Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek het verlede jaar nog voluit “Patch My Room” bedryf. ‘n NPO maatskappy wat ‘n verskil maak in die lewens van kinders wat ‘n ernstige siekte onderlede het of selfs kinders wat deur trauma was en sukkel om sekere dinge te verwerk. Ek en twee van my vriendinne het dan toestemming gekry om die kind se kamer te verf en mooi te maak. Ons het van skenkings gebruik gemaak en in baie gevalle het ons tweedehandse meubels: bedjies, stoele, kassies en bedkopstukke, gekry wat in ‘n gehawende toestand was. Ek het dit dan afgeskuur en weer vernuwe.

Op ‘n bepaalde dag, het ons dan gereël dat die kind na die naaste Wimpy toe gaan en daar ontvang die kind dan ‘n volledige “gratis” ete. In een besonderse geval, het die brandweer ‘n seuntjie (hy was ses jaar oud en het Limfkanker gehad) voor sy huis kom optel, met sirenes en al! Dit was so teen agt uur op ‘n baie koue wintersoggend. Ons het almal buite gewag vir die brandweer, en toe ons die sirene hoor, het daardie seuntjie amper uit sy vel gespring. Hy kon nie wag nie!

Die brandweerman het voor die huis gestop, die seuntjie opgetel en hom binne in die brandweerwa gesit. Hulle het vir hom ‘n helm op sy kop gesit en probeer om vir hom ‘n brandweerman se baadjie aan te trek. Die kind se gesiggie het gestraal van plesier en ons?...Ons het langs die pad gestaan en trane afgedroog.

Toe die kind uiteindelik weer by die huis kom, was sy kamer gereed! Ons het ‘n karretjie teen sy kamermuur geverf , nuwe gordyne opgehang en ‘n nuwe Duvetoortreksel oor sy bed gegooi. Daardie seuntjie het na die karretjie gekyk en gesê: “Mamma, as ek weer pyn het, kan ek in die karretjie inklim en wegry?”

Ek het ‘n dertienjarige meisie, wat swanger was se kamer vir haar oorgedoen en vir haar ‘n splinternuwe bedjie laat maak, met ‘n spieëlkas daarby. Sy het nog nooit so iets gehad nie en ek het ook verstaan waarom sy swanger was. Haar vreugde was so groot toe ek uiteindelik klaar was met die kamer. Haar baba is uiteindelik gebore en sy is terug skool toe.

Die laaste geval was ‘n Mamma wat saam met haar twee seuns (11 en 16) in ‘n motorhuis gewoon het. Die dak het gelek en die jongste seun het saam met sy ma op die dubbelbed geslaap terwyl Ouboet op die grond geslaap het. Ons het ‘n skenking gekry vir ‘n splinternuwe “Bunkbed”. Het gordyne en nuwe duvetstelle gekry, die motorhuis uitgeverf en die dak reggemaak. Ons kon nie ons trane keer, toe daardie familie die verandering sien nie.

Ek moes egter Patch My Room toe maak hierdie jaar, want my vriendinne het elkeen sy eie belange en ek het Kaap toe verhuis. Ek kan dit nie meer alleen behartig nie en ek het ook nie stoorplek vir die meubels wat geskenk word nie, maar my hart sal altyd in Patch My Room bly, want dis waarvoor die Heer my geroep het!

Ek het verlede jaar, op Kersdag soos ‘n Kersvader aangetrek en na ‘n familie gegaan, wat baie swaar gekry het. Die Pappa en Mamma was werkloos en daar was nie ‘n druppel kos in hulle huis nie. Ek het geskenkies vir elkeen van hulle gaan afgee. Hulle bure het natuurlik, baie nuuskierig in die straat kom staan en ek het gewonder hoeveel van hulle het al ooit vir daardie familie ‘n brood gekoop? Die kinders was baie goed gemanierd en die een seuntjie het my om my been gevat, my teen hom vasgedruk en die trane het geloop. Hy het net gesê: “Is dit regtig my persentjie? Kan ek dit regtig kry?”

Ek het met trane in my oë weggery.

Elke dag moet Kersfees wees, wanneer ek by iemand verby loop. Ek weet nie wat in die ander persoon se lewe aangaan nie. Ek weet nie (al is die persoon hoe goed geklee) of hy of sy vanaand ‘n brood het om te eet nie. Wanneer ek sien dat iemand by ‘n inkopiesentrum sukkel om sy sente af te tel, net om vir ‘n halwe brood te betaal, dan betaal ek dit vir hom. Soms gee ek vir ‘n kindjie ‘n R5.00 , die verrassing op die ouers se gesig en die vreugde wat daardie kind ervaar, is onbeskryflik!

Ek weet nie…, maar ek glo dat hierdie Kersfeesbriefie, vir elkeen ‘n oomblik van nadenke sal wees. Gaan hierdie Kersdag uit, loop net om die hoek en kyk of jy op Kersdag ‘n verskil kan maak.

Ek het nog my Kersvaderklere en ek hoop om weer in iemand se lewe ‘n verskil te maak.

Wees ‘n kersvader vir iemand wat swaarkry, in hierdie feestyd!

Geniet u Kersfeestyd!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

KIEKIES

deur Kiekies

'n Potpourri van aardse en menslike insidente, wat wissel van skreeusnaakse humor tot hartroerende tragedie.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar