Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Intussen het my lysie van irritasies aangegroei; en ek moet dit van my af kry. Die volgorde is nie van belang nie, so moet dit nie gradeer nie, want ek het maar net geskryf soos dit in my gedagtes opgekom het. So hier is die nuutste toevoegings.

TROUES EN ALLES DAARMEE SAAM. Daar was vir my nog altyd iets platvloers of vulger en onnodig aan groot troues. Ek laat my mening oor die platvloers en vulger maar liewer daar. Dis seker elke vrou se droom om voor die kansel te staan met die pragtigste rok ooit, pêrels in die hare en wat nog. Maar deesdae word die dam behoorlik onder die eend uit geruk; die arme eend kry nie eens kans om te sit nie. Dit moet die mees eksotiese romantiese kapel denkbaar wees, onthale wat derduisende kos, rokke vir oud mal en blind ontwerp deur Jean-Louis Koekemoer, genoeg kerse om ‘n plakkerskamp te verlig, vreemde troukoekerige goed op staanders, kleurskemas, uitnodigings wat gedruk word op omgewings vriendelike papier, wittebrood op idilliese eilande, en dan word ‘n spul mense dronk en vang allerlei onbesonne dinge aan. Nou behalwe vir al die huwelike wat op die rotse beland, is dit ‘n groot bron van inkomste vir sommiges. Die arme Pa van die bruid moet uithaal en wys, al moet hy ‘n vyfde verband op sy Toskaanse huis uitneem. Vir my is die ergste egter wanneer jy voorgeskryf word wat om as geskenk te bring. Wat het geword van die wonderlike verassing om allerlei goeters in pakkies te kry. Nee wat, dit lyk of troues soms net soos matriek afskeidsfunksies, ontaard in onsmaaklike duur kompetisies. Ek is ‘n groot voorstaander van ‘n kort en kragtige seremonie in die hof. Waaraan dink die bruid en bruidegom in elk geval daar voor die kansel? Al ooit daaraan gedink. Dis goedkoop, geen spanning op die Ma’s wat bekommerd oor alles en nog wat nie, en meer tyd vir die bruid en bruidegom om mekaar te geniet. Miskien put party genot daaruit om dinge op so ‘n spandabele en dikwels vulger oordadige manier aan te pak, ek sal nie weet nie, want ek was nog nooit getroud nie, maar dis my mening.

KLIëNTE EN ONS VERHOUDING MET HULLE. Ek werk by ‘n vooraanstaande internasionale maatskappy waar die uitgangspunt dikwels is dat “DIE KLIëNT ALTYD REG IS”. Ek het nuus vir julle, hulle is nie altyd reg nie; waarvoor dink julle betaal hulle ons? Omdat hulle nie weet nie, of nie die werk self kan doen nie, dis waarom. En dis ons plig om hulle te vertel as hulle verkeerd is. Dieselfde geld vir onaanvaarbare of aanstootlike gedrag deur ‘n kliënt. Dis asof sommiges letterlik met moord wegkom. Nou die dag werk ek ‘n sekretaresse tot net duskant ‘n senuwee ineenstorting. Die arme kind is reeds erg gespanne en ek probeer my bes om haar tegemoet te kom. Eindelik is die werk klaar en alles is piekfyn en reg op tyd. Ek skakel om dit te laat aflewer, en wat sê meneer; Nee wat, hy is nou in die PUB, ons kan maar volgende week aflewer. Gelukkig het ek lae bloeddruk; anders het ek ‘n beroerte gehad. ‘n Ander kliënt het sowaar ‘n bordeel bestuur vanuit ‘n projek kantoor waar ek gewerk het. Dit het uiteraard allerlei onsmaaklike gevolge gehad, maar na vele klagtes by bestuur, wal gooi en dames personeel kalmeer, moes ek maar stilbly en ander pad kyk, want hy is mos die kliënt. Nee wat, sulke dinge irriteer mens net en maak jou werk ‘n las eerder as ‘n plesier.

AANWYSINGS OP HOUERS MET KOS. Daar is uiters noodsaaklike wetgewing om die inhoud van voedsel wat aan ons almal verkoop word te reguleer. Ek is dankbaar daarvoor en besef die belang daarvan. MAAR, dan moet iemand asseblief vir my sê wat beteken 0.005% Trichlbpahbilibidobalgwarketiet per gram. Liewe hemel, kan hulle nie frases gebruik soos MAAK VET of MAAK DOOD of GEE HARTAANVALLE of LEI TOT KNOPE IN DIE DERMS nie. Ons lees almal die goeters en het geen idee waarvan die geleerdes praat nie. Mense staan in die winkels en lees die twak en maak of hulle weet. Dis nou irriterend.

DIE TERMINAALSIEKES BY DIE WERK. Ek het diepe empatie met werklik terminaal siek mense. Ek ken van hulle en verwonder my dikwels aan hulle verbysterende moed en deursettingsvermoë. Maar, dan is daar die ander wat in die waan verkeer dat hulle terminaal siek is, veral by die werk. Hoe hulle enigsins werk gedoen kry, is ‘n onverklaarbare geheimenis. Daar is ten minste een operasie per jaar. Al die onderdele wat vervang is maak hulle omtrent bionies as jy hulle moet glo. Sommiges is so siek dat jy te bang is om gewone goeie maniere te gebruik en te vra hoe dit gaan. As jy dit sou waag dan word jy gebombardeer met ‘n lys van kwale, pille en behandelings waarvan jy nog nooit te vore gehoor het nie, of wat jou skaam of naar maak. Die handsak word dan dikwels oop gepluk en hande vol botteltjies word uit die donkerste dieptes gehaal as bewys. Hulle is altyd moeg, ondervind obskure skete en pyn, altyd besig met een of ander behandeling, veral as die druk effens erg raak. Hulle beskou hulle dokters as iets so net duskant die hemel. Sommiges het natuurlik kinders wat blykbaar net so terminaal siek gebore is, belas is met etlike vae omskrewe allergieë, of wat ly aan permanente sportbeserings. Snaaks dat die voorkoms en frekwensie van die klagtes dikwels gekoppel word aan die hoeveelheid en dringendheid van werk. Ek wil werklik nie weet van Tersia se eierstokke, of Jannie by die huis se liesbreuk nie. En verder, hoekom is nie een van julle siek wanneer daar jaareindfunksie gehou word, of kort voor die Desember reses nie.

SLAPGAT JONG MANS. Nee magtig, maak reguit jou rug; jy loop asof jy al die jare se probleme op een dag beleef. Trek op jou broek, jou slapgat. Party van julle lyk of julle met ‘n hele week se stront in julle broeke rondloop. Tel op jou voete en trek ordentlike skoene aan. Jy loop soos iets wat pes onder lede het. Kam jou hare, dit lyk of jy altyd slaap; sommiges gaan so Kerk toe (as julle wel die dag vroeg genoeg opstaan om te gaan). Ek verstaan dit nie, waarom lyk so baie van vandag se jong Afrikaanse mans soos slapgat hippies van die sestigs. Kom by, hoe moet mens vir jou respek hê of werk gee. Waar is die goeie ou dae van diensplig tog wat ruggraat in soveel jong mans ingedril het?

SOMMIGE DAMES IN PROFESSIONELE POSISIES. Hier praat ek nou nie van prostitute nie, maar van regsgeleerdes, narkotiseurs, stads-en-streeks beplanners, argitekte, bankiers, ekonome, ingenieurs en so aan. Baie van hulle is net ‘n plesier om mee saam te werk. Ander is nou weer ‘n teer saak, koninginne van emosionele afpersing wat die Bybelse Delila na ‘n Sondagskool juffrou laat lyk. Hulle wil die salaris hê, al die voordele, en laat geen kans verby gaan om jou te herinner daaraan dat hulle gelykes is en dus dieselfde behandel moet word nie. Geen probleem sover nie, maar dis nou net waar die probleem soms begin. Plaas sommiges van hulle onder druk en die trane loop, of die kinders word as nuttige front voor gehou. Nou verstaan my nou mooi; dinge werk so; die tango kan nie deur een gedans word nie; ek bring my kant en jy joune. Een dame by my werk (in ‘n professionele posisie) pas perfek in hierdie kategorie. Dit lewer kommentaar en kritiseer vir ‘n vale, maar as dit by die werk kom, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Met al die kritiek en kommentaar is daar ook nooit werklik ‘n positiewe bydrae of oplossing nie. Die traankraantjies is ook altyd baie naby. Nee wat, jy is bloot net nutteloos en irriteer die wit warm dinges uit ons almal terwyl jy ‘n hand vol geld kry. As jy nie die pas kan vol hou nie, gaan knie brood. O, en net om te wys ek is nie ‘n chauvinistiese vark nie, VIVA Vroueregte!!

DIE NG KERK EN DIE GAY DEBAT. Hierdie saak word bykans daagliks in die hoofstroom media bespreek en irriteer my mateloos. Dit lyk nie of daar werklik vordering gemaak word na enige kant toe nie, want dis die kant toe en daai kant toe, en nog ‘n bespreking, en nog ‘n werkgroep en eindelose argumente. Dis standpunte van professor sus en doktor so en elkeen het ‘n eier te lê. Dit wil vir my voorkom of daar ‘n onwilligheid by die Kerk is om standpunt in te neem. Ek verstaan julle vrees vir skeuring in die Kerk, maar vra myself dan af, as die Kerk so sensitief is dat ‘n enkele saak skeuring gaan veroorsaak, is die skeuring nie in elk geval onafwendbaar nie. Kerke skeur en verenig al eeue lank, en dit sal so voort duur so lank daar kerke is. Dink net, as julle al die geld wat gemors word om al die mense wat die vergaderings hou, te voer, te laat ry, te laat vlieg en te laat slaap, gebruik het om die armes te help, hoeveel beter sou dit in ons land gewees het. As julle dan glo dat gay broeders en susters van die duiwel is en nie welkom is nie, sê dan so en kry klaar of hou op kerm. Julle kan nie mense so halfpad toelaat en voorwaardes stel soos wat julle gemaklik voel nie. Daar is geen “maar” en “of” in geloof nie. Hoekom is julle so bang om op iemand se tone of dalk iets anders te trap? Is daar dalk ‘n paar van julle wat agter die deur staan, of is dit geld wat praat, of wat gaan aan?

Op ‘n ligter trant, is daar dalk ‘n paar Mevroue agter die troon wat bang is ‘n paar “drag queens” sit hulle ore aan met die modes? Of wat praat ek nou, steek ‘n aaklige ding dalk nou sy kop hier uit?

Dit help nie om met groot woorde te redeneer waarvan Jan en Alleman soos ek, die waarde van nie begryp nie. Dit werk ook nie om enkele Bybel verse te gebruik om julle standpunt te verskans nie. As julle dit wil doen, moet julle AL die wette in die Bybel navolg. Sê dan vir die susters om hoede te dra. Ek verstaan NET EEN ding en dit is God het ons lief en amen. Dieselfde geld vir alle mense op aarde. Al wat julle eintlik bereik is om ‘n klomp mense die moer in te maak met julle besluiteloosheid en gekarring aan iets wat so oud soos die mensdom self is. Hoe sal een van julle voel as julle soos tweede klas Christene beskou te word. Dit klink alte veel na ‘n nuwe soort Apartheid en dan lyk julle ook vir my al te veel soos ‘n klomp wit gepleisterde grafstene vol van doodsbeendere. Lees die hele Bybel en nie net die geykte verse uit Levitikus en Romeine nie. Gaan lees vir ‘n slag in Openbaring 3 en ek haal graag aan. “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.” Ag nee man, kry rigting of bly stil.

EN VERDER?. As jy my nou onvoorwaardelik die moer in wil maak, moet jy my bel, groet en dan sê “EN VERDER”. En verder wat, verdomp? Ek was nog nie daar nie, so hoe moet ek weet? As jy my bel, het jy tog seker iets om te sê, nie waar nie, of dink jy ek gaan my hele dag en hart uitlap aan jou. As ek wou, sou ek jou mos gebel het om te vertel. Gaan was die skottelgoed, sny die gras, kyk televisie of lees ‘n boek en moenie my tyd mors met jou sinlose gesoek na skindernuus nie.

HUISGENOOT LESERS. ‘n Rara Avis is die mense beslis, of is hulle? Hoeveel keer hoor mens nie iemand wat sê “Ek lees nou die dag in die Huisgenoot……” Van wanneer af is die Huisgenoot ‘n gesaghebbende mediese, regskundige, voedseltegnologie, opleiding, politieke, misdaad en wat ook al tydskrif. Twak en sensasie sal seker altyd verkoop, maar moet julle dit vir almal vertel julle oningeligte sotte.

JAN HENDRIK TERREBLANCHE. Nou ja goed, nou weet julle, ek kyk 7DE Laan. Dis een van daardie uiters irriterende televisie programme wat mens nou maar net nie kan ophou kyk nie. Ek kyk daarna, soos baie ander mense, en ek gaan nie om verskoning vra nie. Soms irriteer dit my geweldig, veral as die storielyn so dun raak soos die skouerbandjies van Paula se rokkies. Ek kan egter die meeste karakters en absurditeite hanteer, MAAR, daardie Jan-Hendrik karakter is my einde. Hulle moet hom eerder Jan-Hendrol noem. Wat ‘n slapgat nuttelose verskoning van ‘n man. Wie het hom uitgedink. Kry mens werklik sulke mans wat al getroud en in die dertig is en nog na elke gril van sy ou heks van ‘n Ma luister. Hy het die “sex appeal” van ‘n moddervis. Om van sy patetiese huwelik nie te praat nie; enige terapeut se lewenstaak as jy my vra. Ek weet ook nie waaroor hy so kwaad is nie, dalk is hy seksueel gefrustreerd. Dalk kom die waarheid uit en ons vind so teen episode 3465 uit hy is eintlik ‘n moffie. Ag nee wat, Afrikaanse drama op TV is nou maar net nie op standaard nie. Maar kyk sal ek kyk.

IRRITASIE TOT LATER



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Julle irriteer my
Fantasties geskryf, die woorde hou mens gevange tot die einde! Jy het my gedagtes en gevoelens presies weergegee. Ek is bly daar is mense soos jy wat kan standpunt inneem en nog ruggraat het!
9 jaar 11 maande 1 week 2 dae 4 ure oud


Dit was nou aangenaam om te sien daar is meer mense wat nie te vinde is vir al die blink en klatergoud van die wêreld nie. Ek kon heerlik saam brom.
10 jaar 1 week 6 dae 12 ure oud


Jou werk lees maklik en vinnig en slaan die spyker op die kop! ! !
10 jaar 3 maande 3 weke 18 ure oud


Julle irrirteer my
Sjoe maar jy is omtrent opgestres! Jy kort 'n vakansie as die hele wereld jou so kwaad maak.

Onthou 7e Laan is 'n sepie, nie 'n dramareeks nie. Dis veronderstel om stadig en langdradig en herhalend te wees. Destyds was daar mos 'n blinde Dezi, nou's Felicity in 'n rystoel en dis nou net hier waar ek besluit het om ook maar af te klim. Intussen is n hele paar mos nou ookal aangerand en geskiet. Dis so voorspelbaar ek lë noual die woorde in die akteurs se monde voor hulle nog asem ingetrek het om te begin praat. :-))

Ek dink 'n vakansie gaan wondere vir jou doen!! Rerig.
10 jaar 7 maande 3 dae 16 ure oud


hoe lekker het ek gelees...
want ek stem so heelhartig saam met alles behalwe die 7de laan ding...
ek het my TV verruil vir 'n gasstoof in die vroee 90s...ha ha..
10 jaar 7 maande 2 weke 5 dae 18 ure oud


Ek het hierdie stukkie al n rukkie terug in my gunstelinge gesit, nou uiteindelik weer gelees en aarde tog het ek nie te lekker gelag nie, letterlik hardop gelag. DANKIE Daniel jy's n wenner!
10 jaar 8 maande 1 dag 9 ure oud


Bravo bravo en nogmaals, handeklap kwadraat.
Daar is baie ware stukkies, eintlik maar almal, so ek gaan nie spesifiekes aanhaal nie. Ek's bly ek het hierop afgekom. My dag sommer heelwat opgekikker!
10 jaar 8 maande 4 dae 13 ure oud


Gee jouself 5000 punte! Ditsem.

Ek het jou artikel geweldig geniet. Amper te hard aan die lag geraak hier in die stil kamer. Raakgevat!!! Mooi gedoen. Sê hom Pietie, nes hy daar is.
D
12 jaar 6 maande 1 week 2 dae 1 uur oud


Irritasies
Ek is jammer om dit te sê, maar ek stem volkome saam. Ek is net jammer ek het dit nie eerste gesê nie, maar aan die anderkant sê jy dit soveel beter!
12 jaar 7 maande 1 week 13 ure oud


Julle irriteer my (volume 3)
Drie woorde wat op vyf verskillende wyses gelees kan word.
a. Júlle irriteer my.
b. Julle irriréér my.
c. Julle irriteer mý.
d. Julle irriteer my.
e. JULLE IRRITEER MY!!!

'n Vriend het onlangs opgemerk dat 'n mens 'n vark is. My opinie is dat hy 'n vark beledig as hy so 'n uitlating maak......

Ek is iemand wat maklik kritiseer en ek is seker dat juis dít dalk talle mense rondom mý irriteer.
Maar dat jy die spyker op die kop slaan met jou waarneminge, is verseker waar.

Groetnis (en ek hoop 'n hele samelewing irriterendes lees jou artikel!)
12 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 7 ure oud


Irritasies Volume drie
Ek het myself nou regtig geniet terwyl ek hierdie stuk gelees het! Jou reguit manier van dinge sê is baie entertaining!
12 jaar 7 maande 3 weke 1 dag 14 ure oud


Irritasies
Daniel
Uiteindelik iemand wat nie bang is om haar se te se nie! Kan nie oor alles saampraat nie (uit onkunde) maar hou van jou reguit styl
12 jaar 7 maande 3 weke 4 dae 5 ure oud


A3
Ek het byna van my stoel af geval soos ek nou vir jou gelag het. Ek's verskriklik jammer oor alles wat jou irriteer. Jy is 'n regte Tonic! Ek het nog nooit so daaraan gedink nie, maar jy's reg!

Groete
A3
12 jaar 7 maande 3 weke 4 dae 14 ure oud



Van ons ander lede

TRILOGIE

deur Warra-Warra

Bundel Naam: not ‘n f#& ISBN #: 978-0-620-46799-5 Inhoud: Gedigte (selfmoord; aanranding & mishandeling; egbreek & egskeiding; prosa) Bundel Naam: liefde se g$# ISBN#: 978-0-620-46800-8 Inhoud: Gedigte (liefde; romanse; vriendskap; SielsGen♫t versugtinge) Bundel Naam: alle'ander K#& ISBN#: 978-0-620-46801-5 Inhoud: Gedigte (tussen die lyne; tussen'in woorde; woord'affair; digters'waan; duet gedigte)



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar