Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Oktober 2010.
Datums, tyd, horlosie.
Sulke dinge bestaan nie in my lewe nie. Dit is vir my nie belangrik nie.
Seisoene bestaan wel.
Winter, Lente, Somer, Herfs. Reën, droogte.

Die Natuur. Die verstommende skoonheid, veranderinge en ook gemoed toestand van die Natuur. Die streke wat Moeder Natuur kan uithaal om die mens te treiter
Hoofsaaklik, kos. Die familie moet eet en die diere moet eet. Dit wat ek kan voorsien uit die grond, dit is belangrik.
 

My foon lui. Ek sien dit is my dogter:
“More kinta.”
“ More pa. Pa, jy verjaar hierdie maand.”
“Gee jy vir my goeie of slegte nuus?”
“Pa, ek wil vir jou ʼn verjaarsdag persent gee.”
“My kind, om wat mee te maak? Julle weet my lorrie is vol. Ek het nie plek vir nog goed nie.”
“Nee, pa, jy gaan dit nie op jou lorrie laai nie. Jy gaan dit in jou hart bêre!”
Ek bly stil. Ek dink. Ek weet, my hart het nog baie plek. Ek wil darem weet.
“ My kind, my hart is al vol van julle liefde. Julle hoef nie nog te gee nie.”
“ Dit ook pa, maar hierdie keer iets daarmee saam.”
“Nou toe, gee dan maar. Ek het ʼn plekkie oop.”
“Pa, maar jy moet iets doen.”
Kyk, Ek het ʼn sintuig wat my waarsku. As die familie met so ʼn draai na my toe kom, kan dit net een ding beteken. Ek moet werk. Iets anders werk. Vir hulle doen. Ek huiwer:
“Wat moet ek doen?”
“Jy moet jou mooi toedraai, pa.”
Hier kom moeilikheid. Groot moeilikheid. Aantrek, skoene, skeer. Dit is moeilikheid.
Sy kan dit daar van anderkant af voel. Sy weet. Die hele lot weet. Sy verbreek die stilte met nog ‘n hou:
“Pa, en ons gaan ry.”
Stop. Stop hierrie lorrie net hier. Ek draai my nie mooi toe nie. Ek ry nie graag nie. Nie vêr nie. Nie see toe nie. Nêrens nie. Hulle try. Hulle slaag nie dikwels nie. Hulle skeur my nie van my liefde weg nie. Hierdie wegkruip plek van my, verlaat ek nie maklik nie.
ʼn Vrou is listig. ʼn Vrou is slim. ʼn Vrou is soms soos ʼn slang. Skelm. My hare staan regop. Sy weet dat ek dit weet. Sy verbreek weer die stilte.
“Pa, luister eers. Pa, Neil Diamond kom Suid Afrika toe.”
 

Dit is ʼn lae hou. Onder my belt.
Ek en Neil Diamond kom ʼn lang pad. Waar lê 1972? ‘Hot August Night’. California. Die Griekse teater. Mense hang bo in die takke van die bome.
Ek het die herinnering, die opname, die lang speel, al so deurgespeel, hou dit teen ʼn lig en jy kan die woorde lees.”
Sy verbreek my gedagte:
“Pa, ek het kaartjies gekry. Vir pa se verjaarsdag. Maar, dit is darem eers in April volgende jaar.”
Ek sluk:
“ Ek sal my mooi toedraai. Dankie my kind!”
 

Soos die tyd aanstap, word ek nou en dan (onnodiglik) herinner. Ons gaan vroegdag al wegry. Ek moet my dinge hier op my wegkruip plek reg kry.
Saterdag. 2 April 2011 breek aan. Ek en my seun skeur ons los van ons heiligdom. Ons kom by die huis aan. Ek sien op die bed lê my klere mooi uitgepak. Vroulief loop al op en af:
‘Toe, toe Willem. Gaan stort en skeer. Marlene is al op pad.”
Terwyl ek my sukkellend toedraai, hoor ek hulle woel en werskaf om alles gepak te kry.
Ek kom by die bussie. Die gas braaier word laaste gelaai. Ons vertrek.
Ek sit voor langs Theo. Hy sal bestuur. Vroulief, dogter en seun sit agter
My seun druk ‘n koue bier in my hand.
“Dit lyk of ons gaan piekniek hou?”
“Ja, pa. Daar gaan baie mense wees. Ons gaan vroeg daar aankom. Ontspan maar.”
 

Theo, die polisieman, ken van bestuur. Hy is haastig. Die motors op die pad word meer. Die FNB stadion, struktureel verander na ‘n kolos, ‘Soccer city’, lê skuins voor ons.
Jy sien net mense en motors.
Ek word benoud. Loop. My knie is seer.
Vroulief buk oor my. Sy het ‘n rol lap:
“Willem, sit stil.”
Sy begin my kop skuins oor toedraai.
“Wat nou?”
“Pa, ons het parkeer kaartjies. Maar ons wil so naby moontlik parkeer.”
Die Motors ry stamper teen stamper. Mense kyk na my. Sy voel niks nie, Sy draai my toe. Arm in ‘n sling.
Die eerste Kontrole punt. Theo wys vir die man ons kaartjies.
“Julle moet omdraai. Julle ‘parking’ is daar!” Hy wys vêr onder in die vlei.
Theo: “ Kyk die ou kêrel, hy is siek, ons wil naby gaan.”
“Ok, draai só.”
My gewete pla: “Julle sal gestraf word!”
“Bly stil pa!”
Weer ‘n kontrole punt. Wys die kaartjies. Dit is ‘n vroue wag.
“Julle is verkeerd, julle moet só draai.”
Theo: “ Kyk die oupa, hy is siek, laat ons hier ingaan, assamblief!”
Sy buk af. Bekyk my. Oë versag:
“OK, gaan in hiersó.”
Theo swing die bussie in. Almal lag.:
“Dit is hoe dit werk in Nuwe Suid Afrika!”
 

Hy stop teen die grensdraad. Soccer City, die kolos, staan reg voor ons. Vyftig meter.
Hulle ontknoop my. Boeta gee ‘n koue bier:
“Hier is jou stoel pa, sit. Ons het twee ure tyd voor die hekke oopmaak.”
Ek kyk rond. My bek hang oop. My Volk is my Volk. Almal is vrolik. Almal kampeer. Almal groet. Almal piekniek!
Die manne pak uit. Braaier word aangesteek. Die piekniek begin. Boete haal sy kitaar uit. Verby gangers klink glase. Sulke groot plastiek glase. Die bier tent is net so skuins regs.
Daar is net een Neil Diamond. Almal is opgewonde.
Op tyd, ruim almal op. Die lywe is nou reg. Ons stap hekke toe. Almal stap hekke toe. Ek het sóveel motors, mense, bedrywigheid, nog nooit gesien nie.
By ‘n groot tent, koop sy eers twee glanspapier boeke. Pragtige voorstelling van alles wat ons gaan sien. Orkes lede. Alles.
 

Toue mense gaan deur by die draai hekke. Ons gaan ook deur.
Gou eers in by die krippe. Alles woordeloos skoon en netjies.
Gaan kry ons plekke. Reg voor die verhoog maar baie vêr. Ek sien verskeie groot skerms met ‘n foto op van Neil Diamond. Rustig op ‘n bank, kitaar langs hom.
‘Big Concerts’ tipe van kontrakteurs, het hulle werk gedoen. Ek gee hulle punte.
Ons kry ons plekke. Goeie plekke. Kan mooi sien. Die verhoog is vêr. Boeta stop die vêrkyker in my hand:
“Dit is eintlik nie nodig nie, pa. Op die groot skerm sal jy mooi kan sien.”
Ek sit. Ek gee die argitekte nie punte nie. Die stoel, van mooi plastiek, is eintlik bedoel vir klein kinders. Te klein en ongemaklik. Ek draai maar liewer skuins. Strek die seer been uit in die paadjie. So skuins.
Luidsprekers speel sag, alles opnames van Neil Diamond. Ek gee dit ook nie punte nie. Hulle moet liewer ander soort musiek nou speel.
Mense pak die massiewe stadion vol. Sommige sê, ‘n honderd duisend! Dit klink vir my effe te veel. Saak nie maak nie. Dit bly vreeslik baie mense.
 

Die groen gras is bedek met plate, soos groot teëls, tot voor die verhoog. ‘n Deel van die gras, hier voor ons, is nie bedek nie. Ek sien mense afbuk, voel oor die gras. Is dit ware gras? Kuns plastiek gras?
Nee. Dit is eg en waar. FNB doen sy ding. Sy stadion is in puik toestand.
Duisende stoele is uitgepak reg voor die verhoog. ‘Die duurder kaartjies’. Mense pak dit vol
 

Vir die eerste keer vra ek. Uit nuuskierigheid, wil ek net weet:
“Marlene, hoeveel kos hierdie verjaarsdag persent?”
“Pa, jy gaan my skuld. Ons kaartjies, sonder die parkering is R800 elk. Daardie voor die verhoog is oor die R1000!”
Ek maak somme. Tel op, vermenigvuldig, trek af, deel. Ek kry by benadering, net so naastenby, R64 miljoen
Ek wonder hoeveel Neil vir hulle gevra het. Ek glo, hy is nie ‘n goed koop outjie nie.
 

Die tyd stap aan. Die mense begin die ‘Meksikaanse Golf’ maak. Hulle fluit en klap hande. Ritmies. Die mense raak haastig.
Die musiek doof uit. Die man praat. Luidsprekers is goed en duidelik:
“Kry julle plekke ( En hou djulle bekke, en sit stil. Is seker wat regtig wil sê) Die vertoning gaan begin!”
Die ligte doof uit. Die orkes begin. My kop draai. Klank maak hoendervleis. Net soos die aand. Die Griekse teater.
Die openings lied van ‘Hot August night’.
Die mense juig. Dit is waarvoor hulle al die moeite en koste gedoen het.
Hy verskyn van agter die gordyn. Ek kyk deur die vêrkyker. Ek wil hom sien.
Ek sien. Neil Leslie Diamond.
 

Hy het ouer geword. Ek het ook ouer geword. Hy is tien maande ouer as ek. Hy is 24 Januarie 1941. Ek sien sy probleem. Dit wys effens. Net effens. In 1979 het hy ‘n gewas aan sy rugstring gehad. Dit is verwyder maar die herstel het lank geneem. Hy was lank buite aksie. Dit raak hom nog steeds. Ek sien hy het pyn.
Neil tel sy kitaar van die staander af op. Die orkes gee hom ‘n kans. Sy stem kom deur die luidsprekers. Rillings, golwe, elektrisiteit gaan deur my liggaam .
Almal staan op. Juig, klap hande, fluit. Neil Diamond is by ons!
Neil doen sy ding. Die stem het nie juis verouder nie.
Ek sien sy gesig. Duidelik deur die verkyker. Neil speel nie toneel nie. Hy geniet die mense. Sy oë lag. Sy gesig weergee sy geniet.
Hy doen verskeie liedjies uit ‘Hot August night
Hy besluit: Die mense moet deel word.
‘Sweet Caroline’ Niel gee sy alles. Klaar. Hy gee die mense opdrag:
“Ek gaan dit weer doen. Julle ho, ho, ho, op my teken!”
Die mense doen saam. Staande.
Neil sê: “ Julle moet dans en saam sing!”
Hy doen dit ‘n paar keer oor
Die hele stadion staan, juig, arms in die lug, sing en dans!
 

Kalmte.
Neil begin sag. Musiek op die agtergrond. Emosie. Neil dra sy liedjie voor met ‘n effe sang. Poësie. Gedig!
Neil speel nie toneel nie. Hy is eg en waar. Sy emosie lees ek om sy gesig. Sien dit in sy stukkende lyf.
“You don’t bring me flowers”
Die musiek sterf weg. Sy stem sterf weg. Hy lig sy kop. Hy praat met die duisende:
“Moenie dieselfde fout as ek maak nie. Ek is twee keer getroud. Twee keer geskei. Ek het nie vir haar blomme gevat nie! Vat vir jou vrou blomme. Regte blomme. Geel, blou en rooi. Ek het ‘n fout gemaak!”
 

Die gehoor luister. Ek weet. More kry baie vrouens blomme.
Neil Trek weg. Die orkes is oorverdowend. Hy dra meer sy gedigte, liedjies op. Hy praat, dra voor, meer as wat hy dit sing, saam met die musiek. Sy woorde klim binne in my in.
Neil eindig met ‘n jubelende:
“Suid Afrika, ek is hier. Ek het kom kuier. Dankie!”
Een na die ander bekende liedjie. Ek sien hy sweet.
 

Neil doen ‘n pragtige liefdes lied saam een van sy sangeresse. ‘n vrou met ‘n fluweel stem.
Die afsluiting is uiters aandoenlik. Die omhelsing miskien net bietjie te eg vir ‘n vertoning. Die vashou net effe te lank. Sy kus op haar wang eg.
Hy maak klaar. Sit sy kitaar neer. Hy lig sy hand in ‘n flou groet. Ek kyk. Ek kyk mooi.
Neil se gesig. Sy glimlag is flou. Sy oë is effe vogtig en vertel. Hy byt sy onderlip vas.
Ek weet. Neil weet. Hy sal nie weer kom nie. Daar is nie tyd oor nie. Nie gesonde tyd nie!
Die groot digter, liedjie skrywer, kunstenaar, speel nie toneel nie.
Hy is vir hierdie oomblik net homself. Hy weet. Een en elk in die gehoor, is mense wat musiek leef. Elkeen lees die geskrewe woord. Dit, die woordkuns, is deel van hulle lewe.
Niel Leslie Diamond, onder gewig, nie lekker nie, met handjie flou in die lug, en sigbaar moeg, verdwyn agter die gordyn.
 

Die verhoog se ligte doof uit.
Hy moet nog ‘n paar van sy dinge, hier in Suid Afrika doen.

Neil, dankie. Baie dankie. Wanneer jy terug is by jou huis. Geniet ‘n rustige oudag.
Mag die Liewe Heer, jou nog lank spaar.

Hulp Bron: Wikipedea.
Uit sy eerste huwelik is twee dogters gebore.
Uit sy tweede huwelik, twee seuns.
Ek weet nie of hy weer getrou het nie

 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dankie hiervoor!
Het lustig, heerlik saam met jou die vertoning bygewoon...hy is een van my gunstelinge en pratige...dit was kosbare oomblikke vir jou...so 'n heerlike verjaardag geskenke!
8 jaar 6 maande 5 dae 2 ure oud


Neil Diamond
Hierdie was heerlik om te lees. Ek is bly ons kon dit nou saam met jou geniet.
8 jaar 8 maande 5 dae 21 ure oud


dankie
Ek het saam ondervind, effens klam om die oge.
Een van die groot komponiste van ons tyd. Komponiste is soos Siberiese Tiere, amper uitgesterf.

Ek sal nie so 'n gedoente aandurf nie, jou kinders is baie lief vir jou. Maar ek het darem die cd's en dit sal langer leef as hy...

Song Sung Blue, everybody knows one
8 jaar 8 maande 1 week 1 dag 20 ure oud


Neil Diamond
Ek is so dankbaar dat jy dit geskryf het, want nou was ek ook daar. Ek se al lankal: As Neil Diamond kom sal ek my kosgeld vat om hom te sien. Toe kom hy en ek bly in Abu Dhabi. Nou bid ek net dat hy hier 'n draai sal maak voor hy sy rustyd aanpak.
8 jaar 8 maande 1 week 1 dag 20 ure oud



Wanneer die vyeboombot

deur adnama

Gedigte uit die hart. Soms vir daardie blou dae en soms om mens net weer te laat dink oor die doel van die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar