Artikels

Titel: Splitpen
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Virtuele Digbundel deur millenniumdigter Susan Grobler



Refleksies
(vir Kiebs)

steel ‘seblief vir ons ‘n vuurtjie...
en steek vir ons gondelswane en
sonsondergange    aan die brand

verf roekeloos met jou palet
warmrooi vlamme oor
rimpelende kanale

kwas met jou onmeetlike talent
skilferende geboue en koepelvormige
brûe aanmekaar

waaroor ek kaalvoet na jou kan kom
om my brose geilte    in die sloepe
van jou skuimende vestings uit te spoel

voordat jy skemertyd weer wegstippel
en jou beeld onderstebo verdwyn
in die waters van Venesië



Die Weegskaal
(vir Etienne Leroux)

terwyl ons broei
oor goed en kwaad,
fraksies opweeg
en balans probeer vind

word gewigte geplaas:
koud en gevoelloos
tydloos en patroonloos,
weerskante steier arms vir balans

middernag slaan die skaal oor
een vir een gewoë
een vir een te lig bevonde,
want agter die son wat helder skyn

het die skadukant
een maal te veel gewink
en het die teenwigte van serviam
koponderstebo, verbygegaan...



Perspektief
(vir Franci)

moenie skaam wees nie,
my lief, dat vreemdes ons
armoede    in jou foto’s
raaksien nie

Laat hulle klets oor die guurheid
van ons Madagaskar-huisies
hulle neuse optrek vir die gietreuk
wat aan ons manne klou

laat hulle wonder    oor die gebarste
hande van ons vorstelike vroue
agter bakhand en met groot oë
ons kaalgatkinders beskinder

hou jou rug regop, my lief,
trek jou mooi skouers terug,
lig jou ken    en kyk hulle
vierkantig in die oë

want ons woon in kompasse van klei
wat nie lek nie as dit reën
ons mae is vol van die kos en kandeel
wat ons ouers biddend    oor ons seën

ons is gelukkig om saans
bloot net bymekaar te wees -
hulle kom tog elke jaar terug
net soos Uccello, die voël,

om hier te kom afsaal en rus
in die skadu’s van ons bome
en ons kleurryk geweefde lap
om hulle dik lywe te hang

om te eet aan die kanasterkreef
wat ons vaders vir hulle vang
en te luister na ons jonges
se volksmusiek en sang

moenie skaam wees nie, my lief,
bring die lig met jou lens
gee aan hulle drie-dimensionele
optiese perspektief



Zenofobia

vreemde woede golf oor my,
afwesige oë pasmaats, nogal aan my sy
stof en walms verf picassorig
vir almal dieselfde stoïsynse gesig

navrante bomme begin verlangs ontplof
span hoepels wat onverpoos verdof
demokrasie aan flarde geskiet
óm my net brokkige verdriet

skrapnel salueer wrokkig in been
onkruid groei hoog in reënboogsisteem
ek smag, soos Rut, om in jaarringe te verpas
die donker het ‘n manier om lyding te versag

sal die legioen    weer die sekelmaan
grafies, in grafiet, aanmekaar kan weef?
dit lê steriel    in Rubik se blokkiesbaan
honger hande wat dit optel, beef...

vuurlig lem die bloedige land
skeur humeure uitmekaar
dan skielik die stille stilte -
selfs God het ophou asemhaal

ek kyk verwonderd hoe ismes verdamp
     buite hang
                    veragting...
                                stewig ingeklamp.



Ars Moriendi

Nuwejaar het laag begin, die tyding
dat jy, ons eie ystervrou, wou gaan,

ja, hét gegaan, tevrede, want jou bakens
diep geplant, het hoofstuk twee gebaan.

Oorwinnend tree jy uit die Slag van Parlement:
die peshaard van giftige paternus-adderbog,

tree jy uit afhanklike frustrasie na vier en dertig jaar
se onafhanklike-“justice I shall persue”-menseregteoorlog.

In jou laaste uur    gryp jy na háár sagte hande,
die een met die vreemde flessie perubalsem,

wat jý so lank vertroetel het, die een en almal,
dryfhout, onbegrypend-begrypende bande

nou gelyk met jou
“Betty, I need to go”.

Helen Suzman: I and the rest of the world.
Monumentaal. Monumentaai.

Die volk sê dankie
en koebaai.



Mishandeling

Soms was jy
‘n skoon bladsy,
meesal net
leë papier -

maar ek sê tog dankie
vir die jammer    in jou oë en
die soet oranje-en-geel kappertjies
uit ons buurman se tuin.

Op die laaste bladsy in ons boek
skryf ek    die kolle weg,
so ook die merke aan my keel,
maar die ink    het van min gebruik

halfpad opgedro



Mona Lisa

‘n Nuwe Renaissance
het begin: volrond,
enigmaties, liries,
soos die stil glimlag om
die Mona Lisa se mond.
Kom ons bou ‘n stad
om haar poëtiese portret!
Verwyder haar versigtig
agter die dik glas
van ons gisters, want
sonder vryheid van beweging
in die skewe horison ágter haar,
sien ons nie ons toekoms nie.



Parthenon

haat
drup soos donker molasse
wanneer die skugter maagd,
nou verneder en onteer
deur ‘n turkse kryger,
haarself in wanhoop
in wit Athene van ‘n
Parthenon-monoliet
afwerp



Middeleeuse Modusse vir ‘n Stadskind
(vir Bernadine Kruger)

I Dories (mineur) ♪
d eˆf g a bˆc d

jy is dood
voordat jou man eendag
vir jou ‘n minnelied kon sing

II Frigies (mineur) ♪
eˆf g a bˆc d e

jy is dood
voordat kinderbloeisels in bot
in jou lieflike skoot kon spruit

III Lidies (majeur) ♫
f g a bˆc d eˆf

jy is dood
al dra ons jou boodskap deur die stad
sorgvuldig op ons T-shirts gesplash

IV Mikso-lidies (majeur) ♫
g a bˆc d eˆf g

jy is dood
al bekla ons ons weemoed en
druk ons ons woede op Mxit uit

V Eolies (mineur) ♪
a bˆc d eˆf g a

dit is tog vreemd dat dié taxi
steeds jou bromponie agterna sleep,

VI Ionies (majeur)♫
c d eˆf g a bˆc

want jy is dood.
Maar ons weet en jy weet jy lewe in Hóm:
Hierdie Drie-in Een-Jesus-van-Nasaret...



Lesotho

deur Caledon se grenspos
verby Leriba se gemors
ry ‘n ou man op sy donkie
onrustig in sy tog

hoog uit die Maluti’s
hoor hy tromme waarsku:
“die pad na baie water,
bring onheil vir die volk”

die Ramethokgo skuld sy peul-
en beenarmbande in die wind
blaas belus    dog ingetoom
sy wanhoopsvuurtjie aan

die medisynevrou se stem
fluister saggies in die wind:
“pasop, sê ek vir julle,
pasop vir die slang wat kom!”

twee skaapwagters vou sku
hul komberse teen die wind
loop vér    verby die nuwe water
vermy vars hopies op die grond

langs die kronkelteerpad
speel klonkies bakhand rond
die pagan bring die rande
wie gee vir tokkelossie om?

voor sy ronde grasdakhut
word ‘n vuurtjie aangeslaan
die ou man gooi sy dolosse -
langs hom    blaf sy hond.



Kringdans

reënstokke swalk ritmies
uur na lange uur
eentonige voeteval
stuif stofdeeltjies om die vuur

donker oë lonker en lag
daag al die ruigtes uit
tooi die witwarm vlamme
in vuurspuwende rooitongprag

in ’n parket van spiese
veilig    in die hittekring
word dié jaar se water
in ‘n weeldedans besing

in die stiller skaduwees
agter die ritsel van die gras
sluip ‘n luiperd geruisloos -
honger dors die vors



kreeftegang

o, my broer, o, my suster,
merk die kreeftegang:
vervalle ou geboue,
tolhek potholes-paaie,
alfabetiese vervolging
van bekende Afrikane

o, my broer, o, my suster,
wees sterk, wees biddend:
waak teen intrigante verglyding,
reik mekaar die hande
dek maar altyddeur
mekaar se weerloos rûe

o, my broer, o, my suster,
luister na my fluistering:
moenie blindelings identifiseer
met die kremasie van ‘n volk,
kokend soos ‘n kreef
in ‘n driebeen-pot



kerse

my kerse brand
in kleure van pastel
Yin-Yang roosmaryn
in warnet lentelabirent

my kerse brand
in silwer kristal
‘n twaalfhoek
somersigeunerbal

my kerse brand
in herfswarm olies
speseryrooi karavele
wink afwagtend na my

my kerse brand
in bot bottelblou
die lonte kort en flou
die ligkring kleiner

ek blaas dit liewer… dood



Vasgevang in woorde

Ons spartel verward rond
opsoek na nuwe woorde
om ons gedagtes    en
gevoelens uit te druk.

Ons handhaaf ons Deetse taal
deur die pikettering van wagte,
beskerm ons kleinnood met 'n
haakbus van woordeboeke,

maar die retoriese vraag bly staan:
wat doen ons om te vernuwe en te
ontwikkel, sodat ons nie vasgevang
word in 'n tropopouse van woorde nie?

Jy, taalploert, besit jou eie magnitisme,
onweerstaanbaar vir die jeug! Immers
skep jy nuwe woorde, 'n orakeltaal
wat ons oues nie aldag verstaan nie.

Help my ons taal ophef en bou.
Ons durf nie faal nie...

Soos manna uit die hemel
moet nuwe woorde op ons daal.



misdaad
(vir Sheldean Human)

spelend in onskuld
jaag sy skoenlappers rond
dan, skielik is hy daar
die gestalte in hemp vrolik bont

winkend roep hy
gesels-gesels
beduie-beduie
al verder    van die huis

twee koue roomyse
smelt druppend op die grond
spoeg loop vir oulaas
soet deur haar mond

beduie-beduie
gesels-gesels
dit word laat en sy moet,
sy wíl, huistoe gaan

sy skop en skree, word vasgebind
niemand om haar trane te sien
só pikdonker    voor haar oë
sy kan haar bangwees hoor

sielalleen
hulle is nie meer twee
later droog    haar beendere
stom in die wind



Helter Skelter
(vir Vincent Pienaar)

Jakobyne verwerp deur eie bloed
word in ‘n sokpyp ingetrek
‘n dekade se weggooikudde
sorgsaam met ‘n kruis gemerk

en die stiefdogters van Sion
sing oor duisend kilometers heen:
ons is kinders van die passieblom
ons is vryer as die reën

‘n hofnar skree betowerend:
“sonder ‘n vinger te verroer
het die hippiepater brutale
moorde uitgevoer!”

en die stiefdogters van Sion
kwyl oor duisend kilometers heen:
Charlie het niks gedoen
waaroor hy skuldig voel

na tien spanningsvolle maande
trek twaalf jurielede laer:
slaan die smeerboel dadelik hok
massamoordenaar!

en die stiefdogters van Sion
spot oor duisend kilometers heen:
lig die skandkleed van jul lende
vergif die engheid van jul denke

in ‘n onbewaakte oomblik
kantel die wierook in sy blik
tyd vir kaatsspel met kadawers,
genoeg gehad van húl palawer

en die stiefdogters van Sion
smeek oor duisend kilometers heen:
sny die jukriem van sy kamas
en stel die doodstraf dadelik af

psalms van verset word
gesange van bevryding
ons lewe sodat ons kan sterwe
dood wag soet in M se krip

en die stiefdogters van Sion
sing agter duisend tralies heen:
Helter Skelter is onskuldig
in ons broei sy kind!



My Taal Kwook

behoede my
van stagnasie in my taal
behoede my
van net terugsit en niks betaal
'k wil sáám met die gety
nuwe woorde en uitdrukkings voortbring
soos ‘n tsoenamigolf
Afrikaans oor tonge laat spoel
sodat my taal kan kook
en kwook en oorkwook
en tot aan die einde
van alles kan bly staan
selfs al het ék
lank reeds vergaan



Taalsteentjies

Steyn, Hertzog en Onze Jan
het hulle sekuur gelê: 1909
delikate steentjies "voor
Taal, Letteren en Kunst".

Soos kakiebos het hierdie wonder sterk,
sterker gebeur deur die geil somers en
asmatiese winters van D'Africue du Sud en
het 'n malse Stem opgeklink: jeugdig, spits,

later gespoel oor gebarste kranse en verlepte
valleie, diep spore op stofvlaktes getrap
en al harder en harder begin lag vir
die verknotte dier wat probeer relegeer,

want tussen Tequila-en-sout, "cool" en fok word
steeds dragtige wondersteentjies neergelê.



nagedagtenis

jy
en my siekte
het my menswees
reduseer
tot ‘n enkel
vertrek



Obelisk

'n Simboliese sieraad
troon grotesk omhoog,
smelt vergete horisonne
in sierlike boog

simptome van gister se oorlog
en more se gewete
en doen dit quod erat
faciendum, verbete

met bindende krag word oogmerk
en doel in struktuur betrek,
lê bestemde baken lepel
met riviersand en stadsbetondrek

vorm 'n holisties denkbeeldige,
dog sigbare geheel, wat meer
vertel van 'n stad se voortbestaan
as net 'n enkel onderdeel

gefabriseerde Westerse staaltjies
van oorlog word tot waarheid omvou,
afgryslike verhale in sement kunstig
deur argitek vir ewig ingebou

verkreukelde sirsakarlap waaronder
helderrooi bloed stadig lek,
bomverskroeide, bewende hande,
wat angs in wydgesperde oë bedek

maar herinneringe sypel stadig
deur die vergetelheid van Lethe,
breek geleidelik deur die newels
van pyn, lyding en gewete

'n kunswerk van hamer en beitel
soos krale in 'n ketting saamgeflans
vul verdwene leegheid met kleursmeringe
in verruklike skoonheidsglans

'n warrelwind nestel teen die koele
gladheid van die kunstige Obelisk-lyn,
spiraalwaai 'n volk se verbittering,
verbystering, afkeer en pyn

dit koester en troos die ondraaglike
weemoed oor 'n verlore stryd,
weg waai sanderige, stowwerige wind,
laaste oorblyfsels en oorlogsnyd

die waarde van die Obelisk lê
in meer as net vergange moraal,
dit beur op, voortstuwend teen
die onbeplande, onmenslike verval

die vinger na bo bind ou verpletterde
geskiedenis en gebroke menswees
tot hegte, vreedsaam eenheid,
nuutgebore sorgvry gees.



Afrika-inisiasie

♀ versus animus

1 hoekom het niemand
2 vir Mpho gewaarsku
3 dat die Afrika-droom,
4 die sinistere inisiasie,
5 vir altyd bly nie

6 weg is haar jeug
7 nog verder haar vreug
8 al wat oorbly
9 is lang kalkoenlelle   II
10 en verrekte vlees    O

♂ versus anima

1 niemand kon Matome
2 daar weghou nie
3 die hoogbrandende vure
4 die tradisionele kalbas
5 wysheid het oor hom gekom

6 kyk, sy oë het oopgegaan!
7 sy blik strek verder as
8 asvaal gesnede beelde
9 en kom tot ruste                OO
10 op ‘n jong a-inisieerder     I



Ikoon
(vir Steve Hofmeyr)

eendag, lank lank gelede,
het ‘n heuningwyser jou siel,
een donderstorm, hoog bokant die
stratocumulus in stukke opgetel

“en ek, ek is Windgat de Klerk”
het jou woorde    soos
sultanadruiwe, stukkend,
oor jou lippe gebars

‘n bitter Avondmaal onder dowwe sterre
en terwyl jy jou droefheid beklaag het,
het die heuningwyser jou voorkop
met nardussalf uit sy albaste fles gelawe

jou trane met sy vere afgedroog,
jou sirokkowarm voorhoof
met sy vlerke koel gewaai
en jy het, heel, en sonder om te groet,

die voordag tegemoet gegaan,
want jy het ‘n aanklank kon vind,
al ken jy, tot vandag toe,
nie eens my naam nie...



Ursula se droom

ek stap verby
gister se angste
probeer jou wakker maak
uit jou gotiese drome

staan nie stil nie, Ursula,
op jou pelgrimsreis na Rome
saam met elfduisend Engelse
maagde rustend onder bome

wees waaksaam
lig jou lantern,
die Beskermengel
het haar palmtak verloor

‘n eenvoudig graveerde
Belgiese houtkis, met ses
beskilderde Memling-panele,
wag reeds op jou...



Tuin van Verlange

Soggens, as ek vroeg opstaan
om ‘n vuurtjie aan te slaan,
wonder ek wanneer jy eendag
stomende koffies saam my sal drink

Later, as ek geduldig
sand en klippe bymekaar hark,
verblind die lig my
as ek na die hek bly staar

Smiddae, as ek jou die houtbrug,
met mosbegroeide trappe, sien oorsteek,
laat val ek alles    om jou
in my arms te verwelkom

Saans, as ek alleen in my bed lê,
droom ek van jou,
jou lag ‘n weerklank van my liefde,
jou oë    vensters van my siel.



Tafelberg
‘n 1652-hyg

rusteloos, onder die kiel van die Drommedaris
sypel bleekskuim uit die trankiele see, ‘n
suggererende seesloerie vol stimulus, oorhoekslekkend
oor die stom strandloper se leë spoor

van vlet tot vleuel sidder die boeg krakend
onder die krag van die hoererende see,
gekniehalter met anker in die donker dieptes wat
bietjies-bietjies toelaat sonder om alles prys te gee

dagbreekillusie, grouligsuspisie
verdwyn wanneer die son glimmend
sy baan weg oor die immer rustelose
baster Indies-Atlantiese gouegolwe-see

die seilskip-driemanskap vol skeurbuik en
kwasjiorkor word koorsig, naarstig agtergelaat,
roei kliphard bultende spier met mening
na die ongerepte, onbekende oorryp-winkend maagd

al groterwordend konstellasie, vervorm
die donker moederberg, knoetsig geboetseer
deur ‘n kundig Meesterhand, en toon haar knus
voet- en nekholtes wat uitnodigend, lokkend nooi

oplaas verdwyn haar sagte miskombers
en toon sy guitig blinkend haar naakte skouers,
afwagtend op die hygend, beurend, ongetemde drif
waarna sy verlangend uitsien in eeue-oue sug

vol hartstog bestyg besete voeteval in dolle vaart
haar gebreekte fynbosplato en eindig sweetnat,
in stollende hyg, heelbo, en verjaag so daarmee die
honger jammerklag van maande se onseker vaart

tot ruste kom die gekwinkeleerde angs
onder koel, beskermde arendskrans
verkneg deur ‘n 1652-hyg
vir ewig en altyd – Tafelberg.



Rooivalke
(vir Genl. Cruywagen)

berg-op deur koel klowe
na Ou Bobbejaansgrot,
uitskud die vere
vir ‘n harde, koue nag,
vroegoggend-soektog
na ‘n ou sandsteengraf
met sierskrif-inskripsie dof:

delf diep na sewe Sannas
voltooi Cruywagen se lot
begin wonder, begin grawe -
vind ‘n kers vir ‘n mot

wat máák die Rooivalke
in Ou Bobbejaansgrot?



urbaan narratiewe
(welgetempereerd)

Bloemfontein:

iemand het vergeet
om ‘n hek toe te maak
of het iemand?
mag daardie dolhond
nooit vergeet:
die lieflike Kovsie-student
deur hittige Rottweilers
opgevreet

Hollywood:

iemand het vergeet
om haar lief te hê
die blonde blom    in wit geraam
elkeen-se-Marilyn-skuldbevlekte-blaam

Johannesburg:

iemand het vergeet
om te sê strignien het die
manier om self te konsentreer

Daisy, Daisy, Daisy,
niemand wou luister
na wat jý wou sê

is jy dalk (onnodig)
soos oorskiet    vir die
honger hondjies gegee?

Pretoria:

iemand het vergeet
om haar laat-aand op te laai
die skrale meisiekind
nog blote kind
hier naby die stasie
nou tweebeenhondedrek

Roseville:

iemand het in nineteen fourty nine
vergeet om haar ‘n lift te gee
en nou sit ons en wonder
oor Schroeder, Bubbles Schroeder,
die na-oorlogse glamour girl
die blom van Rissikstraat

ek wonder, dié iemand,
het hy eers saam met haar geëet
aspersiesop, tjops en tjips
of het hy bruin modderkoekies
vroeg die middag al in
die voëlpark hard gebak?

ek wonder, dié iemand,
het hy lank en deeglik beplan
hoe hy háár, die wilde een,
een nag in vroeë oggendure
hoedloos skoenloos jasloos
en sonder om haar kouse uit te trek

soos ingelegde perskes, yskoud,
tussen blare en voëlmis neer sou lê?
of het Bubbles, die-loslyf-dronklyf-opportunity,
sy pad heel toevallig gekruis
en het sy honger, sy slymerige honger,
haar per ongeluk versmoor?



Armosyn Claasz

Tydens die maand, Siwan, in die Goue Eeu,
met die aankoms van die Slawekus
het sy, onwillige immigrant, die broeimasjien,
sterk    tussen hulle gestaan.

Atlantiese huwelike was nou wel verbode,
maar aan minnaars het dit nie ontbreek.
In 'n 1661-slawelosie word gebore: die mooi een,
die slim een,    Armosyn vannie Kaap.

Geletterde "matres" van die slawekinders
gou-gou 'n eie kamer, 'n groter rantsoen,
gesogte neteldoekuitrustings gemaak uit
groot hoeveelhede (verdiende?) katoen.

In 1704 het Armosyn haar vryheid bekom
"in vergeldingh van haren goeden
diensten" status nou "vryswartin".
"Hier is vir jou een erven

aan de buitewijken van de Kaap."
Armosyn het stil geglimlag
en met genoegdoening
haarself met eie slawe    omring.



Elegie

'n Sombrero lê eenkant
aan't uitrafel in die wind.
Stilte hang swaar

oor 'n eenkant graf.
"Die kaktus haal nog asem!
Bederwer van genietinge,

gaan verby, gaan verby!
Jou teenwoordigheid
laat die kleintjies huil."
Na 'n paar druppels reën,

net genoeg om die vensters te bevuil,
beur die kaktus orent.
Die dood het 'n manier
om tog te suiwer.



die orrelis
(vir Wim Viljoen)

ek onthou nog
die vaalblond van jou hare
toe jy as musiekstudent in
Parys se strate rondgedwaal het

ek sien nog
jou slanke hande
wat apaties Baroktrillers
op die pyporrel demonstreer

ek onthou nog
jy as dosent in die negatief
voor die klawesimbel
se stram plektrumklawers

ek ruik nog
die uie aan jou hande
van gisteraand se maaltyd
met sorg berei vir jou geslote kring

ek merk nou die plooitjies
van vêr-kyk-en-wag om jou oë
roemryke fateri, stoksielalleen,
in jou groot Brooklynhuis



boeremag duo

op my verjaarsdag, my lief,
en droom van jou

die boeie vergete,
die vernedering...
die seer, onverwagse houe

die stink asems, snags
vreemde musiek
wat dreun in my ore

ek ruik die veld
die son
die reën
en ek onthou...
ek onthou...
ek onthou, my lief...

die klik van 'n R-4
vloeke skellend in blou:
"t'rug innie boei met jou!"

ek wonder maar net, my lief,
wie, ja, wié het my
en my boeremaat verraai?



die knopeblik

krap-krap met 'n hekelpen
in 'n knopeblik rond
opsoek na final touches vir
garments sysag en bont

groen, oranje en aardse blou
khaki, wit en sjokoladebruin
selfs silwer, koper en goud
elke knoop    'n reis oor 'n duin

die knope vertel van geheime
uit gister se onthou
styf weggebêre    in die kreukels
wat een vir een ontvou

eindelik donkerrooi knope
pare van agt in twee rye gemerk
om heel laaste    aan taylor
made garments te werk



eendag
(vir Dewald Smit)

ek kyk terug oor tagtig somers
en wonder of wat-ek-wou
en snags so van gedroom het
op my Parker-lys voltooi is:

glasie rooiwyn in Franschoek,
gekalkte aftreehuisie by die see,
Shakespeare rol, 'n eie gedig,
Beethovenkonsert of twee

diepseeduik, 'n reis oorsee,
'n maat    om saam 'n plan te smee...
in die peperduur aftreeoord

dwaal geeste heen en weer -
waarom, waarom hierdie spoor,
is 'n onbekende stryd verloor?

tyd om te kom en tyd om te... oeps!
eendag het reeds verby gegaan!



Elsa se gebed

Meester, ek staan hier op die
hoogste pieke van die berge
wat deur U hande gevorm is
en die winde wat U skep
waai wild deur my hare
en ek kan nie anders as om
aan U grootheid te dink nie.

Kom U ook somtyds hierheen
om weer na U handewerk te kyk
en te peins oor die sondes van die
mense wat weggedraai het van U
en wat nie van hulle verkeerde
weë in die laagtes wil wyk nie?

Vader, wat gaan in U gedagtes
om as U afkyk op die aarde,
vind U ook troos in die stilte -
hier waar die bergarend
sy nes maak, en die ribbok
veilig op hoë rotse loop?

U gaan oor die hoogtes van die
aarde en maak U gedagtes bekend
aan diegene wat op U wag.
Here, ek wag ook op U.
Ek wil soos 'n Henog van ouds
saam met U in hoë berge wandel.

Ek wil na U sagte stem luister,
U liefde uitroep sodat die kranse
die eggo van U hart deur die heelal
laat weerklink, sodat die mensdom
hulle oë sal ophef na die berge
om U in eerbied en stilte te aanbid.



fokus
(vir Stella Olivier)

dis alles pure bluf,
kwas die kunstenaar kwistig voort:
Paolo se vanishing points
en die staggering secrets they hold
vra jouself af of earth continues...
wonder what lies beyond?
fokus op een punt tussen die lyne
pasop vir die leading stag
as jy die blik met verf omtrek



Sonneblomme
(vir Rita Smit)

Buig saam met die sonneblomme -
die hoofstuk van ons menswees
is nog nie gereed
om gelees te word nie.



die waterkloof vier

die wind waai
kleurlose reëndruppels
by c-maks verby

vermeng blende
met die soutsmaak
op my lippe

onkiese energie
wit en swart pionne
op 'n onklaar skaakbord

het ek toé maar geweet
my lydelike spel
sou soveel rassehaat
ontketen...



Immortelle

met sonsondergang word
gedroogte sewejaartjies
in my aorta geplaas

papieragtig, spesiaal
gedroog om hul kleur te behou -
ek verlang na die dae

toe jy met sewemylslaarse
oor die kamers van my hart
heengestap het



Marilyn Monroe: In Seisoen
(want ek kan, ek’t in ‘n bioskoop grootgeword)

i Marilyn: In Lente
1926 - 1941

Wat is dit in ‘n naam,
Norma Jeane Mortenson,
dat jy in jou vroeë kinderlike onskuld
jouself, inferieur, nie kon vind nie?

Die vrae rondom jou biologiese pa,
kon of wou die mentale “film cutter”,
of dalk die heer Goddard, dit nie beantwoord
nie, vandaar jou doopnaam Baker?

     Al die vrae, al die vrae, “jongejuffer,
     wanneer word jou skoolgeld betaal?”
     Het jy soos die ander rantsoenmaal kinders
     aan jou sy, ineengekrimp van godweetwat?

Het jy toe al in jou bruinhaarhofie
‘n vae vermoede gehad dat dít,
die togte in jou privaatheid,
nooit sou endkry nie?



ii Marilyn: In Somer
1942 - 1946

Wat is dit in ‘n naam,
soete Norma Jeane Dougherty,
dat jy jou deur die prosesse van
fagositisme en Conover-transfigurisme
in die eeue-oue jakkals, die geldmaker
Foxy, se bloeddorstige kake riskeer?

Of het die kameraflitse jou totaal verblind
sodat jy jou nessie verlaat om jou,
vrywillig natuurlik, of vrywillig onnatuurlik,
in Monroe-se-kuil te bevind?

     “O ja, en wat sou jou ouma daarvan sê?”



iii Marilyn: In Herfs
1946 - 1954

    “Waarskuwing: In hierdie seisoen die subtiele
     verskyning van kameraad Jekyll en agent Hyde.”

Wat is dit in ‘n naam,
Marilyn DiMaggio,
dat almal ná jou Hollywood pg-tog
óór die “River Of No Return”
en dwársdeur die “Asphalt Jungle”
aan jou, ja jý “Shocking Miss Pilgrim”,
so aan jou lippe, jou tuitende lippe
onsubtiel in karmynrooi getooi, hang?

Jou uitlokkende lippe wat skreeu:
“We’re Not Married!”, en dan net bloot
natuurlik: die sagte ligroos lippies
(tot sekondes gelede nog skaamtelik
in flanelet-en-joba getooi) waarna
(ander) digters smalend verwys?

     “Nee, nie ekke nie, beslis nie ekke nie.
     Die uitsig van hier is goed, dankie.”

Dit alles terwyl jy, voorbladliefling, skaamteloos jou
dertig en ‘n half relikte van vele reise talmend op die
pyntapyt van “Niagara” uitstal. Jou sagtehaarpersie
aan gulsige “Fireballs” van “Tomahawk” ontplooi.

    “Gina die Gewete: Dit alles terwyl dit by jou
     ingeprent is dat “Gentlemen Prefer Blondes”
     en terwyl jy solitêr in die stilligheid met die
     gedagte, “Let’s Make It Legal”, speel.”

Jou kop ver agteroor gegooi,
     “gaan aan, moenie ophou nie, ons smaak dié kiekie
     waar sy wydsbeen in haar waaierwitrok poseer!”
jou gul mond nou in uvulêre lag.

     “Weer Gina: Onthou, die swart boekie waarin
     jy alles moet neerpen, is in hierdie geval blou.”

Ag, Marilyn, onthou jy, jy’t ons self genooi?
Nog laggend gesê: “Don’t Bother To Knock”.
Henry se oorvol huis moet dadelik weer oop:
die deur na die Weste sodat politici kan wyk;

die deur na die Suide sodat getroue fliekvlieë, diegene
sonder sweterige koepelhande, wat nog altyd net kyk,
kan inkom om jou in blanko film by te staan, pragtige
silwerdoek-orkaan, minlike nimlike nimfomaan.

    “Fluisterend met takt: Jy is steeds ‘n fraaie meisieweeskind,
     al huil jy geluidloos, STUKKEND, in die gier van die Bacchuswind.”

Hoe kan ons jou tog waarsku, blink “movie star”
wat skyn en skynbaar so onbereikbaar ver is?

     “No Business” is “Like Show Bussiness”,
     maar merk jy nie, liefste “Lady Of The Chorus”,
    merk jy dan nou wragtig nie dat die herfsblare
     in Korea reeds hul kleur begin verloor?

    “Tweede waarskuwing (dringender vanaf prompt side):
     Pasop, skalkse Eve, want die oë van die Rose Loomisse
     van die wêreld kyk rond,nee, priem rond met ontstemde oë,
     “Clash By Night” bangmaak-oë wat in afguns na jou staar.”

Het jy noú al in jou blondehaarhofie
‘n trae vermoede gehad dat dít,
die togte in jou priváátheid,
nooit sou endkry nie?



iv Marilyn: In Winter
1955 - 1962

Wat is dit in ‘n naam,
Marilyn Miller,
dat jy verkies om jou altaar, en ook jou put,
jou “Let’s Make Love”-liefdesnessie(s),
     (en liefdessessie(s) – onthou, die ”Seven Year Itch” is verby)
vir die ysige koue van Brentwood te verruil?

     “Joe-hoeee? Anybody home?”

     (Insetsel deur Afrikaanssprekende Blog-joggers:
     “Ons geslag verstaan nou eenmaal nie die ‘fifties’
     se onkunde oor die houvas van allersoortige
     invloede, soos dwelms en drankmisbruik, nie.”)

    “Digter: Waar kom dié bleddie bloggachinos
     skielik vandaan? Ons is nog by die BIG screen,
     glans voorblaaie (met die klem op gláns)
    en die ysige winter van Brentwood, verstaan?”

     “’n Maagdelike gedategang is finaal verbreek (sic).
     Sny! Cut! Kom, laat ons afsluit...”

Ns. aan Marilyn Monroe self:
Het jy ook, soos die fyne misterieuse “Misfits”, nêrens
ingepas nie? Of wou jy bloot nie deel wees nie?
Jou gewelfde liggaam, eens “stunning”,

nou net ‘n skeletkaal herinnering
gebalsem in mottekruid, vermuf stil,
stiller as die flieks van toentertyd,
in die “Corridor of Memories”.

Al die vrae, al die vrae...
Ons sou daarvan hou dat jy,
in persoon sélf, onvoorwaardelik,
vir ons afgeskilde antwoorde (na)laat.

    “Moet net nie dig nie, want soos die
    meeste millennium-digters, kritiese realiste -
    dit sluit groen ekokritiek uit - kan jy nie rym nie.
    Ken jy ook nie meer die flair van taal nie.”

Doodverskrik in duiselende woordestrik.
Doodverstrik in duiselende woordskrik.

Kies maar self, Lyn, the choice is yours:

Miskien ‘n regte egte boek neergepen in metafore,
een gemaak van pulp-na-papier wat bevredigend,
onthou, dit is belangrik vir lesers, ruik en voel,
veral voel, en duur gebind in egte leer.

Te wete, met name, naamlik, genaamd:
Boek van MM se HH (Hollywood Herinneringe)
geskryf deur Norma Jeane Mortenson.
Askies! geskryf deur: Marilyn Monroe.

     (die gordyn sak onder staande ovasie;
     in elke kunswinkel hang haar portret)



stigmata

fyn littekens
skim op die liggame
van moderne heiliges

so jammer tog, dié spykertjies
wat onuitwisbare merke laat
op ons Chris Barnard-erfenis:

duur
ontstigte
stigmata



Die Kunsgalery

stil draal ek langsaam...
in die swaar avondlug
die cosy reuk van port en wyn
saamgerol in my Kubaanse sigaar

bekende vreemdelinge
lyk vernaam-en-belangrik
lag-en-gesels gedemp oor
net mooi niks

ons vertrap mekaar voor die engte van
Bareuther se Periods of Pause
meng gesellig, soos die dowwe verf
op wit-en-rooi bevlekte kantdoeke

stilte kom lê in my:
elkeen
word hiér geteken
soos hy regtig is.



Depressie
(vir Annelise Scholtz)

jou mondhoeke is styf gespan
in hoë vioolsnaarfrekwensie
as jy jou romp skaamteloos tot
hoog bokant jou knieë optel

jou oë praat nie saam in altviool
as jy jou bloese van jou lyfie afskil
en jou borste-in-duet pronkend
in staccato-note vertoon nie

jou stem is donker en laag as jy
saam met die uitgerekte huil van die tjello
kla oor die dieptes van jou ellende,
die donker poele waarin jy verdrink

maar soms breek jou sonlag soos pizzicato
deur die swaar basviooltimbre, en luister ek
met 'n glimlag hoe jy opgewonde babbel
oor die nou en die lekker van die lewe

maar ons weet albei dié bewegings
gly soos onvoltooide simfonieë verby
as jy die lemmetjie (weer)
in jou voorarms sny...



die ete

smullend
aan roebab-en-mieliepap
gemak-smak die vreemdeling
sy vlesige blink lippe

sluk mondevol brandy
uit 'n bodemlose bottel
vee sy mond argeloos af
aan sy blokkieshemp se mou

staar niksseggend voor hom uit
terwyl sy ma, langs hom,
skreeuend doodbrand
in 'n smeulende rubberband.



Die Kokerboom

dwars lê ek en droom
hoog bokant die kokerboom,
sê my, Liekie Fouché,
wat bring hierdie vaart my mee?

dor woestynsand...
'n son wat skroei...
'n katkroondroom
in Tina Skukan se galery!

hou dit dalk verband
above and beyond
met 'n doemeling
uit kunstenaarshand?

kan ek tog nie liewers
net bloot regop staan
hoër as die son, iewers
in my kokerboomdroom?



Die Skrywer
(vir Pieter Haasbroek)

ek het skielik op 'n dag
tot diep in jou siel geklim
jou woorde op elke bladsy
vanuit joú oë begin aanskou

en

dit het my bang gemaak
my verskrik laat wonder
oor die mag van jou pen
wat oor my siel griffel



erba verde I

stom
staar ek na takke
wat soos grypvingers
oor grys klippaadjies hang

dromend oor ver plekke
Madrid, Rome, parys,
versigtig oorklim
om net weg te loop

in die warm hitteskim
wat yl lê oor die pad
my eie erba verde -
vir oulaas kyk ek, onbesweke,

terug soos Lot se vrou
'n donker gat in ligkosyn
nooit weer wit hortjiesvensters
se oop- en toemaak vir my.



erba verde II

stom
staar ek na flentertjies wolke
wat in sagte fineer
oor sanderige duine hang

dromend oor ver plekke
waar gister nog asemhaal
versigtig oor-en uitklim
om net weg te loop

in die warm hitteskim
wat yl lê oor die pad
my eie erba verde -
vir oulaas kyk ek, onbesweke,

terug soos Lot se vrou
'n donker gat in ligkosyn
nooit weer hortjiesvensters
se oop- en toemaak vir my.



Verjaarsdagversugting
(vir Elizabeth Smit)

soos fyngemaalde goudstof
het dit op my neergesyfer:
vyftig goue jare

en het ek, soos Habakuk,
probeer wandel    langs God
se flikkerende swaard.

tyd het om my, deur my gevleg, vervleg...
helfte het ek omgeslaap, 'n kwart daarvan
gespeel, en nou is my werk nie klaar!
Kyk, ek slaap nou heelwat minder -

en wens vir nog 'n halwe eeu
om te skawe en poleer
aan die urim en tummim wat ek
aan God se voete    neer wil lê.



Hebban olla vogala...

(Alle voëls het begin met hulle neste,
behalwe ek en jy, wat wag ons nog?)

wie is jy, eensame monnik,
wat losse gedagtes oor voëls
en hulle wagtende neste
in jou Latynse geskrifte neerpen?

wat sien jy deur die vensters van
jou self-opgelegde sel, verlatenheid
wat in die stramheid van die Lente
kloosterkoud om jou hart omvou?

waar sal jou geliefde vandaan kom
as jy vasgeketting op die berg Caucasus
toekyk hoe die bome jou gedagtewêreld
verbygroei, terwyl die arend aan jou lewer pik?

wanneer rol jy die perkament op,
werp jy jou kleed oor jou skouer
en loop jy die pad van herinnering
agter jou beskilderde woorde aan?

hoe het dit gebeur dat jou moedervers
jou skryfsels ten dele binnedring,
as jy diep teug aan half-vergete
"doe-doe baba, mammie sal jou onthou"?



Die Lelie
(vir Dhr. Marc le Clercq)

wit
beur beloftes van die lente
deur die bogrond
van Getsemane

'n skamele veertien dae
kelk trompette na bowe
rein Apostels van Hoop
die Bermuda-lelies



Sonnet Maannet

(dosent)

ek skryf vir jou
'n gedig
in vaste vorm
van vier strofes elk

en ek noem die eerste
vier reëls 'n kwatryn
en ek noem die tweede
vier reëls 'n kwatryn

en saam vorm hulle die oktaaf
en dan skryf ek vir jou drie reëls
en noem dit 'n tersine

en ek voeg daarby nog 'n tersine
en saam vorm hulle 'n sestet
en laastens sluit ek af met... jambes!

(student)

ek lees in die klas
jou gedigte
in vaste vorm
van vier strofes elk

en ek noem die eerste
kyk in jou oë "oulik"
en ek noem die tweede
skribbel oor my papier "verlief"

en dan skryf ek vir jou my derde gedig
en noem dit 'n "A-simbool probeerslag"
en saam vorm hulle digterlike liefde

en dan skryf ek eksamen
oor die... sekstet
en nou haak ek vas op... jammies!



Die kraak van papier

In jou plastiekjassie ingepars
kom lê jy, sedatief, voor my deur.
Die skindernuus word dwars oor
jou voorkop in hoofletters uitgestal.

Tussen die kraak van jou blaaie
en advertensies in lourier versier,
relegeer jy met jou swaard
en steek spottend die draak.

Tot satwordens toe gevul
met doodslag en verkragting,
het jy 'n saak in ink te stel:
die mens tekstueel uit te lewer -

Met jou, oggendkoerant,
bly my vuurtjie aan die brand.



Boekmerk
(vir Breyten Breytenbach)

ek lees Johan Myburg en
ek sidder, want dit voel asof
dit mý hand is wat die pen vashou
terwyl Breyten se skoorsteen,
styf met binddraad vasgedraai,
sommer so argeloos    in 'n wit
kissie vol Braille grifsels
onder die pers bougainvillea
begrawe word



© Susan Grobler
www.dignet.co.za



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

hier's soVEEL mooi goed!
bravo, jy's voorwaar 'n digster van formaat!
10 jaar 11 maande 5 dae 12 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar