder hom uitgeslaan en sy enigste begeerte is om haar lief te hê as sy vrou. Die oulike Dirkie kruip vinnig in sy hart en hy neem hom voor om vir hom ʼn toekoms te verseker, want hy kan en hy wil. Vir Mari en vir Dirkie. Sal hy daarin slaag om haar hart te wen?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar