Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Soos vele ander voor my, het ek die konings van mediese fondse aangevat en soos vele voor my, die oorlog jammerlik verloor. ‘n Keuse om te eet, of my maandelikse paaiement te betaal, is nie ‘n keuse nie, maar soos met enige keuse, hang die swaard van verantwoordelikheid neem vir jou keuses, gevaarlik bo jou kop.

Ongevalle! ‘n Bankmaak plek met visioene van septisemia, dooie mense en bloeiendes wat hulpeloos wag op hulp. ‘n Plek wat ek beslis nie wou ontmoet nie en tog…

Soos enige ou wat al ‘n niersteen gehad het aan jou sal vertel, is dit ‘n pyn wat goed vergelyk met geboorte skenk en soos om ‘n baba in die wereld te bring, is ‘n niersteen net so onverwags en meer ontydig as ‘n nuwe mensie.

Die pyne het my in die middel van die nag wakker gemaak. Geen boereraat, of die pilleboksie in die badkamerkassie wou help nie. Intussen, indien ek nie van beter geweet het nie, is ‘n wonderwerk baba oppad.

Huisdokter was met vakansie en buitendien, die beursie plat van ou note wat lankal uitgegee was. Uit radeloosheid bondel ons toe in ‘n kar en jaag na die ongevalle afdeling van die plaaslike hospitaal.
Daar aangekom, was ons verstom oor die baie mense wat voor die gebou rond staan. Sommiges rook, ander hang aan ‘n klipmuur, gebou in ‘n lank vergete era en almal praat met gedempte stemme. As ek gemeen het buite is dit besig, het niks my voorberei op wat binne gewag het nie! Die ontvangsvertrek was bedompig van baie asems met ‘n klankie van ou wyn. Die houtbankies vol van mense wat wag. Sommiges slaap, ander hang, die desperates kreun en klein kindertjies hang koorsig aan hul Ma’s en weeklaag deur murg en been.

Die man agter die toonbank lyk onversteurd. ‘n Pasient argumenteer met hom oor sy plek in die wag ry. Die man kou sy kougom asof sy lewe daarvan afhang terwyl hy gesaghebbend die stortvloed van woorde, met ‘n hand omhoog stilmaak. Hy verduidelik, asof aan ‘n klein kindjie, dat hulle volgens ‘n kleurkode stelsel werk. Rooi, is ‘n noodgeval en so aan en so aan. My moed sink tot in my pienk pantoffels want ek besef dat ek ‘n Blou is, of iets dergliks, wat beteken ek is onder aan die lys, want ek was in staat om op my eie twee bene in te kom.

Die verskaf van besonderhede om ‘n leer oop te maak, was nog ‘n probleem. Dit wou voorkom asof die man dalk ‘n gehoorprobleem het, of dat hy te vaak was om in te neem wat ons se. Na ‘n tyd wat gevoel het soos ‘n honderd uur, is ons gelys en met ‘n hand gewuif na die houtbankies. Iewers skuif ‘n pasient op sodat ons kan sit. Ek le met my kop op my man se bene. ‘n Peutertjie kom staan voor my en trek vrypostig aan my hare. Sy Ma snou hom iets toe sodat hy bang, agter haar bene wegkruip en vir my loer met groot, ronde oe. As ek nie soveel pyn gehad het nie, sou ek vir hom kon glimlag. Agter ons, is iemand met ‘n diep, pynlike hoes. Die gesprekke is sag, alhoewel mens die moedeloosheid kan hoor. Een waag om hardop te se: “Nou hoe is die mense dan? Ons wag al drie ure!” Niemand antwoord nie.

Tussen golwe van pyn, sien ek die ou man met die krukke insukkel. Ook die jong man wat ‘n lap teen sy kop hou waaruit die bloed vrylik stroom. Hy lyk nie asof hy pyn het nie. ‘n Oumatjie word met ‘n rolstoel ingestoot. Sy le agteroor en ek wonder of sy nog leef. Sy gee skielik ‘n snak na asem en ek besef dat sy of slaap, of in ‘n koma is, maar beslis nog met ons is.

Die ambulans stop buite en ‘n geroesmoes van stemme laat almal wakker word en regop sit. Hulle dra ‘n persoon in en ek kan nie sien of dit ‘n man, of vrou is nie. Hulle verdwyn met die draagbaar om die hoek. Ons staar almal na die hoek, die oomblik wat ‘n wit uniform sal wink en jy om die hoek mag gaan. Daar waar die hulp vandaan sal kom.

Een van die dronkies in die voorgestoeltes raak onbetaamlik rumoerig. ‘n Groot verpleegster stap in en skel hom uit: “As jy jou nie kan gedra nie, moet jy gaan!” Ons stem almal saam met haar, alhoewel niemand niks se nie. Die dronkie skel terug, maar beweeg by die deur uit. Miskien het hy besef dat hy nie vanaand ‘n skouer hier gaan vind nie.

Die pyn raak nou so erg, dat die trane oor my wange begin loop. My wederhelf staan op en loer om “Die Hoek”. ‘n Sekuriteitswag keer dat hy verder gaan. Die jong man met die oop kop, kyk na my. Hy staan op en loop na die wasbak agter teen die muur en tap water in ‘n plastiese glasie. Hy bring die water en bied dit aan vir my. Die onverwagte gebaar van meegevoel, laat my eers huil. “Ek weetie hoekom die mense so maak nie” se hy vir my man en gaan sit weer op sy plek.

Nadat ek besef van realiteit begin verloor het, word my naam uitgeroep. Ek hang oor my man se arm tot by ‘n stoel wat die verpleegster aanwys. Sweet perel op haar voorkop terwyl sy die bloeddrukmeter aan my bo-arm koppel. Sy vra ‘n paar roetine vrae en skribbel in die leer. “Kom, kom le daar agter daai gordyn,” beduie sy. Ek is so dankbaar om te kan le, dat die trollie sonder laken of kombers, my nie pla nie. My man staan hulpeloos langs my en kyk hoe die suster my inspuit. Ek weet nie eens wat sy my inspuit nie.

Ons hoor later daar is net een dokter aan diens en sy is besig met ‘n “hart”. Ons verstaan en besef dit kan nog baie lank neem, voor genade sal kom. Terwyl ek le, bring hulle nog ‘n vrou in na die tenthokkie langs my. Ek hoor hoe die groot verpleegster met haar praat: “Polina, elke winter haal ons jou van die strate af en maak jou gesond en as ons weer sien, is jy alweer hier!” Polina weeklaag. “Sjjt, moenie so raas nie!” se die suster. “Se liewer vir ons waar is jou man?” Polina antwoord: “Dood! Man, kinders, almal dood!” Dis ‘n oomblik stil, maar ek hoor hoe hulle werskaf langs my al weet ek nie wat hulle met arme Polina doen nie.

Later se die groot suster weer: “ Polina, jy is baie siek. Jy moet jou regmaak want vannag gaan jy jou Skepper ontmoet!” Ek kry ‘n koue rilling en Polina weeklaag weer. Sy hou ‘n bietjie aan, toe word dit genadiglik stil.

Ek dink ek het ingesluimer, maar word vervaard wakker toe Polina skielik met ‘n harde stem uitroep: “Here, my God, vergewe my!” Ek begin sommer saggies huil en wonder of ek nie moet probeer opstaan en na Polina toe gaan nie. Maar wat sal ek daar doen? Miskien haar hand vashou, dink ek, maar staan nie op nie. Dit word stil, behalwe vir die klank van trollies en verpleegpersoneel se stemme.

Ek het geslaap. Toe ek wakker word, sit my wederhelf langs my. Hy het iewers ‘n stoel gekry (gesteel) en by my kom sit. Sy hare is deurmekaar en sy oe bloedbelope van min slaap en kommer. Ek druk sy hand en glimlag. “Ek voel beter” se ek. Ons kyk altwee na ‘n snaakse trollie met ‘n deksel, wat twee portiere in Polina se kwartiere inwiel. Ek wonder nog watter snaakse trollie dit is, toe tref dit my!

Polina is dood.

Die portiere laai haar liggaam in terwyl hulle lag en gesels en wiel haar om ‘n ander hoek. My man druk my styf vas en se niks. Ek steek my voete in my pienk pantoffels en terwyl hy my ondersteun, loop ek met ‘n buitepasiente kaartjie by die deure uit.

Buite, bloos die nuwe dag se son op die oosterkim. Voels in die bome, sing ‘n oggend gesang en ek dink onwillekeurig aan: “Elke knie sal buig en elke tong sal bely…”












Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ai jaai jaai
Hi, ek vertrou dat jou niersteen al teen hierdie tyd jou nie meer soveel drama gee nie. Ek het ook onlangs die ongeluk van ongevalle met my man beleef, dis 'n angsbevange plek waar die hospitaal personeel jou duidelik laat verstaan: dis net hulle werk en hulle voel vir jou as mens maar min tot niks. Baie sterkte. Groete, Magriet Vermaak
11 jaar 11 maande 1 week 5 dae 5 ure oud


sterkte aan ons almal in hierdie land wat vandese tye sonder goeie mediese versekering/hulp/wat-ook-al moet klaarkom. en aan die wat so gelukkig is om medies te hê, ook sterkte want met al jou hoë premies kom daar 'n dag wat jy besef, dit help alles niks. julle betaal heelwat elke maand, maar die medies betaal net uit wanneer jy al bang is jy gaan nie dood nie van pyn.
11 jaar 11 maande 1 week 6 dae 3 ure oud


Ag hemel behoede my en ek hoop van harte jou niersteen het intussen verklein.
11 jaar 11 maande 1 week 6 dae 4 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Plek van die Flaminke

deur Rachelle du Bois

Delia Kriel is mede-eienaar van die vakansieoord Zeesig. Haar eerste ontmoeting met Alex Vorster, haar sexy nuwe buurman, laat haar hare rys. Hy jaag haar kat die skrik op die lyf en hy jaag haar die harnas in. Kortom, hy pla haar, vreeslik, aanhoudend. Hy het haar rustige bestaan hier op Zeesig kom versteur en sy is vies, baie vies. Alex se broer, Xander, is die diep een, die stil musikant wat sy hart op Delia se vriendin, Madeleen, verloor het. Hy is koppig en hy weet wat hy wil hê, maar sy is versigtig vir die liefde, want net 'n donkie sal twee keer oor dieselfde klip struikel. En sy is nie 'n donkie nie. Hy is egter die ideale model vir haar beeldhouwerk en haar kunsuitstalling lê voor . . .



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar