Artikels

Titel: Jesus was van 'n ander wêreld

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

In Joh. 18:36 sê Jesus: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie… As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

Dit verander 'n mens se lewe om 'n slag dinge deur God se bril en van Sy kant af te sien. Dit verander jou verhouding met Hom, jouself en al jou broers en susters in die ekklesia van Jesus. Met ander woorde, dit verander jou prentjie van die “kerk” dramaties!

Ons het reeds gesien dat die “kerk” of ekklesia die “bruid” van Jesus Christus en die “tuiste” of “woonplek” van die lewende God op Planeet Aarde is.

Die Bybel gebruik natuurlik nog ander woord-prentjies om die ekklesia of gelowige volgelinge van Jesus Christus mee te beskryf.

Een van die mees aangrypende vir my is die beskrywing dat ons 'n “splinternuwe mense-spesie” is! Hoor hoe sê 2 Kor. 5:17 dit: “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

Dink vir 'n oomblik hieroor na.

Stel jou voor 'n wese van elders in die ruimte van 'n totaal ander onbekende wêreld kom Planeet Aarde toe. Hy word gebore as seuntjie, manlik, maar tog totaal verskillende as ons. Hy word gebore as 'n Jood, maar in werklikheid is Hy glad nie 'n Jood nie. Hy is totaal uniek; 'n nuwe mense-spesie, as jy wil.

Hy lyk soos ons en dit is waar al die verwarring vandaan kom, want dit verwar mense om te dink dat hy net 'n gewone mens is.

Dit is ook die rede waarom hulle hom nie eintlik verstaan nie, al praat Hy Hebreeus soos hulle. Daarom verras en verbaas hy heeltyd die mense om hom deur wat hy doen en sê. Selfs as 'n twaalfjarige seuntjie het hy die leiers in die gemeenskap totaal verstom deur die dinge wat uit sy mond gekom het.

Toe hy 'n bietjie ouer as dertig was, begin hy in die openbaar rondbeweeg met 'n groepie volgelinge wat hom soos leerlinge volg. Elke nou en dan spreek hy letterlik honderde mense toe en doen hy die mees merkwaardige dinge tussen hulle.

Hy gesels met die mense oor die beginsels waarop dinge in sy wêreld funksioneer en wys vir die mense prakties hoe dit werk deur sy eie optrede.

Heeltyd sê hy dat hy deur 'n ander stem gelei word wat vir hom sê wat hy moet sê en doen.

Hy verduidelik vir die mense dat hierdie stem uit die wêreld is waar hy oorspronklik vandaan kom.

Hy sê selfs dat hy deur dit wat hy hoor, gevoed word. Dit is letterlik soos kos wat hy “eet”, wat hom “voed”!

Al hierdie dinge veroorsaak natuurlik dat die mense hom glad nie verstaan nie en dat hy nog meer 'n totale misterie vir hulle is.

Verder is sy boodskap baie uitdagend. Dit daag die status quo van sy dag uit, asook die Jode se verstaan van die Ou Testament.

Sy boodskap raak ook ander dimensies van die lewe: polities, sosiaal en godsdienstig.

Wat verder interessant is, is dat hy meestal hom by die gemarginaliseerdes van die samelewing geskaar het. Mense soos die armes, die onderdruktes en die verwerptes. Hy het saam met hulle gekuier en gemeng, wat natuurlik totaal “onvanpas” was in sy dag, want dit was groepe mense waarmee die “beskaafdes” in daardie tyd glad nie gemeng het nie.

Sy boodskap was vir almal; alle groepe en alle lae van die samelewing was daarby ingesluit en is daardeur uitgedaag.

Dit is ook te verstane dat sy boodskap en optrede gou veroorsaak het dat hy vyande gemaak het. Sy boodskap het immers die rykes en outoriteitsfigure van sy dag uitgedaag.

Daarom het hierdie mense byna elke dag daar tussen die skares gewees om hom op die een of ander wyse te probeer uitvang.

Hulle het hom selfs probeer etiketteer soos hulle gewoonlik met die mense om hulle gedoen het, maar Hy was so anders. Hy het eenvoudig nie ingepas in enige van die boksies waarin hulle gewoonlik mense gesit het nie.

Een van die dinge wat hom so anders gemaak het, was juis hierdie ding wat hy oor homself gesê het. Naamlik, dat hy volgehou het dat hy nie oorspronklik van Planeet Aarde af gekom het nie. Ja, dat hy volgehou het dat hy van elders hierheen gestuur is!

Volgende keer gesels ons verder.




BLIKeMMER

deur natasha dutton

"...BLIKeMMER is 'n keur van die beste gedigte van dertien opwindende digters wat skryf oor alledaagse dinge: drome en sprokies, verspeelde tyd en vrese, liefde en diepgewortelde smart, donkerdae en kindergeloof, gebede en godloosheid, omgeeflenters en somergeniet, introspeksie en nostalgie, migraine en stilte, genade en worsteling, selfs Lifebuoy en 'n huis in Vergeetstraat. 'n Bundel wat geniet en waardeer sal word deur die letterkundige, die filosoof asook die doodgewone mens op straat. Geniet dit!" (Lynette Beer: Inspirasie Spreker)



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar