Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

                            Toe sê die Here God aan die vrou:
                         ’…met smart sal jy kinders baar…in die
                         sweet van jou aangesig sal jy brood eet…
                          …vervloek is die aarde om jou ontwil…’

                                             o-O-o

Was dit nie vir disfunksionele ouers en oorvol kinderhuise nie sou daar nie behoefte gewees het vir pleegplasings nie. Eintlik moes daar wetgewing ten gunste van geboorteperking gewees het. Nog beter, verpligte sterilisasie. En teen die tyd dat ‘n kind met sy sak aardse goedjies hand in hand saam met ‘n maatskaplike werker by die kinderhof instap is daar in baie gevalle reeds soveel skade in die kind se kop aangerig, en weet die potensiele pleegpouers nie wat vir hulle voorlê nie.

Mense wat hulle beskikbaar stel vir diè liefdestaak dink nie noodwendig aanvanklik met die kop nie.

En tussen die spreekwoordelike(?) pap wat die waaier tref en die uiteindelike pleegplasing is daar die wegneem van die kind uit sy krisis omstandigehede en plasing by mense of instansie wat bekend staan as veiligheidplasing. Terwyl die stof gaan lê en die kind sy voete vind in sy tydelike omstandighede word nuwe bande gesmee. Bande van sekerheid en stabiliteit , liefde en verdraagsaamheid. En hopelik word die plek van veiligheidsplasing ook die kind se tuiste van pleegplasing.

Die kind word sorgbehoewend bevind. Die ouers hopeloos van die pad af en meer ‘n tragedie en ‘n las as enige iets anders. Werkloos, haweloos, hopeloos. In sommige gevalle is die kind deur ‘n pa , ‘n oom of ‘n oupa gemolesteer. In ander gevalle is die ouers op dwelms of drank en in nog gevalle is die kind die slagoffer van gesinsgeweld of het die pa lankal die pad gevat.( As verpligte sterilisasie maar hier iewers ingewerk kon word) Hy het van dag een af nie ‘n saak gehad met die kind nie. ‘n Ma is jonk dood. ‘n Ouma het daarna gesorg maar sy is ook intussen oorlede. Die kinderhuise is oorvol en nêrens verrys nuwes nie al staan soveel geboue in elke dorp leeg.

In sommige gevalle is die ouers by die hof . En die potensiele pleegouers. Die maatskaplike werker lees die verslag voor waarin van die ouers se omstandighede vertel word. In die verslag word gepraat van die ‘mamma’ en die ‘pappa’. Hel ! ‘n Titel wat hulle nie verdien nie. Die woordeboeke definieer ‘mamma’ en ‘pappa’ as ‘n verkleinvorm van moeder of vader, een wat versorg en leiding neem en gee. Die maatskaplike werker praat van ‘materne’ en ‘paterne’ oumas en oupas en van die kind wat ‘wetsbestee’ is. En hulle meld dat herenigingsdienste gelewer sal word. Maatskaplike werkers gebruik die vreemdste woorde. Niemand anders praat so nie. Dit lyk vir my maatskaplike werkers is die mees optimistiese onrealistiese skepsels wat die aarde bewandel. Word die getalle sorgbehoewende kinders in aanmerking geneem en die beskikbare maatskaplike werkers uit die verskillende bevolkingsgroepe en kulture, is daar van herenigingsdienste geen sprake nie, want die ouers sak al verder in die put van ellende af en die kind dryf in die pleegplasingsbootjie al dieper die see van die lewe in.

Ons is lankal verby die punt waar daar vir wit kinders uitsluitlik wit maatskaplike werkers aangewys word. Nuwe geslag maatskaplike werkers sit met enorme logistieke probleme soos personeel tekorte, swak salarisse, gebrekkige begrotings, vervoerprobleme, kortsigtige kommissarisse van kindersorg, om ‘n paar te noem. Nie almal het bestuurderslisensies nie en moet van Taxis gebruik maak. Om van die taalkwessie nie eers te praat nie. Een kind en sy ouers beleef byvoorbeeld hulle probleem en krisis in Afrikaans en Afrikaner versukkelde omstandighede, ‘n ander een in Afrikaans met kleurling versukkelde omstandighede en nog een in Xosa of Zulu in Afrika ellende . Gewoonlik swak Afrikaans en nog swakker Engels. Al wat hulle in Engels regkry is TV en dvd’s kyk. Die maatskaplike werker se eerste taal is nie Engels nie en die partye moet mekaar vind en in die proses val woorde soos legkaart stukke op die grond en raak kommunikasie weg. Die jong wit maatskaplike werker moet haar weg deur plakkerskampe vind terwyl haar swart kollega dit ietwat makliker regkry weens die se agtergrond. Haar swart kollega moet haar weg in ‘n karavaanpark en ’n mission vind. Daar waar versukkeldheid blind geslaan is deur verkrampte konserwatisme en geskoei is op die lees van die lewensbeskouing van ‘n uitgeweke geestelike wat homself Abraham noem en glo dat die Here hom gelei het na diè plek om sukkellaars op te hef.

Pleegplasings duur vir twee jaar waarna dit hersien en in die meeste gevalle verleng word. Dit is indien daardie pleegplasing slaag. Die kind gaan saam met die pleegouers huistoe en is in nuwe skool. Die pleegouers is opgewonde en ervaar ‘n mate van euforie. Tevrede en optimisties dat hulle die geleentheid kry om met die klop van die dominee op die skouer op hierdie manier ‘n verskil in iemand se lewe te maak.

Die pleegma besoek die kantore van die Derpartement van Welsyn en Bevolkings Ontwikkeling. Sy staan van vroeg af in ‘n ry saam met ander, meestal oumas, wat tou vir allerlei ‘grants’ wat die regering uitdeel. Kleintjies op die rug en ander wat suig aan ‘n bors of wat knaag aan taxirank niknaks. Voor haar is ‘n ouma besig om op die vloer ‘n kind se geel gekleurde pampoendoek te ruil. Sy kan nie haar plek in die ry prysgee nie en doen die nodige op ‘n kombers op die vloer. Die reuk van suurpap en vars beskuitdeeg hang in die lug.

Die pleegma neem ‘n dag verlof want sy moet dokumentasie ingee sodat daar elke maand ‘n aalmoes van sewehonderd rand in die pleegouers se rekening betaal kan word. ‘n Druppel in die emmer vir hulle moeite en opoffering. By die toonbank word sy van bakboord na stuurboord gestuur tussen die polisiestasie en die kantore met die een nuut uitgedinkte navraag na die ander en nog ‘n verklaring wat beedig en dokument wat gesertifiseer moet word. Ek laat my nie vertel dat daar nie by die Departement van Volkswelsyn mense is wat die takie ampshalwe kan verrig nie! Die klerk agter die glasruit is blykbaar van mening dat hy haar ‘n guns doen. Sy kom moeg by die huis en besef pleegplasings is nie vir sissies nie. En dit is nie asof daar ‘n waglys is of samedrommings by die kinderhowe deur potensiele pleegouers wat gretig is om sorgbehoewende kinders op te raap nie.

Intussen word gehoop dat die ouers rehabiliteer en begin funksioneer.
Geen rehabilitasie van watter aard ookal vind in twee jaar plaas nie. Tensy die Here ‘n wonderwerk verrig. In vyf en dertig jaar het ek dit nog nie gesien nie. Net die begraafplase het ‘n suksevolle rehabilitasie syfer. En terwyl die pleegplasing voortduur en die kind stabiliteit beleef en weer begin funksioneer en sien dat daar nie net sleg in die lewe is nie, loop die spook van teruggaan na ‘mamma’ en ‘pappa’ want laasgenoemde het mos regte. Al hierdie dinge verwar die kind en maak hom onseker oor wat nou en waarna toe? Verantwoordelike pleegouers besef en verstaan dat die kind sy ‘mamma’ moet sien en reel onderling besoeke sonder tussenkoms van die maatskaplike werker want laasgenoemde bly weens werkslading nie by nie. Die ‘mamma’ se kop raas want sy wil ‘n ‘mamma’ wees wanneer dit haar pas. Sy sê vir die kind dinge wat hy graag wil hoor soos, sy gaan hom op vakansie neem of dat sy vir hom ‘n nuwe toutrokker ‘pappa’ raak gesnuif en ge……het. Laat ek dit liewer nie sê nie. Sy sê vir hom dat sy sy mamma is en dat hy nie vir ander hoef te luister nie. Dat hy enige tyd kan vat wat hy wil ook om te eet of aan te peusel en dat etenstye waar gesinne ordelik as ‘n eenheid by ‘n tafel aansit, outyds is. Hy kuier by sy ma onder omstandighede waar geen reels geld nie en dit is lekker vir hom. Die toutrokker wat by die kind se ma kuier luister in op noodoproepe van die polisie of Metro polisie en vat die kind en sy ma saam en jaag roekeloos en besete teen ander toutrokkers om eerste op die ongelukstoneel te wees. Die kind dink die oom is en ‘cool’ en noem hom ‘pappie’. Die kind is mal oor die omgeboude bakkie met die uitlaatpyp soos ‘n reenwater geut en rokende bree bande en chroom. Sy ma wil in die beperkte tyd wat die kind kuier soveel goedheid inprop as wat menslik moontlik is en omdat die bietjie skuldgevoel wat sy nog oor het met haar op loop gaan.

Die kind keer terug na sy pleegouers ná so ‘n kuier en is van voor af deurmekaar en verward en spring soos ‘n balletjie. Alle skroewe in sy kop los, die pleegouers raadop. Die kind begin hakkel en moet geneem word vir spraakterapie, en begin sy bed natmaak.

Die skool begin kla oor sy gedrag en sy huiswerk is slordig of word nie gedoen nie. En hy sukkel om te spel en te konsentreer. Hy is op die pleegouers se mediese fonds en word na ‘n arbeidsterapeut geneem. Die terapeut speel oop karate met die pleegouers. Hulle is nie sensitief nie en kan enige hou vat. Die huisdokter skryf Concerta voor want die kind word gediagnoseer met ADHD of ADD. ( ‘Attention Deficit Hyperactivity Disorder’ of ‘ Attention Deficit Disorder’) Eers 18 mg, toe 36mg en uiteindelik 54 mg. En dit kos geld. Voor die jaar om is is daardie deel van die mediese fonds uitgeput en moet die pleegouers ander planne maak.

Die pleegouers kry nie meer tyd om met mekaar te kuier en aan die einde van elke dag rustig te verkeer en om net oor die dag se dit en dat te gesels nie. Die kind het nou al die aandag. Daar word geredeneer dat hy dit nie kan help nie en dat almal in die huishouding begrip moet toon. So kom ‘n huwelik onder spanning en begin elkeen sy eie ding doen. Die kind suig elke bietjie uit die pleegouers terwyl die ma en pa s voortploeter en hulle eie gewoontes, en die ma se vriend sy daaglikse ‘gelukkie’ koester.

Die pleegouers besoek familie en almal prys hulle oor die wonderlike werk wat hulle doen. Vriende van die familie kom kuier en soos wat dit tydens sulke kuiers gaan word die kind se opvoeding en welstand terloops bespreek en word daar ongevraag raat gegee. Die gaste, ‘n dik man uit Noordwes en sy pou vrou staan sterk na ‘n paar glase brandewyn en Coke en het baie te sê oor die feit dat die kind op Concerta is. Hulle het nog nooit daarvan gehoor nie maar spoel mond uit oor die pleegouers se onvermoë en gebrek aan insig om die kind , soos hŭlle dit gedoen het, normaal op te voed en groot te maak. Die familie is lafhartig en neem nie standpunt in nie en die pleegouers gaan slaap sonder om te groet of nag te sê. Dit is asof die duiwel los is en die pleegouers soos ‘n skaduwee volg.

Nooit word briewe van waardering geskryf of dankie gesê nie. Die enigste instansie wat begrip toon is die kerk. Die pleegouers woon afgemat en met hangkouers die kerkdienste by en word gekonfronteer met die boodskap dat ‘…almal aan die wedloop deelneem en moet volhard…’

By die skool is die skoolfondsrekening nooit korrek nie en verstaan die tannies in die kantoor nie dat pleegkinders nie skoolfonds hoef te betaal nie. Briewe word geskryf waarin daar gedreig word om die pleegouers te swartlys. Die maatskaplike werker is meer begaan oor hoe die pleegouers funksioneer as wat met die ‘mamma‘ en ‘pappa’ die geval is. By die kinderhof word die pleegouer nie as ‘n party tot die verrigtinge gesien nie. Die pleegouer word eenvoudig gelaat met die probleem en wonder of hulle die regte ding gedoen het deur in te stem tot die plasing.

Hulle stap ‘n pad met die kind tot hy agtien jaar oud is en dan is alles verby. Hopelik het die kind daarna nog ‘n saak met sy pleegouers. Net die tyd sal dit leer. Die band tussen pleegouer en kind groei tot ‘n vreemde onpylbare een. Die kind is nie hulle s’n nie, aanneming was nooit ‘n opsie nie en die pleegouers het geen regte nie. En wanneer die kind dalk eendag weer na sy ouers sou terugkeer, word daar nie gevra wat die pleegouers daarvan dink nie.

Die pleegouers kan maar net bid soos wat Ingrid Jonker geskryf het:

‘…Die kind is nie dood nie…hy lig sy vuiste teen sy vader…die kind wat net wou speel…die kind wat man geword het…die kind wat ‘n reus geword het reis deur die hele wêreld…’

Mispil






 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Pleeg plasings....
Mispil, Baie goed geskryf. Lees gerus my kort verhaal "Hoe verklaar jy dit" Dit het betrekking.
8 jaar 9 maande 1 week 3 dae oud


Pleegsorg
Jy raak hier 'n saak aan waarvan ek ook eerstehandse ondervinding het. Min mense besef hoe groot die offer is wat pleegouers bring - dis gewoonlik by die kind wat die simpatie lê. Ek voel dat 'onbevoegde ouers'wat hulle kinders so skandelik verwaarloos, gesteriliseer behoort te word en in werkskolonies geplaas moet word. Maar gewoonlik kom hulle skotvry om nog meer verwaarloosde kinders te 'kweek' - met die hele samelewing se vergrootglas gerig op die pleegouers... En soos jy sê, pleegouers het nie regte nie... Dankie vir hierdie skrywe - dis goed om te weet dat daar êrens iemand is wat weet en verstaan.
8 jaar 9 maande 1 week 3 dae 23 ure oud


!
Herre Mispil!
Jy't hierdie aaklige werklikheid uitstekend beskryf!
Duidelik dat jy eerstehandse kennis van hierdie probleem het.
Wil jy nie 'n storie of twee met al hierdie ervaringe tot jou beskikking, aanmikkitaar timmer nie?
8 jaar 9 maande 2 weke 19 ure oud


-
Ma is dood,
te veel wyn.
Ons leef van brood
en Pa van cane...
8 jaar 9 maande 2 weke 22 ure oud


Nagmerrie
Ja dit is 'n redelike nagmerrie as daar te veel inmenging is. Ek dink daardie kinders behou 'n agterstand, al is daar uitsonderings. Pleegplasings doen die kinders meer goed as sleg - dit wys hulle darem hoe mense behoort te leef, inskakel in vriende kringe en verantwoordelikhede wat daar bestaan.
8 jaar 9 maande 2 weke 1 dag 12 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Hartsnare

deur Driekie Grobler

100 Inspirerende gedigte en hartsgedagtes oor menswees en die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar