Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ons almal ken gedeeltes van die boek baie goed. Daar is gedeeltes wat ons altyd met Kersfees lees en gedeeltes wat met Nagmaal gelees word en dan is daar ook gedeeltes wat gelees word wanneer ’n nuwe dominee of pastoor in ’n gemeente bevestig word. Maar wat van die res van die boek?

Kom ons begin met hoofstuk een. Die hoofstuk begin sommer met ’n oordeel oor Israel, of soos ons dit eerder ken vandag, as die Kerk, met ander woorde almal wat deel is van die HERE se volk, deel in Sy verbond, maak nie saak aan watter groepering jy behoort nie. Jesaja beskryf hier wat is alles fout. Hierdie hele gedeelte is van toepassing op ons as Christene vandag.

“Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die HERE spreek: Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree. ‘n Os ken sy besitter en ‘n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie. Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die HERE verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai. Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie. Julle land is ‘n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is ‘n wildernis soos by ‘n omkering deur vreemdes. En die dogter van Sion het oorgebly soos ‘n skermpie in ‘n wingerd, soos ‘n slaapplekkie in ‘n komkommertuin, soos ‘n beleërde stad. As die HERE van die leërskare vir ons nie ‘n klein oorblyfsel oorgelaat het nie—soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het. Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra! Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die HERE. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie. As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis—om my voorhowe te vertrap? Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste—Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie! Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My ‘n oorlas. Ek is moeg om dit te dra. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. “(Isa 1:2-15)

Nogal ernstige woorde hier. Ons probeer almal altyd so mooi optree, gebedskettings maak en bid vir mekaar, onsself te offer vir die HERE, om te doen net wat ons glo Hy wil hê ons moet doen, na die dienste toe gaan met elke geleentheid, dae van verootmoediging aankondig, maar Hy sê Hy verdra dit nie, ons is ‘n oorlas vir Hom. Ons hande is vol bloed, want ons doen nie wat ons moet doen nie. Ons is deur Hom gekastei, van ons voetsole tot ons hoof is daar geen heel plek soos Hy ons slaan om ons op die regte pad te kry, maar ons luister nie. Dan volg die gedeelte oor wat ons moet doen. Vers 16 en 17 “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.” So ons almal kry die geleentheid om ons lewe te verander en dit beteken om by ‘n doen Christenskap uit te kom, ’n lewe waar ek begin om liefde aan my naaste te bewys. Johannes stel dit soos volg in 1 Johannes 4 : “20 As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.” U sien die Vader het Sy beste, Sy enigste vir ons gegee sonder dat ons dit verdien het of daarvoor gevra het. En dit is wat die HERE van ons verwag, om onsself vir ons medemens te gee sonder dat hy dit verdien of vra. So ek moenie wag tot ek gevra word om mense te help nie, ek moet hulle gaan uitsoek en vir hulle help, al dink ek hulle verdien dit nie, of al het hulle nie gevra nie. Hierdie is die sleutel tot Christenskap. Ek moenie rondloop en vir mense vertel hoe die HERE my seën nie, nee ek moet dit wat ek van die HERE kry aanwend om ander te help.

Nou gaan Jesaja verder; “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.”(Isa 1:18-20) Dit is die gedeelte wat ons almal ken, maar dit beteken ek moet erken dat ek verkeerd optree, en dan sal Hy my vergewe. Indien nie, sal Sy swaard, die Bybel, ons veroordeel en, verder, is daar sommer met die intrap slag ‘n woord wat min mense wil glo. Vers 21 “Ag, hoe het die getroue vesting ‘n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag—en nou moordenaars!” Nou wonder ons nog waar die hoer van Openbaring vandaan kom. Hier word dit vir ons uitgespel, dat indien ek my nie aan die HERE onderwerp nie en aangaan met my lewe waar ek nie omgee vir my mede gelowige nie, is ek deel van die hoer. As ek aanhou met my vorm godsdiens, is dit wat my lot gaan wees, deel van die hoër. Ek wil graag vra dat jy deur die boek van Amos sal werk om te sien wat die HERE van my gedrag en optrede as vorm Christen dink.

Maar is dit nie wat die gemeente moet doen om vir die weduwee en wese te sorg nie?. Wat sê Jesaja daarvan. “Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie. “(Isa 1:23) Hoeveel keer het ek dit nie self in gemeentes ondervind nie. Sodra jy in ‘n leierskap posisie kom, word daar vir jou gesorg as leier, maar dan moet jy ook weet waar jou vleisie of jou kar of jou geld aan die einde van die maand vandaan kom. Nou sal jy maak soos hulle wil en nie meer soos die HERE wil nie, want hulle is die gesiene lede van die gemeenskap en gemeente. As hulle sê spring, dan moet jy spring. Maar die oomblik wat jy nie doen soos hulle wil nie, dan gaan jou gemeente ten gronde. So, die leiers moet optree soos die gemeente wil hê dat hulle optree. En dit is verseker nie om na die weduwee en wees om te sien nie, want die gebou moet betaal word, die leraars moet betaal word, ens.

Gelukkig sluit die hoofstuk af met ‘n gedeelte wat die HERE sal doen in die tydperk hierna. “En Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin; daarna sal jy ‘n stad van geregtigheid, ‘n getroue vesting genoem word.”(Isa 1:26) Dit is wat die HERE beplan in duisendjarige ryk wat voorlê.

En die was maar hoofstuk een.

Hoofstuk twee begin met ‘n baie interessante gedeelte. Dit verklaar vir ons dat aan die einde van die dae, met ander woorde in die duisendjarige vrederyk, sal die HERE se huis op Sion staan en sal die mense almal opgaan sodat Hy hulle kan leer van Sy weë en almal in Sy paaie kan wandel. “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.” Nogal baie interessant dat ons dan sal leer hoe om Hom te eer en in Sy weë te wandel. Meeste van ons dink dat dit is wat ons op aarde moet doen, maar met soveel verskillende faksies, moet ons verseker almal leer sodat ons in eenheid Hom kan dien. Hoe anders gaan ons almal kan saamleef in die Nuwe Jerusalem as ons nie eers almal geleer het wat reg en verkeerd is aangaande ons lering nie?

Maar nou volg ‘n gedeelte wat my vir jare besig gehou het. “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Wanneer ek weer na die model van Israel kyk, sien ek dat ons dan in verskillende gedeeltes woonagtig sal wees volgens wat ons glo. Dit is wat vir ons hier duidelik gemaak word. Ons sal nie almal in dieselfde plek woonagtig wees in die duisendjarige vrederyk nie, maar sal bly in streke wat ooreenkom met hoe ons glo. Daarna, nadat ons geleer het wat ons moet, sal die HERE oordeel en reg spreek oor almal, en sal daar nie meer ‘n bakleiery wees oor wie is reg en wie is verkeerd nie.

Hoekom sal dit gebeur? Wat is dan fout met ons as Christene? Die volgende verse maak dit redelik duidelik. Onthou net die oordeel begin by die Kerk.

• “Hulle is vol van wat die ooste aanbied”. Hoeveel gebruike vind ons nie vandag wat van ander gelowe oorgewaai het na Christenskap nie, soos New Age, joga, meditering om maar net ‘n paar te noem. Al hierdie Hindu en Boeddhistiese gewoontes het hul plek in Christenskap gekry en word aanvaar.

• Die volgende gedeelte in dieselfde vers gaan oor goëlaars, met ander woorde mense wat vreemde goeters doen in die naam van Christenskap. Ek was eendag by ’n byeenkoms waar die persoon wat homself as ’n apostel uitgemaak het, vir mense gewys het hoe hy stoele op mekaar stapel sonder dat hy daaraan raak, en dit natuurlik uitgemaak as ‘n wonderwerk. Al wat hy gedoen het, is gebruik gemaak van psigiese kragte, wat afkomstig is van die Ooste. Ander weer wys hoe hulle hul hare skud en goud uitval en ander bring weer edelgesteentes voort.

• Die laaste gedeelte van die vers sê dat die Christene met kinders van vreemdes handel dryf. So die gemeentes het die Woord van die HERE gebruik om mense wat nie deel is van die verbond in die gemeentes op te neem ter wille van geld.

• Vêrder word daar ook vir hulle vertel dat hulle vol van silwer en goud is en dat daar geen einde is aan hulle skatte nie. Dit is mos hoe dit met ons gemeentes gaan. Daar moet altyd geld weggesit word en gespaar word, want ons moet mos voorsiening maak vir die maer jare, maar om dit uit te deel vir die wat vandag tekort kom, dit is nie die kerk se probleem nie. En dan aan die anderkant van die spektrum kry jy weer die wat glo dat net terwyl hulle hul tiende gee, moet die HERE hulle seën en indien jy nie geseën word nie, is die fout by jou, want die HERE sal jou ryk maak.

• Dan volg ’n gedeelte waar nog verkeerde handelinge uitgelig word, soos die wins maak uit die Woord van die HERE en nog baie ander verkeerde gewoontes.

• Van vers 9 af in die hoofstuk behandel die HERE dié een probleem wat alle mense raak, naamlik, hoogmoed. Jesaja stel voor dat die mense hulle gaan wegsteek in ’n rots sodat die HERE se oordeel hulle nie tref nie. Dit is dieselfde woorde wat in Openbaring 6 verse 15 -17 gebruik word. “en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” Hoogmoed is seker die grootste probleem vandag, wat alle mense, oud en jonk, arm en ryk, mee sukkel. Dit is hoe Jesaja dit stel. “Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees. Want ‘n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word; en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome van Basan; en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels; en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure; en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke. Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees”. (Isa 2:11-17)

• Die hele stuk tot aan die einde van hoofstuk vyf gaan daaroor dat omdat ons as mense nog steeds verkeerd doen, sal die HERE ons deur Sy oordele bring tot by die plek waar ons finaal ons voor Hom sal buig en Sy heerskappy aanvaar. Hierdie gedeelte sal oor die Kerk kom, nie oor die mense wat nie die HERE ken nie. Onthou net Israel en Juda was Sy volk en daarom sal dit met ons as Sy nuwe volk, ook gebeur.

’n Kort opsomming van sommige van die punte is as volg:
• Hoofstuk 3. Hy sal alles waar ons op steun wegneem van ons af. Hy sal seuns ons vorste maak en kinders sal oor ons heers. Is dit nie wat al vandag die geval is nie? ’n Mens hoef maar net te luister en winkel toe te gaan op ’n Saterdag of Sondag en dan sal jy gou agterkom wie is in beheer van die situasie. Ouer of kind? Vers 12 gaan verder en sê die vroue heers oor die kinders en dit sien ons daagliks hoe vrouens hulle sin kry deur kinders as wapen te gebruik. Vêrder het die leiers, en dit sluit ons kerkleiers in, verleiers geword. Dit hoor ’n mens daagliks van die preekstoel of podium af, ’n boodskap sonder enige ware liefde, wat net jou gerus stel dat jy nie hoef te verander nie. Jesus het mos alles gedoen, maar van gehoorsaamheid is daar nie sprake nie.

• Hoofstuk 4. Hier leer ons dat in die dag Jesus as sieraad sal wees in Sion en die wat oorgebly het in Sy Kerk, sal heiliges genoem word. Die HERE sal weer soos in die woestyn ’n wolk wees wat beskerm teen die son en ’n rookkolom met vuur in die nag, so Hy sal weer alleen ons beskerming wees. Niks van ons verkeerde leërings sal oorbly nie.

• Hoofstuk 5. Hier gebruik die profeet vir ons ’n gelykenis, soos wat Jesus gedoen het. Dit gee ons die rede waarom daar oordele sal kom oor Sy kinders en wat met hulle sal gebeur. Vir meeste sal dit wees as gevolg van ’n gebrek aan kennis van hoe ons as Christene moet optree. “Laat my tog sing van my Beminde; ‘n lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het ‘n wingerd op ‘n vrugbare heuwel. En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het ‘n toring daar binne-in gebou en ook ‘n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring. Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my wingerd. Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring? Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit ‘n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie. Want die wingerd van die HERE van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu! Wee hulle wat huis aan huis trek, akker aan akker voeg, totdat daar geen plek meer is nie, en julle alleen grondeienaars in die land is. In my ore het die HERE van die leërskare gespreek: Waarlik, baie huise sal ‘n woesteny word, die grotes en mooies sonder inwoner. Want tien morg wingerd sal een enkele bat oplewer, en ‘n homer saad sal ‘n efa opbring. Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit. En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors. Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat, en daarin sink hulle adel en hulle menigte en hulle luidrugtigheid en diegene onder hulle wat uitgelate is”. (Isa 5:1-14) Hier vertel Jesaja ons hoe die HERE voel oor ons as Sy kinders. Hy het ons net die beste gegee, maar ons vrugte wat ons dra, pas nie by ons nie. Ons vat alles wat ons van Hom ontvang vir onsself en dink nie aan ons naaste nie. Dan gaan Jesaja verder: “Wee hulle wat die ongeregtigheid nader trek met koorde van goddeloosheid, en die sonde soos met wa-toue; wat sê: Laat Hy gou maak, laat Hy sy werk verhaas, dat ons dit kan sien! En laat die raad van die Heilige van Israel naby wees en kom, dat ons dit kan ken! Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is. Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng; wat vir ‘n omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die regverdige hom ontneem”. (Isa 5:18-23) Hoeveel mense kan nie wag vir die einde van die wêreld nie, maar het nie ‘’n idee watt gaan dan gebeur nie? Dit is wat Jesaja probeer deurgee.

• Hoofstuk 6. Jesaja word as profeet geroep. Hier sien ons ’n beeld soos wat Esegiël gesien het. Johannes het ook na die beeld verwys as Jesus in Johannes 12: “En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie; sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het: Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Dit het Jesaja gesê toe hy sy heerlikheid gesien en van Hom gespreek het.” (Joh 12:37-41) Hoe lank gaan dit aanhou? Tot die einde toe. Hoeveel mense is afgestomp oor die Woord van die HERE. Ek lees daagliks van mense wat alles in die Bybel bevraagteken, want hulle kan hulle nie met so ’n God vereenselwig nie. Nee, hulle het ‘n keuse gedoen om nie te luister na dit wat hulle moes luister nie. Van die mense het hulle moeg gewerk vir hulle gemeente, maar het op die uit einde besluit hulle het nie die HERE gesien in dit wat hulle gedoen het nie. Dit is seker so, maar hulle het Hom gesoek in hulle manier van dien en nie Hom gesoek waar hulle hom sou vind nie, en dit is met ’n verslae gees, en ’n gebroke hart. (Ps 34:19, Ps 51:19)

• Hoofstuk 7. In die hoofstuk moet Jesaja sy seun saamvat na die koning Agas. Hier is van die min gevalle waar die koning nie die profeet laat kom het nie, want hy het nie sy vertroue in die HERE gestel nie. Hy het ook nie tempel toe gegaan nie, maar by die water om uit te werk hoe hulle kan verseker dat indien die vyand hulle aanval of beleer, dat hulle steeds water binne die stad sou hê. Die HERE gee wel aan Agas die versekering dat dit waarvoor hy bang is nie sal gebeur nie. Maar nou volg ’n gedeelte wat ons baie hoor. Die HERE vra dat hy ’n teken moet vra van die Hom, maar hy wil nie, want dan verklaar hy dat hy sy vertroue in die HERE stel. So eintlik is dit ‘n klap in die gesig van die HERE. Maar die HERE sê Hy sal ’n teken gee. “Daarom sal die HERE self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem”. (Isa 7:14) Wat beteken Immánuel? Dit beteken dat die HERE saam met ons is elke dag, iets wat Agas nie wou hoor nie. Dan volg ’n gedeelte waar die HERE weer vir Agas laat weet dat daar dae sal kom wat hulle nie wil hê nie, want die HERE sal hulle oordeel omdat hulle nie op die HERE vertrou nie. So is dit ook met ons. Ons moet vashou aan Sy beloftes en weet Hy is altyd met ons.

• Hoofstuk 8. Die hoofstuk bevat vêrdere oordele oor Jerusalem. Dit spel ook uit dat dit skielik sal gebeur, nog voordat sy seun wat hy moes saamvat na Agas kan Vader of Moeder sal sê, sal Jerusalem besoek word deur die HERE. Dit het ook so gebeur. Vêrder hou die mense ook nie van die rustigheid van die HERE se ryk nie, want hulle verag die waters van Siloam. Die waters van die stroom het rustig gevloei, terwyl die van die Eufraat met fors vorentoe gegaan het en dit is wat hulle in hul koninkryk gesoek het. Nou sê die HERE Hy sal hulle oordeel deur die water oor hulle te laat spoel. So omdat hulle nie tevrede was met ’n klein koninkryk nie, maar ’n magtige koninkryk wou hê, sal Hy hulle oordeel. Dan volg woorde wat my nog altyd na aan die hart lê. “Julle mag nie alles ‘n sameswering noem wat hierdie volk ‘n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie. Die HERE van die leërskare—Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees! Dan sal Hy vir julle ‘n heiligdom wees, maar ‘n klip waar ‘n mens teen stamp en ‘n rots waar ‘n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, ‘n vangnet en ‘n strik vir die inwoners van Jerusalem. En baie onder hulle sal struikel en val en verbreek en verstrik en gevang word. Bind die getuienis toe, verseël die wet in die hart van my leerlinge. En ek sal wag op die HERE, wat sy aangesig verberg vir die huis van Jakob, en op Hom hoop. Hier is ek en die kinders wat die HERE my gegee het—tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die HERE van die leërskare wat op die berg Sion woon. En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.”(Isa 8:12-20) Die gedeelte lig vir ons uit dat indien ons leer nie dit is wat in die Bybel voorkom nie, ons in die duisternis. Die laaste vers sê dat hulle nie meer in duisternis sal wandel nie. Dan begin hoofstuk 9.

• Hoofstuk 9. Ek hoop u sal nou verstaan waaroor die Lig gaan wat Jesaja hiervan praat. Want omdat hulle in die duisternis was, sal ’n Lig vir hulle opkom. “Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn”. (Isa 9:1) Hier begin die gedeelte wat ons almal ken, waar die koms en doel van Jesus verduidelik word. Nou word daar aan ons meegedeel dat Sy koninkryk ’n ewige een sal wees. “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” Hier word die duisendjarige vrederyk se begin aangekondig en bevestig dit dat die wat die tweede dood nie sien nie sal vir ewig saam met Jesus in Sy ryk wees. Maar voordat dit gebeur, sal daar eers afrekening van die volk se sondes moet kom. So daar sal na ons lewens gekyk word en alles wat verkeerd is uitgeroei woord. “(9:12) Maar die volk bekeer hulle nie tot Hom wat hulle slaan nie, en hulle soek nie die HERE van die leërskare nie.” Lees maar die res van die hoofstuk, want dit is nie goeie woorde nie. As voorbeeld net twee verse: “Die oudste en aansienlike, dié is die kop, en die profeet wat leuens profeteer, dié is die stert; en die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op ‘n dwaalweg gebring.”(Isa 9:15-16) Dit is wat ons vandag elke dag in baie gemeentes ervaar.

• Hoofstuk 10. Die hoofstuk vervolg van hoofstuk 9 oor dit verkeerde wat gedoen word. Dit begin sommer met dit wat baie mense na aan die hart lê, al die moets en moenies van Christene. “Wee hulle wat heillose insettinge tot wet maak, en die skrywers wat moeite ywerig voorskrywe, om die armes van die gereg weg te stoot en om die ellendiges onder my volk van die reg te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en hulle die wese kan plunder. Maar wat sal julle doen op die dag van besoeking en by die verwoesting wat van ver af sal kom? Na wie sal julle vlug om hulp, en waar julle rykdom wegbêre? Hulle kan net maar buig soos geboeides en val soos diegene wat gedood is. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.(Isa 10:1-4)” Hier hoor ons presies waaroor Christenskap gaan vandag. Jy mag nie dit doen nie, jy mag nie so optree nie, nee, jy moet so optree want dit is hoe ‘’n Christen maak. Maar om te kyk na wat regtig saak maak, is daar nie sprake nie. Dit is die einde van die oordele oor Israel vir nou.

Hierna skuif die oordele na Assur. Maar hoekom Assur, en wie is die Assiriërs van vandag? In my soeke het ek gevind dat die Assiriërs afstammelinge van Kus was, Noag se seun, en het Kus en sy afstammelinge Babel en Nineve as stede aangelê. Daar is baie oor sy seun Nimrod geskryf, veral buite die Bybel. Wat ek wel weet is dat dit is waar die moeder en kind afbeelding vandaan kom. En dit vind ons by die Roomse Katolieke kerk van vandag, asook by meeste van die Ortodokse kerke van Europa. So dit is my antwoord van vandag. Die oordeel sal oor die mense van die RKK en die Ortodokse kerke van Europa sal kom. Een aspek wat ek hier duidelik wil stel, is dat ek nie die of enige van die ander nasies wat ek nog sal bespreek, as heidene beskou nie, maar ons is almal kinders van die HERE, al bly ons in verskillende lande. Al wat gaan verskil, is die oordele wat ons sal ontvang en die oordele is gebaseer op die manier wat ons glo in die HERE. Ons kan nie verwag dat ons almal dieselfde oordele moet ontvang as ons nie dieselfde foute gemaak het met die manier van glo nie. Nou kan ons aangaan met die hoofstuk. So kan ons dus hoofstuk na hoofstuk behandel om uit te vind wat daar werklik staan en wat die verskillende oordele sal wees.

Ek gaan hier eers ophou, totdat ek weer reg is om verder met die oefening te gaan. Ek glo dat dit nog een of ander tyd hierdie jaar sal wees, maar wie weet, dalk is dit eers oor vyf jaar, of dalk glad nie. Ek weet net dat ek nou eers moet ophou, so dit is wat ek doen dit.

Seën vir u op u paadjie vorentoe in die lewe.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Terugvoer
Dit lyk my die mense lees nie wat ek geskryf het nie. Onthou hierdie is die laaste hoofstuk van 'n boek "Ontwaak jy wat slaap", wat so stuks gewys op Woes gepos is.

So lees maar die hele boek voordat u tot gevolgtrekkings kom. Verder deel Paulus in 1 Korintiërs 10 dat ons moet kyk hoe die HERE met Israel opgetree het, en dit dan as voorbeeld sal gebruik van hoe Hy teenoor ons as Kerk sal optree.

En ek verstaan dat daar mense is wat by die hemelse Jerusalem uitgekom het. Dit is juis waaroor die boek gaan, en brei uit dat daar nie net 'n Jerusalem in die hemel is nie, maar ook ander gedeeltes. En ja, eers aan die einde van die tydperk waarna almal verwys sal vervul word waarvan Paulus skryf in 1 Korintiërs 15 vers 24: "Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het."

'n Gedeelte van die inleiding van die boek is as volg: In die boek wil ek graag kyk na die verskillende profete en hul siening van die toekoms. Ek is bewus daarvan dat baie van u dalk sal wonder hoekom spesifiek die Ou Testamentiese profete en hulle siening van die toekoms, maar was u bewus daarvan dat baie van die profete se woorde nog nie vervul is nie? Een so ‘n voorbeeld kom uit Jeremia 30:3 “Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle sal terugbring om die land te besit wat Ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.” Meeste van die kommentare bevestig dat Israel as volk, met ander woorde al Jakob se nasate, nooit Kanaän in besit geneem het na die Babeloniese tydperk nie, aangesien die stamme wat weggevoer was slegs Benjamin en Juda se stamme was, en het hulle toe onder bevelvoerders gestaan wat deur hulle oorheersers aangestel is.

Ander profesië is soos die van Daniël se 70 weke, wat party persone verklaar gedeeltelik volbring is. Dan is daar Sagaria, wat gesien het hoe die nuwe aarde verskyn en sal lyk, en dan is daar Esegiël se tempel. Verder is daar ook nog ander skrifte soos in Jesaja wat verklaar dat Egipte die HERE sal dien, saam met Assirië, en nog sommer vele meer.

Ek wil dus graag kyk na hoekom die ou profete sekere gesigte gesien het, op wie dit van toepassing is, en wat dit beteken. Verder vat ek nie verskillende Kerkgenootskappe aan nie, want u sal sien almal is in die hemel tydens die duisendjarige vrederyk, en dat selfs die Kerk in Jerusalem oordele sal ontvang. Ons kan nie almal ewe skielik dieselfde glo as ons die dag sterf nie, so daar sal 'n tyd wees waar ons almal onder Christus sal leer en besef wie hy was en hoe ons Hom moet dien, voordat Hy Sy Koningkryk oorhandig aan die Vader.

En o ja, voordat ek vergeet, dit is MY siening, en ek probeer regtig nie jou oortuig dat jy verkeerd is nie. Ek kan immers skryf wat ek wil en hoe ek glo.



7 jaar 6 maande 1 week 1 dag 17 ure oud


Jesaja en die eindtyd
Hierdie artikel - en ek verstaan want dis hoe ons oor jare heen geleer is - ruk soos die talle ander eindtydontledings profesieë wat te doen het met die geskiedenis van Juda (en nie eers die totale ou volk van Israel nie) uit hul konteks uit en forseer dit in die moderne konteks in. Dis die nalatenskap van die tegnieke van Griekse filosofie.

Jammer, maar sulke filosofiese ontledings het deur die eeue, en veral die afgelope drie dekades of wat, ontsaglike skade aan die beeld van die Christelike geloof gedoen. Net in my leeftyd het bykans 50 eindtydvoorspellings al gekom en gegaan - dis nou van die meer as 200 wat oor die tyd heen gemaak was.

Die totale Hebreeuse kultuur waarin die Bybelboeke ontstaan het, het onder die eindtydkonsepte/laaste dae die Messiaanse tyd verstaan. Christene moet besluit of Jesus van Nasaret hierdie Messias was of nie. Openbaring 15:8 dui aan dat niemand toegang tot God gehad het voordat die sewe plae van die sewe engele volbring was nie. Het Christengelowiges toegang, of het hulle nie?

Die brief aan die Hebreërs (9:12)lui dat Chritus eenmaal in die heiligdom ingegaan het om ewige versoening teweeg te bring (tussen mens en God).Heb. 12:22 lui ook dat hulle reeds by die hemelse Jerusalem gekom het. Sou hierdie briefskrywer dan gelieg het?

Dis tyd dat gelowiges leer om die Skrif sonder al die filosofiese besoedeling te lees, dan sal ons nie sulke gekke van onsself maak in die oë van die humaniste en ateïste nie. Maar bowe-al, dalk sal ons weer die krag van die Woord ontdek wat ons so deur ons tradisies afgewater het.
7 jaar 6 maande 1 week 1 dag 19 ure oud


Ter Inligting
Ek deel graag met jou die gedagtes en vrae wat by my opkom in afhanklikheid van jou skrywe, nie noodwendig om jou aan te val of aan te kla nie maar sodat jy kan weet watse reaksie dit in sommige mense ontlok. Dis mos beter om te weet as om onkundig te bly oor die gevolge van mens se aksies, nie waar nie?

Hierdie tipe benadering op die ou profete van Israel fassineer en bekommer my, nie so erg soos ouens soos raqia se rasgesentreerde manewales nie maar tog. Sover ek kan agterkom was Jesaja se woorde eintlik net op die werklike Israel en die omliggende volke van daai tyd van toepassing want ek vind nie waar hy of enige ander mens verklaar dat dit nie so is nie.

Wat maak dit julle wat ons vertel dat dit op alle Christene van vandag van toepassing is?

Hoekom doen julle dit? Is dit omdat van sy voorspellings volgens julle nog nie waar geword het nie en julle graag wil hê dit moet? Is dit omdat julle glo van sy voorspellings gaan oor Jesus en nie oor 'n vors van Dawid in sy eie dae nie? Is dit dalk oor julle nie wil glo dat God daai tyd al sy mense se sondes kon vergewe en hulle wit maak soos sneeu nie weens dit dan kan mos voorkom of dit Jesus se offer oorbodig maak en dan omtrent alles wat julle oor Jesus preek vals maak?

Weereens laat die gegewe skrif en julle tipe ouens te interpretasie daarvan mens wonder wat julle motiveer om dit wat vir ander mense bedoel was nou op julle self van toepassing te maak.

Dis mos maklik om die Roomse Katolieke kerk van vandag, asook meeste van die Ortodokse kerke van Europa se foute uit te wys. Wie wys jou foute uit of het jy nie foute nie? Indien jy wel erken dat jy self nou foute het, is een van hulle nie juis hierdie tipe gebruik van woorde wat eintlik vir iemand anders bedoel was asof dit op alle Christene van vandag van toepassing is? Hoe kan ek dan enigiets wat jy sê ter harte neem?

Ek dink ek gaan my liefs nie aan jou interpretasie van Jesaja steur nie. Netnou mislei jy my sonder dat jy dit agterkom of bedoel, nes die Roomse Katolieke kerk van vandag asook meeste van die Ortodokse kerke van Europa volgens jou doen.

Jy hoef jou egter nie veel aan my reaksie te steur nie want die meeste mense wat jou skrywes lees is hoogswaarskynlik reeds van omenby dieselfde dinge as jy oortuig, het tien teen een al 'n preek of skrywe op soortgelyke trant gehoor of gelees en dit sal hulle net aanspoor om nog sterker te glo dat dit is soos hulle reeds glo al is die hele lot van julle dalk heeltemal die spoor byster.
7 jaar 6 maande 1 week 2 dae 6 ure oud



TRILOGIE

deur Warra-Warra

Bundel Naam: not ‘n f#& ISBN #: 978-0-620-46799-5 Inhoud: Gedigte (selfmoord; aanranding & mishandeling; egbreek & egskeiding; prosa) Bundel Naam: liefde se g$# ISBN#: 978-0-620-46800-8 Inhoud: Gedigte (liefde; romanse; vriendskap; SielsGen♫t versugtinge) Bundel Naam: alle'ander K#& ISBN#: 978-0-620-46801-5 Inhoud: Gedigte (tussen die lyne; tussen'in woorde; woord'affair; digters'waan; duet gedigte)



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar