Artikels

Titel: Ope brief aan mans (as die skoen jou pas)

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Liewe man,

Twee dae na Vrouedag is ek seker jy is al vuisvoos. Jy is gebombardeer met artikels en statistiek oor hoe sleg jy vroue behandel en hoe vroue nog steeds ly. Soms kies jy om aan te val (soos wanneer ʼn gevreesde feminis haar verskyning maak) en soms kies jy om te vlug, maar dit is duidelik dat jy self nie meer weet waarheen nie.

Alhoewel ek oor die algemeen met die Vrouedag artikels saamstem, is dit nie waaroor ek wil gesels nie. Jy sal dalk verbaas wees as jy hoor wat ek dink en jou vrou gaan waarskynlik minder van hierdie brief hou as jy.

Ek skryf nie namens enige vrou nie. Ek skryf net namens myself. En daar is al vir my gesê dat ek soos ʼn man oor dinge dink – veral oor seks. Ek skryf ook eintlik hoofsaaklik vir jou, die Afrikaanssprekende man, omdat dit vir jou is wat ek wil antwoord. Want dit is jy wat vir my skryf en bel en oor koffies vir my oor en oor vertel wat jou van jou vrou pla. En oor en oor vertel hoe ongelukkig jy met die stand van sake is.

In my navorsing het dit vir my duidelik geword dat die probleem meer universeel is as net ʼn “Afrikaanse” probleem, maar onder ons is die probleem meer akuut omdat ons huidige waardestelsels en geloofsoortuigings alles vererger.

Jy hou nie eintlik baie van die deursnee Afrikaanse vrou nie. Op hierdie punt stem ek met jou saam. Oor die algemeen is sy konserwatief, hiper-gelowig, hiper-jaloers en het sy, volgens jou, nie veel belangstelling in seks nie.
Ek glo sy is siek – emosioneel, psigies. Die Afrikaanse vrou is opgemors en ek is jammer om dit vir jy te sê maar dit is deur mans se toedoen.

En moet asseblief nie nou op hou lees en jy oë hemelwaarts rol nie. Ek hoor hoe jy sug! Ek praat nie van jou nie – ek praat nie eens noodwendig van jou generasie nie. My simpatie lê by julle. Ek praat van die sondes van die vaders, want dit is waar hierdie siekte al begin het.

So simpel soos ek dink die gemiddelde vrou met al haar hang-ups is, net soveel insig en empatie het ek met waar sy vandaan kom. Stel jy belang om te luister?

Mans regeer die wêreld. Hierdie is nie ʼn beskuldiging nie, dis ʼn waarneming. Dit is hoe dit is. Die wêreld waarin ons leef (nie net Suid-Afrika nie) is soos hy is omdat mans dit so gemaak het. Julle het vir ons baie wonderlike dinge gegee. (Ek verkies om vir hierdie gesprek op die positiewe te konsentreer.) Ons motors, tegnologie, internet, die feit dat daar iemand op die maan was, vliegtuie, wolkekrabbers, windpompe, medisyne, sport, flieks – daar is so baie wonderlike dinge wat mans uitgedink en gebou het. Jou testosteroon het die wêreld verander – baie maal ten goede.

Dis nie vir hierdie gesprek belangrik waarom dit mans was wat dit gedoen het en dat dit nie net mans was nie. Ek erken dat dit hoofsaaklik julle was. Wat belangrik is is dat jy verantwoordelikheid moet aanvaar vir wat jy gemaak het. Hoe alles nou werk, die politieke stelsels, regstelsels, ekonomiese stelsels – alles is hoofsaaklik deur mans ingebring en bestuur.

Nou kom die vrou in die prentjie. Omdat mans die wêreld regeer het hulle ook vroue regeer o.a deur die gelowe wat mans uitgedink en aangehang het. Deur mites en staaltjies en gode wat mans aanbid het (en gelei het), is die moderne vrou met haar vele hang-ups geskape. Dit was en is mans wat vroue verbied het om enkels of polse of gesigte te wys. Dit was mans (meestal deur geloof) wat besluit het dat vroue se waarde in hulle maagdelikheid gelê het. Dis Afrikaansprekende dominees en skoolrade en politici en vaders wat die vroue waarmee jy nou getroud is se seksualiteit beheer het deur preke oor sonde en slette en respek en losbandigheid en Eva en appels en sonde en straf en skande en ongehude moeders en sonde en Madonna en goeie en slegte meisies.

Seksualiteit is dié probleem van die Afrikaanse vrou. Daar is en word van haar verwag om seksueel skisofrenies te wees – die engel in die wêreld, maar duiwel in die bed-sindroom. Sy moes haar bene toehou en haar drange (en haar kêrel s’n) beveg tot die dominee sê “getroud” en toe moes sy in ʼn warm seksuele wese verander (maar net vir haar man). Onthou haar ma en ouma het dit waarskynlik nog vir die volk gedoen en vir haar dieselfde strooi geleer. Dit is waarom baie van hulle hulle seksualiteit begin onderdruk het en al hulle energie in kinders en kerk inge”pomp” het.

Nou sit jy met die probleem. Want jou vrou stel nie in seks belang nie.

Maar dis eintlik nog ingewikkelder.

Sommige vroue wil en sou wegbreek uit daardie tronk, maar daar is nog ʼn manier waarop sy in haar spreekwoordelike moer is:

Die regs- en ekonomiese stelsel maak haar weerloos. En ook die sosiale stelsel. Dit hou haar as ‘n ware gevange, want sy sal baie duurder as ‘n man betaal as sy “losbandig” sou optree. In die moderne samelewing is ʼn vrou net begeerlik (as sy gelukkig is) tot so 40. Daarna leef sy op geleende tyd. As sy ʼn “goeie” man het, dan glo hy in liefde en lojaliteit en word hy saam met haar oud. As sy ʼn “slegte” man het, dan ruil hy haar in vir ʼn jonger model (jou taal). As sy (volgens julle albei se besluit) by die huis gebly het om julle kinders groot te maak, het sy geen, maar geen moontlikhede om ʼn werk te kry nie. Sy het agter geraak in die groot korporatiewe resies. Sy is “waardeloos,” want haar “werk/kinders” is uit die huis uit. As jy haar skei- dan sal jy vir ʼn jaar (volgens jou regstelsel) haar moet onderhou voor sy vir haarself moet sorg.

Natuurlik werk baie vroue. Hulle sal waarskynlik vir hulself finansieël kan sorg. Maar ons weet almal geld is nie al wat tel nie. Die vrees vir eensaamheid, alleen oud wees is genoeg om enige mens op sy of haar plek te hou.

Dít is waar haar jaloesie vandaan kom. Dit is hoekom sy dit nie kan hanteer as jy vir ʼn ander vrou kyk nie of as jy saam met my wil gaan koffie drink nie. Sy vrees vir haar eie oorlewing.

Eerlikwaar. Dit het niks te doen met liefde of dat liefde jaloers is nie. Dis die mite.

Onthou, nog een van die dinge wat vir haar geleer is, is dat seks en liefde (altyd) saamgaan. Dis nog een van daardie mites wat die voorvaders vir die vrou vertel het. Dit gaan saam met die mite dat mans geleentheidseks kan hê en vroue moet iemand liefhê voor sy seks kan geniet. Dis sulke bog!!! Dieselfde skisofreniese poef wat sê dis reg (eintlik cool) as ʼn man met verskeie mense slaap (en voor die huwelik), maar nie vir ʼn vrou nie. Solank as wat jy hierdie mites ondersteun, dit vir jou dogter leer en jy jou kop knik vir die dominee wat dit nog steeds oorvertel, so lank gaan jy nog oor jou vrou kla.

Die ergste van alles is dat jou vrou jou nou begin ontman. (Dis ʼn siek sirkel.) Jy volg haar kerk toe al glo jy nie noodwendig meer in haar God nie, jy vertel haar nie wat jy glo, dink of fantaseer nie, want sy is nou al ʼn monster vir wie jy bang is. En jou voorvaders (en onderdrukte moeders) is Frankenstein. Sy gaan jou straf met ʼn tantrum of stilstuipe so jy bewaar liewer die vrede. Sy kan nie meer hoor wat iemand sê nie, sy luister nie eens nie, want sy word regeer deur haar vrees. Ek lees jou briewe en luister na die moedeloosheid in jou stem en weet jy lieg nie vir my nie. Jy is vasgevang in jou eie nagmerrie en jy sien nie meer uitkoms nie.

What men want? Jou hartseer en begeertes en wense word herhaal in die woorde van die ander mans wat met my kommunikeer. Julle wil almal dieselfde ding hê: vryheid om meer en wyer te ervaar en bande te smee. Jy wil nie jou vrou los nie. Natuurlik is jy lief vir haar! Natuurlik wil jy by haar bly. Een van die dinge wat jy nie verstaan nie is dat liefde nie noodwendig iets met hierdie onderwerp te doen het nie – of ten minste nie op die manier wat jy dink nie.

Jy weet in jou siel dat hierdie stelsel nie werk nie. Ons is nie bedoel om monogaam te wees nie. Mans EN vroue sukkel hiermee. Vroue het net meer om te verloor en kry dit soms makliker reg om hulle seksualiteit op te offer vir sekuriteit. Of dalk is dit omdat hulle tradisioneel gedwing is om dit op te offer.

Daar is ʼn oplossing, maar dit gaan nie betyds vir ons wees nie. En mans sal eers moet insien dat die oplossing van hulle af moet kom omdat dit hulle is wat nog steeds die mag het om dit te kan verander. Dalk sal jou kinders of kleinkinders jou nog eendag bedank. Maar dit gaan harde werk vat – en nog moeiliker – eerlikheid.

Want jy sal van al die mites onslae moet raak en voor begin soek na die waarheid. Jy sal moet gaan uitvind waarom die huwelik ingestel is (nie deur God nie).
Jy sal jou ekonomiese skepping moet aanpas – eers wanneer jy jou vrou se vrees aanspreek en haar sekuriteit gee ten spyte van wat sy seksueel mag doen of nie doen nie (selfs met jou, want sommige is bang vir hulle mans se reaksies op hulle seksualiteit), eers dan sal sy die vryheid hê om die sensuele, seksuele wese te word wat jy wil hê.
Jy sal jou sosiale skeppings moet verander – deur meer liefde, verhoudings, selfs seksuele maats in albei se lewens in te neem, sal die verantwoordelikheid van die een om alles vir die ander te moet wees, nie meer so swaar wees nie.
Jy sal moet besef dat ʼn vrou net so seksueel as jy is en net soveel fantasieë het – sy moet net die vryheid gegun word om dit te kan uitleef. Wat sal beteken dat jy ook daardie vryheid sal kry.
Jy sal moet besef dat jaloesie ʼn aangeleerde “emosie” is en negatief is.
As jy hierdie dinge begin verander, sal jy die toekoms verander. Miskien eendag sal mense in “gemeenskappe” bly waar inkomste, liefde, kinders, mans, vroue, vreugde, verantwoordelikheid, arbeid – alles gedeel word. (En moenie vir my sê ek dink soos ʼn hippie nie – jou “beter” manier werk nie.)
Dink net hoe baie ligter sal die las op jou as broodwinner wees? Of las as die persoon wat alles vir die ander ene moet wees?
Of dalk sal mense ʼn “hoof” verhouding hê met die persoon met wie hulle oud wil word en by wie hulle kinders wil kry. Hulle beste vriend/in. Hierdie verhouding is jou sekuriteit – vir wanneer albei oud is en gedeelde geskiedenis belangriker is as gedeelde seksuele plesier. En hierdie verhouding sal aangevul word met ander mense wat kom en gaan – vry en sonder issues.
Klink dit nie baie minder gekompliseerd as die “groot mite” wat ons vandag probeer leef nie?

Ek mag ook natuurlik heeltemal verkeerd wees oor vroue. Ek het begin deur te sê dat ek nie namens hulle praat nie. Dit is dalk selfs moontlik dat hulle soos julle sê nie regtig in seks belang stel nie. Dan het julle ‘n probleem – dalk is dit in daardie geval maar aanvaarbaar om groener weivelde te gaan soek.

Ek rig hierdie brief aan jou, geliefde man, omdat ek dink jou pragmatisme kan dalk nog die situasie red. Vir jouself en vir jou vrou. Min vroue sal regtig hoor wat ek sê – hulle is nog te bang om te luister en ek verstaan dit. Jy sal haar gesond moet maak. Is jy sterk genoeg?
Ek hou van jou. Baie. Ek wens jy wil jouself en jou plek regruk sodat ek van jou kan hou in vryheid.

Liefde
Annelise



Kommentaar

oeps hoe verkeerd is jy nie
Ek stem met baie wat jy se saam maar.....Seks is n instelling van JHWE dit is duidelik in die bybel uiteengesit. Seks is n liefdestaal tussen 2 gertoude mense, vrou en man. Hy se ons moet dit geniet en daardeur sal ons een word.
As jy wil rondjol moet jy maar vigs in die oe staar.
Ek is jammer maar die Bybel vertel ons die waarheid, en daarmee wil ek nie te kenne gee dat ek na predikante luister nie want hulle is so vol TWAK geprop in die verlede. Hulle weet self nie wat die bybel ons leer nie. Mensgemaakte wette en dogmas.Dit is waar die probleem ingekom het.
11 maande 4 dae 20 ure 31 minute oud


ope brief....
ai,ek wens jy was nie so slim nie.ek wens verder ons kon bymekaar uitkom ons oe toemaak en 'n lekker vry vang.ek wil nie so diep en filosofies dink oor iets heel eenvoudig nie
1 jaar 8 maande 3 weke 4 ure 11 minute oud


Reken jy is so na as dammit aan die Kol. Beaam Waldor se inset. Kyk maar na die vrou se rol in die gemeenskap in Brittanje voor die Romeinse oorname.
1 jaar 9 maande 1 week 23 ure 56 minute oud


Ek stem volkom saam ! Vir jare en jare het die RSA gelewe asof dit die Paradys was. Geen drank op Sondae, selfs geen TV-advertensies eens op Sondae, blahblahblah...maar BOETA, as dit donker word.....

Ek is dankbaar dat ek 'n simpel man is...hoe op aarde dames dit regkry om daardie fyn lyn te loop!!!
1 jaar 9 maande 1 week 23 ure 57 minute oud


Okay nie 'n hippie nie, maar beslis ook nie 'n stoere kapitalis nie!
Miskien as ek 1dag president is dan het ek ook 4 vroue en klomp concubines (dalk net nie my vriende se dogters nie). Ja, dan kan elke ander mooi vrou as't ware my slinger draai!
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 1 uur 5 minute oud


Vir my klink dit maar baie na 'n desperate gegryp na strooihalms om die gevolge van 'n negatiewe ondervinding(s) met die liefde en/of die huwelik te besweer.
Kan ook 'n goed deurdagte bemarkingsfoefie vir 'n boek wees, of wat sê ek als.
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 3 ure 11 minute oud


Ope brief..
Eish!! hoe lekker `stir` jy nou-insiggewende werk hierie ene, maak sekerlik sommige lesers se oge bietjie oop! Dankie jy...
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 4 ure 30 minute oud


Ope brief aan mans (as die skoen jou pas.)
Jou waarnemings en jou aannames. Skep tog ook nie bevredigend ant-woorde nie. Soos maar met alle eie opinies het ons nog net die halwe eier en of dit 'n gare, roue of dalk 'n vrotte is? Wie sal weet. Die belustige sal 'Ja!' skree, die konserwatiewe dalk "Nee!' ens. Hang net af van agtergrond, opvoe-ding e.d.m. Dus,menslik gesien nog 'n toring van Babel. Meskien moet jy uit die waarheid van die Gees toelig?
Dankie. Jou siening vind ek nietemin interessant.
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 15 ure 35 minute oud


Annelise ,Annelise ,Annelise, ..............N mondvol waarheid , deesdae is die Ds. nie meer die Ds. Kyk maar na die groot kerk ? op jou voorstoep ! . Vandag se jonger mans se prioriteite is anders , seker omdat hulle nou vir Klaas werk , ontsnap is n lewenswyse , en vrou word vergeet en verwaarloos ! ,ek ken nie die oplossins nie , jy het baie goeie voorstelle gemaak , maar eks seker jy het seker jou fair share , geluk en ongeluk ervaar, ek lees dit baie duidelik ,Jy skryf vreeslik baie , enige man gaan nie so lank luister as jy moet praat nie . Wat jy van n man verwag , dink ek ek doen , en is nou baie gelukkig , dis darem nog nie te laat nie . Groete , Attie van den Bergh. En ek sorg baie goed vir my x in Woodhill .
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 15 ure 36 minute oud


insiggewend.
en vat baie waarheid van ons samelweing en die vrou se wereld vas.
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 18 ure 17 minute oud


Ek wil net nog iets kwytraak - ek kan wat die godin hier se baie mooi met my eie christenskap versoen. En ek bedoel my eie verhouding met die Here, nie wereldse christenskap wat al so deur die mens bedonder is nie!
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 20 ure 48 minute oud


Uitstekende artikel godin van my! Waldor slaan natuurlik die spyker op sy kop.
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 20 ure 56 minute oud


Die probleem met 'menswetenskappe' of dan
nou die sogenaamde 'geesteswetenskaplike' onderwerpe soos dié is dat dit staatmaak op 'n ongesonde hoeveelheid veralgemenings. Dis hoekom ek altyd enige uiterste wat aangebied word as die volgende noodsaaklike hipernorm met 'n knippie sout neem.
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 21 ure 32 minute oud


maangodin! Ek het GEWEET daar's mense soos jy daarbuite!! Jy skryf baie baie goed, en jou topics is erm.. so topical. Ek wil sommer saam met jou kuier.. my vrou sal nie mind nie! Ek't jou ander artikels ook gelees. Baie waar, potroerend, betyds en hoog tyd.
1 jaar 9 maande 1 week 1 dag 22 ure 28 minute oud


Hierdie is werklik 'n baie goeie stukkie werk wat die regte aspekte korrek aanspreek.

Miskien kan ons die oorsprong van die probleem nouer trek na spesifiek die Kerk. Toe die vrou die bedreiging vir die priesterlike herargie word toe val hierdie virus die man aan. Die vrou het aanvanklik die geestelike septer geswaai in die Nordiese en Germaanse (Keltiese) lewe, totdat die gif van die Christendom alles omver kom werp het... dit is toe wat die manlike ego wat net moes skep en sekuriteit vir die vrou bied, omdraai en die vrou beveg, onderdruk en inperk.
1 jaar 9 maande 1 week 2 dae 1 uur 22 minute oud


Ek hoor jou en ek kan getuig dat jy absoluut die waarheid praat! Dankie!
1 jaar 9 maande 1 week 2 dae 2 ure 15 minute oud



Bertha se Stories

deur natasha dutton

"...my issues is maar soos joune, my vrese gegrond op ervarings, dinge waarvoor jy ook bang is. Die enigste verskil is, ek is 'n stort mens, geen badprop wat my geparfumeerde water in toom kan hou nie. Die lewe is nie 'n bad vol foam bath nie, nee jong, so maklik is dit nie. Die poepwalms laat jou verstik, nie eers te praat van die vloeistowwe nie! Maar dis die lewe." Wel, nou weet jy wat om van hierdie boek te verwag...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar