Titel: raad vir agterdog sindroom
Weergawe: 2
Aantal woorde: 2092
Kere gelees: 492
Datum gepubliseer: 21 Apr 2009
Kry ek nou stilweg lag vir die mansmens, ai toggie. My glimlag trek sommer aandag by die mense langs my, maar ek kan nie vir hulle vertel wat my nou so laat grunnik nie. Die man se woorde hangs steeds hier in my agterkop soos ek stadig uit die gebou beweeg.
Ek soek al vir meer as ‘n halfuur lank na die regte kantoor, maar die aanwysings was so onduidelik dat ek steeds nog nie reggekom het nie. Uit moedeloosheid het ek toe na foontjie gegryp en maar weer geskakel vir navraag. Natuurlik, soos my geluk dit wou hê, sou ek met die laaste Rand, die verkeerd Francois skakel, en toe weer herinner word aan ‘n baie hartseer tendens in ons samelewing. Op hierdie huidige oomblik weet ek van vier verskillende mense om my wat juis in hierdie situasie hulself bevind. Manne, en ja selfs vrouens, wat getroud is met ‘n lewensmaat wat hul glad nie vertrou nie, wat sowaar agterdogtig is as hulle vriende het van ‘n ander geslag. Mense vir wie ek geen gevaar inhou nie, wat ‘n niersteen skuif as ek vir hul man ‘n vraag sou vra of laat weet van ‘n spesiale aanbod wat ek raakgeloop het in ‘n winkel wat moontlik vir hul ook sal voordelig wees. My vraag dan nou, hoekom is dit so?
“More, Francois?”
“Ja?” Sy antwoord klink reeds nie vir my vriendelik nie.
“Francois, ek staan voor u gebou, maar ek kan nie die ingang na u kantore vind nie. Kan u my asseblief verduidelik waar om te gaan?”
“Nee jong, mevrou. Ek dink jy is by die verkeerde nommer. Vir wie soek jou? My naam is Francois Hanekom.”
Ek besef my fout. “O alla, Franci, jammer. Dit lyk my ek het nou te vinnig die nommer gedruk. Ek moes ‘n ander Francois skakel. Maar dis nou n verrassing. Dis jare vandat ek met jou gesels het. Skuus ek het gepla, maar dit was tog lekker om jou stem te hoor. Goedgaan, hoor en stuur asseblief groete vir Melanie.”
“O ja, dit gaan goed. Kan ek maar vir jou vra om my nommer van jou foon af te haal, asseblief. Nie omdat hieroor or daaroor nie, maar ek wil nie hê dit moet anderdag vir my moeilikheid maak nie.”
Die vraagteken vorm soos ‘n golf oor my voorkop. “Ek maak so, hoor. Goedgaan.” En met dié druk ek vir rooi knoppie, terwyl ek my kop skud en grunnik. Nog een van daardie gevalle, soos met Dirk, my ander vriend. Waar vroulief die tier om elke hoek en draai sit en soek. Heelwat mense om my se verhoudings is in hierdie vreemde spanningstoestand gehul. “Om die vrede te bewaar” het hul blykbaar geen vriende of kennisse nie. Manlief of vroulief gaan ‘n oorval kry. ….Wat?!
Mens moet jouself afvra hoekom dit die geval is. Ekself is in ‘n verhouding waar ek werklik nie vir een oomblik twyfel as iemand vreemds my lewensmaat sou bel nie. Ek glo dat as daar “perre” is, die oomblik van waarheid reeds ingetree het LANK voordat die eggenoot dit deur oproepe sou opmerk. Verstaan my mooi, ek praat dit nie goed nie, maar as ta se oog begin rondkyk het, gaan geen ondervragings of kruisverhoor hom stop nie. Jy moet liewer vra wat het in die eerste plek geskort in daardie verhouding dat hy begin rondkyk het of dat hy iets anders meer opwindend sou vind. Iets in jul verhouding vervul nie aan die oorspronklike vereistes of beloftes en verwagtinge nie.
Iemand anders laat hom of haar nou meer voel. Skielik voel hy meer waardig en die moeite werd. Die naskeermiddel word weer nader getrek en sy uitrusting van die dag word met meer noukeurigheid benader. Vir te lank het die daaglike dingetjies ‘n gewoonte geraak en met so baie verhoudings die geval is, het normale lewensratte die plek ingeneem van spesiale oomblikke wat voorheen hierdie twee mense skoenlappers in die maag gebring het. Nou is werk toe gaan, kinders besorg en rekeneninge betaal soms hoog bo aan die lys van belangrike take wat deur die dag verrig moet word. Manlief of vroulief se spesiale oomblikke word vervang met moegheid en soms frustrasie. Min tyd word spandeer aan romanse en liefdevolle bedagsaamheid.
G’n wonder dat as die kinders eendag uit die huis uit is, ma en pa ontdek dat daar niks van hulle verhouding oor is nie. Hulle het die afgelope twee dekades glad nie aan hul verhouding aandag gegee nie. Die vinnige bymekaarkom in die nag was beslis nie die moeite werd om hierdie twee mense vandag die geleentheid te bied om met mekaar te gesels en tyd te spandeer nie. Hulle ken nie meer mekaar in die verhouding nie. Daar is nie meer ‘n verhouding nie.
Maar om terug te kom na meneer wat nou komplimente ontvang het van iemand wat wel merk hoe mooi sy oë is of hoe hard hy daaraan werk om sy ligaam gesond te hou… Skielik voel jy mos nou spesiaal en waardig vir hierdie persoon en jy reik na geleenthde om meer en meer in hierdie situasie te wees, en die gehoefte raak mettertyd al groter om naby aan daardie persoon te wees. Dit laat jou goed voel. Is dit verkeerd? Ek glo nie, maar die verantwoordelikheid bly tog daar om seker te maak dat jou geliefde jul verhouding steeds in die oog hou, want dit is tog immers wat jul bymekaar gebring het in die eerste plek!
Enige van ons het begeerte om spesiaal te voel vir ten minste ons geliefde of iemand. Maar as dit nie meer so geskied nie, gaan jy ongetwyfeld gryp na die grashalmpie van iemand wat jou wel laat goed voel. So, nou sit ons met ‘n ernstige situasie. Manlief voel nou spesiaal by iemand anders. Maar die skuld lê nie werklik by manlief nie. JY, my liewe mens, moet nou in jouself kyk hoekom dit gebeur. Hoekom is jy nie meer genoeg nie? Hoe kan jy dit verryk en weer lewendig maak? En asseblief, moet vir geen oomblik jouself toelaat om op te gee nie. Jy het wel daardie rol vantevore gevul. Raak stil en neem jouself terug na daardie jongmens wat skoenlappers voel wriemel het as hy na jou kyk deur ‘n skare. Laat hom dit weer sien in jou oë. Veg met alles wat jy het in jou om dit weer te herleef.
Veg. Dis ‘n kragtige woord. En word soms heeltemal verkeerd verstaan. Dit beteken baie beslis nie dat jy nou op jou perdjie spring en in woedebuie, stilstuipes of agterdog argumente gewikkel raak nie. Hier is nou die geleentheid wat jy nou moet mooi dink. Om te wys hoe lief jy eintlik vir hom is of hoe graag jy hom nie sou wou verloor nie, en steeds sy aandag wou behou, sluit in positiewe opbouende hantering van die situasie. Die laaste ding wat hy nodig het, is om ‘n geknaag te kry. Jy moet onthou hy kom van daar buite af waar hy versterk is in sy waarde en jy wil vir hom ‘n ontvanklike tuiskom skep. Indien hy wel by die huis kom, en ‘n kruisverhoor moet bywoon, gaan sy gemoed binnekort hom by die deur uitdryf. Reguit in die ander persoon se arms in. Hy het nie begin rondkyk omdat hy noodwendig jeuk op ‘n plek nie, want as dit die geval was, sou ek die eerste wees om vir jou ander raad te gee! Hy het goeie aandag iewers anders gekry, wat hom laat goed voel, omdat hy dit verdien. Jy weet dit! Jy het immers dit in die eerste plek raakgesien en aan hom gebied, toe jul jul verhouding begin het. Gee dit nou ook vir hom. Laat hom voel dat jy steeds bly is om hom in jou lewe te hê as jou maat en dat jou dag voltooi is deur sy teenwoordigheid. En as jy besef dat hy goeie aandag iewers anders ook ontvang het, deel met hom hierdie komplimente. Vind uit wat vir hom lekker was van daardie kompliment en stem daarmee saam.
Maar, meneertjie, ek is ook nie mer jou klaar nie. Jy moet uivind waarom hierdie nuwe persoon jou laat goed voel, en waarom jy meer en meer daarvan sou wou hê. Wat is dit presies wat jy nodig het, so dringend nodig dat jy nou daarna gryp met albei hande. Wat is dit wat jou laat goed voel en hoe vul dit daardie behoefte. En dan, i.p.v. reik na meer, vind jy ‘n manier waarop jy hierdie behoefte by die huis kan kweek. Al vat jy vir vroutjie by die hand en lei haar om ook te weet hoe om jou dit te laat ervaar. En weet jy wat? Dit begin deurdat jy haar laat goed voel. Sy moet elke dag droom oor die oomblik wat jy haar gaan sms of skakel, om sommernet te hoor hoe haar dag verloop. En as jy kan, kry vir haar iets spesiaal by die kafee tydens jou middaguur. Jy sal verbaas wees hoe spesiaal, byvoorbeeld, ‘n klein pakkie jellytots vir haar sal wees as jy haar vertel waaraan elke kleur jellytot in daardie pakkie jou herinner – haar geur, haar smaak, die blos op haar wange as sy kosmaak, en die kristalhelder sprankel soos die suikerkristalle, in haar oë as die aandlig in haar gesig dans as sy vir oulaas die kamervenster toemaak voor slaaptyd. Onthou waarom jy nog altyd vir haar lief was, ondanks al die ander goed.
Meisie, wees verseker, as agterdog en snydige opmerkings jou manier is om vas te anker aan hierdie ou, maak jy ‘n groot groot fout. Honde kom terug na hul base al word hul mishandel, want hul is maar te bly om die aandag te kry en is onselfsugtig lief. Jou man, aan die ander kant, weet nou presies waar dit eina is, en waar hy goed kan voel. Sy onselfsugtigheid het sopas ‘n alternatief gekry. Die Pavlovian Reaksie en Kondisioneringstoetse het in die sielkunde reeds so vroeg soos 1897 bepaal dat die programmering van die psige ‘n ongelooflike aandeel het in alle lewende wesens se optrede. Dit bepaal dat manlief net ‘n paar keer in dieselfde gat gaan trap, en daarna gaan een van twee goed gebeur. Hy gaan gekondisioneeer wees om nie meer daardie toenadering aan te vra nie of hy gaan homself berus daarby dat hy dus net nie meer goed genoeg is vir jou nie. En dan gaan hy liewer onttrek.
Hierdie reaksie lê in jou hande. Jy kan voortgaan om vir hom in daardie geval met vrees of onbelang te laat, of jy kan vandag iets daaraan doen. Ek merk op hoe ontsettend baie verhoudings maar wel in die vrees of onbelang reaksie gewikkel is, en boonop dat hulle dit so los want dit veroorsaak die minste moles! Jul kan dit nie so laat nie. Jy gaan hom verloor. Want glo my vandag, hy gaan nie skielik sy waardebepaling staak omdat hy besluit het hy het nie meer waarde op daardie gebied vir jou nie. Hy gaan egter dit nou op ‘n ander plek soek.
Gee hom die vryheid om waardig te voel in jou oë. Dan sal hy waardig voel om huis toe te kom. En as jy tog effe jaloers voel omdat ander mense jou man waardeer en dit vir hom noem, dank eerder die Liewe Vader dat hy jou gekies het om na huis toe te kom. Jy moet jouself toestemming gee om minder agterdogtig te wees. Jou man se vriende deel sy dag met hom. Hoekom nie jy ook nie? Hy is hartseer dat hy nie die mense om hom in sy daaglikse lewe met jou kan deel nie, want hy sou graag wou. En dit laat hom nie goed voel oor jou nie, glo my. Voel in jou hart bly dat ander mense ook raaksien hoe spesiaal hy is. Hy is, want hy is jou spesiale keuse. En weer jy wat, jy is syne!
Hou dit so.
En ek draai en stap terug na my voertuig en vee my vriend se nommer ongelukkig af van my foon, en stuur ‘n gebedjie op dat Liewe Jesus asseblief hierdie paartjie sal help om tog maar die lig te sien….
kopiereg Delene de Wet
Lees ander artikels deur Delene de Wet
E-pos my as kommentaar gelewer word
Raporteer foute/ongewenste inligting rondom die artikel
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie artikel
Weergawe: 2 | 2 jaar 9 maande 3 weke 2 dae 2 ure gelede gelewer
Uitstekende stuk werk!!!!
Weergawe: 2 | 2 jaar 9 maande 3 weke 2 dae 30 minute gelede gelewer
Baie goed neergepen. Ek wens al diesulkes kon hier kom lees. Insiggewend met goeie raad!
Weergawe: 2 | 2 jaar 9 maande 3 weke 21 ure 37 minute gelede gelewer
Onderwerp: Raad vir agterdog
Delene,
Baie goed geskryf.
Liefde
Tebseil
Weergawe: 2 | 2 jaar 9 maande 3 weke 16 ure 4 minute gelede gelewer
Baie goed geskryf met baie goeie raad, wens net in alle gevalle kon dit so maklik wees om weer die een met die dwalende oog terug te wen. Wat gemaak as jy al hierdie dinge doen in so 'n mate dat jy jouself vernietig deur daardie persoon gelukkig te hou, te komplimenteer ens. maar die oog dwaal nogsteeds en om dan te hoor jy is nie die oorsaak, dit is nie jou skuld???
Weergawe: 2 | 2 jaar 9 maande 2 weke 5 dae 7 ure 17 minute gelede gelewer
Uitstekende advies wat oral uitgestal behoord te word!
Weergawe: 2 | 2 jaar 4 maande 2 dae 3 ure 28 minute gelede gelewer
baie baie goed
Weergawe: 2 | 2 jaar 1 maand 3 weke 22 ure 15 minute gelede gelewer
Onderwerp: net random kommentaar
Dis juis hoekom ek nie meer gedigte skryf nie.
Daar is nie 'n manier dat ek jou uitspraak oor die lewe en allerdaagse dinge kan verbeter nie!
Wel done Muis.
Ek is trots op jou. Jy is my buddy my pel en ek love jou gedigte, kort verhale, happies en als wat daarmee saam gaan.
Tot later muis
xx

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
Meeste gelees in die laaste 24uur
Meeste kommentaar ontvang in die laaste 24uur

Gedigte
Kortverhale
Woes-Nuus
Artikels

deur NVT
Die boek belig 'n wereld oue situasie uit die perspektief van die "ander vrou"- soos deur die vroue self vertel Die boek sluit ook perspektiewe deur 'n maatskaplike werker en 'n predikant in.