Artikels

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Almal van ons was al geirriteer deur iemand of iets. Dit kan mense by die werk, die kerk, op die TV, oor die radio, in ‘n winkel, in die teater, of sommer net ‘n ou of vrou wat jy erens gesien of mee kontak gehad het, wees. Soms is dit alledaagse dinge wat ons beleef. Ek weet, ek is dalk ietwat sensitief hier, maar ten spyte van wat enigeen sê, sommige goed irriteer my geweldig. Kom ek verduidelik. Vrydagoggend terwyl ek vir die derde maal besig is om ‘n stuk werk wat ‘n sekretaresse net nie kan reg tik nie, weereens na te gaan en te korrigeer, besluit ek om neer te skryf wat my irriteer. Die liewe Vader weet, die vrou irriteer my so dat ek oorweeg om haar met iets te gooi. Verkieslik iets wat swaar genoeg is om skade aan te rig. Weens omstandighede buite my beheer, moet ek saam met haar werk, al is sy so toe soos daardie irriterende oukie op TV wat 36 tamaties tel vir ‘n bottel tamatiesous. En dit irriteer my grensloos. As ek nou op iemand se tone gaan trap, dan is dit maar so. Soos die spreekwoord sê, “As die skoen jou pas…………”.

As ek werklik lus gehad het, kon ek irritasies in kategorieë ingedeel het. Miskien op grond van irritasievlakke, miskien onder geslag, miskien ras, miskien tipe irritasie, soos sekere persoonlikheidseienskappe, sekere tipes gedrag en so meer. Maar helaas, dit sal die pret uit alles haal, want klassifisering irriteer my ook.

So hier is dit nou. Ek skryf dit maar in twee volumes, sodat dit nie die leser dalk irriteer nie.

SWANGER VROUENS. Hoekom maak sommige swanger vrouens of swangerskap gelyk gestel moet word aan ‘n Nazi strafkamp. Ek ken heelwat vrouens wat al gebaar het en dit was net ‘n plesier om in hulle geselskap te wees. Maar wragtig, die ander temende, suur, kermende, mislike, slagoffers van wie weet wat. Dit kerm oor geswelde voete, die drang na kreef gegeurde toffie-appels, vergelykings van haar eie swangerskap met niggie Soekie van Vredefort se vierde swangerskap, die prys van nuwe ontwerpers bababottels, die doopkoek, die naarheid, die nuwe stootwaentjie, die kleur van die verf vir die klein swernoot se kamer, en, en, en. Dan as daar nog iets spesiaals bykom soos in-vitro behandeling, ‘n buisswangerskap of so iets gruweliks, “berge val op my en heuwels bedek my”. Hou net op kerm. Julle voormoeder het na die slang geluister en die appel gepluk. Ek wil nie van die gevolge weet nie.

KETTINGBRIEWE. Die goed irriteer my nie eintlik nie, dit maak my sommer die moer in. Dink julle werklik ek glo dat as ek nie die gemors binne 30 sekondes na 35 mense aanstuur nie, ek in ‘n padda gaan verander, of indien ek dit wel aanstuur, ek vannag om 23 minute voor nege langdurige geluk gaan raakloop? Julle beledig my intelligensie.

ARROGANTE GROOTPRATERS. Dis nou soos sekere kollegas van my wat altyd beter weet, altyd meer bene gebreek het, altyd ‘n beter kar, ‘n mooier lewensmaat, ‘n groter voël (budgies en papegaaie natuurlik), meer werk, meer geld, meer alles het. Hulle word vreeslik siek. As jy griep het, het hulle by die dood omgedraai met longontsteking. As jou ouma honderd en een geword het, het hulle s’n honderd en drie gehaal. As jy een aand tot na elf moes werk, moes hulle glo deurnag. Hulle kan rugby en rolbal speel, en jukskei. As jou hond kwaai is, byt die s’n sommer die palisadeheining af. As jy vertel hoe moeilik jy groot geword het, het hulle ten minste twee aande per week honger gaan slaap. En dan die legendaries sekslewe as jy dit moes glo. Al wat vergeet word, is dat statisties gesproke vuilsiekte al ten minste 10 maal moes voorgekom het as al die seksuele prestasies waar sou wees. En dan, besef hulle nie hoeveel van die prooi dalk die orgasme nagemaak het nie. Dis amper soos die held in ‘n swak Cowboy fliek, waar twaalf skote met ‘n six-shooter afgevuur word.

KINDERS WAT TANDE TEL. Toe ek ‘n kind was sou ek dit tog gewaag het om in te bars tydens ‘n gesprek, of selfs my mening uit te spreek terwyl die grootmense praat. Ek sou verseker vir ‘n wyle nie so lekker kon sit nie. Eintlik is dit die ouers van die klein irriterende luisies wat my die meeste irriteer. Julle maak klein baaltjies van julle kindertjies. Ek wens julle langdurige irritasie in die oortreffende trap toe.

WEET-ALLES-WILLEMS. Hierdie ouens het ‘n eier te lê oor elke ding onder die son. Hulle weet hoekom die Bulle ‘n sekere wedstryd verloor het, hoe om die lekkerste koeksusters te bak, wat verkeerd is met jou kar wat gaan staan het (sonder om binne klipgooi van die kar af te wees), hoe om belasting te ontduik, hoe om bonsai’s te kweek, hoe Einstein se teorie die Golf Oorlog beinvloed het, hoe om die energiekrisis op te los, al die regs- en politieke aspekte van die Zuma saak, waar hulle vrouens se G-kol is (wonder of vroulief weet), ensovoorts. Pasop Professor Drol, jy irriteer almal om jou met jou beterweterigheid.

VERKOPERS BY DIE ROBOT. Nou hier is ‘n kategorie mens wat na my persoonlike mening buite die stadsmure gestenig behoort te word. Kry dit in julle dom onwettige immigrant koppe dat my sex-change operasie ‘n sukses was en ek nie meer handsakke dra nie, so hou op om dit aan my te probeer afsmeer. Ek stel nie belang om allerhande vreemde selfoongoeters wat beslis erens gesteel is, of in Sjina deur ondervoede ex-commies gemaak is, te koop nie. Ek wil nie ‘n rugbytrui hê nie. Ek wil ook nie gratis gemors sigaretaanstekers hê nie. Nog minder ‘n plastiek ding om my skoene in op te hang. Glad nie laegraad vullisakke teen twintig Rand vir honderd nie. Ook nie ‘n net om oor die kos te sit, dieselfde net waarop julle waarskynlik gisteraand geslaap en seks gehad het nie. Mens koop nie dinge net omdat dit daar is nie. Ek weet julle is dalk honger, maar wragtig, ek kan nie by elkeen van julle iets koop nie, en die meeste van julle lyk nie of julle honger ly nie. Nou die dag op pad huis toe probeer een my oortuig dat sy ware daardie dag op promosie is. Ek het amper ‘n beroerte gehad.

Nou voel ek sommer stukke beter. Miskien sal die sekteretaressetjie nou die ding reg kry.

Kyk gerus uit vir volume 2 van hierdie stuk irriterende twak.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Jy slaan die spyker op sy kop. Dit voel my jy verwoord my eie gedagtes.
10 jaar 2 maande 4 weke 1 dag 21 ure oud


Sekere goed irreteer my so ek het begin dink ek ly aan `n sekere soort afwyking, dis goed om te weet ek is nie alleen nie.
12 jaar 6 maande 3 weke 4 dae 12 ure oud


Dit irriteer my
Hi, jy slaan n hele bondel spykers oppie-bleddie-kop!
Ek stem SO saam. Sterkte vorentoe!, CW.
13 jaar 8 maande 1 week 2 dae 8 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar