Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ter inleiding
Kodewisseling of die wisseling van ‘n spreker tussen verskillende tale of variëteite binne ‘n spreekbeurt sonder om van onderwerp of spreker te verander (Du Plessis 1998, Poplack 2004, Myers-Scotton 1992) is ‘n wydverspreide sosiolinguistiese verskynsel in Suid Afrika se multitalige en multikulturele samelewing (Rose & Van Dulm 2006). Elf amptelike tale en ‘n groot verskeidenheid variëteite binne hierdie tale sorg dat ‘n groot deel van die publiek twee- of meertalig is; dus is kodewisseling iets wat daagliks in interkulturele gesprekke en gesprekke tussen twee sprekers van dieselfde taal wat kennis van meer as een taal deel, plaasvind (Rose & Van Dulm 2006).
Kodewisseling kan op enige taalkundige vlak plaasvind, en daar is ‘n wye reeks teoretiese perspektiewe in die studie van kodewisseling. Volgens Poplack(2004:1) is dit egter die “kombinasie van tale in ‘n enkele sin, sinsdeel of woord wat vir taalkundiges die meeste van belang is”. Die gebruik van kodewisseling, veral die vermenging van Afrikaans en Engels of die sogenaamde “Engfrikaans” in letterkundige werke soos Jackie Nagtegaal se Daar’s vis in die punch(2002) het groot opspraak gemaak en na sterk kritiek van ‘n aantal gevestigde skrywers het die daaropvolgende debat dit “duidelik gemaak dat Afrikaans steeds ‘n gelade onderwerp is in die nuwe millennium” (John 2004:24). Die kwessie oor taalsuiwerheid vs. die outentisiteit van die roman wat versterk word deur die gebruik van niestandaardtaal het dus op die voorgrond gekom en dit is duidelik dat, veral in die geval van Daar’s vis in die punch, die taalgebruik ‘n belangrike rol in die sosiale konteks en kritiek van die roman speel(John 2004:25). Jeanne Goosen se ‘n pawpaw vir my darling(2002) wat in dieselfde jaar verskyn, inkorporeer dieselfde tipe gemengde taalgebruik om sodoende kritiek te lewer op die werkersklas en hul bestaan in Suid Afrika na 1994.
Hierdie referaat sal eerstens kodewisseling en die teoretiese perspektiewe daarom ondersoek ten einde vas te stel of daar spesifieke soorte kodewisseling kan plaasvind en hoe dit binne die sosiale konteks funksioneer. Daarna sal kodewisseling in letterkunde oor die algemeen bespreek word, en of skrywers ‘n letterkundige doel in die gebruik daarvan het. Laastens sal die kodewisseling wat in ‘n pawpaw vir my darling plaasvind ondersoek en geplaas word in moontlike kategorieë wat deur die teoretiese ondersoek vorendag gekom het. Daar sal ook ‘n kort bespreking gedoen word rondom die doel van die kodewisseling in die spesifieke teks.
Kodewisseling
Volgens Poplack (2004) verwys kodewisseling na tweetalige of meertalige mense se vermenging van twee of meer tale in diskoers, dikwels sonder ‘n verandering in spreker of onderwerp. Du Plessis (1998:24) waarsku egter teen die onderskeid wat getref moet word tussen stylwisseling en kodewisseling. Styl en kode moet dus duidelik van mekaar onderskei word, waar styl ‘n beperkte begrip is, en kode verstaan kan word as enige moontlike variëteit binne ‘n taal, of ander tale. “Kodewisseling beteken dan teen hierdie agtergrond die wisseling wat een spreker in ‘n gesprek toepas tussen variëteite van dieselfde taal of tussen tale” (Du Plessis, 1998: 24). Wat betref variasie en variëteit, onderskei Du Plessis (1998) tussen kontakvariasie en interne variasie. Waar daar variasie binne in ‘n taal voorkom wat nie deur kontak met ‘n ander taal beïnvloed word nie staan dit bekend as interne variasie, en sluit dit begrippe soos sosiolekte, geolekte, styl en register in. Kontakvariasie is dan daarenteen variasie wat beïnvloed word deur kontak met ‘n ander taal. Alhoewel wisseling tussen beide hierdie tipe variante as kodewisseling gesien kan word, sal hierdie ondersoek hoofsaaklik fokus op kontakvariasie in kodewisseling. Oor die studie van kodewisseling sê Poplack (2004) “Mixing may take place at any level of linguistic structure, and a long research tradition has grown up around questions of language choice and language negotiation among interlocutors in bilingual contexts”. Dus is daar ‘n wye reeks teoretiese perspektiewe binne die studie van kodewisseling, wat wissel van die soorte kodewisseling, redes daarvoor, en die kwessie of daar sekere reëls is wat toegepas word wanneer kodewisseling plaasvind, al dan nie, en strukturele beperkings. Daar sal nou gekyk word na enkele van hierdie perspektiewe, ten einde meer duidelikheid te verkry oor die tipes kodewisseling en sosiale kontekste waarbinne dit ontstaan.

In ‘n artikel deur Van Dulm (2002) word daar onderskei tussen drie tipes kodewisseling, naamlik ekstratalige kodewisseling, intertalige kodewisseling en intratalige kodewisseling.
Ekstratalige kodewisseling behels dat ‘n hele frase uit een taal in ‘n uitspraak wat gemaak word in ‘n ander taal gevoeg word. Die voorbeeld wat gegee word uit die studie is: “O nee hier’s paar goedjies, sorry” (Van Dulm 2002:64).
Intertalige kodewisseling vind plaas by die grense in ‘n sin. Dit wil sê tussen twee sinsdele, of tussen twee sinne, byvoorbeeld “I love Horlicks maar hier’s niks”(Van Dulm 2002:64).
Laastens staan die wisseling wat plaasvind binne ‘n enkele sinsdeel bekend as intratalige kodewisseling, byvoorbeeld “Ek weet nie of daar iets down my throat was nie” (Van Dulm 2002:64).
Verder ag Van Dulm dit nodig om onderskeid te tref tussen kodewisseling en leenwoorde, kodevermenging en interferensie.
Leenwoorde was aanvanklik kodewisseling, maar oor tyd het die gebruik van die leksikale toevoeging uit die ander taal meer gereëld begin plaasvind. Uiteindelik is die toegevoegde woord klankmatig, morfologies en sintakties aangepas binne die taalreëls van die taal en dus geïntegreer binne die leksikon van die taal. Hierdie verskynsel kan ook plaasvind met uitdrukkings en idiome. (Van Dulm 2002, wat verwys na Muysken 1995).
Kodevermenging is ‘n voorbeeld van ingevoegde kodewisseling, waar ‘n woord uit taal A geneem word en binne ‘n uitspraak in taal B geplaas word, waar taal B duidelik die dominante taal is. (Van Dulm 2002, wat verwys na Hamers & Blanc 2000). In teenstelling met kodevermenging is intratalige- en intertalige kodewisseling voorbeelde van afwisselende kodewisseling (Van Dulm 2002:65). Gebruikers van hierdie tipe kodewisseling benodig grammatikale kennis van beide die tale wat gebruik word.
Laastens word interferensie bespreek: Van Dulm wys daarop dat daar verskeie definisies van interferensie is, maar dat hulle nie die verskil tussen interferensie en kodewisseling heeltemal duidelik maak nie. Van Dulm gebruik Grosjean(1984) se mening dat interferensie die onwillekeurige invloed van een taal op ‘n ander een is word aangehaal waarop Van Dulm uitbrei: “Waarop dit neerkom is dat kodewisseling willekeurige gedrag is waaroor ‘n vlot tweetalige persoon beheer het, terwyl interferensie onwillekeurig plaasvind, as gevolg van die invloed van een taal op ‘n ander” (Van Dulm 2002:66).

In ‘n artikel oor die sosiale doel van kodewisseling van Amerikaners in Duitsland noem Du Bois(2009:2) dat Blom en Gumperz (1972) twee tipes sosiale funksies van kodewisseling geklassifiseer het. Metaforiese kodewisseling vind plaas wanneer die spreker die klem na iets aktueel verskuif. Die wisseling word gebruik vir kommunikatiewe effek, en skep ‘n soort retoriek. Situasionele kodewisseling behels ‘n verandering in deelnemers of strategieë, met ander woorde, die wisseling sal waarskynlik plaasvind wanneer die gesprek se situasionele konteks verander het.

Volgende moet daar gekyk word na die sosiolinguistiese aspekte van kodewisseling. Taal speel ‘n belangrike rol binne enige mens se sosiale identiteit. In Suid Afrika, waar daar so baie tale en kulture in wisselwerking is met mekaar, is dit dikwels ‘n baie belangrike faktor om in ag te neem. Aangesien die meerderheid van Suid Afrikaners meertalig is, vind kodewisseling dikwels en toenemend plaas om verskeie redes.
Du Bois (2009:1)) kom in haar studie tot die gevolgtrekking dat “interkulturele identiteite geskep word deur die gebruik van kodewisseling”. Volgens Du Bois word kodewisseling nie gebruik omdat ‘n spreker lui is, of nie taalvaardig genoeg is nie, maar dikwels is daar “simboliese waarde” daaraan verbonde. Deur die keuses wat tydens kodewisseling uitgevoer word kan daar gesien word wat een taal se verhouding tot ‘n ander een is. Dus word nie slegs die betekenis van die kode oorgedra nie, maar ook bykomende, subtieler inligting.

Met ander woorde, taal ideologieë en wat geassosieer word met tale met spesifieke sosiale voorkeure verskaf ‘n konteks van vooropgestelde idees wat keuses van kode beduidend maak. Dus gebruik kodewisseling in gesprekke die taalideologiese aannames om sosiale kontekste soos etnisiteit, mag en prestige, solidariteit en sosiale verhouding uit te lig. (Du Bois 2009:2)

Die idee dat die keuses binne kodewisseling deur sosiale en psigologiese assosiasies gedryf word, het vorm gegee aan Myers-Scotton se Markedness Model (Myers-Scotton 1992). In die model kan kodewisseling “marked” of “unmarked” wees. “Unmarked” kodewisseling is dan dit wat die taalgemeenskap verwag, en “marked” kodewisseling, dit wat nie verwag word nie. “Die Markedness Model gebruik die “marked” vs. “unmarked” onderskeid as ‘n teoretiese stuk gereedskap om die sosiale en psigologiese motivering vir een keuse van kode bo ‘n ander te verduidelik” (Rose & Van Dulm 2006:3).
Volgens hierdie model het sprekers dan kennis van die “markedness” van ‘n keuse, en kies hulle hul kodes so dat dit die sosiale verhouding uitbeeld wat hulle op daardie stadium wil uitstraal. Sprekers is ook bewus van die gevolge van hul keuse van kode. Hierdie aspek van die model is gebaseer op Grice se “co-operative principle” en die spreker “onderhandel” dan met sy taalkeuses. Hieruit spruit die konsep van regte-verpligtinge balans: wanneer ‘n spreker van kode wissel is dit ‘n onderhandeling betreffende die regte-verpligtinge balans tussen spreker en hoorder. Sprekers gebruik die norme van hulle gemeenskap om uit te werk watter regte-verpligtinge balans verwag of “unmarked” is in ‘n gegewe gesprek” (Myers-Scotton 1992: 167). Die regte-verpligtinge balans ontstaan as gevolg van sekere situasionele eienskappe soos ouderdom, geslag, werk, status en etniese groep en sprekers baseer die “markedness” van die gekose kode op hierdie faktore.

In die model onderskei Myers-Scotton verder tussen vier sosiale funksies van kodewisseling, naamlik “unmarked” kodewisseling, opeenvolgende “unmarked” kodewisseling, “marked” kodewisseling, en ondersoekende kodewisseling (Myers-Scotton 1992: 169).
Opeenvolgende “unmarked” kodewisseling vind plaas wanneer sprekers ‘n reeks “unmarked” kodes wissel om enige verandering in die regte-verpligting balans te bespeur. Die sosiale motivering van so ‘n wisseling is om verandering in situasionele faktore en die belangrikheid van eienskappe te bepaal (Myers-Scotton 1992: 170 en Rose & Van Dulm 2006:4).
“Unmarked” kodewisseling vind plaas wanneer sprekers voel dat hulle meer dimensies van hul omstandighede moet uitbeeld as wat een kode moontlik maak, dus is twee of meer kodes vir hulle nodig om hulle regte-verpligtinge balans voor te stel. Kodewisseling sal dan gebruik word om ‘n spreker se opvoeding of outoriteit uit te druk (Myers-Scotton 1992: 170 en Rose & Van Dulm 2006:4).
Wanner ‘n spreker kode wissel in so ‘n mate dat die regte-verpligtinge balans versteur word op ‘n onverwagse manier, vind “marked” kodewisseling plaas. Dit gebeur dikwels in gesprekke tussen meertalige sprekers waar die regte-verpligtinge balans duidelik is, maar een spreker homself dan wil disassosieer met die balans, en ‘n nuwe een in werking wil stel. (Myers-Scotton 1992: 172 en Rose & Van Dulm 2006:4).
Laastens is daar ondersoekende kodewisseling. Hierdie keuse het ‘n ondersoekende funksie en dit kom veral voor in situasies waar die sprekers onseker is oor die regte-verpligtinge balans van ‘n sekere sosiale omgewing nie, of as die spreker nie genoeg kennis van sy gespreksgenoot dra om ‘n ingeligte besluit te neem nie, al is hy bewus van die gepaste sosiale faktore. Die spreker sal dan ‘n kode probeer, die hoorder se reaksie evalueer en dalk ‘n ander kode kies (Myers-Scotton 1992: 176 en Rose & Van Dulm 2006:4).
Jeanne Goosen as skrywer
Jeanne Goosen is ‘n bekroonde Afrikaanse skrywer. Sy lewer ‘n groot verskeidenheid prosa, poësie en drama stukke, en is ook betrokke by verskeie koerante, onder meer die Oggendblad.
Sy is in 1940 in Parrow naby Kaapstad gebore – na die voltooiing van haar skoolloopbaan het sy ‘n groot verskeidenheid uiteenlopende beroepe beoefen. Sy was onder meer bibliotekaris by die Vloot, stoorkamer werker, vertaler, boer, visser, afslaer, joernalis en skrywer. Dit is dan verstaanbaar dat hierdie groot platform van ondervinding deurslaan in haar letterkundige werke, maar dit is haar lang verbintenis met die joernalistiek wat die grootste impak daarop gehad het (Swanepoel 2006: 456).
Sy raak in die jare 70 betrokke by die tydskrif Wurm, waar sy in aanraking kom met talle kunstenaars en skrywers wat hulle verset teen die sensuur wetgewing. In hierdie tydperk het sy die skilder Walter Battis ontmoet, en sy “Eiland van verbeelding” maak ‘n diep indruk op haar. Gevolglik is daar terugkerende temas in haar werk wat elemente van verset teen burgerlike norme het – ontvlugting deur fantasie skepping is pertinent in haar oeuvre (Swanepoel 2006:457).
Sy word ook baie beïnvloed deur die Amerikaanse skrywer Raymond Carver, en volgens Swanepoel (2006:457) kan sy invloed gesien word in die “burgerlike bestaan met sy kru ekonomiese werklikhede, asook die pyn, passie en aspirasies van die burgerstand, wat veral in Goosen se later werke neerslag vind”. Dit is dan hierdie tema wat ook die duidelikste deurslaan ‘n pawpaw vir my darling(2002). In haar skryfwerk is die fokus dikwels op die werkersklas en die verslegtende sosio-ekonomiese toestande wat vir hulle ‘n groot werklikheid is – hierbinne gebruik sy graag fokalisators wat op die oog af eenvoudig is om satiries sosiale kommentaar te lewer.
Goosen se oeuvre is ook kenmerkend van die vroulike skryfwyse en alhoewel sy in prosa werke soos Ons is nie almal so nie terugbeweeg na ‘n lokale realisme wat kenmerkend is van ouer Afrikaanse prosa (Swanepoel 2006:457) is daar tog ook baie kenmerke van feministiese vertelhandeling. “Jeanne Goosen het al by verskeie geleenthede die kontoer van die Afrikaanse vertelkuns verander” (Hambidge 2002).
‘n pawpaw vir my darling(2002) is goed ontvang deur resensente. Joan Hambidge meen dat die roman ‘n “bytende klap in die rigting van die nuwe Suid Afrika” (Hambidge 2002) is en dat dit vernuftige sosiale en roman kommentaar lewer. Marlene van Niekerk skryf weer dat “die boek effektief neerkom op ‘n gesellige satire van Suid Afrikaanse toestande soos wat dit na 1994 uitpak in ‘n sedertdien gemengder-wordende werkersklas buurt in Damnvill” (Van Niekerk 2002). Dit is dan juis die feit dat die werkersklas buurt “gemengder-wordende” is dat die roman so ‘n goeie studie van kodewisseling binne die Suid Afrikaanse konteks maak. Die karakters in die roman wissel in feitlik elke spreekbeurt van kode – taalgebruik wat sedertdien ‘n warm onderwerp in die taaldebat veroorsaak het.




Kodewisseling in letterkunde
Kodewisseling is ‘n verskynsel wat volop voorkom in meeste meertalige persone se lewe. Dit is dan vanselfsprekend dat dit in letterkunde geïnkorporeer moet word aangesien dit so ‘n groot rol in baie sosiale raamwerke speel. Martin (2005:403) voer aan dat ‘n skrywer nie kodewisseling gebruik as ‘n arbitrêre aksie of die eenvoudige poging om die praatwyse van haar omgewing vas te vang nie, maar dat dit voortspruit uit ‘n aktiewe keuse aan die skrywer se kant om ‘n sekere effek te skep. Dikwels het die gebruik van kodewisseling tot gevolg dat “’n veelvoudige perspektief geskep word wat die skrywer se vermoë om sy of haar onderwerp te beskryf heelwat verbeter” (Martin 2005:403). Martin baseer insigte in haar artikel oor kodewisseling in Amerikaanse letterkunde op Mikhail Baktin (1981) as sy sê dat die interaksie tussen verskillende tale en hul variëteite deel is van die genre van die roman. Dus is kodewisseling eintlik ‘n onlosmaaklike deel van die prosa aangesien dit ‘n “diversiteit van individuele stemme” (Martin 2005:404) skep wat op ‘n kunstige manier gerangskik is en interaksie met mekaar het.

Die taalgebruik van die karakters in Marlene van Niekerk se bekroonde roman Triomf(1994) is deurspek met talle elemente wat as niestandaardtaal beskryf sal word nie. Veral die karakter Treppie gebruik gereëld Engelse woorde in sy spreekbeurte, waarvoor daar uiteindelik ‘n spesifieke doel is (Devarenne 2006). In Triomf is taalgebruik van besondere belang in die kritiek wat Van Niekerk lewer: “I argue that in her refusal to privilege the standard form of Afrikaans, Van Niekerk refuses to comply with the hijacking of the language by nationalist ideology” (Devarenne 2006:106). Volgens Martin (2005:404) kan sprekers deur middel van kodewisseling die volle mag van beide tale gebruik, sowel as om ekstra betekenis by te voeg deur te kies in watter situasies hulle van kode verwissel. Devarenne sê dat Treppie gereëld “swakker” Afrikaans gebruik om hom af te sonder van die ideologiese druk van buite (2006:114). Die gebruik van kodewisseling in ‘n literêre teks kan ‘n belangrike bydra maak tot die tema van die roman. Taalgebruik kan so toegepas word dat dit ‘n kodering van die roman se tematiese kwessies tot gevolg het (Devarenne 2006:111).

Jackie Nagtegaal se roman Daar’s vis in die punch, wat ook gebruik maak van ‘n groot hoeveelheid kodewisseling behandel onder andere die eksistensiële probleem van verganklikheid (John 2004:34) en so dan word die vraag “wat bestaan aan die ander kant van Afrikaans?” deur haar karakters se gemengde taalgebruik beantwoord. Die antwoord is dan dat Afrikaans voortaan op Engels sal steun, eerder as om self skeppend te wees (John 2004). Ten spyte van die donker toekoms wat bogenoemde besprekings van kodewisseling in letterkunde verf is daar tog ook argumente van vernuwing in die taal. “Al is Treppie se retoriek in Triomf pessimisties oor die vernuwing van die Afrikaner kultuur, veroorsaak die roman se gebruik van kodewisseling en niestandaardtaal ‘n soort vernuwing deur taal”(Devarenne 2006:113). Oor Nagtegaal se taalgebruik in haar roman sê Brink (2003) “die omvang van die debat laat ‘n mens dink hier is iets prinsipieel in verband met vernuwing op die spel – spesifiek die gebruik van Afrikaans wat van hoek tot kant deurspek is met Engels”. Verder voer Brink(2003) aan dat die tipe taalgebruik in Daar’s vis in die punch heeltemal geskik is om die tipe situasie uit te beeld waarin die karakter haarself bevind. “Juis deur die taal met Engels te vermink, word die prekêre aard van alles waarteen Charlie in opstand is – maar ook die prekêre aard van haar opstand self – skitterend verwoord” (Brink 2003).

Die debat oor “Engfrikaans” in letterkunde duur voort, en alhoewel dit nie al is wat kodewisseling behels nie, dra hierdie inkarnasie daarvan erkende gewig in die Suid Afrikaanse konteks. Dit gaan egter nie hier om die toekoms van Afrikaans as taal nie, maar eerder die gebruike en impak van kodewisseling op ‘n letterkundige werk. Ons kan dus uit die bogenoemde voorbeelde aflei dat kodewisseling wel ‘n groot rol speel in die uitbeelding van temas binne ‘n literêre werk, asook die ontvangs daarvan deur die publiek en kritici, en die skepping van ‘n realistiese sosiale ruimte binne die teks.


Kodewisseling in ‘n pawpaw vir my darling
Daar sal nou in diepte gekyk word na spesifieke verskynsels van kodewisseling wat in die roman ‘n pawpaw vir my darling voorkom. Eerstens moet ons in ag neem binne watter sosiale konteks die gebeure van die roman afspeel: die Beeslaers is ‘n gesin wat in ‘n werkersklas buurt (vermoedelik buite Pretoria) woon in post-Apartheid Suid Afrika. Vir die karakters is die idee dat hulle nou in ‘n “gemengde, reënboognasie” moet funksioneer belangrik. Die verhaal word uit die oogpunt van die gesin se hond Tsjaka vertel, en kodewisseling kom selfs by hom voor: “’ Hond wat meer depressed is as ek, moet nog gebore word.” en “...vir ‘n hond wat hulle ‘n free spirit noem nie”. Hierdie twee gevalle word nie in die boek skuins gedruk of onderstreep nie, en daar is geen poging aangewend om dit visueel te skei van die Afrikaanse teks nie. Hierdie kodewisseling is dan ook voorbeelde van intratalige kodewisseling, omdat dit binne ‘n sinsdeel gebeur. Tsjaka se taalgebruik word ook gekenmerk deur die kombinasie van Afrikaans en Engels om een woord te vorm soos in “...een kant van die jaart uitgecheck om te kyk...”(p.12), “...besig gehou met haar geflirtery...”(p.13) en “Noudat die poskantoor Mabel geretrench het...”(p.17). Dit gebeur dan hier die Afrikaanse grammatika op die Engelse kode toegepas word. Die woord uitgecheck is veral ‘n goeie voorbeeld – in Afrikaanse konteks is dit ‘n deeltjie werkwoord (check uit en uitgecheck) waar dit in Engels slegs as “to check something out” kan bestaan. Hierdie is verdere voorbeelde van intratalige kodewisseling.
By die aankoms van ‘n swart Engelssprekende polisieman by die Beeslaer huis om ‘n klagte van rusverstoring te ondersoek vind ‘n tipe situasionele kodewisseling in die karakter Hillies Grobbelaar se spraak plaas. Daar is ‘n bakleiery tussen die polisieman en Hillies waar sy aanvanklik in Afrikaans praat, maar dan, wanner sy regtig haar boodskap wil laat geld, oorslaan in Engels: “Bugger off! It’s freedom for all, for us whites too, in case you didn’t know”(p.15). Hierdie wisseling kan ook op die Markedness Model van Myers-Scotton toegepas word. Hillies kies die “marked” of onverwagte kode om die situasionele verhouding te verander en haarself van die vorige gespreksverhouding te disassosieer – die feit dat sy in Engels vir hom sê dat dit “freedom for all” is, beklemtoon dat sy hulle as twee gelykes sien en dat sy ‘n sekere gedrag van hom af verwag.
Dikwels kom die gebruik van byvoegings soos “After all, ek is darem nie...”(p.17) en “Fact remains, almal kry ewe swaar...”(p.21) voor. Hierdie ekstratalige kodewisseling dien dikwels, veral in Tsjaka se gebruik daarvan, om ‘n reeks gedagtes saam te vat in in sin wat “slimmer” of geleerd klink. Die gebruik van Engels dui dan hier aan dat Tsjaka voel die toevoeging van Engels hom meer outoriteit in sy argumente gee.
Die woorde “sjarrap”(p.15) en “drienk”(p.20) kom deur die roman ‘n hele paar keer voor en alhoewel dit Engelse woorde is het hulle ‘n baie Afrikaanse spelling. In die konteks van die roman kan dit dalk woorde wees wat vir die karakters heeltemal geïnkorporeer is in hul woordeskat, wat hulle nie eers regtig meer as Engels onderskei nie. Die gebruik van hierdie woorde kan dan in ‘n mate as leenwoorde beskryf word, aangesien dit al soveel keer gebruik is dat dit deel raak van die Afrikaanse woordeskat van die karakters.
Die aankoms van een van die karakters met ‘n Indiër meisie agter op sy motorfiets merk nog ‘n sosiale rede vir kodewisseling deur die karakters. Die Afrikaanssprekende pa (Vleis Beeslaer) groet sy seun se nuwe meisie formeel in Engels: “How do you do, Miss Naidoo” (p.27) beide as teken van aanvaarding en goeie manier, maar ook om sy multikulturele identiteit te versterk aangesien dit nog heeltyd vir hierdie karakter daaromtrent gaan dat hy ‘n suksesvolle deel vorm van die nuwe multikulturele en multitalige sosiale omstandighede. Dis dan ‘n voorbeeld van “unmarked” kodewisseling wat Vleis gebruik om sy meervoudige talige identiteit uit te beeld.
Laastens bespreek ons die karakter Tango du Toit. Die karakter se gebruik van kodewisseling is effens anders as die ander karakters waarmee hy interaksie het. Tango is geneig om hele sinne in Engels te gebruik (pp.33-36) eerder as om slegs enkele woorde te wissel. Hy wissel egter ook nie net na Engels toe nie, maar Duits ook: “Setzen Sie sich!” (p.35). Met hierdie kodewisseling wil dit voorkom of Tango probeer om sy dominante sosiale rol en die beeld van sofistikasie wat hy uitstraal te bevestig: “Be my guests, I’m honoured”(p.35) sê hy met die aankoms van nuwe gaste, ten spyte daarvan dat hy self ‘n gas is.
As ons nou in ag neem die resensente se menings dat ‘n pawpaw vir my darling ‘n roman is wat heelwat sosiale kommentaar lewer is dit moontlik om te sê dat die karakters se taalgebruik ‘n sentrale rol in die roman speel. Daar is baie spesifieke sosiale redes vir die karaters se gebruik van kodewisseling, hoofsaaklik om hul multikulturele identiteit te laat geld. 
Samevattende opmerkings
Na aanleiding van die inligting wat hierbo behandel is, is dit nou duidelik dat kodewisseling heelwat meer is as slegs die meng van taal uit luiheid, swakker opvoeding of die verval van ‘n taal is. Daar kan eintlik aan die hand van die talle romans wat deesdae met kodewisseling as belangrike faktor in die tema verskyn gesien word dat dit ‘n belangrike rol begin speel vir skrywers. Taalgebruik kan ‘n verskeidenheid perspektiewe tot stand laat kom in ‘n roman, asook om vir die skrywer groter vryheid in die karakterisering van haar karakters te gee.
Daar bestaan teenstrydige argumente oor die effek wat kodewisseling in letterkunde op ‘n taal kan hê: sommiges soos Lina Spies en Hennie Aucamp meen dit is skadelik vir ‘n taal en al praat mense op ‘n sekere manier, geskrewe werke steeds aan ‘n sekere standaard van taalsuiwerheid moet voldoen. Ander, soos André P. Brink is egter van mening dat dit vernuwing vir die taal en sy letterkunde kan bring. Hoe dit dan ook al sy is dit belangrik om in ag te hou die sosiale implikasies van kodewisseling, veral in die Suid Afrikaanse konteks. 
Bibliografie
AUCAMP, H. 2003. Engfrikaans nie taal. Literêre medium kan verroeste swaard vol skare word. Die Burger: 10, 4 Augustus.
BRINK, A.P. 2003. Nagtegaal ‘het vernuwe’. Beskaafde Afrikaans ‘pas nie by dié konteks’. Die Burger: 10, 1 Oktober.
DEVARENNE, N. 2006. “In hell you hear only your mother tongue”: Afrikaner Nationalist Ideology, Linguistic Subvertion, and Cultural Renewal in Marlene van Niekerk’s Triomf. Research in African Literatures. 37(4):105-120. Winter.
DU PLESSIS, H. 1998. Variasietaalkunde. Pretoria : Serva. p 21.
GOOSEN, J. 2002. ‘n pawpaw vir my darling. Kaapstad: Kwela boeke.
HAMBIDGE, J. 2002. ‘Pawpaw’ afgerond tot in die vesels. Die Burger: 11, 29 April.
JOHN, P. 2004. Meer dydelikhyt oor die punch en die vis. ‘n Vergelyking van Niggie, Daar’s vis in die punch en Eilande. Literator. 25(1): 23-45, April.
MARTIN, H.E. 2005. Code-switching in US ethnic literature: multiple perspectives presented through multiple languages. Changing English. 12(3): 403-415 Desember.
MYERS-SCOTTON, C. 1992. Codeswitching in Africa. A Model of the Social Functions of Code Selection. (In Herbert, R.K. red. Language and Society in Africa. The Theory and Practice of Sociolinguistics. Johannesburg: Witwatersrand University Press. p. 165-180)
POPLACK, S. 2004. Code-switching. (In Ammon,U, Dittmar,N, Mattheier, K.J.,Trudgill,P. red. Soziolinguistik. An international handbook of the science of language. 2de uitgawe. Berlin: Walter de Gruyter.)
REDOUANE, R. 2005. Linguistic Constraints on Codeswitching and Codemixing of Biligual Moroccan Arabic-French Speakers in Canada. (In Cohen, J; McAlister, K.T.; Rolstad, K.; MacSwan, J. red. Proceedings of the 4th International Symposium on Bilingualism. Somerville, MA: Cascadilla Press. pp. 1921-1933
ROSE, S & VAN DULM, O. 2006. Functions of code switching in multiligual classrooms. Per Linguam. 22(2): 1-13
SPIES, L. 2003. Staak hierdie moedermoord op Afrikaans. Die Burger: 13, 28 Julie.
SWANEPOEL, E. 2006. Jeanne Goosen (1940 -). (In Van Coller, HJ. 2006. Perspektief en Profiel. Pretoria: Van Schaik. p. 456 – 463.)
VAN DULM, O. 2002. Constaints on South African English-Afrikaans intrasentential code switching: A minimalist approach. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus 31. 63-90.
VAN NIEKERK, M. 2002. Goosen se jongste ‘n gesellige satire maar Tsjaka se snoet kort kritiese snuf. Rapport: 28, 16 Junie. 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

.
Hoog tyd vir 'n skrywe soos die. Baie dankie.
8 jaar 9 maande 3 weke 19 ure oud


Kodewisseling
Lyn-Y, jou navorsing is deeglik gedoen, veral relevant in die alledaagse spreektaal, akademies korrek t.o.v. taalvermenging. Ek is inderdaad nog uit die ou skool en verkies suiwer Afrikaans in skryftaal en gedrukte media. As ek so 'n mengsel sien, laat my altevol dink dat die persoon se taalbeheersing nie na wense is nie.

Het julle al mooi daaroor gedink? Dit bestaan al vir baie jare lank onder skoolkinders en is nie iets nuuts wat die akademici uitgedink het nie. Hulle beredeneer en regverdig dit nou maar net omdat dit lekker geword het om die tale rond te gooi. Dit word relevant en lekker vir jan en alleman om dit te lees - lekker loslit, daarom verkoop die boeke! Die tegnologiese ontwikkeling maak dit natuurlik makliker omdat soveel meer tale toeganklik word - dit tesame met die veeltaligheid in die land.

Hennie, ja, ek het ook al so 'n snedige opmerking na my kant toe gekry n.a.v. die einste kodewisseling wat ek gebesig het. Ja, ek is nie so 'n eng puris nie, ek gebruik dit ook hoor! Ek het vir baie jare met my eie en ander se kinders gewerk en 'n mens praat hulle taal, anders praat jy bo-oor hulle koppe. Daar is toe vir my gesê dat in die ooste van Pretoria praat die skoolkinders nie so nie. Ek wil ook soos jy sê "Hê"!

Baie dankie Lin-Y. Hierdie is kosbare werk en ek het dit ook afgetrek om later aan te herkou.
8 jaar 9 maande 3 weke 1 dag 18 ure oud


Dankie
Dis 'n akademiese werkstuk van hoogstaande gehalte, in onberispelik korrekte Afrikaans geskryf en die kwessie van taalvermenging in literatuur is insigtelik bespreek.
8 jaar 9 maande 3 weke 1 dag 21 ure oud


Kodewisseling
Ekskuus, ek wil nie voortaan meer graag hierop reageer nie, na 'n regtig aaklige en lae reaksie van 'n selfaangestelde "doyen" gister op iets van my op hierdie forum. Ek het nie veel kennis nie, het net 'n Honneurs in Afrikaanse Linguistiek. maar dink jou stuk is van (ek ken nie 'n deelteken tik nie en wil nie net s♪ "goeie" nie0 'n besondere standaard.
Ek ken en volg dié debat, maar stem meer met Hennie Aucamp ( toevallig familie van my ma se kant, maar ek dink nie hy weet daarvan nie) saam. My broer, 'n professor in Afrikaans (Letterkunde)en ek praat netnou net oor die pragtige, onvermengde Engels van sy Engelse vriende. Daar is iets voor te s♪ Ek dink die dinamika is meer kompleks as net solidariteit e.a.
Ek druk ook, soos AA, die artikel af en sal dan later (hopelik) as jy wil, volledig daaroor wil debatteer. Terloops, ek dink jy is 'n wonderlike student om te h♪! Weet jy, iemand op Woes het al verergd vir my ges♪ hy hoef nie ander -goeie digters- se werk te lees om te leer skryf nie! Hè?
Groete
Hennie.
8 jaar 9 maande 3 weke 1 dag 23 ure oud


Baie, baie interesting
Een om te print en weer meer tydsaam te lees.
8 jaar 9 maande 3 weke 2 dae 10 ure oud



Die Lady en die Leeu

deur Rachelle du Bois

Sy is een keer gevang, maar nou is sý die jagter met die prooi in háár visier



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar