Projek: PROJEK – DROOGTE (2015-10-11 tot 2015-11-25)
Weergawe: 1
Aantal woorde: 647
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 30 Nov 2015
Dis die somervakansie in 1992 op die Transvaalse Hoëveld. Dis droog. Baie droog. Ek ry saam met my pa op die plaas rond. Ons bekyk die boerdery. Of liewer, dit wat daarvan oorgebly het nadat die droogte daarmee klaar was. Kos was min vir die diere en dit moet aangery word. Water moet van anderkantste windpomp gepomp word. En dis bloedig warm...
"Jou Oupa was so vindingryke man. En as hy nie 'n plan gehad het nie, het hy altyd een gemaak. En hy het hom dan so gemaak dat hy gewerk het! 'n Plan was daar altyd. Wens ek kon hom gou gaan vra het wat hy sou gedoen het in hierdie tyd..."
Ek het toe baie van my Oupa gehoor in die bakkie. 'n Merkwaardige man, vertel my pa my. In die depressie jare het 'n ryk boer hom ingevoer van Riversdal af om 'n bywoner op hul plaas te wees in Bethal. 'n Bywoner, verduidelik my pa, is maar 'n hande-arbeider. My oupa eie pa was ryk maar met die droogte, en die val van die volstruisveerpryse wêreldwyd, het hulle alles verloor. En my Oupa, toe maar net in Standerd Ses (vandag sal ons dit Graad Agt noem) moes uitspring om te gaan werk. Hy het sy dierbare ouers gegroet en hy is op 'n trein gelaai na die ou Transvaal om te gaan werk met sy hande. Net 'n klein tassie vol klere en 'n trommeltjie kos het hom vergessel.
Dit is seker die droogste droogte wat mens kan kry, dink ek by myself. Ek is self 'n tiener op daardie stadium. Jy dors mos as tiener na baie dinge - liefde, aanvaarding, koestering, sekuriteit, aanraking, toekomsdrome... Alles wat sal moet agter bly as jy alleen met 'n trein Transvaal toe, na mense toe wat jy nie eers ken nie, wat jy nie eers weet of jy kan vertrou nie, wat jou waarskynlik gaan uitbuit weens jou benarde situasie. Dis droogte...
Na my Ouma se dood, kry ons briewe wat hy vir sy ouers geskryf het in hierdie dae. Hoe hy vertel het van sy verlange na hulle. Dat hy maar swaar trek. Dat die boer vir wie hy werk, nie altyd genade het met hom nie. Sy ma het hom getroos met Woorde uit die Bybel, dat hy sy moed moet gaan soek in die Here. Lewende water, in sy droogte tyd, is met woorde in briewe op hom neergestort sodat hy sy droogtedors kon les...
Vandag is ek trots op my Oupa. Ek wens ek kan net die helfte van die man wees wat hy was. Dit was 'n man wat altyd 'n plan gehad het . Wat kon boer, in reën of daar sonder. Wat 'n sukses kon maak, ongeag wat die natuur na hom gooi. Wat rykdom kon vergader het, al was dit bietjie vir bietjie.
Wat sou hy gedoen het in ons droogte tye vandag? Wat het die lewe in die natuur hom geleer? Sou hy, as moderne man, sy droogte met drank en depressiepille verlig het? Sou dit sy slim plan wees? Nee, vertel my oom. Hy het baie versigtig met alkohol omgegaan. Pille was daardie tyd nie beskikbaar vir sieledors nie. Nou wat dan? Wat sou sy plan vandag wees, as moderne man? Waarskynlik om sy droogtedors te les met Lewende water. Dis wat die lewe hom geleer het. Om Lewende water te drink en krag te kry om aan te hou en aan te hou. Want dan is mismoedigheid nie deel van die droogteprobleem nie - maar jy word 'n man! 'n Sterk man vol kennis en wysheid. 'n Metro man vat vandag sy pille, sigarette met 'n drankie vir sy droogtesorge. My Oupa, die man van staal, vat net sy Bybel...
Lees ander artikels deur Nardus van der Vyver
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae