Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Eerstens stoot daar ‘n gevoel van bitterheid in my op teenoor sommige ouers. Mense moet nou nie hier kom sê dat ek alle ouers onder dieselfde kam skeer nie, ek besef tog te goed dat daar baie ouers is wat hulle deel doen, en ek besef ook dat daar ouers is wat werklik moet werk om net in basiese behoeftes te voorsien. Daar is nie ‘n bediende in daardie huishouding nie en die kinders leer dus om hulle deel te doen. Hulle leer roetine en dissipline, verantwoordelikheidsbesef en dus eiewaarde. Dit kweek respek, nie net vir homself nie maar ook vir ander. Waardering vir dit wat hy het en dit wat hy kry. Jy kan maar ook gaan kyk en sien dat dit hierdie ouers is wat genoeg tyd en aandag aan sy kind gee.

Ek is verbitterd teenoor ouers wat kinders verwek en nie ‘n flenter omgee oor hulle opvoeding nie. Julle kan my maar stenig, maar daar is duisende ouers wat werk net om van die las van huiswerk en kinders- grootmaak te ontvlug. Daar is altyd uitsonderings op die lys, maar dit is hierdie kinders wat geen dryfkrag het nie. Hulle het geen eiewaarde nie, geen selfrespek nie. Hulle voel: “Laat God’s water maar oor God’s akker vloei.
Niemand gee om nie, hoekom moet ek. Ek het nog nooit vir iets gewerk nie, hoekom moet ek nou?”

Daar is wel kinders wat uit sulke en ander haglike omstandighede kom, wat besef dat hulle anders wil wees.
Dit is gewoonlik vir daardie kinders waar die onderwyser sy goud werd is in dubbel sy gewig. Hy of sy is die steunpilaar vir daardie kind wat wil. Die onnie is die opvoeder. Vir daardie onnie is skoolhou ‘n roeping, nie ‘n werk nie. Vir ons samelewing is hierdie onnie onvervangbaar.

Regte? As kind het ek geen regte gehad nie. Slegs voorregte. My kinders het ook geweet dat kinders voorregte het. Dit was ONS as OUERS se VERANTWOORDELIKHEID om toe te sien dat ons kinders ‘n dak oor hulle kop, klere aan hulle lyf, ‘n goeie opvoeding ens. gekry het. Dit was nie hulle REG nie. Ek het my kind ‘n goeie opvoeding gegee want EK was, is en sal altyd, VERANTWOORDELIK vir sy optrede wees. Voetsek met jou REGTE!!

Kinders wat oorbeskerm word leer nooit om verantwoordelike grootmense te wees nie. As ‘n kind verkeerd opgetree het moet hy verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Die onderwyser het meer as genoeg werk om te doen, dink jy hy is sommer net verveeld en roep jou in vir ‘n bietjie geselskap? Nee, hy is besorgd oor jou kind se opvoeding, want dit is wat hy is, ‘n OPVOEDER. Hy doen dit nie omdat hy MOET nie, hy doen dit omdat hy WIL !! Die minste wat jy as ouer kan doen is om die onderwyser by te staan in sy taak wat eintlik jou taak is.

Jy as ouer moet beheer hê oor jou kind. Hierdie beheer kry jy van sy geboortedag af. Dit is HIER waar dissipline en roetine begin. Jou verantwoordelikheid begin by konsepsie, maar jou beheer begin hier. Sodra jy beheer aan die kind afstaan sal hy of sy jou oorheers en jy sal nog lang trane huil.

Volgens my is enige onderwyser goed toegerus om probleme te hanteer. Daardie “hands on” ervaring wat hy elke dag opdoen gaan elke sielkunige verby. Teorie is een ding, maar hy pas daardie teorie elke dag toe en hy kan sien wat werk en wat nie. Die sielkundige moet kom handvat en nouer met die onderwyser saamwerk. Hy het baie om by die onderwyser te leer.

Een leemte wat daar wel bestaan , is dat onderwysers wat vir skoolbeginners skoolhou, nie goed genoeg toegerus is om leesprobleme te identifiseer nie. As ek my sin kon kry sou ek daar ‘n verandering wou sien plaasvind en ek werk hard daaraan.

Wat baie verblydend is, is dat daar ‘n tendens onder jong ouers is wat sug na inligting oor kinderopvoeding. Nie soseer net boekekennis nie, maar hulle klop aan vir hulp by dié met ervaring van kinders grootmaak. Daar is ‘n vlaag van belangstelling. Dit is hier waar die onderwyser, nie net in sy hoedanigheid as onderwyser nie, maar ook as ouer, bydraes van onskatbare waarde kan maak. Weereens, nie omdat hy MOET nie, omdat hy WIL.

Laastens, ons het kinders gekry om van hulle aanvaarbare volwassenes te maak wat hulle plek volwaardig in die samelewing kan volstaan. Hulle moet die aanslae en uitdagings van die lewe met moed, durf en daad kan aanpak. As ons daarin slaag, dan slaag ons in ons roeping as ouers.

Piet Mariet




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Met graagte
Natuurlik kan jy dit opteken Meraaitjie.
Ek wil sommer van die geleentheid gebruik maak om dankie te sê vir al jou tyd wat jy in hierdie projek insit. Jy is voorwaar 'n voorbeeld vir ons almal. Jou liefde vir ons mooie taal is so onbaatsugtig, ek lig my hoed vir jou en maak 'n nederige kniebuiging.
12 jaar 5 maande 1 week 6 ure oud


‘n Saak het altyd twee kante!! Dit ís die ouer se verantwoordelikheid en plig om sy kinders op te voed, maniere te leer en om respek vir ander en vir hom/haarself te hê en dt is nie die onderwyser se hooftaak om kinders op te voed nie…, maar ons moet nooit uit die oog verloor dat ‘n skool ook nog altyd ‘n opvoedkundige, sowel as ‘n akademiese inrigting is nie. So die onderwysers mag nie skoueroptrek vir swak opgevoede kinders nie: dit is die ouers wat gefaal het, nie die kind nie! Maar ek weet darem ook dat die “ware” onderwyser/opvoeder baie swaar trek met dié ongedissiplineerde leerders en hul ouers van vandag…; ongelukkig is daar ook te veel “nuwe” onderwysers wat die skooldag omvloek/omsit en ombid, niks gepla oor wat enige kind in sy klas doen/sê of hoe hulle vorder of nie, net wagtend vir die tjekkie aan die einde van die maand! Dis die bose kringloop van die misbruik van die “menseregte”-gogga, glo ek! Goeie artikel!

12 jaar 8 maande 3 weke 4 dae 20 ure oud


Opvoeding
Piet Magriet dit is 'n goeie artikel. Ek glo dat opvoeding moet by die kinders se ouers begin. Die onderwysers is daar om kinders te leer en nie om hulle op te voed nie.
12 jaar 8 maande 4 weke 4 ure oud


'n Waardevolle bydrae
Dankie Madz,
Jy het waarlik 'n waardevolle bydrae hier gelewer.

As jong ouers net kan besef hoe belangrik dit is om dit wat jy hier gesê het na te volg. As ons jonk is besef ons nie hoe gou gaan die tyd verby nie. Die tyd wat ons het om met ons kinders te spandeer is in 'n oogwink verby.

Daar is niks wat 'n kind meer sekuriteit gee as juis dissipline, roetine en konsekwensie nie.

Hier gee jy ook nou die bewys daarvan dat 'n gedissiplineerde kind 'n plesier vir sy ouer en die samelewing is.

Hartlike groete,

Piet Magriet
12 jaar 8 maande 4 weke 11 ure oud


Kinderopvoeding en die onderwyser
Al wat ek kan se is Amen! My drie kinders is tieners en ek dank die Here dat ek my instinkte gevolg het en hulle met roetine en reels grootgemaak het. Vriende en selfs familie het gemeen ek is te streng en vele wenkbroue het gelig omdat ek onder andere nie my kinders in die bed tussen my en my man laat slaap het nie. Hulle was terselfdertyd verstom omdat die kinders sonder om te murmureer bedwaarts gekeer het sodra slaaptyd aangebreek het. My doel met my kinders was om hulle so groot te maak dat hulle grootmense sal wees waarvan ander mense hou. Grootmense wat weet van regverdigheid en dat reels vir mens se eie beswil daar is. Grootmense wat weer van wedersydse respek. Einste vriende se kinders is reeds seksueel aktief, rook, drink en het min respek vir hulle ouers en ander grootmense. Soos wat my kinders groter geword het, het ek hulle meer vryheid gegee, gaanslaap-tyd het later geword en ek kon met vrede in my hart vertrou dat my kinders nie ongoddelike dinge sal aanvang as hulle nie by die huis is nie. Omdat ons, vandat hulle baie klein was, elke week 'n huisvergadering gehou het waar elkeen sy se kon se sonder enige nagevolge, praat hulle vandag met my oor alles wat in hulle lewens aangaan - die wedersydse vertroue ding. Ek is mal oor my kinders en ek sal my sekerlik doodhuil wanneer hulle begin om die huis te verlaat. Ek glo in my hart hulle is mal oor my ook en dat hulle ons huis as 'n veilige hawe sal beskou waarheen hulle keer op keer kan terugkeer - maak nie saak hoe oud hulle is nie. Al wat ek vir jong ouers kan se is dit: onthou dat daardie mensie net joune is. Dis 'n vorm van eienaarskap wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. Reels, dissipline, roetine is vir jou kind se eie beswil. Dis baie makliker om gods water oor gods akker te laat loop as mens moeg van die werk af kom, maar as jy te lank talm om hiermee te begin is die skrif aan die muur, die gort gaar en sal die popo sekerlik nog die fan strike. Aan onderwysers: my hart gaan na julle toe uit. Nie alleen is talle ouers onbetrokke en onbekommerd nie, julle mag ook nie meer dissipline toepas soos dit hoort nie. Ek is een van duisende ouers wat julle aandeel in hierdie grootmaakproses erken en waardeer.
Madz
12 jaar 8 maande 4 weke 12 ure oud


Plig en versuim.
Ek sit lankal met 'n artikel wat verskeie van jou punte sal beklemtoon. Regte teenoor verantwoordelikheid; opregte belangstelling teenoor gekoopte aandag ens. En dit is gemik op ons eie blanke nasie!! Sterkte met jou stryd, Vossie.
12 jaar 8 maande 4 weke 21 ure oud


Kinderopvoeding
Jy slaan die spyker op die kop, en ek vermoed daar gaan dalk 'n paar mense wat nie gaan hou van wat jy opmerk nie. Sowat van bederf en opheffing maak van regte en terselfdertyd vergeet van verantwoordelikheid het ek lanklaas gesien. Ek sien dikwels hoe mense (daar is altyd uitsonderings) die maklike uitweg kies en kinders se respek, liefde ens "koop" eerder as om dit op die regte manier te doen. En as jy durf daaroor praat is die hel los. Los hulle, oor so 12 jaar sit hulle met die bollie.
12 jaar 8 maande 4 weke 1 dag 8 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Dagboek van die tuinvoëls

deur http://www.woes.co.za/

Spesiale gevalle van interaksie wat tussen die tuinvoëls onderling asook met ander wesens plaasgevind het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar