Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

2010 is verby en 'n nuwe dagboek met 365 skoon blaaie lê vir 2011 deur God se genade voor elkeen van ons oop.

Mag die lewenslesse wat ons in hierdie afgelope jaar en jare voor dit geleer het, jou en my help om nuut te dink, te voel en beter keuses te maak in die jaar wat kom.

Mag jou huwelik- en verhoudingslewe weer 'n lewegewende rivier word wat almal voed wat daaruit drink. Mag jou geld en goed nie net vir jou en jou gesin bevoordeel nie, maar mag dit hierdie kragtige instrument wees in die hande van jou Koning, in diens van die koms van Sy koninkryk.

Mag jy, jou geliefdes en die familie van Jesus rondom jou in hierdie nuwe jaar leer hoe om fees te vier sodat die wêreld om julle julle vreugde sal sien en ervaar, en na julle getrek word soos motte na die lig.

Mag jy en almal rondom jou beleef hoe God uit die vuur en swaar van die afgelope jaar die beste te voorskyn bring, tot jou en almal rondom jou se verbasing sodat julle vir mekaar sê: Ons het gedog 2010 was ons slegste jaar, maar eintlik was dit een van ons beste jare.

Geniet vandag die Woord hieronder.
 
'n Nuwe spesie  
Kolossense en Efesiërs is soos vinkel en koljander. Die een is soos die ander in die Nuwe Testament. Veral in hulle weergalose tekening van Jesus Christus.

Soos FF Bruce sê: die tema van Kolossense is Christus Jesus as die Hoof van Sy Liggaam terwyl die tema van Efesiërs weer is: die Liggaam van Jesus Christus op aarde.

Luister na Kol. 3:11: “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.”

In beide hierdie briefies teken God vir ons deur die inspirasie van Sy Gees hoe wonderlik die ekklesia of Kerk van Christus vir Hom is.

In die proses wys Hy vir ons iets meer waarom die ekklesia werklik 'n nuwe mense-spesie op aarde is. In een opsig is ons letterlik die “familie van God” en in dieselfde asem is ons ook die “Liggaam van Christus” op aarde.

Ef. 1:22-23 sê dit so: “Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”

In Kol. 1:18 staan die volgende: “Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.”

Volgens hierdie gedeeltes is die Kerk “die volheid van Christus”, in die sin dat dit as’ t ware Jesus Christus “voltooi”, soos wat jou liggaam jou kop of hoof “voltooi”.

Daarom kan die “Hoof” en die “Liggaam” van Jesus nie geskei word nie. Hulle is onlosmaaklik een en deel in dieselfde lewe en Gees.

Die “Liggaam” het die “Hoof” nodig om Lewe, voeding en rigting daaraan te gee.
Die Hoof weer, op Sy beurt, het die Liggaam nodig om uitdrukking daaraan (aan Hom) te gee.

As Westerlinge het ons iets van hierdie korporatiewe prentjie van die Kerk en van Christen-wees langs die pad verloor. Daarom, as ons in die Nuwe Testament lees dat ons “lig” en “sout” moet wees, dink ons onmiddellik dat elkeen van ons, individueel as Christene, dit moet wees. Maar ons mis dat dit hier gaan oor die Liggaam van Jesus in 'n korporatiewe sin wat in hierdie wêreld mense om hulle kan bedien en verander soos wat sout en lig dit doen.

Ons moet weer ontdek dat die Christelike lewe nie net gaan oor my en jou as individue nie. Dat dit ook oor “ons” gaan. Ons is immers saam “Kerk” of ekklesia.
“Kerk” het vir ons 'n gebou of 'n spesifieke gemeente geword waar ek bedien en toegerus word as Christengelowige. Terwyl “Kerk” in Bybelse sin ten minste al die Christengelowiges in 'n bepaalde dorp, stad of omgewing insluit.

As ons as Christelike gemeenskap maar weer kan leer watter krag en dinamiek daar is in die gedeelde lewe van Christus waaraan ons almal deel het! Dat die Christelike lewe oor “ons” gaan. Dit is wat “Kerk” of ekklesia, en om deel van die Liggaam van Jesus te wees, werklik beteken.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

DIE DODELIKE SPEL

deur neels claasen

Speurverhaal waarin luit. Kas Dreyer die moord op n smokkelaar ontrafel



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar