Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek het oor die afgelope paar jaar, selfs ten opsigte van myself, ‘n behoefte begin raaksien in ‘n sekere segment van die Afrikanervolk wat baie ooreenkom met die armblankevraagstuk wat veral pertinent na vore gekom het net na die Tweede Vryheidsoorlog asook later gedurende die depressiejare. Waar daar egter in daardie tyd vanuit regeringsvlak ingegryp is en werksgeleenthede, welliswaar net op arbeidersvlak, geskep was om mense te probeer help, bestaan sulke moontlikhede baie beslis nie meer vandag nie. Die Afrikaner is dus op homself aangewese om sy volksgenote te probeer bystaan of te poog om geleenthede te skep waardeur mense op hulle voete gehelp kan word.

Kan ons dalk vir die kerk om hulp vra?

Liewer nie. Hulle is so besig om te redekawel oor óf Jesus werklik uit die dood uit opgestaan het óf dit maar net ‘n geestelike belewenis was, dat hulle nie nog tyd sal kan afstaan aan netelighede soos die behoeftiges onder hulle lidmate nie. (Ons gee mos elke Sondag tee na kerk, selfs so nou en dan ‘n vingerhappie ook. Ons kollekteer dan ou klere en blikkieskos ook wat ons na gelang van behoefte uitdeel.) Baie edel van die kerk. Ek dink ongelukkig dat dit vir hulle veel eerder gaan oor die beste rentekoerse vir die beleggings en die “onvermydelike” verhogings in die huur van die kamers by die ouetehuis. Gooi die ou mens uit as sy nie kan betaal nie, daar’s ‘n lang waglys. (Ek wonder waaroor Martin Luther nou weer sy 95 stellings teen die kerkdeur gaan spyker het)

Wat van ‘n bydrae vra van die Afrikanersakeman?

Ek kan nou al klaar in my geestesoog sien hoe hulle hulle arms om hulle besittings en geld gooi om wantrouig, van daaragter, na my te loer met ‘n uitdrukking van: “Dis myne. Ek’t daarvoor gewerk. Ek deel dit met niemand nie.” Maar moenie dat ek jou onstel nie. Hou gerus vas aan dit wat jy het. Ek gaan niks van jou af wegvat nie want ek wil niks van jou hê nie. Ongelukkig kan ek ook nie beleggingsgeleenthede vir jou aanbied sodat jy jouself verder kan verryk nie. Dit gaan hier uitsluitlik oor onselfsugtige hulp aan jou mede Afrikaner.

Hoe moet mense gehelp word? Wat kan gedoen word? Waar kan ek inpas?

Hulp bestaan verkieslik nie uit ‘n sopkombuis waar maaltye aan behoeftiges uitgedeel word of uit mense wat ou klere en komberse uitdeel nie. Die beginsel is prysenswaardig, ja, maar ongelukkig is dit ‘n baie tydelike oplossing wat mense “lui” maak om iets vir hulleself te probeer doen. Maar voordat ons oplossings probeer formuleer wil ek tog hê dat ons na die breër prentjie moet kyk.

Behalwe as jy in ‘n kokon, agter jou veiligheidsheining en lemmetjiesdraad, leef waar jy jouself totaal van die wêreld daarbuite afgesluit het, moes jy tog die een of ander tyd kennis geneem het van enige van die volgende: Afrikanermans en vrouens wat motors oppas in parkeerterreine; Afrikanermans en vrouens wat petrolpompe beman; Afrikaners wat in plakkerskampe bly; Afrikaners wat by verkeersligte staan en bedel; Afrikanerbejaardes wat in buitekamers/garages bly; Afrikanerbejaardes wat alleen op plase bly en die teiken geword het van sinlose geweldsaanvalle; Afrikanermeisies (en seuns) wat hulle liggame verkoop om aan die lewe te probeer bly; ens. ens. So kan ek aangaan, maar ek haal spesifiek hierdie voorbeelde aan om by my punt te probeer uitkom. (Ek beskou defnitief nie die oppas van karre of die beman van petrolpompe as ‘n minderwaardige soort werk nie, wat ek probeer sê is dat dit nie die soort werk is wat ons blanke Afrikaner pa’s of ma’s twintig jaar gelede sou doen nie)

Ons leef vandag in ‘n wêreld van rykes en armes. Die ou “middelklas” is so stadigaan besig om na die een of die ander kant toe te muteer in ‘n klas van slegs ryk of slegs arm met sy onderskeie superklasse natuurlik.

As jy nie in vandag se tyd ten minste in die “ryk” klas resorteer nie, kan jy nie vir jouself ‘n eie woonplek aanskaf nie, kan jy nie vir jou kind/ers ‘n oordentlike skoolopvoeding verseker nie, kan jy nie jou kind/ers aan tennis/swem/gimnastiek/karate laat deelneem of hulle klavier, kitaar of ander musiekinstrumente laat speel nie. Dan kan jy nie ten minste eenmaal elke twee jaar vir jou gesin met vakansie neem nie; kan jy nie eendag vir jou kind/ers universiteit toe stuur nie, kan jy nie vir jou gesin aanvaarbare mediese versorging verseker nie en kan jy nie hoop om eendag met finansiële gemoedsrus af te tree nie. Indien drie of meer van bogenoemde nie vir jou ‘n probleem is nie, dan is hierdie artikel ook nie vir jou nie.

Laat ek liewer praat met dié mense vir wie basiese oorlewing ‘n probleem begin word het. Dié mense wat nie kan bekostig om siek te word nie, dié mense wat hoop hulle ou kar of bakkie se bande hou nog ses maande langer, dié mense vir wie ‘n verhoging in water- elektrisiteits- of kospryse ‘n totale verandering in hulle lewenswyse meebring.

Voordat jy nou daar uit die hoogte begin veroordeel en uitsprake maak van: “Dis mos hulle eie skuld dat hulle so baie kinders het; hulle moes beter na hulle werk gekyk het; hulle moes verder gaan studeer het; ens, ens.”, laat ons liewer na moontlike oplossings vir die bestaande probleme begin soek. Oplossings wat waarskynlik binne ons bereik kan wees.

Watter modelle het ons om mee te werk?

Die mees bekende uit eie bodem is Orania. Alhoewel ek groot respek het vir dit wat Prof. Carel Boshoff en sy mense daar vermag het en die beginsels waaronder hulle die plek bedryf, bied dit ongelukkig slegs ‘n heenkome vir mense met ‘n klompie kapitaal in die bank. Die ou met niks kan steeds nie daar geholpe raak nie.

Daar’s natuurlik die beginsel van kommunisme. Ongelukkig is daar te veel negatiewe konnotasies uit ons verlede aan daardie stelsel gekoppel wat gaan maak dat geen gerespekteerde Afrikaner daaraan sal wil byt nie. Daar’s ook heeltemaal te veel wat sal wil deel in die bietjie wat daar is. Die probleem met kommunisme is egter nie die beginsel self nie, maar die mense wat die stelsel bedryf (Animal Farm is ‘n sprekende voorbeeld).

Wat van ‘n kibbutz-stelsel? Almal is gelyk, almal deel in alles, almal moet werk vir hulle kos en klere en almal deel in die sukses of mislukking van die onderneming. Die kibbutz in Israel het vandag ‘n multimiljoen dollar industrie geword wat lankal nie net meer uit ‘n klomp versukkelde boere bestaan nie. Hier moet ek egter met ‘n Israeli saamstem (wat self op ‘n kibbutz gebore is en daar grootgeword het) wat vir my gesê het dat ‘n kibbutz net in Israel kan werk omdat hulle ‘n samebindende strewe en doelwit gehad en nog steeds het. Dit gaan oor die behoud van die staat Israel en die Israelis wat daar woon. Die Afrikaner (wat alreeds geen meer land het wat hy sy eie kan noem nie) is ongelukkig bekend vir sy geneigdheid tot verdeeldheid.

Laat ons vinnig net weer na die spelers in hierdie toneelstuk kyk. Daar is kinders, jongmense, werkendes, werkloses en oumense. Hoe kan ons elkeen van hulle op die bes moontlike manier akkommodeer?

Eerstens moet daar, behalwe vir Afrikanerskap, ‘n ander samebindende faktor teenwoordig wees. Politiek sal nie deug nie. Om vir dieselfde rugbyspan te skree sal ook nie die wa deur die drif trek nie. Ter wille van standvastigheid, dink ek ons moet kyk na ‘n belydende geloof in Jesus Christus. Ek verwys hier nie na ‘n spesifieke kerk of doktrines of leerstellings nie, ek praat net van ‘n geloof in Jesus Christus. Hier moet ek egter baie versigtig wees. Baie mense, ek ingesluit, het ‘n ernstige probleem met ‘n oordrewe, demonstratiewe, prekerige en veroordelende Christenskap. Ek hou byvoorbeeld glad nie daarvan om gedurig traktaatjies in die hand gestop te word as ek ‘n sigaret opsteek of ‘n bier drink nie. ‘n Mens behoort egter sekere morele waardes na te streef en ‘n redelik streng dissiplinêre kode binne jou huishouding te handhaaf. Dit help mos nie dat jy die hoofouderling in jou kerk is en jou sestienjarige dogter bly saam met haar seunsvriend nie, of, jou oulike ou seuntjie is die ongedissiplineerde boelie van die skool wat almal se lewe met sy gedrag omkrap nie – verstaan wat ek probeer sê?

Tweedens moet die konsep nie ‘n hawe word vir leeglêers, dronkaards, prostitute en parasiete nie.

Derdens moet die konsep vir al die betrokke partye dieselfde voordele kan bied in terme van die insette wat gelewer gaan word.

Die konsep self is egter ietwat van ‘n kopseer. As ek met ‘n lys van voorstelle vorendag kom sal daar sekerlik weer diegene wees wat my as voorskriftelik gaan veroordeel. Ek wil egter hierdie geleentheid gebruik om voorstelle op die tafel te lê om te kyk hoe voel my mede-Afrikaner oor hierdie dinge. Dit wat ek gaan voorstel is nie rigied of vas nie, dit is oop vir herkonstruksie, herformulering en modulering.

Die konsep werk as volg:

Gedagtig aan sovele plase waar twee ou mense steeds alleen (en baiekeer in lewensgevaar) die mas probeer opkom omdat hulle kinders nie langer in boerdery belang stel nie, sou ek graag op ‘n praktiese manier van daardie grond wou gebruikmaak. Kom ons kyk spesifiek na areas binne bereik van die metropolitaanse gebiede. D.w.s. plekke wat nie so vêr uit die wêreld is dat jy dit nie as afspringplek kan gebruik om te gaan werk of skool toe te gaan nie.
Die volgende vereiste gaan wees dat daar ten minste genoeg water beskikbaar moet wees vir huislike en ander gebruik.

Die grond moet ook nie te klein wees nie – 25ha en meer.

Kom ons begin met 20 huishoudings wat verskillend saamgestel is. Pasgetroudes, paartjies met kinders, enkelouers, werkendes en werkloses asook bejaardes/afgetredenes.

Die beginsel hier is dat die sigbaarheid van groter getalle mense die illusie van krag sal skep. (safety in numbers)

Die volgende is eenvoudige maar praktiese wooneenhede bestaande uit een, twee of drie slaapkamers met ‘n sitkamer, badkamer en klein kombuisie (net groot genoeg om koffie en toebroodjies in te maak) asook ‘n garage of motorafdak Die eenhede behoort eerder ontwerp te wees om ‘n vakansiegevoel te skep as dié van ‘n luukse woning. Die spasies tussen die huise moet groot genoeg wees om privaatheid te verseker (aangevul met bome en struike), maar nie so groot dat mense onbewus raak van mekaar nie.

Alternatiewelik kan eenhede vir die gebruik van toeriste (gastehuis?) of besoekers opgerig word, wat addisionele inkomste kan inbring.

Verder moet daar op die perseel iets soos ‘n kliniek, haarkappersalon, werkswinkel, klein winkeltjie, waskamer met wasmasjiene asook gemeenskapsaal met ‘n kombuis wees. Die gemeenskapsaal moet ook as eetsaal kan dien. Die rede hiervoor is om mense te forseer om sosiaal met mekaar te verkeer. Ontbyt en aandete moet gesamentlik genuttig word en almal moet by die kosmaak/skottelgoedwasproses betrek wees.

Melk, eiers en groente behoort plaaslik geproduseer te word. Alle reënwater moet opgevang word vir besproeingsdoeleindes. Elektriese ligte moet deur sonpanele en batterye gedryf word terwyl huishoudelike warm water deur die son verwarm behoort te word.

Die volgende punte wat ek noem is egter steeds baie vloeibaar. Ek sou wou voorstel dat elke inwoner persentasie aandele in die “gemeenskap” koop. Party ouens sal meer as ander kan koop en jou “waarde” word dus deur jou belegging bepaal. Party mense se aandele sal noodgedwonge bepaal moet word deur die fisiese insette wat hy of sy kan lewer.

Wat egter noodsaaklik is, is dat elkeen in die “gemeenskap” sekere verantwoordelikhede sal moet kan hanteer. Dit sal aan die bejaardes ‘n “purpose” gee om moreoggend op te staan (want daar’s goed wat gedoen moet word). Dit sal die jongmense meer gee om te doen as net TV kyk of “games” speel (versorging van diere, natlei/oes van groente vrugte, help met kosmaak, wasgoed was, skottelgoed was, tuinmaak, ens.).Dit verskaf vir die werklose ‘n basis om sy menswees en selfbeeld weer so stadigaan te begin opbou met spesifieke opdragte en take op die perseel. (Om jou werk te verloor, hetsy a.g.v. regstellende aksie of personeelterugsnydings omrede die verswakte ekonomie, is en bly ‘n traumatiese ervaring. Dit laat jou soos ‘n groot mislukking voel en kom vat in die proses met groot vuil hande aan jou menswees. Al het jy ook ‘n soort van pakket gekry, is dit maar ‘n skrale troosprys omdat jy in die meeste gevalle jou hele lewensstandaard moet aanpas.)

Om terug te keer tot my voorstelle t.o.v. die voorgestelde “gemeenskap”.

Wooneenhede moet “gekoop” word en as “lede” nie langer daar wil bly nie, kan hulle dit terugverkoop aan die “gemeenskap”. Daar moet ‘n maandelikse “levy” betaal word gebasseer op ‘n persentasie van ‘n maksimum inkomste. (Sê dat hierdie maksimum inkomste op R10,000.00/maand gestel word, sal dit beteken dat jy bv. 50% van jou inkomste sal betaal tot op inkomste R10,000.00 en daarna sal dit konstant bly op R5,000.00, maak nie saak wat jy verder verdien nie) Hierdie “levy” dek al die lopende onkoste en laat die inwoners met “sakgeld” vir persoonlike uitgawes soos vermaak, klere, ens.

Die bejaardes in die “gemeenskap” is vir basiese onderhoud, kinderoppas en hulp in die kombuis verantwoordelik. Hulle kan ook die winkeltjie, vir ‘n ekstra inkomste, bedryf. Daar kan selfs gedink word aan ‘n tipe van ‘n padstal waar tuisgemaakte produkte en vars groente/vrugte verkoop kan word.

Werkloses sorg vir onderhoud aan die geboue en perseel asook vir die versorging van die tuine. Hulle doen waskamer en kombuisdiens.

Die totale kosteaspek verbonde so ‘n projek behoort in meer detail om ‘n tafel uitgewerk te word.

Die reëls en regulasies van die plek moet sodanig saamgestel wees dat almal wat daar woon gemaklik daarmee sal wees en binne daardie raamwerk sal kan funksioneer.

Ek wag vir beter voorstelle ……….








Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Veilige Hawe
Kyk asb. bietjie na my nuwe artikel, Armoede en Plaasmoorde. Dit lyk of ek aangaan waar jy opgehou het. Ek kan alles onderskryf wat jy gesê het, maar daar kom 'n nuwe dimensie by wat 'n verskil kan maak en die knoop deurhaak.
Baie groete, en onthou, die trekker wag ..
Groete,
Steyn
9 jaar 9 maande 3 weke 5 dae 1 uur oud


' Veilige Hawe ...
Skote Petoors!!
10 jaar 2 weke 5 dae 6 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

N VERGANE ERA

deur neels claasen

spoorweg staaltjies en verhale uit die verlede



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar