Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

‘n Paar jaar gelede reis ek en my jongste seun op die R62 na Barrydale. Op ‘n gelyk pad sien ons wat lyk asof daar ‘n ongeluk plaasgevind het en ek verminder spoed. By nadere ondersoek blyk dit dat ‘n mini bussie met ‘n Japanese familie op reis deur ons land, die pad verlaat en ‘n paar maal omgerol het. Daar het reeds ‘n voertuig voor ons stilgehou en is nou weer besig om weg te trek om hulp te gaan ontbied vanaf die naaste telefoon op ‘n plaas so 3 km. vanaf die ongeluk. Die ongeluk het so 20 km. vanaf Barrydale op die Ladismith pad plaasgevind. Die ambulans en dokter moet dus vanaf Swellendam, deur die Tradou pas en Barrydale kom om die beseerdes te bereik. Volgens wat ek kon aflei op die toneel was die familie saamgestel van ‘n Oupa met sy getroude kinders en kleinkinders. Die oupa het vermoedelik uitgeval en die voertuig het oor hom gerol. Die kinders neem beurte om mond tot mond asemhaling op hom toe te pas. Die voertuig lê op sy, sy en ek kon net hoor dat daar nog iewers ‘n waaier agter by die masjien loop en het probeer om dit af te skakel, aangesien die hele omgewing na brandstof ruik soos dit uitgeloop het. ‘n Straaltjie brandstof loop ook by die tenk se klappie uit. Al hulle bagasie en verskeie fotografiese toerusting lê die veld vol. Ek kan sien die familie is baie getraumatiseerd en bly waak in ‘n kring om die oupa. Meer nuuskierige mense kom aangeloop en party wil ’n sigaret aansteek. Ek keer hulle weg en verduidelik dat ons almal sal ontplof as hulle dit doen. Snaaks dat mense nie altyd dink wat hulle doen nie. Sal hulle dan nie die brandstof ruik wat swaar in die lug hang nie? Ek en my seun begin hulle bagasie en toerusting bymekaar te maak en onder die sorg van een van die groep te plaas, aangesien mense reeds begin om van die goed wat in die veld uitgeval het soos die bussie omgerol het, op te tel en weg te dra. Mens kry baie snaakse mense daar buite, besluit ek by myself. Die polisie daag op en die een polisieman kry dit reg om die battery kabel los te kry nadat ek hom verduidelik het waar die battery sit en dat die bussie ‘n brandgevaar inhou asgevolg van die brandstof lekkasie. Die ander polisieman begin om die mense weg te hou van die toneel. Die een Japanese man was al baie moeg van die toediening van die nood behandeling en roep in radeloosheid uit “wa dokter!”. Terwyl een van die ander gesinslede by hom oorneem verduidelik ek aan hom in Engels dat die dokter vanaf Swellendam moet kom, asook die roete wat hy moet volg en hoop hy verstaan, want hy kan net ‘n bietjie gebroke Engels praat. Ek kon sien hulle is nou almal reeds raadop en die kanse dat die oupa sal bly leef is feitlik nul. Van die vrouens het begin huil. Nogtans hou hulle aan.

‘n Klein Japanese seuntjie, ek skat so 6 jaar oud, begin wegstap vanaf die groepie. Omdat ek weet hy my nie sal verstaan as ek met hom praat nie loop ek agter hom aan om te keer dat hy dalk verlore raak. Ek kon sien hy lyk uiterlik heeltemal kalm. Ek het eers gedink dat hy miskien deurmekaar is van die ongeluk of die skok. Nadat hy so 150 meter vanaf die toneel geloop het gaan sit hy op sy knieë met sy gesig in die rigting van die son, met sy hande onder sy ken in aanbidding gevou. Ek besef dadelik dat hy hier in die veld in afsondering kom bid het vir sy oupa. My seun was langs my en ons besef albei dat ons hom nie moet steur nie en plaas elkeen ‘n hand op die seuntjie se skouertjies. Hy bid in Japanees, ons bid in Afrikaans. Ons bid vir ons Here om die seuntjie by te staan in sy oomblik van benoudheid. Hy bid vir sy Here en net hy sal weet wat hy vir sy Here vra. Is dit miskien dieselfde Here wat ons albei aanbid? Wie sal weet, net die Here sal weet. Die seuntjie is klaar gebid en draai om na ons. Hy weet ons sal hom nie verstaan nie en ons weet hy sal ons nie verstaan nie. Hy buig laag vooroor vir ons om dankie te sê dat ons saam met hom in Japanees kon aanbid. Ons buig laag voor hom en sonder woorde sê ons dankie dat hy saam met ons in Afrikaans gebid het. Is dit hoe ons in ander tale kan praat en bid wonder ek by myself?.
Intussen het die dokter opgedaag en nadat hy die Oupa ondersoek het verduidelik hy aan die familie dat daar niks is wat hy vir hom kan doen nie, aangesien hy reeds gesterf het.

Ek en my seun groet die familie en vertrek op ons pad. Dit was die eerste keer wat ek saam met iemand in ‘n vreemde taal gebid het. Ja ons kan tot die Here in enige taal bid, Hy sal verstaan.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

JAPANESE GEBED
Mooi beskryf. Voel of ek ok da was. Dankie vir die deel met ons.
Koekoe
10 jaar 1 week 4 ure oud


Wat my tref, is die 6 jarige se selfbeheersing onder die omstandighede. Ons het veel te leer by die Japanese.
10 jaar 1 week 20 ure oud


japanese gebed
Ek stem dit bring knop in my keel goed gedoen
10 jaar 1 week 21 ure oud


Jou storie raak aan my hart.
10 jaar 1 week 1 dag 18 ure oud



Van ons ander lede

ENGELE EN ROWERS

deur Piet Schoombie

Vier-en-twintig lekker lees kortverhale, sketse en artikels oor uiteenlopende temas en situasies.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar