Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Onmin of twis tussen broer en suster is ‘n lelike ding, en dikwels so onnodig. Die redes vir sulke twiste is dalk soms verstaanbaar, maar druis nogtans in teen morele waardes en standaarde, godsdienstige oortuigings en doodgewone ordentlikheid. Dikwels word beuselagtighede tot so ‘n mate uit verband geruk dat dit ‘n onvergeefbare wrok en deel van ‘n leefwyse word. Dit was dan ook so met twee mense wat ek geken het. Ek is nie seker of hulle mekaar gehaat het nie, maar, dat hulle mekaar nie kon verdra nie, jaloers op mekaar was, soms openlik vyandig, soms snydend nydig, en allerlei derglikhede wat nie pas by goeie Afrikaanse Christene nie, is welbekend by die meeste van hulle familie. Hulle het die broeder-susterhaat ding tot ‘n fyn kuns verfyn, uitgeleef en tot in die graf voortgesit.

Die saak staan so. Ek het ‘n tante gehad wat nie met een van haar jonger broers oor die weg kon kom nie. Eintlik was dit vreemd, want sy was een van twaalf spruite, en het met die ander goed oor die weggekom, maar nie met die spesifieke jonger broer nie. Die grootste skuld vir die onenigheid was waarskynlik hare; want sy het met baie ander mense ook nie oor die weg gekom nie en was dikwels onvergenoegd en doodgewoon befoeterd. Sy was baie eksentriek, het dinge net op haar manier gedoen, het allerlei vreemde gewoontes en oortuiginge gehad, maar was ten spyte van alles baie kwesbaar en ‘n mens waarvoor die meeste van die wat haar geken het, baie lief was. Maar laat ons nie oordeel nie, want die broer, was ook geensins onskuldig nie. Hy was ‘n regte windlawaai en het gespog met alles en almal wat aan hom behoort. Van die minste wees en om vrede te probeer maak was daar nie juis sprake nie. Beide was ernstige Afrikaner kerkmense, en het keer op keer met ernstige en vroom gesigte aan die Nagmaalstafel in die kerk gesit. Sy kompleet met haar hoed op, en hy met sy swart pak en wit ouderlings das aan. Omdat die broer se nasate vandag nog leef en sommige van hulle vooraanstaande mense is noem ek hulle maar net Broer en Suster.

Suster is enkele jare voor die Anglo Boere Oorlog gebore, en Broer ‘n jaar na haar. Beide het saam met hulle Ma die aaklighede van ‘n konsentrasiekamp oorleef; maar nie eers daardie gesamentlike smart en lyding kon ‘n band tussen die twee smee nie. Daar was volgens oorvertelling al van kindsbeen af onenigheid tussen die twee, en hulle pa en ma, moes alles uithaal om die vrede te bewaar. Suster het later dikwels sommer na Broer verwys as “die ou skelm”. Almal in die familie was bewus van die twee strydende faksies, maar soos dit maar gaan in sommige families, is dit nooit openlik bespreek nie; veral nie in die openbaar, of waar die kinders naby was nie. Dat daaroor geskinder is weet ek egter baie goed. Eers onlangs toe ek en my eie Ma iewers ver heen ry, en sy allerhande stories van die ou dae vertel (iets wat sy besonder goed kan doen en vreeslik geniet), dink ek toe, smee die yster terwyl hy warm is, en vra oor die vreeslike ding tussen die twee. Ma het so ‘n rukkie stil gebly en sê toe; “Ag my kind, hulle is nou altwee onder die grond so ek kan maar vertel”. Ma het my die dood voor die oë gesweer as ek vertel want Broer se kinders en kleinkinders leef nog en sommige is vooraanstaande mense. Sy het ook gesê dat haar ma hulle altyd vermaan het om tog nie daaroor te praat nie, want dit was darem ‘n te groot skande. Maar nou ja, dis so ‘n goeie storie, dis amper Africana, en albei van hulle is die ewige rus in, dat ek kan wragtig nie kan swyg nie. Die ding moet verduidelik word. As Broer se vooraanstaande kinders en kleinkinders beswaard is moet hulle maar prosedeer, ek sal die kans vat. Suster daarenteen het nooit eie kinders gehad nie, net stiefkinders, vir wie sy in elk geval nie ooghare gehad het nie. Die stiefkinders was blykbaar maar vinnige soort van mense. Vinnige wiele, vinnige meisies, vinnig met die bottel en so aan. Een het hoeka homself teen ‘n boom staan en verongeluk, nadat hy vinnige wiele met ‘n vinnige bottel gekombineer het. Die res van hulle, het net in die newels verdwyn, so daar is ek veilig

Soos ek die storie verstaan het van Ma is die ingebore vyandigheid tussen die twee op die spits gedryf met ‘n ongelukkige voorval in ‘n winkel iewers op die Hoëveld waar Broer iewers gedurende die Eerste Wêreld Oorlog gewerk het. Blykbaar was Broer glo in die tronk juis oor die voorval (groot skande). Dan is daar ‘n verbreekte verlowing en ‘n tweedehandse verloofring ter sprake (groter skande). En dan is daar wat mens seker maar jaloesie kan noem. En, o ja, die politiek natuurlik. Fataal.

Dit het blykbaar so verloop. Broer het toe hy so agtien of negentien jaar oud was in ‘n Jood se winkel gewerk. Hy verduister toe na bewering geld in die winkel en word opgesluit deur die Polisie. Dit kon seker nie veel geld gewees het nie, want almal in die omgewing was maar brandarm. Broer se pa sê toe dat Broer ‘n windlawaai is en dat hy maar ‘n rukkie moet sit sodat hy sy les kan leer. Hy was ook nooit werklik in die tronk nie, net in die polisieselle, maar die klein besonderheidjie het geen impak op Suster se veroordeling gehad nie. Intussen was Broer verloof aan ‘n familielid aan die anderkant van my familie. Die twee families was vooraanstaande kerkmense en die twee pa’s het toe gekonfereer oor die netelige kwessie. Die toekomstige bruid se pa is glo te perd na Broer en Suster se pa toe en die verlowing is daar en dan verbreek. Die bruid was immers eerbaar en kon nie met ‘n tronkvoël staan en trou nie. Van die saak by die Polisie het blykbaar niks gekom nie, want sy pa was invloedryk en niemand van die nageslag weet vandag iets daarvan nie. Die ring is toe teruggegee. En dis nou net waar die storie ‘n interessante en fatale kinkel kry. Broer, so windgat as wat hy was, laat nie op hom wag nie en raak met dieselfde ring verloof aan ‘n ander nooi, toe net vyftien jaar oud, en trou met haar. Ek moet darem tot Broer se eer toegee dat hulle meer as sewentig jaar met haar getroud was. Die nuwe bruid het volgens oorvertelling nog pop gespeel toe sy met Broer getroud is. Die tweedehandse ring blyk toe net die olie op die vuur te wees. Nou ja, die hele tronk en ring en verlowing affêre was blykbaar ‘n reuse steen des aanstoots vir die oujongnooi Suster met al haar vreemde opvattings, en dis net waar die moeilikheid wat ‘n leeftyd sou duur goed wortel geskiet het.

Dan was daar natuurlik maar jaloesie ook, want Suster was nie werklik ‘n aansienlike jong meisie nie en die jonger Broer blykbaar wel. Daarby was Broer baie selfversekerd en windmakerig. Dit word vertel dat Broer kon kies en keur tussen die jong dames in die kontrei, en blykbaar geen tekort aan belangstelling getoon het nie. Suster daarenteen moes maar gedweë en droëbek by die huis sit. Sy het ook ‘n groot liefdesteleurstelling beleef toe haar drome om met haar ideale man te trou verpletter is, en hy haar jonger suster bo haar verkies het. Nou dit is seker genoeg om bitterheid aan te vuur en ‘n deugsame jong dame in ‘n eksentrieke oujongnooi te verander. Suster is eers heelwat later getroud toe sy al soort van verlep en opgedroog was soos oorle Sara van die Bybel. Sy was egter baie lief vir kinders en het van haar ander broers en susters se kinders en kleinkinders soms gruwelik bederf. Dalk sou sake anders verloop het as sy net ‘n ridder op ‘n wit perd tee gekom het en ‘n streep kleingoed gehad het om haar besig te hou. In elk geval, dit was haar nie beskore nie, en sy kon lang ure vul met wraakgedagtes. Boonop moes sy haar bejaarde ouers versorg en dit het nie juis ruimte gelaat vir romanse nie.

Om terug te kom na die vete. Nog olie op die vuur was natuurlik politiek. Suster was ‘n geswore SAP en Broer ‘n NAT. Nou ja, In daardie jare was ‘n Afrikaner SAP amper iets soos ‘n kommunis. Broer kon blykbaar die geheulery van Suster met die kakies en ander soortgelyke vyande nie sluk nie. Hoe kon sy eie bloed dan nou amper ‘n hanskakie wees? Erg, baie erg!

Broer was soos ek al gesê het maar sy hele lewe windmakerig en ek glo nie hy het veel bygedra om die vete te beëindig nie, eerder andersom. Hy het altyd voorgegee dat hy baie welgesteld was en daar is baie skinderstories daaroor. Hy het sy laaste jare geslyt deur omtrent elke dag voor Volkskas in die dorp te staan, so met die swart pak en onder-baadjie, en horlosieketting en al. Die storie het geloop dat hy wou seker maak dat sy “geld” veilig is. Blykbaar was daar in elk geval nooit so baie geld nie, alhoewel hy almal so wou laat dink. Broer se verlowing met die tweedehandse verloofring het darem aanleiding gegee tot ‘n baie lang en vrugbare huwelik. Broer het met elke mylpaal in die lang huwelik nog ‘n knewel laat byvoeg op die gewraakte verloofring. Dalk het hy skuldig gevoel, wie weet?

Die spreekwoordelike spyker in die kis was natuurlik dat Suster eerste oorlede is op tagtig. Dit was vir Broer die kersie op die koek. Haar begrafnis was op die familieplaas en die kis het agter op die lykswa gestaan reg voor die kombuisdeur, met die deksel oop. Broer was natuurlik daar; dalk wou hy net kom seker maak. Nou die volgende het ek met my eie ore gehoor. Terwyl hy so na Suster se kalm gesig in die kis staan en kyk sê hy toe redelik venynig: “Nog net oorle Ma dan is ek die oudste”. (Oorle Ma is op vyf-en-tagtig oorlede en Suster op tagtig). Nou ja, hy het dit toe ook gemaak; byna honderd geword, maar of dit hom gelukkig gemaak het, sal ek nie weet nie. Die vete is die ewigheid in. Dalk sal Salomo die wysheid hê om dit op te los daar aan die anderkant; maar ek het my bedenkinge, want geen poging deur enige familielid om dit te besleg kon ooit hond haaraf maak nie.

Soos ek gesê het, familietwis is ‘n lelike ding.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

n Tweedehandse verloofring en ander oorsake
Daniel, dankie hiervoor, ek het dit regtig geniet! Doet so voort! Boerenooi.

13 jaar 6 maande 2 weke 3 dae 17 ure oud


Familie
Hi Daniel,
Ja wat 'n goeie storie.

Het elke familie nie maar so 'n vete nie?

Groete
Kolie
13 jaar 6 maande 2 weke 3 dae 17 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Bothaville in the Second Anglo Boer War

deur Francis Gillieron

CHRONICLE OF BOTHAVILLE'S ROLE IN THE SECOND ANGLO-BOER WAR



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar