Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(Ek het besluit om hierdie artikel te skrap en te her publiseer aangesien ek ‘n veel beter sonnet redoublé geskryf het wat ek getitel het as “‘n Krans van sonnette vir my hartlief “
wat dwarsdeur rym (instluitende die vyftiende sonnet daarvan.) en ek die vorige “sonnette redoublé” met hierdie gedig vervang het.)

Tradisioneel is ‘n sonnet ‘n veertien versreël gedig met ‘n deurlopende ritme en vasgestelde rym patroon. Tradisioneel was sonnette geskryf oor temas van liefde, romanse, godsdienstige toewyding of selfs liefde vir die natuur of vir voorwerpe, maar mens kan deesdae ‘n sonnet oor enige onderwerp skryf.

Konvensionele sonnette het ‘n beweging of draaipunt (die volta) tussen die eerste agt versreëls en die laaste ses van die sonnet. Baie keer eindig die finale ses versreëls met ‘n sluitende rymende koeplet wat die algehele tema of konsep opsom of tot ‘n hoogtepunt bring.

In die Italiaanse (Petrarca) sonnet en sonnette wat van daardie versvorm afgelei is word die tema uiteengesit in die eerste agt versreëls die oktaaf, waar die laaste ses versreëls (die sestet) die beweging van gedagtes of gevoelens in daardie tema weergee.

In die Engelse (Shakespeare) sonnet of sonnette wat daarvan afgelei is bestaan die samestelling uit drie vier versreël kwatryne en ‘n sluitende rymende koeplet. Daar kan beweging tussen die kwatryne wees en die finale koeplet som dit op of bring die hele gedig saam.

Vir die meeste variante van sonnet gedigte vorm die Italiaanse of Engelse gedigte die basis.

‘n Kort geskiedenis van die sonnet versvorm

Alhoewel die Italiaanse sonnet ook bekend is as die Petrarca sonnet, soos wat die Engelse sonnet ook die naam die Shakespeare sonnet dra, is dit eintlik foutiewelik. Die Italiaanse sonnet was geskep deur Giacom da Lentini (1188-1240) wat die hoof van die notarisse was wat die Siciliaanse skool van hofdigters gevorm het (veertien digters in getal) en later die Neo-Siciliaanse skool van hofdigters (1235-1294) tot hy verhuis het na Toskane. Daar het hy in Italiaans byna drie honderd sonnette geskryf. Ander lede van daardie skool was Dante Alighieri (1235-1321) en Guido Cavalcanti (1250-1300).

Die beroemdste digter van die Italiaanse sonnet was Francesco Petrarcha (1304-1374) wie se sonnette populêr dwarsdeur Europa geword het. Petrarcha het meer lewe aan hierdie versvorm gebring.

Die sonnet vorm was met opset geskep met veertien versreëls, of dit was oor die aantal digters in daardie skool of die geestelike en wiskundige formule van agt en ses, word tans nog oor geargumenteer, maar die feit bly dat die ratio van agt en ses, met ‘n stelling en “volta” of draaipunt dit ‘n gedig van veertien versreëls maak.

Die Spaanse vorm volg die Italiaanse vorm en is bloot ‘n Italiaanse oktaaf met ‘n Sisiliaanse sestet. Die Franse het ook gehou van die Italiaanse oktaaf, maar wou die “volta” meer laat ontplof en het dit ‘n koeplet gemaak met ‘n volgende kwatryn en ‘n soortgelyke patroon tot die vorige kwatryn en het steeds die 8/6 verhouding gehou.

Gedurende sy reise as ambassadeur na die howe van Frankryk, Spanje en Italië het Sir Thomas Wyatt (1503-1542) bekend geword met die sonnette wat daar in oorvloed geskryf was en dit word gemeen dat sy sonnet “Who so list to hunt” gaan oor hy sy liefde vir Anne Boleyn moes opgee en dat dit gebaseer was op Petrarcha se Rym 190.

Sir Thomas Wyatt word gesien as die persoon wat die Engelse sonnet vorm ingelei het en sommige van Petrarcha se gedigte na Engels vertaal het. Hy was ook ‘n bewonderaar van Chaucer se innoveerende taal, maar eers vyftien jaar na sy dood is Wyatt se werk gepubliseer.

As mens na Wyatt se werk kyk kan mens aanvanklik ware Petrarchiese (Italiaanse) sonnette sien, later is daar egter ‘n afwyking as hy die Italiaanse kwatryn gebruik om ‘n oktaaf te vorm, maar die “volta” gebruik ‘n terset patroon wat lyk soos ses versreëls ook beskou kan word as ‘n kwatryn en ‘n koeplet en die Engelse sonnet genoem kan word.

As ‘n taalkundige het Geoffrey Chaucer geskryf in ‘n aaneenlopende benadrukking van lettergrepige metrum, ‘n styl wat ontwikkel het vanaf die twaalfde eeu as ‘n alternatief tot die Anglo-Saksiese metrum van hof digkuns.

Chaucer is bekend vir metriese innovasie in Engels en het die “Rhyme Royal” uitgevind en hy was een van die eerste Engelse digters wat die jambiese vyf voet benadrukking in versreëls gebruik het naamlik die Jambiese Pentameter (wat tien lettergrepig is). Sy “Canterbury Tales” is beroemd vir hierdie tipe metrum. (5)

Die is duidelik dat ek eers die jambiese pentameter aspek van vers metrum (5) moet bespreek. Laat ek eers verduidelik wat ‘n jambe is. ‘n Jambe is ‘n “versvoet wat bestaan uit ‘n swak beklemtoonde lettergreep gevolg deur ‘n sterk beklemtoonde lettergreep soos in bewaar.” (1) Pentameter is ‘n vers met vyf voete soos Engelse jambiese verse wat tien lettergrepig is. (2) (4) ‘n Vers voet is “deel van ‘n versreël volgens aksent of ‘n aantal lettergrepe.” (3) Dus praat ons hier van jambiese pentameter as ‘n versreël waarop vyf jambes (versvoete) voorkom, waar daardie versreël uit slegs tien lettergrepe bestaan.

Veel later het William Shakespeare soos baie van sy kontemporêre digters, gedigte en dramas geskryf in jambiese pentameter.
.
Laat ek net eers noem dat ‘n gedig en in hierdie geval ‘n sonnet die digter se eie skepping is en die digter as skepper daarvan, die reg het om sy eie metrum daarvoor te bepaal. Mens hoef nie noodwendig in jambiese pentameter te skryf nie. Pentameter lyne is egter tien lettergrepig en dalk is dit ‘n alternatief om tien lettergrepige versreëls inplaas van jambiese pentameter te skryf, as die Engelse natuurlike “did dah” lyn, daardie liedjie gesanik (Engelse “sing-song”), vir jou te veel raak. Mens kan selfs rymende sonnette in wisselende metrum skrywe, maar gepubliseerde digters veral in Engels gaan hulle nie as sonnette beskou nie, al is die rymskema heeltemal korrek.


‘n Vinnige gids tot konvensionele sonnet vorms:


Italiaanse / Petrarcha sonnet: abba / abba/ cdecde of abba / abba / cdcdcd
metrum: pentameter

Italiaanse sonnet (Sisiliaanse): abab / abab / cdcdcd metrum: pentameter

Franse sonnet: abba / abba / ccdccd of abba / abba / ccdeed of abba / abba / ccdede
metrum: tien lettergrepig

Spaanse Sonnet: abba / abba / cdcdcd metrum: tien lettergrepig

Wyatt Sonnet: abba / acca / deed /ff metrum: pentameter

Spencer Sonnet: abab / bcbc / cdcd / ee metrum: pentameter

Engelse / Shakespeare sonnet: abab / cdcd / efef / gg metrum: jambiese pentameter

Keats Sonnet: abc / abd / cab / cde / de Die metrum word aan die digter oorgelaat

Pushkin Sonnet: abab / ccdd / effe / gg Die metrum word aan die digter oorgelaat

Shelley Sonnet: ababacdc / edefef Jambiese Pentameter

John Dee Sonnet: aabbaabb / bcbcbc metrum: jambiese pentameter

John Donne sonnet: abba / abba / cddc /ae metrum: Die metrum word aan die digter oorgelaat.

Wordsworth Sonnet: abba / acca / dede / ff metrum: jambiese penatmeter

John Milton stert (“Caudated”) Sonnet – abbaabba / cdecde / effegg
metrum: jambiese penatmeter

Rupert Brooke sonnet: abab cdcd efgefg. Metrum: jambiese pentameter

Blanko verse: xxxxxxxxx / xxxxxx geen rymskema metrum: jambiese pentameter

Vrye vers sonnette: geen rymskema metrum: geen bepaalde metrum (ritme bestaan wel)

Komplekse variasies: Stringe van aaneenlopende sonnette.


(Die letter/s x in ‘n rymskema dui op ‘n versreël of versreëls wat nie rym nie.)


Italiaanse sonnet / Siciliaans

Van al die variasies wat bekend is as die sonnet, is die oudste die Italiaanse sonnet wat ook bekend staan as die Petrarciese sonnet, na die beroemdste digter van daardie vers soort naamlik Francesco Petrarca. Ek het reeds genoem dat die struktuur daarvan vasgestel was as ‘n oktaaf van agt versreëls en ‘n sestet van ses versreëls. Dit was egter eers later dat Wyatt en Spencer die jambiese pentameter ingebring het, as die metrum in tien lettergrepe per versreël. Let op na John Milton se gedig “When I consider how my light is spent” as ‘n goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Daar is drie basiese vorms van die Italiaanse sonnet: die Italiaanse, die Sisiliaanse en die Sonetto Respetto.

Daar is ‘n verskil in die oktaaf. Die Italiaanse oktaaf is abba /abba en die sisiliaanse oktaaf is abab / abab. Die oktaaf van die Sonetto Rispetto is abababcc.

Elkeen van hierdie vorms kan ook geskryf word in ‘n keuse van twee vorms vir die sestet naamlik Italiaans as cdecde of Sisiliaans as cdcdcd.

Dus kan mens die Italiaanse sonnet skryf as abba / abba/ cdecde of as abba / abba / cdcdcd.

Die Sisiliaanse sonnet as abab / abab / cdcdcd of as abab / abab / cdecde.

Die Sonetto Respetto as abababcc / cdecde of as abababcc / cdcdcd.

Wat neerkom op ses verskillende digvorms, alhoewel mens gewoonlik die Italiaanse sonnet skryf as abba /abba/ cdecde en die sisiliaanse sonnet as abab / abab / cdcdcd.

In Lewis Turco se boek “Reflections in an Attic Room” gee Wesley Court uitstekende voorbeelde van hierdie ses variasies.


Hier is van my pogings tot die Italiaanse sonnet met die abba / abba / cdecde rymskema:

As sy vieruur in die oggend reeds ‘n Putco bus vang (Italiaanse sonnet)

a As sy baie vroeg, vieruur die oggend
b reeds ‘n Putco bus na haar werk moet vang
b is daar rook wat oor die pondokke hang,
a stap sy eers oor die nat veld ‘n lang end,

a voor die morester verskyn en is bewend
b van die koue wat nog invreet, sien ‘n slang
b wat oor die grond seil en is effens bang
a maar daar is niks wat die vroeë stilte skend

c en later met die gedreun van die bus
d waar die ligte daarvan soos soekligte
e helder is, dwarsdeur die donkerte sny
c kan sy nog ‘n klein bietjie salig rus
d voor daaglikse, uitmergelende pligte,
e daardie oomblik swiep te vinnig verby.

Op die berghang (Italiaanse sonnet)

Op daardie berghang het takke en gras
nog steeds aan ons kaal voete vasgeklou
waar ons vissermanne see langs dophou
waar hulle boot skielik op en af plas.

Onder het groot golwe die berg gewas,
naby het ek die helling nie vertrou
en jy het my hand daar styf vasgehou
toe die hemel blouer as jou oë was.

Het ons oop oë ons skielik daar bedrieg?
Of het iemand op die water geloop,
so asof dit oor ‘n oop grasveld is
na daardie boot wat nog op en af wieg,
voor Hom was die ganske see wyd en oop;
wat ‘n wonderbaarlike gebeurtenis.


Waar is jy my liefling? (Italiaanse sonnet)

Waar is jy liefling, waar gaan ek jou vind
as die son vroeg kom met sy eerste lig,
waar is jy as skoenlappers baldadig
my in oomblikke van hul kleur verblind?

Waar is jy as die lewe my wil verslind,
wie ken jou innig, ken jou aangesig
as my lewe voor die winter wil swig,
of is ons blare, wat waai in die wind?

Of sterre wat aan die hemel verskiet,
draai die noodlot ons lewens om en om
soos ydele woorde in hierdie gedig?
Waar gaan ons met elk vreugde en verdriet,
as die dae van verrukking steeds bly kom,
is dit aan jou wat ek my liefde innig rig?



Hier is van my pogings tot die Italiaanse / Sisiliaanse sonnet volgens die rymskema abab / abab / cdcdcd


Sloping (Italiaanse / Sisiliaanse sonnet)

a ‘n Groot gebou sak skielik in mekaar,
b eers dring ontploffings tot by die kern in
a half van die tuimeling is dan al klaar
b voor die hele ineenstorting begin

a stoters, brekers, skrapers staan bymekaar
b en sloperhamers slinger aftakeling
a breek beton, glas en baksteen aanmekaar
b probeer met gedreun hulle orde bring

c tot daar skielik heeltemal stilte is
d net hier en daar nog ‘n kraan kraakend swaai
c die opperhoof dan homself vergewis
d na sy groep ondergeskiktes toe draai
c bevele uit deel om verder die vonnis
d te voltrek, in die grond in af te maai.



Rondloper (Italiaanse / Sisiliaanse sonnet)

Aangestrompel sien ek hom skielik kom
is hy besig om sy jean uit te stryk
en dan draai hy terug na my toe om
waar hy bloot verflenter lyk

en staan daar sonder enige woorde stom
maar sy stil woorde lê in elke kyk
en skielik sien ek die ganse mensdom
wat daar en dan nie voor geen mens s’n wyk

die ergernis wat onderdrukking bring
hoe manne wat kan werk nou werkloos is
hoe hierdie boosheid nog wyer uit kring
mense vertrap en afplat sonder deernis
dit in die Afrikaner nasie indring
as ‘n tipe bose gebeurtenis.

[Verwysing: Rondloper deur N.P. Van Wyk Louw.]


Vêr-springer (Italiaanse sonnet)

Vroegtydig het hy sy treë reg gemeet
wou dadelik daardie afstand reg bepaal
om sy uiters, grootste sprong te behaal
en instinktief het hy toe al geweet

dat hierdie enkel oomblik, sekonde spleet
alles uit vernuf, felle krag gaan haal
en hy het hom toe reeds daarvoor gestaal,
maar in dolle vaart wat baie krag vreet

besef hy dat hy die rekord daar breek
asof die blote lug hom vlerke gee
word geswiep met alles wat in hom steek,
of sy lewe in die oomblik gesmee
asof hy God self tot vervulling smeek
in sy uiterste sprong moes hy iets afgee.


Hier ‘n pogings tot die Italiaanse sonnet volgens die rymskema abba / abba / cdcdcd:


Ek het ‘n huisie teen die suikerbosrant (Italiaanse sonnet)

a Ek het ‘n huis teen die suikerbosrant
b waar aalwyne altyd rooi gespikkel sit
b donders slaan, op yster klippe blouwit
a vertak, met proteas wat groei aan alkant

a en ek sien bobbejane ewe astrant
b af kom, na my vrugteboord toe afsit,
b perskes sommer heel vreet met vlees en pit
a in ‘n groot trop, hulle is ewe blatant,

c voor hulle verontwaardig weg galop
d en hulle is weg voor die donker nag
c en daar steek die swart donderbuie swaar op,
d slaan knetterend, blouwit vonke met groot krag
c en elke besoeker wat by my aanklop
d word as ‘n welkome gas ingewag.


Die Spaanse sonnet

Die Spaanse sonnet is nog ‘n interessante variasie deur die vermenging van kulture waar die petraciese sonnet vorm die oktaaf uitmaak maar die “Rima Alterata” gebruik word vir die sestet. Die rymskema is dus abba / abba / cdcdcd en is dus dieselfde as een van die vorms van die Italiaanse sonnet.

John Keats se gedig “To my Brothers is ‘n goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Hier is nog ‘n poging van my van die Spaanse sonnet:

Liefde (Spaanse sonnet)

a Liefde, ‘n byna onverstaanbare ding
b wat mens amper heel dol oor iemand maak,
b as jy net meer en meer betrokke raak,
a romantiek sien in elke skemering

a selfs haar stem hoor in elke fluistering,
b selfs in beelde net anderkant die vaak,
b geluk uit die kelke van gode smaak
a asof heeltemal bonatuurlik omring

c dit jou op nuwe onbekende paaie lei
d met iets besonder uniek in elke kus,
c wat ‘n eenheid maak van die ek en jy
d ekstaties met absolute saligheid sus,
c so asof niks mens van mekaar kan skei,
d dit ‘n verbond is, tot by die finale rus.


Die Franse sonnet

Teen die tyd wat Wyatt en Surrey die Petrarciese sonnet na Engeland gebring het, was sonnette gewild dwarsdeur Europa, insluitende Frankryk waar ‘n groep genaamd “Pleiade” toegespits was om Italiaanse digkuns in te voer. Alhoewel daar vyandskap tussen Engeland en Frankryk geheers het, met die nabyheid van Frankryk kan mens aanneem dat die sonnet vorm ook van Frankryk na Engeland toe oorgekom het.

Realisties gesproke was daar behalwe vir die veertien versreëls en ‘n oktaaf van twee kwatryne geen duidelike verbintenis van die Engelse versvorm met die Italiaanse versvorm nie en dit word voorgestel dat die Franse sonnet daardie verbintenis vorm.

Soos die Italiaanse en Engelse sonnet vorms het dit ‘n oktaaf wat uit twee kwatryne bestaan, maar teenoor die Italiaanse sonnet en soos die Engelse sonnet het die Franse sonnet ‘n sestet wat bestaan uit koeplet en ‘n kwatryn.

Dit is moontlik dat die Engelse sonnet afgelei is van die Franse sonnet en nie van die Italiaanse sonnet nie. Die verskil kom daarin dat die Engelse sonnet die kwatryne saam groepeer en die “volta” draai met ‘n koeplet in die laaste twee versreëls, maar die Franse draai met die sestet en gebruik die kwatryn om te sluit.

Die binne rym is nog verskillend, maar kan toegeskryf word aan die verskille van Frans tot Engels, waar Frans eie natuurlike rym en ritme strukture het tot Engels en die meer natuurlike did dah lyn rym wat jambies is gesien word as Engelse liedjie gesanik (Engelse “sing song.”)

Die Franse sonnet het dieselfde kwatryn as die petraciese vorm naamlik abba / abba, maar die sestet begin met die cc koeplet maar het soos die Italiaanse sestet ‘n keuse van kwatryne naamlik deed of dccd of dede.

Die Franse sonnet kan dus geskryf word as: abba / abba / ccdccd of as abba / abba / cc deed of as abba /abba / ccdede.

Kevin McKinney se gedig “Wet Behind The Ears” is ‘n goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Hier is my poging tot die Franse sonnet op die rymskema abba / abba / ccdccd:


Daar is iets aan liefde wat verder strek (Franse sonnet)

a Daar is iets aan liefde wat verder strek
b as slegs dit wat liggaamlik en buite is
b wat mens trek na nuwe betekenis
a iets wat gedurig geheimsinnig bly werk.

a Net op die hart en siel laat dit ‘n merk
b laat daar ‘n tipe van binne kennis
b en dit bring ‘n nuwe soort belewenis
a wat mens aan mekaar heeltyd nader trek

c selfs as gevoelens heel uitgeput word
c is daar iets wat in die dieptes neerstort,
d iets wat ons bly trek, wat ons voel en sien
c en alle ander dinge word opgeskort
c as ons werk aan liefde se stewige fort
d wat as ‘n rots vir ‘n leeftyd moet dien.


Volslae oorgegee aan die son (Franse sonnet)

Onder die son, wat ongenadig brand
die woeste wind en ongetemde weer
kniel die groot boer nederig voor die Heer,
ploeg sy lande om, vat saad in sy hand

sien die draai winde vêr op ‘n afstand,
bid dan weer, vra die Here nog ‘n keer
voor hy sade plant, ‘n stortvloed begeer,
as sy trekker stof laat opslaan in die land.

Groot druppels val wat dae lank neer reën,
keer op keer dank hy die almagtige Een,
met die vars reuk wat uit die stof opslaan,
is dit oornag of al die gras groen is,
dis druip nat so vêr as wat sy oog gaan;
so leef die boer met God in verbintenis.


Die Wyatt sonnet

Na my mening is Thomas Wyatt (1503-1542) ‘n swak geagte en ‘n swak verstaande digter (en hiermee is die Autraliese digter Terry Clitheroe met my eens) en alhoewel hy gesien word as die persoon wat die Italiaanse sonnet na die Engelse hof gebring het, word die veel jonger Henry Howard geag vir die begin of bekendstelling van die Engelse sonnet vorm.

Wyatt was veertien jaar ouer en het waarskynlik Italiaans gepraat toe Howard nog ‘n baba was. Wyatt het met sy vertalings van Petrarch en die Italiaanse sonnet vorm dit in Engels ingebring met die wiskundige 8/6 ratio, wat ‘n geestelike impak gehad het vir die samestellers daarvan, maar op dieselfde tyd het hy ook die terset na Engeland gebring.
Baie min digters en kundiges let op die subtiliteit van Wyatt se versvorm terwyl hy die terset ingebring het en ‘n vorm ingebring het wat nog ooreenstem met die 8/6 patroon, sy laaste twee lyne was egter ook ‘n koeplet en het die 4/4/4/2 verband gevolg wat ook die Engelse vorm geword het. Nog meer het Petrarch se eie sonnette nooit ‘n rymende koeplet op die einde gehad nie, waar ek my eerder dan op logiese afleiding bepaal in plaas van rasionele korrelasie van hierdie versvorm.
Wyatt se abbacc tersette kan ook geinterperteer word as abba cc wat ‘n kwatryn en koeplet uitmaak.
Wyatt se sonnet se rymskema is abba / acca / deed /ff
Kyk gerus na Thomas Wyatt se beroemde gedig “I find no peace” vir ‘n goeie voorbeeld van hierdie tipe versvorm.
Hier is drie sonnette wat ek volgens die Wyatt vorm geskryf het:


Van erge weemoed was hy amper mal (Wyatt sonnet)


a Van erge weemoed was hy amper mal
b toe hy skielik eienaardige dinge sien
b en dalk was dit die hartseer se toedien;
a in die natuur en ook in die heelal

a gewaar hy klein dinge soos blare wat val
c die kleinste blomkelk wat stadig uitspruit
c die kleinste voëltjie se eerste gefluit
a donder wat in die verte iewers knal

d selfs klippe glinster met hulle metaal
e waar hy selfs voëls se vlerke sien fladder
e die beweging van elke klein adder,
d by lewe en dood is dit onbepaal

f en op sy vrou kan hy nie sy oë slaan
f of lewend na daardie koninkryk gaan.


‘n Ruiter in die nag (Wyatt sonnet)

In die duisternis sonder enige maan
hoor ek skielik die galop, die donder
van hoewe en daar vêr, daar heel onder
sien ek ‘n swart ruiter wat verbygaan

as dit rooi vonke uit die kwarts klippe slaan;
of dit reg uit openbaring uitkom
of uit ‘n oorlog is, is ek verstom,
sukkel uit vrees om my eie weg te baan

of dalk is dit dwalendes uit die dood
maar met hulle het ek geen soort belang,
sien hoe ‘n ruiter na my toe oorhang
en my nood raak daar skielik baie groot

maar as die maan skielik goudgeel deurbreek
is daar niks onder by die troebel beek.


Hoe half verblind en soms weerloos kan mens staan (Wyatt sonnet)

Hoe geheel deur oordondering verslind
en soms heeltemal weerloos kan mens staan
teen hul wat gruwelik foute begaan
as jy gaan na ‘n man vanaf ‘n kind

en deur die noodlot, die weermag verblind
knaag die aanhoudende gedurige vrees,
twyfel oor om verkeerd of reg te wees,
is dit moeilik om soms waarheid te vind

en in daardie felste oorlewing stryd
is dit met tye of jy ontwapen is,
kry dinge ‘n nuwe betekenis
kom mens soms tot ‘n volle weerloosheid

met karakters wat vroue sien as byskrif,
wat seks vervlak tot slegs ‘n dierlike drif.


Die Spenser sonnet

As ‘n variasie op die Engelse (Shakespear) sonnet, kombineer die Spenser sonnet beide die Italiaanse en Engelse vorms waar drie kwatryne en ‘n koeplet gebruik word, maar daar verbindende ryme tussen die kwatryne is.

Die rymskema van die Spenser sonnet is abab / bcbc / cdcd / ee

Engelse puriste dring aan op ‘n jambiese pentameter metrum of op Tetrameter, maar hierdie versvorm het reeds bestaan voor formaliteit ingebring was.

Edmund Spenser se gedig “One day I wrote her name upon the strand” is ‘n baie goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Hier is my poging tot die Spenser sonnet:


Toe ons op die ongerepte strand loop (Spencer sonnet)

a Toe ons op die ongerepte strand loop
b raak die see ons voete, swiep in en uit,
a terwyl bruisende water van ons afloop
b branders teen rotse sproeiend bars en stuit

b in die verte is daar ‘n skip wat fluit
c as water hoër die baai begin in stroom,
b vissermanne op ‘n skommelende skuit
c beland skielik in ‘n tipe maalstroom

c as die golwe die strand begin oorstroom
d die sout reuk van die see aan alles kleef
c waar die branders die laagwater toestroom
d ons uit die see moet gaan om te oorleef

e en op ‘n groot ou swart rots staan ons vas
e as branders skielik in die lug op tas.


Die Engelse sonnet

Allengs is die Italiaanse sonnet patroon verander en aangesien Shakespeare beroemd geraak het vir die grootste gedigte in die veranderde vorm, was sy naam gegee aan die Engelse sonnet vorm. In plaas van ‘n oktaaf en ‘n sestet het die Shakespeare sonnet drie kwatryne en ‘n rymend slot koeplet.

Die rymskema vir die Engelse sonnet is abab / cdcd / efef / gg en hierdie versvorm word gewoonlik in jambiese pentameter geskryf.

William Shakespear se gedig Sonnt LXV “Since brass, nor stone, nor earth, nor boundless sea” is ‘n baie goeie voorbeeld van hierdie versvorm.


Hier is van my pogings tot die Engelse / Shakespear sonnet:


Geen nuwe horisonne vang sy oog (Engelse sonnet)

a Geen nuwe horisonne vang nou sy oog
b as hy die bevryding bevel daar kry,
a net die lig blou swerk se swier strek omhoog
b waar die son sit, wat uitgestrek bly

c en hy in stewels, uniform en baret
d ‘n paar eindelaaste handdrukke gee,
c sommige ander ont-troep uitjil van pret
d vreugde gille roep en hy met lang treë

e oor die gestrekte paradegrond stap,
f hy kortpad reguit na die hoof hek vat,
e skote vêr by die skietbaan aanhou klap,
f of hy ontsnap, vir oorlog moeg en sat,

g hy wil net weg om ‘n lewe te lei,
g steeds nie heeltemal van die weermag vry.


Circe (Engelse sonnet)

Dag op dag smag ek, kyk ek net na hom,
hou hom dop waar hy nakend teen my slaap,
sien die rooi son in die ooste opkom
smag dat hy my weer in passie moet opraap.

Uit sy oë wil ek al die weemoed weer,
hom vir nog ‘n rukkie aan my verbind
keer dat hy nog gevare moet ontbeer
net hom met my tere liefde verblind

maar as hy rusteloos op en af loop,
oomblikke vêr oor die oseaan uitstaar
wil ek hom hier hou, verdwyn al my hoop
wil ek hom nie keer om hier weg te vaar

en tog wens ek dat hy langer kan bly,
kyk vêr weg, kyk ek by sy blik verby.

In Springs (Engelse sonnet)

Hulle stap soms in parkeer terreine rond
Met ou harde baarde blou en dae oud
ruik gewoonlik na rook, blare en grond
sommiges bedel vir hulle eie behoud

met oë, koppe stug en soms hier en daar
‘n flou grap of nog ‘n halwe glimlag,
maar oë wat moedeloos, half doelloos staar,
nou werkloos onder die regering se mag

by die myn, plekke uit werke geknel
dood gewillig om enige ding te doen
met stories om aan mekaar te vertel
nog nie met hulle lewenslot versoen

en die meeste is uit die ouer garde
nie bejaard, gestroop van eiewaarde.

Die speelman (Engelse sonnet)

Hy is maar net nog ’n kind, ‘n speelman
en slaan die snare van sy bruin kitaar
vinnig in ‘n lied, so al wat hy kan
asof hy daarmee die wêreld invaar.

Hy speel, vir wie verbygaan, vir die nag
waar die voëls en die krieke skielik stil bly
as hy snare pik met ‘n diep soet klag,
en sy musiek hartseer deur alles sny.

Soms voel hy die koue, die winter wind
wat hom na die werklikheid terugbring,
en hy word deur die lewe self verslind
waar die sterre blink, hoog bo hom uit kring

en tas half blind na ‘n dagga sigaret
as die laaste plesier wat hy oor het.

[Verwysing: Die speelman deur N.P. van Wyk Louw.]


Die bosduif fladder net verby die stoep (Engelse sonnet)

Die bosduif fladder net verby die stoep
pik insekte uit die gesnyde gras
van waar hy vir sy maat die heeltyd roep,
eenkant is mossies wat in die water plas.

Daar is ‘n rooibruin kleur wat in son vlam
dwarsoor sy hele vere dos gestrek
waar hy aanhoudend insekte bydam,
voor sy gekoer nog duiwe nader trek.

Geel vinke kwetter in die takke rond
vlieg gedurig singend van tak tot tak
maak ogies vir wyfies gespikkel bont
wat in die warm somer son hulle uitbak,

die son trek lang skadus wat oor my val,
in die verte is daar donder wat knal.


Die vleiland (Engelse sonnet)

Hoe nader ek aan die ruie vleiland kom
hoe meer hoor ek bleshoenders kwinkeleer,
waar ‘n swerm vinke kwetterend saamdrom
op van die riete wieg en balanseer,

vrolik brabbel die helder water stroom
in die vroeë môrelig waar dit blink
langs die groot ou treurende wilgerboom
en ‘n hele simfonie van die natuur opklink

Vlei palmiet wieg wit gepluim in die wind
wat saggies waai deur die bosse spriete,
half deur al die baie skoonheid verblind
wandel ek soos ‘n kind deur die riete

druppels water straal as ganse opvlieg,
biesie riete skielik op en af wieg


Die Keats sonnet

Die Keats sonnet is ‘n baie interessante variasie op die Engelse sonnet vorm. Die hoof verskil is dat Keats vier tersette eerder as drie kwatryne gebruik het. Geen metrum word gespesifiseer en verskillende soorte vers voete of ander metrums as jambiese pentameter word ook toegelaat soos trogee, spondee ensovoorts.

Die rymskema van die Keats sonnet is: abc / abc / cab / cde / de

Pat Bibbs se gedig “ The Witch of black magci, they think she’s a fool” is ‘n goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Hier is van my pogings tot die Keats sonnet:


Dag op dag (Keats sonnet)

Vir dae het hy in afgebakenheid
in die oggend skemer sy pad gevind,
en was ingeperk en erg afgehok

byna meganies in afsydigheid
was hy heeltyd byna doelloos gebind
het na sy heel beste sy taak gedoen

tot die skel gelui van die vyfuur klok,
om vroeg soggens sy voordeur te ontsluit
in sy grootse liefde vir vrou en kind

terug te stap met straat blok op straat blok
na sy vrou se sagte groet, se klapsoen,
as nog ‘n rat in die stad se masjien

die stad te ondervind as nog ‘n skoen
tot hy sononder op die rante sien.


As die mooiste meisiekind (Keats sonnet)

As die heel mooiste blonde meisiekind
was daar toe talle sterre in jou oë,
dit was ‘n plesier om na jou te loer

om so skielik vrede en rus te vind
selfs al was jy in die kerk neergeboë,
was ek nog steeds met jou in vervoering,

en jy wou dinge erg begin aanroer,
maar toe was ek met jou te veel verblind
te veel vasgevang deur ander reënboë

want jou pa was fors ietwat nors en stoer,
jy wou hemelse vreugde na my bring,
was geboë met jou hande bymekaar

maar verliefdheid is ‘n helse soort ding
en ons het soms daar na mekaar gestaar.

Kuwait (Keats sonnet)

Waansinnig het soldate in ‘n oorlog
baie oliebronne aan die brand gelaat
toe tenks en vliegtuie tot hulle deurdring

asof hulle weerstand kon bied en nog
ander kon keer om ook daardeur te baat
en deur ‘n reuse militêre oormag

wat die Amerikaanse bevryding bring
na die oorspronklike groot skaalse intog
het hulle vinnig daardie land verlaat

toe aanvalle op hulle wyer kring
terwyl hulle weg vlug en dag op dag
is hul mettertyd heeltemal oorweldig

toe uiterste vernietiging op hul wag
in daardie hel wat vermenigvuldig.


Die Pushkin sonnet

Die sonnet vorm wat deur die Russiese digter en skrywer Aleksandr Sergeyevich Pushkin (1799-1837) geskep is, word beskou as ‘n “driftige / vurige kreatuur” (“mettlesom creature”) deur A.D.P. Briggs in sy inleiding tot “Evgeny Onegin” en dit stel dit dat Pushkin ‘n sonnet vorm uitgevind het wat na beide kante kan gaan en ‘n Italiaanse of Engelse sonnet kan word deur ‘n skakelaar aan te slaan in die middel van ‘n stansa.

Die oktaaf rym abab cc dd... en die eerste kwatryn gebruik ‘n afwisselende rym en die tweede een twee koeplette. Dit is in die sestet waar die verandering plaasvind en wat dan ook die vorm uitbrei. Die oorspronklike Pushkin sestet was een van twee tersette naamlik eff of egg en dit is waar mens die Italiaanse invloed kan agterkom.

Die rymskema van die Pushkin sonnet is: abab / ccdd / effe / gg en daar word van enige metrum gebruik gemaak.

Hier is ‘n paar sonnette wat volgens die Pushkin sonnet vorm:


Hulle sê dis kalwerliefde (Pushkin sonnet)

a Ons is heel tyd net van mekaar bewus,
b van die oomblik wat jy by die klas kom,
a dan raak ek sommer heeltemal stom
b en hulle sê dis kalwerliefde en lus

c dat ons veels te veel vir mekaar wil sien
c en hulle dink dan dat ons net miskien
d veels teveel van mekaar begin te hou
d is dit so of hulle ons nie saam vertrou

e is hul reg dat ons aan mekaar wil vat
f maar daar lê iets veel dieper ook daarin
f as iets wonderlik oombliklik begin
e as ons bymekaar is daar vonke spat,

g ek twyfel glad nie oor jou, of daaraan
g dat ons mekaar nie met lus gadeslaan.


Natuur en Skeikunde (Pushkin sonnet)

(na Antjie Krog)

Reg daar heel voor die groot ou groen bord boer
‘n onderwyser met ‘n sterk hout plank
terwyl pragtige meisies vir my loer
en hier sit ek alleen in my hout bank

waar ek net hier vanself skielik kan sterf
as die onderwyser in die klas swerf
terwyl die klas tyd verskriklik uitrek,
hy groot vrees onder die skoliere wek,

met ‘n krom ou vinger wat wys na my,
ek sien wetenskap formules in kryt,
hoe daardie meneer die bord veër neer smyt,
my pak gee tot ek antwoorde reg kry

en ek wonder soms van waar hy af kom,
sien soms die boosste satan net in hom.

[Verwysing: Wiskunde deur Antjie Krog.]

Die vlieër (Pushkin sonnet)

Op die wit strand tel ek ‘n vlieër op
waar dit in die wind goudgeel lê en tril
en stof die sand af en dit wil galop,
rukkend in die lug in en ek staan stil

en dit vlieg op soos wat net ‘n vlieër kan
terwyl die lyn in my vingers styf span
klim boontoe op, rukkend teen die stormwind
as spikkels sand teen my waai, my verblind.

Dit ruis vinnig op, byna hemelhoog
waar dit eensklaps flapper, wapperend hang
waar dit toe alreeds straal winde begin vang,
ek verloor dit gou-gou heel uit my oog

en toe dit skielik losruk vou sterre oop,
vlieg dit ‘n pad wat deur die heelal loop.


[Verwysing: Die beiteltjie deur N.P. van Wyk Louw.]


In die reënwoud was ons deur die sproei verblind (Pushkin sonnet)

In die reënwoud was ons deur sproei verblind
toe ons saam na die waterval toe stap
en in die gedruis wou ons Sy stem vind
toe ‘n helder skoenlapper nader flap,

jou glimlag was by pragtig vêr verby
toe ons stap om ‘n beter blik te kry,
toe ons foto’s van die waterval neem,
en in ‘n plek van mens en dier ontneem

waar rustigheid en deurlugtigheid is
was iets in die suis van die wind naby,
en ek en jy was seker: dit was Hy,
het die kim geglim voor die duisternis.

Nou dat jy begrawe is, wonder ek
as ek jou foto stadig nader trek.


Narsissus (Pushkin sonnet)

Die fluisterende bome vir lok hom
en hy gaan dieper tussen hulle in
sodat hy later nie meer uit kan kom
om en om loop, asof in ‘n web gespin.

“Is iemand hier! Is iemand hier,” roep hy
en luister as al antwoord wat hy kry
“hier” eggo dawerend na hom toe terug
en hy voel net daar sommer baie stug

en hy skreeu toe uit volle bors “kom”
draai al in die rondte reg rondom hom
en hy hoor “kom, kom” baie hard weergalm,
hy sien ‘n poel, Eggo met haar palm
gestrek na hom, wil haar liefde verklaar,
gevang is dit sy beeld waarna hy staar.


Shelley se sonnet

Percy Bysshe Shelley (1792-1822) was ‘n Engelse digter wat een van die mees invloedryke leiers van die Romantiese beweging was. Dwarsdeur sy lewe wou Shelley nie konfromeer in sy morele sienswyses. Sy oortuigings oor liefde, die huwelik, revolusie en politiek het negatiewe beskouings deur sy kontemporêre digters uitgelok. Die universiteit van Oxford het hom geskors oor sy pamflet “The necessity of Atheism” wat hy in 1811 op die kampus versprei het.

Heelwat kritici beskou Shelley as een van die grootste Engelse digters en hy is bekend vir sy odes. Die sonnette “Ozymandias” en “Adonais” is hier egter ter sprake.

Shelley se sonnet herinner mens nogal aan die Italiaanse / Sisiliaanse sonnet met die oktaaf en sestet struktuur daarvan behalwe dat dit vroeër skakel na die c rym en die oktaaf en sestet gedeeltes met die d ryme met mekaar bind.

Die rymskema van die Shelley sonnet is: ababacdc / edefef. Die meeste digters gebruik jambiese pentameter as hulle hierdie versvorm skryf.


Hier is my poging tot die Shelley sonnet:

Toe daardie eerste mensepaar verval (Shelley sonnet)

a Toe daardie eerste mensepaar verval,
b soos blote klein kinders wegkruip vir God
a het die almagtige God van die heelal
b liefde gebring as Sy grootste gebod,
a klaar beplan om op die aarde te val,
c nou nog besluit mense waar hulle hoort,
d het Hy aan elkeen ‘n keuse gelaat,
c maar steeds woed daardie stryd in felheid voort,

e wil Hy die mens nie in redding in dwing,
d word daar in harte en op skrif gepraat
e in ‘n wêreld wat duister steeds verwring
f wil Hy steeds wys wat ware liefde is,
e het Hy die mens eens bloed offers laat bring
f om die mens heel vry te stel van vonnis.


Die John Dee sonnet

John Dee (1527-1608) was ‘n briljante wiskundige, wetenskaplike en filosoof wat op vyftien jarige ouderdom reeds gestudeer het aan Cambridge Universiteit. Sy kennis het gestrek van aardrykskunde en “calculus” (gevorderde algebra) na astrologie, skeikunde en metafisika en hy het aan die hof van koningin Elizabeth gedien maar hy was vir ‘n geruime tyd afgemaak as ‘n okkultis.

Die struktuur van hierdie gedig bestaan uit twee stansas en is vasgestel as ‘n oktaaf van agt versreëls en ‘n sestet van ses versreëls. Daar is ‘n baie sterk verbintenis tussen die oktaaf en sestet met ryme wat die twee gedeeltes verbind, wat toon dat hierdie gedig neig na die Franse gedigte.

Die rymskema van die John Dee sonnet is: aabbaabb / bcbcbc

Hier is my poging tot die John Dee sonnet.


Nou trek skaduwees lang lyne (John Dee sonnet)

a Nou trek middag skaduwees lang lyne
a teen die rant sit daar spikkels aalwyne
b terwyl die middag draal die son laer sak,
b die buurman sy eerste botteltjie knak,
a ou tannies praat sag in deurkosyne
a ‘n vrou loer na die straat deur gordyne
b en op ‘n groot wit huis se vuurwarm dak
b is katte wat in die son lê en bak,

b as die buurman sy aktetas uitpak
c en ek wonder of ek jou dalk gaan sien
b vir die posman op ‘n fiets knor die brak
c en dis met skemer nog ‘n groot miskien,
b van hongerte voel ek nou al reeds swak,
c dalk moet ons van die verhouding afsien?


Die John Donne sonnet

John Donne (1572-1631) is bekend vir beide sy liefdes en godsdienstige gedigte. John Donne is die eerste en die grootste van die Engelse metafisiese digters en hy het geskryf met ‘n sentimentlose, subtiele intellektuele styl. Die metafisiese digters het komplekse temas wat godsdienstig en profaan was aangespreek, het die algemene metrum vermy en onkonvensionele beelding gebruik.

As mens na John Donne se beroemde sonnet no 10 “Death be not proud” kyk is die rymskema abba / abba / cddc /ae. Hierdie rymskema herinner sterk na die Italiaanse sonnet (veral die eerste twee kwatryne), maar volg ook die struktuur van die Engelse sonnet met drie kwatryne en ‘n slot koeplet. Die twee versreëls van die slot koeplet rym egter nie met mekaar nie. Die eerste versreël van die slot koeplet rym met eerste versreël van die gedig en die laaste versreël van die slot koeplet rym glad nie, wat op ‘n ander manier klem op die einde van die gedig laat val.

Die metrum in hierdie sonnet vorm word aan die digter oorgelaat.

Hier is my poging tot die John Donne sonnet:


Odysseus en Kalipso (John Donne sonnet)

a Toe hy na Kalipso kyk, sy hom lok
b die vuur in haar lendene om hom vou
b het hy sy menswees aan haar toevertrou
a as hy ontken, sou hy werklik moes jok

a dat sy nie vir Penelope afblok
b as hul saam uitroep, sy aan hom vasklou
b en haar oë was blouer as kobaltblou,
a weg van haar was sy lewe afgehok,

c erger as selfs passievolle vure
d het verlange na sy vrou, kind en land
d in duister dieptes van sy hart gebrand
c en hy het vir dae lank en baie ure

a vêr oor die see uitgestaar tot haar skok,
e gewens om na sy mense toe te vaar.


Wordsworth Sonnet

William Wordsworth (1770-1850) word beskou as een van die mees voldonge en invloedryke van Engelse Romantiese digters, wie se teorie en styl ‘n nuwe tradisie in digkuns geskep het. Hy het vloeiende blanko verse geskryf oor geestelikheid in die natuur en die wonders van die menslike verbeelding.

Wordsworth se siening was dat die bron van digterlike waarheid die direkte ondervinding van die sintuie is. Vir hom het digkuns gevloei uit emosionele wat spruit uit vreedsaamheid en hy het die nadruk op vorm en intellektuele benadering verwerp.

Die eerste twee kwatryne van die Wordsworth sonnet herinner sterk na die Italiaanse sonnet se oktaaf, maar mens vind egter ‘n vermenging van beide die Italiaanse en Engelse sonnet in Wordsworth se sonnet.

Die rymskema van die Wordsworth sonnet is: abba / acca / dede / ff


Hier is my poging tot die Wordsworth sonnet:

Hoe maklik is dit om die vertroue van kinders te versmaai (Wordsworth Sonnet)

(vir Megan Van Wyk)

a Hoe maklik is dit om die vertroue
b van jong skool kinders te versmaai,
b hulle te skok, met tye te verraai,
a in die wrede werklikheid se kloue

a uit te lewer, in te werp, amper houe
c aan hulle uit te deel waar pa of ma
c nie gedurig kruip en skenkings aandra
a merieteloos, vir almal se aanskoue

d dié wie se ouers gedurig maar gat kruip
e met oormatige vriendelikheid
d in grootse soort eerbetoning te druip
e vir byna elke soort aangeleentheid

f as die onheil orals teenwoordig is
f skole plekke word van ‘n soort vonnis.


John Milton stert (“caudated”) sonnet


John Milton (1608-1674) is veral bekend vir sy meesterskap in blanko verse soos in sy grootse gedig “Paradise Lost” wat die Bybelse weergawe van die mense se verbanning uit die paradys dramatiseer. Sy ryk, digte verse het ‘n kragtige invloed gehad op volgende Engelse digters. Milton word baie maal as die grootste Engelse digter naas William Shakespeare beskou.

John Milton se stert (“caudated”) sonnet mag kritiek trek aangesien dit langer as veertien versreëls is, nogtans is dit ‘n volwaardige sonnet alhoewel dit ‘n verdere uitbreiding op die Italiaanse sonnet vorm is.

Hierdie sonnet bestaan uit ‘n oktaaf van agt versreëls en twee sestette van ses versreëls elk. Die oktaaf en eerste sestet is identies aan die Italiaanse sonnet. Die laaste sestet is weer soortgelyk aan die Italiaanse oktaaf se kwatryne, maar hy eindig sy sonnet met ‘n slot koeplet met ‘n korter stert gedeelte. Die eind stert gedeelte moet korter as die ander versreëls wees.

Die rymskema van John Milton stert (“Caudated”) Sonnet is: abbaabba / cdecde / effegg

Hier is my poging tot ‘n Milton stert (“cuadated”) sonnet:

Die oomblik toe die son in die see sak (Milton stert (“caudated”) sonnet)

a Die oomblik toe die son in die see sak,
b het in die verte kerkklokke gelui,
b het ek jou alleen op die strand gekry
a met ‘n meeu, met sy een vlerk af geknak.
a Jy het met trane na asem gesnak,
b jy was werklik baie pragtig vir my
b toe die wind warrel, deur jou hare sny
a en met die arme voël was jou blik strak,

c terwyl ons oor die wit strand verder stap
d het die strand se waterlyn geglinster
e met die oranjerooi van die laaste son,
c was die voël in jou hande skielik slap
d en die aand was onmiddellik duister,
e vir die voël het ons gedoen wat ons kon.

e Toe my oë joune by Hartenbos vang
f bruis die see blou, lewendig agter ons,
f voel ek my hart skielik half benoud bons
e is daar iets intiem en magies wat hang
g is dit of ek sterre in jou oë sien
g sonder dat ek dit verdien...


Die Rupert Brooke sonnet

Rupert Chawner Brooke (1887-1915) het gestudeer aan King’s College by die Universiteit van Cambridge. Terwyl hy in diens was van die Britse vloot gedurende die Eerste wêreld oorlog, het Brooke gesterf aan bloedvergiftiging in Griekeland. Sy ontydige dood, sy persoonlike aangetrokkenheid en die sjarme van sy verse het hom ‘n simbool gemaak van die begaafde jong mans wat gedurende daardie oorlog gesterf het.

As mens na Rupert Brooke se sonnet “Peace” kyk is die rymskema: abab cdcd efgefg wat mens herinner aan die eerste twee kwatryne van ‘n Engelse sonnet wat gekombineer word met die sestet van ‘n Italiaanse sonnet.

Hier is my poging tot die Rupert Brooke sonnet:


Maria Magdalena as beskuldigde (Rupert Brooke sonnet)

a Hoe verblind die liefde van man op man,
b die krag wat altyd in duisternis dwaal,
a waar my hele wese soms saam kon span
b om in passie en plesier te verdwaal.

c In my is dit nou heeltemal doodstil
d en ek is nuut en rein soos ‘n jong kind,
c het te veel tyd en energie verspil
d sonder om tot nou toe geluk te vind.

e Magtige woorde, op die grond skryf Hy
f wat my veroordelaars uitmekaar laat spat,
g Sy woorde bly by my: “Sondig nie meer”
e woorde wat my van veroordeling bevry;
f selflose liefde is Sy eindelose skat,
g ek het my bekeer tot volle inkeer.


Blanko sonnet verse


Laat ek eers weer herhaal wat ‘n jambe is. ‘n Jambe is ‘n “versvoet wat bestaan uit ‘n swak beklemtoonde lettergreep gevolg deur ‘n sterk beklemtoonde lettergreep soos in bewaar.” (1) Pentameter is ‘n vers met vyf voete soos Engelse jambiese verse wat tien lettergrepig is. (2) (4) ‘n Vers voet is “deel van ‘n versreël volgens aksent of ‘n aantal lettergrepe.” (3) Dus praat ons hier van jambiese pentameter as ‘n versreël waarop vyf jambes voorkom waar daardie versreël uit slegs tien lettergrepe bestaan.

Blanko verse se kenmerk is dat dit glad nie rym nie, maar het nogtans duidelike ritmiese kwaliteite en dus kwalifiseer dit as verse, eerder as prosa. Die meeste van Shakespeare se dramas is in blanko verse geskryf en John Milton se “paradise lost,” is ‘n uitstekende voorbeeld daarvan.

Blanko verse het steeds jambiese pentameter, alhoewel daar geargumenteer kan word oor om ‘n oktaaf te hê (agt versreëls stansa) gevolg deur ‘n sestet (ses versreëls stansa). Die oktaaf stel ‘n situasie waarop die sestet kommentaar lewer en teenoorgestelde. Daar is natuurlik geen rymskema nie.

Na my mening om argument halwe kan mens sonder volrym netsowel ‘n blanko vers volgens jambiese pentameter skryf in die Engelse drie kwatryne en ‘n slot koeplet struktuur.

Ryter Roethicle se gedig “Riverside” is ‘n goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Hier is my pogings tot blanko vers sonnette:


Mag ek jou vind (Blanko vers sonnet)

Mag ek jou vind, jou weereens iewers sien
voor my lewe verbrokkel, verby is
voordat ek werklik ietwat sinies word
en laat my liefde nie vergeefs wees nie
maar laat jou koms vars soos reën druppels wees
voor sonskyn deur die duister wolke bars,
mag ek alles bely wat trane kan bring
of ewiglik sal ek geweldige pyn hê

want soos ‘n sluipende ergerlike soort dief
het jy my siel en hart vir jou geneem,
gebreek as straf vir ongekende smart
maar nou het ek klaar verligting gevind
in jou liefde en hoop dat jy sal bly
as ‘n hoofstuk van ons lewens begin.


So baie subtiel en slim (Blanko vers sonnet)

So baie subtiel en byna geslepe slim
met oë wat blink soos ‘n gees verskyning
het jy in die nag in my hart gekruip,
jou glimlag, jou oë en persoonlikheid
jou liggaam het lokkend na my gekom
en deur teer bemining en nie deur mag,
het jy my verlief gemaak, my laat skryf
van ‘n wese wat myne is, wie vry is

‘n engel wese wat my meer bemin
met vlammende passie vol helder vuur,
wat my wil laat leef en my ook wil laat sterf
want my hart is diep getref soos voorheen
en as ons snags saam na ons bed toe gaan
is ek geseën, as jy in my arms lê.


Betowering (Blanko vers sonnet)

Ek sien my gereflekteer in jou oë
in tye van trane en tye van geluk,
wonder oor die kragte wat jy gebruik
om lig aan my te bring, in donker tye.
Hoewel jou woorde diep tref sonder leuens,
is jou glimlag soms dalk ‘n tipe sluier
maar jou gevoelens kom altyd opreg
as iets eienaardig waar die self sterf,

waar liefde ‘n soort betowering word
wat alles selfloos aan my wil offer
en gee sonder enige soort weifeling
in alles wat jy vanself vir my wil doen
wat energie bring, ‘n soet soort van rus
as jy sonder enige afwagting optree.


Die essensie van liefde (blanko vers sonnet)

Ek wens ek weet hoe diep en hoe opreg
en hoe uiters wyd liefde werklik is
daaroor kan ek nie my kop helder kry
en nêrens kan ek ‘n dit en dat vind
om die essensie van liefde te ken
nêrens kan ek iets vind om dit te meet;
sommiges sê dit kom uit die hemel uit
soos reëndruppels wat net hier en daar val

soos ‘n groot ding wat hulle gevind het
sommiges sê dis goed, dis heel wonderlik
en daaroor sê ander geen dooie woord,
hulle soen, ken saligheid en sê niks:
maar niemand wil aan my werklik vertel
en nou sal ek maar eerder self moet sien.


Salome (blanko vers sonnet)

Met half ontblote slanke lang bene
dans sy op haar klein hakke en tone,
hou perfek op die maat by die ritme
glimlag in die verbygaan vir die koning.
Verby dans sy nog vinniger en draai,
die koning wat spraakloos is hou haar dop
met haar romp wat in lieflikheid rys
terwyl vlammende fakkels helder brand.

Vir mans, die koning eindig dit te gou
terwyl daar ‘n sekelmaan buite hang
en sy word aangesê om weereens te dans,
om te dans en vir ‘n soort guns te vra.
In blote ydel skoonheid staan sy lank,
vra dat die kop van ‘n heilige moet val.


Jou blik is vol ys

(na Sir Thomas Wyatt)

Ek voer reeds oorlog, tog veg ek nog nie;
ek is vreesloos, ek het nie oorlog verklaar
maar jou stoere blik op my is vol ys,
op ‘n tyd was slegs die geel son daarin.
Eens was ons gelukkig, het mekaar geken,
jou houding, jou blik is ‘n verrassing
asof verraad, in jou siel, jou oë lê
of iets verskriklik jou laat weghardloop.

Jou blik druk jou gevoel duidelik uit
maar die lewe is nie so eenvoudig,
maar nou verlang jy eienaardig na hom,
terwyl jou lag plesier vind in my pyn.
Ek wou onsterflike gevoelens koester,
op ‘n tyd was jy bemin as my vrou.

[Verwysing: “I find no peace” deur Sir Thomas Wyatt.]


Vrye vers sonnette

Vrye vers sonnette het geen rymskema nie. Verder kan nie veel gesê word as hierdie sonnette bestaan uit veertien versreëls en pragtige en grootste gedigte al reeds in hierdie versvorm geskryf is.

“A dark red rose..” van Ryter Roethicle is ‘n goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Hier is my pogings tot vrye vers sonnette:


Vandag sweef ek deur die lug (vrye vers sonnet)

Vandag sweef ek deur die lug,
val regdeur
tot op die grond, met wind in my oë
tuimel af dwarsdeur die donkerblou
en terwyl die wind
‘n eie deuntjie sing,
storm die aarde op my af
waar ek vlerkloos is
totdat ek die toutjie trek
en die valskerm oop klap
en soos op ‘n skoppelmaai swaai ek,
met die son wat my liggaam bak
die aarde wat nader kom
my byna omhels, net voor die landing.


Vooruitgang (vrye vers sonnet)

Trek swart sykouse aan
met kat oë tussen in,
wat gloei langs reuse staal krag torings
nooit vreedsaam, slegs wild obseen
en vernietig elke stukkie groen
met kettingwinkels en winkel sentrums
wat dorpe en stede se ou gang ontwrig
en plaas kragstasies orals
en word ‘n eeu vervuil
met talle minibus taxi’s orals
wat sielloos optree,
met tye dood en plunder
met monsters wat rook uitblaas,
met stringe elektriese drade soos galg installasies.


Stringe van aaneenlopende sonnette (kroon van sonnette / sonnet korona)

‘n Kroon van sonnette of sonnet korona is opeenvolgende sonnette, wat gewoonlik gerig is aan een persoon of handel oor ‘n enkele onderwerp. Dit is ‘n sewe tal sonnette wat opeenvolg waar die laaste lyn van elke sonnet herhaal word in die eerste lyn van die volgende sonnet. Die heel eerste lyn van die eerste sonnet word ook die heel laaste lyn van die laaste sonnet wat aan hierdie opeenvolging die kroon agtige of sirkel struktuur verleen.

Die eerste kroon van sonnette wat bekend is, was geskryf deur die romantiese digter France Prešeren in sy beroemde “Sonetinie venec” (vertaal as “Wreath of Sonnets”). Prešeren se kroon van sonnette was vertaal in Russies in 1889, wat ‘n groot invloed gehad het op Valery Bryusov en Jaroslav Seifert wat sy sentimentele “Věnec sonetü” (vertaal as “Wreath of Sonnets”) in hierdie vorm geskryf het oor Praag.

Die Bulgaarse digter Venko Markovski het meer as ‘n honderd kroon sonnette geskryf en gepubliseer wat opgedra was aan verskeie historiese figure.

Die gedigte “Crown of Sonnets” deur Jan Haag en “Here in the Silence” deur Leny Roovers is goeie voorbeelde van hierdie vers vorm . Beroemde voorbeelde is John Donne se “Corona” en Lady Mary Wroth se “Crown of Sonnets Dedicated to Love.”

Marilyn Hacker is bekend dat sy verskeie sonnet krone geskryf het. Bekende sonnet krone was geskryf deur Linda Beirds, Andrea Carter Brown, Robert Darling, Moira Egan, Jenny Factor, Andrei Krylov, Julie Fay, Marie Ponsot, Patricia Smith, Marilyn Taylor, Natasha Trethewey, David Trinidad en Kathrine Varnes. Lenny Roovers se gedig “Here In The Silence” is ‘n goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Hier is my poging van ‘n sonnet kroon of sonnet korona:


Deur die venster loer die nuwe maan (sonnet korona)

I

Deur die venster loer daar die nuwe maan,
skitter talle sterre helder blou wit
waar hul gloeiend in die duisternis sit
soos diamante waarop ek my oë slaan

as die swart kat in die vensterbank staan,
langs my val lig op jou gesig, lyk dit
asof jy in jou droom en altemit
as ‘n kar se ligte verbygaan

is ek geseënd om jou by my te hê,
jou intieme hitte dig teenaan my,
jou rustig te hoor asemhaal en dis koud
asof ons ‘n duisend nagte so gaan lê
droom ek van my bekommernisse vry;
diep is ons saam in die bevrore woud.

II

Diep is ons saam in die bevrore woud,
waar lang stringe ys soos bleek wit vingers
aan takke hang; ek en jy indringers
het iets naby laat snork, dis half benoud

het verskrik geblaas, dit was ysig koud
met die gekras van voëls, niks besonders,
met klanke van ander woud bewoners
het die bestaan gevoel soos iets eeue oud

en ons het ys skielik naby hoor breek
soos wat ‘n dier met geweldige vrees
dwarsdeur die digte bosse vinnig bars
en jy het jou hand in myne gesteek
en ek kon beloftes in jou oë lees
terwyl ons stewels diep oor die sneeu knars.

III

Terwyl ons stewels saam oor die sneeu knars
het jy grootoog deur my lewe gestap,
was die helder blou lug ysig en vars,
het ek my diep geheime aan jou verklap,

hoe die misterie van die lewe is
het jy geleer, dat liefde van God kom,
tot ‘n nuwe veel dieper betekenis
met jou prag my keer op keer weer verstom.

Jy is my somer kind, die môreson,
jy is myne met jou mense en God,
van lig my enigste werklike sonskyn bron,
meer kosbaars as ‘n menslike gebod

en ek soen jou en doen dit nog ‘n slag,
sommer net hier, sommer helder oor dag.

IV

Sommer net hier, sommer helder oor dag
in die tuin waar ek besig was met werk
het ek jou nie dadelik opgemerk
waar jy vir ‘n tyd agter my reeds wag

irisse en rose het gebloei in prag
met geen vlies wolke in die diep blou swerk
waar dit met ‘n skoonheid bo ons uitstrek,
toe ek omdraai het ek geweet jy smag,

het die handdoek van jou lyf afgegly,
was jy heel nakend in die agter tuin,
was ek toe vasgevang, voer jy my mee
met jou slanke arms wat jy slaan reg om my
was ons verlig in die helder sonskyn,
toe ek myself net daar aan jou oorgee.

V

Toe ek myself net daar aan jou oorgee,
my diepste geheime slegs met jou deel,
jy my deeglik ken in al my geheel
jy met jou hoë hakke my hart betree

word ‘n deel van my menswees afgegee,
wag vernietiging, as ek algeheel
deel van jou is en ons mekaar bedeel
en kennis en magtige bande smee?

Ek kon voëls hoor fluit wat in bome sit
selfs die sagte wind op my vel voel streel,
die helder son in die hemel aanskou,
maar jy is nou die een wat my verhit,
die skone lied wat dwarsdeur my hart speel;
in hierdie blink laatsomer mis ek jou.

VI

In hierdie blink laatsomer mis ek jou
kom die skeiding van baie jare saam
in elke klein ding wat ek nog aanskou
en weerkaats dit jou wese en jou naam.

Selfs die wind wat liefkoos, mistroostig waai
bring in gesange groter verlange
of alles in die lewe my aanraai
om te vlug maar steeds bly ek gevange

asof in die mag van die ou noodlot,
so asof ontsnapping in my mag lê
(en ek weet dit klink nogal erg verspot)
om dinge so eensklaps anders te hê,

buite is daar ligte wat eensaam wink;
jou stem oor die foon laat my hart rinkink.

VII

Jou stem oor die foon laat my hart rinkink
as dit soos die van ‘n jong kind dawer,
as jou beeld soos die van ‘n engel blink
en ek soek blomme nie ‘n papawer

maar iets kosbaar wat ek vir jou wil pluk
as ek hoendervleis van lekkerte kry
jou vir oomblikke lank teen my vas wil druk
en wonder hoe die sensasie gaan bly

want die myle is verskriklik vêr weg
maar die geel son skyn blink deur jou woorde
en skielik voel my lewe sommer reg
of bestraal uit hemelse helder oorde,

ons gesprek rek lank uit, gaan aan en aan;
deur die venster loer daar die nuwe maan.


Die sonnet redoublé

‘n Gevorderde vorm van die kroon van sonnette word ‘n “sonnet redoublé” of “heroic crown” genoem wat bestaan uit vyftien sonnette wat mekaar volg, waar die laaste lyn van elke sonnet herhaal word in die eerste lyn van die volgende sonnet, maar die finale bindende sonnet word opgemaak uit al die eerste versreëls van die vorige veertien sonnette in die volgorde wat hulle verskyn het.

Hierdie vorm was geskep deur die “Siena Acdemy,” wat in 1460 gevorm was maar daar bestaan geen van hulle kroon sonnette meer nie. Hierdie vers vorm was eers beskryf deur Giovanni Mario Crescimbeni in sy werk “L’istoria della volga peosia” (geskiedenis van volks digkuns) wat in Venisië in 1731 gepubliseer was en later deur P.G. Bisso in sy “Introduione alla volgar peosia” (inleiding tot volks poesië) wat in 1794 in Venisië gepubliseer was.

Marilyn Nelson se kinder boek “A Wreath for Emett Till,” volg die vorm van ‘n herroise kroon. Seanan McGuire en Batya Wittenberg se “The Gift” is ook geskryf as ‘n “sonnet redoublé.”

Hier is my poging tot die “sonnet redoublé:”


‘n Krans van sonnette vir my hartlief (sonnet redoublé)

(vir Daleen)

I

Buite is al die strate lig bestraal,
waar jy aan rooi rose ruik in die tuin,
en dis of my gedagtes na jou draal
by doukelkies wat oor die muur basuin,

die vensters weerspieël jou in hulle glans,
en jy kruip net dieper in my gedagtenis
bo my sprankel sterre, dis of een dans
en ek is bewus van ‘n geheime verbintenis,

oor jou is ek dol en heeltemal mal,
ons vriendskap het baie skielik gekom
waar twee mense in die ganske heelal
hulle oombliklik aan mekaar verstom,

en dis net oomblikke voor jy by my aansluit;
deure is gegrendel en dig gesluit.


II

Deure is gegrendel en dig gesluit
as jy onlosmaakbaar my lewe betree
en my wêreld gaan agteruit
maar asof jy aan elke dag die somer son gee

jy verander maande se koel winter reën
met ‘n ongekende aanpassingsvermoë,
en diep in my hart is jy die enigste een;
wat my bly maak en soms bewoë

miskien het ons geweet dat swaar dae kom,
dalk ‘n intuïsie gehad dat oomblikke verval
maar steeds is ons oor mekaar heeltemal mal
twee mense wat mekaar vind in die mensdom,

en dis asof God se seën op ons neerdaal
as die nagtelike stilte bly draal.


III

As die nagtelike stilte bly draal
lees ek diep gedagtes, skyn jou oë
met die glans en skittering van reënboë
is hul met ‘n soort helder suiwer lig deurstraal,

lê hulle soos twee olywe heeltemal ovaal
as jy vol sonskyn lag en is jy opgetoë
tog het hulle altyd nog die vermoë
om al my gedagtes na jou te laat dwaal

as jy die ganske wêreld wonderlik wil maak
asof ons heeltemal uitgesonder is,
asof elke voël na sy maat fluit,
die son opkom en die dae mooier raak,
en soos twee kinders vind ons betekenis;
ek kry jou nie uit my gedagtes uit.


IV

Ek kry jou nie uit my gedagtes uit,
in hierdie koue winter mis ek jou
is dit of ek jou in alles wil insluit
en gedurig jou foto bly aanskou.

Selfs die wind wat mistroostig waai
bring in gesange groter verlange
of alles in die lewe my aanraai
om te vlug maar steeds bly ek gevange,

in die mag van die ou noodlot,
so asof ontsnapping in my mag lê
(en ek weet dit klink nogal erg verspot)
om dinge so eensklaps anders te hê:

en ek is nou aan jou siel vas,
ons stap met jou hand wat in myne pas.


V

Ons stap met jou hand wat in myne pas
by mense se tuine verby na die kerk,
die wind ruk-ruk aan jou jas
en jy is al wat ek gedurig opmerk.

Jou stem laat my hart rinkink
as jy my van allerhande dinge vertel,
en soms na die van ‘n jong meisie klink
as ek hier en daar mooi klippies optel

maar iets kosbaar wil ek vir jou pluk
as ek hoendervleis van lekkerte kry
jou vir oomblikke lank teen my vas wil druk
en wonder hoe die sensasie gaan bly,

en die dag snel verby terwyl my hart kaperjol,
silwerwit sterre sit die naglug vol.


VI

Silwerwit sterre sit die naglug vol
voor die koue reën begin neer suis
as die wind huil om die hoeke van die huis,
sien ek blare buite rond tol

donderslae wat oomblikke val en stol.
Daar is ‘n eentonigheid in die gedruis
maar dis of jy altyd my lewe deurkruis,
al voel my dae soms dol

besef ek hoe vlugtig die lewe is,
kom die lewe neer op die hier en nou,
as die reën steeds buite neer plas
kom jy kuier en ons deel elke geheimenis
gesels tot diep in die nag tot die sterre verflou;
ons praat oor plekke waar ons eens was.


VII

Ons praat oor plekke waar ons eens was
en deur die venster loer die maan,
as jy my soen en ek jou hand styf houvas
ons gedagtes terug na die verlede gaan

en die erns in jou blik, die pragtige glans,
laat my soms skrik asof dit kan vermink,
asof daar iets geheim in jou oë blink,
as klein duiweltjies soms in jou oë dans.

Buite skitter talle sterre skielik helder blou wit
as die geure van jasmyn en katjiepiering hang,
met ligte wat gloeiend in die duisternis sit
karre se ligte wat die straat oomblikke vasvang

en ‘n papiersak wat in die wind rondrol,
die ou eikeboom gooi ‘n donker kol.


VIII

Die ou eikeboom gooi ‘n donker kol
as duiwe gedurig daarin koer
die wind rukkend aan die vensters lol
en die maan skaam-skaam vir ons loer.

Glimmend gloei skerp ligte in die nag
bring ‘n soort vreugde aan die duister uur
en in my are bruis die suiwer krag
van grootse passie se gloeiende vuur,

van aardse drange, asof uit die grond,
brandend, vol emosie deur my bloed,
as vonkend, vlammend jou sagte soet mond
drifte wakker maak in ‘n soort stortvloed

en soet weerklink jou helder lag,
jou lippe is skielik warm, soet en sag.


IX

Jou lippe is skielik warm, soet en sag;
vannag is daar ‘n potskerf goue maan,
en dis asof ek reeds jare na jou smag
asof die ganske wêreld skielik stil staan

asof die maan self in stukke wil breek
rys dit of dit sterre volg in sy baan,
is daar ‘n deel wat in die hemel steek
en dit verhelder, glim so stadig aan

nog is dit of dié maan my betower
met die goue strale en skaduwees
en ek oomblikke dink om jou te verower,
om liefde te vind sonder vrees

en intens hou jy my oomblikke dop
as my hart heel verruk in my keel klop.


X

As my hart heel verruk in my keel klop
ruik jy na blomme wat in die lente bloei,
wil passie met ons albei weg galop
as jou oë met tye geheimsinnig gloei.

Toe jy my soen verskiet ‘n ster in die heelal,
jy is die son wat hierdie somer dra,
jy maak my met hartstog skoon verby mal
met die antwoord waarna ek smeek en vra.

Jou lippe streel vlinder sag oor my mond,
raak met tye streel sag, teer op my wang
asof jy naby is aan heilige grond
en oomblikke draal, word jy vasgevang;

in die verte rammel ‘n donderslag,
‘n duif roep sy maat in die donker nag.


XI

‘n Duif roep sy maat in die donker nag,
en ons is albei vol vreugde en onvermoei
as jy glimlag soos die son in die middag,
dis of duisend strome deur jou oë vloei,

uit jou hele wese vlammend uitstraal,
teen jou bloes slaan sondige bloeisels uit,
‘n aantrekking wat tot jou lende daal
waarvoor alle ander beloftes stuit

asof jy altyd my blom van blomme is,
waarvan alle ander blomme af kom;
die weg van Eva inslaan, met groot deernis
elke man kan lok, maar dis ek wat jy verstom

en ek wil met jou trou en saam nesskop,
as in daardie oomblik tyd skielik stop.


XII

As in daardie oomblik tyd skielik stop,
as jy my van elke ander vrou bevry
pols my bloed dwarsdeur my kop,
kyk jy met hierdie somer net na my.

As ouderdom met die jare na ons kom,
sal daar dan nog tussen ons vuur verrys
as die noodlot ons grys, geboë of vermom
die pad na die ewigheid wil wys?

Sal ons dan nog die wete van liefde wis,
as alle ander dinge reeds vervaag
soos mis in die verstand se geheimenis
en nog dan ook steeds liefde najaag,

mekaar wil vind in elke woord en sin,
as jou oë vertel dat jy my ook bemin?


XIII

As jou oë vertel dat jy my ook bemin
laat daar rook uit gloeiende vonke styg,
laat ons gedurig dan elke dag nuut begin,
gedurig oor die foute van die verlede swyg.

Laat ons liefde meer as slegs passie word
in die heilige tempels van die hart,
laat ons dan ons siel en gees in mekaar uitstort
speel jy dan nog jou rol en ek my part;

mag ons mekaar bemin in geluk en droefnis;
selfs in die woeste storm wind,
bymekaar staan in elke gebeurtenis
selfs as die lewe ons soms verblind,

laat jy nooit enige waarheid versin,
as ek kyk in jou siel se dieptes in.


XIV

As ek kyk in jou siel se dieptes in
noudat winter heeltemal skelet is
weet ek ons kan teen enige probleem oorwin,
soek ek na jou tot vreugde en betekenis,

bly ek soos altyd steeds selfs verblind
teen die foute wat jou menswees uitskreeu,
tog is daar iets in my wat jou altyd wil vind
as jy vasgevang is aan hierdie eeu.

en droom ek gedurig dwarsdeur die nag
hoe jy jou slanke arms teer om my slaan,
maar ek weet nie wat om van dinge te verwag,
en dis so asof jy nog hier dig by my staan

selfs as die laaste blare in ouderdom val,
as ons staan voor die God van die heelal.


XV

Buite is al die strate lig bestraal,
deure is gegrendel en dig gesluit
as die nagtelike stilte bly draal.
(Ek kry jou nie uit my gedagtes uit);

ons stap met jou hand wat in myne pas,
silwerwit sterre sit die naglug vol,
ons praat oor plekke waar ons eens was,
die ou eikeboom gooi ‘n donker kol.

Jou lippe is skielik warm, soet en sag
as my hart heel verruk in my keel klop,
‘n duif roep sy maat in die donker nag
as in daardie oomblik tyd skielik stop,

as jou oë vertel dat jy my ook bemin,
as ek kyk in jou siel se dieptes in.



Kontroversiëlle sonnet vorms (die “quatorzain”)

Geskiedkundig was “quotorzain” dikwels gebruik in plek van die naam sonnet. Die woord “quotorzain” word afgelei van die Franse “quotorze” wat veertien beteken en is ‘n gedig van veertien versreëls en was op ‘n tyd gebruik om te onderskei tussen “ware of egte” en sogenaamde “vals” sonnette, aangesien baie digters argumenteer (veral Engelse digters) dat ware sonnette slegs in jambiese pentameter geskryf word wat ‘n Engelse digvorm is.

Die egte oorsprong van die sonnet was ‘n daargestelde Italiaanse romantiese vorm, wat die Engelse verander het in ‘n tydperk waar die Engelse taal self nog nie geformaliseer was nie. Die uitvinder van die vyf voetige jambiese pentameter struktuur, was ook bekroon met die skepping van die Engelse “Rime Royal.”

Mens kan self begin redeneer dat die Franse Rondeel in sy veertien versreëls vorm, wat ook soms die Franse sonnet genoem word ‘n sonnet is en dit maak nie van jambiese pentameter gebruik nie. Die rondeel het die basiese vereistes aangesien dit ‘n liedjie van veertien versreëls is. Ek weet dat ek nou hier ‘n kan wurms oop maak, maar as digters moet ons, ons gedagtes oopmaak vir allerlei versvorms en in verskeidenheid ontwikkel.

Mense kan argumenteer dat die Rondeel en Orléans-rondeel eerder hoort by die triolet, die rondeau, die villanelle, die terzanelle en die hybridanelle vorms oor die beperkte ab (twee rym) struktuur, maar niemand kan daarmee stry dat dit gesien word as ‘n soort Franse sonnet nie.

Ek het ook al heelwat rondele gepubliseer en ‘n artikel of twee oor hierdie versvorm. Die belangrike punt is egter dat mens sonnette en die vorming daarvan dood druk as jy ‘n sonnet volgens die metrum van jambiese pentameter wil klassifiseer. Selfs ‘n digter soos Terry Clitheroe (Ryter Roethicle) stem met my saam oor hierdie punte.

As mens die Franse digkuns wil insluit by die sonnet, kan mens netsowel ander nasies se digkuns ook insluit. Die Arabiere is bekend dat hulle romanties is en wat van die mense uit Asië? Mens kan die Luc-Bat en van die Rondele en die Ghazal sien as natuurlike sonnette.


‘n Vinnige gids tot omstrede sonnet vorms:

Alfred Dorn Sonnett: abcabc / dd / aeaeae metrum: Die metrum word aan die digter oorgelaat

Australiaanse sonnet: abba / cddc/ effe / gg Die metrum word aan die digter oorgelaat

Blues Sonnet: AAa / BBb / CCc / DDd / ee
metrum: Jambiese Pentameter of jou eie tipe metrum.

Brisbane Sonnet: abcabc / defdef / gg metrum: enige pentameter

Corniese Sonnet: abacb / C / dedfeF / CF of Abacbc / Dedfef / AD
of Abacbc / dedfeF / AF jambiese pentameter

Gesnyde (Curtal) Sonnet: abcabc / dcbdc of abcabc / dbcdc die laaste spondee korter

Cyhydedd Fer Sonnet aabb / ccdd / eeff / gg metrum: agt lettergrepige metrum per lyn

Echo Sonnet A1bbA2 / accA2 / addA2 / A1A2 metrum: Jambiese Pentameter

“Envolope” / koevert Sonnet: abccba /dd / efggfe Die metrum word aan die digter oorgelaat

Luc-Bat sonnet: a (a.x.b) b (b.x.c) c (c.x.d) d (d.x.e) e (e.x.f) f (f.x.g) g (g.x.a)
Geen gespesifeerde metrum nie. Lettergrepe pas dit reeds toe.

“Nonce” sonnet abcdabcda / efefe of abba / abba / cdcd / ee
jambiese pentameter of ‘n eie metrum

Rime Royal sonnet: ababbcc / dedeeff metrum: jambiese pentameter

Triolet sonnet: ABaAabABaAabAB. Die metrum word aan die digter oorgelaat.

Rondeel (Rondel Prime/ Roundel Prime): A1B1ba / abA1B1 /abbaA1B1
of A1B1ab / abA1B1 / a.b.b.a.A1.B1 of A1B1ab / abA1B1 / ababA1B1
Die metrum word aan die digter oorgelaat

Orléans-rondeel: A1B1ba/ abA1B1/ baabA1B1 Die metrum word aan die digter oorgelaat.

Die Ghazal sonnet: AA / bA / bA / bA / bA / bA / bA Die metrum word aan die digter oorgelaat

Rubaiyat sonnet: aaba / ccdc / dded / ff of aaba / bbcb / ccdc / dd
of aaba / bbcb / ccdc / aa
Die metrum word aan die digter oorgelaat sommiges verkies jambiese pentameter
Ek verkies tans ‘n tien lettergrepige metrum.

Rosarian sonnet: aabcc / ddbee / fggf of aabcc / ddbee / fgfg of aabcc / ddbee / bbff
metrum: jambiese pentameter

Die saraband: axa / bcbc / ded / fgfg of axa / bcbc / dbd / efef or axa / bcbc / ddd /eeff ens. Metrum: agt lettergrepig per versreël.

Die swannet: A1bbA2 / cddc / effe / A1A2 Metrum: tetrameter of pentameter.

Gekransde “Wreathed” sonnet: a ( x a) b (xb) a (x a) b (x b) c (x c) d (x d) c (x c) d / e (x e) f (x b) e (x e) b (x b) e (x e) f Die metrum word aand die digter oorgelaat.

Ongekransde “Un-wreath” sonnet: (xb) a (xa) b (x b) a (x c) b (x d) c (x c) d (x d) c (x e) d (x f) e (x e) f (x f) e (x e) f (x f) e f Die metrum word aan die digter self oorgelaat.

Pantoen sonnet: A1B1A2B2 / B1C1B2C2 / C1dC2d / A2A1 (Franse vorm) of A1B1A2B2 / B1C1B2C2 / C1D1C2D2 / D1D2 (Malaise vorm) of as A1B1aB2 / B1C1B2C2 / C1A2C2a / A2A1 (Franse vorm) of as A1B1aB2 / B1C1B2C2 / C1A2C2a /D1D2 (Malaise vorm)
Die metrum word aan die digter oorgelaat

Tuckerman Sonnet: abbabcab / adeced metrum: Jambiese pentameter.

Luzvimninda Sonnet: aaaa / bbbb / cccc / dd Metrum: jambiese pentameter

Flying Bird Sonnet: aaaa / bbccbb / aaaa Metrum: jambiese pentameter

Romblomanon Sonnet: aaaa / bb / cccc / dddd Metrum: jambiese pentameter

Lunatic Sonnet: aaab / bbcc / cddd / ee Metrum jambiese pentameter.

Heroic Sonnet: aabbccdd / eeffgg Metrum: jambiese pentameter.

Walliese sonnet: aabbccdd / eeffgg Metrum: agt lettergrepig per versreël.

Passion Sonnet: A1bA2B1 / bcB1c / B1dbd / A1A2 Metrum: jambiese pentameter

Die Amerikaanse sonnet: aB1acbcbd / cdcbdB1. Metrum: Jambiese pentameter.

Kanadese sonnet: abba / cddc / effe / gg (as die Engelse struktuur) of abbacddc / effegg (as die Italiaanse struktuur) Die metrum is gewoonlik jambiese pentameter.

Elfin Stansa sonnet: abba / abab / ba / baba. Die metrum is gewoonlik jambiese pentameter.

Fatima Stanza Sonnet: ababbcbc / cccdcd. Gewoontlik word die Fatima stansa sonnet in jambiese pentameter geskryf.

Ierse sonnet: abab bcbc cdcd dd. Gewoontlik word die Ierse sonnet in jambiese pentameter geskryf.

Asiatiese sonnet: aaaaaaaa / aaaaaa. Gewoonlik word die Asiatiese sonnet in jambiese pentameter geskryf.

Spieël (“mirrored”) sonnet: abbaabba / cc / abbaabba. Gewoonlik word hierdie gedig in jambiese pentameter geskryf.

Ongespieëlde (“unmirrored) sonnet: abbaabba cc deeddeed. Gewoonlik word hierdie sonnet in jambiese pentameter geskryf.

Nagtegaal (“Nightingale”) Sonnet (9-lettergrepige versreëls): axxb axcb xcxb ac

Vermening van vorms


(Soos altyd dui hoofletters refrein versreëls aan, by die Blues Sonnet en die Ghazal ‘n laaste woord op die versreël wat herhaal. Die letter/s x in ‘n rymskema dui op ‘n versreël of versreëls wat nie rym nie.)


Alfred Dorn sonnet

Die Alfred Dorn sonnet kan beskou word as ‘n moderne sonnet wat geskep was deur ‘n meester van poësie en dit het aanvaarding gekry deur ‘n digkuns kompetisie te wen. Die Alfred Dorn sonnet het ontstaan in ‘n formaliste publikasie wedstryd Elke jaar het die “Formalist” ‘n sonnet kompetisie waar die applikante hulle eie vorm van sonnet saamstel. Die sonnet vorm word genoem na die wennende applikant en dus in hierdie geval na Alfred Dorn.

Die Alfred Dorn sonnet is verskillend van die meeste sonnette in dat dit ‘n Italiaanse sestet het en ‘n Sisiliaanse sestet wat verbind word deur ‘n koeplet. Albei sestette deel soortgelyke rym wat deur die eerste versreël vasgestel word. Tamara Beryl Latham se gedig “Obsession” is ‘n goeie voorbeeld van die Alfred Dorn sonnet vorm.

Die rymskema vir die Alfred Dorn sonnet is: abcabc / dd / aeaeae.


Hier is my poging tot die Alfred Dorn sonnet:

Die drenkelinge (Alfred Dorn sonnet)

a Het hul met vuiste aan die ark gehamer
b sou hul wat wou gee om binne te wees,
c het hul wanhopige gehuil en geskreeu
a na die mense in daardie groot kamer,
b was die mense daar buite mal van vrees
c deur hul self uitgewerp, in daardie eeu?

d Toe die eerste reën so skielik neerval
d was almal bang vir God in die heelal?

a Het hulle toe maar ietwat langsamer
e gespot en vir die groot ou ark gelag,
a dalk was sommiges heelwat eensamer
e maar nie heel onbekend aan Noag,
a soldate bevrees in die wagkamer,
e ligdag met donderslag op donderslag?

Bo-op Chapmanspiek (Alfred Dorn sonnet)

Van bo-op Chapmanspiek sien ek die see
vêr weg teen daardie hemelblou verdwyn
as die skitter blink eindeloos uitstrek
met die wit son wat helder bo ons skyn,
hoor jou ‘n uitgelate laggie gee,
dink dat jy my met soene sal bedek

in nagte wat swart uitstrek sonder tal
wat half liefkosend oor ons beide val

waar ons soos kinders geheim planne smee
terwyl jy grootoog kyk, my fyn dophou,
ek onthou Hangklip waar die skaduwee
lank uitgestrek oor ons albei oopvou,
ons in die koelte loop met ‘n paar tree
maar jy is nou vêr weg van die onthou.

Trekvoëls (Alfred Dorn sonnet)

Die winter was heel gestroop van lewe
in duisende verskyn hulle skielik,
is die hele blou lug vol fladdering
met trekvoëls wat oral rond swewe,
op dakke en drade land hul dadelik,
word mens omring deur voëls wat sing,

vrypostig word daar neer geflap op stoepe
en van voordag af hoor mens hulle roepe

as hulle in gardes in die tuin bedrewe
insekte op pik, uit takke sit en loer
as jy nog van die oggend koue bewe
in die vroeë skemering jou wakker koer
krummels pik as ander se moed hul begewe
in die stad en dorp ‘n bestaan probeer voer

Chicago (Alfred Dorn sonnet)

Lake Michigan glim silwerwit daar vêr
waar die Mississippi groen daarin stol
met wit bote wat op die water kerjakker,
laatmiddag sien ek al reeds die aandster
en die strate is van ‘n klomp mense vol,
vroeg reeds word die naglewe al wakker.

Die stad is ‘n mengelmoes van mense
soms uit die ghetto met drome en wense,

blitspatrollies sny die stad soos ‘n skêr,
in ‘n park preek iemand, probeer verlos
in ‘n klub sing ‘n man met oë oopgesper,
met ringe aan sy vingers wat duisende kos
en ons vleg deur strate gaan her en der,
sien vrolike meisies wat oral saam tros.



Die Australiaanse / Bowles sonnet

William Lisle Bowles (1762-1850) het hierdie sonnet in Engeland laat ontstaan. Hy was ‘n hoog geplaaste predikant in die “Church of England” en alhoewel die gedig vir ‘n tyd lank gesog was het die verdwyn in obskuriteit, maar van die bewonderaars van sy digkuns het na die Britse kolonies as sendelinge gegaan.

Die Australiaanse “outback” terrein was waarskynlik die ideale broei aria vir digters en digkuns waar sendelinge veral na die straf kolonie gestuur was. In die dorpe het die kerk amptenare Bowles se digkuns voorgedra en die gewone mense was eerder deur sy sonnette beïnvloed as deur sy langer gedigte. Banjo (Andrew Barton) Paterson en William Lawson het met hierdie sonnet vorm gespeel en hulle weergawes van hierdie versvorm, aan die vrouens in die dorpe as liefdes gedigte geskryf. Die oorsprong van hierdie versvorm was vergeet totdat ‘n digter ‘n ou boek wat in 1903 gedateer is gevind het.

Ryter Roethicle se gedig “Madness” is ‘n goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Hierdie sonnet vorm het drie koevert kwatryne en ‘n koeplet wat die volgende rymskema gee: abba / cddc / effe / gg. Elke sonnet word in tetrameter, pentameter of ‘n soortgelyke metrum geskryf:


Hier is my poging tot die Austriaanse / Bowles sonnet:


As branders bruis en slaan (Australiaanse Bowles sonnet)

a As bruisende branders uit swiep en slaan
b suig soos aan glibberige seegras slierte
b jou saam mee sleur asof sy gedierte
a in die krag van die groot blou oseaan

c in die snelle skielike ontwikkeling
d en horison, son en lug net daar skei
d met branders wat brekend kloof en oop sprei
c is daar ‘n soort ding wat jou binnedring:

e hoe omvangryk en magtig die see is
f wat jou suigend, terugtrekkend omklem
f en jy besluit om skielik uit te swem,
e word van die suiwer krag daarvan bewus

g en spier verbindings word erg ingespan
g om water te klief, te swem as jy kan.


Toe die nagvlug oor Afrika tot ‘n einde kom (Australiaanse / Bowles sonnet)

Toe daardie nagvlug tot ‘n einde kom,
ek na Kaapstad se suiwer liggies afkyk
waarvan die kleure helder, pragtig lyk
is dit soos ‘n reuse neon soort blom

byna reg teen die groot duinende see
en teen die een swart kim ruis Tafelberg,
onder my lê huise, karre verdwerg,
ek moet skielik ‘n paar lang slukke gee

teen daardie groot knop hoog bo in my keel,
ek wonder of jy op die lughawe wag
as ek liggies sien glim in die duister nag
terwyl die skoonheid my hart en siel streel,

dit voel asof die ritme van my land
onophoudelik in my hart bly brand.


In die verte (Australiaanse Bowles sonnet)

Daar is ‘n jakkals wat vir die maan lag
met die oë van diere wat in die nag gloei,
as die wind eentonig om die huis loei
en dis met tye buite net donker nag

val lang skaduwees teen die muur,
in ‘n kamer brand ‘n lig sonder skerm
terwyl ‘n ou man half bedwelm bly kerm
besig om die dood lyding te verduur.

Sy gesig is wit bleek en nat van sweet,
die tyd sleep stadig verby, uur na uur,
portrette van boere patriotte tuur
in my oë in of hul dieper dinge weet

en ek wonder waarheen die lewe gaan,
as die wêreld verander, tyd nie staan.


Die Blues sonnet

Die Blues sonnet word afgelei uit die Afro-Amerikaanse melancholiese musiek. Dit is ‘n triplet vorm (drie rymende lyne) met versreëls een en twee se ryme wat herhaal en lyn drie wat die stansa tot ‘n klimaks bring op dieselfde wyse as die haikoe.

Puriste dring aan op ‘n jambiese pentameter metrum, maar ander digters redeneer dat die jambiese pentameter ‘n Engelse digkuns vorm is en dring aan om hulle eie ding te doen so vêr as wat dit die metrum van die gedig betref.

Bruce Henderson se gedig “Hillary Sings the Blues” is ‘n baie goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Die rymskema tot die Blues sonnet is: AAa / BBb / CCc / DDd / ee. Hoofletters dui hier rymwoorde wat direk herhaal word.


Hier is my poging tot die Blues sonnet:


As ons kyk na die ou geskiedenis (“Blues sonnet”)

A As ons kyk na die ou geskiedenis
A vind ons niks goed in die geskiedenis
a en dat daar geen soort van redding in is

B Vrede het die regering belowe
B aller ander soort dinge ook belowe
b maar met geweer vuur my oop geklowe

C Alle plekke het dieselfde gelyk
C het na vernietiging en dood gelyk
c en so moes ons probleme uitstryk.

D Dit was erg om vyandelike vuur te trek,
D gedurig kampe en diensplig te trek
d om altyd behandel te word soos drek.

e As generaals in hulle vestings sit
e en burgerlikes byt dan self die spit.


Die Brisbane Sonnet

Die Brisbane sonnet bestaan uit twee sestette en ‘n koeplet. Die oorspronklike sestet was gebaseer op die Australiaanse gesangboek oktaaf vorm wat ‘n rymskema het van abcbabcb. Twee van die b versreëls was verwyder wat ‘n rymskema laat van abcabc deur nog ‘n soortgelyke sestet van defdef by te voeg en ‘n gg koeplet was hierdie sonnet geskep.

Die Australiaanse gesangboek het ‘n metrum gebruik wat verander tussen jambiese pentameter en jambiese trimeter. Aangesien die Austrialaanse dialek van Engels ‘n eie natuurlike metrum het wat ‘n vermenging is van jambes en anapes is was die metrum gestel as enige tipe pentameter. Die rymskema van die Brisbane sonnet is: abcabc / defdef / gg.

Hierdie sonnet vorm was geskep tydens ‘n werk besoek gedurende die vloede in Brisbane nadat ‘n digter (Terry Clitheroe (Ryter Roethicle)) met van die vloed slagoffers gepraat het.

Ryter Roethicle se gedig “Flood Danger” is ‘n baie goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Hier is my pogings tot die Brisbane sonnet:


‘n Oomblik (Brisbane sonnet)

a Die oomblik het skielik lank uitgerek,
b toe haar haastige woorde hom seer maak
c het hom verskrik, ontstem, maar ook krag gee,
a maar sy oë het vinnig sy pyn bedek
b met sy siel so skielik heeltemal naak
c en hy was vir slegs ‘n oomblik verleë,

d toe sy alles oombliklik daar vertrap;
e saam met die slag van die ou groot muurklok
f het die donder slae van sy hart gegaan
d voor hy fier en vors uit haar lewe stap.
e en in haar was daar skielike amok
f asof alles rondom haar stil gaan staan,

g maar sy het geweet dat hy weg sal bly,
g en het toe self daar baie seer gekry.

Skielik val ‘n skaduwee van bo af (Brisbane sonnet)

Skielik val ‘n skaduwee van bo af
waar ‘n das op ‘n klip bak in die son
die dassie beweeg na die berg fontein,
hoor bobbejane hoër op skielik blaf
versteen in vrees, sou hardloop as hy kon
teen die rots is die diertjie maar net klein.

Die skadu kry fatsoen, word gevaarlik
met dodelike kloue, snawel uitgestrek
val donderslag snel en uiters sekuur
die das skreeu en ontsnap wonderbaarlik
verdwyn in ‘n rotsspleet waar dit klein trek,
wag oomblikke wat ‘n ewigheid duur

maar die vlieënde gevaar is steeds daar,
met goudgeel oë wat uit die hoogte staar.

Aasvoëls (Brisbane sonnet)

In ‘n groot groep verskyn spikkels uit die niet
waar hul in die bloute om en om draai
vlerke hier en daar lem blink helder flits,
hul ondertoe daal, gevaarlik eksplisiet
soos vuil skrop lappe fladder en lawaai
mekaar vuil blikke gee, heeltyd aanhits

in toppe van groen doringbome hang,
met kaal koppe en nekke wat uitrek,
met goudgeel oë wat oopgesper bespied,
dan grond toe af fladder, glad nie meer bang,
voort hobbel, ‘n karkas in stukke trek,
kras as hiënas skielik weerstand wil bied,

dreig grotesk met vlerke, kloue wat klap
maal dreigend om hiënas wat bang rond trap.


Corniese Sonnet

Toe die reisigers die hof in Engeland beïnvloed het en die sonnette na England, Frankryk en Spanje gebring het, het handelaars na die suidelike hawens van Engeland ook hulle eie vorms van digkuns gebring. Hierdie vorms het bestaan uit ‘n mengelmoes van digkuns wat beïnvloed was deur Arabiese handelaars wat handel gedryf het in die hawens van die middellandse see en by die tin myne van Cornwall. Dit is slegs natuurlik dat hulle in aanraking sou kom met die sonnet vers vorm en met tyd eie aftreksel van daardie vorm maak. Die Corniese sonnet is soortgelyk aan die mengelmoes van digkuns wat in Cornwall ontstaan het.

Die versvorm bestaan uit twee stansas met drie koeplette in elk en ‘n refrein wat opgemaak word deur die eerste lyn van elke stansa.

Ryter Roethicle se gedig “Adagio” is ‘n baie goeie voorbeeld tot hierdie versvorm.

Die rymskema vir die Corniese sonnet is:

Abacbc / Dedfef / AD of dit kan alternatiewelik abacbC / dedfeF / CF wees.
(Hoofletters dui refrein versreël saan)

Alhoewel puriste weereens aandring op jambiese pentameter kan enige metrum of versreël lengte gebruik word so lank die versreëls soortgelyk lengte en metrum het.

Hier is my poging tot die Corniese sonnet:

Dit moes in die begin van lente wees (Corniese Sonnet)


A Dit moes in die begin van lente wees
b toe bye en skoenlappers naby is,
a toe alles fladder sonder enige vrees
c toe wildsbokke deur die groot woud wandel
b as alles wag op ‘n gebeurtenis
c en baie mense nog opreg handel.

D Was daar toe iets wat verskyn uit die niet,
e maar hartseer was daardie dag in my hart
d en oor my wange het trane uit gegiet
f toe alles skielik weer van voor wild raak,
e van te veel verlore goed was daar smart
f asof alles ‘n tipe einde maak

A Dit moes in die begin van lente wees,
D was daar toe iets wat verskyn uit die niet.


Die geknipte (Curtal) sonnet

Sommige mense sal argumenteer dat dit nie ‘n ware sonnet is nie, maar ek beskou dit netso waardig as enige ander sonnet vorm. Die geknipte (curtal) is gekrimp of beknop as ‘n sonnet en verwys spesifiek na ‘n sonnet wat bestaan uit ‘n sestet met ‘n rymskema abcabc en ‘n quintet wat rym as dcbdc of dbcdc met die laaste lyn as ‘n spondee, maar indien nie wel korter as die vorige versreëls.

Hierdie versvorm was deur Gerard Manley Hopkins voortgebring as ‘n metrum stelsel bekend as “sprung” ritme, wat een tot vier lettergrepige voete het, elk wat begin met ‘n benadrukte lettergreep (soms ‘n voet by dit self) waar die spondee die jambus verplaas as die dominante maat, en die rusplekke en nie benadrukte lettergrepe afgesien van word.

Gerard Manley Hopkins se gedig “Pied Beauty” is ‘n besonderse goeie voorbeeld van hierdie tipe versvorm.

Die rymskema vir die geknipte (Curtal) sonnet is: abcabc / dcbdc.

Hier is my poging tot die geknipte (Curtal) sonnet:


Vroegoggend sing voëls (Geknipte (Curtal) sonnet)

a Vroegoggend sing voëls reeds aan God glorie
b as die ysige sneeu in die winter gloei,
c in die somer is die son lieflik warm
a vertel alle dinge ‘n eeu oue storie
b as blomme in die lente skielik bloei
c wanneer mense hul oor ander erbarm.

d Alles begin dan verander met tyd
c terwyl die somer die aarde verwarm
b water glad en vreedsaam in riviere vloei
d is die lewe vol liefde sonder nyd
c word geliefdes omarm.


Eggo / (Echo) Sonnet

Die eggo sonnet is ‘n relatiewe nuwe vorm wat deur die bekende Engelse digter Jeff Green ontwikkel is en dit neem ‘n vorm aan uit drie koevert kwatryne en ‘n koeplet, die laaste versreël van elke stansa is ‘n refrein en dit verbind die kwatryne met mekaar. Die eggo sonnet is gebaseer op Franse herhalende vorms, maar afgesien van daardie verse wat gewoonlik lettergrepig is, is die metrum van die eggo sonnet jambiese pentameter.

Jem Farmer se gedig “Waking Dreams” is ‘n lieflike voorbeeld van hierdie versvorm.

Die rymskema van die eggo / “echo” sonnet is:

A1bbA2 / accA2 / addA2 / A1A2
(hoofletters dui refrein versreëls aan)

Hier is my poging tot die eggo sonnet:


Die beeld van oom Paul (eggo sonnet)

(na Toon van den Heever)

A1 In die somer son rys die groot kolos
b waar hy nietig, reusagtig nog steeds staan
b met sy oë na die noorde toe geslaan
A2 en sy blik swiep skerp, regdeur veld en bos.

a Nog voer hy sy stryd, het dit nie gelos
c en sy blik is fier en altyd reguit
c asof niks daardie fel blik ooit kan stuit
A2 en sy blik swiep skerp, regdeur veld en bos.

a om vryheid te kry, wat dit ook al kos,
d agter hom lê die doderyk wat wyk
d dis die hoop op ‘n vry bestaan wat kyk
A2 en sy blik swiep skerp, regdeur veld en bos.

A1 In die helder somer son rys die groot kolos
A2 en sy blik swiep skerp, regdeur veld en bos.

[Verwysing: Die beeld van oom Paul deur Toon van den Heever.]


Die koevert (Envelope) Sonnet

Hierdie gedig is waarskynlik ‘n variasie van die Italiaanse en sisiliaanse sonnet deur die Franse. Die oorspronklike sonnette het ‘n oktaaf gebruik wat bestaan uit twee kwatryne wat abba / abba of abba / cddc rym. Die Franse se geliefdheid om stansas te verbind het moontlik die idee vorendag laat kom om twee sestette te maak en hulle te verbind met ‘n rymende koeplet.

Ryter Roethicle se gedig “Z (The third unknown quantity)” is ‘n goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Hierdie gedig word gewoonlik met ‘n tien lettergrepig of agt lettergrepig metrum geskryf.

Die rymskema van die koevert (envelope) sonnet is:

abccba / dd / efggfe


Hier is my poging tot die koevert sonnet:


Nagwaak (koevert / “envelope” sonnet)

a Sekuriteit manne stap verby op wag
b met verkeersligte, straatligte wat glim,
c gewapend, gestewel met uniforms aan
c waar ‘n paar rookend buite die kafee staan
b en dan in drie patrollie motors klim
a en buite stort die reën hard neer en dis nag

d en ek wonder wat Rembrandt daarvan sou maak
d voor ‘n klomp in die reën, vêr weg wegraak

e en hulle karre skielik lewe kry
f met glyende bande, flitsende ligte
g waar hulle op twee rigting radio’s praat
g en dan vinnig afhardloop in die straat.
f met besorgdheid op ‘n paar gesigte
e om ‘n draai swaaiend op volle vaart sny.



Inferno (in antwoord op N.P. van Wyk Louw) (koevert / “envelope” sonnet)

Ek het ‘n dringende boodskap gehoor,
dat met die koms van die groot skepper God
planete ‘n bepaalde lig sal hê,
selfs in die buitenste ruim wat buite lê
op krag van Sy almagtige gebod
al die sterre hulle lig sal verloor,

liefde tot in ewigheid sal bestaan
waar God as leier in hul midde staan

dat ‘n vlammesee op hierdie planeet
wat van die Almagtige God self kom
los gaan bars, alle mag van duisternis
sal sê dat Hy regverdig, eerbaar is
van die Almagtige se oordeel sal weet
dat ‘n groot koordans om Hom saam sal drom.


[Verwysing: Inferno deur N.P. van Wyk Louw.]



Die Luc-Bat sonnet

Die Vietnamese Luc-Bat in die vorm van die sonnet is ‘n baie interessante tipe versvorm. Die woord Luc-Bat beteken ses-agt wat verwys na die lettergrepige telling in die versreëls. Die gedig bestaan afwisselend van versreëls met ses en agt lettergrepe per versreël. Die eerste versreël begin met ses lettergrepe en die volgende een het agt lettergrepe op daardie lyn. Die sesde lettergreep van die tweede versreël moet rym met die laaste woord op die eerste versreël en die tweede versreël moet ook met die derde versreël rym wat weer ses lettergrepe is en dwarsdeur werk die gedig dan so. Die laaste versreël in die gedig moet met die eerste versreël daarvan rym. Dit wil lyk of die Franse invloed in hierdie gedig teenwoordig is.

Ryter Roethicle se gedig “The Piper at the Gates of Dawn #5” is ‘n goeie voorbeeld van hierdie tipe versvorm.

Die Luc-Bat se rymskema is:

a (a.x.b) b (b.x.c) c (c.x.d) d (d.x.e) e (e.x.f) f (f.x.g) g (g.x.a)

Grafiese voorstelling van rymskema:

x x x x x a
x x x x x a x b
x x x x x b
x x x x x b x c
x x x x x c
x x x x x c x d
x x x x x d
x x x x x d x e
x x x x x e
x x x x x e x f
x x x x x f
x x x x x f x g
x x x x x g
x x x x x g x a


Daar is geen gespesifiseerde metrum wat tot hierdie gedig aangedui word nie aangesien die lettergrepe wat per versreël geskryf word dit reeds toepas.

Hier is my poging tot die Luc-Bat sonnet:


In die straal van die maan (luc-bat)

In die straal van die maan
sien ek jou eensklaps staan, met pyn
voor die son begin skyn
rooi soos bloed of dalk wyn en oop
was die dag vol van hoop
toe jy van my af loop, aan strek
toe die lig lynreg trek,
ek my wou lank uit rek, jou soen
toe jy daar ‘n ding doen,
wegloop in die groot groen berg woud
en jy was toe baie stout
die oggend was nog koud met mis
toe jy al reeds weg is
en ek dit te laat wis; jy gaan…


Die “nonce” sonnet

As mens digterlike vryheid wil toepas in die sin dat jy ‘n rymende sonnet wil skryf volgens ‘n ander metodiek as die konvensionele sonnet vorms, kan jy ‘n “nonce” sonnet skryf.

“Nonce” beteken vir die geleentheid, voorlopig, vir hierdie slag.

Die rymskema is: abcd / abcda / efefe.

Ronald H Peat se gedig “Beheld Near And Far” is ‘n goeie voorbeeld van die “nonce” sonnet en die struktuur is geskep deur ‘n meester van digkuns wat al talle kompetisies gewen het en talle bundels gepubliseer het in ‘n verskeidenheid van tale.

Hier is my poging tot die “nonce” sonnet:

As die son lang strepe begin trek (Nonce Sonnet)

(na S. J. Pretorius)

a As die geel son lang strepe begin trek
b net voor dit oor die verste rante sak
c is die dorp se strate met motors vol
d van die groot mengelmoes wat huis toe ry.

a Son verbrand met hoede wat hul koppe dek
b sien ek wit wagte hul karige goed oppak,
c manne wat werk verloor het, hul wêreld dol,
d loop kop omlaag met gesigte stroef verby
a terwyl sommiges hulle treë lank uit rek.

e Eens op ‘n tyd in besit van ‘n werk
f nou son gebrand met ruwe werk hande,
e soms op welsyn van die plaaslike kerk
f met hul oë verskuil agter lae rande,
e droom hul van ‘n land met werk sonder perk.

[Verwysing: “Sonnet – Uit Malvern” deur S. J. Pretorius ]


Hier is my eie skepping van ‘n “nonce sonnet wat maar net ‘n verbinding van die Italiaanse sonnet met die Engelse sonnet is met ‘n rymskema van:

abba / abba / cdcd / ee


Land, wat so eie aan my is (in antwoord op Lina Spies) (Nonce Sonnet)

a Land, wat so vreeslik eie aan my is
b dat ek jou hartklop in my kan voel
b van die skeppings af is jy bedoel
a om myne te wees met ‘n verbintenis,

a al voel jy na ‘n plek van duisternis
b is jou skaduwees teen die son steeds koel,
b met jou wind en water wat teen my spoel
a bring jy nog my liefde tot bekentenis,

c sien ek jou sterre betowerend straal,
d lê jou vlaktes in my hart uitgestrek
c is jy steeds deel van my lewensverhaal
d die plek wat my vaders se grafte bedek,

e soek ek nog in jou my klein paradys,
e ‘n plek om ook aan my kinders uit te wys.

[Verwysing: Vervreemde deur Lina Spies.]


Soms wil ek van abstrakte dinge soos liefde af vlug (nonce sonnet)

As ek baie diep in die skaduwees
van die duister nag aanhoudend verdrink
is daar soms ligte wat hier en daar wink,
voel ek ‘n ongekende tipe vrees

dat dit nooit weer soos toe, met ons sal wees,
bo my is daar sterre wat helder blink
in die verte mense wat rond rinkink,
ek wonder of ek van jou kan genees?

soms wil ek van iets soos liefde af vlug,
vir die oomblik wat ek ondervind leef,
dinge, mense voer my na jou terug
dat ek nie onverhoeds in dinge begeef

ek is op integriteit ingestel
as ek stukkies van my lewe optel.


Portret van ‘n vrou (nonce sonnet)

Self het sy verstar, haar eie groot vrese
het sy tot ‘n soort werklikheid gebring
as die jare gedurig aaneen string
het sy toe baie diep in haar wese

verval geword en in antitese
haar self opgetooi, gelag en gesing
tot die pyn erg tot in haar dieptes dring,
haar toe gewend tot die Opperwese

maar nêrens kon sy enige uitkoms vind
het haar kamer se gordyne toegetrek,
was teen daardie tyd heeltemal verblind
teen die wêreld wat steeds voor haar uitstrek

het gelewe asof in ‘n soort grot
op die eie diep inkering versot.


Rime Royal

Hierdie sonnet vorm is Italiaans van oorsprong en deur die vyfde versreël te verwyder lyk dit om ‘n veranderde Ottava Rima te wees wat verminder is tot ‘n sewe versreël stansa van drie ryme wat ‘n rymskema van ababbcc het. Die samesmelting van twee stansa maak ‘n sonnet vorm. Dit wil voorkom of Geoffrey Chaucer hierdie stansa geskep het en hy het baie komposisies in hierdie versvorm geskryf waarvan “The Prioress’s tale Domine, dominus noster” is ‘n goeie voorbeeld is van hierdie tipe sonnet vorm.

Die onderwerpe van rime royal digkuns was die koninklik hof, morele, klassieke verhale en oor die algemeen was dit verheerlikte lewens van heiliges, ridders en tragedies.

Die rymskema vir die rime royal sonnet is: ababbcc / dedeeff

Hier is my pogings tot die rime royal sonnet:


Toe ons op die heuwel staan (rime royal)

a Toe ons altwee bo op die heuwel staan
b het die groot dam blink onder ons gelê
a met jou oë wat na die dagbreek opslaan,
b ons het die prag aanskou en niks gesê,
b ek wou toe graag nog daar by jou aanlê
c maar daardie prag het ons albei gevang
c as bleshoenders krassend in die lug hang.

d Daar is iets besonder aan ons saam wees,
e onuitgespreek wat ons aan mekaar bind
d waar ek grootse vreugde in jou blik lees,
e iets wat ons net hier in die natuur kan vind
e en soms is ons vir die prag daarvan blind
f maar niks kan meer suiwer rustigheid bring
f as hier waar jy reguit in my hart spring.


Hier het ons voorvaders vestings kom bou (rime royal)

a Hier het ons voorvaders vestings kom bou
b en mielielande het in prag ontstaan,
a hul het op God van die hemel vertrou
b waar daar leeus, luiperds en slange bestaan
b en hul moes diep in die wildernis gaan
c met Afrikaner beeste wat velde vol wei
c het hul lushowe gemaak van woesteny,

d die wildernis was deur pioniers getem
e wat wit wonings met hout vloere oprig,
d en hul was dapper, nooit deur vrees gestrem,
e kon voor geen groot hitte of koue swig
e het altyd gebid vir God almagtig
f om hulle te help en ook by te staan
f voor hulle soggens uit na buite gaan.


Die triolet sonnet

Ryter Roethicle het gekyk na die struktuur van die triolet en gesien dat as mens twee stansas bymekaar sit met twee refrein versreëls wat die verbintenis is daar ‘n natuurlike sonnet met ‘n oktaaf en sestet sal ontstaan.

Die rym patroon vir die triolet sonnet is: ABaAabABaAabAB. Die metrum word aan die digter oorgelaat.

Ryter Roethicle se gedigte “Lullaby” en “Words” is goeie voorbeelde van die triolet sonnet.

Hier is my poging tot die triolet sonnet wat ek vir die aardigheid geskryf het:
.

Wilde perde (triolet sonnet)

A Met maanhare wat in die wind uitwaai
B hardloop hulle met oop bekke wat skuim
a waar hulle dan op volle vaart weg swaai.
A Met maanhare wat in die wind uitwaai
a galop hul met donderende lawaai
b as perde vry onder die hemelruim.
A Met maanhare wat in die wind uitwaai
B hardloop hulle met oop bekke wat skuim
a voordat hulle verder weg iewers draai,
A met maanhare wat in die wind uitwaai
a op die strand reg langs die sproeiende baai,
b hang hulle maanhare wild soos ‘n pluim.
A Met maanhare wat in die wind uitwaai
B hardloop hulle met oop bekke wat skuim.


Die Franse rondeel

Die rondeel (Rondel Prime) het groot bekendheid verwerf onder die Franse, Nederlandse en Vlaamse digters en veral die rondele van die Franse hertog Charles d’Orléans is baie bekend. Hierdie vers is ook bekend as die Franse sonnet. Hierdie tipe gedigte stel natuurlik hoë eise, met keerreëls (refreine) en die beperkte twee rym klanke (ab).

Ryter Roethicle se gedig “In Spite of Time” is ‘n voorbeeld van hierdie versvorm.

Die rymskema van die veertien versreël rondeel is (Rondel Prime/ Roundel Prime): A1B1ba / abA1B1 /abbaA1B1 of A1B1ab / abA1B1 / a.b.b.a.A1.B1 of A1B1ab / abA1B1 / ababA1B1.

(Die rondeel kan ook as dertien versreëls geskryf word as byvoorbeeld A1B1ba / abA1B1 /abbaA1 of A1B1ab / abA1B1 / a.b.b.a.A1 of A1B1ab / abA1B1 / ababA1.)

Die rymskema van die veertien versreël Orléans-rondeel is: A1B1ba/ abA1B1/ baabA1B1 Geen gespesifeerde metrum. Beide die rondeel (Rondel / Prime) en Orléans-rondeel het nie ‘n vasgestelde metrum nie.


Hier is my pogings tot die veertien versreël rondeel:


Wiel (rondeel)

A1 Noodlot trap die metaforiese wiel
B1 sy swaaiende spoor slinger sommer regoor
b alle dinge hier in my klein kantoor
a die woorde wat my gedigte besiel,

a my hele gemoedstoestand word verniel,
b word sommer net iewers vêr weg verloor.
A1 Noodlot trap die metaforiese wiel
B1 sy swaaiende spoor slinger sommer regoor

a die wese van my lewe en my siel,
b so asof dit reeds hier kwaai wil ontspoor,
b of geen genade wat ek vra ooit kan hoor,
a soms selfs nie eens as ek tot God neerkniel.
A1 Noodlot trap die metaforiese wiel
B1 sy swaaiende spoor slinger sommer regoor...


Deesdae wil die weer speletjies speel (rondeel)

Deesdae wil die weer selfs speletjies speel
en verwissel dit dikwels van sy rol,
asof dit heeltemal van koers af dol
half met natuurlike gegewens verveel

wispelturig verskeie soort buie uitdeel
en kry mens in somer reeds winde wat tol.
Deesdae wil die weer selfs speletjies speel
en verwissel dit dikwels van sy rol,

en in hierdie wêreld se groot geheel
word mense boos, sommer geheel buikvol
as dit in die winter reën, emmersvol
en voorspellers ander weer aanbeveel;
Deesdae wil die weer selfs speletjies speel
en verwissel dit dikwels van sy rol.


Allerheilige aand (rondeel)

Wie skrik tog nog steeds vir koue pampoen
met groot oop gate vir oë vol van lig,
wie is vir ‘n wit laken bewerig
gedurende die donker spook seisoen;

as tiener paartjies verdwyn, mekaar soen
al is dit op plekke nog skemerig?
Wie skrik tog nog steeds vir koue pampoen
met groot oop gate vir oë vol van lig,

vir dinge wat mense nie sommer noem,
vir wat met duisternis kan verenig,
as iets skielik onverwags en vinnig
van iewers onbekend af daar opdoem?
Wie skrik tog nog steeds vir koue pampoen
met groot oop gate vir oë vol van lig?


Boesman skilderye (rondeel)

beelde word geel uitgebeeld deur die lamp,
daar kan hulle skielik lewe self kry,
waar skilderye jare kontak vermy
van ‘n garde Boesmans wat saam uitkamp

sommige wat dans en jolig voete stamp
met gekleurde klip op wande gesny,
beelde word geel uitgebeeld deur die lamp,
daar kan hulle skielik lewe self kry,

in die grot se donker geslote damp
op ‘n jagtog met elande met boeë vry
hardloop hulle teen die rotswand verby
en toe skielik ‘n wrede soort natuurramp,
beelde word geel uitgebeeld deur die lamp,
daar kan hulle skielik lewe self kry.



Hier is my pogings tot die veertien versreël Orléans-rondeel:


Toe die eland bul sy laaste stuiptrekkings gee (Orléans-rondeel)

A1 Toe die eland laaste stuiptrekkings gee
B1 storm die leeumannetjie op die bok af,
b sorg met ‘n grom dat die wyfies wegdraf,
a gryp die karkas en sleep die met hom mee

a en die wyfies en kleintjie lê gedwee
b as die grote aan die karkas werskaf.
A1 Toe die eland laaste stuiptrekkings gee
B1 storm die leeumannetjie op die bok af,

b daar is wildehonde wat honger blaf,
a wat ‘n brul en knor van die wyfies afgee,
a daar is hiënas wat slinkse planne smee,
b ongesteurd vreet die maanhaar kortaf;
A1 toe die eland laaste stuiptrekkings gee
B1 storm die leeumannetjie op die bok af.


Leeus kom hulle moses tee (Orléans-rondeel)

In die geelbruin lang bewegende gras
word ‘n kudde buffels binnegedring
toe leeuwyfies ‘n groot bul daar bespring,
die buffels onkant vang en hul verras,

die trop verander dadelik hul pas,
staan met gesakte horings in ‘n kring.
In die geelbruin lang bewegende gras
word ‘n kudde buffels binnegedring

die gekweste bul is van pyn verwring
as die ander buffels kalwers oppas
die leeus loop hulle in die horings vas
wat hulle tref sonder enige agting;
In die geelbruin lang bewegende gras
word ‘n kudde buffels binnegedring.


Op die loopplank (Orléans-rondeel)

Skitterend stap sy as ‘n model uit
in ‘n syrok uit Sjina en hermelyn
met geel goud wat glinster soos uit ‘n myn
en baie mense juig en ander fluit

as hul oor klere en juwele besluit,
sy dra diamante wat glinster en skyn.
Skitterend stap sy as ‘n model uit
in ‘n syrok uit Sjina en hermelyn

maar haar hart is heel dor soos die woestyn
terwyl aankopers hul kontrakte sluit
en een wil weet of die prys haar insluit,
wil sy skielik van die plek weg verdwyn;
skitterend stap sy as ‘n model uit
in ‘n syrok uit Sjina en hermelyn.


Die rosarian sonnet vorm

Hierdie gedig is aangenaam vir die digter aangesien dit van koeplette gebruik maak. Die verbindings is soos die van Franse poësie. Die skepper van hierdie vorm Bruce Henderson stel die situasie in die sonnet deur twee Quintains (vyf reël verse) te gebruik waar die middelste versreëls die stansas verbind met mekaar.

Hierdie versvorm het ‘n rymskema van aabcc / ddbee en na die finale Quintain wat die slot of teenstelling bevat word ‘n keuse gegee om koeplette te gebruik in ‘n koevert vorm fggf of die konvensionele fgfg en mens kan selfs soos Ryter Roethical twee koeplette gebruik soos bbff. Hierdie gedig is uiters sterk met ‘n alsydige slot wat baie interessante gedigte tot gevolg kan hê.

Die rymskema vir die rosarian sonnet is dus: aabcc / ddbee / fggf of aabcc / ddbee / fgfg of aabcc / ddbee / bbff

Bruce Henderson se gedigte “Brave New World,” “Late Musings” en Ryter Roethical se gedig “Memories” is uitstekende voorbeelde van die rosarian sonnet.

Hier is my poging tot die rosarian sonnet:



Die studeerkamer (rosarian sonnet)

a As ek met klein byna baba klein tree
a binne in sy studeerkamer in gee
b waar ek stadig met die lang gang af stap
c sien ek hoe hy in die skemer halflig
c skryf, vraestelle merk of gedigte lees

d die woorde, ritmies kry in ewewig,
d ek stap dieper in om by hom te wees
b hoor ek by skimmelperdpan hoewe klap
e voel my emosies nogal erg beklem,
e onthou ek hoe sy magtige diep stem

f om die Afrikaanse woorde klou en trek,
g sonder enige soort van kommer of vrees
g vir die mensvreter hoor ek hom verse lees
f wat nog steeds gevoelens by my bly wek.



Cocotte (rosarian sonnet)

(na Ina Rousseau)

a Op die straathoek het sy gereeld gestaan,
a na elke man wat by haar verbygaan
b om liggaamlike plesier met haar te deel
c onverskillig haar skone blik gegooi
c hom onwelvoeglik net daar uitgenooi

d tot die sielloosheid haar een nag daar tref
d en sonder dat sy behoorlik besef
b deeltjie vir deeltjie haar self uitgespeel
e en wonder hoe om weer vir God te dien,
e sy wonder wat God nog steeds in haar sien

f en sy droom van ‘n dogter netsoos sy
g maar toe sy net die ergste daar verwag
f vind sy ‘n man wat haar werklik lief kry,
g nie mense wat haar gedurig minag.

[Verwysing: Cocotte deur Ina Rousseau.]


Vir ‘n prinses (rosarian sonnet)

(by ‘n skildery van Mandi Engelbrecht)

a Veels te lank moes jy alleen leiding gee,
a maar die lewe sleep jou gedurig mee
b eis van jou telkemale ‘n bydrae
c tot jy erg vermoei in mekaar wil stort
c jou by ‘n poel neerlê asof afgeskort

d veels te moeg om nog steeds voort te wil gaan,
d wil jy jou blou oë vir oulaas opslaan,
b stres, die impak van die lewe verdra
e as lig en son jou skielik blosend laat
e en sonder enige soort liefde of haat

f jou vere waaier self uit jou hand val
g is jy breekbaar, broos, heel moeg gearbei
f terwyl onweer donderend om jou knal,
g as die lug haar arms vir jou uitsprei.



Die Ghazal

Die ghazal is ‘n baie interessante soort digkuns wat dwarsdeur die moslem wêreld bestaan en kom uit die tyd van die Ottoman ryk. Meesal is die ghazal vêr weg van godsdienstig en hierdie versvorm is geseën met ‘n groot hoeveelheid erotika en dis moontlik waarom hierdie versvorm in Europa gewild was in die agtien honderde en in die Verenigde State van Amerika gedurende die blommetjie, hippie era.

Die essensiële elemente van die ghazal het egter verlore gegaan met die “moderne ghazal” en mens moet dit nou of weer opwek of mense bekend stel aan wat die hoofsaaklike eienskappe van die ghazal was.

Die ghazal is ‘n reeks koeplette wat elkeen alleen kan staan as ‘n gediggie. Die eerste koeplet word die “matla” genoem wat beteken waar die hemel liggaam rys. Hierdie koeplet stel ook die metrum van die gedig en het ‘n inslag op die rym patroon. In die ware ghazal moet die laaste woorde van die beide versreëls van die eerste koeplet dieselfde wees. Soortgelyk moet die laaste lyne van die volgende koeplette ook met daardie selfde woord eindig. Gedigte in die moderne tipe ghazal rym net daardie laaste woorde.

Ryter Roethicle se gedigte “Bitter Race,” “All Things Must End,” “Prisoner” en “Rain” volg almal die tradisionele patroon. Enige metrum wat die digter pas kan gebruik word.

Hier is die rymskema van die ghazal as ‘n sonnet:

AA / bA / bA / bA / bA / bA / bA

(Hoofletters dui hier ‘n woord wat herhaal word aan)

Hier is my poging tot die ghazal in die tradisionele versvorm:


Toe ek ‘n seun was en die lewe jonk (ghazal)


A Lank terug in lente was daar ‘n tyd,
A waar ons nie weet oor die verloop van tyd,

b toe jy jonk was en baie van my hou
A maar vir ons was dit die einde van tyd

b en daar was niks om nog aan vas te klou
A maar vir vriendskap was daar altyd nog tyd,

b vir ander mans en nie vir my met jou
A met jare was ons nie bewus van tyd,

b was ons lewens wonderlik en ook blou,
A was ons nie reg vir die effek van tyd

b het ek jou nie meer met my kon vertrou
A was jou dagboek vol met geen ontmoet tyd

b wou ek jou bemin, soms jou ook vashou,
A nou is daar vir ons, vir liefde geen tyd.



Die Rubaiyat sonnet

Ek het reeds die Rubaiyat gediggie in diepte bespreek as persiese kwatryne. Die Persiese of Oosterse kwatryn is ‘n vier reël gediggie met ‘n vaste rymskema as aaba. Die werk van Omar Khayyam wat gedurende die elfde eeu geleef het, is veral beroemd vir die Persiese kwatryn vorm wat ‘n invloed uitgeoefen het in die Westerse poësie. Edward Fitz Gerald het in 1859 vyf en sewentig van Kayyam se gedigte vertaal in sy “Rubaiyat of Omar Khayyam translated into English verse.”

Daar is egter merkwaardige kragtigheid, wat sommige skrywers die “pregnante vorm” van die rymskema noem. Na die eerste twee a a reëls verskyn daar ‘n b rym reël en waar daar in die vierde reël weer ‘n b rym reël verwag word, verskyn daar weer ‘n onverwagte a rym reël wat die gedig of die kwatryn besonder kragtig afsluit. Die persiese kwatryn is ook so ‘n sterk rymvorm dat mens nie maklik van dwangrym gebruik kan maak nie.

Na my mening is die sterkste rym vorm wat mens kan kry die Rubaiyat of ook genoem persiese kwatryne. Vir reeds ‘n geruime tyd skryf ek sonnette met drie persiese kwatryne en ‘n eind koeplet as die basis daarvan. Mense mag dink dat ek gek is om my eie tipe ding te doen maar hierdie tipe sonnet vorm na my mening die sterkste rym patroon wat mens in ‘n sonnet in kan druk. As mens dus drie kwatryne en ‘n slot koeplet saamgooi is dit baie soos die Engelse sonnet struktuur, maar met ‘n veel kragtiger rymskema.

Mens kan hierdie sonnet volgens enige metrum skryf, maar ek het tot die oortuiging gekom om dit van nou af op ‘n tien lettergrepige metrum te skryf..

Die rymskema van ‘n Rubaiyat sonnet is dus: aaba / ccdc / dded / ff. ‘n Veel hegter verbindende Rubaiyat sonnet wat ek uit die Franse inslag kry, waar die kwatryne die een na die ander en met die slot koeplet bind se rymskema is: aaba / bbcb / ccdc / dd.

Die Rubaiyat sonnet wat reeds bestaan voor my eie skeppings se rymskema is:
aaba bbcb ccdc aa. Pat Bibs se gedig “Lust in the night” is ‘n goeie voorbeeld van hierdie versvorm.


Hier is Rubaiyat sonnette wat ek volgens die aaba / ccdc / dded / ff rymskema geskryf het:


Met al die duister drange (rubaiyat sonnet)

a Met al die duister, pynlike drange
a kom jy as my grootste soort verlange,
b is ons afgesny deur afstand en tyd,
a in ‘n labirint se kronkel gange

c is dit of deure in my gesig toeklap,
c of jy keer op keer uit my lewe stap
d en soms soek ek erg na ‘n bevryding
c uit hierdie gedurige gevangenskap

d tot ek van aangesig tot aangesig
d by jou staan, ons gevoelens so innig
e my lewe en hart na jou terug dwing
d en afwyk van gesonde ewewig

f weer van vooraf met my dwaling begin
f en oneindigend jou steeds bly bemin.


In kinderdae pluk ek lelies in die vlei (rubaiyat sonnet)

In my kinderdae besoek ek die vlei
pluk lelies,die mooiste wat ek daar kry
in helder kleure van rooi geel en wit
maar nou kom daar net ‘n teer pad verby.

Die snelweg snel amper ‘n ewigheid in,
ek wonder waar het die verval begin
sien geen bleshoenders, kiewiete wat roep
ontakker lê die vleiland wat ek bemin

en ek soek na bo in die helder blou
om my by die ongereptheid te hou
en rook wolke van wit, vaal en grys hang
soos ‘n kombers, wat van bo oor als vou

gewin kring uit, die natuur word verwring
die vlakte het kantore wat verdring.


‘n Moderne Bybel verhaal (Rubaiyat sonnet)

Toe ek daar in Voortrekkerweg af loop
om ‘n splinter nuwe motor te koop
sien ek ‘n man op die sypaadjie lê,
hy is van al sy besittings gestroop,

ek merk dat hy van ‘n ander ras is,
sy bril is af, sy besittings vermis,
hy is skaars van dinge om hom bewus,
lê erg verwond, is heeltemal disnis.

Die nuwe motor staan wit blink en wag
die dominee kom verby, waai ‘n slag,
‘n ouderling ry stadiger, gee dan vet
en daar is ‘n eienaardige pyn klag

wat oor die man se gebarste lippe kom,
toe ek ‘n ambulans bel, voel ek stom.



Hier is my pogings tot die Rubaiyat sonnette met die hegter aaba / bbcb / ccdc / dd rymskema:


Die teerpad lê oop (in antwoord op N.P. van Wyk Louw) (rubaiyat sonnet)

a Die teerpad lê oop met die son wat brand
a die huis is nog baie vêr daar oor die rant,
b my voete brand, as die teer gloeiend is
a met die lug wat blou uitstrek na alkant.

b As ‘n jong kind is daar betekenis
b in dinge wat ander mense dalk mis
c en my hare wapper soms in die wind
b maar van die blomme het ek reeds kennis.

c In kort broek en hemp as ‘n blote kind
c word ek deur die helder warm lig verblind
d asof U somer groots oor my bly hang
c terwyl ek my weg huis toe probeer vind

d is dit asof ek nou al reeds verlang
d vir U veiligheid, vir niks is ek bang.

[Verwysing: Dit brand my voete deur N.P. van Wyk Louw.]


Die blinde woede (rubaiyat sonnet)

Die blinde woede wat soos warm vuur brand
wat nou uitslaan regoor my hele land
om te plunder, te buit, te moor en roof
mense se goed en lewens te verpand

in ‘n soort vaste vertroue en geloof
dat antieke regte dit veroorloof
om orals vernietiging te begin
vir die regte, pyn van ander verdoof

asof tot amok, wanorde besin
slegs te lewe vir hulle eie gewin,
laat mens nou tot die nugter besef kom
hoe min, hoe uitgelewer mens is in

‘n plek wat duisternis ag as eiendom
waarin geweld moord en verkragting blom.


Hier is my poging tot die rubaiyat sonnet met die aaba / bbcb / ccdc / aa rymskema:


Gebed van ‘n soldaat (rubaiyat sonnet)

a Hier is ek deel van ‘n oorlog masjien
a wat geen skepper of God ken of wil dien
b en hier is my hande, my wese Heer,
a nou sonder enige soort eer of aansien

b en ek ken geen vrees, maar wil U steeds eer,
b selfs as ek my teen vyande moet verweer
c as nog ‘n rat van ‘n dorstige ondier
b wat vertrap, moor en baie erg affronteer

c is ek as nietige mens nou voor U hier
c op my knieë, met die nuwe daglumier
d en plaas ek wat ek is in U hande
c dat U elke onding, elke soort gier

a laat ek u redding in my lewe sien
a alhoewel ek dit nie werklik verdien.

In die tuin (Rubaiyat sonnet)

In die tuin moes Eva teen die slang behoed
sy kwispel spel vind sy glansryk en goed
pluk op sy aandrang die vrug, byt daaraan
kry sy skielik toe die oorweldigende moed

sodat sy na haar man met haar vrug gaan,
waar hy vir ‘n oomblik verbyster staan
hy die prag van daardie aardige vrug merk
sy eie tande in die vlees daarvan inslaan

en toe die duisternis skielik nader trek,
het hulle hulleself met blare bedek
agter digte groen plante weg gaan skuil,
tot ‘n naak menslike liggaam beperk

totdat Jesus Christus self vergoed
versoening maak met sy eie offer bloed.


Die saraband

Hierdie sonnet vorm kom van die Spaanse dans vorm wat ‘n wisselende maat het van : 3 – 4, waar mens ‘n klein liedjie aflei uit ‘n dans. Die oorspronklike saraband was ‘n dans uit Asië wat in die sestiende eeu na Spanje gebring was en later na die howe in Frankryk en Italië.

Die sonnet volg die dans met die vier stansas, met die eerste stansa wat bestaan uit drie versreëls, die tweede uit vier versreëls, die derde uit drie versreëls en die vierde stansa weer uit vier versreëls.

Die rymskema is : axa / bcbc / ded / fgfg of axa / bcbc / dbd / efef of axa / bcbc / ddd /eeff ens.

In die terset mag al drie versreëls met mekaar rym, in die Franse weergawe rym die middelste versreëls in stansas een en drie. Die kwatryne kan varieer vanaf Spaanse bcbc na die Franse bbcc of die Italiaanse bccb en dis nie ongewoon om kwatryne te meng byvoorbeeld Spaans met Frans of Italiaans nie.

Ryter Roethicle se gedig “Come! Walk with me” is ‘n baie goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Hierdie vers moet eintlik in agt lettergrepige metrum per versreël geskryf word omdat dit van Spaans afkoms is, maar sommige mense skryf dit in jambiese pentameter.

Hier is van my pogings tot die saraband:


Enkeling (Saraband)

a ‘n Meeu swenk skreeuend oor die baai
x waar dit skuins teen die wind op vlieg
a maar weer weg na die see toe draai,

b dit kras en om my voete gaan
c water gedurig in en uit,
b bly golwe oor groot rotse slaan
c word fyn sproei die lug in gesmyt

d stap ek alleen en ruik die see,
d kom hier en daar nog mense tee,
d die branders voer my skielik mee

e of dit ‘n lewendig ding is
e al teen die strand is jy vermis,
f of jy ‘n ander plek bewoon
f asof jy ons liefde verloën.


Skool (saraband)

Dis gedurig reekse en rye,
die onderwyser patrolleer,
die lat steek soms soos ‘n swerm bye,

daar is stellings en nog stellings
so raak ons maller en maller
met aftrekkings en optellings,
leer van Ballot, van Christaller

en modelle omsingel my,
loop een vir een by my verby
as vraestelle nie einde kry

en die meisies is nogal mooi
maar gedurig word ek gelooi
en dis waarom daardie hoër skool,
later gedurig by my goël.


Die swannet

Die kanadese digter Gloria Carpenter, het hierdie versvorm haar eie gemaak, alhoewel sy dit nie geskep het nie en vertoon hierdie versvorm saam met foto’s wat sy neem in British Columbia, Kanada.

Die swannet is ‘n maklike versvorm wat bestaan uit drie koevert kwatryne en ‘n refrein koeplet.

Gloria Carpenter se gedigte “Enlightened,” “Breathless,” “Cirro-cumulus-nimbus,” “I Think of You,” “My Spirit Yearns,” “Sister Moon – Response” en “Thirsty” is uiters goeie voorbeelde van hierdie versvorm.

Die rymskema is: A1bbA2 / cddc / effe / A1A2 en die metrum is gewoonlik tetrameter of pentameter.


Hier is my pogings tot die swannet:

Tabita (swannet)

A1 Of ek net slaap is ek wakker gemaak
b het die lig helder in my oë geskyn,
b duisternis voor my so eensklaps verdwyn
A2 en het ek weer aan die lewe geraak.

c Daar niks aardig om aan ander te noem
d aangesien ek daar geen kennis van dra
d toe elkeen nuuskierig my bly uitvra,
c ek kon my eie onkunde nie verbloem.
.
e Hier het ek kinders vrolik hoor lag,
f die son wat so helder goud skyn gewaar,
f vir my was God se lig altyd maar daar
e ‘n teenwoordigheid in die duister nag.

A1 Of ek net slaap is ek wakker gemaak
A2 en het ek weer aan die lewe geraak.


Die wind waai ritselend dwarsdeur die bos (swannet)

Die wind waai ritselend dwarsdeur die bos,
net dit en God weet die pad waar dit gaan,
voor dit verdwyn die veld skielik stil staan,
as dit weer kom is daar sandkorrels los.

‘n Hadida skiet blink koper pers op
as God antwoorde vir Sy aarde vind,
klap kwetterend groot vlerke teen die wind
vlieg hoog bo oor ‘n ruie bossie kop.

Tarentale pik in die rooigras rond,
na die reën is daar uintjies wat opkom,
daar is mooi blomme wat die veld verstom,
tog is die wêreld deur die mens verwond.

Die wind waai ritselend dwarsdeur die bos,
as dit weer kom is daar sandkorrels los.


Die tiptol (swannet)

Die tiptol tower eie klein reënboë op
waar hy vrolik in die waterbak rond plas
sy hele klein vere dos goed uitwas,
hou die klein poel dan groot oog dop

voor hy nog dieper in die water trap
rol en duik en water druppels laat spat
homself afdruk, sy vere is druipnat
as hy bly op en af stap, vlerke klap

dan ewe besadig begin water drink
‘n tiental ander voëltjies nader roep
verwaand kwetter, skarrel verby die stoep
en sy vere dos is waternat blink.

Die tiptol tower eie klein reënboë op,
hou die klein poel dan groot oog dop.


Die rooivink (swannet)

Die rooivink vlieg vanaf ‘n plaat palmiet
dans op ‘n tak terwyl rooi vlerkies klap
dit singend gedurig heen en weer trap,
fluister kwetterend daar diep in die riet

Hy fladder rond trek vonke deur die lug,
swiep weer by sy gevlegte nessie af
met ‘n bek vol van gras, stokkies of kaf
vlieg heen en weer en skielik weer terug.

Daar is iets mooi aan hom wat die oog vang
as hy deur die blou lug ‘n gloei streep trek
my soggens baie vroeg probeer op wek
as hy fladderend by sy nessie hang,

die rooivink vlieg vanaf ‘n plaat palmiet
fluister kwetterend daar diep in die riet.


In die bosveld (swannet)

‘n Kraai vlieg krassend in die reservaat,
verontwaardig oor aasvoëls wat neerdaal
waar hulle manewales, pikkend uithaal
by oorblyfsels, daar deur leeus gelaat.
.
Bly ek speurend by die oop venster sit
‘n dagreis vêr ry ek verby reuse kiaat
drink yskoue bier, terwyl ons gesellig praat
beskou sebras, olifante, ‘n luiperd en toe dit:

drie leeuwelpies vreet gulsig, ongestoord
wat so onskuldig soos klein katjies lyk
met die son wat pels met kolle bestryk
tot die mannetjie brul, van hom laat hoor.

‘n Kraai vlieg krassend in die reservaat,
by oorblyfsels, daar deur leeus gelaat.


Dalk sal ek ewig soek om dit te vind (swannet)

Dalk sal ek ewig soek om dit te vind,
‘n paar woorde wat dwarsdeur menswees slaan,
dit wat in geen soort van bloemlesing staan,
wat wegwaai soos blaaie in die somer wind

as ewigheid lê in ‘n nat druppel dou,
ek verganklikheid vashou in ‘n blom
die asem snak van die son wat opkom
en jy met tye aan my hand vasklou

als dinge is wat vir my waarde het,
maar vir ‘n ander na doelloosheid klink
bly die betekenis van bestaan wink
soos die wit oggend ster wat ver weg blink.

Dalk sal ek ewig soek om dit te vind,
‘n paar woorde wat dwarsdeur menswees slaan.


Gekransde en ongekransde sonnette (“Wreathed and Unwreathed”)

Gekransde digkuns is ‘n natuurlike vermenging van Engelse digkuns met Keltiese / Walliese digkuns. George Herbert (1593-1633) was gebore in ‘n welgestelde gesin met ‘n liefde vir kuns en later het hy Trinity College, wat deel van Cambridge universiteit is bygewoon en sy digkuns was ongepubliseer tot na sy dood. Dit word gemeen dat sy gedig “A Wreath” geïnspireer was deur die Walliese vorm Englyn cryrch (ek het reeds die Englyn strukture in ‘n ander artikel bespreek) wat ‘n interne rymskema saam met ‘n eksterne rymskema gebruik en ‘n koeplet vorm as volg het:


x. x. x. x. x. x. x. a.
x. a. x. x. x. x. x. b.

Die interne rym soos in die tweede versreël kan enige plek in die eerste gedeelte van die tweede versreël wees (nie noodwendig op die tweede woord nie) en kan ‘n herhaalde woord in plaas van rym wees, maar dit is die digter se keuse.

As mens daaraan dink dat George Herbert uit ‘n akademiese agtergrond kom en bewus was van die sonnet, is sy gedig “A Wreath” sy eie weergawe van die sonnet wat nog nie in Herbert se tyd geformaliseer was nie.

Die gedigte “A Wreath” deur George Herbert uit sy bundel “The temple” en Sarah Rayburn se gedig “Moonlight's Glow” is beide uiters goeie voorbeelde van hierdie versvorm.

Hierdie sonnet wat soms gesien word om te bestaan uit ‘n oktaaf en sestet, met standaard rym en interne ryme is in werklikheid kwatryne wat verbind word met interne rym patrone. As mens die vers skryf dat die oktaaf met die sestet verbind word met die interne rymskema moet mens die oktaaf en sestet saam groepeer as ‘n veertien versreël gedig.


Die rymskema vir die gekransde sonnet is:

a ( x a) b (xb) a (x a) b (x b) c (x c) d (x d) c (x c) d / e (x e) f (x b) e (x e) b (x b) e (x e) f

Die metrum word aan die digter self oorgelaat.

Hier is ‘n grafiese voorstelling van die rymskema (onthou egter dat interne ryme enige plek in die eerste gedeelte van die versreëls mag voorkom):

x. x. x. x. x. x. x. a.
x. a. x. x. x. x. x. b.
x. b. x. x. x. x. x. a.
x. a. x. x. x. x. x. b.
x. b. x. x. x. x. x. c.
x. c. x. x. x. x. x. d.
x. d. x. x. x. x. x. c.
x. c. x. x. x. x. x. d.

x. x. x. x. x. x. x. e.
x. e. x. x. x. x. x. f.
x. b. x. x. x. x. x. e.
x. e. x. x. x. x. x. b.
x. b. x. x. x. x. x. e.
x. e. x. x. x. x. x. f.


Hier is my poging tot die krans: “wreath” sonnet:


Sterfbed (krans / wreath sonnet)

Hoe stroef is dit waar jy vir oulaas lag,
as die dood wag as die lewe se ryp
jou knyp die son breek, op die laaste dag
jy vergeefs smag aan lakens, komberse gryp
kanker ingryp teen wil en dank bly groei
as jy binne bloei reën onverpoos val
niks die aanval meer kan beteuel, kan snoei;
trane vloei, hier kan geen donder meer knal

tog wil jy die geur kry wat versplinter,
die splinter wat net soos geweer kruit ruik,
dit pyn in jou buik maar in hierdie winter
is daar nie ‘n flenter wat jy begryp
jou lugpyp brand, jy wil nog oorwinter
jy wil rondslenter, jy is opgebruik,
jy duik in duister reik uit na gunter.


Ongekransde “Un-wreath” sonnet

Dieselfde reëls geld vir die ongekransde sonnet as vir die gekransde vorme, maar hier word die oktaaf en sestet verbind aangesien die interne rym tussen die twee teenwoordig is.

Die rymskema van die ongekransde sonnet is:

(xb) a (xa) b (x b) a (x c) b (x d) c (x c) d (x d) c (x e) d (x f) e (x e) f (x f) e (x e) f (x f) e f

(onthou egter dat interne ryme enige plek in die eerste gedeelte van die versreëls mag voorkom)

Die metrum word aan die digter self oorgelaat.

Hier is ‘n grafiese voorstelling van die rym patroon:


x. b. x. x. x. x. x. a.
x. a. x. x. x. x. x. b.
x. b. x. x. x. x. x. a.
x. c. x. x. x. x. x. b.
x. d. x. x. x. x. x. c.
x. c. x. x. x. x. x. d.
x. d. x. x. x. x. x. c.
x. e x. x. x. x. x. d.
x. f. x. x. x. x. x. e
x. e x. x. x. x. x. f.
x. f x. x. x. x. x. e.
x. e x. x. x. x. x. f.
x. f. x. x. x. x. x. e.
x. x. x. x. x. x. x. f.


Hier is my poging tot die ongekransde “Un-wreath” sonnet:


Aeneas se afskeid van Dido (ongekrans / Un-wreath sonnet)

Daar is bekentenis, buite bruis die see
hy voel gedwee by Dido waar rus is,
voel vermis van pyn, golwe sleur hom mee
daar is geen smart, die soet verbintenis
het hy besin in die kern van sy hart;
geen aparte vrou het hy ooit so bemin,
sy is in die nag, dis sterreloos swart
waar hy haar koester tot die môre begin.
Hy gaan staan, hy moet uitvaar met die gety,
hy kan nie bly, verskeurd moet hy voort gaan
tyd draal aan, minute sleep soos ure verby
toe hy later klein op die groot boeg staan,
sy bestaan is geskud met pyn wat sny,
sy oë volg die sterre se helder baan.


Die pantoen sonnet

Die pantoen (Engels / Frans pantoum) is ‘n Malaise dig vorm wat in na die weste gebring was deur die Franse digter Victor Hugo. Die pantoen versvorm was populêr onder die Franse digters Fouinet, Hugo en Baudelaire.

Ek het reeds die pantoen in diepte in ’n artikel behandel en die pantoen sonnet is maar ‘n sonnet wat uit een van die vers vorms wat ek reeds bespreek het vloei. Die herhaling van refrein lyne maak dit ‘n baie kragtige soort sonnet.

Ryter Roethicle se gedig “Xtinction” is ‘n goeie voorbeeld van hierdie versvorm.

Die rymskema van die pantoen sonnet is:

A1B1A2B2 / B1C1B2C2 / C1dC2d / A2A1 (Franse vorm) of A1B1A2B2 / B1C1B2C2 / C1D1C2D2 / D1D2 (Malaise vorm)

of as A1B1aB2 / B1C1B2C2 / C1A2C2a / A2A1 of as A1B1aB2 / B1C1B2C2 / C1A2C2a /D1D2

(Soos gewoonlik dui hoofletters refrein lyne aan)

Enige metrum wat die digter pas kan gebruik word.


Hier is my poging tot die pantoen sonnet:


Vroegoggend as die eerste strale val (pantoen sonnet)

A1 Vroegoggend as die eerste strale val,
B1 as die son eers as ‘n bloedrooi bal hang
A2 dan ontwaak hierdie deel van die heelal
B2 met die son wat mens en dier skielik vang.

B1 as die son eers as ‘n bloedrooi bal hang
C1 kwetter voëls met liedere wat hulle sing
B2 met die son wat mens en dier skielik vang
C2 as hulle die nuus van die vroeë more bring,

C1 kwetter voëls met liedere wat hulle sing
d begin insekte, bye op en af vlieg
C2 as hulle die nuus van die vroeë more bring,
d is daar mooi vlinders wat op blomme wieg,

A1 vroegoggend as die eerste strale val,
A2 dan ontwaak hierdie deel van die heelal.


Tuckerman sonnet

Die Tuckerman Sonnet is soortgelyk aan die Italiaanse sonnet, maar daar word vinniger oorgegaan na die c rym en die oktaaf en sestet word met mekaar verbind deur beide die a en c ryme.

Die rymskema van die Tuckerman sonnet is: abbabcab / adeced. Hierdie sonnet word gewoonlik in jambiese pentameter geskryf.

Hier is my poging tot die Tuckerman sonnet:

Pasiënt (Tuckerman Sonnet)

a Sal ‘n ambulans hom vandag kom haal,
b hom dan weg vat na daardie hospitium
b waar alles anders is, ruik na jodium
a en hulle hom nie nog ‘n keer bestraal,
b vry van die behandeling van radium,
c hy die son deur die oop venster sien val,
a sodat hy hier dan vir ‘n laaste maal
b ‘n groot biefstuk na sy smaak, so medium

a kan geniet voor sy gesondheid eens faal,
d buite in die tuin vinke op takke sien hang
e as iemand hom tee of koffie bedien?
c Of sal sy vrou se stem soos donder knal,
e hy daar die einde van sy lewe sien
d hom na die kanker eenheid vat met dwang?


Tennyson-Turner sonnet

Die Tennyson-Turner sonnet is identies aan die Engelse (Shakespeare) sonnet behalwe dat die rymskema van die slot koeplet verander na fe om met die vorige kwatryn te verbind.

Die rymskema van die Tennyson-Turner sonnet is: abab / cdcd / effe / fe. Hierdie sonnet word gewoonlik in jambiese pentameter geskryf.

Hier is my poging tot die Tennyson-Turner sonnet:

Nugter blik (Tennyson-Turner sonnet)

a Dat ons van ander tye kom is gewis,
b waar ons soms kaalvoet in die vlei kon stap
a in ‘n plek wat anders as die stad is
b en hier word mense en dinge vertrap

c het respek, integriteit, plig verdwyn
d waar teerpaaie tot die horison strek
c kuber ligte soos klein sonne snags skyn,
d stof, roet en as alle dinge bedek.

e Mense, diere en byna elke ding
f word daar gedurig ‘n prys voor gemaak,
f in die geblikte verval betrokke raak
e as skares mekaar gedurig verdring

f in drank en in vlees word teen niks gewaak
e word lewens verspil, as niks redding bring.

[Verwysing: Nugter blik deur W.E.G. Louw.]


Duikplank (Tennyson-Turner sonnet)

‘n Trap wat wentel tot geveerde boog
waar my lyf hoog teen die blou hemel welf,
die poel se tref teiken klein teen die oog
staan ek net aangewese op myself

waar swaartekrag saamsnoer met ewewig
maar met ‘n uitermate soort wieging
voor hoogs gespanne veerkrag moet swig
as ek op en af wip, in beweging

skielik ‘n projektiel word en lanseer,
wat dan suisend, kragtig van baie hoog
met ‘n beraamde, berekende boog
in ‘n enkel oomblik deur die lug skeer

en as ek my dan veel later afdroog
wil ek tot ‘n beter poging aspireer.


Romblomanon Sonnet

Die struktuur van die Romblomanon sonnet herinner aan die Engelse sonnet, maar die koeplet verskyn reeds direk na die eerste kwatryn. Die rym herinner ook sterk aan monorym in die verskillende kwatryne (dieselfde rym).

Die rymskema van die Romblomanon sonnet is: aaaa / bb / cccc / dddd. Hierdie sonnet word gewoonlik in jambiese pentameter geskryf.


Hier is my poging tot die Romblomanon sonnet:

Die ambag van digter (Romblomanon sonnet)

a Ek ken myself en weet hoe boos ek is,
a tog gee God aan elk woord betekenis
a en nêrens is daar ‘n woord wat ek mis
a en vêr verby my eie verborge lis

b dring Sy liefde teer in en ek ken Hom
b maar kan my eie boosheid nie vermom

c waar Hy gedurigdeur my bly kwytskeld,
c my bly leer om sleg met goed te vergeld,
c Sy wil deel myne is, al is ek ontsteld
c en ek my rug draai op enige geweld

d en ek wag op sy verlossing vir my
d wat hy op Sy eie tyd bring, wat verby
d my eie drange strek, waar ek woorde kry
d en Hy leer my om in sy weë te bly



Flying Bird Sonnet

Die Flying Bird sonnet se struktuut probeer die prent van ‘n voël wat vlieg uitdruk. Hierdie sonnet bestaan uit ‘n kwatryn, gevolg deur ‘n sestet wat deur nog ‘n kwatryn gevolg word. Daar kom mono rym in beide kwatryne voor en is nogal ‘n intressante vorm met drie koeplette wat die sestet gedeelte opmaak.

Die Flying Bird sonnet rymskema is: aaaa / bbccbb / aaaa. Hierdie sonnet word gewoonlik in jambiese pentameter geskryf.

Hier is my poging tot die Flying Bird sonnet:


Salome wat dans (Flying Bird Sonnet)

a Om Johannes se kop van sy lyf te slaan
a as hulle naby aan die heilige staan
a besluit Salome onder ‘n silwer maan,
a dans daardie goddelose meisie weer aan.

b Toe Salome voor dronk Herodes dans
b is daardie koning amper in ‘n trans
c wil hy net daar oor sy eie lomp voete val,
c sy is heel verleidelik uitgestal
b vang hy haar blou oog se glimmende glans
b en haar gruwelike ma vat haar kans

a en dis net hoe dit vandag nog steeds gaan
a as ‘n meisie mooi is, bo ander uitstaan
a is daar manne wat dit te goed verstaan
a en laat niemand hulle dan daar aanmaan.


Luzvimninda’s Sonnet

Die struktuur van die Luzvimninda sonnet herinner aan die Engelse sonnet en is soortgelyk Romblomanon sonnet deurdat die gedig se verskeie kwatryne elk monorym bevat maar dit eindig met ‘n slot koeplet.

Die Luzvimninda sonnet se rymskema is: aaaa / bbbb / cccc / dd. Hierdie sonnet word gewoonlik in jambiese pentameter geskryf.

Hier is my poging tot die Luzvimninda sonnet:

Die tokkelossie (Luzvimninda sonnet)

a Die hele werf word vol, word vol van hom
a met skaduwees wat stadig nader kom
a en so sluip hy stadig maar seker stom,
a gekamoefleer en baie erg vermom

b sonder dat enige een hom eintlik gewaar
b is hy in die helder dag al reeds daar
b maar deur die son verblind as jy rond staar
b om in die swart nag te kom met gevaar,

c as die duisternis die aarde bedek
c en onverwags vat hy dan sy intrek,
c slaan moorddadig toe in ‘n woon vertrek
c en as die eerste strale die mense wek

d word daar eensklaps sommer benoud gegil
d hy kom en hy gaan, net soos wat hy wil.


Lunatic Sonnet

Die struktuur van die “Lunatic” sonnet herinner aan die Engelse sonnet. Die verskillende kwatryne word egter deur die rym met mekaar verbind.

Die rymskema van die Lunatic sonnet is: aaab / bbcc / cddd / ee. Hierdie sonnet word gewoonlik in jambiese pentameter geskryf.

Hier is my poging tot die “Lunatic” sonnet:


Blonde krul koppie (Lunatic Sonnet)

a As hy jubelend die tuin in rondloop
a lê die ganske wêreld daar voor hom oop,
a is dit herfs, blare van takke gestroop,
b kyk hy grootoog na die klein akkedis

b waar dit in ‘n gaatjie in die muur is,
b sien hy in die dam ‘n groot geel koi vis
c wat van onder die water in die poel
c hom met groot oop oë dophou en hy voel

c met klein handjies en die water is koel
d terwyl hy ‘n klein swart paddatjie vang
d die diertjie vasdruk teen sy sagte wang,
d dit voel of dit ‘n ewigheid daar hang

e dit meteens uit sy nat hande uit spring
e as ‘n aardige klein gladde soort van ding.


Heroic Sonnet

Soos die Italiaanse sonnet bestaan die “heroic sonnet” uit ‘n oktaaf en sestet. Beide die oktaaf en sestet word egter uit rymende koeplette saamgestel. Die “heroic” sonnet word gewoonlik in jambiese pentameter geskryf. Indien mens hierdie rymskema egter in agt lettergrepige versreëls skryf word dit ‘n Walliese sonnet. Lenny Roovers se gedig “Grand Final” is ‘n goeie voorbeeld van die heroic sonnet.

Die rymskema van die Heroic sonnet is: aabbccdd / eeffgg

Hier is my poging tot die “heroic” sonnet:


Die amandel boom (heroic sonnet)

a Iewers weg aan ‘n myn se agterkant
a sekerlik deur ‘n soort voël daar geplant
b het ek jou groot teen die blou lug aanskou,
b met bloeisels wat suiwer kleurvol oopvou
c waar dit spierwit teen die hemel uitbars,
c by ‘n geroeste wiel wat draaiend knars
d ‘n amandel boom op ‘n geelbruin mynhoop
d as ek daar uit nuuskierigheid rondloop

e jou takke soos engel vlerke, wit en rein
e omkring deur die helder skerp wit sonskyn
f wat reg deur jou wyd oop takke neer plas
f waar hul soos vingers na die hemel tas
g jou glorie het in my diepte gegaan
g waar jy baie hoog bo alles uitstaan.


Die Walliese sonnet

Soos die Italiaanse sonnet bestaan die Walliese sonnet uit ‘n oktaaf en sestet. Beide die oktaaf en sestet word egter uit rymende koeplette saamgestel. Die Wallies sonnet is identies aan die “heroic” sonnet, behalwe dat die metrum in agt lettergrepige versreëls geskryf word.

Die rymskema van die Walliese sonnet is: aabbccdd / eeffgg

Hier is my poging tot die Walliese sonnet:


Requiem vir Riana (Walliese sonnet)

a Veels te kort het dit jou geneem,
a toe jy van my begin vervreem,
b vir jou ‘n ander minnaar vind
b en ek en jy ons toe bevind
c waar dit wat jy nog in my sien
c geldelik jou doeleindes dien,
d dag op dag het jy ophou lag,
d van my was jy weg in die nag

e as jy geluk probeer najaag
e en ek my lewe vir jou waag
f maar tog het jy my soms bemin,
f iewers het die einde begin
g jy ons liefde daar laat omkom
g ysig in my lewe gekom.



Passion Sonnet

Die “passion” sonnet herinner aan die Engelse sonnet. Dit maak egter van refrein versreëls gebruik waarvan die B refrein deur al die kwatryne loop en die A refreine in die slot koeplet herhaal word.

Die rymskema van die Passion sonnet is : A1bA2B1 / bcB1c / B1dbd / A1A2. Gewoonlik word hierdie vers in jambiese penatmeter geskryf.

Hier is my poging tot die “passion” sonnet:


Toe ek die eerste keer (Passion Sonnet)

A1 Toe ek haar sien op die heel eerste keer,
b haar besoek en haar voordeur klokkie lui
A2 het baie gedagtes gegaan deur my,
B1 was ek half in my mensheid vasgekeer

b met motors wat in die straat verby ry,
c was ek in haar donker oë vasgevang
B1 was ek half in my mensheid vasgekeer
c het ‘n oomblik lank tussen ons gehang

B1 was ek half in my mensheid vasgekeer
b het haar skoonheid, sjarme my oorweldig
d kon ek my nie teen haar skoonheid verweer
b en sy was toe nog maar heel onskuldig.

A1 Toe ek haar sien op die heel eerste keer,
A2 het baie gedagtes gegaan deur my.


Die Amerikaanse sonnet

Soos die Italiaanse sonnet bestaan die Amerikaanse sonnet uit ‘n agt versreël koeplet en ‘n ses versreël sestet. Dwarsdeur word beide egter verbind met die deurlopende c rym struktuur en dan is daar ook ‘n refrein waarmee hierdie sonnet afsluit.

Die rymskema van die Amerikaanse sonnet is: aB1acbcbd / cdcbdB1. Gewoonlik word hierdie sonnet in jambiese pentameter geskryf.

Hier is my poging tot die Amerikaanse sonnet:

Die lewe het soms veel groter gevaar (Amerikaanse sonnet)


a Die lewe het soms veel groter gevaar
B1 as wat by die tandarts se kamer wag
a miskien kan mens dit in liefde gewaar
c wat jou lewe met ‘n avontuur vul,
b met tye kom met ‘n veel groter mag,
c jou bestaan soms verander of aanvul
b met ‘n ongekende soort suiwer prag
d wat alle skanse eensklaps morsaf breek

c of dit kan jou betower, later kul
b jou hart skielik verskriklik stukkend breek
c alles in ‘n ander lug begin hul
b en ‘n tipe duisternis bring soos nag,
d groter senuweeagtigheid uitspreek
B1 as wat by die tandarts se kamer wag.


Die Kanadese sonnet

Die Kanadese sonnet het hier struktuur van die Engelse sonnet met ‘n slot koeplet, maar weerspieël omsluitende rymskema van Italiaanse sonnet dwarsdeur al drie die kwatryne daarvan deur gebruik te maak van drie koevert kwatryne. Dit kan egter ook gegroepeer word in die Itiaanse sonnet vorm.
Die rymskema van die Kanadese sonnet is: abba / cddc / effe / gg (as die Engelse struktuur) of abbacddc / effegg (as die Italiaanse struktuur) Die metrum van hierdie gedig word gewoonlik in jambiese pentameter geskryf.

Hier is my poging tot die Kanadese sonnet (as Engelse struktuur):

‘n Vlieër wat aan slierte van die wind hang (Kanadese sonnet)

a ‘n Vlieër wat aan slierte van die wind hang,
b redelose wind bring tot betekenis,
b ‘n kind se klein gesig wat stralend is
a in oomblikke van ekstase gevang

c in ‘n oomblik dan skielik weer verstrak
d as die vlieër dan val, is die kind gekrenk
d terwyl ‘n spierwit meeu skreeuend wegswenk
c bo oor ‘n ou huis met ‘n rooi teel dak

e en skaterlag sag as dit weer wind vat
f die growwe seesand teen hom skuurpapier
f en die vlieër hoog wapper soos ‘n banier,
e water oor sy geplante voete spat

g maar geen oomblikke kan ewiglik duur,
g vir alles is daar ‘n bepaalde uur.


Hier is my poging tot die Kanadese sonnet (as Italiaanse struktuur):

Laat ek jou asem teen my gesig voel (Kanadese sonnet)

a Laat ek jou asem teen my gesig voel,
b as jy reg teenoor my skielik ontwaak
b as jy my ook dadelik wakker maak
a met kusse vir jou geliefde bedoel,
c as jou liggaam dig teen myne aanvly
d en jy al my gedagtes joune maak
d met elke kus, elke keer wat ons raak
c ons dan veel dieper betekenis kry

e en ons met mekaar salig rus kan vind
f waar alle waan en wrok slegs nietig is
f tot diepste rou soort van betekenis
e in liefde met mekaar geheg verbind
g waar ons dan van alles bitter vergeet
g en van die tower krag van liefde weet.


Die Elfin stansa sonnet

Soos die Franse sonnet het hierdie gedig ‘n koeplet wat die kwatryne met mekaar bind. Daar word regdeur die gedig egter net van twee ryme gebruik gemaak en die eerste twee kwatryne herinner sterk aan die oktaaf van die Italiaanse sonnet.

Die rymskema van die Elfin stansa sonnet is: abba / abab / ba / baba. Gewoonlik word hierdie versvorm in jambiese pentameter geskryf.

Hier is my poging tot die Elfin stansa sonnet


Op ‘n slag by die Unie geboue (Elfin stansa sonnet)

a Net reg voor die ou eerste minister
b wat ewiglik op sy oorlog perd ry
b dans zoeloes in hul impi drag verby,
a bier en rooi koeldrank blikke van gister

a lê die terrein vol, paartjies lê en fluister
b op dekens, met jong kinders wat naby
a skrillend met hul ouers stry, nie wil luister
b op die blom terrasse hulself neervly,

b en die plek het ‘n ander gees gekry,
a word so hard gepraat dat mens afluister

b wil mens die Unie Geboue begin vermy,
a lyk die toekoms van hierdie land duister
b wil mens van openbare plekke wegbly,
a word daar verlang na dae van eergister.


Die Fatima stansa sonnet

Die Fatima stansa sonnet het netsoos die Italiaanse sonnet ‘n agt versreël oktaaf en ‘n ses versreël sestet. Daar is egter ‘n oorvloed van b en c ryme in hierdie gedig. Die c ryme bind die koeplet en sestet met mekaar.

Die rymskema van die Fatima stansa sonnet is: ababbcbc / cccdcd. Gewoontlik word die Fatima stansa sonnet in jambiese pentameter geskryf.


Hier is my poging tot die Fatima stansa sonnet:


Seisoene van die lewe (Fatima stansa sonnet)

a Toe het die winterreën maande gesif,
b die Suidooster takke en dakke geruk
a was lente en somer sleg ‘n byskrif
b van tye wat mens in vergetelheid druk,
b op ons lewens het die seisoen afgedruk
c het koue en die nat weer in gevreet
b was ons met tye snoesig maar bedruk
c het van die koms van lente goed geweet.

c Toe lente kom het ons winter vergeet
c op die strand uitgebak en lê en sweet,
c toe het groot lewenslus ons skielik beet
d totdat die somer in die najaar verflou
c meeue in herfs hulle vaarwel uit kreet,
d reën en banke mis die wêreld toe vou


Die son sit goud net bo die nok (Fatima stansa sonnet)

Die son sit goud net bo die nok
maak pers blou doukelkies oop,
in die verte slaan die kerkklok
as ‘n paartjie onder jakarandas loop
en buite walm blomme soet soos stroop
is dit ‘n pragtige dag vol sonskyn
waar ons op die stoep ‘n gesprek aanknoop,
die vroeë skemering die oggend ster verdwyn.

Tog ken ons vreugde, trane en pyn
sien ek soms ‘n glimlag op jou aanskyn,
is daar iets groots, intiem in ons daarsyn
as die dag se pligte skielik wil begin
die son deur die peperboom se takke skyn
die oggend vrolik is met jou en my daarin.


Die Ierse sonnet

Die Ierse sonnet het die struktuur van die Engelse (Shakespeare) sonnet, maar regdeur verbind die ryme elke kwatryn en ook die slot koeplet met mekaar asof dit ‘n soort ketting is
Die rymskema van die Ierse sonnet is:
Ierse sonnet: abab bcbc cdcd dd

Hier is my poging tot die Ierse sonnet:


Guido de Bres, 30 Mei 1567 (Ierse sonnet)

a Dis skemer oggend, hy hoor wagte kom,
b ruik die erge stank van die vol skatool
a daar is ‘n swerm vlieë wat daarom brom
b buite is jasmyn wat dring deur die riool,

b geboei aan hand en voet is dit wat hy dool
c voel die skamel son warm val op sy wang
b is in sy gees teen die hamer houe geskool
c as sy oog ‘n blik van die skavot vang

c waar hulle hom ‘n rukkie later gaan hang,
d hy skryf vir sy liefling Catharine ‘n brief
c met kettings wat klingel en hy is bang,
d hy het haar en die ganske lewe lief

d is bewend en siek, baie diep gegrief,
d is geen moordenaar, misdadiger of dief.


Die Asiatiese sonnet

Die sonnet vorm is soortgelyk aan die Italiaanse sonnet met ‘n oktaaf en sestet, maar die Asiatiese (“Asian”) sonnet gebruik dwarsdeur monorym, met ander woorde rym deurgaans met dieselfde rym. Deurdat die rym deurgans dieselfde is bind beide die oktaaf en sestet baie sterk met mekaar.

Die rymskema van die Asiatiese sonnet is: aaaaaaaa / aaaaaa en hierdie sonnet word gewoonlik in jambiese pentameter metrum geskryf.

Hier is my poging tot die asiatiese sonnet:


Hoe graag sal ek dit wil waag (Asiatiese sonnet)

a Hoe graag sal ek dit op ‘n tyd wil waag,
a om my motorfiets teen topsnelheid te jaag,
a die lewe, my eie bestaan uit te daag
a en ek weet dit klink dalk baie vertraag,
a maar daar is somtyds tye wat mens graag
a op jou motorfiets se tenk lê op jou maag,
a die wind sterk voel oor in jou hemp se kraag,
a weg breek van dit wat ander soms behaag.

a Verkeersmanne is lief vir ‘n hinderlaag
a op die pad en stop jou dalk met die vraag:
a is jy dalk mal, of heeltemal vertraag?
a Jy kan sê ‘n vergadering het laat verdaag,
a maar daardie tipe verweer sal nie slaag
a en dit klink as verskoning heel afgesaag.



Die spieël (“mirrored”) agtien versreël sonnet

Die spieël (“mirrored”) 18-lyn sonnet bestaan uit twee oktawe met ‘n identiese rymskema vanaf die Italiaanse sonnet wat met mekaar deur ‘n koeplet verbind word. Die rymskema vorm dus ‘n soort spieël beeld tussen die twee oktawe en ook ‘n sterk verband met soortgelyke rym.

Die rymskema van die spieël (“mirrored”) sonnet is: abbaabba / cc / abbaabba en hierdie sonnet word gewoonlik in jambiese pentameter geskryf

Hier is my poging tot die spieël (“mirrored”) sonnet:


Terwyl Jannie en ‘n seksie op patrollie stap (spieël sonnet)

a ‘n Skilder verf ‘n bosagtige landskap,
b skilder kleure van ‘n sonsondergang
b met vlieswolke wat in die blou lug hang
a as Jannie en ‘n seksie patrollie stap.
a Die doek het ‘n rivier waar skote klap,
b ‘n kwaai swart krokodil wat hom wil vang,
b bleshoenders vlieg op en Jannie voel bang
a toe ‘n troep skielik op ‘n landmyn trap,

c waar drie troepe daar sy posisie dek,
c die vyand skiet koeëls wat strepe trek,

a deur Jannie se vuur onverhoeds betrap
b vlug hul vanaf die geveg se aanvang,
b met ‘n gewonde wat na God verlang,
a Jannie se manne is dapper en knap,
a ‘n man is flenters, lê soos ‘n pop slap
b ‘n entjie weg suil ‘n sissende slang,
b om te braak is ‘n soort oorheersende drang,
a daar onder by die vlei vlug ‘n swart flap.


Die ongespieëlde (“unmirrored) 18-lyn sonnet

Die ongespieëlde (“unmirrored) 18-lyn sonnet se struktuur bestaan uit twee verskillende Italiaanse oktawe wat met ‘n koeplet met mekaar verbind word. In beide oktawe is daar rym wat verbind, maar die oktawe se rym struktuur bind nie met mekaar nie.

Die rymskema van die ongespieëlde (“unmirrored) sonnet is: abbaabba cc deeddeed. Gewoonlik word hierdie sonnet in jambiese pentameter geskryf.

Hier is my poging tot die ongespieëlde (“unmirrored) sonnet:

In hierdie helder somer (ongespieëlde sonnet)

a Soet is die sap van ‘n hanepoot druif
b wat goud in wingerde aan trosse hang
b as die Kaapse somer dié wêreld vang
a as die ure na laat middag aan skuif,
a bo in die kobaltblou lug vlieg ‘n duif
b wat om draai, in die ruimte vasgevang
b in hierdie somer kry ek ‘n aandrang
a om my lewe na die Kaap te verskuif,

c wil ek U in die mooi natuur vind,
c in ‘n wêreld wat verstom en verblind.

d Op ‘n kamp het ek van ‘n druiwe boer
e van anderkant Stellenbosch gehoor,
e die kinders van sy werkers is getoor,
d voor geboorte verslaaf en hy was stoer
d asof hy met wyn so ‘n bestaan voer,
e iewers het hy sy menslikheid verloor
e en wou geen klagte teen die soort ding hoor
d maar die ding het my baie diep ontroer.


Saamgestelde variasies


As mens vrye vers en rym saamsnoer kan jy met ‘n uiters kragtige sonnet vorm vorendag kom soos in die nagtegaal sonnet of in die volgende gedig:

Die plaasboer

Die welgestelde plaasboer is nie dood nie
die grond wat hy bemin, onthou vir hom
waar sy jong vrou deur swartes verkrag is,
sy klein baba kleuter dogtertjie ook

waar sy groot huis afgebrand tot puin is
nog staan en rook na die dolle stroping
lê hy half verbrand, sy gesig verwring
en wie sal ooit hier geregtigheid bring?

Die plaasboer lig sy vuiste teen die wind
staan teen die horison ietwat verblind
soek verward na antwoorde, wat ontbreek
probeer daar by sy God ‘n oordeel vind

en die wind draai stof uit op die rooi grond,
selfs die aarde is ook nou erg verwond.


Die nagtegaal (“nightingale”) sonnet

Die nagtegaal (“nightingale”) sonnet se struktuur is dieselfde as die Engelse sonnet in dat dit bestaan uit drie kwatryne en ‘n slot koeplet. Hierdie gedig is ‘n vermenging van rymende en nie rymende versreëls, wat ‘n baie interessante effek op ‘n vers het. Hierdie sonnet bestaan uit nege lettergrepige versreëls wat dan ook in ‘n mate die metrum daarvan bepaal.

Die rymskema van die nagtegaal (“nightingale”) sonnet is:

Nagtegaal (“Nightingale”) Sonnet (9-lettergrepige versreëls): axxb axcb xcxb ac


Hier is my poging tot die nagtegaal (“nightingale”) sonnet:


Daar is ‘n plek wat als byeen trek (nagtegaal (“nightingale”)) sonnet

a Daar is ‘n plek wat als byeen trek
x waar alles tot ‘n soort kruispunt kom,
x waar vreugde, genot, en diep hartseer,
b selfs krisisse ‘n soort antwoord kry

a waar God se bloed die sonde bedek,
x waar mens nie gedwing word om te glo
c maar ‘n keuse het oor jou bestaan;
b Sy groot selflose liefde kom vry

x waar ons aarde uit eie keuse
c besig is om in flarde te gaan,
x ons wat nietig is soos gode leef,
b tot als lewend ons pligte vermy

a is ons nooit sonder die eie ek
c en God iewers in dit alles staan.




Voetnotas:

(1) Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; du Toit, S.J.; Booysen, C.M. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor Uitgewers. 1977.

(2) Microsoft Encarta Encyclopaedia Dictionary.

(3) Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; du Toit, S.J.; Booysen, C.M. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor Uitgewers. 1977.

(4) “Vyfvoetige versreël” de Villiers, M; Smuts, J; Eksteen, L.C; Gouws, R.H. Nasionale Woordeboek. Naous Beperk. 1987. Pretoria.

(5) In digkuns is metrum die manier waarop ‘n versreël gevorm word sodat dit gelyke en eweredige eenhede van ritme bevat. Lettergrepe kan sag, hard en skerp wees. Harde ryme is gewoonlik manlik soos byvoorbeeld die woorde “man” en “kan.” Sagte ryme is gewoonlik vroulik en soms slepend waar nog ‘n lettergreep wat rym voorkom en onbeklemtoon soos byvoorbeeld die woorde “dartel” en “spartel.”

As ons harde en sagte lettergrepe saamstel neem dit ‘n ritme aan soos ‘n wekker wat tik tak. Daar is egter nog ander kombinasies van metrum waarvan ek hieronder ‘n grafiese voorstelling gee:


Tipes van versvoete:

Sleutel:

Onbeklemtoonde lettergreep O
Beklemtoonde lettergreep /

Jambe: O /
Trogee: / O
Anapes: O O /
Daktiel: / O O
Spondee: / /
Pyrric: O O

Soos alreeds genoem is, is ‘n jambe is ‘n “versvoet wat bestaan uit ‘n swak beklemtoonde lettergreep gevolg deur ‘n sterk beklemtoonde lettergreep soos in bewaar.” Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; du Toit, S.J.; Booysen, C.M. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor Uitgewers. 1977.

‘n Trogee is “’n versvoet bestaande uit ‘n beklemtoonde gevolg deur ‘n onbeklemtoonde lettergreep.” Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; du Toit, S.J.; Booysen, C.M. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor Uitgewers. 1977.

‘n Anapes is “’n versvoet van drie lettergrepe waarvan die laaste drie beklemtoning kry, soos byvoorbeeld “anargië.” Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; du Toit, S.J.; Booysen, C.M. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor Uitgewers. 1977.

‘n Daktiel is “’n versvoet bestaanende uit een beklemtoonde, gevolg deur twee onbeklemtoonde lettergrepe soos in “moddervet.” Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; du Toit, S.J.; Booysen, C.M. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor Uitgewers. 1977.

‘n Spondee is “’n versvoet van twee beklemtoonde of lang lettergrepe.” Schoonees, P.C.; Swanepoel, C.J.; du Toit, S.J.; Booysen, C.M. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor Uitgewers. 1977.

‘n Pyrric is ‘n versvoet wat bestaan uit twee onbeklemtoonde lettergrepe.


Eenhede in ritme kan voorkom as monometer, dimeter, trimeter, tetrameter, pentameter, hexameter en heptameter.

Monometer is waar ‘n versreël bestaan uit slegs een versvoet soos in die gedig “Loves retreat:”

“Step back!
Step back!
Step back!
I say.
No pain!
No pain!
No pain!
I pray “

Hierdie tipe gedig het geweldige krag en betekenis in die kortheid daarvan.

Dimeter is waar ‘n gedig bestaan uit slegs twee versvoete soos in die tweede deel van die gedig “Loves retreat:”

“Step back, step back
step back you say.
No pain, no pain
no pain I pray”

In die twee voorbeeld is daar verskillende betekenisse, wat die ritme en woord samestelling bepaal. In die monometer gedeelte stoot die vrou haar minnaar weg. In die dimeter voorbeeld word presies dieselfde woorde gebruik maar hier praat sy veel ligter en spot sy hom. Hierdie voorbeelde toon hoe belangrik dit is om die regte metrum te gebruik.

Trimeter is waar drie versvoete gebruik word soos in Sir Walter Raleigh se gedig “The Lie:”

“Go, Soul, the body's guest,
Upon a thankless errand;
Fear not to touch the best;
The truth shall be thy warrant:
Go, since I needs must die,
And give the world the lie.”

“Say to the court, it glows
And shines like rotten wood;
Say to the church, it shows
What's good, and doth no good:
If church and court reply,
Then give them both the lie.”

Tetrameter is waar vier versvoete gebruik word soos in Sir Walter Raleigh se gedig “The Nymph’s Reply:”

“If all the world and love were young,
And truth in every shepherd's tongue,
These pretty pleasures might me move
To live with thee and be thy love.”

“Time drives the flocks from field to fold,
When rivers rage and rocks grow cold,
And Philomel becometh dumb;
The rest complains of cares to come.”

“The flowers do fade, and wanton fields
To wayward winter reckoning yields;
A honey tongue, a heart of gall,
Is fancy's spring, but sorrow's fall.”

Pentameter is waar vyf versvoete per versreël gebruik word en natuurlik is William Shakespeare ‘n meester van jambiese pentameter en sy “sonnet XVIII” is ‘n baie goeie voorbeeld daarvan:

“Shall I compare thee to a summer's day?
Thou art more lovely and more temperate:
Rough winds do shake the darling buds of May,
And summer's lease hath all too short a date:
Sometime too hot the eye of heaven shines,
And often is his gold complexion dimm'd;
And every fair from fair sometime declines,
By chance or nature's changing course untrimm'd;
But thy eternal summer shall not fade
Nor lose possession of that fair thou owest;
Nor shall Death brag thou wander'st in his shade,
When in eternal lines to time thou growest:
So long as men can breathe or eyes can see,
So long lives this and this gives life to thee.”

Hexameter is waar ses versvoete per versreël gebruik word en is ook bekend as “Alexandrine.” Thomas Hardy se gedig “The Convergence of the Twain” gebruik dit om stansas te beëindig. Swinburne se gedig “The last oracle” gebruik die trogee versvoet in hexameter vorm. Hier is ‘n uittreksel uit Thomas Hardy se gedig “The Convergence of the Twain:”

“In a solitude of the sea
Deep from human vanity,
And the Pride of Life that planned her, stilly chouces she.”

“Steel chambers, late the pyres
Of her salamandrine fires,
Cold currents thrid, and turn to rhytmic tidal lyres.”

“Over the mirrors meant
To glass the opulent
The sea-worm crawls – grostesque , slimed, dumb, indifferent.”

Heptameter bestaan uit sewe versvoete per versreël soos in Rudyard Kipling se gedig “Tommy” wat in jambiese heptameter geskryf is:

“Yes, makin' mock o' uniforms that guard you while you sleep
Is cheaper than them uniforms,an' they're starvation cheap;
... But it's "Thin red line of 'eroes" when the drums begin to roll –“

“The drums begin to roll, my boys, the drums begin to roll,
O it's "Thin red line of 'eroes" when the drums begin to roll”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar