Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hier is die balans van dit wat my op die oomblik irriteer.

MENSE AGTER TOONBANKE EN HELPLYNOPERATEURS. Ek het al met verskeie wonderlike, vriendelike en baie behulpsame mense te doen gehad wat agter toonbanke werk of ‘n navraagdiens oor die telefoon moet bedien. Toegegee, dis seker een van die goorste werke wat daar kan wees. Amper so erg as om tamaties te tel vir tamatiesous bottels, of om ‘n pakker by Checkers te wees. Maar, sommige van hierdie karakters se persoonlikhede laat werklik eensame opsluiting na ‘n goeie oplossing klink. Wat ek nie verstaan nie; as so ‘n persoon nie ‘n antwoord het nie, waarom sê hulle nie net so nie. Dis nie ‘n skande om nie alles te weet nie, magtig, gaan vind uit en moenie lieg nie. Waarom blameer julle altyd daardie ding wat sommiges skynbaar aanbid by name van die STELSEL, of die rekenaar, of wat ookal, of beste van alles daardie towerwoord, BELEID. Niks in die lewe is net swart of wit nie. Daar is altyd ‘n uitsondering erens, en soms moet ‘n reël effens gebuig word. Al wat ek vir julle kan sê is dat julle moet hoop ek beland nooit agter ‘n toonbank en julle aan die anderkant nie. Julle sal daardie dag nooit vergeet nie. Die sugte wat ‘n mens moet deurstaan (so asof ons daar wil wees), die flou verskonings, die leuens, die onvriendelikheid, die arrogansie van sommige, dis eintlik net ‘n bose kringloop en dit hou nooit op nie. Behandel my sleg, en ek is ongeskik met jou, en jy word kwaad, en behandel die volgende ou sleg. Ek weet ek het nie ‘n oplossing hiervoor nie, maar dit irriteer my nogtans gruwelik.

BEDELAARS MET BORDE. Ja, jy met die bord wat sê: “No Job, 8 children, 2 wives, no soap………” Die regering gee gratis kondome weg, jou irriterende pes. Jy staan diwels daar met jou Nike tekkies aan, en ek besit nie eers Shoe City tekkies nie. Sommige van julle het ‘n moerse hangover van die dop wat met gister se geld gekoop is. Betaal jy miskien belasting om die gemors wat jy daar langs die pad los op te tel. Dis makliker om op mense se gevoelens te speel as om werk te soek, nie waar nie. Gaan net weg. Julle irriteer my.

MENSE WAT HEELDAG SÊ HULLE IS BESIG. Jou sien ek elke dag op kantoor en ek moet daagliks omtrent twaalf keer luister na hoe besig jy is en hoe hard jy werk. Hou op kerm en gaan werk. Jy is nie die enigste mens wat werk nie. Spandeer die kermtyd op werk dan sal jy nie ‘n probleem hê nie.

SOMMIGE PROFESSIONELE MENSE. Moet my nou nie verkeerd verstaan nie. Baie van julle is baie gaaf en oulik, maar, dan is daar die wat julle geleerdheid in ons gewone ouens se kele afdruk. Dis menings en teorië wat geen mens in belangstel of verstaan nie. ‘n Mening oor alles. Julle het die vermoë om elke geselskap oor te neem. Luister nou mooi grootbek: as jy ‘n swak selfbeeld het, moet nie verwag ek moet na jou twak luister om jou te laat beter voel nie. Gaan weg of praat liewer oor die weer.

POLITICI. Hieroor hoef ek seker nie uit te wy nie. Nè Martiens.

NUWE NASIE PRIMATE. Mens tref die ouens dikwels in belangrike poste aan. Wie dink julle flous julle. Julle met julle (wat veronderstel is om te wees) “intelligente” en belangrike gesprekke, in hysbakke, teekamers of oral waar daar ore is om te hoor, is erg irriterend. Julle gooi die groot woorde, maar dikwels die verkeerdes of wat glad nie ter sake is nie. Julle het altyd ‘n selfoon teen die oor en voer dan vreeslike gesprekke met ek wonder wie. Een dag sien ek toe mos so ‘n ou, en sy foon was onderstebo. Ek kan julle waarborg, julle oortuig niemand nie. Al wat julle bereik is om mense te irriteer en die bietjie geloofwaardigheid wat daar was geheel en al te verkrag, en in die proses neem julle die ouens wat wel weet wat hulle doen saam met julle.

MOTORBESTUURDERS. Padwoede is ‘n lelike ding en heeltemal onaanvaarbaar, maar ek verstaan soms waar dit vandaan kom. Daar is verskeie mense wat dikwels tender vir so ‘n bietjie woede van iemand anders. Soos jy wat 80 in die vinnige baan ry. Jy wat by die verkeerslig wag en eers nadat die lig na groen oorgeslaan het aandui jy gaan nou regs draai. Taxis in die algemeen. Die wat in hulle motors so plat lê en na Rap Music teen 500 desibels luister. Verveelde huisvroutjies in hulle luukse Duitse of Sweedse motors wat die hele dag in die strate rondkuier tussen tee hier en koffie daar. Julle almal irriteer die res van on swat wel op die pad hoort.

QUASSI CHRISTENE. Besonders irriterend. Julle is die ouens wat Saterdagaand dronk by die “bachelors” was en elke gruwelike grap wat per epos of SMS aankom vreeslik geniet, of die vrouens wat nie kan wag om die nuutste skinderstorie te vertel nie, maar altyd ‘n opmerking oor ander se morele standaarde het. Sondag sit julle in die kerk met ‘n vroom gesig, maar Maandag tot Saterdag is die kerk en God vergete en vertrap jy almal wat in jou pad kom. Verstaan my nou mooi, ons het almal foute, ek waarskynlik die meeste van almal, maar kyk bietjie na jouself voor jy my oordeel.

SMARTLIKE EPOS. Dit begin gewoonlik omtrent so: “Moet asseblief nie uitvee nie. Jannie is met sy dikderm tussen sy ore gebore en moet dringend ‘n operasie in Miami ondergaan. As dit nie binne 16 dae gebeur nie, gaan hy vir altyd deur sy ore bollie”. Die goed is grensloos irriterend. Al ooit gehoor van die hospitaal, die dokter, die kliniek. Wat op aarde het Jannie se derms met my te doen nege uur op ‘n Maandag as ek probeer werk. Gaan weg in ‘n kru taal.

NIE-ROKERS EN EKS-ROKERS. Nie-rokers is nie so ‘n slegte nasie nie, maar die eks-rokers is werklik ‘n pyn. Ek wil nie hoor hoe goed julle voel nie. Ek rook al jare lank en geniet dit verskriklik. Ek weet van die gevare en het al die foto’s gesien van al die gruwelikhede. Ek weet ook dit is ‘n vieslike gewoonte, maar dis my gewoonte, so los dit uit. Ek rook nie waar ek nie mag rook nie. Ek rook ook nie in ander mense se huise en karre nie. Ook nie as iemand aanstoot neem nie. En dan by die werk; ons het ‘n baie klein area waar ons mag rook; dan kom jy met jou geswelde ego en spreek jou mening daar oor my uit. Wie de hel het jou aangestel om my te oordeel? Waar het jy gekwalifiseer om my van gesondheidsadvies te bedien? Net een woord vir jou. VOERTSEK. Manto, dit geld vir jou ook.

ADVERTENSIES OOR LIGGAAMSFUNKSIES. Ag nee sies man. Nes ek ‘n lekker stukkie vleis in my mond sit begin een of ander poppie op TV te vertel van die nuutste tampons, of van hoe Senokot van al die opgeboude stront in jou sisteem ontslae raak. Werklik, het julle geen skaamte of styl nie?

Glo my vry, daar is verseker nog baie meer, maar te veel kla is ook irriterend.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Reguit en op die man af. Ek hou hiervan.
10 jaar 2 maande 4 weke 1 dag 21 ure oud


Baie min mense sou dit beter kon stel as wat jy die irritasies van die lewe stel! Ek het gelag dat die trane loop. Asseblief moenie ophou nie!!!
13 jaar 6 maande 3 dae 11 ure oud


Twee van ons.
Dis mos hoe 'n ding gesê moet word! Hou ons op dreef met jou gedagtes, gevoelens, daaglikse gebeurtenisse ens. Ek laaik jou leesstukke kwaai.
13 jaar 7 maande 2 weke 5 dae 14 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Die Ander Vrou

deur http://www.woes.co.za/

Die boek belig 'n wereld oue situasie uit die perspektief van die "ander vrou"- soos deur die vroue self vertel Die boek sluit ook perspektiewe deur 'n maatskaplike werker en 'n predikant in.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar