Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Om 'n besoek aan Kuba (Cuba) te beskryf is in 'n sekere sin vergelykbaar met die lees van 'n boek waarin die karakters en die intrige van die verhaal, die grense van fantasie so hier en daar heel opsigtelik oorskry. Die mees waarskynlike oorsaak hiervan is seker maar die feit dat Kuba, daardie tyd onder leiding van Fidel Castro en vandag deur Raúl Castro, steeds vasklou aan 'n stelsel wat deur Marx en Engels deurdink en deur Lenin ge-“kickstart” is. Dis ‘n stelsel wat in teorie seker een van die mees praktiese regeringsvorms is. Die ander onderliggende oorsaak vir hierdie amper absurde fantasiewêreld is die mense van Kuba self. As jy die gewone mense van Kuba leer ken, leer jy die lag ken bo-oor die traan. Maar, laat ek voor begin.

Die doel van my reis na Kuba was destyds in amptelike hoedanigheid om die regering van Namibië op ‘n tegniese komissievergadering van die V.N. te gaan verteenwoordig (ek was bevoorreg om die eiland daarna nog twee keer te kon besoek).

Op Vrydag 10 Mei 1995 klim ek hier teen ongeveer 09:00 die aand in Windhoek op die Boeing 747 van Air Namibia, met bestemming London Heathrow via Frankfurt. 'n Vlug saam met Viva Air vanaf London Gatwick bring my tot in Madrid waar ek die aand oorslaap. Die volgende oggend pak ek die lang reis oor die Atlantiese Oseaan aan in 'n oorvol DC10, met komplimente van Iberia. Voor my, langs my en agter my sit Italiaanse toeriste wat skielik lank verlore familiebande ontdek en bo-oor my begin kuier. Hulle kuier luidrugtig en aanmekaar vir die duur van die vlug (agt of tien ure - wie hou nou boek)

Ongeveer vyfuur daardie middag (eintlik alreeds 12:00 die nag, plaaslike tyd) land ons op die José Marti Lughawe in Havana, Kuba. Dié José Marti, so tussen hakies, was 'n Suid Amerikaanse digter/skrywer wat, soos ek later sou agterkom, 'n groot literêre invloed op die geeste agter die rewolusie gehad het. Heelwat van sy sêgoed is oral as slagspreuke op die mure aangebring.

Vol vertroue en met die versekering van die Kubaanse ambassade in Windhoek dat geen visum nodig is vir 'n Namibiese burger op besoek aan Kuba nie, staan ek my beurt en afwag voor die paspoortbeheer toonbank. Hierdie wag duur ongeveer 'n uur lank. Oral is televisieskerms besig om die lof te besing van die land met kenmerkende Kubaanse ritme in die agtergrond. Musiek waarvan ek die volgende twee weke nog baie meer gaan hoor.

Die beampte, met een ster op sy skouer, blaai tydsaam deur my paspoort. "Waar is my visum", vra hy in Spaans. Ek verduidelik hom, so goed as ek kan, in Engels natuurlik, van die versekering wat aan my gegee is deur die Kubaanse ambassade in Windhoek. Hy vat my paspoort en gee dit aan 'n ou met twee sterre. Dié weer op sy beurt aan 'n ou met drie sterre en so aan tot heel bo waar dit soos die melkweg lyk. Elke keer met 'n langdradige verduideliking oor die ou met die baard wat die land onwettig wil binnekom. Elke "gesterde" beampte kom bekyk dan eers die onderwerp van bespreking vanagter die glas. Twee verdere ure later, waarin geduld die wagwoord moes wees, stap ek uiteindelik met militêre begeleiding deur die hekke en kry my bagasie wat daar eenkant op my staan en wag.

'n Taxi is buitekant byderhand. Onnodig om te sê dat ek op daardie stadium nie regtig die lus of krag gehad het om my omgewing te bekyk nie. Die bestuursvermoë van die bestuurder van my voertuig het my amper laat bly voel dat ek nie wakkerder was nie. In die begin het ek nog probeer volg waarmee hy besig is, maar later het ek maar net oë toegemaak en gebid. Op hierdie stadium is dit nodig dat ek die algemene padgebruiks-opset in Kuba eers moet verduidelik. Hulle ry ook soos Europa en Amerika aan die regterkant van die pad. Waar die paaie uit dubbelbane bestaan, word die regterkant van die dubbelbaan deur die fietsryers gebruik. Waar die paaie uit enkelbane bestaan word die hele pad deur die fietsryers gebruik - met duidelik chaotiese gevolg. Omrede die skaarste aan motors, is dit rêrig nie snaaks om 'n hele familie op een fiets te sien ry nie. Waar die huislike finansies effens beter is, gebruik hulle twee fietse. En, omdat dit Sondagmiddag was, was die pad, fietsgewys, redelik besig. Die linkerbaan was nou weer ongeskrewe gereserveer vir die motoraangedrewe voertuie, of hulle nou ry of stilstaan (na die enjin die gees gegee het, want op hierdie paaie kry jy enigeiets van 1930 tot 1995 modelle). Daar word dan ook mildelik van die toeter gebruik gemaak om so tussen die fietse en stadiger voertuie deur te vleg, want, alle taxibestuurders hier is klaarblyklik altyd vas onder die indruk dat jy baie laat is vir die een of ander lewensbelangrike afspraak. Teoreties klink dit heel aanvaarbaar, maar die probleem is dat geen ander voertuig of fietsryer hom veel aan die getoetery steur nie. Daarom dat ek oë toegemaak het, want volgens alle menslike logika kan jy onmoontlik heelhuids uit sommige van daardie situasies kom waar taxi en ander voertuig of fietsryer en taxi mekaar met die oorblywende verfdikte aan die afgeskilferde moderskerms mis. Ongelooflik en in een stuk laai hy my af by my hotel.

Die hotel met die mooi naam van "El Viejo y el Mar" of vertaal, "Die Ou Man en die See", is vernoem na 'n boek van Ernst Hemingway, wat hy eens op 'n tyd in Kuba geskryf het. Later sou hulle ons omtrent op al hierdie ou groot gees van die letterkunde en Nobelpryswenner se voetspore vat, van waar hy gesit, gelê, geëet of gedrink het to waar hy visgevang het. So terloops, die hotel was ook geleë in die Hemingway Marina, 'n afgebakende toeriste-eenheid.

Die hotel self kan beskryf word as 'n goeie drie-ster, met uitstekende en vriendelike ontvangs, gerieflike kamers (waar die warm water net somtyds op onverwagte tye opgeraak het) en 'n aangename eetkamer atmosfeer met altyd vriendelike kelners. 'n Gerieflike sitkamer waar drankies en ook ligte etes bestel kon word onder die aanhoor van 'n lewendige klavieruitvoering, sou die res van die binne-hotel kon beskryf (om die waarheid te sê, die, laat ons dit maar reguit sê, heel aanvallige dametjie wat die klavier meesal bespeel het, het dit met soveel emosie en gevoel gedoen dat ek en my kollega van Mauritius dit op 'n stadium nodig geag het om haar oor te nooi en geluk te wens met haar spel. Dit het sy baie waardeer).

Buite weer, was daar 'n heerlike, goed versorgde swembad met buitelug kroeg en ander geriewe. Redelik gereeld is buitelug musiekuitvoerings (tradisioneel Kubaans) en ander vermaak ook daar aangebied. Hier moes jy mooi keer of jy word by hulle danspassies betrek. Onwilligheid om te dans verstaan hulle nie - weet nie of ons ou Germaanse voorvaders te koud gekry het om ooit uitbundig te raak nie. Maar, dit alles was slegs gemik op en bedoel vir buitelandse besoekers en oorsese gaste. Die gewone ou op straat het geen toegang tot die Marina gehad nie.

Ek het ook eers later agtergekom dat die geld (pesos) wat hulle ons gegee het met inruil van die reisigerstjeks ook spesiaal vir die buitelander bedoel was. Die gewone Kubaan se "peso" was goed tot dertig maal minder werd.

Oor die vergadering self wy ek nie uit nie, al wat ek kan sê, is dat hulle ons al die pad soos konings behandel het. Dit wat ek daar geleer en wys geword het was besonder waardevol in terme van my werk, en die vriendskappe wat daar gesmee is, sal lank onthou word.

Kuba, ter wille van die geografie, is in die Karribiese See geleë en alhoewel dit winter in die Noordelike Halfrond was met sneeustorms en ysreën, het ons vir die grootste deel van die tyd tropiese weer beleef. Selfs die reën was beperk tot drie dae toe twee kouefronte kort na mekaar oor die land beweeg het en hoë golwe onder 'n grys lug teen die seemuur langs die hotel aangestorm het. Omdat ons egter heeldag vergadering gehou het, was die enigste beskikbare tyd om die weer te geniet, in die aande en oor die naweek wat ons geskeduleer was om daar deur te bring. Die Saterdag was toegewys aan 'n toer van ou Havana, waar ons die pragtige argitektuur uit die sewentiende eeu kon besigtig en waardeer. 'n Draai deur die plein van die rewolusie met 'n ander vader van geweld, Che Chevarra, se afbeelding daar waar jy dit nie kan miskyk nie, was ook deel van die toer. Ons toer het geeindig op die "Katedraal-plein" waar ons midde-in 'n menigte van ander toergroepe fotos kon neem en aandenkings kon koop. Dit is net hier waar ek en my kollegas van Oostenryk, Poland en Denemarke die hele toerprogram omvergegooi het toe ons eers 'n baie eksotiese, eg-Kubaanse drankie wou nuttig. Tot frustrasie van ons arme toerleier wat tot op daardie stadium die tydskedule van sy program so mooi laat klop het. Nog fotos van straatjies en stegies en verder met die bus, terug na die hotel. Die geleidelike agteruitgang en verval van die ou geboue was egter baie duidelik. Die toergids, met komplimente van Intour (die staats toeriste agentskap), het verduidelik dat hulle wel besig is om herstelwerk te doen en dat 'n hele paar ander lande daarby betrokke sou wees of reeds was. In my opinie is die verval op plekke nie meer so prakties of ekonomies herstelbaar as wat hulle wil voorgee nie. Verder, en nogal heel opvallend is die baie Amerikaanse motors. Nie snaaks nie? Behalwe dat meeste van hierdie voertuie uit die tyd voor die rewolusie dateer. Almal van 1957 en ouer, Buicks, Pontiacs, De Sotos, Dodges, Studebakers, Chevs en Fords. Dan die era na die rewolusie se Moskwas, Moskwitshe, Volgas en Ladas - honderde van hulle in enige moontlike toestand van rybaarheid. Soos die afgevaardigde van Oostenryk ewe droog opgemerk het: "..hier ry hulle nou hulle karre rêrig tot hulle klaar is."

Vir my, om egter 'n land te beleef, is nie uit die sitplek van 'n bus of aan die hand van 'n toergids nie. Die land is in sy mense, en alhoewel die toergidse wat ons begelei het puik was in hulle optrede en agtergrondskennis, het hulle tog hard probeer om ons vir die duur van die vergadering van die gewone mense af weg te hou. Ek het geduldig gewag vir my kans om Kuba van binne af te sien.

Daardie geleentheid het een middag na my kant toe gekom toe ek een van die "toeriste-taxis", 'n nuwe Mercedes, stad toe gehaal het om by die bank uit te kom, vir verdere uitruil van geld.

Met 'n gesukkel van plek tot plek tot by die regte plek, 'n internasionale bank. Hier kry ek hulp van 'n Engelsprekende Kubaan wat namens my vra wie laaste in die tou is. Daar is nie regtig 'n tou nie, almal sit so rond en bont. Al wat ek moes onthou is wie voor my is, en na ek 'n ou gekry het om na my in die tou rond te sit, was ek geholpe. 'n Halfuur se wag en ek kry my geld en soek vervoer terug konferensie-sentrum toe. By die deur uit, wil 'n ou my oplaai, maar die poliesman daar beduie hom weg en laat my duidelik verstaan dat daardie voertuie nie vir die buitelanders bedoel is nie. Ek vra hom "waar dan heen?" en hy beduie so vaagweg 'n paar blokke verder aan. Om die hoek, en daar wag dieselde ou afgeskilferde donkerblou Moskwa vir my. Ek wonder nie nog nie, ek klim in.

So in die ry begin ons gesels. Ernesto, soos hy hom voorstel, se Engels is maar effens en my Spaans nog meer beperk. Maar ons gesels so lekker dat hy my later uitnooi om te kom kuier. Ons spreek af dat hy my een middag daar voor die hekke van die Marina sal kom oplaai. Ek moet net iets te drinke saambring, iets wat ek met my dollars maklik kan koop.

Dinsdagmiddag vieruur wag Ernesto vir my in sy 1968 Moskwa. Saam is ons na 'n voorstad met die naam van Santa Fê. Kleinerige erwe met nog kleiner eenvormige ou huisies, in 'n hagliker toestand as wat ek baie van ons ou "lokasies" al gesien het. Die mure is afgeskilfer, maar 'n groentetuin met mielies, tamaties en 'n ander paar vreemde groentes is netjies versorg in die voortuin. Blomme en gras kan jy nie eet nie, daarom is dit afwesig. Vrugtebome soos papajas, piesangs en mangos is relatief volop. 'n Ander vrug, waarvan die naam my ontgaan het en waarvan ek in elkgeval nog nooit gehoor het nie, kom ook algemeen voor. Binne is die meubels karig. In die een hoek staan 'n antieke Russiese TV-stel, 'n bed vir sitplek en 'n ou stoel. Die kombuis bestaan uit 'n tafel en drie stoele, 'n parafienstoof wat jy met spiritus aan die brand steek, 'n nog antieker yskas en wasbak. Daar is geen elektriese lig nie, want gloeilampe is nie beskikbaar vir die volk nie. Kerse, so tussen hakies, ook glad nie. Lig word snags verkry van 'n tuisgemaakte parafienlamp, wat niks meer is as 'n blikkie gevul met parafien, waaruit 'n gevlegde koperdraad en tou-pit steek. Daar is ook nie glas voor die vensters nie, lig of nie-lig word verkry deur hout-blindings oop of toe te maak.

Ek word voorgestel aan Ernesto se vrou Marina (van Afrika-afkoms) en hulle glimlaggende baba. Ek ontmoet ook sy suster Inés Maria (tipies Spaans) en haar twee dogters Aylin en Aylen. Ons eet 'n soort van ingelegde vleis, brood (pan) en olywe (olivas). Ons drink bier en Kubaanse 7-jaar oue rum (ron) net so met ys uit een regte glas en drie gekrapte, verkleurde plastiekglase wat ons by die huis seker lankal sou weggegooi het (die ys is verkry deur 'n blikkie vol water in die vriesgedeelte van die yskas te laat verys, uit te skud en onder 'n vadoek stukkend te kap). Hulle het ander glase gehad, verduidelik Ernesto, maar een aand het 'n stuk van die betondak afgebreek en dít wat daar was platgeval. Ons rook Suid Afrikaanse sigarette en ons praat Spaans en Engels, ons lag vir mekaar se pogings, teken prentjies en beduie dat dit bars en, snaaks genoeg, ek voel tuis. Ons gesels oor Afrika en waar ek vandaan kom. Ons gesels oor Kuba, hulle lewe en werk daar. Inés Maria sê Kuba is "malo, malo, malo" oftewel sleg, sleg, sleg. Ek hoor dat werk maar skaars is en gereserveer word vir sekere uitverkorenes - soveel vir die perfekte stelsel. Ernesto is 'n geregistreerde taxi-bestuurder wat die grootste deel van sy geld verdien deur toeriste onwettig rond te ry. Marina is 'n opgeleide onderwyseres en het net vir ses maande van die jaar werk. As dit goed gaan kan hulle gesamentlik so R 60 per maand bymekaarbring. Inés Maria het 'n graad in Wiskunde sowel as 'n doktersgraad in Sielkunde. Sy kon nog nooit werk kry in haar vakgebied nie en werk as tamatie-planter op een van die staatsplase vir die ekwivalent van ongeveer R 28 per maand. Sy is 34 jaar oud, maar haar hande is dié van 'n ou hande-arbeider. Haar man het haar en die kinders net so gelos en verdwyn. Laatmiddag stap ek saam met haar en haar dogters oor na haar huis toe waar sy spog met haar groentetuin, haar bok-ooi en 'n klompie kuikens. In die erf langsaan is 'n vark op hok. Ons drink sterk, soet, swart koffie (espresso) en sy wys my haar fiets, haar meer as antieke naaimasjien en vertel van die swaarkry en die sukkel. Die ellende van die mense, tog so duidelik opgevoed, verfynd en afgerond, tref my diep en dit maak seer. Vir ons wat so maklik kan kla oor die geringste van swaarkry is dit wat ek hier beleef en sien iets wat my diep aangryp. Ons kry nie swaar nie, ons het meer as genoeg om oor uit te jubel van vreugde, maar ons loop met lang gesigte rond en wonder waar die geld vir die nuwe strandhuis vandaan gaan kom. Hierdie mense het niks, en selfs al het hulle 'n paar pesos te spaar gehad, kan hulle dit wat hulle nodig het nie bekom nie - hulle het geen toegang tot daardie winkels nie. Daardie beperking het ons as toeriste met ons Amerikaanse Dollars nie beleef nie - alles was vir ons verkrygbaar. Ek hoor dat verf, om die huise bietjie op te knap, nie vir hulle beskikbaar is nie. Selfs nie eers normale dinge soos seep of tandepasta nie. Ek hoor selfs dat 'n geskenk in die vorm van 'n koekie seep baie meer werd is as juwele. Onnodig om te noem dat ek, agter die dekmantel van my toeristeskap, 'n hele paar goedjies soos seep, sjampoe en tandepasta sowel as blikkieskos en ander luukshede vir hulle aangekoop het. Nogal treffend was die feit dat relatief min van hulle rook of drink - dit kan net nie bekostig word nie.

Wat my egter dwarsdeur my hele besoek bygeval het, was die gemak waarmee die mense kon lag, en vir die geringste van musiek wil hulle net dans. Dit is in hulle en so opmerklik deel van hulle bestaan. Bo-oor al die swaarkry en ooglopende armoede is daar 'n doek gegooi, geborduur uit daardie natuurlike en innerlike vreugde wat uitstraal en uitborrel uit hulle hele lewenshouding uit. Al waar ek werklik hartseer (trieste) gesien het, was wanneer hulle oor hulle kinders gepraat het, dan het die trane maklik gekom.

Ek kan seker nog vertel van die totaal oorbespreekte vliegtuig van Iberia en die twee verdere dae se agterbly in die effens oorversierde Riviera Hotel in Havana self. Die honderde jong, aantreklike meisies, wat in die aand die hotel toesak, en uit desperaatheid vir Amerikaanse Dollars bereid was om vir net vyf dollar die nag by jou deur te bring. Ja, ek en my kollegas van Noorweë en Denemarke het met hulle gesels - as 'n mens die tweesydige Spaans/Engelse gesukkel praat kan noem, vir hulle bier gekoop en gelag tot ons nie meer kon nie. Die saamslaap het ons, dalk uit oorweging van 'n man is mos nie 'n klip nie, miskien effens oorweeg, maar tog op die einde liefs nie deurgevoer nie. Alhoewel dit ook 'n hartseer deel van die werklikheid in Kuba was, sal ek dit nie so treffend onthou nie.

Wat ek wil en sal onthou is Ernesto met sy donkerblou, afgeskilferde, 1968 Moskwa, die klein Kubaan met die stewige handdruk wat my kon omhels en sy "amigo" noem. Sy vrou Marina met die baba teen haar skouer en die trane in haar oë toe sy groet. Ek sal ook vir Inés Maria met haar growwe hande onthou. Sy wat wou weet of sy regtig na 'n egte Spanjaard lyk, wat so graag haar huis vir my wou wys, haar "fria casa" of koue huis. Haar dogters, Aylin, die skraletjie wat so lekker kon lag en die skaam, mollige Aylen, die een met die asmaborsie wat so graag wou klavier speel. Die speelse bok en die geel kuikentjies. Ook hier was onverwagte trane toe ek groet - vreemdelinge wat vir 'n kort oomblikkie in die ewigheid kon vriende wees. Saam kon ons lag en saam kon ons treur. Ek sal die warmte van julle gasvryheid onthou, die warmte van julle glimlagte, die musiek in julle, maar tog ook die hartseer in julle trane oor die toekoms van julle kinders. Julle is mooi mense, mooier, baie mooier as ons wat kla as daar nie roomys saam met die gebakte skaapboud op tafel kan wees nie.

Mucho gracias y adios mi amigo y amigas.



















 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dankie vir hierdie happie oor Kuba, dit was baie interresant gewees om van die mense te lees wat swaarkry onder die uitverkorenes!
10 jaar 2 maande 4 weke 23 ure oud


Kuba lewensreis
Dit voel vir my ek was saam met jou daar. goed geskryf
Koekoe
10 jaar 2 maande 4 weke 1 dag 14 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Agter Geslote Deure

deur Johan Botha

Hoe sê ‘n vyfjarige kind vir iemand groter as hy om hom nie te verkrag nie? Hoe reageer hy as hy sien hoe sy ma mishandel word deur ‘n dominerende vark van ‘n pa wat op drugs is? Wat gebeur met hom wanneer hy ouer word en probeer om by die samelewing in te pas, ‘n samelewing waar hy sukkel om met ouer mans te kommunikeer? Hoe probeer hy om sy eie identiteit te skep en ‘n beter mens van homself te maak? Dan word hy aangesê om sy pa te vergewe? Hoe? Waar sal alles eindig? Hierdie is sy lewensverklaring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar