Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ons is nou in herfs, die roesrooi, okerkleurige seisoen van oorgang. Vanaf baldadige, vrolike somerskleure in grasroen, pers, bloedrooi en goudgeel, skakel ons hele wêreld om na die meer kleurlose, koue seisoen van winter.

Soos ek die afgelope ruk deur die bydraes op Woes geblaai en gelees het, het ek opgemerk dat daar ‘n toenemende aantal van “minder opgeruimde” werke in alle kategorieë geplaas word. Dit het my laat wonder ...

Word ons gemoedere affekteer deur die seisoensverandering wat ons merendeels onbewustelik rondom ons waarneem, maar nie werklik as uitsonderlik beskou en as sodanig aandag daaraan gee nie? Is só iets hoegenaamd moontlik?

Loer gou na hierdie brokkies inligting:

Navorsers beweer dat ‘n gebrek aan sonlig, te wyte aan verkorte daglig-ure, verantwoordelik is vir lae vlakke van serotonien in die brein. Die hormoon melatonien, het skynbaar ook ‘n invloed en is verwant aan slaap. Sommige geleerdes beweer dat vlakke van melatonien direk toeneem in verhouding met die afname aan sonlig. Hoë vlakke van melatonien veroorsaak dus indirek gevoelens van moegheid, minder energie en selfs depressiewe emosie.

Sirkadiese ritme is ‘n liggaamsritme wat mens naastenby vertel wanneer om te slaap en wanneer om op te staan. Weereens is dit ‘n gebrek aan sonlig se skuld - mense wil meer en langer slaap, gemoedere is laer en baie mense voel bietjie “af”.

Meeste mense toon ‘n groter behoefte aan rustigheid en om sommer net tuis te ontspan gedurende herfs en winter. Juis in sonnige Suid-Afrika is ‘n afname in sonlig seker basies katastrofies, om van die vaal velde , dowwe gras en skeletbome nie eers te praat nie. Koud, donker, kil, dit laat mens ril.

Aan die ander kant, wat verhoed ons om ons eie sonlig te skep?

Nee, ek praat nie van die tegniese goed soos sonpanele, sonbeddens en sulke goed nie … alhoewel, ‘n sonligrit op ‘n luukskeskip kan seker nie kwaad doen nie. Jajaja, vitamiene D aanvullings kan ook geneem word, maar dis nie wat ek bedoel nie!

Skep jou eie sonlig in 3 maklike stappe:

Stap 1:      Groet jouself wanneer jy wakker word met ‘n sonlagglimlag in jou badkamerspieël, selfs al is jou eerste reaksie op die wese wat na jou terugstaar heel moontlik vlug of veg. Probeer dit. Na ‘n paar tandeknersende oomblikke verander selfs die mees geharde grynslag in ‘n sonverligte glimlag.

Stap 2:      Glimlag vriendelik vir jou gesin, werkgewer en jou kollegas met jou nuwe sonlagglimlag. Toets dit uit! Goed, almal sal jou waarskynlik die eerste dag effe agterdogtig aankyk, vermoed dat jy dit verloor het en agter jou rug weddenskappe maak oor presies wanneer jou senu-ineenstorting die finale fase gaan bereik. Moet jou nie daaraan steur nie. Wees dapper en glimlag voort. (Jy mag nou en dan ‘n blaaskans agter jou lessenaar neem).

Stap 3:      Gooi, gooi, goooooi jou sonligglimlag in die middagverkeer oppad huis-toe! Nee, jy mag nie tandewys, grom óf blaas nie … g-l-i-m-l-a-g … soja, dis beter. Glimlag nou vir die buffel wat voor jou wil inswaai, nee-nee-nee, jy mag ook nie tekens wys nie. Los! Sit néér daai krieketkolf en nee, jy is nie in ‘n tenk nie! (Taxi’s is buitendien groter as jou kar). Onthou: sonligglimlag … draai nou by jou hek in … Phew.

Sien, dis nie só moeilik nie, is dit?

Net so ‘n laaste woordjie voordat ek my moeë gesigspiere gaan toelaat om te ontspan – kom ons almal op Woes gee mekaar hierdie herfs werklike son, sonlig, sonkrag en baie sonligglimlagte en sonligkommentare sodat ons die winter Woes- winterwarm kan aanpak.

Hoe gaan jý jou sOnlig versprei?




 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

son
Nee wat, helder sonskyn dae en grys wintersdae, elkeen het sy eie tipe bekoring. Dis die maan wat 'n probleem is - hehehe.
7 jaar 11 maande 4 weke 5 ure oud


Jy kan met die sOn en die mAAn gepla wees . . .
Vind daardie IETS wat jou weer lus maak vir die LEWE - en daar is vir elkeen van ons 'n stukkie sOnsKyn!

Myne skyn die helderste op 'n DONDERDAG-aand met 'n glasie rooiwyn!

Dankie dat Jy ons weer daaraan herhinner het . . .
7 jaar 11 maande 4 weke 6 ure oud


sOn.
Die sonlig hoe gering, ag foeitog of flou ookal laat mens dinge beter sien en die wêreld om ons waardeer. Herfs,Winter, Lente en Somer het elk 'n besonderse bekoring.
Hier is die bekoring wat Herfs vir my inhou.

Herfsbruilof.

Die najaar roes in die prieël
hang rooi slierte oor die stoep
as die herfswind in die ranke speel
en die knoetserige litte roer
rinkel kastanjette op plaveisel
lofsange van die wind en loof
rondom die skurfte van die kromhout
aan die voet van die stoer ou wingerd
veredel die gevallenes tot waarde
verval dit in die kieselaarde
om weer in die voorjaar
alte mooi in die nuwejaar
vir die bruid van die najaar
'n roesrooi slierte sluier borduur.

Monty.

Ek aard beter 'n die koeler weer. Dankie vir die goeie rebriek.

7 jaar 11 maande 4 weke 8 ure oud


Son gepla?
Interessant! Hier was onlangs by die lodge gaste van Skandinawie (ons kry bAie Skandinawiers!). Een Sweed was 'n mediese persoon en het bevestig wat jy vertel rakende die hormone, seratonien & melatonien. My vraag was "hoe kan 'n mens slaap wanneer daar 24 uur sonlig is?" Sy antw was dat die kliere wat hierdie hormone vervaardig bo in die skedel sit en soos lig-sensors werk. Die getroue ou slaap-hormoon word eenvoudig nie in die somer (24-uur sonlig!) vervaardig nie en het hul nie behoefte aan slaap nie. Anders om, egter, in winters. Sy navorsing in gematigde breedtelyne, soos Suid Afrika, het dit nie naastenby so groot invloed as wat ons graag wil glo nie, maar eerder geringer invloed. Ons "verslawing" aan ewe-lange seisoene het eerder grotendeels 'n psigiese invloed, en die sonlig beskikbaarheid baie min. Ek wonder...
7 jaar 11 maande 4 weke 10 ure oud


Sonligglimlag
Ek moes glimlag toe ek hierdie bydrae lees. Baie dankie daarvoor! Sien gerus my haikoe getiteld "Tot stilstand", wat ek laasjaar 7 Julie geskryf het en hieronder aanhaal:


totaal afgeloop
sontekort maak bleeksiele
ek’s ‘n solar girl

© Doret Johnstone-Robertson
7 jaar 11 maande 4 weke 15 ure oud


is so
Kb goed geskryf en ek dink psigosomaties en meta-fisies akkuraat gekonstrueer. Ek dink ook dit gaan hand aan hand - d.w.s nou die saak van negatief te wees met die seisoene ding - kyk nou dis herfs op pad winter toe - dan moet ons saam met die dooie blare en plant weefsel in die natuur dan ook ontslae raak van daardie giftige goed in ons - dat die lee plekke hierbinne dan plek kan maak vir vernuwing. Soos die plante saad skiet wat weer nuwe lewe kom die herfs daar sal gee. Ander perspektief is dan dat kom die winter gegewe dan ons sonnige ingesteldheid dan saambring 'n bewustheid van ook mooi in die roesmoes pastelle wat nou te voorskyn kom en saam stap met die seisoene. Ons kan mooi en prag en selfs lewe in die dorre woestyn gaan ervaar - d.w.s as ons sou hou van woestyne - maar slegs 'n klein persentasie van die mensdom hou daarvan. As jy grepe en snitte uit die woestyn lewe sou vang en vergroot sodat die wat nie sou kyk na die woestyn landskap onder hul normale lewens omstandighede nie dan sou hulle se "sjoe! kyk! dis mooi en wonderlik". EK dink? Aldus dan is jou skryf stuk dan in my oe die vasvang en vegroting dat daar dan ook mooi is in herfs, winter en m.a.w. woestyn landskappe. Dankie. En die son skyn van binne... Kyk nou maar na die ervaring van mense wat blymoedig is - kleure is helderder, lig is sagter en klank is mooier. As ons sleg voel oor self, die lewe en of omstandighede dan skreeu en lawaai selfs die mooiste simfonie? Wat ons van moet kennis neem is die sweepslag van wereld lewens kwaliteit wat dramaties en stadig maar seker al meer en meer mense se lewens kwaliteite negatief raak - psigologies, geestelik, materieel en emosioneel kry baie mense swaar. Aldus dan ook ek dink die toeval van veral hierdie jaar se vloedgolf van seer, negatief en baie leed wat uitborrel - oorals... so saam met die seisoen verandering. ek dink sopkombuise ens en toebies by die skool vir die kinders gaan weer populer word. Iemand 'n paar spaar brode, konfyt, en groete en bene vir sop? en ja ook paar komberse sal help
7 jaar 11 maande 4 weke 16 ure oud


Sonskyn
Uhm, Carol ? Beteken dit ek moet nou een of ander treffer-glimlag-gediggie uit die rak uitruk ?? Kom nou, dis winter man !!! ;)
7 jaar 11 maande 4 weke 16 ure oud


sOn
Carol, wat 'n heerlike lekkerlees eerste ding vanoggend net toe die sOn sy kOp UITsteek... Dankie vir die glimlag op my ontbytbakkies ;-)
7 jaar 11 maande 4 weke 19 ure oud


Die Son, die lag, die sing,. . .
Jf, in die realityds program: 'Survival", se bekende sinnetjie:
If you've got fire, then you have life!
Myne:
Diegene wat nie:
Kan lag met oog oopmaak in die oggend
Sing met die afstap na die badkamer
Juig met die intrek van die eerste asemteug vroeg oggend buite nie

Verdien ook nie die helende strale van die Son nie.
Eienaardig soos dit mag klink, gaan hierdie woorde in jou geheue vassteek - forever - en sal jy onthou en luister hoe dat ek op die nok van die huis se dak staan en basuin:
Wonderlike dag aan julle almal!
7 jaar 11 maande 4 weke 20 ure oud


Sonnig en Mooi
Dankie vir hierdie bydrae wat my lekker laat lag het met die lees, ek het dit baie geniet. Uitstekende humor en so waar!
7 jaar 11 maande 4 weke 1 dag 2 ure oud


Ek weet net....
...een week in Europa en my siel smag na SON! Son herlaai, vul my menswees in geheel en ek verwelk daarsonder! Dankie
7 jaar 11 maande 4 weke 1 dag 3 ure oud


Son
Sonnige gedagtes, baie waar! :-)
7 jaar 11 maande 4 weke 1 dag 4 ure oud


Sonskyn
Carol, baie baie dankie vir jou sonskyn-gedagtes. Ek stem, kom ons lag die lewe toe in al sy seisoene.
7 jaar 11 maande 4 weke 1 dag 5 ure oud



Vader, vergeef

deur http://www.woes.co.za/

'n Geestelike digbundel met 46 Gedigte wat begin by sosiale kommentaar oor die euwels in ons samelewing en dan oorgaan na storiegedigte gebaseer op ware verhale van gebedsverhoring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar