Artikels

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ons leef in ‘n moderne eeu en ons kan beweer dat met die veranderde tye, ons so stadigaan ‘n probleem begin ontwikkel met tradisies en ouwêreldse gewoontes. Die dinge wat ons ouers en voorouers aangehang en in geglo het asook die manier waarop hulle hulle vrye tyd deurgebring het pas lankal nie meer in tussen selfone, laptops, flatscreens, Wii’s en al die ander wondere van die tegnologie nie.

Ons is besig om te lewe en ons kyk vorentoe.

Stiltetyd? Huisgodsdiens? Meneer, ons program maak lankal nie meer voorsiening daarvoor om as ‘n huisgesin by ‘n tafel huisgodsdiens te gaan sit en hou nie – God sal tog verstaan as hy na ons daaglikse skedules moet kyk. Ons lees nog van tyd tot tyd die Bybel, maar deesdae sif ons dit uit wat nie in ons hedendaagse konteks pas nie. Ons bevraagteken ook makliker die dinge wat ons ouers as vanselfsprekend aanvaar het. Mens moet darem onthou dat die Bybel en die dinge wat daarin opgeteken staan ten minste twee- na drieduisend jaar terug dateer. Die Ou Testament het oor die wel en weë van die volk Israel gegaan en die sedewette en reinigingswette en voorskrifte kan defnitief nie meer op ons van toepassing wees nie. Hulle was nie veel meer as ‘n nomadiese en primitiewe volk wat ernstig leiding in die verband nodig gehad het nie. Die Nuwe Testament? Dit gee vir ons sekere riglyne waarbinne ons moet leef, maar ons moet versigtig wees dat ons nou nie weer dinge buite konteks gaan staan en lees en probeer onderhou nie.

Ons kan ook sê dat die voorskrifte oor die tug van kinders, wat alewig voorop gegooi word, totaal buite verband aangehaal word. Die woordjie wat as “tug” vertaal word, kan verskeie betekenisse hê en behoort eerder as “vermaan en onderrig” gelees te word. Ons is mos nie meer barbare wat ons kinders met swepe en stokke moet probeer beheer nie. Daar is meer as genoeg getuienis wat daarop dui dat kinders wat in hulle vormingsjare met ‘n pak slae gestraf was, ernstige sielkundige letsels oorgehou het, wat later belemmerend was vir hulle aanpassinig in die gemeenskap.

En dan praat ons nie eers van die mense wat hulleself as die beskermers van die sogenaamde sedes aangestel het nie. Hulle gryp mos gou na ‘n Bybel en haal honderde teksverse aan as dit kom by verhoudings tussen persone van dieselfde geslag. As die god van die Bybel dan so ‘n liefdevolle en regverdige god is, waar pas hulle, as sy skepsels, dan in. Nee, Meneer, jy preek en braak gal en wil ons almal hel toe verban. Gaan ondersoek liewer eers jouself voordat jy vinger wys ……..

***

As ons kyk na Afrika, die kontinent waarin ons woon en leef, is dit interresant om daarop te let dat die mense van Afrika tradisioneel baie naby aan die gewoontes en tradisies van die Ou Testament geleef het. Die man was die onbetwiste hoof van die huishouding. Mans het meer as een vrou gehad, vrouens was baie onderdanig aan hulle mans en kinders was amper soos slawe in die huis. Die hoofman van die omgewing het die gesag gehad om wet en orde op tradisionele manier te handhaaf.

‘n Dame uit Kenia het eenkeer beweer dat dit die koms van die sendelinge na Afrika was wat die tradisionele gesag omvêr kom gooi het. Skielik was die tradisionele manier van aantrek nie meer toepaslik vir ‘n nuutgedoopte Christen nie. Skielik was die tradisionele manier van leef nie meer toepaslik vir ‘n nuutgedoopte Christen nie. Dit het daartoe gelei dat alles wat vir die mense normaal was skielik abnormaal geword het. En, soos sy gesê het, het dit die saadjies vir misdaad en geweld teenoor mekaar, hulle vrouens en ook hulle kinders gesaai. Die beherende invoed van die tradisionele gesag is omvêr gewerp en dit het hulle met ‘n vakuum gelos wat nie deur die kerk gevul kon word nie. Boonop het daar, onder die dekmantel van Christenskap, dinge by die sogenaamde kerkskole gebeur wat Christenskap in sy geheel met ‘n redelik besoedelde nalatenskap gelos het

Maar omdat dit iets was om aan vas te hou, in die plek van ander ideologieë, kon Christenskap, in ‘n reeds verrotte Weste, gemanipuleer word om geloofwaardigheid aan die vryheidstryd te verleen. Skielik het ‘n waardige biskop daardie ekstra dimensie aan die “saak” gegee. Hoe presies die Bybel op daardie stadium verklaar was, weet ek regtig nie – het skynbaar iets te doen gehad met Christus wat die kapitaliste met ‘n sweep uit die tempel gejaag het.

Intussen het die kerk in Europa, behalwe dalk vir die Pous in die Vatikaan, sy laaste stuiptrekkings begin gee. Katedrale en kerke se enigste bronne van inkomste was die honderde toeriste wat daardeur geskuifel het met hulle flitsende Canons en Nikons. Die kerkowerhede moes dan selfs die kruise uit die kerke verwyder omdat dit kwansuis aanstoot sou gee vir toeriste uit sommige lande uit. Die bakermat van die Christendom was effektiewelik in sy maai in.

In Suid Afrika was die vryheidstryd agter die rug en, veral die Afrikaanse kerke, het oor hulle voete geval om verskoning te maak vir die sondes van die verlede tot in die derde en die vierde geslag. Beleidenisse is geformuleer en lidmate is aangemoedig om in sak en as te gaan sit oor hulle vaders se oortredinge. Skielik het die kerk as geheel sy geloofwaardigheid begin verloor en waar daar nie skeurings plaasgevind het of lidmate verloor is nie, het die nuwe generasie “moderne” Christen opgestaan. Ongelukkig het hierdie nuwe Christen in baie gevalle so totaal oorboord gegaan met die afgooi van die jukke van die “ou tyd” dat daar nie veel van ‘n Christen oorgebly het nie. Die Bybel het plek gemaak vir ‘n verskeidenheid handleidings oor die lewe (met so hier en daar ‘n verdraaide Bybelse aanhaling). Die gevolg was onvermydelik.

Die “Christen” se kinders is meesal ongemanierd en toon geen respek meer vir gesag nie. Die “Christen” se gesagstruktuur in sy huis is ongebalanseerd – jy weet nie meer mooi wie van die man of vrou die broek dra nie. Die “Christen” aanvaar alle vorme van verhoudings tussen mense, ongeag of hulle van dieselfde geslag is of nie. Om te trou of om saam te bly is vandag nie regtig meer ‘n “issue” vir die “Christen” nie. Die “Christen” leef vir vandag en vir homself.

Hierdie is, snaaks genoeg, alles dinge wat tradisioneel onaanvaar was in die Afrika konteks.

En omdat die behoudende tradisies oorboord gegooi is deur die leiersfigure, begin Islam stadig maar seker vanuit die noorde (en van binne af) nader aan Suid Afrika en sy gevestigde “Christenwaardes” te kruip. En, dis in die lig van bogenoemde baie interresant om daarop te let dat Islam as sulks tradisioneel baie nader is aan die mense van Afrika as die Christendom. Dis ook insiggewend dat die streng Sharia wette baie nader is aan die tradisonele Afrika stamopset as die afgewaterde Christendom van vandag.

Hoe lank sal ons nog kan staande bly teen die tempo waarmee ons besig is om vir die almagtige God te probeer voorskryf en probeer buig om by ons moderne siens- en lewenswyses in te pas.

Daardie God wat ons in ons slimmigheid wil probeer verander, is egter nog presies dieselfde God as die God van die Ou Testament. Dit gaan nie vir Hom oor die mens en sy selfsugtige aardse begeertes en geldelike behoeftes nie, dit gaan uit en uit oor die siel van die mens en die lewe hierna (kyk gerus na die duisende Christene wat as martelare in die arenas van Rome gesterf het – as dit vir God oor die mens gegaan het, sou Hy hulle mos al daardie ontsettende lyding gespaar het). En daarom, as dit nodig sou wees dat die Christene in Afrika en Suider Afrika deur vuur gereinig moet word om weer heel te word, dan glo ek dit sal so gebeur.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

'And crawling on the planet's face,
some insects,
called the human race.

Lost in time,
and lost in space,
and meaning.'

Rocky Horror.
10 jaar 1 maand 3 weke 9 ure oud


Ek kon die versoeking net nie weerstaan nie
“Daar is meer as genoeg getuienis wat daarop dui dat kinders wat in hulle vormingsjare met ‘n pak slae gestraf was, ernstige sielkundige letsels oorgehou het, wat later belemmerend was vir hulle aanpassinig in die gemeenskap.” Is dit hoekom my generasie en die van my ouers so sleg aanpas by die wereldgemeenskap?
10 jaar 2 maande 2 weke 2 dae 4 ure oud


Allemagtig
Jy raak belangrike dinge aan.

Ek bring dalk 'n paar verwensings op my neer maar ek het nog nie 'n Moslem ontmoet wat die woord Allah vir iets anders gebruik as wat ek verstaan die woord God (as aanduider vir die Skepper) gebruik word nie. Hulle haal dalk uit ander skrifte aan en verskil in opinie oor die rol van Jesus maar wanneer hulle die werklikheid en Allah bedink dink hulle oor dieselfde God as ek, veral die Sufis.

Ek dink ook nie regtig dis net die Christen leerstelling wat die tradisionele Afrika gebruike afgebreek het nie. Dis eerder ook die sekulere dinge soos militere, politiese en ekonomiese magte.

Demokrasie is die dood van tradisionele autokratiese en godsdienstige magstrukture. Dis hoekom ek op 'n stadium in my lewe gedink het demokrasie is 'n goeie ding. Dit gee mense wat tradisioneel geen mag gehad het nie nou mag om mense wat tradisioneel geen mag sou he nie aan te stel oor almal. Ongelukkig het ek die meerderheid kiesers se vlak van ingeligtheid oorskat.

Die kriteria vir verkiesing is populariteit, nie meer tradisie nie en daarom vervang geldmag tradisionele mag in demokratiese lande se magstruktuur. Instede van die kaste stelsel van lank terug waar die geestelike leiers almal oorheers met die krygersklas as wag en sweep oor die volk, waaronder handelaars as 'n laer klas van mens ook onder beheer gehou was het ons nou handelaars wat die populere grootpraters aan bewind help kom en dan hulle toutjies trek.

Ons wil mos demokrasie voorhou asof dit 'n natuurlike godgegewe oplossing vir al ons probleme bied. Nou moet ons maar voel. Wins en skeinbehulpsaamheid is nou van die sterkste magte wat die samelewing stuur.
10 jaar 2 maande 2 weke 2 dae 4 ure oud


Kan die Christendom staande bly
Met party dinge stem ek saam en met ander nie. Deffinieër asb. 'n Christen vir my uit jou oogpunt.
Het nogtans die stuk geniet
Koekoe
10 jaar 2 maande 2 weke 2 dae 13 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar