Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Geboorteverhale
Terwyl die Christendom getooi is met vele kunswerke van Moeder en Kind, is die Egiptiese erfenis ryk aan kunswerke van Isis met haar suigling Horus, seun van Osiris.
Vergelyking van die geboorte van Jesus met die Egiptiese mitologie:
Van beide Horus en Jesus word daar gesê dat hulle voor hulle geboorte bestaan het (pre-eksistensie).
Horus word by geboorte as die woord van sy vader beskryf. Sy pleegvader se naam was Seb en sy moeder Nu, ook genoem Meri. Johannes noem vir Jesus die vleesgeworde Woord en sy ouers is Josef (Jo-seb) en Maria. Onnodig om te sê, beide geboortes was maagdelik.
Beide Jesus en Horus spog met 'n adellike afkoms en albei het bekend gestaan as "die eniggebore seun van God".
Jesus se geboorteplek was Betlehem (wat beteken "Huis van Brood"), terwyl Horus uit Annu kom (wat beteken "Plek van Brood").
'n Spesiale ster in die hemel kondig beide geboortes aan. Horus se geboorte word bygewoon deur drie sterrekykers wat die ster Sirius gevolg het as padwyser. Hulle bring geskenke vir die klein kindjie.
Die bose koning Herodes wat die kindermoord inisieer, het 'n voorloper in die persoon van Herut (Herodes). Sommige historici is van mening dat Herodes soveel as tien jaar voor Jesus se geboorte aan Palestina onttrek is. Om hom by Jesus se geboorte te betrek, blyk dus 'n stap te wees wat eerder die mitologie as die geskiedenis dien. Die ooreenkoms tussen die twee heersers se name was waarskynlik net te aantreklik om te ignoreer.
Beide moeders ontvang goddelike waarskuwing dat hulle babas in gevaar verkeer. Horus se ouers vlug uit Egipte uit; Jesus se ouers vlug met hulle pasgebore baba na Egipte toe.
Die ooreenkomste eindig egter nie by die geboorteverhale nie –
Jesus maak die aanspraak dat hy en die Vader een is en wie hom sien, het die Vader gesien. Horus het ook bekend gestaan as die seun in wie die vader gesien kan word.
As inkarnasie van die songod was Horus die lig van die wêreld, verteenwoordig deur die alsiende oog van Horus. Hy het ook bekend gestaan as die goeie herder wat tradisioneel uitgebeeld is met 'n herderstaf in sy hand. Daarom is hy beskou as die lam van God. Al hierdie eienskappe is net so op Jesus oorgedra.
Altwee hierdie godseuns het as kinders in tempels onderrig gegee, maar "verdwyn" tussen die ouderdom 12-30; 'n periode waarvan ons niks weet nie.
Jesus word met die aanvang van sy bediening gedoop deur Johannes die Doper; Horus is gedoop deur Anupp die Doper (beide op dertigjarige ouderdom). Altwee die dopers is later onthoof! Na die doop word Jesus deur Satan in die woestyn versoek. Horus het dieselfde paadjie geloop: hy word deur die bose Sut op 'n bergpiek versoek.
Horus het twaalf volgelinge gehad, wat ooreenstem met Jesus se twaalf dissipels.
Jesus het bekend geword as die Christus; Horus was die Krit.
Beide ervaar 'n verheerliking op 'n berg en het bergpredikasies gelewer.
Jesus genees blindes; Horus gee sig aan 'n mummie.
Beide Jesus en Horus het op water geloop.
Met die voeding van die skare gebruik Jesus by een geleentheid vyf brode, by 'n volgende sewe. Horus het twee duisend jaar vroeër sewe brode gebak om Osiris te voed.
Horus wek sy vader en 'n ou man genaamd El-Azar-us uit die dood op, Jesus maak vir Lasarus weer lewendig.
Beide Horus en Jesus sterf 'n kruisdood en word gekruisig tussen twee booswigte. Albei gaan maak 'n draai in die hel en word na drie dae weer opgewek uit die dood.
Die basiese Egiptiese drie-eenheid Osiris, Isis en Horus blyk die model te wees waarop die Christelike Drie-eenheid geskoei is.
Ander konsepte wat nie uniek Christelik is nie: wyse manne wat hulde bring, die verskyning van 'n ster, maagdelike konsepsie, stemme/hemelkore wat die geboorte aankondig, verhale oor kinderslagting wat 'n vlugmotief noodsaak, ensovoorts, kom by die geboortes van alle groot godsdiensleiers voor.
Die volgende konsepte is ook nie uniek Christelik nie:
Jesus was nie die enigste "seun van God" nie.
Jesus was nie die enigste wonderwerker nie (al die wonderwerke – genesings, voeding van skares, opwekking uit die dood, water in wyn verander – is ontleen aan verhale wat lank voor Jesus se bestaan in omloop was).*
Die doop en nagmaal kom in baie godsdienste voor.
Byna elke middelaar tussen God en mens – en daar is baie van hulle! – word beskryf as die "weg."
Die worstelende godseun (Jesus in Getsemane) behoort tot die universele agenda van die mitologiese held.
Tradisioneel kom elke held tot 'n val as gevolg van óf 'n inherente Achilleshiel, óf die verraad van een uit die binnekring.
En, jammer om u te ontnugter, maar die held wat sterf om die mens met God te versoen, is ook nie uniek Christelik nie...
*Opmerking: Daar is geen wonderwerke nodig om verwondering te ontlok nie! Ons kan in vervoering raak oor die boodskap en lewe van Jesus sonder om ons aan sy wonderwerke te vergryp.
Bekyk die volgende twee aanhalings:
"Thou has saved us by shedding thy eternal blood."
"Have they sacrificed thee? Do they say that thou has died for them? He is not dead! He lives for ever! He is alive more than they, for he is the mystic one of sacrifice. He is their Lord, living and young for ever!"
Bogenoemde twee aanhalings kon gepaste verwysings wees na die dood en opstanding van Jesus. Die plaasvervangende funksie van sy dood word veral in die eerste aanhaling baie mooi onderstreep. Maar daar is 'n diskrepansie: nie een van die aanhalings is van toepassing op Jesus nie. Die eerste verwys na die Persiese held Mitras, die tweede na die Egiptiese god Osiris.
Dit onderstreep net die feite: die simboliek wat die kerk om die lewe en sterwe van Jesus geweef het, is nie oorspronklik nie, maar leengoed uit ander godsdienste. Die Osiris-aanhaling vertel van godsdienstige oortuigings wat 4000 jaar ouer as die Christelike godsdiens is!
Tereg kom Campbell tot die gevolgtrekking dat –
"...the myth of the dead and resurrected god whose being is the life-pulse of the universe has been known to the pagans millenniums before the crucifixion of Christ."
Gooi mens hiermee die spreekwoordelike jakkals in die hoenderhok? Plaas hierdie aannames die hele ruggraat van die Christelike geloof op die spel?
Slotgedagtes
Wie die Bybel en Christelike simbole letterlik wil lees, sal enduit verdedigend moet optree. Die kernmotiewe waarvan die Christelike godsdiens hom bedien, kom in alle groot godsdienste voor. Mense het deur die eeue heen hulle prentjies van God en hulle idees van hoe die mens met God versoen kan raak, in verhale uitgedruk. Maar die Christendom het hierdie verhale gaan verletterlik en boonop vaste dogmas rondom hulle sienings van God geweef. Dit is waarvoor baie hedendaagse mense vandag sê: "Nee dankie!"
Met dank aan dr. Ben Barnard



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Effektief
Hierdie formule van die Seuns van God werk duidelik baie goed as kulturele hulpmiddel in die daarstel van beskawing. Ons weet nou dat dit herhaaldelik in verskeie tydvakke en oor kontinente heen effektief was tot op hede al kan nie een enkele weergawe as werklikheidsgetrou bewys word nie.

Die probleem is dat daar kompetisie tussen die verskillende weergawes is wat tot oorlog en ander vorme van geweld lei, veral noudat ons almal van regoor die wereld in kontak met mekaar kom en dan natuurlik skep dit probleme vir mense wat meer in die waarheid belangstel as in die voortsetting van 'n spesifieke kultuur(godsdiens).

Eendag op 'n reendag mag ons dalk uiteindelik beskaafd kan wees sonder die hulp van sulke stories maar huidiglik is daar nog te veel mense verknog aan die ou stories, soos byvoorbeeld Chris Nel hieronder.
3 jaar 11 maande 1 week 2 dae 23 ure oud


PRAGTIG


ek is juis besig om jou skrywe van Abel Pienaar et al,
te antwoord en die stories is so kunstig inmekaar geweef,
dat die godsdienstiges nie meer die kaf van die koring kan skei nie.

ek sal my opinie en begrip beskryf en verdedig in my skrywe oor Abel.

Onthou die JESUS het eers in 324 vir die eerste keer verskyn
ook is al die geskrifte in Hebreeus verbrand in 400;

Ongetwyfeld is die JESUS van die KERK die valse profeet.
3 jaar 11 maande 1 week 4 dae 11 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Kroniek van die Suid-Afrikaanse Weermag (1912 - 1994)

deur Francis Gillieron

Geskiedenis van die Suid-Afrikanse Weermag vanaf 1912 tot sy ontbinding in 1994



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar