Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek het ‘n hele rukkie gewag in die restaurant, voor my afspraak ingedwarrel ingekom het. Met ‘n wit kookbaadjie oor ‘n geruite broek, groen eko-vriendelike shopping bag in die hand, kom sit sy.

“Skuus dat ek laat is. Ek moes net eers gou die kaas en ham gaan haal het. Mense hou nogals van ham en kaas toebroodjies.”

Sy vroetel met haar mollige handjies deur die grys slierte, wat half hulpeloos haar ronde gesiggie omraam. Sy vermy my oe en staar na die groen lappie op die tafel.

“Ek is ‘n vis en tjips tannie. Ek werk by Tony, die Porra, daar by die winkel naby die hoek. Ek werk al lank daar, kan nie meer onthou watter jaar ek daar begin het nie.”

Dit lyk asof sy onseker is hoe om te begin en daarom vra ek die openings vraag:
“ Lalie, is daar iets wat jy graag vir my wil vertel?”

Sy kyk vir die eerste keer in my oe en trommel met haar vingers op die tafel voor haar.

“Ek is ‘n fokop. My hele lewe lank was ek nog niks anders as ‘n fokop nie.” Sy bly ‘n oomblik stil en probeer haar hygende borskas onder beheer kry.

“ My kinderdae was terrible. Daar is nie ‘n ander woord voor nie. Ek het so baie gehuil daardie tyd, veral as my Pa dronk huistoe gekom het en ons en ons ma, rond geruk en pluk het. Maar ons mag nooit iets gese het nie, want die mense mag nie geweet het nie.

Pa was nie dom nie. Hy het met net die beste en die rykste mense op die dorp gemeng. Hy was amal se beste pel. Dominee het soms ‘n bietjie met hom gepraat oor sy drinkery, maar hy was in die wereld se oe nie ‘n slegte ou nie.

Na skool het ek met die eerste en beste man op my pad getrou. Gedink hy was my prins, maar nou ja, die prins het in ‘n padda verander. Hy was erger as my Pa. Ek weet nie hoekom ons bymekaar gebly het nie. Miskien was dit ‘n tipe van ‘n comfort zone, ek weet nie. Ek weet ook nie waarom ek nooit iets aan die situasie gedoen het nie. Alles maar net so gelate aanvaar en gedink as ek ‘n beter huisvrou is, sy klere mooi was en stryk, sorg dat die kos betyds op die tafel is, sal dit die volgende dag beter gaan. Ironies ne, maar dit het nooit beter gegaan nie.

Ek het my kinders ook gefaal. Ek was daar vir hulle, altyd omgesien na hulle fisiese welstand, maar ek was nie in staat om hulle vrae te beantwoord nie.”

Sy kyk ‘n oomblik ver oor my skouer.
“Ek dink Danie is deesdae iewers in Australie. Hy het goed gedoen vir homself. Hy is baie slim met computers en dinge en hy en sy vrou lewe baie grend. Daar is al ‘n kleinkind ook, maar ek het hom nog nooit gesien nie.

Elmarie is ‘n onderwyseres. Ek kan dit amper nie glo nie, want sy was ‘n onmoontlike tiener. Baie gedrink en partytjie gehou, maar sy het ook ‘n goeie man gekry. Ek was op hulle troue, maar het so ongemaklik gevoel om in my ex se gesig vas te kyk, dat ek nie veel van die seremonie kan onthou nie. Ek hoor ook byna nooit van haar nie, maar dit maak nie saak nie, kinders lewe hulle eie lewens.

Ons was twintig jaar getroud, toe Phillip die aand vir my kom se het hy wil skei. Ek kon dit nie glo nie en gedink hy maak ‘n grap. Maar ek het later besef hy’s ernstig.”

Haar lewendige, neutbruin ogies flits onrustig heen-en-weer.

“ Ek het probeer selfmoord pleeg. ‘n Handvol pille gesluk en Elmarie het my gekry.”

Sy huil saggies met haar hande voor haar gesig.

“My kind sal my seker nooit die skok vergewe nie. Sy het die ambulans gebel en almal laat weet wat moes weet. Ek is so skaam daaroor!

Phillip het my by die hospitaal besoek. Hy het gese ek moenie probeer om hom te manupileer met selfmoord nie, want hy gaan nie van plan verander nie. Hy het ook gese as ek dit wil doen, moet ek dit maar doen, want eintlik is ek lankal reeds dood.”

Sy huil nou onbeskaamd en ek staan op en hou haar ‘n rukkie teen my bors vas.

“Na die egskeiding het ek niks gehad nie. Het maar ‘n Vrotsige prokureur gehad wat net so gou as moontlik die charity case wou afhandel. Ek het al die Tupperware, die lendelam meubels en die 20 jarige Defy gekry. Dit is dit. My kinders was al groot toe dit gebeur het. Hulle lewe hulle eie lewens. Ek is ‘n verleentheid vir hulle, ‘n loser. ‘n Moerse groot loser en ‘n fokop.
“ Die lewe is darem maar snaaks. Phillip is getroud met ‘n jong vrou. Ek hoor hulle is baie gelukkig en het onlangs ‘n baba gehad.”

Sy staan skielik op. “Ek moet gaan, ou Tony wag vir die goedjies. Dan kom Zanele ook nie in vir die volgende skof nie. Die arme ding! Haar man het haar ook sommer gelos vir ‘n ander vrou.”

Toe sy by die deur uit skarrel, groen shopping bag swaaiende langs haar lyf, dink ek net weereens: soms is daar nie die regte woorde nie…






Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ek het al die Eva stories (sommer 'n paar ander ook) nou gelees(was Desember besig-afwesig), goeie leesttof die.
11 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 9 ure oud


Ongelooflik hoe jy dit reg kry om die vrouens se persoonlikhede vas te vang, die seer en pyn... sonder om werklik iets te se oor hulle.
'n Boeiende storie, met 'n uitstekende skrywer!!
11 jaar 2 maande 3 weke 6 dae 1 uur oud


Afspraak
Ek was die vis en tjips tannie, sy het nie als vertel nie, as jy dieper krap sal jy haar waarheid kry, seer mooi..m
11 jaar 3 maande 2 weke 6 dae 16 ure oud


Nog 'n lekker lees-stukkie, dankie Mariette. Eva is 'n baie goeie luisteraar .. miskien moet ek 'n bietjie 'n afspraak met haar maak! hie-hie .. ons het mos maar almal 'n ou ietsie om oor te praat.
11 jaar 3 maande 3 weke 1 dag 18 ure oud


goed geskryf - sien uit na die wat gaan volg! marcie
11 jaar 3 maande 3 weke 6 dae 2 ure oud


Mariette, ek geniet hierdie stukkies van jou verskriklik. Hoop om sommer nog hope van hulle te siene te kry. Jy raak diep aan die vroue hart!!!
11 jaar 3 maande 3 weke 6 dae 8 ure oud


Pragtig gedoen en goed daarin geslaag om die pyne van die werklike lewe met deernis en humor te beskryf.
Sien uit na sommer nog 'n hele spul meer...
b
11 jaar 3 maande 3 weke 6 dae 13 ure oud


rex
'n Afspraak ...
Goed geskryf, Mariette.
11 jaar 3 maande 3 weke 6 dae 14 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Reistog van Genade

deur Hannelie

My genade reistog van diagnosering van bipolariteit en my reistog na die veiligheid van God se Arms



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar