Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Op 30 Julie 1985 is Pieter Louis David Grundling tereggestel vir vier moorde in 1983 waaraan hy saam met Charmaine Helen Phillips skuldig bevind is. Die paartjie se moordtog en die latere hofsaak het die land aangegryp, en daar is dikwels na hulle verwys as Suid-Afrika se eie Bonny en Clyde. Uit die getuienis wat gelewer is, was dit duidelik dat die moorde om allerlei sinnelose redes gepleeg is. Alhoewel beide die beskuldigdes nie uit die beste van agtergronde afkomstig was nie, en daar getuienis van gebrekkige opvoeding, gebroke ouerhuise, prostitusie, misdaad, dwelmmisbruik en sosiaal onaanvaarbare gedrag in hulle verlede gelewer is, was en is dit steeds nie regverdiging vir hulle dade nie. Die agtergrond is egter tog as versagtend in die geval van Phillips genoem in haar vonnisoplegging.

Die moorde, soektog na die beskuldigdes en hofsaak het groot aandag in die media geniet. Die mediadekking het ook wye aandag op die daaglikse TV nuus op die destydse SAUK ingesluit. Ek kan nie meer al die besonderhede van die saak onthou nie en moet bieg dat ek op die internet moes gaan soek vir al die detail. Na die vrylating van Phillips na haar jare lange rehabilitasie, kon ek egter iets in konteks plaas wat baie lank in my onderbewuste gesluimer het. Destyds na die vonnisoplegging het die media buite die Hof toegesak op Grundling se Ma en natuurlik haar mening gevra; dis immers hulle werk. Wat ek onthou is ‘n verdwaasde en verwaarloosde ou vrou met trane in haar oë. Wat sy alles gesê het kan ek nie meer onthou nie, maar wat ek wel onthou is haar woorde wat was: “Maak nie saak wat hy gedoen het nie, hy bly my kind”.

Op ‘n persoonlike vlak vind ek aanklank by haar woorde uit my eie ervaring met iemand wat ek ken en sy ouers. Die persoon het oor baie jare sy ouers finansieel gebruik en getap, gemanipuleer, soms erg teleurgestel, weer en weer by hulle geleen om nooit weer terug te betaal nie, en hulle doodgewoon bedrieg. Hy het altyd maar weer vir hulp gaan vra na nog ondeurdagte en roekelose besluite en kanse. Daar was eindelose leë beloftes van terugbetaling, eindelose stories, eindelose vinnige ryk-word idees, en dit altyd met hulle geld waarvoor hard gewerk is. Hulle was nie vermoënd nie. Die toedrag van sake het sodanig geword dat die dit die hele gesin se interpersoonlike verhoudings begin raak het en verbrokkeling die gevolg was. Die ouers het geskerm vir die kind, hom maar altyd weer geglo, altyd weer jammer gekry en gehelp. Geen raad of vermaning van andere is na geluister nie, en in ‘n tipiese patriargale Calvinistiese Afrikaner benadering is gesê dat hulle weet wat hulle doen en basta met ander se menings. Na al die jare is die fontein nou droog, die reserwes waarvoor oor soveel jare gewerk en gespaar is, uitgeput. Die ergste is dat daardie kind alles deurgebring het soos die verlore seun en vandag steeds iewers met die hoed in die hand staan. Daar was ook ander onaanvaarbare gedrag van die kind wat maar altyd deur hom met ‘n skouer ophaal afgemaak is.

Dan kom die skokkendste gedeelte van die verhaal. Die een ouer is oorlede en geld uit die boedel wat maar weinig werd is, word verduister. Die kind het natuurlik weer ‘n “wat vir hom aanvaarbare verduideliking is” gereed. Sommige van die ander kinders in die gesin kyk maar liefs ander pad, want dis net makliker. Ander is omgekrap en spreek graag hulle mening daaroor uit, maar het om welke rede ook al nie die oortuiging om daadwerklik op te tree nie. Die enigste een wat bereid is om op te tree word veroordeel en selfs vermaan deur die oorlewende weduwee om nie wraak te neem nie. Daar staan immers geskrywe in Romeine dat die wraak God alleen toekom. Maar is dit wraak of doodgewoon geregtigheid. Die hele kwessie lei tot ‘n intense sielswroeging omdat ‘n keuse tussen gesonde verstand en gewete op die spits gedryf word.

Hierdie aangeleentheid is verseker nie volkome vergelykbaar met Phillips en Grundling se misdade nie, maar daar is tog raakpunte.

Ek het ‘n paar retoriese vrae wat die verstaan gedeelte hiervan dalk makliker sal maak. My vrae is die volgende en ek verwag nie ‘n antwoord nie, want nie eens geleerdes in die menslike wetenskappe kon ‘n sinvolle antwoord verskaf nie.

Hoe verstaan ‘n mens daardie moederliefde van ‘n Ma wat haarself te kort sal laat doen net om ‘n kind wat tog so verkeerd op tree te beskerm? Hoe verstaan jy dat liefde wat telkens vertrap word met liefde beantwoord word? Kan ‘n mens dit enigsins verstaan as jy nie self daardie band van moederliefde so intens ervaar nie? As ek nou daardie enigste kind sou wees wat bereid is om iets te doen aan die onreg, moet ek my steur aan die veroordeling en vermanings? Is dit nie ook so dat die reg soms maar sy pad moet loop omdat dit ook deur God ingestel is en in die hand van die mens geplaas is om ongeregtigheid teen te werk nie? Is dit nie waar dat iemand wat die pad byster geraak het, vir ook sy eie beswil dalk, deur harde optrede tot besinning geroep moet word nie?



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Daniel, 'n baie goeie stukkie wat jy hier geskryf het. Glo my, 'n moeder sal moor om haar kind te beskerm en hongerly vir haar kind. Ek glo egter aan die Engelse gesegde: 'sometimes you have to be cruel to be kind' en soos ons boerenasie sê: 'moenie 'n kind in sy kwaad sterk nie'! As 'n ouer nie 'n kind leer om op sy eie voete te staan nie, doen hulle hom 'n onreg aan waaronder hulle gaan ly vir die res van hulle lewens.
12 jaar 11 maande 1 week 22 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Gister se Onthou

deur borrels

ek pluk 'n klompie letters van 'n laning woord-bome af dan bou ek 'n vers daarmee die trand daarvan soms bietjie laf maar die woorde van die verse kom diep hier uit my hart dit skets die liefde van die lewe soms met pienk en soms met swart



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar