Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Onlangs is daar baie geskryf oor ons jeug wat stukkend is en verlore raak in die donker skadus van die lewe. Selfs ek het geskryf oor die misbruik van onskuldige kinders. In al die stukke wat oor hierdie onderwerp geskryf is, is daar ‘n beroep gedoen om ouers bewus te maak hiervan, dat ouers moet wakker skrik en oplet na hul kinders se optrede en gedrag. Die doel hiervan is om te poog om kinders beter te beskerm teen die donker magte van die lewe, teen misdaad, misbruik, dwelms, drank en vele meer. Hieraan skenk ek my volle steun. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms.

Vandag wil ek ‘n klip in die bos gooi en ‘n vraag vra. Wat van die onskuldige ouers?

Toe my lewe uitmekaar geval het, en ek vir ‘n paar jaar na my egskeiding soos ‘n gek geleef het, het ek welliswaar foute gemaak, later berou gekry, vergifnis gevra en begin werk daaraan om myself te vergewe. Ek het voor in die ry gaan staan en heel eerste die vinger na myself gewys, selfs in gevalle waar my optrede en gedrag voortgespruit het uit die optrede van ander, selfs van my kinders. Selveroordelend het ek na myself in die spieël van die lewe gekyk en die blaam aanvaar bloot omdat ek weet dat alhoewel die probleem nie by my ontstaan het nie, ek die situasie wel beter moes hanteer het, bloot omdat ek ouer was en veronderstel was om met groter wysheid op te tree. In ander gevalle was dit eenvoudiger, ek het self foute gemaak en die volle verantwoordelikheid daarvoor op my eie skouers gelaai en daarmee saamgeleef. Dan duik etlike vrae op.

Is ek die oorsaak van my kinders se optrede en gedrag bloot omdat ek ook feilbaar was?

Wanneer gaan die verantwoordelikheid van kinders se optrede en gedrag oor na hul eie skouers?

Moet die ouer permanent verantwoordelikheid aanvaar vir die mislukkings van kinders?

Dan kyk ek na die jeug van vandag, en wonder hoeveel ouers se optrede verantwoordelik is vir die gedrag van hul kinders, en hoeveel ouers daar is wat weet dat hulle nie hul kinders grootgemaak het vir die wêreld nie, dat hulle alles in hul vermoë gedoen het om hul kinders te beskerm, sonder sukses. Na deeglike selfondersoek het ek tot die volgende gevolgtrekking gekom.

In sommige gevalle is ouers wel verantwoordelik vir die optrede en gedrag van hul kinders, in ander is dit die kinders self wat sekere besluite geneem het wat afwyk van die beginsels wat deur hul ouers aan hulle voorgehou is, gesonde beginsels van gelowiges. Dan besef ek dat baie van ons verlore kinders uit eie keuse verlore geraak het. Dit mag so wees dat hulle uit gebrek aan lewenservaring nie noodwendig die rooi ligte gesien brand het nie, dat hulle onverhoeds betrap is deur die sluheid van die wêreld rondom hulle.

Dan sidder ek by die aanskoue van gebroke ouers wat daagliks trane stort oor die weë waarop hul kinders wandel. Ek sien en beleef die gevoel van magteloosheid, ervaar dieselfde pyn en verwerping, die wete hier diep binne my dat ek nie te blameer is vir al hul foute nie, dat kinders dikwels self foute maak en al te maklik die ouers blameer vir hul dilemma.

Daarom wil ek vandag pleit dat ouers hand in eie boesem sal steek, probeer regmaak waar jy verbrou het. Dis egter ook belangrik dat jy jouself die voorreg gun om te besef en te aanvaar wanneer jy kan sê dat dit nie jou skuld was nie. Wees daar vir die kinders wanneer hulle stukkend is, hou aan om hulle lief te hê, ongeag wat hul foute is, hulle het jul liefde nodig.

By kinders wil ek pleit dat hulle sal besef dat ouers nie volmaak is nie, dat hulle ook foute begaan maar dat dit nie beteken dat hulle nie hul kinders liefhet nie. Ek wil ook by die jeug pleit om verantwoordelikheid te neem vir hul eie foute en verkeerde besluite. Moenie die ouers ontneem van jul liefde nie, soos julle, het hulle dit ook nodig.

Omdat ons almal feilbaar is, is dit nodig dat ouers en kinders na mekaar uitreik en mekaar help dra aan die sorge en laste van die lewe. Laat ons dus almal besef dat elkeen van ons ‘n verantwoordelikheid het teenoor mekaar, ongeag van wie se fout dit was wat ‘n probleem veroorsaak het. So het ons egter ook ‘n verantwoordelikheid teenoor onsself om nie onsself te vernietig in ‘n poel van selfverwyt nie, hetsy geregverdigd of nie. Die lewe gaan voort, ons kan saam reis of stilstaan by verwyte, en mekaar uiteindelik verloor.

Wanneer kinders op die wegdraai paaie van die lewe beland dra die ouer of kind nie noodwendig die blaam nie, soms is dit eksterne faktore wat die kind verlei. Dis nie noodwendig die ouer of kind se skuld nie. Saam dra hulle egter die gevolge. So beland ouers ook op die wegdraai paaie as gevolg van omstandighede. Dit vrywaar hulle nie van die keuses wat hulle maak nie, tog moet daar wedersydse begrip wees vir die feit dat ons almal mens is, feilbaar en vol gebreke.

Laat ons dus mekaar die hand reik, in een kamp gaan staan en saam veg teen die donker dinge van die lewe.

 



Spaar Geld op Versekering

Kommentaar

Kinders kan 'n ouer breek. Ek sien my man se trane en my eie hart breek. Pogings van sy kant af om uit te reik faal en die klappe is baie. Sy fout volgens sy kind ... hy mag nie met iemand anders getrou het ná haar ma se afsterwe nie want dit was háár plek as kind van 14 jaar om die leemte te vul. En haar manier om dit te verwerk ... deur haar pa te verwerp, bisarre leuens te vertel vir familie en vriende, en vir die hele wêreld (insluitend die sielkundiges en beraders) in duidelike woorde te sê "ek sal haar vernietig al vat dit my 'n leeftyd want sy hoort nie by my pa nie." Hoe maak mens dan reg ... hoe verander jy iemand se sienswyse en gevoelens as die haat soos 'n diep donker vulkaan binne haar is?
4 jaar 11 maande 1 week 5 dae 16 ure oud


Kinders
Ja swaer! Ek kan nou ook al uit ondervinding begin saampraat! Daar was darem al woeste gevegte in ons gesin ook. Ons het BAIE foute gemaak toe ons, ons kind groot gemaak het, maar die invloede van buite was net so rof. Etienne is uit die huis die oomblik toe hy sy eerste salaris verdien het... in 'n stofwolk! 'n Paar maande later het hy in trane by my gestaan en om vergifnis gevra. En nodeloos om te sê: my trane het ook gerol, en Frans s'n, toe hy vir ons sê hy wou geen ander ouers ooit hê nie, want hy weet die meeste foute was sy eie, en hy is vreeslik lief vir ons.

Vandag praat hy oor al sy dinge openlik met ons. Hy sal ons in die middel van die nag wakker maak as hy probleme het. En hy sal sy hande stompies baklei vir ons! (Weet ons nou uit ondervinding). Die Here het ons baie meer geseën met hom as wat ons ooit besef het!

Maar ja, hy is nog jonk, ons bid maar vir die beste op die pad vorentoe! En ons het net een om ons oor te kwel...




5 jaar 1 maand 1 week 2 dae 13 ure oud


Kinders en Ouers
Dit is inderdaad so, dat ouers hul kinders se hande sal vat en hulle lei. Die probleem is net dat ouers dikwels nie weet HOE nie. 'Die manual pop nie saam die baby uit nie'

Daar is wel verskeie kursusse in ouerskap beskikbaar. Doen asb. een waar die kuns van LUISTER vir jou as ouer geleer het. So kan jy leer om jou kind op die regte manier te beinvloed.

Zebeth
5 jaar 1 maand 1 week 6 dae 16 ure oud


Dis 'n ernstige saak hierdie, met baie fasette. Maar soos jy se die geheim is vir die hande vat. Die liewe hande vat, selfs daar waar satan wil kom roof en steel met leuens, onvergifnis, bitterheid, wraak, woede, ens. Iemand moet egter net bereid wees om eerste sy hand uit te steek. Ek hoop daar word aan die skrywe van jou gekou. Wel gedaan.
5 jaar 1 maand 2 weke oud


v99
Vandag met ouers te doen gekry wat hulle kinders volgens die Woord grootgemaak het en toe die aan Universiteit kom, weg van die struktuur wat volgens hulle te streng was het hulle op verkeerde pad beland. Die ouers was nie daar om leiding te gee nie en die kinders het hul eie besluite geneem- tot hul eie nadeel. Genadig is die ouers daar en probeer verstaan, maar bly lief vir hulle. By kleiner kinders is daar tog die disipline nodig om hulle teen hierdie gevare te beskerm en dis baie keer waar ons as ouers faal. Stem saam net die Liefde sal oorwin. Dankie vir goeie artikel.
5 jaar 1 maand 2 weke 3 ure oud


Kinders en Ouers
En die liefde bedek alles, glo alles, verdra alles. Alles sal vergaan maar wanneer mens saamstaan kan dit die verlede "nie noodwendig uitwis nie" maar dit kan 'n nuwe toekoms skep en gesinne kan deur liefde die verskille oorwin.
Groete
Tebseil
5 jaar 1 maand 2 weke 12 ure oud


Op 'n stadium sê die Woord dat groen druiwe wat die ouers eet die kinders se tande sal stomp maak. Maar die Here se genade het dit later omgekeer en dit sê: Slegs elkeen wat groen druiwe eet se eie tande sal stomp word...
Elkeen moet leer om verantwoordelikheid vir sy eie lewe te neem... maar ek erken dit is vir 'n ouer ongelooflik swaar om te weet dat keuses wat hy/sy gemaak gemaak het negatiewe invloede op hulle hartskinders het.
Goed geskryf.
5 jaar 1 maand 2 weke 14 ure oud


Die liefde bedek menige oortredinge. Jou artikel het my aan hierdie Bybelvers laat dink. Dit en aan die genade van vergifnis.
Pragtig geskryf.
5 jaar 1 maand 2 weke 1 dag 9 ure oud


skitterend geskryf, die hoort in klomp tydskrifte.
a.
5 jaar 1 maand 2 weke 1 dag 9 ure oud


Kinders
n luide applous vir die een dit is een uitstekende artikel en ek kan net saamstem met elke woord soos dit geskrywe staan, om mekaar te verwyt en die skuld oor en weer te laai bring niemand niks in die sak nie, saamsaan en saamveg, bewapen met kennis en bid, pragtige artikel bigfoot..m
5 jaar 1 maand 2 weke 1 dag 10 ure oud



WELDADE EN MISDADE

deur Piet Schoombie

Vier en twintig lekkerlees kortverhale en artikels oor 'n verskeidenheid onderwerpe en situasies.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar