Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Uit verveling van lank wag, tel ek ‘n ouerige tydskrif op van ‘n deurmekaar hopie op ‘n dokter se koffietafel. Die meeste artikels handel oor misdaad, geweld en moord. Ek lees die artikels vlugtig, wagtend dat die ontvangsdame my naam moet roep.

Dis nie lekker om te lees van ander mense se pyn, smart en woede nie. Die gevoel van wanhopigheid en hupeloosheid bly soos ‘n nat kombers aan mens kleef, lank nadat jy klaar gelees het. Ek blaai na die briewekolom, waar lesers kommentaar lewer oor vorige artikels wat geplaas was.

My oe kam deur ‘n brief van ‘n jong, swanger vrou wat deur haar man aangerand en emosioneel afgetakel word. Sy eindig haar skrywe deur te se dat sy vrees vir haar en haar ongebore kind se lewens, maar dat sy hierdie man so liefhet. Liefde, volgens haar, is nie ‘n skakelaar wat mens na willekeur kan aan-en-af skakel soos dit jou pas nie.

‘n Ander vrou skryf dat sy aan liefde geglo het, maar dat haar prins in ‘n padda verander het. Sy kook, maak skoon, maak hulle kinders groot, maar volgens hom is daar niks wat sy reg kan doen nie. Hy gee nie vir haar geld, waarvoor sy self ook gewerk het om kos en ander noodsaaklikhede aan te koop nie, hy vloek en skel haar heeldag en haar menswees het gekrimp, tot in watter bui hy opstaan in die oggend…

Ek ry later huis-toe na my goeie, dierbare man toe. Ons kook saam aandete, kyk ‘n bietjie televisie en gaan slaap met ons arms om mekaar se lywe. Net nog ‘n doodgewone dag in twee doodgewone mense se lewens.

Ek val in ‘n diep, donker put. Ek skree, maar niemand hoor my nie. My oe word rooi soos die vars bloed wat oor my hande vloei. In my ore weergalm skel stemme. Ek probeer my ore toedruk, maar besef ek het nie arms nie. Ek probeer weghardloop, maar iets druk my vas en pers die asem uit my hygende borskas. ‘n Gevoel van uiterste boosheid oorval my en ek voel hoe ek besig is om te sterf en daar is niemand wat my kan help nie, niemand wat my hoor nie…

Dit was ‘n nagmerrie om 02:00 vm. Ek was so histeries, dat my man my letterlik moes ruk om my tot bedaring te bring en te laat besef alles was net ‘n droom.

Oor ‘n koppie koppie in die vroee oggendure, het ek vir die eerste keer gepraat waarom ‘n vrou by ‘n man bly wat haar geestelik en liggaamlik mishandel. Dit is die vraag wat die mensdom hulself afvra as hulle so ‘n treurige verhaal hoor en waarvoor daar nooit ‘n duidelike antwoord is nie. Dis hierdie antwoord wat ons regstelsel se hande afkap en van ons mooi wette en menseregte, ‘n grap maak.

Die antwoord is eintlik baie eenvoudig, soos die skryfster van die een brief dit gestel het: “Ek is lief vir hom en liefde is tog nie soos ‘n skakelaar wat mens kan aan-en-af skakel, soos jy wil nie.”

Waar begin liefde en waar eindig liefde? Wanneer word liefde ‘n gewoonte en wanneer word dit vrees, magteloosheid en hulpeloosheid? Hoe steek ons daardie grens oor sonder dat ons dit eens besef? Waarom is hoop die een ding wat ons laat voort struikel deur elke dag, maar juis ook die ding wat eerste vernietig word in ‘n geweldadige verhouding?

Hoe is dit moontlik dat jou rassionele verstand kan onderskei tussen reg en verkeerd, goed en kwaad, maar dat jy verbete vasklou aan ‘n grashalm wat nie eens bestaan nie? Wanneer sterf die brein en emosie, maar die liggaam lewe voort?

Ek dink die brein is die wonderlikste gawe wat God aan die mens kon skenk. Dit is ook die grootste struikelblok indien die eienaar nie die handleiding oor hoe om dit te gebruik ken, verstaan, of toepas nie.

Die brein kan valse hoop, valse emosies en valse drome skep waar daar in werklikheid niks is nie. ‘n Wanindruk, of hoop kan ontstaan en vasgele word as ‘n voldonge onbetwisbare feit, terwyl die werklikheid iets heel anders is.

Die brein kan doolhowe en doodloopstrate skep wat nie bestaan nie en ons gevange hou daarin.
Dit kan die verlede terugdwing in ‘n ongebruikte, donker sel en op een dag, met die lees van ‘n paar artikels en briewe, tot uiting kom in ‘n vreesaanjaende nagmerrie wat die hel van vooraf aan jou openbaar. Dit, wat jy gedink het lankal reeds verwerk en vergete is.

Die brein is ook die magtigste wapen en daarmee kan jy ‘n oorlog wen, indien jy waarlik bereid is om te doen wat dit van jou sal vra en indien jy besef dat die brein net een baas het, en dis jyself…

***
Ek was een van die lewe se weggooi kindertjies in die dae toe aborsie nog nie wettig was nie. Ek het by middeljarige aanneem ouers beland, wat nooit hul eie kinders kon gehad het nie. Hulle motiewe om te skik vir aanneem kinders, is tot vandag toe vir my onbekend, want al was hul reeds gevorderd in jare, was hulle beslis nie gereed vir die eise wat kinders aan hulle sou stel nie.

Ma, was soos ‘n groot, donker denneboom met stekelblare as jy daaraan sou vat. Moderskap was nie vir haar ‘n natuurlike proses nie en sy kon ons nooit teen haar bors vasdruk, liefkoos, of troos nie.

My aangenome broer en ek het verskillende metodes gehad om te deel met die gebrek aan liefde wat seker die mees basiese eienskap is, wat kinders nodig het om normaal te ontwikkel. Hy het vroeg middag die huis verlaat en by maatjies gaan speel en saans, skemer donker eers in die huis gesluip. Ek het weer met ‘n verbeeldings maatjie gesels, blommetjies in die tuin gepluk en gepars, lang gesprekke met die huishond gevoer en my storieboeke voos gelees. Altyd eenkant met my eie gedagtes en verbeelding, het ek skugter agter hoeke en mure uitgeloer. Nooit eintlik iets gese, of gedoen nie.

Toe ek matrikuleer het, was die opwinding om weg te gaan van die donker huis met sy plankvloere wat kraak, die onuitgespreekte verwyte, opgehoopte skuldgevoelens en onderdrukte woede, die beste ding wat met my kon gebeur. Of so het ek gedink, min wetend dat ek glad nie opgewasse sou wees teen die harde werklikheid van die lewe en die eise wat dit aan my sou stel nie. In my binneste het die alomteenwoordige gevoel van verwerping bly knaag. Van nie goed genoeg wees nie…
In my werk was ek stil en afgetrokke. Beslis nie partytjie materiaal nie. Ek het so onopsigtelik as moontlik my werk gedoen en saans na my eensame kamertjie teruggekeer. Daar het ek ure omgedroom, soos om bv. ‘n heldhaftige polisievrou te word, ‘n grasieuse lugwaardin, of ‘n onverskrokke joernalis. Mense sou van my notisie neem, my respekteer en hulle verwonder aan hierdie merkwaardige vrou.

Ek het tog een onverskrokke, ondeurdagte ding gedoen en dit was om my biologiese moeder op te spoor. Ek het my verstom aan my eie vernuftigheid en haar binne enkele weke opgespoor. Die ontmoeting was baie dramaties en glad nie soos ek gedink het dit sou wees nie. Maande na daardie ontmoeting, het die besef tot my deurgedring, dat sy nie belangstel dat ek ‘n deel van haar lewe moet word nie. Haar redes vir hierdie besluit, kan ek vandag rasionaliseer, maar daardie tyd het dit my verslae en stukkend gelos. My eie Ma wil my nie eens he nie…

Daar was niemand met wie ek kon, of wou praat daaroor nie en my aanneemouers was woedend toe hulle uitgevind het wat ek gedoen het. Hulle het dit beskou as ‘n klap in hulle gesig, na alles wat hulle vir my gedoen het. My jong lewe was deurtrek met pyn, skuldgevoelens en eensaamheid.

In hierdie tyd, het ‘n jong man by my werk aandag aan my begin gee. Dit was so lekker om vir een keer in my lewe geliefd en belangrik te voel. Eindelik was daar iemand met wie ek kon gesles oor my hoop, my drome en my toekoms. Vir die eerste keer in my lewe het ek gevoel ek “hoort” iewers.

Drie maande later was ek swanger en het die jong man my probeer vermy. Tog, het hy later die “eerbare” ding gedoen en het ons getrou in die plaaslike Landdroskantoor. ‘n Gawe Tannie het ‘n koek en tee gereel as onthaal en die byeenkoms was gekenmerk met familielede, wat onderling weddenskappe aangegaan het oor hoe lank hierdie huwelik gaan hou. Pa en Ma was weg, nog voor die teekoppies koud was.

Ongeag almal se bedenkinge oor ons huwelik, was ek onversteurd en vasbeslote oor my toekoms. Ek gaan hierdie kindjie grootmaak en niemand sal haar van my af wegneem nie. Ek gaan haar met soveel liefde oorweldig en sy sal nooit hoef te voel, hoe dit voel om verworpe en liefdeloos deur die lewe te gaan nie.

Die bitter feite van die saak is, dat daar geen skool is wat ouers kan toerus en voorberei op die eise wat ‘n kind aan jou kan stel nie. Daar was ook geen duidelike rolmodel wat ek kon volg nie en ek was bloot ‘n kind, wat ‘n kind probeer grootmaak het en jammerlik gefaal het.

My man was baie erg oor sy klein mensie en terwyl hy haar geniet het, het ek gesukkel met seer borste, min slaap en stukkende hande van doeke was in die bad. My onbeholpenheid met my baba, was deur hom tipies van swak moederskap. Dan het ek haar doek skeef aangesit, of was haar borslap vuil, of ek het vergeet om haar naels te knip. Ek het soos ‘n totale mislukking gevoel.

My baba was skaars ‘n maand oud, toe moes ek weer begin werk om die pot te help aan die kook hou. My man het sy studies gestaak en ons lewe was gekenmerk deur ‘n rond trekkery van dorp tot dorp, altyd na ‘n beter werk en ‘n beter salaris vir hom. Hy was gedrewe en ambisieus en hy sou enige-iets doen, om aan my familie en veral aan sy Pa te bewys dat hy ‘n welvarende en ‘n gerespekteerde mens is. Sy haat vir sy Pa was byna tasbaar en ek sou later uitvind waarom dit so was.

Hy het op ‘n myndorp grootgeword as die oudste van vyf kinders. Van kleins af het die kinders beleef hoe hulle pa, hulle ma aanrand, vloek en op spuug. Dit moes verskriklik gewees het om so ‘n lewe te gehad het. Ek was jammer vir hom en het sy pyn meegeleef, veral toe sy ma op ‘n relatiewe jong ouderdom van vier-en veertig oorlede is aan ‘n hartaanval.

Ons het later nog ‘n kind gehad en my man het lang ure gewerk om finansieel voorsiening te maak. Ons kon later ook mooi meubels aankoop, ;n huis en ‘n nuwe motor. Ek moes steeds werk om te help om hierdie lewenswyse te handhaaf. Ons huwelik het selfs ‘n buite-egtelike verhouding wat hy gehad het, oorleef. Ons was saam gebind deur ‘n band wat uit smag en soeke na welvaart, erkenning en respek, die orde van die dag was.

Ek kan die presiese dag onthou wat alles verander het. Ons was reeds nege jaar getroud en nie besonder gelukkig nie, maar ook nie besonder ongelukkig nie. Ons was nie baie welvarend nie, maar ook nie arm nie. Doodgewone mense met ‘n huis, twee pragtige kinders, ‘n hond en twee motors in die oprit.

Dit was ‘n Vrydagmiddag en ek het effens vroeer van die werk gekom. Ek het dadelik begin skoonmaak, die wasmasjien aangeskakel en begin met ‘n ligte aandete. My man het ingekom van sy werk af, my ‘n piksoen gegee en sy hande onder die kombuiskraan afgespoel. Hy het vertel dat hy ‘n uiters mislike dag by die werk beleef het. Daar was ‘n kollega wat blykbaar sy bes gedoen het om my man by sy base te diskrediteer. Ek het die eiers in die pan geroer en kommentaar gelewer. Ek het hom gevra, waarom hy nie aansoek doen vir ‘n ander posisie as dinge so onuithoubaar is vir hom nie.

Die volgende oomblik was hy langs my. Hy het die pan van die stoof geklap en daarna begin om die kombuistafel en stoele stukkend te slaan. Hy het nie opgehou voor alles stukkend was nie.

Ek was nog nooit so bang soos daardie aand nie en ek het die kinders geroep en weggevlug van die huis af. Ons het by ‘n vriendin gaan kuier en ek het daar gebly tot ek duidelik kon sien sy is moeg en wil gaan slaap. Ek het haar nie vertel waarom ons so onverwags kom kuier het nie.

Die kinders was onbewus van die drama wat afgespeel het en het rustig op die agterste sitplek van die motor geslaap. Die huis was donker en onheilspellend toe ons daar aankom. My man het rustig geslaap en nie ‘n poging aangewend om die skerwe op te ruim nie. Ek het die kinders op hulle bedjies neergele en langs hulle aan die slaap geraak.

Die volgende dag was alles asof die insident nooit plaasgevind het nie. My man het vroeg oggend reeds al die gemors opgeruim en gelag en gesels asof niks fout is nie. Ons oudste kind het haar Pa gevra wat gebeur het dat alles so stukkend is en hy het sy arm om haar geslaan en gese: “Dis Mamma wat my so kwaad gemaak het, maar Mamma het belowe dat sy dit nie weer sal doen nie.” My kind het tevrede en gelukkig weggehuppel.

Ek weet nie hoekom ek hom nie daardie dag konfronteer het nie. Dit was asof iets my verhoed het om die woede en waansin wat ek aanskou het, uit te spreek. Ons het nooit daaroor gepraat nie en voortgegaan asof niks gebeur het nie.

Die volgende voorval het nie baie lank daarna gebeur nie. Hy het katte met ‘n passie gehaat en my bure se twee baba katjies, het een middag by die agterdeur geraas. Ek het hulle laat inkom, die sagte lyfies vertroetel en ‘n bietjie melk in ‘n piering vir hulle neergesit. Die agterdeur het skielik oopgegaan en my man het ingestap. Die oomblik toe hy die twee katte sien, het sy gesig vertrek van woede. Die een katjie het verskrik by die agterdeur uitgehardloop, maar die ander een het in die gang af gehardloop, tot in die agterste kamer in die huis.

Toe ek daar kom, was dit reeds te laat. Hy het die katjie se kop pap geslaan op die vloer. Hy het aanhou en aanhou met slaan. Daar was geen woorde, of gedagtes terwyl ek staan en toekyk het na dit wat voor my afgespeel. Hy het die kamerdeur toegedruk en die bebloede katlyk in my gesig gedruk. “Waag dit net weer om so-iets te doen! Ek het jou gewaarsku dat ek nie katte in my huis duld nie!”

Daarmee het hy uitgestap. Ek kon die kinders se vrolike stemme buite in die tuin hoor. Iewers het ‘n sonbesie tekere gegaan in ‘n boom. Die bure se hek het bekend toegeklap. Die struik voor die venster het liggies gewieg in die wind. Ek was totaal onmagtig om dit te verwerk wat so vinnig gebeur het.

Ek het soos ‘n robot beweeg en die mop gaan haal en die bloed van die vloer gewas. Die lykie het ek in ‘n swart sak toegedraai en in die vullisdrom gegooi. Daarna het ek gaan stort. Ek het my lyf geskrop en geskrop en gedink ek sal nooit weer skoon word nie.

Ons het aangesit vir aandete. Die kinders het gesoebat vir ‘n slaapstorie en ek het Bambi voorgelees, maar so gestotter, dat my oudste kind die boek uit my hand geruk en self verder gelees het. Later, die nag, toe ek langs hom le en na sy ritmiese asemhaling luister, het ek gewonder of ek nie net ‘n nare droom gehad het nie. Ek het kaalvoet in die gang afgesluip en in die vullisdrom gaan kyk. Die swart sak was werklik daar. Dit was nie ‘n nagmerrie nie, maar die begin van die hel…

My lewe het soos water wat deur vingers glip, begin raak. Daar was geen beheer nie. Dag en nag het dieselfde geword. Die ure was traag en alles ver van my verwyderd, asof dit ‘n rolprent is wat voor my afspeel. Ek glo dat ek daardie dag my sinne verloor het en my brein afgeskakel het. Ek wou nie dink nie, wou nie voel nie en miskien, miskien was alles tog my eie skuld. Ek het geweet hy hou nie van katte nie. Miskien moet ek harder probeer om ‘n goeie vrou vir hom te wees. Onthou om die botter op die regte rakkie in die yskas te bere, onthou om sy broeke met ‘n perfekte middelnaat te stryk, onthou om die garage uit te vee en die motors te was, die gras nat te maak…

Ek was op autopilot, maar snags wanneer almal slaap en net die krieke raas onder die oop venster, dan rook ek een sigaret na die ander, kou my naels en drink ekontelbare koppies koffie.Slaap het soos ‘n veldmuis voor ‘n somerbrand gevlug. Ek kan nie onthou of ek iets gedink het en of ek glad nie gedink het nie. Tog was daar hoop vir die volgende dag. Dalk glimlag hy, dalk druk hy my styf teen hom vas, dalk staan hy in ‘n goeie bui op. Dit het nooit gebeur nie en tussen ons het daar’n diep, donker kloof ontstaan, wat nooit oorbrug sou word nie. Ek het nooit besef dat dinge net erger sal word, alhoewel ek elke dag gehoop het vir iets beters nie.




‘n Lang ruk na die kat insident, het ek een dag sommer skielik sonder ophou begin huil. Ek kon die stroom trane nie keer nie. Ek kon ook nie gaan werk nie, so het ek gehuil. My man het my na ons gesin se dokter geneem. Daar het ek eers gehuil en al wat ek kon uitkry, was om te beduie na my bors en te se dat dit verskriklik pyn.

Ek het gesien hoe die dokter en my man saggies met mekaar praat. Die dokter het my kom meedeel, dat ek ‘n senu ineenstorting beleef het en dat hy my na ‘n hospitaal gaan stuur, waar ek kan beter word. My man het langs my kom staan en my hand vasgehou. “Ounooi, dis beter as jy gaan rus. Die mense sal mooi kyk na jou en dan sal jy gou beter voel.” Ek kon nie glo hy hou my hand vas nie.

Die neurokliniek was ‘n skrikwekkende monster met stukkende mense en groen gordyne wat wapper in die wind. Die sindelike wit bedjies in ‘n ry en vrolike sketse teen die muur, ‘n teenstelling met die trane wat in die kussings gehuil word.

Die roetine was gersustellend en die slaapille wonderlik. Die psigiater het my bestudeer soos ‘n interessante, bont gogga. My rasionele verstand het geweet hierdie persoon wil my help, maar ek was vasgevang in ‘n donker kamer waaruit ek nie kon ontsnap nie. Ek kon nie praat nie. Vir maande lank het ek geen woord oor my lippe ge-uiter nie.

Groot woorde soos Major depressie, het verander na bipolere depressie en skokbehandelings. Ek het my alles laat geval en niks gese nie. Die mure se grys was bekend, sag en beskermend. Ek wou vir altyd hier bly, knus toegewikkel van die buite wereld, soos ‘n papie in ‘n sybaadjie.

Maande later kon ek eers huistoe gaan. Ek het gehuil want die pasiente het soos familie geword. Hulle het nie vir my gelag nie, al het my mondhoeke skeef getrek van die medikasie. Hulle het my ook nie veroordeel nie, want hulle was gebroke siele, net soos ek.

Dis logies dat ek nie meer ‘n werk gehad het nie. Ek het probeer om ‘n goeie huisvrou te wees. Heeldag gewas, skoongemaak, reggepak en selfs probeer klere maak. My kinders het vreemd vir my geraak. Hulle oe was wyd en donker en vol vrees. Ek was nie bewus daarvan hoe die ander kinders by die skool hulle gespot het oor hulle “mal” Ma nie.

Die gemeenskap het my aangestaar. Soms het hulle van my, voor my gepraat asof ek nie daar is nie. Ander het gevra hoe dit regtig voel om mal te wees. Sommiges het opreg probeer om my te bereik, maar iets in my het stil geraak en ontoeganklik vir alle mense. Niemand sou tog verstaan nie. My man het Dominee se beste pel geraak en so ook met almal wat hy gedink het belangrik is op die dorp. Hy was genooi om voorsitter van ‘n eksklusiewe mansklub op die dorp te raak wat volgens hom, ‘n baie groot eer was. Hy het skielik baie vriende gehad.

Ek het met my kop op my bors in die dorp rond geskuifel. Ek het die fluisterstemme gehoor wat gevra het, waarom skei hy nie van die vrou nie? Ander, (met reg), het my kinders bejammer oor hulle moet grootword met ‘n versteurde Ma.

Die bure se kinders het eenkeer gaan oorvertel dat hulle gesien het hoe die Oom, die tannie aan haar hare ronsleep in die huis. Niemand het hulle eintlik geglo nie en sou dit wel waar wees, dan moes die Tannie seker iets vreesliks aangevang het!

Die Tannie het wel later iets vreesliks probeer aanvang. Sy het probeer selfmoord pleeg. Na ‘n maagspoeling, het ek wakker geword in ‘n hospitaalkamer. Op die bedkassie was ‘n blomruiker van my man en die kinders, met liefde. Die verpleegster het gese ek kan gelukkig wees my man het my so gou gekry. Ek het dit oorweeg om haar aan te rand, maar liewer in stilte die koppie tee gedrink.

Dominee het my kom besoek. Hy het sy bes gedoen om my te probeer bereik, maar al waaraan ek kon dink, was hoe hy en my man gesels het oor planne om ‘n kerk te bou iewers in Afrika, Hoe hulle Bybelse waarhede deel en saam lag. Ek sou nooit met Dominee kon praat nie.

My lewe het bestaan uit groot, grys dongas van pyn, pyn en pyn…Ek kon geen besluite neem nie en aanvaar dat dit nie vir my beskore is nie. Dit was die lot van my lewe.

Toe my oudste kind klaar was met skool, het my man my een middag meegedeel dat hy van my gaan skei. Skielik was dit wat ek geken en verstaan het, van my weggeneem. Die bekendheid van die huis, die gerief van vol koskaste, die sekerheid dat daar in die donkerte van die nag tog bekende asems was.

Ek was desperaat en het het hom gedreig dat ek sal selfmoord pleeg. Hy het my aangekyk en gese: “As dit is wat jy wil doen, dan moet jy dit maar doen. Dit maak eintlik nie saak nie, want jy is lankal reeds dood…”
***
Ek was twintig jaar in hierdie sieklike verhouding vasgevang, waarvan ek vir 11 jaar geestelik en liggaamlik mishandle was. My mooiste jare as vrou en moeder was verspil en niks wat ek ooit sou se, of doen, sal die tyd kan terugkoop nie.

Ek moes soos ‘n baba van vooraf leer mens word. Ek moes van vooraf leer hoe om te “voel” en nie net nuanses en skakerings van pyn ervaar nie. Ek moes leer om te onderskei tussen emosies van woede, vreugde, pyn, haat, maar ook van vreugde, geluk en berusting.

Ek was soos ‘n klein kindjie verlore in ‘n oerwoud. Ek moes val, self opstaan, vrede maak met eensaamheid en met verlies. Ek moes ook leer om myself te vergewe, om vergifnis te kan aanvaar en om verantwoordelikheid vir myself te neem. Ek moes leer om oor my gevoelens te praat, om emosies te herken en te verwoord. Ek moes leer om respek vir myself te ontwikkel en hoe om eerlik met myself te wees. Ek moes ook leer om ander mense te vertrou.

Al was hierdie ‘n situasie waar selfs die wat lank vir my gebid het, later ook moedeloos geraak het en kopskuddend na my gekyk het, was hulle gebede tog nie verniet nie. Dalk weet hulle dit nie eens vandag nie, maar God het afgebuig en my aangeraak sodat my brein uit sy lang slaap wakker geword het. Ek moes so baie doen en beleef om vandag hier te kan sit om die donker sel van my brein oop te gooi, sodat iemand anders daarna kan kyk.

Ek doen dit vir jou jong, swanger vroutjie wat vrees vir jou en jou ongebore kind se lewens. Ook vir jou Mevrou, jy wat se jou prins het in ‘n padda verander. Ek doen dit ook nou vir jou, die een wat hierdie verhaal lees en jouself afvra, waarom jy dit nog verduur en dink dat dit liefde is wat jou daar hou. Dit is nie liefde nie! Dis ‘n gewoonte en dit is uit vrees dat jy bly. Vrees vir die onbekende, vrees vir eensaamheid, vrees dat jy nie goed genoeg op jou eie sal wees nie. Daar is so baie vrese!

Jy sal altyd daar bly as jy nie ‘n besluit gaan neem nie. ‘n Besluit is ‘n keuse wat jy gaan maak wat gaan bepaal hoe jou toekoms lyk. Onthou, dit word nooit beter daar waar jy is nie, dit word elke dag en jaar na jaar, net erger, tot jy eendag omkyk en besef dat iewers het jy jouself verloor en dat jy nie die tyd kan terugkoop nie.

Ek hoef nie vir jou uit te stippel wat en hoe jy dit moet doen nie. Jy weet dit alreeds. Jy weet presies wat reg en verkeerd is. Ondersoek jou hart ek kyk wat is die ware rede waarom jy nog daar bly.

Terwyl jy daar sit en wonder of jy nog ‘n dag gaan survive, bid ek vir jou. Ek bid dat God jou brein sal wakkermaak en dat jy sal kies om te leef!

Van

Jou Suster








Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Liefde is nie
Liewe Mariette,
Ek stem saam jou stuk het my ook geraak, baie. Mens vra die vraag wat is verkeerd met ons mans? Ek ken persoonlik seker maklik tien vrouens met dieselfde verhaal as joune. Ergste is die meeste soek die fout altyd by hulself. 'n Vrou wat emosioneel verkrag of geslaan word voel altyd sy kon 'n beter vrou gewees het of meer gedoen het of of of... Wat is fout met die mans? Ek het geleer dat 'n man wat sy hand vir 'n vrou lig laer as slangdinges is. Ag nou ja, daar is seker duisende redes voor feit bly die man is die beskermheer van sy vrou en kinders hoe gebeur dit dat reeds hy die monster word? En ja, jy kort 'n drukkie maar nie net dit nie 'n medalje van goud. Lees of luister na Joyce Meyer, sy is ook deur hel en sy het oorwin. Sterkte en onthou vir God is jy baie spesiaal en enig. Groete.
13 jaar 1 week 5 dae 7 ure oud


Hoe die kinders dit ervaar
Eerstens wil ek vir jou 'n stywe drukkie gee en sê ek is trots op jou. Dit vat baie moed om te erken dat 'n mens verkeerd was (deur te bly) en ek hoop dat vrouens wat jou verhaal lees besef dat daar altyd 'n uitweg is, iemand wat jou kan en wil help.

Ek staan aan die ander kant van jou verhaal. Ek het in 'n huis groot geword waar my stiefpa my ma so behandel het. Ek het my suster en boeties menigte maal in die buite toilet gaan wegsteek terwyl my stiefpa alles stukkend geskop en geslaan het, my ma inkluis. Ek was toe te jonk om iets daaraan te doen.

Op 13 het ek hom begin aanvat as hy sy woede buie gekry het en het hy my geslaan in plaas van my ma. Een keer so erg dat ek 'n week nie kon skooltoe gaan nie, maar dit was my manier om my ma te beskerm. Ek het hom gehaat en het gedroom oor die dag dat ek hom kon vermoor. My ma het elke keer gesê dat sy hom sal los sodra ons kinders (5 van ons) klaar was met skool. Nodeloos om te sê dit het nooit gebeur nie.

Nadat ek getroud is (op 20 met 'n dierbare man wat ek vir niks in die wereld sal verruil nie)het ek haar keer op keer gesmeek om hom te los, maar sy wou nie. Intussen het hy senuwee pille begin gebruik en was die woede buie minder. Die kinders was egter wrakke en ons het vandag nog baie emosionele letsels.

Ek het my stiefpa elke keer voor mense aangevat en hom uitgetrap as hy my ma emosioneel afgekraak of verneder het voor mense en hy het nie daarvan gehou nie. Toe sê ek vir hom, maar dis dan hoe hy met haar praat en ek volg nou sy voorbeeld. Ek het hom ook mooi laat verstaan as hy OOIT weer sy hande vir my ma lig, al stamp hy net aan haar, laat sluit ek hom toe en maak seker hulle gooi die sleutel weg.

Wel,hy het begin kerk toe gaan en besin oor al sy sondes en dit gaan baie beter. En wie is ek om hom nie te vergewe as die Here hom vergewe het nie.

Ek haat hom nie meer oor alles wat hy ons aangedoen het nie, ek het hom vergewe, maar ek sal dit seker nooit vergeet nie. Intussen hou ek maar 'n ogie oor my ma,net om seker te maak sy is ok.

Groetnis
13 jaar 1 week 5 dae 10 ure oud


Liefde
Sjoe Mariette, jou verhaal het my diep geroer. Ek glo daardeur gaan jy vir baie ander iets beteken...
13 jaar 2 weke 4 ure oud


Liefde nie skakelaar
Mariette baie dankie vir hierdie verhaal wat jy hier vertel. Daar is so baie pyn in die lewe.In wat jy hier geskryf het, kan elke leser 'n wyse lewensles leer.
13 jaar 2 weke 7 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Jesus, die Doper met die Gees

deur Christo Nel

In die taal en idioom van Afrikaanssprekende mense neem Christo gelowiges na die sowat 319 verse in die Bybel waarin daar direk na die Heilige Gees verwys word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar