Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Kinders vergeet nie. Kinders se brein funksioneer op die wieke van verbeelding.
Kinders se brein moet gestimuleer word. Kinders funksioneer die beste op humor. Kinders weet hoe om te lag. Net ʼn oupa weet hoe. Oupa weet hoe om te toor. Kinders sal oupa nooit vergeet nie.

Oupa en die kinders is alleen bymekaar in die kombuis. Die grootmense is in die voorkamer. Hulle doen hulle eie ding.
Oupa skakel die elektriese lig af. ʼn Kers of lamp is die regte atmosfeer. Die kinders is bymekaar aan die oorkant van die tafel. Hulle sit in afwagting op die gebeurtenis.
Oupa gaan vanaand ʼn spook oproep.
Een venster is oop. Die spook gaan daar inkom. Die kinders kan die oop venster agter oupa sien. Spoke kom nie as daar geraas is nie. Bly doodstil en kyk na die venster. Die lamp verlig oupa se gesig. Oupa bly lank stil. Wag dat alles baie stil is. Die afwagting moet opbou. Atmosfeer reg. Doodse stilte.
“ Ek moet eers in my kop met die spook kontak” Sit doodstil en kyk vir die venster!” Almal is doodstil en wag. Oupa se arms gaan dramaties die lug in. Hy begin wink.
Oupa se stem klink net soos ʼn spook stem.
“Spook...Spook, kom in.”
Oupa se arms is dramaties in die lug. Sy arms swaai en wink die spook na binne. Gesiggies kyk na oupa en kyk verby oupa. Hou die venster dop.
Oupa se stem draal: “ Spook, spook, staan op en kom.” Oupa se hande wink en roep.
“Luister kinders. Hoor op die dak. Luister mooi, hy is al op die dak!”
“Spook, spook, die venster is oop, kom in.” Draal oupa se stem
“Daar is dit weer, het julle gehoor. Hy is op die dak!”
Party het gehoor, die groter kinders weet nie mooi nie. Die kleintjies knik instemmend.
“Stil, moenie praat nie!”
“Spook, spook.” Oupa se stem breek die stilte en sy arms wink!
“Kinders, maak oop julle monde. Maak wyd oop en kyk vir die venster. Hou dit so. Hou die monde baie wyd oop!”
Kinders se oë is groot. Al die monde wyd oop gerek.
“Spook, ons wag. Spook, spook.” Oupa se arms wink en wink. Nooi die spook in.
Kinders se kake word moeg. Oupa het ʼn plan.
Vuurhoutjies. Breek die koppe af. Elke kind kry een. Staanmaak die vuurhoutjie tussen die tande. Klein kinders kry korter vuurhoutjies. Almal is gereed. Kyk na die venster. Monde wyd gesper. Oupa wag eers lank. Dan stadig:
“Spook, spook, spook” Oupa waai en wink
“Daar is hy weer. Op die dak. Luister, hy kom nader. Hoor hoe skuif hy op die dak!”
Kinders se koppe knik. Party kan hoor.
Oupa se stem word harder. Heel harder: “Spook, spook kom nader. Spook kom in! Spook kom kyk!”
Kinders se oë op die venster: Monde wyd oop gesper.
Oupa se stem baie hard. Bevelend: “Spook. Spook kom kyk! Kyk na die klomp gekke met hulle wyd oop bekke!”
Kleintjies kliek eers nie. Groter kinders verwyt: “ Oupa!!”
Dan kyk hulle vir mekaar en lag!

Oupa kry eers weer orde; “Kry koeldrank en kom sit. Ek gaan toor!”
Terwyl hulle besig is, verdwyn oupa die huis in. Hy gaan sy dinge regkry.

Almal kry weer hulle plekke om die tafel. Die lamp word effe verder weg geskuif. Bo op die yskas. Daar moet bietjie minder lig wees.
“Bring vir my ʼn tafelmes en piering.” Tafelmes en piering is op die tafel voor oupa.
“Skuif julle glase weg, maak plek”
“Sit nou stil en kyk. Is die piering droog? Vat hom en maak seker hy is droog.”
Almal kyk en stem. Dit is droog.
“Vat die mes. Is dit droog?” Almal hanteer die tafelmes. Dit is droog.
Vat ʼn lap en maak seker dit is baie droog.
Piering en mes word afgevee.

“Kyk mooi, ek gaan nou water uit daardie mes uit druk!”

“Sit en bly stil. Kyk.”
Oupa vat die mes aan die steel stewig in sy greep
Die drama begin. Mes in albei hande geklem. Arms word hoog gelig en laat sak. Mespunt tot by die piering. Oupa druk en druk. Kinders se oë is vasgenael.
Oupa lig en laat sak en druk die mes. Kinders kyk.
Oupa lig weer, krap bietjie sy kop aan die kant. Lig die mes, laat sak en druk met ʼn harde steun.
Kinders kyk. “Kyk in die piering, is daar al water?”
Terwyl die kinders vir die droog piering kyk, lig oupa die mes, krap sy kop bietjie en laat sak.
Met ʼn groot steun druk oupa. Hy druk en daar kom die druppel water.
Oupa steun harder en druk. Nog meer water!
Moeg sit hy die mes neer, sy hande terug en hy laat val die stukkie nat watte buite sig van die kinders op die vloer. Hy wys sy hande vir die kinders. Dit is effe nat, maar daar is niks in nie.
Oupa het netnou gou ʼn stukkie nat watte agter sy oor gaan wegsteek.
Kinders is verstom.
Oupa kan water uit ʼn mes druk!
Al die stemmetjie te same: “Oupa wys weer!”
“Nee kinders. “ ʼn towenaar wys nie sy toor twee keer oor nie”
Kinders se gesiggies is teleurgesteld.
Oupa troos: “ Kom ek wys julle nog een, dan gaan ons slaap!”
Kinders juig en neem plaas. Oupa verdwyn gou die huis in. Hy kom terug met ʼn piesang in die hand.

Die lamp kan nou maar op die tafel staan. Oupa sit die piesang op die tafel neer. Reg voor die kinders.
“Moenie daaraan vat nie maar kyk mooi, is die piesang nog heel?”
Kinders bekyk, maar oupa sien toe dat hulle dit nie optel nie. Hy draai dit versigtig in die rondte, en vryf met die vingers daaroor. Die piesang is heel en ongeskonde.
Tyd moet nou eers verby gaan sodat afwagting en spanning kan oplaai.

“Wat nou oupa?”
“ As julle tevrede is die piesang is heel en ongeskonde, gaan ek nou net met my vinger sulke strepies oor die piesang wys, en sonder om dit te beskadig, gaan ek net die vrug daar binne die skil in wieletjies sny!”
“Skil en al oupa?” Sal die uitgeslape een vra.
“Ek gaan nie die skil beskadig nie. Onder die skil sal ek net die vrug in wieletjies sny deur net met my vinger daarop te trek!”

Ongeloof op die gesiggies. “Sonder ʼn mes oupa?”

“Wag, sit nou stil en kyk. Sien, ek het nie ʼn mes nie. My hande is leeg. Sien julle?”
Almal is tevrede. Die piesang is heel en oupa het nie ʼn mes nie.

Oupa wag eers; “ Stilte, ek moet nou eers my magiese kragte inroep!”
Oupa wag. Die kinders is stil. Oupa maak sy oë toe, prewel ʼn paar toor woorde, vryf sy hande teen mekaar en sweef die hande oor die piesang wat voor hom lê.

Kinders, bewe van opgewondenheid.

Stadig vat oupa sy wys vinger en trek dit oor die piesang asof hy wieletjies merk.
Hy hou aan groot toorwoorde prewel.
Oupa plaas sy hande op die tafel weerskant van die piesang.:
“ Klaar, het ek ʼn mes gehad?”
Almal ontken.
Oupa, dramaties: “ Kyk nou mooi!” Hy vat sy skerp punt sakmes en net met die punt sny hy net deur die skil op lengte ʼn snytjie. Van punt tot punt.
Dan, ewe dramaties sny hy nog ʼn snytjie deur die skil net ʼn entjie weg langs aan. Van punt tot punt..Stadig lig hy die repie skil af.
Dan sny hy ʼn breë reep en lig dit af. Meer as die helfte van die vrug binne is nou bloot.
“Kyk mooi!” Oupa lig die piesang en buig dit in ʼn boog.
Whalla!! Die hele vrug is in wieletjies en dit rol oor die tafel!”
Vingertjies tel op. Ogies bekyk. Dit is mooi wieletjies!
“Eet” sê oupa. “Dit is skoon en vars!” Kinders proe en is verbaas
Skelm oupa het vroeër die aand ʼn stywe vars piesang gevat, een van ouma se lang kopspelde van haar naaldwerk, en op ʼn ry, netjies en versigtig met die kopspeld ʼn gaatjie ingedruk en die kopspeld geswaai sodat hy net die vrug in ʼn wieletjies sny. Die skil is nie beskadig nie en die ry gaaitjies was sy merk op die skil om dit in lengte te sny. Niks bewyse nie!

Oupa het sommer ʼn tweede piesang ook voorberei.
Dit was die toor van die aand!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Kyk, ek het my nou gesit en verlees aan hierdie oupa ding - hierdie oupa gaan wanneer hy nou hier uit die bos by die huis kom plagi-spook, plagi-water en plagi-piesang met my eie kleinkinders...

Jy het my kerfstok so pas aangevul - so in my kraal - gaan lees my Sjokoladereent happie asseblief, dan sal jy verstaan die guns wat hierdie pragtige Artikel my nou gedoen het.

Baie dankie!

8 jaar 2 maande 4 dae 16 ure oud



Van ons ander lede

Die legkaart van ons lewe

deur hopeanointed

Jare se ervarings van diepe seer het ons geleer dat ons lewe ṅ legkaart is in God se hand wat Hy spesiaal uitgesoek het deur Sy liefde en genade om te voltooi. ṅ Legkaart, kosbaar en uniek waarvan elke stukkie sorgvuldig met tyd en geduld uitgesoek word om presies in plek te pas. ṅ Legkaart in bou om aan ṅ gebroke wêreld te wys dat Jesus Leef!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar