Artikels

Titel: Prooi van Spinnerak

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Met die intrapslag vandag, het die woede diep hier binne opgestoot soos sooibrand. Dit brand nou nog. Wat gee die mense die reg om jou kennis, ondervinding, persoonlikheid en privaatheid so vanselfsprekend te aanvaar? Hoekom mens alles opoffer om ‘n toring te bou en bou en bou en dan ewe skielik dit inmekaar te sien sak.

Wat ‘n ontnugterende ervaring toe ek ‘n maand terug moes agterkom: ek het dit nooit vir myself gedoen nie. Ek is heeltemal te selfsugtig daarvoor. Dit was alles vir jou gedoen! Dit was nie die rede hoekom dit gestaak is nie. Ek het my buite weste geskrik nadat ek die antwoord self moes uitwerk, toe ek die moeilikste vraag vierkantig in die oë gestaar het. Wat gaan ek nou maak? Dit was nie die tyd en energie wat ek op jou gemors het wat die probleem is nie. Dit gaan oor die manier waarop jy, jou onkunde probeer goedkeur het.

Hoekom gebruik mense die geleentheid wat hulle gegun word, deur die genade van bo, om dit uit te buit deur selfsugtigheid? Wat gaan deur ‘n persoon se kop om te dink dis reg? Die prooi word elke keer vasgevang deur die web van spinnekoppe. Dis reg ja! Dit is weens spinnekoppe soos jy wat ons ander daaronder ly. Die eerste keer het ek gedink dit gaan verander as daar meer prooi om my was; meer sagte mense soos ek. Dit het nie die tweede of derde keer in my guns getel nie. Die roete het sowaar homself weer herhaal! Ek was weer die Prooi!

Vir die soveelste keer was ek die kaart wat gebruik is om sukses te behaal. Net soos baie ander, in die wêreld, vandag ‘n “joker” is. Dit pla nie as dit nie jou skuld is nie. Veral nie as dit nie uitwerk nie. Maar sodra dit ‘n sukses uitdraai, kan jy nie vinnig genoeg die koning kraai nie! Trek die skoen aan as hy pas.

Nou vra jy seker: of my gewete my nie pla? Natuurlik is die stemmetjie daar om my te herinner aan die nageboorte wat daaronder ly. Die nadoodse ondersoek wat onafgehandel agterbly. Maar ek het die besluit geneem om eerder volgende keer aan die naskokke te dink voor ek enigiets anders oorweeg. Nou wonder jy seker wat in my kop aangaan om so iets aan te pak? Daar is baie ander mense daarbuite wat op hul grysheid staatmaak en nog steeds na jare se gesukkel nie uit die spinnerak kan ontsnap nie. Moet asseblief nooit tot teen die rak loer nie. Daar is ‘n wêreld vol verrassings wat op jou wag. Min selfvertroue en geldgierigheid sal die kop se ondergang beteken. Waarom die Spinnekop se brug help bou as jy die paadjie wat vir jou uitgelê is kan stap met vriende, kennisse en familie wat jou graag sal ondersteun?

Al wat nou voorlê is ‘n nuwe lewenswyse waarop jy kan staatmaak, om die gevaar daar buite, met verfrissende lewenslus kan deurstorm. Kyk om jou en kom agter hoeveel ander ook die prooi vandag was! Niemand kan jou geloof, kennis, ondervinding en lewenslus misbruik of wegneem sonder jou toestemming nie! Gebruik jou gryshare, sertifikate, plooie en alles wat jy besit om bo uit te kom. JY KAN – as jy wil.

JB Bekker



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar