Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Digvorme word bepaal deur vaste tradisionele tipe vorme wat deur tyd dieselfde gebly het soos byvoorbeeld sonnette, rondele en villanelle en hulle kan bepaalde rymskemas hê, maar hoef nie noodwendig, afhangend van watter tipe gedig dit is. (1)
As mens na die inhoud van gedigte kyk kan gedigte verdeel word in liriese (2) (3), epiese (4), didaktiese (5) en dramatiese (6) digsoorte. Daar is ‘n verskil tussen digsoorte en digvorme.
Beknop kan liriese gedigte beskou word, as gedigte wat die gedagtes en gevoelens van ‘n digter uitdruk
Kort gedigte wat intense gevoelens en gedagtes uitdra kan as liries beskryf word. In antieke Griekeland, was lirieke gesing of voorgedra met die begeleiding van ‘n lier (‘n tipe snaar instrument). In klasieke tye was elegieë en odes gewilde vorms van liriese gedigte. Liriese digters van Griekeland was Sappho, Alcaeus, en Pindar. Die belangrikste Romeinse liriese digters was Horace, Ovid en Catullus. Liriese gedigte was ook geskryf in Indië en Sjina en die Japannese haikoe versvorm is liries van aard.

‘n Rousang vir Minette

I

Stil, stil ontwaak die nuwe môre
en jou hande is gekruis oor jou bors
as jy die ewige rus ingaan
en diep, diep pyn my hart.


II

Kleurryke nuwe blomme bloei
met insekte wat suis, voëls wat liedere sing
terwyl ek jou mis
gedurende hierdie vroeë lente.

III

Blou soos jou oë strek die lug
oop en helder
terwyl ‘n menigte voëls daarin vlieg
en ek wens jy was hier.

IV

Veels te vlugtig was jy met my
en dit bly die aardse ding,
waar niemand vry is
van die dood en hoe dit pynig.

V

In die vroeë oggend bries by jou graf
is my woorde fladderend hier en daar, fladderend
terwyl hulle in leed uitvaar
en self die wilgers huil.


Sappho

Laat Phaon sy skip te water laat
en vir ewig weg vaar,
want hy kon jou woorde ignoreer
en in sy hart was daar geen liefde
vir jou wat waai van Levkás se kus.

‘n Pragtige meisie vlieg
van ‘n steil krans af
in die blou, die diepte
in die kragtige see
om nooit meer te wees.

Nog lui jou woorde
duidelik en perfek in my ore as ek dit lees,
alhoewel dit duisende jare is
wat jy reeds weg is.

Brief van Abélard aan Héloïse (terzanelle)

Die skeiding het met pyn gesny
maar tog in my wese sit jy vas
so asof alles tussen ons ‘n einde kry

maar in my bly jy geënt terwyl my gedagtes wild tas,
die lewe wou my onderkry
maar tog in my wese sit jy vas

terwyl verlies en pyn mergelend deur my sny,
jou stem het in gedagtes vervaag
die lewe wou my onderkry

maar ek het weerloos briewe na jou gewaag,
wou jou teen my bors vashou,
jou stem het in gedagtes vervaag

maar ek het jou weer skerp in fynste besonderheid onthou,
ek kon selfs jou geur ruik, jou nabyheid voel
wou jou teen my bors vashou,

het my liefde in elke brief aan jou bedoel.
Die skeiding het met pyn gesny
ek kon selfs jou geur ruik, jou nabyheid voel
so asof alles tussen ons ‘n einde kry.

Héloïse aan Peter Abelard (Novelinee)

Veels te klein is die nagedagtenis
met veels te min om nog steeds te bewaar
oor wat jy vir my was en dalk nog is
en met tyd vervaag ons net tot mekaar.
Hier is ek nou vasgevang tot my lot
as jy onverwags deur my gedagtes dwaal
buig ek my steeds neer tot mens en tot God
wag dat ‘n boodskapper my brief kom haal,
steeds bly ek in jou, ons liefde verdwaal.

Klaagsang

(na Dorothy Parker)

Jakarandas blom in die straat
en miskien beteken my gevoelens vir jou niks,
waar die bome se geur deurdringend en soet hang
is my lewe gebroke asof ons liefde waardeloos is.

Miskien is ons skeiding ‘n seën
en ek vee die trane af,
waar dit voel of alle betekenis weg is
en die son is helder wanneer die dag begin.

Buite sing voëls in daardie bome
en daar is iets wat my versmoor in my bors
van ons pynlike afskeid
en in my eie stad voel ek soos ‘n besoeker

wat nie meer welkom is
en verlore is sonder ‘n huis.

[Verwysing: Threnody deur Dorothy Parker.]


Die troebadoere en trouvères van middeleeuse Frankryk het liriese vorms ontwikkel om gesing te word soos die canzone en rondeau. In Duitsland was die vroegste lirikusse die minnesangers. Die grootse bekende liriese Franse digter van daardie jare was die Fransman François Villon en in Engels die meester digter Geoffrey Chaucer. Engelse ballades wat verhalend van aard is, word ook deur sommige geleerdes geag as liries van aard aangesien hulle op ‘n tyd gesing was.


Toe ons op die heuwel staan (rime royal)

Toe ons altwee bo op die heuwel staan
het die groot dam blink onder ons gelê
met jou oë wat na die dagbreek opslaan,
ons het die prag aanskou en niks gesê,
ek wou toe graag nog daar by jou aanlê
maar daardie prag het ons albei gevang
as bleshoenders krassend in die lug hang.

Daar is iets besonder aan ons saam wees,
onuitgespreek wat ons aan mekaar bind
waar ek grootse vreugde in jou blik lees,
iets wat ons net hier in die natuur kan vind
en soms is ons vir die prag daarvan blind
maar niks kan meer suiwer rustigheid bring
as hier waar jy reguit in my hart spring.


Terwyl ek die tuin omspit (rondeau)

Terwyl ek die tuin omspit, dink ek aan jou,
as ek blomme aan hulle stamme vashou,
ek loop soms nog in jou skilderye vas,
wonder hoe jy in my lewe in pas
en nog is dit asof iets van jou aan my vasklou.

Daar’s ‘n wit trui van jou in my klerekas,
wat my nog herinner en soos jou oë is die lug blou
en mettertyd word die werk ‘n las
terwyl ek die tuin omspit.

Ek trek aan my hemp se mou,
wonder of jy nog enigsins van my hou,
as gevoelens nog in my hart rond tas,
sien die eerste reëndruppels neer plas,
hoe druppels skitter soos dou,
terwyl ek die tuin omspit.


As sterre knipoog (rondeau)

As sterre knipoog, bo jou blink
voel dit asof hulle jou nader wink
sien mens hulle tot by die horison strek,
patrone vorm of selfs lyne trek
in die duister ink

is die ganske hemel bedek
veels te pragtig om te bedink
met glorie deur ‘n almagtige God verwek;
as sterre knipoog.

Later hou selfs die vlermuise op rinkink
fladder ‘n uil verby, as ‘n muis se piep geluid opklink,
en dan besef ek
hoe nietig ek as mens is op hierdie aardse plek,
verskiet ‘n ster in ‘n oogwink,
as sterre knipoog.



Tyd glip by hom verby (Engelse Ballade)

Sy wêreld verval,
asof uitgeruk uit die heelal,
sy lewe versplinter,
hy verloor sy werk, sy huis,

koor:
tyd glip by hom verby
dae word weke, weke word maande
vol alleen aande,
maande verander in jare.

sy vrou loop met ‘n minnaar weg
albei sy karre word gesteel,
sy bruin labrador sterf aan bosluiskoors,
sy swart en wit huiskat kry katgriep

en niks kom vir hom reg,
maar hy kyk die lewe nugter in die oë,
soek daagliks werk,
en skryf gedigte een na die ander.

Sy motorfiets word deur ‘n vier by vier
onder hom uitgery
en nie behoorlik herstel
terwyl hy sy lewe met skoenrieme probeer optel

en as hy in die straat af stap,
is die lug suiwer blou,
sien hy kiewiete op die rugbyveld
hoor hy duiwe in die bome

gesigte is vir hom vreemd,
hy ken geen meisie in dié nuwe dorp
en hy is verstom
want party glimlag vir hom

maar hy praat met niemand,
neem maar net waar
hou elke aand huisgodsdiens
en dis vir hom ‘n stryd

en oggende as die son opkom,
grawe hy in die tuin,
sien bossies en gras orals uitspruit
en dis asof alles aanhoudend verval

en tog bly hy aanhou hoop,
dag vir dag die pad dorp toe loop
asof daar skielik ‘n wonderwerk kan gebeur,
asof God op ‘n tyd sy lewe kan ontknoop.

Aan die begin van die Renaissance was verse wat nie gesing word nie ook as liries geklassifiseer. Die liriese verse wat gesing word het die madrigaal ingesluit en was in verse van die Elizabeth era, soos die werke van Thomas Campion en John Dowland; asook in die werke in Shakespeare se toneelstukke.
Italiaanse digters soos Petrach het die sonnet ontwikkel wat ‘n liriese versvorm is wat gewild geraak het vir beide sekulêre en godsdienstige temas in die vroeë sewentiende eeu. In Frankryk het Ronsard en Joachim du Bellay toe ook sonnette geskryf. Grootse sonnet skrywers in Engeland was Sir Thomas Wyatt, Samuel Daniel, Michael Drayton, William Shakespeare, en John Donne. Lirieke was in ander vorme geskryf deur John Skelton, Edmund Spenser, Ben Jonson en Robert Herrick. Die korter gedigte van John Milton en die odes van John Dryden was ook as liries beskou in die sewentiende eeu.


Waar is jy my liefling? (Italiaanse sonnet)

Waar is jy liefling, waar gaan ek jou vind
as die son vroeg kom met sy eerste lig,
waar is jy as skoenlappers baldadig
my in oomblikke van hul kleur verblind?

Waar is jy as die lewe my wil verslind,
wie ken jou innig, ken jou aangesig
as my lewe voor die winter wil swig,
of is ons blare, wat waai in die wind?

Of sterre wat aan die hemel verskiet,
draai die noodlot ons lewens om en om
soos ydele woorde in hierdie gedig?
Waar gaan ons met elk vreugde en verdriet,
as die dae van verrukking steeds bly kom,
is dit aan jou wat ek my liefde innig rig?

Liefde (Spaanse sonnet)

Liefde, ‘n byna onverstaanbare ding
wat mens amper heel dol oor iemand maak,
as jy net meer en meer betrokke raak,
romantiek sien in elke skemering

selfs haar stem hoor in elke fluistering,
selfs in beelde net anderkant die vaak,
geluk uit die kelke van gode smaak
asof heeltemal bonatuurlik omring

dit jou op nuwe onbekende paaie lei
met iets besonder uniek in elke kus,
wat ‘n eenheid maak van die ek en jy
ekstaties met absolute saligheid sus,
so asof niks mens van mekaar kan skei,
dit ‘n verbond is, tot by die finale rus.


Die vleiland (Engelse sonnet)

Hoe nader ek aan die ruie vleiland kom
hoe meer hoor ek bleshoenders kwinkeleer,
waar ‘n swerm vinke kwetterend saamdrom
op van die riete wieg en balanseer,

vrolik brabbel die helder water stroom
in die vroeë môrelig waar dit blink
langs die groot ou treurende wilgerboom
en ‘n hele simfonie van die natuur opklink

Vlei palmiet wieg wit gepluim in die wind
wat saggies waai deur die bosse spriete,
half deur al die baie skoonheid verblind
wandel ek soos ‘n kind deur die riete

druppels water straal as ganse opvlieg,
biesie riete skielik op en af wieg



Volslae oorgegee aan die son (Franse sonnet)

Onder die son, wat ongenadig brand
die woeste wind en ongetemde weer
kniel die groot boer nederig voor die Heer,
ploeg sy lande om, vat saad in sy hand

sien die draai winde vêr op ‘n afstand,
bid dan weer, vra die Here nog ‘n keer
voor hy sade plant, ‘n stortvloed begeer,
as sy trekker stof laat opslaan in die land.

Groot druppels val wat dae lank neer reën,
keer op keer dank hy die almagtige Een,
met die vars reuk wat uit die stof opslaan,
is dit oornag of al die gras groen is,
dis druip nat so vêr as wat sy oog gaan;
so leef die boer met God in verbintenis.


Jou blik is vol ys


(na Sir Thomas Wyatt)

Ek voer reeds oorlog, tog veg ek nog nie;
ek is vreesloos, ek het nie oorlog verklaar
maar jou stoere blik op my is vol ys,
op ‘n tyd was slegs die geel son daarin.

Eens was ons gelukkig, het mekaar geken,
jou houding, jou blik is ‘n verrassing
asof verraad, in jou siel, jou oë lê
of iets verskriklik jou laat weghardloop.

Jou blik druk jou gevoel duidelik uit
maar die lewe is nie so eenvoudig,
maar nou verlang jy eienaardig na hom,
terwyl jou lag plesier vind in my pyn.

Ek wou onsterflike gevoelens koester,
op ‘n tyd was jy bemin as my vrou.

[Verwysing: “I find no peace” deur Sir Thomas Wyatt.]


Die dagbreek

(na John Donne)

As die strale van die oggend son kom,
deur die venster op jou gesig val,
bring jou teenwoordigheid aan my verbasende grasie
en liefde is steeds teenwoordig as die nag weg is

as die son op jou val, op jou my enigste een,
wat lig bring na die donkerste plekke van my lewe,
dan moet ek jou verlaat om te werk op ‘n ander plek
en jou vir ure alleen laat,

in oomblikke wanneer sake voorkeur kry
en ons is verwyder ten opsigte van plek, ruimte en gedagtes
en dit wat tussen jou en my is
en alles wat ons hoogag in in vertroue hou
kom dan skielik tot stilstand
deur die eise van ‘n loopbaan,
dinge is anders van hoe liefde behoort te wees.

[Verwysing: “Break of day” deur John Donne.]


Die oomblik toe die son in die see sak (Milton stert (“caudated”) sonnet)

Die oomblik toe die son in die see sak,
het in die verte kerkklokke gelui,
het ek jou alleen op die strand gekry
met ‘n meeu, met sy een vlerk af geknak.
Jy het met trane na asem gesnak,
jy was werklik baie pragtig vir my
toe die wind warrel, deur jou hare sny
en met die arme voël was jou blik strak,

terwyl ons oor die wit strand verder stap
het die strand se waterlyn geglinster
met die oranjerooi van die laaste son,
was die voël in jou hande skielik slap
en die aand was onmiddellik duister,
vir die voël het ons gedoen wat ons kon.

Toe my oë joune by Hartenbos vang
bruis die see blou, lewendig agter ons,
voel ek my hart skielik half benoud bons
is daar iets intiem en magies wat hang
is dit of ek sterre in jou oë sien
sonder dat ek dit verdien...


Die belangrikste Duitse digters van die agtiende en negentiende eeu was Johann Wolfgang von Goethe, Friedrich von Schiller en Heinrich Heine. In Engeland het Thomas Gray en William Collins belangrike odes en eligieë geskryf. Engelse digters van die romantiese tydperk se werke, soos William Blake se “Songs of Innocence” and “Songs of Experience,” William Wordsworth se sonnette, John Keats se odes en Percy Bysshe Shelley se “elegy on the death of Keats” is buitengewone goeie voorbeelde van liriese gedigte

Hoeveel keer het ek jong mans met blase gesien

(na Heinrich Heine)

Hoeveel keer het ek jong mans met blase gesien,
blase wat op hulle voete bars,
waar die nuwe stewels hulle gedurig skaaf,
terwyl hulle ongenadiglik rond gejaag word,
gedwing word in ‘n mars,
gedwing word om die irritasie te verdra,
soms bang was om vir rooi antiseptikum te vra
terwyl hulle ly aan die pyn
in die sole van hulle voete

so het hulle later gehard geraak,
kon geen stewels hulle meer seer maak,
was hulle so fiks dat hulle laggend
met pale en konkas ronddraf,
was opgelei tot groot vernuf
en vaardigheid
met die wapens wat hulle dra

maar geen liggaam
is teen vyandelike koeëls, granate,
mortier bomme en landmyne bestand
en ek het vuurpyl granate sien ontplof
lewende laggende manne sien verander
in stukke vleis en bloed
waar hulle in die stof neerplof.

[Verwysing: Deutschland. Ein Wintermärchen. Caput XIX deur Heinrich Heine.]


Aanduidings van onverganklikheid (in antwoord op William Wordsworth)

I

Liefde is iets wat ons sien
in ‘n ewiglike lig
met ‘n eie glans in die donkerste nag
en die goedheid daarvan is meer as blote weldadigheid

asof onsterflikheid daarna kom,
as dit suiwer en opreg is,
as ons iemand werklik bemin
en dit vul ons siele bietjie vir bietjie

en waar ons lewens slegs vlugtig is
verlang ons na ‘n soort perfeksie,
iets meer as ons aandoening,
iets wat verby strek by elke ontmoeting

wat mense met mekaar het,
iets goddelik,
iets raar verby suiwer
wat ons probeer definieer in die menslike verstand.

II

Ons merk die son op wat wegkruip gedurende die nag
maar daagliks terugkeer met ‘n hemelse soort lig
en sien dit as noodsaaklik vir oorlewing,
ons sien die oseaan wat verby menslike sig strek

en selfs die berge lyk soms ewig,
die seisoene wat kom en gaan,
die vallende reën, die winter sneeu,
vulkane wat uit die hel uit lyk,

hou by ons ‘n spesiale plek,
is dinge wat ons as konstant beskou
en vir lewe is ons van sommiges van hulle afhanklik
maar ons leef net deur wonderbaarlike genade.

Tog is alles slegs vlugtig en kortstondig,
sterre ontplof, hulle energie word op ‘n tyd uitgebrand
en dis die aarde se verhaal,
dat alle dinge verganklik is.

III

Slegs God is ewig en onverganklik
en Sy krag waarmee Hy dinge onderhou
waar daar aan ons wat bloot verganklik is
deur sy grasie daaglikse ontwakings is

en met elke nuwe geboorte
word sy onvoorwaardelike liefde uitgedruk,
as betrokkenheid van die Goddelike op hierdie aarde
en gedurig word ons geseën

as reënboë ‘n eie geheime boodskap hou,
met lewe in elke dal, bos en stroom
en Sy krag en teenwoordigheid is geen droom nie
maar word uitgeoefen van ewigheid af en tree nog op in hierdie eeu.

[Verwysing: “Intimations of Immortality” deur William Wordsworth.]



Aan Lente (Ode) (in antwoord op John Keats)

As die laaste impak van die winter verdwyn,
die son helderder begin gloei in sy hunkering,
koue dae verdryf word deur sonskyn ,
kom jy in jou pragtige betowering
met vreugdevolle aanskyn
in swierig verowering
laat jy alles nuut uit spruit
en huppel soos ‘n jong kind wat kaperjol
sprei jy jou bruidskleed wyd uit
hardloop jy jolig en dol
sodat insekte, voëls jubelend by jou aansluit.

Almal word deur jou swierigheid vasgevang
as bloeisels spierwit, goudgeel, blosend pienk aan takke sit
insekte, voëls, die wind, die weer jou bemin, jou aanhang
asof alles in jou teenwoordigheid groot vreugde besit
hoor ek jou stem in elke fluistering
terwyl jy rond huppel, jou hare sprei en pronk,
as ‘n meisiekind slank en rein arms vol liefde bring
vol lewe, passievol en tog bloedjonk
heeldag tot oorlopens toe sing
van liefde dronk
jou arms na my uitstrek, dit wyer laat uitkring.

Vir jou hef almal ‘n loflied aan,
die wind, voëls en insekte sing bly
asof jy alles se voete plat slaan
van die groot betowering, wat alles lewend by jou kry
asof jou heerskappy nooit verby kan gaan,
skielik voel alle lewende dinge uitbundig vry
en jy is so onskuldig, sonder argwaan
maar vir my bly jy
‘n liefdes kind wat met jou skoonheid verblind
en selfs die eerste reën aanbid jou as dit neerslaan
wil vertroeteling in jou vind.

[Verwysing: To Autumn deur John Keats.]



Ozymandias (in antwoord op Percy Bysshe Shelley)

Ek het ‘n reisiger uit die woestyn sien kom
met ‘n wit kleed wat hom omhul
en die man het my gegroet, vir water gevra,
my vertel van Ozymandias, die groot koning
wie sy verbrokkelde standbeeld nog steeds respek afdwing,
wie se koninkryk weer ontbloot is
van die sand wat dit bedek het

en skielik het die lug duister geword
asof die son oomblikke lank wegvlug
en diep in die woestyn
het die rooi stof gehang soos ‘n reuse sandstorm

maar die grote daarvan was aansienlik
en ek het iets sien rys, sien materialiseer,
vorm sien kry;
die groot bene van klip wat vlam vat, lewe kry
en die hele liggaam daarvan,
daar die kolossale wrak het saamgesmelt, was skielik heel

en rondom dit het daar ‘n magtige skare
van gewapende mans vergader,
wat neerbuig tot die eer daarvan
en dit aanbid
terwyl ‘n stem soos donder
weerklink dat die hele wêreld
in vertwyfeling moet raak, in vrees voor dit moet buig,
voor die opper heerskappy daarvan,

voordat dit noord draai,
met ‘n hele leër
tot in Europa marsjeer
om te plunder met geweld,
om te vernietig, om van mense slawe te maak.
.

[Verwysing: Ozymandias deur Percy Bysshe Shelley.]


In die negentiende eeu het Robert Browning en Alfred, Lord Tennyson ‘n verskeidenheid liriese gedigte geskryf terwyl Gerard Manley Hopkins sonnette geskryf het met innoveerende ritmes. Die hoof Franse digters van daardie tydperk was Charles Baudelaire, Paul Verlaine, Arthur Rimbaud en Stéphane Mallarmé. In die Verenigde State was Walt Whitman and Emily Dickinson uitstaande digters van liriese aard.



Miskien is dit nou te laat (in antwoord op Robert Browing)


Miskien is dit nou te laat
om te sê hoeveel jy vir my beteken het
en ek sluit die tuin hek
waar jou blomme steeds met grasie groei.
Jou hare het eens met goud geglim,
jou aangesig met ‘n glimlag geglinster
maar dit was lank gelede en nou word ek oud
en ek draal vir ‘n kort rukkie,
is weer in herinnering vasgevang
maar jou hand, jou teenwoordigheid is weg
en jy’s in ‘n ander wêreld van my af vry
maar in werklikheid slaap jy in die aarde se boesem
en ons het mekaar vir ‘n kort rukkie bemin
maar ek het aan en aan bestaan van daardie tyd,
het soos jy gedroom het op die Nyl gevaar,
het beide goeie en slegte mense geken
maar soms is dit in ander gesigte wat ek jou oë gewaar,
in iets wat veel meer as blote herinnering is.

[Verwysing: Evelyn Hope deur Robert Browning.]


Odysseus: Ek het oor die woedende see gereis

(na Alfred Lord Tennyson)

I

Ek het oor die woedende see gereis,
het op die vergaderings van die grootste manne, beroemde konings gesit
ek het rampe, verwoesting, die vyand trotseer,
het die hekke van Troje help oop maak, het baie dinge gesien
en nou dat my reise verby is
leef ek saam met ‘n vrou wat verouder,
is die dapperste van my manne weg
en nog verlang ek na struweling
maar het slegs vrede
waar ek regverdige wette uitvaardig,
op ‘n heroïese ras wat beide dapper en vry is
en ek verlang na gevaar terwyl my lewe stilstaan
voordat die duisternis my roep,
om die laaste reis te neem.

II

Ek wil die grense van die wye oseaan oorskry,
deur donder, reën, hael en sonskyn
die ewige stilte uitdaag,
my mariniers lei tot nog ‘n groot oorwinning
my swaard uit sy skede trek, die snaar van my boog span
die omhelsing voel van pantser om my liggaam
en selfs as ek verwond is en bloei,
dan sal ek waarlik leef.
Ek wil nog ‘n pakkende avontuur ondervind,
uit blote vasberadenheid seil na anderkant die horison
voor die ewige slaap my vasvang
waar ek laggend Achilles aan die anderkant omhels.
Nou is ek gepantser met sy skild,
is ek vasberade om te soek, te oorwin en om nooit oor te gee nie.

[Verwysing: Ulysses deur Alfred Lord Tennyson.]


Ek sal nie my greep verloor nie

(na Gerard Manley Hopkins)

Nee, ek sal nie vlug nie,
terwyl ek stry as ‘n sterflike mens,
al die krag gebruik wat ek kan,
terwyl ek stry om vry te wees
om vry te wees van sonde, van my eie ongeregtigheid
en tog is dit U bekende / onbekende gesig wat ek aanskou
terwyl ek nie kan verstaan waarom hierdie stryd begin het, ek wonder
waarom iemand Goddelik, hemels my uitgekies het as opponent?
Die stof bedek beide van ons
terwyl die son reeds rys
en my voet voel pynlik en aardig
maar ek sal nie my greep verloor nie, selfs as ek moet
en ek smeek eers vir U seën,
vir U erbarming, O my God, my God.

[Verwysing: “Carrion Comfort” deur Gerard Manley Hopkins.]


Vroegoggend sing voëls (Geknipte (Curtal) sonnet in Hopkins versvorm)

Vroegoggend sing voëls reeds aan God glorie
as die ysige sneeu in die winter gloei,
in die somer is die son lieflik warm
vertel alle dinge ‘n eeu oue storie
as blomme in die lente skielik bloei
wanneer mense hul oor ander erbarm.

Alles begin dan verander met tyd
terwyl die somer die aarde verwarm
water glad en vreedsaam in riviere vloei
is die lewe vol liefde sonder nyd
word geliefdes omarm.


Ek en die see

(na Charles Pierre Baudelaire)

Ek ry ‘n skippie waarom die storm bruis
met die see wat grypend met groen-blou vingers
my na onder mee wil sleur.

Nog dobber ek op en af
terwyl talle bliksem om my slaan
en sien myself weerspieël
in die magtige waters
wat om my vou

en in onpeilbare dieptes
sien ek my gees
wat grensloos voort beur
onafgesien van wat my lot bepaal
en is oorgehaal om te oorleef
en gebind in vriendskap tot die dood.

[Verwysing: Les Fleurs du Mal: “Man and the sea” deur Charles Pierre Baudelaire.]



Oortuigings

(na Paul Verlaine)

Jy glo in die misterie van kaarte wat val
‘n ster wat in die donker hemel spring,
teeblare wat jy roer,

dat geluk net om die draai is
en ek sien die vlam
wat in jou oë dans wat dieper as passie is.

Jy vertel verhale van ridders en heldinne,
probeer jou drome uitpluis,
soek naarstiglik na eden, die hemel en die hel

en ek glo alles wat jy my vertel,
ook dat jy my met jou siel bemin
al is daar ander kêrels iewers tussen in.

Jy glo in ‘n almagtige God
wie se magtige gesante oor elke lewe waak
en dat niks mens vervreemd van Hom kan maak,

dat as jy jou oë na bo opslaan
jou woorde deur tyd en ruimte gaan
en dat Hy op versoek ingryp

en ek glo aan die krag
wat tussen jou lendene lê
en die plesier wat ek in jou oë sien

as jy jou soos ‘n edel blom
al om my vou en jou hartklop wat ek hoor
as ek jou styf teen my hou.

Nes joune is my geloof onwrikbaar sterk
want dis gegrond op edelheid
en die onbeskryflike dinge wat tussen ons is

en as passie verby swiep
is daar sorg, teerheid en liefde
wat ondeurgrondelik tussen ons lê.

[Verwysing: “Convictions” deur Paul Verlaine.]


‘n Trop bobbejane

(na Jean Arthur Rimbaud)

Ek het ‘n trop bobbejane sien vergader
met moeders wat soek na vlooie
in ‘n groep wat saam kom

voelend deur koppe met vingernaels wat skerp klik geluid maak
met klein mondjies wat tepels vind
en moeders wat soek na vlooie

en twee ou kreupeles
het aan gehobbel gekom,
met klein mondjies wat tepels vind,

met sommige vroulike bobbejane wat tjank asof hulle sing
en babas
het aan gehobbel gekom

en sommige was benoud asof hulle hondsdolheid het
en daar was vroulike bobbejane
en babas

en as wagte, groot mannetjies.
Ek het ‘n trop bobbejane sien vergader
en daar was vroulike bobbejane
in ‘n groep wat saam kom.

[Verwysings: Les Chercheuses de Poux deur Jean Arthur Rimbaud.]


Daar is ‘n oomblik in tyd

(na Walt Whitman)

Daar is ‘n oomblik
waar interaksie met die vroulike vorm,
waar die aanloklikheid van oë, mond, aanraking en vel
jou in trek
en dis asof jy lewe
in ‘n tyd en plek ontbloot
van elke ander ding
waar godsdiens, die hemel en hel
weg gevee word deur blote saligheid
waar ‘n oomblik waarlik onmeetlik is
in die verval en vloei van paring
waar die saamwees alles word.

[Verwysing: I sing the body electric deur Walt Whitman.]


Liriese gedigte is steeds wêreldwyd gewild in ons eie tyd. Die Amerikaanse digters Robert Frost, Ezra Pound, T. S. Eliot, Wallace Stevens, en e e cummings is beroemd vir hulle liriese gedigte. Britse digters William Butler Yeats; W. H. Auden (Brits / Amerikaans), Stephen Spender en Dylan Thomas het ook beroemde liriese werke gelewer. Duitse digter soos Stefan George en Rainer Maria Rilke is ook goed bekend. Franse digters soos Paul Valéry and Guillaume Apollinaire het vele mense wat hulle liriese gedigte naskrywe. So ook is die werke van die Spanjaard Federico García Lorca baie bekend. Verder is die gedigte van die Mexikaan Octavio Paz en die Griek Constantine Cavafy liries van aard.


Ons het dié land liefgekry

(na Robert Frost)

Ons het dié land liefgekry,
toe hy ons s’n word
die vlaktes, die woestyne
en berge gaan verken

en Holland en Engeland
van ons af geskud
soos wat ‘n hond maak
as sy pels nat van water word

en ons werklikheid is hier en nou
en al is dinge met tye grou,
asof die nuwe regering ons wil verswelg
kan ons geen ander plek as ons eie beskou,

het ons, ons harte hier verloor
is daar geen ander land wat ons so bekoor
geen ander horison wat aan ons so eie is
waarvan ons die hartklop in ons eie hoor.

[Verwysing: The Gift Outright deur Robert Frost.]



Laat ek van Wouter vertel

(na e.e. Cummings)

Laat ek van Wouter vertel
wat teen alle oorloë staan
en nie na ‘n miletêre kamp wou gaan.

Drie jaar tronkstraf
het hy toe gekry
en met ‘n kriminele rekord
is hy na die detensie barakke gelei
waar die kolonel sê:

“Wouter jy’s ‘n stoute seun
en reg sal ek jou sommer gou-gou kry,
as jy lewend in my kamp wil bly.”

Eers moes hy kakhuise was
en skrop in pas
met die marsjeerstok
wat hale uit sy hande slaan
en skielik regop op aandag staan
as sy plig afgehandel is.

Hy was gegryp en nakend
in ‘n koue stort gedruk
waar hulle hom
van sy geloof skoon wou skrop
met skuur draad en ‘n mop
en hy het nie
gestoei of geskop
en wat hy glo
gee hy nie op.

Op bevel is hy
na ‘n instrukteur gebring
wat hom dinge
van ‘n geweer moes leer.

“Ek weet dat jy geen geloof het,”
is aan hom gesê
omdat hy anders glo
en toe hy nie
aan ‘n geweer wou vat
het die korporaal
sy eie broek oop gepluk
en sy eie dingeling uitgeruk
en beide in Wouter se gesig in gedruk.

Op ‘n tyd het hy
onder stewels deurgeloop
en nog het dit nie hom
van wat hy glo gestroop
en na drie jaar se hel
was hy vry
in sy land
waar mense werklik in God glo.

Nog wonder ek in my siel
en selfs toe ek die vyand
met gewere en tenks trotseer
wie die dapperste was
tussen hom en ek
en nog kan ek nie
Wouter uit my gedagtes kry

en ek wonder wat die Here
in Sy hemel dink
oor ‘n weermag
wat mense wat anders is
maak ly
en as ek op my knieë staan
bid ek vir Wouter en vir my.


[Verwysing: i sing of Olaf glad and big deur e.e. Cummings.]


Ondervindings by die kerk

(in antwoord op T. S. Eliot)

In die stad het ek mense gesien
wat kerk toe gaan en God probeer volg
met ‘n ware passie, ‘n ware verbintenis
om ‘n seën te ontvang
en afgematte ou dames, kinders
en sommige mense het offergawes gebring
van geld, arbeid en tyd

en sommiges het net gegaan om uit te wys
hoe hulle rykdom geseën is,
vergader in klieke, in klein groepe en sirkels
waar hulle besigheid, plesier bespreek
en onbeduidende dinge wat van belang vir hulle is

en ek het ander mense gesien
wat geen nut vir kerke insien
of vir die dienste wat hulle lewer,
anders as plekke
vir grootse troues

of om God te dien
asof hulle geskape in die beeld van God
self gode geword het
en die ganske wye wêreld aan hulle behoort
om uit te buit
en ander mense hulle moet dien
en noudat daardie kerk
waaraan hulle eens behoort het
sy mag verloor het
waarmee dit oor die land geheers het,
was hulle totaal vry van godsdiens.

Selfs as ander mense vergader
vir self dienende redes
gaan ek kerk toe
om ‘n seën te ontvang
van die teenwoordigheid van die Een
van wie af alle liefde kom.

[Verwysing: Choruses from “The Rock” I. “The Eagle soars in the summit of Heaven” deur T. S. Eliot.]


Onrus wat van vêr af kom

(na William Butler Yeats)

Die ingesteldheid is ten helle vasbeslote
om met geweld af te neem en nie te verdien
en bloedvergieting word orals losgelaat:

‘n Seepsteen voël wat skielik lewe kry
kwel my terwyl dit in die lug op swiep,
draaiend en later tollend om en om gaan,
‘n tornado word
wat af tregter tot by die grond
die middelpunt word sterk
kry krag en suig alles in
wat blote verwoesting en wanorde bring
en dinge heeltemal uit mekaar uit laat val
verskeur, alles verbrysel
met die donker tregter wat weer afdaal.

Die land is in chaos
en vernietiging is baie naby
terwyl euwel
van dwars oor Afrika in stroom
en kriminele orals los is.

Goddelike ingryping is sekerlik
nou naby,
net voor die Tweede Koms,
terwyl oortuiging by die mens ontbreek
en onrus van vêr af kom,

maar die monster is wakker,
neem in besit net wat dit wil
deur diefstal, moord en verkragting
en nagmerrie volg dit
met uitwissing, armoede, hongersnood,
oorlog en uiterste verwarring
asof die mens in tyd terug gaan
na die yster eeue.

[Verwysing: “The Second Coming” deur William Butler Yeats.]


Die gorilla

(na W. H. Auden)

Die gorilla doen wat gorillas kan
sit op ‘n mishoop
en beskerm dit met sy lewe
asof dit net
aan hom behoort

en eet piesangs
van sy eie republiek
vinniger as wat hulle groei,

krap vir bosluise en vlooie
slaan sommige teenstanders neer
soos vlieë

vernietig die vlakte
oor en weer oor
en skud sy kop
terwyl hy deur dooies loop

en kan nie verstaan
waarheen het alles gegaan
en alhoewel dit
op agterbene staan,

woorde as spraak uitgrom
en met tye bedel,
is een taak
buite sy bereik:

die gorilla kan nie weer
mens word nie.

[Verwysing: August 1968 deur W.H. Auden.]


Roudig

(na Dylan Thomas)

Toe ek nog ‘n primêre skool seun was
het ek met ‘n meisie gespeel
as my maat
en sy het sproete
naby aan haar neus gehad
en rooi hare wat rond swiep
in ‘n netjies poniestert

en ek sou bloos
as sy my
‘n onskuldige soen gee
en my hart
sou ‘n slag oorslaan
en ons sou ons toebroodjies deel
of mekaar s’n eet
en vir my was daardie meisie werklik oulik.

Toe ek ‘n bietjie ouer word
was ek werklik skaam, as ‘n lieflike meisie
my oog vang
en na klas
sou ek saam met haar huis toe loop
en ons sou praat oor ons drome
en saam na die biblioteek gaan
en swem by die dorps swembad

en sy sou my dophou
terwyl ek aan atletiek en rugby deelneem
en ek sou haar sien
netbal speel

en soms sou ek haar verras
met ‘n roos of twee
of met sjokolade
en ordentlike soene kry
en haar blou oë het gevonkel
en sy was veel beter as net oulik.

Toe ek in matriek was
het ek ‘n pragtige meisie
op die strand ontmoet
waar sy haar bruin gebrand het
en haar oë het my verslind
en ek was vol vertroue
en elektrisiteit het tussen ons gespring
en daardie somer vakansie
het sy my ‘n ding of twee geleer
en daardie meisie
was eerlik en lieflik
en haar lewenswyse
draal nog by my.

Toe ek ‘n jong man was
en na die weermag opgeroep is
en oorlog toe gaan
en ‘n man of twee moes uitwis
om te oorleef en lewendig te bly
het ek baie vinnig groot geword,
geweet omtrent integriteit
en om getrou te wees

en toe my meisie my verlaat
om oorsee te immigreer
het my wêreld uitmekaar geval,
toe ek ‘n pragtige kaptein ontmoet,
net daar in ‘n militêre kamp
terwyl ons die oorlog inoefen
en sy het my verlei
en meer as dit
het ons liefde gemaak
asof daar geen more is nie
en geheime gedeel met mekaar
voordat ek moes gaan
en sy het verdwyn
terwyl sy nog ‘n beminde van my was.

Op universiteit het ek die meisie
van my drome ontmoet
en dit was magies
toe sy ook van my hou
en om werklik
vir iemand lief te wees
was groots
met die persoon
vir jou bedoel

en ek het vir haar gedigte geskryf,
haar kaartjies, sjokolade
en duur parfuum gegee

en elke blik, elke aanraking, elke soen,
elke drukkie was die beste
wat ek ooit gehad het

en ons was verloof en het getrou
en by my eerste werk
het ‘n kollega
my sogenaamde vriend geword
en teen enige koste
moes hy haar net kry

en toe het ek haar verloor
en het ‘n duisend myl
weg van haar af gaan bly.

Toe ek werk,
het ek ‘n wye keuse van meisies gehad
maar het verlang na die een
wat ek verloor het
vir ‘n tydperk van jare lank,

maar ‘n ander pragtige meisie
het my gekry
en sy was my sonskyn, my reën,
my ontbyt, my middag en aand ete

en ons het ‘n duisend jaar geleef
in die kort tyd wat ons gehad het
en as my lewe bepaald was
om net met so ‘n meisie gelukkig te wees
was dit meer as die moeite werd
want sy was aan my toegewy
en soos geen ander ooit sal wees,

maar die noodlot het sy dobbelsteen gegooi
en ek het haar skielik en onverwags
aan die dood verloor

en het ‘n vrou met twee seuntjies ontmoet
wat net ouer as kleuters was
en jare lank
‘n lewe met hulle probeer bou,
maar sy’t my
keer op keer verneuk
en my vir ‘n ander minnaar verlaat
en my probeer ruïneer
met haar weg gaanery

Toe ontmoet ek ‘n meisie
wat ‘n skilder, musikant
en digter is
en ek het probeer bind
met haar siel
en wat tussen ons was
het veel dieper
as net die uiterlike gegaan,
en toe ons uitmekaar is
kon ek dit nie verstaan
en wonder nog
hoe sy nou oor my voel?

l’Envoi
En nou het al daardie dae verby gegaan
en sou ek bly wees
om ‘n Sondag vrou te hê
wat weet hoe om getrou te wees
selfs al moet ons dag en nag bid
en selfs as daar engele
uit haar baarmoeder kom
solank as wat sy my werklik lief het.

[Verwysing: “Lament” deur Dylan Thomas.]


Ek wil met dieselfde onskuld slaap

(na Fredrico Garcia Lorca)

Ek wil met dieselfde onskuld slaap
soos die seun wat tussen die appels slaap,
weg van die rumoer van eeue
en wakker word asof elke nuwe dag
‘n oggend is vol nuwe beloftes.

Ek verlang om by die see te wees
met dieselfde verlange
as die seun wat sy hart uit wou sny
oor sy liefde vir die see,
om die deining en uitdying te sien,
om die eindelose energie te ondervind.

Laat ek iewers in die veld gaan lê,
vêr weg van die wanorde van die mens
waar grasse, die bosse en bome
in glorie groei
en sommige diere nog vry is,
waar die eerste strale van die son my sal wek.

[Verwysing: “Gacela of the dark death” deur Fredrico Garcia Lorca.]


Jy breek elke cliché (in antwoord aan Octavio Paz)

Terwyl ek ‘n tydskrif se blad omblaai
sien ek jou lieflike gesig
wat my oë vang
soos ‘n doukelkie wat oopmaak
vir die son in ‘n helder saffier blou lug

en die skittering van jou tande
is soos ‘n stel perfekte pêrels
en die lyne onder jou rok
vestig aandag op jou loutere skoonheid

en ek skryf hierdie gedig aan jou
wie se karakter en skerpsinnigheid
ek ken uit die kere
wat ons ontmoet het
en ek weet dat daar veel meer
aan jou is, as foto perfekte skoonheid.

Vêr te veel mans sien jou
as nog een dol kop
en in plaas daarvan weet ek
dat jou skoonheid diep uit jou hart uit spruit,
dat dit deel van jou siel is
en dat jou integriteit
maak dat jy elke cliché breek

en dat jou goeie humorsin
en skerpsinnigheid
jou ‘n plesier maak om by te wees
en dat jy die rame breek
waarin mense jou stel
deur net jouself te wees.

[Verwysing: “No More Clichés” deur Octavio Paz.]


Wagtend op die barbare (in antwoord aan C.P. Cavafy)

Opgeroep vir gewapende militêre diens
was honderde duisende wit seuns
in ‘n oorlog in forseer,
waarvan ek net ‘n enkele een is

en met alle gevegte gewen en selfs die oorlog,
met die vyandelike magte verbrysel,
duisende Kubane gedood,
byna ‘n honderd vyandelike tenks uit geskiet,
honderde vyandelike pantser karre vernietig,
selfs die Russe wat erken
dat geen oorwinning teen ons moontlik is nie

gee die man met die gepoleerde poenskop
nie oor nie, verkoop hy ons nie uit nie,
nee, hy gee die hele land net eenvoudig weg
en kry ‘n Nobel Prys daarvoor

hy sluit die tronk deure oop vir die leiers
van bom plantende moordenaars
om na vryheid te loop
en ons en die wêreld verwag die barbare
wat brande motorbande as halssnoere gebruik het
om te verskyn
en uit stap ‘n man, waardig
en ontvang ook ‘n Nobel Prys
vir sy weldadigheid

en nou jare later is die skade berokken
met regstellende aksie
en geen wit mens wat steeds ‘n werk het
besef die impak daarvan,
dat dit net nog ‘n soort rasse diskriminasie is
en stadig maar seker met die verloop van tyd
word elke wit mens geforseer om te verarm

en die poenskop man sien homself
as ‘n held,
word deur sommiges beskou as ‘n soort messias
en as ‘n uiterste verraaier deur ander

en ek wonder waar die barbare is
wat mense lewendig verbrand het?
Want hulle het nie gekom nie behalwe een
wat die leier van ons eie geledere was
wie se dade nou elkeen
stadig maar seker
in die drein in forseer

en nou wil die huidige regering
‘n wet proklameer
om vryheid van spraak weg te neem
om alle gedigte, alle verhale, alle nuusberigte
soos hierdie een te demp, te sensor, te skrap.


[Verwysing: Waiting on the Barbarians deur C.P. Cavafy.]


Voetnotas:

(1) Luitingh, M. 1967. Digters en digsoorte. Johannesburg Afrikaanse Pers boekhandel. P39.

(2) Die woorde van ‘n lied, ‘n gedig wat in die aard of inhoud daarvan ‘n lied naboots. Subjektiewe emosionele gedigte wat in ‘n metrum geskryf word wat oorspronklik bedoel was om gesing te word. Smith, A.H.; O’Loughlin, J.L.N. Odhams Dictionary of the English Language. Odhams Press London.

(3) “Liriek:” “Digkuns van die persoonlike gevoel; goevoelspoësie. Liriese aard karakter.” “Liries:” “Tot die liriek behorende; sangerig, gevoelvol; wat veral gevoelens uitdruk: Liriese poësie. Hy het glad liries geword oor die saak.” Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; du Toit, S.J.; Booysen, C.M. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor Uitgewers. 1977.

(4) “Epiek:” “Beskrywende en verhalende letterkunde, byvoorbeeld die sage, sprokie, epos, roman, fabel; geskiedskrywing, objektiewe uitbeelding.” “Epies:” “Van behorende tot die epiek; verhalend, soos in ‘n epos.” Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; du Toit, S.J.; Booysen, C.M. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor Uitgewers. 1977.

Verhalende poësie soos die epos, ballades, metriese romanse en vers verhale kan as epies beskou word.

(5) “Didaktiek:” “Lerende, onderrigtende kuns, onderwysmetodiek.” “Didakties:” “Lerend, onderrigtend: Didaktiese kuns.” Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; du Toit, S.J.; Booysen, C.M. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor Uitgewers. 1977.

Didaktiese kuns is ontwerp om informasie oor te dra en om onderrigtend te wees, veral waar morele instruksies gegee word. Smith, A.H.; O’Loughlin, J.L.N. Odhams Dictionary of the English Language. Odhams Press London.

Op sy uiterste word die suiwerheid van digkuns gebreek en word didaktiese digkuns materiaal wat in verse gestel word om dinge tot die geheue te bring soos byvoorbeeld “”Thirty days hath September,” of om die leer proses meer aangenaam te maak. Waar die nadruk geplaas word op kommunikasie of kennis vir die doel daarvan of vir praktiese onderrig en so word die digkuns eintlik verkrag.

(6) Dramatiese digkuns behels gedigte as direkte spraak onder sekere omstandighede, wat bedoel word om opgevoer te word. Die woord drama kom van die Griekse woord wat beteken om te doen en dus word drama gewoonlik geassosieer met die idee van aksie. Gewoonlik word drama beskou as ‘n verhaal of die gebeure in die lewens van karakters wat daarop dui dat die idees van konflik, spanning, kontras en emosie met drama geassosieer word.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Van ons ander lede

Skat van die Seerower

deur Rachelle du Bois

Dit is die jaar 1845. Twee jong vroue is op 'n belangrike sending per skip van Frankryk af na Engeland op pad. Een het ’n kosbare skat in haar besit wat veilig in Engeland besorg moet word. Dis egter nie so maklik nie, want hul skip, Du Vent, word deur twee Franse edelmanne onderskep in ’n poging om te keer dat die skat in Engeland beland, want dit is die eiendom van die Le Veque-familie. Die mans is vasbeslote om dit terug te neem na Chateau le Veque in Nantes, Frankryk. Sal die pragtige dames die sending suksesvol voltooi ten spyte van ʼn storm op see, ontvoering, misverstande, bedreigings en allerhande ander ontberings en noue ontkomings? Of gaan die twee Fransmanne sorg dat die skat terug besorg word waar dit hoort?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar