Artikels

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Jare lank het ek van die *Bothas (skuilnaam) gehoor en gedink dat ek beter as hulle is. Hulle is in ons dorp bekend as manne wat nie skroom om appels te swaai nie. Ek weet nie of al die stories die waarheid is nie, maar dit was genoeg om my ver weg te laat bly.

Menige male het pa en broers saam geveg en saam in die hospitaal beland as hulle een te veel gewaag het, veral nadat die voggies gevloei het. Spietkops het blykbaar ook nie vir hulle kans gesien nie. Nadat hulle hulle name gebrom het as hulle afgetrek is vir enige oortreding, het die spiedies hulle 'n wonderlike dag toegewens en verskoning gevra omdat hulle hul tyd gemors het! Hule vrouens het hul ook aangemoedig om nie met hulle te laat mors nie.

En toe gebeur dit dat ek die familie noodgedwonge moes leer ken, omdat ons aan dieselfde klub behoort het. En my vooroordele moes wyk. Hulle is vriende wat jou deur dik en dun bystaan. Hulle vriendskap wyk nie en jy word in die hele familie ingetrek en almal is jou pelle. Jy leer die manne ken wat die hele dorp aan die bewe het, en skielik verdedig jy hulle oral waar hulle in jou teenwoordigheid beskinder word. Jy gesels met hulle en besef dat hulle ware vriende kan word, maar jou eie lewe is so gejaagd dat daar nie werklik tyd is vir saamkuier as gesinne nie.

Jy word saamgenooi op 'n laaaaaaang naweektrippie op 'n verweg plasie in die Bosveld. En skielik jy weet nie of jy daarvoor kans sien nie. Nog nooit is daar saam oornag nie en die bangmaakstories spook in jou kop. Die manne geniet hulle voggies, en jy het al gesien hoe hulle lyk nadat hulle iemand bymekaar gemaak het. Jy het al vir mamma gevra waarom sy nie met haar man raas as hy veg nie en sy was kwaad: Hy kan mos nie met hom laat mors nie!!! Daar is baie kinders, ongeveer twaalf tussen een en 'n half en sewe, tussen vier mammas. Joune is al klaar met skool. Jy begin die vreeslikste nagmerries kry en beplan om doodsiek te word om die trippe te mis. Jy weet jy het hulle al verdedig, maar nou weet jy nie. Dalk weet die ander mense, wat altyd gelag het as jy hulle verdedig tog beter. Jy loop altyd voordat die party rof raak en hierdie keer gaan daar nie wegkomkans wees nie.

Soos susters moet wees, so is die twee susters en die twee skoonsusters, ma en ouma. Hulle lag en maak kos, hulle speel kaart en pas mekaar se kinders op. Hulle gesels en hulle handjies is nie rond nie.

Die tweede laaste dag skrik ek my byna 'n papie. Die onbedagsaamheid van een van die broers veroorsaak dat 'n skoonsuster en 'n suster se kind baie seerkry. Die perfekte geleentheid vir 'n vuisgeveg van eerste water. Drie van die vier gesinne is in 'n kookwaterkrisis gedompel. Ek maak my klein en wens dat ek die oggend al gery het. En die vrouens hanteer die saak soos grootmense. Hulle moes gekyk het dat die kinders nie in die situasie beland het nie! Toe ek vra hoe hulle dit regkry, kry ek die antwoord: As een 'n afdag het, los ons haar/hom uit!

Hoe kon ek ooit dink dat ek beter as hulle is? Ons is vyf susters en die afgelope paar jare was ons selde saam op 'n geleentheid. Daar is altyd twee wat nie met mekaar praat nie, oor die onbenulligste misverstande. Die een het nie van die kos gevat wat die ander gemaak het nie, of die een het die ander skeef aangekyk. Ons is jaloers op mekaar en elkeen wil meer vernaam wees.

Nou sorg ek dat ek nie een ding wat ek oor 'n suster hoor, verder laat gaan nie. Ek probeer my bes om nie die oorsaak van onmin te wees nie. Ek troetel my sussies se nabyheid en vertel hulle hoe mooi hulle is en hoe mooi hulle lyk. En die sielsgeluk is wonderlik. Ek voel bevry, sag, mooi.

Mag ek maar soos die Bothas wees, dan sal ek gelukkig wees!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dis so waar wat jy hier sê. Die 'ruwe diamante' van die samelewing kan ons wat op hulle neersien, soms waardevolle lewenslesse leer. Dis eers nou in die middeljare dat mens besef hoe kort die lewe kan wees en hoe nodig familie mekaar het.
14 jaar 5 maande 2 weke 3 dae 9 ure oud



Wie Praat Nou? Boek 1 - ʼn Gids na die wêreld van Geestelike Energie

deur Thalita Goosen

Wie Praat Nou? Boek 1 - 'n Gids na die wêreld van Geestelike Energie - is die eerste van 'n reeks opeenvolgende boeke wat vanuit 'n geestelik/wetenskaplik/sielkundige denkrigting onderrig. Hierdie reeks boeke is gemik op daardie mense wat gereed is vir 'n hoër Waarheid en reguit antwoorde.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar