Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


“Oupa, vertel vir ons die storie van die reis na Mont Pelaan toe julle kinders was, toe?” Ek is die oudste en ek moet die vra werk doen.

Oupa se groenblou oë staar in die verte. Hy buk, trek die asbak by sy voete op die stoep nader en klop sy pyp uit. Dan begin hy dit tydsaam skoonmaak. Ons sit kruisbeen in ʼn kringetjie om hom en wag in stilte, want hy moet sy storie ver gaan haal. Hy leun terug in sy gemaklike stoel, maak keel skoon en knyp sy pyp tussen sy tande vas voor hy dit aansteek en die vuurhoutjie doodblaas.

“Tja, ek was so tien jaar oud en dit was tyd vir die jaarlikse kuier by Oom Bertie in Mont Pelaan. Die voorbereiding vir die reis het al ʼn maand gelede begin. Nou van Newcastle in Natal tot by oom Bertie was dit so ongeveer vyf-en-veertig-myl daardie tyd. Ek skat so sewentig kilometer in vandag se taal. Ouma-hulle het dae lank beplan aan die padkos vir die lang pad.

Ons vertrek die oggend ses-uur van die plaas af met die blink gepoetste 1948 swart Chev. Ouma sit links agter met twee seuns langs haar en ouboet sit voor langs Oupa. Soos ons ry raak dinge moeilik tussen ons seuns op die agterste sitplek en Ouma het haar hande vol. “Oubaas, jy ry te vinnig!” waarsku Ouma so tussendeur vir Oupa as hy oor dertig myl per uur stoot. Dan ry Oupa bietjie stadiger, maar die s-draaie en opdraandes teen Bothas Pas lê voor, en stoot hy maar weer bietjie aan. By die s-draaie waarsku ouma weer van agter af, “Die draai is skerp, Oubaas, ry stadiger!”

Ons is later vuil van die stof wat deur die oop vensters kom en taai van die hitte. Dit laat die humeure vlam vat. Tussen die klappe deur dreun Ouma se stem soos sy met haarself praat, want teen die tyd luister niemand nie. Oupa praat nie, byt net op sy tande in die lang aanloop na Bothas Pas. Die Chev dreun al moeiliker en ons vorder nie eintlik nie. Oupa hou in eerste rat. Die pad lê nog lank vorentoe.

So kwart pad teen die pas op moet Oupa stop, want die stoom slaan onder enjinkap uit. Hy loer na ʼn lang ruk versigtig onder die enjinkap in en gooi water uit die kan in die verkoeler. Almal klim eers uit om bene te rek, ietsie van die padkos te eet en keel nat te maak uit die fles met koffie. Dan is die Chev weer reg om te ry en durf ons die pad verder teen die Pas aan.

So driekwart boontoe besluit die kar dis weer sulke tyd. Ons klim dankbaar uit om bene te rek en mekaar stoeiend agter die klippe rond te rol. Ons geniet eers weer ietsie vir die honger en die dors voor Oupa onder die enjinkap inloer, water ingooi en besluit ons kan maar verder ry. Teen die tyd raak die gevegte tussen ons drie seuns hewig en Ouma het haar hande vol om die vrede te bewaar. Ons koes en sit stil na sy weer ʼn paar klappe uitgedeel het.

Nou lê die aanloop na die bopunt van die Pas voor, maar gelukkig ry ons sonder moeilikheid verder. Die pad is darem gelyk, die kar gedra hom, maar Ouma is nie gelukkig nie. “Jy ry te vinnig, Oubaas,” waarsku sy toe haar oog die spoedmeter op dertig myl per uur vang.

Ona raak almal benoud, want die gevreesde oom Doors se hoogte lê nog voor. By Memel draai ons links na Mont Pelaan se kant toe. Die stof binne-in die kar is verstikkend, ons is moeg, warm en Oupa sug vir wat voorlê. Ons begin teen oom Doors se hoogte klim, maar dis steil en kwart pad boontoe kook die Chev. Ons hou stil, klim uit en eet en drink weer iets vir die honger en dors. Hierdie keer vat die Chev lank om af te koel en ons sit rustig op klippe langs die pad. Daar’s nie eintlik skaduwee nie, maar ons kinders kom dit nie agter nie. Ouma waai haar rooi gesig met haar sakdoek koel en sy praat soos grammofoon. Na Oupa met veiligheid onder die enjinkap ingeloer het en weer water ingegooi het, vertrek ons verder teen die vreeslike hoogte op.

Halfpad boontoe hou ons weer stil om die oorwerkte Chev ʼn kans te gee om af te koel. Ons padkos en drinkgoed raak nou min en ons eet maar spaarsamig. Ons ry later na die kar bedaar het verder en kom so driekwart van die hoogte op toe ons weer moet stilhou. Die Chev klink nie gesond nie en hierdie keer kamp ons bietjie langer uit.

Teen die tyd is die eetgoed op en die laaste slukkie koffie word vir Oupa gebêre. Ouma se mond en gedagtes werk oortyd en so tussen die waarskuwings en geselsery deur, kom ons toe eindelik bo op oom Doors se hoogte aan. Nou lê die klipriwwe, of plate soos ons dit geken het, voor en dit kos tande kners en vorentoe kruip oor die rowwe oppervlak.

Ons sien uiteindelik teen laat middag vir Mont Pelaan voor ons. Toe ons by die hek indraai en voor die huis stilhou, het ons almal vakansie nodig.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Mont Pelaan
Lekker saamgery in jou storie! Dankie :)
3 jaar 6 maande 3 weke 5 dae 17 ure oud


Stoepstorie
Dankie vir jou lekker-lees stoepstorie. Ek het nou eers bietjie padkos en koffie nodig!
3 jaar 6 maande 3 weke 6 dae 1 uur oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

RANGEERWERF

deur Johann P. Boshoff

Hierdie selfpublikasie, met die volledige titel RANGEERWERF: DIE WAARHEID GELIEG, bestaan uit nege (9) homofiliese kortverhale met sterk biografiese inslag opgeneem. Dit is 'n rangering deur die lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar