Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

“Goedkoop koop is duur koop” lui die spreekwoord, dan nie? Ja, jy mag vra, wat wil jy nou eintlik sê. Ja – ek weet nie eintlik mooi waar om te begin nie, maar enige plek is so goed soos die ander. Kom ons begin by wetstoepassing en dan die duur koop. Dis tog die ding wat hier aan ons sak vat. Hoekom is die produkte so duur vra die verbruiker.

Eerstens is ons dood gereguleeeeeer om kamtig dit en dat te reguleeeeeer. Moet nie eens praat van wetstoepassing nie.

WETSTOEPASSING
Glo my as ek sê ek het die grootste waardering vir wat die verkeer en polisie moet doen, maar daar is ‘n paar dinge wat ek nie kan verstaan nie.
As ‘n boer ‘n skoot in die lug afvuur as waarskuwing omdat ‘n dronk persoon om middernag op ‘n Saterdag nag met ‘n gesteelde trekker rondjaag op sy plaaswerf wat toegesluit was, word hy voor sy kinders en kleinkinders deur 15 polisiemanne 5h00 die Sondag oggend gearresteer en soos ‘n krimineel behandel en in die tronk gegooi.
‘n Bejaarde vrou wat alleen bly in haar plaashuis word so ernstig aangerand dat haar brein swel en sy steke in haar gesig en kop moet kry en ‘n week in die hospitaal moes deurbring. Die mop met ‘n staal steel word oor haar kop geslaan dat die steel breek en haar beursie word gesteel. Die mop word nie eens deur die polisie geneem vir vinger afdrukke en ondersoek of as bewysstuk nie. Die vrou is erg getraumatiseerd en het permanente skade en letsels in haar gesig. Die persoon wat haar aangerand het word gevang met die gesteelde goedere en hy erken hy het dit gesteel by haar, maar ontken dat hy die vrou aangerand het en kry 3 jaar gevangenisstraf. Wat het die polisie met die bewyse van die aanranding gemaak? Die polisie beweer nou dat die vrou ‘n siviele klag kan indien.
Die afgelope jaar is ek en my trok 7 keer deur die polisie gestop op pad na die werk en my 30 plaaswerkers wat ek op die voertuig gehad het is deursoek vir dagga. Hulle kossake is op die grond uitgegooi en deursoek en hulle is daarna aangesê om dit self terug te pak nadat dit deurmekaar gekrap is. Nodeloos om te sê dat by geen van die geleenthede is enigiets gevind nie maar hulle is elke keer ten minste 45 minute uit die werk gehou waarvoor ek hulle moet betaal en het hulle boonop hul respek vir die gereg verloor. Hoekom word plaaswerkers wat gaan werk geteiken en die smokkelhuise en smokkelaars voertuie loop vry op die pad en word nie deursoek.

Op die plattelandse dorpies is daar feitlik geen ernstige ongelukke wat plaasvind binne in die dorp en waarin mense seerkry nie. Waar mense net in hul voertuig van een winkel na die ander beweeg teen 20km per uur, somtyds net 300 meter vorentoe beweeg, word die mense gevang en R300.00 beboet omdat hulle nie ‘n veiligheids gordel aanhet. Goed ek verstaan dit is die wet. Wat ek nie kan verstaan is hoekom word die wettoepassing en tydsbesteding nie liewer op die oop pad waar ernstige ongelukke voorkom gedoen nie. Maar nee, daar word jy nie gestop nie, net met die paperatsie se kamera gevang as jy die spoed oortree. Die vraag is, is dit net ‘n geldmaak storie of wat. Intussen ry onpadwaardige en oorlaaide voertuie, busse en taxis en in sommige gevalle met gesteelde goedere en smokkelware op die oop pad wat niks aan gedoen word nie. Nee, dit is makliker om gou geld binne in die dorp te maak, dan lyk dit of hulle besig is. Wag, hoe noem hulle dit nou weer,“sigbare polisiering”. Of is dit nou as hulle met die polisie voertuig in die strate rondry.

Die wet is die wet, maar dit maak tog ‘n verskil hoe dit toegepas word en dit is daarmee wat die publiek en ek ‘n probleem het en nie kan verstaan hoe kom die kloutjie by die oortjie.

SMOUS
As jy wil smous om produkte goedkoop aan die publiek beskikbaar te stel en jy is ‘n boer wat in die Hessequa Munisipale gebied bly moet jy ‘n smous lisensie uitneem by genoemde Munisipaliteit en ‘n kwitansie en lisensie word dan deur die Munisipaliteit uitgereik by betaling van R289.65 vir ‘n halfjaar. Jy mag egter die lisensie net in Riversdal gebruik en nie by Stilbaai, Heidelberg, Albertinia, Gouritsmond en Slangrivier nie, alhoewel die dorpe se name op die lisensie briefhoof verskyn. Jy moet vir elkeen van die dorpe ‘n aparte lisensie uitneem en gelde betaal. Dus gaan dit jou R 3 475.80 per jaar kos om ‘n smouslisensie vir jou Munisipale area te bekom. Dan mag jy ook nie verkope vanaf jou voertuig in die sake gedeelte van die dorpe aan die publiek doen nie, nee, anders word jy deur die verkeersbeamptes ingelig dat hulle jou vrag sal konfiskeer. Alhoewel daar permanente jaarlikse staanplekke op die sypaadjie in die hoofstraat is vir straat smouse. Hulle neem die helfte van die sypaadjie op met hul produkte. Net op een dag word jy maklik deur 7 verskillende beamptes gevra om jou lisensie aan hulle te toon wat jou later laat voel soos ‘n krimineel. Plaas dat hulle van die uitlanders se winkels inspekteur waar hulle sommer slaap in hul winkels en die waswater in die straat gooi. Verstaan my mooi, ek het niks teen uitlanders nie, solank hulle aan dieselfde standaarde gemeet word en voldoen as waaraan ons ander moet voldoen en binne die wet bly soos wat ons moet bly. Hulle nie ingevoerde gemors verkoop nie. Geen dubbele standaarde.

Jy mag net in die woonbuurtes rondreisend verkoop of staan op ‘n plek wat hulle vir jou aanwys wat vir die doel gereserveer is en wat heel weg is van die sake sentrums. As jy by die staanplek vir smouse wil verkoop moet jy jou vragmotor afpak en jou goedere op die plek uitstal wat hulle vir jou aanwys. Halloooo!!!, nou hoe gemaak as jy ‘n vragmotor vol vrugte het wat in bins op die vragmotor gelaai was met ‘n vurkhyser op die plaas. In my geval is ek nog gedeeltelik gestremd asgevolg van MG. en oor 60 jaar oud. Jy mag nie in die straat op ‘n parkeerplek staan en verkoop nie. Ooooooo neeee!!! Teen die regulasies. Ek gee in elk geval meer vrugte weg op ‘n Saterdag aan die kinders as wat ek verkoop. Vrugte wat aan die einde van die week oorgebly het by die droogbaan en nie sal kan oorstaan tot die Maandag. Wat doen ek nou in die toekoms? Ek voer dit vir die bobbejane op die plaas.

As boer betaal jy tans meer belasting op jou plaas as wat party van die besighede aan belasting betaal. Hulle kry nog dienste daarvoor vanaf die Munisipaliteit, maar watter dienste kry die boer nou eintlik.
Die ou lisensie ordonnansie is geskrap en besighede hoef dus geen lisensiegeld te betaal nie. Hoekom moet jy as boer wat nou direk jou produk aan die publiek wil verkoop lisensiegeld betaal. As jy na die groot ketting winkels gaan om jou produk aan hulle te verkoop stel hulle nie belang nie, alhoewel jou prys aan hulle meer as die helfte goedkoper is as waarvoor hulle dit aan die publiek verkoop. Hulle kry al hulle produkte uit die Kaap uit word dan aan jou vertel.
Jy het dus geen ander keuse as om jou produk na die Kaapse mark 300 km verder te neem vir verkope, wat beteken dat die vervoerkoste somtyds meer kan wees as wat die produk werd is en dan moet jy nog die mark koste betaal. Asgevolg van die hoë koste om dit daar te kry produseer jy dus nou nie meer vars produkte nie en gevolglik ontstaan daar tekorte en gaan die prys nog verder die hoogte in.
Nou wil u weet waarom is produkte wat plaaslik bekombaar is so duur in die plaaslike winkel?
Regulasies, en nogmaals regulasies en rompslomp is al wat ek kan sê.

VLEIS:
Nou kom ons by vleis. Vleis wat mens eet ja – hoekom tog so duur vra jy en dan smaak die vleis na niks. Daar was ‘n tyd lank gelede toe elke klein dorpie ‘n slagpale of twee gehad het. Die boer en ja, sommer enigeen, kon ‘n dier na die slagpale neem en teen ‘n fooi laat slag. Die dier was rustig en het geen of baie min adrenalien afgeskei wat ‘n groot invloed en uitwerking op die gehalte van die vleis het. Die slagter het ook sy diere wat hy sommer hier by ‘n boer in die distrik gekoop het daar laat slag en die Gesondheidsinspekteur het dan die vleis inspekteur en goedgekeur. Alles sommer goedkoop, maklik en die vleis het lekker gesmaak met feitlik geen vervoerkoste verbonde nie.

Oooo alla, pasop as jy dit nou nog op die platteland wil doen moet jy dit onwettig en agter die bos doen, want feitlik al wat ‘n slagpaletjie in die platteland was, is toegemaak of behoort aan ‘n privaat persoon of instansie. As jy uitgevang word dat jy egter agter die bos slag is jy grooooot in die moeilikheid. Dus moet jy nou maar die duuuuur vleisie koop.

Hoekom? Toe kom regulasies mos en vereistes wat so streng gestel word dat die grootste meerderheid Middelslag en klein Munisipaliteite nie daaraan kon voldoen nie, want die veranderinge sou te duur wees om in te stel. Die inspekteur wat vir die inspeksie van alle slagpale verantwoordelik was het dan die slagpale op verskeie tegniese punte afgekeur en is die meeste gesluit. Sy werk is nou baie makliker, want hy het nou net ‘n paar slagpales wat hy moet besoek.

Maar sjjjjuuuut ons slag mos nou sommer stiiiiilletjies skelm hier agter die bos en die vleis word nou gladnie geinspekteur nie. Ma moet tog net vir niemand sê nie hoooor.

Dis nou wat deur regulasies veroorsaak word nê.

Nou wat nou? Die boer moet nou sy vee na ‘n veiling vervoer en op die veiling verkoop waar die kopers van heinde en ver kom om teen mekaar te bie om die lewendige vleis produk in die hande te kry. Dan word dit weer vandaar vervoer na die slagpale van die koper se keuse wat gewoonlik ver verwyder is van die vee veiling waar hy dit gekoop het. Die vervoer na en vanaf die veiling tot daar doer plaas die diere onder geweldige druk en stres wat die kwaliteit van die vleis affekteer. Dit jaag ook die koste van die eindproduk geweldig op want dit is afslaers kommissie en vervoerkoste wat nou betrokke raak. As die diere na groter sentra vervoer word beteken dit ook dat die diere oor lang afstande per pad vervoer word wat bydra tot hul stres.
Nou het die groothandel vleis verskaffers uitgevind dat hulle kan vleis goedkoper invoer omdat sommige lande waar daar ‘n oorproduksie is hulle boere subsidieer om hul vleis uit te voer en hier te stort. Die vleis word ingevoer en is van nog ‘n swakker gehalte as ons plaaslike gestreste vleis.

Die plaaslike boer word nou ‘n swakker prys vir sy organiese produseerde vleis aangebied en forseer hom uit besigheid en verkoop sy grond as wildreservate, want hy kan nie meer ‘n bestaan maak nie

MELK
Melk is dieselfde storie. Die boer kry R2.50 ‘n liter vir sy vars melk. Wat betaal jy in die winkel en hoekom so baaaaaiiiiee? Boonop word die boer geforseer om duur melk stalle en stelsels in bedryf te stel, wat niks onder R700,000.00 kos om op te rig en in bedryf te stel. Hy moet ‘n plan in plek stel om weg te doen met sy afloop water vanaf die stal. Hy moet die waswater wat hy in die stal gebruik laat toets. Hy moet ‘n naspeurbare rekenaar stelsel in die stal hê om alle registers by te hou. Bv. beeste wat siek was, wat hulle makeer, waarmee hulle behandel is, wanneer uit produksie gehaal, wanneer hulle teruggeplaas is in produksie, ens. Hulle werkers moet gereeld vir mediese ondersoeke gaan om hulle gesond te verklaar. Dieselfde ou storie as die slagpale. Regulasies, Regulasies en nogmaals regulaaaaaaaasies om die boer uit produksie te dryf. Hulle moet selfs betaal om hul melk vervoer te kry vanaf die plaas na die melkfabriek. Ag daar is net te veel vereistes om op te noem wat gestel word en wat geld kos vir die produsent. Intussen is twee melk prys verlagings aangekondig. As die mededinging kommissie die melkfabrieke skuldig bevind aan prysvasstelling gaan die boete ook in die staats kas en word die koste van die boetes uiteindelik ook maar weer op die lange duur van die produsente verhaal deur nie hul melk prys aan te pas nie of afwaarts aan te pas. Baie boere verlaat nou die bedryf omdat dit net nie meer winsgewend is om melk te produseer nie. Die geweldige styging in voerkoste en droogtes het baie boere nou uit die melk bedryf gedruk. Intussen word melk van oorsee ingevoer. Hoe meer die plaaslike produksie afneem, hoe meer word ingevoer van oorsese lande wat hulle oorproduksie en gesubsidieerde melk in Suid Afrika kom stort.

Moet tog net nie vir my sê al die dinge word gedoen om ons higiënies en gesond te hou nie, want my moeder is tans 92 jaar en gesonder as ek. Al my oupas en oumas het ouer 85 en 94 jaar oud geword en hulle het nog hulle vleis op die plaas geslag en die rou vleis was in ‘n “safe” (‘n hokkie van sif wat buite onder ‘n koelteboom gehang) gehou. Daar was nie yskaste en vrieskaste in hulle tyd in gebruik op die plase nie. Hulle het ook vars melk gedrink van koeie wat nog in ‘n regte koeistal met grond vloer en strooi gemelk is. So, halllloooo!! Hoekom was hulle so gesond?. Omdat hulle vleis nie met preserveermiddels behandel en met kleursel en verpak was in polyesterine en plastiek nie. Hulle melk was nie sinteties behandel en het nie uit ‘n plastiese bottel gekom nie. Waarvan word al hierdie plastiek en kleursels gemaak? Is hierdie behandelings en verpakkings gesond vir ons liggame en gesondheid? Bowendien kos dit alles geld. Sien jy nog slaghuise op ons dorpe en stede. Miskien hier en daar, die meeste het verdwyn.

KORING EN BROODMEEL
Dieselfde storie. Die koring boere beweer dat die regering kry meer uit die BTW op ‘n brood as wat hulle ontvang vir die hoeveelheid koring in daardie brood. Weereens, wat is dan die ander kostes wat ‘n brood so duur maak? Grotendeels vervoer. In die hele Overberg is daar nie een groot koring meul waarvan ek weet nie. Die graan word van die sentra of area ten duurste vervoer vanwaar dit geproduseer word na ‘n plek waar dit tot meel gemaal kan word en dan word die meel of die brood weer terug vervoer na daardie areas waar die graan produseer word. Maak dit sin. Ek weet nie. Al die klein meulenaars en bakkerye is ingesluk deur die reuse wat nou die pryse kan beheer. Onlangs is van die meulenaars/bakkers beboet vir prysvasstelling, welke boetes tog seker ook in die staats kas val. Waar kry hulle weer die geld vandaan om daardie geweldige boetes te betaal. Ag ons verhaal dit maar van die boer en die verbruiker. Hier maak ons onsself dood en skiet ons in die voet of wat sê ek. Of is ek nou onnosel.

KUNSMIS
Pynappel boere het goedkoop kunsmis vanaf Sjina ingevoer en moes tot hul nadeel uitvind hulle het hulle oes en grond beskadig deurdat daar swaar metale in die kunsmis was wat in die vrugte opgeneem word en dit onbruikbaar maak. Goedkoop koop is duuuuuur koop.

MELKPOEIER
‘n Goeie voorbeeld van swak beheer oor invoer was goedkoop melkpoeier wat vanaf Sjina ingevoer was en van die rakke onttrek moes word weens ontoelaatbare stowwe wat babas kon laat sterf.

SEELGOED
Sjinese kinder speelgoed bevat lood in die verf waarmee dit bespuit is. Hoeveel Sjinese winkeltjies is daar nou in ons dorpe wat hierdie speelgoed verkoop? Tel maar.

KLERE
Ons weet almal wat met die klere bedryf gebeur het. Die meeste Suid Afrikaanse klerefabrieke het hul deure gesluit en duisende werkers is afgedank omdat hulle nie kon kompeteer met die prys van swakker ingevoerde klere wat in sommige gevalle vervaardig is deur ongesonde arbeid praktyke en deur van kinder arbeid gebruik te maak.

VOERTUIG BANDE
Dieselfde het gebeur met die voertuig bande bedryf. Ek lees die ander dag dat die plaaslike bande produsente ‘n hofbevel aangevra het om die storting van goedkoop bande uit die buiteland te stop.
Ek pleit ook skuldig aan die oortreding, want ek het ook vir my vragmotor nuwe bande gekoop teen die helfte van die plaaslike produk. Ek is later terug na die verskaffer, omdat die bande ‘n stamp beweging maak as jy ry en ek die een band wou omruil. Sy antwoord aan my was:- Wat verwag jy as jy goedkoop koop, die band is ‘n bietjie ovaal en daarom stamp hy. Ek kan hom egter nie vir jou omruil nie.”

VARS VRUGTE
Die vars vrugte inmaak bedryf staar ‘n groot krisis in die gesig. Die boere kon verlede jaar net 80% van hulle gemiddelde lewerings van die afgelope drie jaar aan die een groot fabriek in die Boland lewer. Die kwotas word nou jaarliks afwaarts aangepas en daar is sprake dat hy heeltemal kan sluit. Intussen moet boere aan al die vereistes van Eurogap voldoen. Wat dan van al die vrugte gaan word weet ek nie. Blikkies ingelegde vrugte word steeds van oorsee ingevoer. Hoekom? Voldoen hulle aan Eurogap? Weet nie. Word dit miskien hier gestort.?

DROë VRUGTE
Droë vrugte produsente word verplig om deur wetgewing ‘n persentasie van hulle verkope aan Droë Vrugte Tegniese Dienste te betaal wat die bedryf reguleer en vereistes en regulasies vir die bedryf voorskryf. Wat word gedoen omtrent die ingevoerde produk? Doen hulle enigiets om die storting van swak kwaliteit vrugte wat ingevoer word te stop?
Plaaslike produsente se persele en word inspekteur en die vrugte word getoets vir verbode middels ens. Nogtans word duisende tonne droë vrugte vanaf Sjina en ander lande ingevoer. SAD –Bokomo Foods het erken dat hulle ook van die vrugte ingevoer het en dat dit so onbruikbaar was dat hulle dit teruggestuur het.

So is daar nog baie ander terreine wat ek nie eens van kennis dra en weet nie, maar wat u moontlik nog by bogenoemde lys kan voeg.

WAT WORD GEDOEN VAN REGERINGS KANT.
Niks!!!! Die ander vraag is:- Watter beheer word deur ons regering uit geoefen oor die produsente van ander lande wat hulle produkte hier kom stort? Niks wat ek van weet nie. Word amptenare oorsee gestuur om hulle produsente te inspekteur soos hier die geval is voordat hulle toegelaat word om die produk hier by ons te kom stort? Nie sover ek weet nie. Is hulle vereistes vir produsente dieselfde? Nie sover ek weet nie.

So dit lyk nie daar van die regering se kant af ‘n stokkie voor gesteek gaan word nie. Hulle kry tog invoerbelasting en hawe fooie daaruit wat hulle nie uit die binnelandse produk kry nie. Waarmee sal die soustrein, of is dit SAL sousvlieg, dan nou loop as die bron opdroog. Ja die trein is uitgedien. Seker te stadig. Wonder of die vliegtuig sal kan opstyg met die swaar staatskas daarin. Ooops!!! pasop dat die staatskas tog nie te swaar word nie. Kan nie meer onthou hoeveel die SAL CEO nou weer uitgehaal het uit die kas om dit bietjie ligter te maak dat die vrag nie so swaar is nie.

Intussen gaan die land se produsente die een na die ander daarmee heen terwyl die politici met mekaar bakly in die wandelgange van die regerings geboue.

Indien die regering die probleem regtig wil regstel kan hulle die invoerbelasting so aanpas dat die ingevoerde produk teen dieselfde prys in die mark kom as die binnelandse produk. Dit sal help dan kan hulle sommer twee sous vliegtuie bekostig.

WAT GAAN DIT MY KOS AS DIE TOEDRAG VOORTDUUR?
Dis tog ‘n oer ou beginsel. As jy ‘n produsent van enige produk is en jy het genoegsame kapitaal agter jou is dit die oudste slenter om eers jou opponente uit te skakel deur die produk so goedkoop op die mark te bring dat hulle later die handdoek ingooi en jy alleen as verskaffer uit die stryd tree. Dan kan jy die prys beheer.

Sodra die binnelandse produsente die handdoek ingooi sal die buitelandse produsente hul prys so verhoog dat jy jou hand diep in die sak sal moet steek om dit te kan koop en dit sal dan nog ‘n swakker produk wees, want hulle het dan niks om mee te kompeteer nie. Ek vermoed dit is wat nou besig is om te gebeur.

HOE KAN ONS DIE TOEDRAG VAN SAKE OMKEER OF STOP.
Die enigste een wat hierdie toedrag van sake kan stop is die verbruiker self deur aan te dring op ‘n goeie eg Suid Afrikaanse produk. Kyk op die verpakking as jy iets koop As die ingevoerde produk op die rakke bly staan sal die winkels ophou om dit in te voer. Dis die enigste manier wat die verbruiker iets daaraan kan doen. Ek weet dit is moeilik omdat van die produkte in grootmaat ingevoer word en dan plaaslik verpak word. Jy kan dus nie altyd sien dat dit ingevoer is nie.

Koop eg Suid Afrikaans en help armoede verlig. Dit is die enigste manier hoe ons eie mense in die toekoms van werk sal kan voorsien en ons eie ekonomie aan die gang sal kan hou en op die lange duur sal dit minder uit ons sak jaag. Om goedkoop ingevoerde goedere te koop, is duur koop.

Hoeveel duisende mense het nie reeds hul werk verloor asgevolg van die storting van ander lande se gesubsidieerde oorskotte op ons land se markte nie?

As jou Supermark en winkel produkte aanbied teen meer as dubbel die prys waarteen dit plaaslik by boere en produsente beskikbaar is, vat hulle aan en sien hulle reg. Stig ‘n plaaslike verbruikers groep wat met die winkels kan onderhandel of koop in massa direk by die boere aan waar produkte beskikbaar is.

Dis amper reeds klaar te laat, maar as ons nie nou begin optree nie gaan ons die stryd verloor.




Spaar Geld op Versekering

Kommentaar

SA
En hier sit ek en smag na die lekker 'goedkoop' vrugte en groente vars van die boer se stalletjie. En 'n lekker karooskaaptjoppie op die vuur... Hier kos piesangs tans $12.99 'n kilo (dis omtrent R91.00 'n kilo) Pas op wat julle het - beskerm dit want as jy dit verloor - of soos ek gedwing is om na 'n ander land te gaan oor jou regering se swak bestuur en tekort aan werk in jou eie land - dan gaan jy bitter spyt wees!
Dankie vir die deel!
2 jaar 11 maande 1 week 4 dae 23 ure oud



Van ons Premium+ lede

Meeste premium+ werke gelees in die laaste 7 dae
(2014-08-27 01:00:00 - 2014-09-03 01:59:59 )

Meeste kommentaar op premium+ werke vir die laaste 7 dae

Nuutste premium+ artikels

Van ons ander lede

vir koeitjies en kalfies

deur DMJR

'n Lekkerleesboek met kort stories vol liefde, spesiaal vir vrouens en kinders.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar