Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

LANK, LANK GELEDE,TOE ONS NOG GESPEEL HET…

Toe ek ‘n kind was, was daar nog-nie televisie nie. Dit beteken dat my ouderdom iets is waaroor ek nie graag praat nie, maar ek kan goed onthou, hoe ons en die engelse kinders langs ons, elke dag hond uit ‘n bos gespeel het.

Ons het onbevange rek gespring, klippie-skool, hop-scotch, wegkruipertjie en die baie opwindende “kissing touches” gespeel. Ek onthou nog die angs as die engelse seuntjie my gejaag het en as hy my gevang het, ‘n soen op my wang kaplaks het.

Saam het ons boomhuis gebou met afvalplanke uit Pa se garage en dit ons “den” genoem.Ons het selfs ‘n spesiale manier van fluit gehad, waarmee ons mekaar by die draad geroep het sodra ons huiswerk klaar was en Ma nie oor haar skouer geloer het nie.

Skemertyd was die lekkerste tyd vir speel. Dan sou ons tok-tokkie op Tannie Whitelaw en Oom Viljoen se voordeure speel en vervaard weghol as hulle die deure oopmaak. Dit was die tyd waar die reuk van vars gesnyde grasperke in jou neus dwarrel en Oom Isak, die Joodse Oom agter ons, se vrugtebome ons geroep het. Geelryp perskes, appelkose, appel en peer bome, pruime en selfs ‘n turksvybos het ons verlei, tot ons gewapen met kussingslope die bome gestroop het, met takke wat breek en ‘n woedende oom agter ons aan. Ons het sy jiddish woordgrepe nie verstaan nie, maar goed geweet wat dit sou beteken as hy ons in die hande sou kry.

By Wendy, my engelse maatjie, het ek geleer van bra dra, beenhare skeer, “make-up” en seuns. Ma het nooit oor hierdie dinge gepraat nie en altyd na die engelse bure verwys, as ligsinnige mense wat nie weet hoe om hul kinders op te voed nie. Ek dink daardie jare was daar nog ‘n “ding” tussen engelse en afrikaanse mense. Ons kinders het ons nie daaraan gesteur nie en terwyl die grootmense hand op die heup by die draad redekawel oor ‘n bal deur ‘n sitkamer ruit, het ons kinders lankal weer saamgespeel en nuwe planne beraam vir nog stoutigheid.

My eie kinders het groot geword met televisie. Tannie Magda en die bysiende Bennie Boekwurm, die Liewe dom Heksie, Niels Holgerson en natuurlik, Dawie die Kabouter, wat ‘n groot tranedal in my huis veroorsaak het toe hy met die laaste episode, in ‘n boom verander het. Ek moet erken dat ek self baie aangedaan was oor daardie laaste, roerende episode.

Telivisie was strawwe kompetisie vir ouers wat nog bedtyd stories gelees het. Ma moes improviseer en met behulp van stemverandering en vreemde byklanke, die immer gewilde Rooikappie en Aspoester vertolk.

Ten spyte van Televisie, was my kinders tog verbeeldingryk en het hulle eie speletjies gespeel. As dit klaar gereen het, het hulle my uit die kombuis kom haal om na die “feetjies se liggies” te kyk (reendruppels op die boomblare) en dan het ons feetjies en kabouters gejag in die tuin. Hulle het ook baie daarvan gehou om ‘n iewat makabere begrafnisdiens te reel en al die bure se kinders vir die geleentheid te nooi, wat gewoonlik afgerond was met rooikoeldrank en koekies. Enige iets was begrawe, van dooie sywurm motte tot af-kop poppe.

Later, toe hulle ouer was, het hulle Romeo en Juliet gemoderniseer en uitnodigings aan al die bure gestuur, vir die opvoer van die “produksie”. Hulle het selfs een van hulle Pa se spog bere wyne uitgeloot, vir ‘n gelukkige trekking om sodoende te probeer om ‘n goeie opkoms te verseker.

Die opkoms was goed, meesal die Ma’s van die deelnemers en die produksie was guitig en vrolik, met ‘n Romeo, wat by gebrek aan vervoer, na sy Juliet gejaag het op die rug van ‘n reuse pienk seekoei. Die bottel wyn was met groot seremonie oorhandig en Pa wonder vandag nog, wat van sy pryswyn geword het.

My kinders is nou groot en besig met werk, huis-hou en kinders grootmaak. Die bonus om vir hulle te gaan kuier, is natuurlik om met ons kleindogter te speel. Op agtien maande is sy ‘n bekkige, klein krulkoppie wat heeldag lank haar eie ding doen.

Haar Ma speel graag vir haar ‘n video van Barney, maar dit lyk nie asof sy ‘n innige verhouding met Barney aangeknoop het nie en speel liewer in die tuin. Stilweg hou ek haar dop terwyl sy met grassies, klippies en blare speel en haarwurms met haar vingertjies aanjaag. Later, gaan le sy op haar rug en staar na die wit, wolkmassas bo haar. Sy roep my en beduie dat ek langs haar moet kom le. Sy steek haar vingertjie in die lug, wys na die wolke en se: “Skapie”. Ek verkyk my aan die wolkmassa en sowaar, een wolk lyk net soos ‘n skaap.

Terwyl ek langs haar le en na die “skapies” kyk, voel ek gerus oor die toekoms. Ek dink nie Televisie gaan my kleinding se verbeelding steel nie. Kinders sal altyd speel, al moet ons as grootmense, soms net die tyd inruim en saamspeel!





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Lank Lank Gelede
Pragtig. En Tannie moenie bekommer oor die ouderdom nie, dit bring wysheid. Laat my ook terug verlang. Ons het darem dinge aangevang wat vandag se ma's se hare sal laat rys, en niks daarvan oorgekom nie. Groete. Daniel
13 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 10 ure oud


lank lank gelede...
Hierdie stukkie van jou laat my wens dat ek in 'n ander tydsdeel gebore kon wees. Maar dit laat my ook weer hoop hê vir die toekoms van ons jongklomp. As tannie van 10 het ek ook al verwonderd na die kleingoed gestaar en besef dat tv nie altyd 'n houvas op verbeeldings het nie. Baie dankie vir hierdie stukkie geskiedenis. Dit was 'n absolute fees om dit te lees.

nd
13 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 16 ure oud


Ai mens, het ek nou hierdie stukkie geniet! Dit het my sommer weer op ver paaie laat reis en laat verlang na vergange se dae. Goed geskryf, hou so aan.
13 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 18 ure oud


Kleintyd
Ai genade, hoe verlang ek sommer nou na daai lekker speel van kleintyd. Krieket met die tennisbal, kombers oor die draad gooi om tent te maak, suurlemoene in die buurman se tuin gaps en laataand fietsry in die strate. Dis goed om te weet daar's nog hoop vir ons kinders. Mooi geskryf,
groetnis
Z
13 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 19 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Bothaville in the Second Anglo Boer War

deur Francis Gillieron

CHRONICLE OF BOTHAVILLE'S ROLE IN THE SECOND ANGLO-BOER WAR



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar