Artikels

Titel: Stilbly- nie 'n opsie!

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(Hierdie artikel verskyn tans in die nuutste uitgawe van KUIER, bl 70. Hoop dit kan vir iemand iets beteken- PLM)

Toe ek baie jonk was, was dit altyd vir my 'n raaisel. Ek kon nooit begryp waarom mense in 'n verhouding bly waarin hulle ongelukkig is of seergemaak word nie. Een oom het altyd so grappenderwys gesê hy "slaan die liefde in". Niemand het ooit gelag nie, onthou ek. Maar niemand het ook iets daarop gesê nie. Ons het destyds goed geweet watter vrou geslaan word. Wie die volgende dag met 'n sonbril gesien gaan word, en die een wat, voordat enigeen kan of wil vra, verduidelik waar in die huis sy hierdie keer weer geval of teen ‘n deur vasgeloop het. Ons het geweet watter huis se kinders elders moes gaan slaap, want dis Vrydagaand. Ons as kinders het selfs geweet watter vroue se mans buite -egtelike verhoudings het. Álmal het geweet, behalwe die betrokke man se wettige vrou, want soms dink jy mos dis beter om jou oë toe te maak.

Ek kon nooit verstaan waarom vroue in sulke omstandighede bly en verkies om maar eerder stil te bly nie. Jy vra baie vrae en sê ook dalk as jy in daai situasie was, sou jy dit nie toegelaat het nie. Totdat ek ouer geword het, en mysélf toe in die posisie bevind het waar ek mishandel, aangerand en verneuk word. Maar as daar vergifnis gevra en beloof word dat dit nooit ooit weer sal gebeur nie, dink jy dat stilbly ‘n opsie is. Jy kry jou bos blomme en kaartjie daarby of miskien 'n lekker bederf by 'n restaurant. Totdat dit weer en weer gebeur, en jy besef nie dat die eerste keer reeds eenkeer te veel was nie. Jy kry later skoons redes (of hy gee dit vir jou en laat dit vir jou glo) oor hoekom jy maar moet stilbly, want daar's mos altyd 'n "ter wille van..."
Ek was met 'n predikant getroud en een van die kerkraadslede het destyds vir my 'n brief geskryf toe ek besluit het om te skei. "Dink aan die gemeente..?" het hy gevra.
Ek het gekies om nie op sy skrywe te reageer nie, en dalk op daai stadium selfsugtig geklink, maar vir myself beloof, "Nee, hierdie keer dink ek aan myself!".
Dit was 'n weldeurdagte besluit en grootse stap om my twee kinders te neem en na vyftien jaar uit 'n huwelik te stap, maar dit was die beste keuse. Ek het besluit om nie langer stil te bly nie, en iets daadwerkliks te doen. Ek het net eenvoudig ‘n punt bereik waar ek vir myself móés sê, “Genoeg is genoeg!”
Ek was na ‘n huisie iewers geneem waar ek alleen vir ‘n paar dae was, omdat die gemeentelede wat gedurig by die pastorie kom inloer nie moes sien hoe ek lyk nie. Die ouderling en sy vrou het die vorige aand kom inloer, maar ek het op die bed bly lê. Al woorde wat sy vrou gesê het was dat sy aartappelskille gebring het, want iemand het blykbaar gesê dit help vir blou kolle. Ek dink nie hulle “besoek” was meer as tien minute nie. Ek kan nie onthou of ek die bord kos geeët het wat hulle saamgebring het nie. Al wat ek weet is dat ek die hele nag omgehuil het.
Ek onthou daai dag toe ek aan myself die belofte gemaak het. Ek het die oggend voor die spieël gestaan met die rou aartappelskille in die hand. Deur my geswolle oë het ek myself nie herken nie. Ek het gehuil omdat ek so met vuishoue geslaan en geskop was omdat ek met van die kerksusters die Vrydagaand uit was. Of eerder oppád uit was, want na ‘n oproep ‘n halfuur na ek van die huis af weg is, met die woorde, “Jy beter huistoe kom, anders gaan jy sien wat maak ek...” het die vroue in die motor besluit dat hulle “nie in die moeilikheid wil wees nie”. Agterna was die verskoning net weer, “Sorry, my kop het uitgehak”. Daardie oggend voor die spieël het ek deur die trane deur vir myself gesê, “Ek gaan nóóit weer so lyk nie!” Omdat ek nooit iemand in my vertroue geneem het om mee te praat nie, het ek die skryfkuns as ‘n uitlaatklep geneem. Ek’t die gedig, getiteld “Kairos” daai ‘selle aand geskryf. Die woord , Kairos het ek net toe ‘n tydjie voor dit geleer, is ‘n antieke Griekse woord wat “die regte” of “God se tyd” beteken. Hulle (die Grieke) het twee woorde vir tyd, naamlik chronos en kairos gehad. Terwyl chronos verwys na kronologiese tyd, verwys kairos na “‘n tyd binne-in”, ‘n oomblik of periode van tyd waarin iets spesiaals gebeur. ’n Kairos-oomblik kan ook verwys na ‘n spesifieke tyd in jou lewe waar jy by ‘n kruispad kom en ‘n keuse moet maak.
Vandag is my boodskap aan enigiemand wat op enige manier mishandel word, dat om stil te bly, geensins ‘n opsie is nie. Dat dit dalk lank neem om by jou eie kairos uit te kom, maar dat jy kan en moet opstaan vir jouself. Ek dra graag my gedig aan elkeen wat in ‘n abusive verhouding is op:
Kairos
Ek staan vandag voor jou,
kaalgestroop en leeg.
Ek is en voel soos niks,
’n barre braakland,
maar dit gaan nooit weer wees,
want ek gaan hier opstaan
soos die een by die peule
en omdraai en wegdraai…
Ek gaan my losmaak van jou.
Jy wat my verneuk, verniel, vernietig
met jou beskuldigende gedagtes,
jou afkeurende kyke
en bytende tong.
Kyk na my,
jy gaan my nóóit weer so sien !
Dit, vandag, is my kairos
My oomblik van keuse,
mý keuse,
want ek gaan omdraai, wegstap
en my losmaak van jou.



Kommentaar

Goddank het die (aartappel) skille uiteindelik van jou oe af geval!

Het jare gelede 'n mishandelde vrou op 'n moord aanklag verdedig nadat sy haar (polisie)man met sy dienspistool in sy slaap geskiet het. Sy is jare mishandel en met die dood gedreig. Die betrokke aand het hy egter gedreig om die kinders ook te skiet. Die halm wat die kameel se rug breek?

Jong, onervare regter (met respek) gee haar 10 jaar gevangenisstraf. Op appel is dit vervang met 'n opgeskorte vonnis.
1 jaar 8 maande 2 weke 19 ure 45 minute oud


Stilbly- nie 'n opsie!
Dankie vir die deel!
1 jaar 8 maande 2 weke 1 dag 23 ure 58 minute oud


Dankie, dit is hartroerend.
1 jaar 8 maande 2 weke 2 dae 15 ure 41 minute oud


picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar