Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Ons praat nie van die tweede en derde taal of van vreemde tale nie, maar van wat ons daagliks in ons eie gesproke taal gebruik, onder verskillende omstandighede, met verskillende mense in verskillende groeperings: Daar is die kosetaal, die skimp- en vloektaal, bidtaal, beveeltaal, soebattaal, paai- en troostaal en nóg ‘n hele paar spesiaaltale. Ons kan van die nuansering praat, en hierby kom dan ook die gebruik van ons spreekwerktuie in spel: Lippe, tong, tande, neus, keelgat, borsholte, buik; en modulasie, hardop of sagkens, hoë of diep stemlae, melodieus, ritmies of eentonig. Dis wat ons natuurlike invloede uit ons fisiese lyf kan noem. Buitendien is daar sosio-kulturele invloede, en dan kom die vermenging van natuurlik en sosio-kultureel.

      Eers die gesproke (en geskrewe) taal: Ons praat (skryf) almal anders om verskeie redes. Kinders praat anders as tieners, anders as jong volwassenes, anders as veertig- tot vyftigjariges, anders as pensionarisse, en dit hang af van hulle lewenservaring, insluitend hoe hulle deur ouers en grootouers, kleuterskooltannies, sondag-, primêrskool- en ander onnies, katechisme-, voortrekker- en voetbal-leiers en –breiers en ander „rolmodelle” beïnvloed word en is. Daartoe behoort kollegas, die baas en die aangesteldes of bedienstetes. Dit word gesê dat ‘n hele skool se taalgebruik bepaal kán word deur die universiteit waar die meeste onderwysers studeer het, sodanig dat twee skole in twee buurdorpe ‘n ander Afrikaans sou praat. Nie verkeerd nie, net anders. (My seun praat meer as twintig jare daarna presies soos sy geliefde primêrskoolonderwyser; agter die groot eikeboom het ek moeite om tussen hulle te onderskei.)

      Afrikaans het geen groot-uitgeboude dialekte nie, tog is die begrip streektaal nie onvanpas nie – nie heeltemal soos by die twee genoemde buurdorpe nie. Máár elkeen wat in die binneland woon, ken die klank van die Kaapse taal. Dit word beweer dat Wes-Kaapse inwoners tussen Bolands, Malmesburytaal, Pêrels ens. kan onderskei; ook dat die aksente van Limpopo, Mpumalanga, Oos-Rand, Wes-Rand, Noord-Natal ens verskil. Die taal van die Griekwas, Namas, Rehobotters en andere kultuurgroepe en volke moet waarskynlik dog as dialek beskou word, vooruitgeset dat daar ‘n Standaard-Afrikaans is. Daar is die teensydige beïnvloeding van natuurlike, liggaamlike en sosio-kulturele gegewens op mekaar te speur: By voorbeeld kop- en bors-vorm, verskillende gebruiksartikels in die daaglikse lewe, dans- en singaard, lewensstyl. En baie meer.

      Temperamentsonderkeide -- soos byvoorbeeld: Choleries is anders as flegmaties, -- en ander menslike verskille lei na verskillende uitdrukswyse: Bloemige of logies-presiese, dromerige, gepleegde of slordige taalgebruik en alles wat daartussen lê, is dinge uit die psige of siel van die enkeling; in díé geval nie soseer liggaamlik nie, maar dog indiwidueel/persoonlik.

Buiten die gesproke taal, watter ander middels het ons om met mekaar in verbinding te tree, te kommuniseer? Die eerstes wat ek bemerk, is die gebaretaal of géstiek, gepaard met die mimiek of gesigsuitdruk: Of ek met ‘n vuis in iemand se rigting dreig, of ek op hom met ‘n voorvinger wys, of ek met ‘n ope hand in sy rigting dui, jy kan sonder woorde byna sien wat my houding teenoor hom is; as ek hom met saamgeknypte lippe, diep fronslyne tussen die oë, of breed glimlaggend aankyk, kan jy vermoed hoe ek teenoor hom voel. As my woorde sê, „Nooit of te nimmer!” kan jy al weet watter bewegings en uitdrukkings die volgende woorde gaan begelei: „... gaan ek jou vertrou nie !”, „... kan ek jóú probleem oplos nie .”, „... sal ek jou weer alleenlaat nie, my skat.”

      Gebare en bewegings is dikwels sosiaal of kultureel geverf: As voorbeelde, ‘n Blanke staan op as ‘n hoër-gestelde aankom (Aandag! Salueer!); in Bantoe-kulture gaan sit hy (Mag nie sy skaduwee op die kaptein laat val nie, hy wag om „gesien” te word voor hy groet). Maar daar is ook ‘n lyftaal wat van natuurlike aard is: As ek my bleekskrik, as sy haar skouer na jou toe draai, as sy oë skielik verwonderd oopgaan, die bewe van die hand wat die brief vashou ... Dis onwilkeurige bewegings of houdings wat ontstaan, en dit word minimaal van een kultuur na die ander verander. Van een mens na die ander pas iemand dit by sy temperament aan. Alhoewel dit eie persoonlike trekke toon, wyk dit nie van die norm af nie. Sulke reaksies word by leuenverklikkers ingeset; toneelspelers weet hoe om dit te gebruik. Dis algemeen menslik.

      In ‘n boek oor lyftaal kom die staaltjie voor van iemand wat sy vriend in ‘n ander woonbuurt van New York gaan opsoek. Voor hom op die sypaadjie stap ‘n meisie met swaaiende heupe en (skynbaar) ‘n vang-my-tog houding; fassineerd loop hy agter haar aan. Maar plotseling is hy omsingel van jong manne wat ‘n dreigende houding inneem. As dit net wil-wil ongemaklik word, kom die stem van sy vriend uit ‘n huisdeur, en die mans verdwyn so skielik soos hulle gekom het. Die gevaar is verby. Verklaring: In die Spaanse buurt, waar die vrou hooggeëer en beskut word, hoef ‘n vrou of meisie haar nie preuts, „prim and proper” te gedra of op haar hoede te wees nie; sy kan sy self wees en is nie bang dat iemand haar gaan aanrand nie, want almal pas op almal op. Al ken nie almal mekaar nie, is daar iets soos groeptrots. ‘n Soort Helpmekaargees heers.

In die debat oor Afrikaans, Afrikaners, Afrikaanses, Afrikane en al die verwante begrippe, kom die woordjie bloed immer weer voor. Dit is bekend dat die rooi mineraalhoudende materiaal in vloeistofvorm niks met die beërwing van familie-eienskappe te doen het nie. Maar die spreekwoord sê dat bloed dikker as water is, en daarby word die familie- en verwantskapsbond bedoel.

     Wanneer ons oor ‘n volk se aangeleenthede praat, kom die begrip hart daartussen. Praat ons oor die sake van die hart, gaan dit om liefde en toeneiging, om gemoed en emosie, nie om verstand en intellek nie. Emosies, gevoelens, toe- en afneiging, liefde, haat, verbondenheid en seker nog 'n dosyn begrippe uit die gevoelswêreld laat hulle graag met hart en bloed vereenselwig.

      Soos die bloed ‘n bewegende orgaan in die mens se liggaam is, so vloei die taal as orgaan in die lewende volk.

Angliste wéét dat die kennis van die oertaal vir die ontwikkeling van die vandagtaal noodwendig is. Hulle sien, soos ek en jy, dat die taal besig is om in sy eie drek te stik. Daar waar die dudes en die chicks mekaar upchat en mekaar bedatum. Toe ek nog op skool was, het ons lyfstraf gekry by die verkeerde gebruik van nice en like en get; by gebruik van die fourletterwords het ons daartoe die hele liewe lange Vrydagnamiddag een of ander blanke onsin derduisende male oorenoorenoorgeskryf. Die wet het dit toegelaat en ek vermoed ondersteun. Awesome, nè?

     Die Engelse taal van 100 jare gelede is vir ons vandag nóg te verstaan -- maar jy lyk 'n bietjie dom as jy die oudmodiese redewendings aanwend, nè? 'n Bietjie verder terug? Toe ek 'n kollega uit 'n ander skool ons opvoering van Shakespeare se As you like it met trots gewys het, was sy kommentaar, „Ja, maar hoekom so 'n ou, dooie taal wat niemand meer verstaan nie?”

     As dit om Duits sou gaan: My seun sê, „Jy kan nie dieselfde taal as Goethe en Schiller wil praat nie!” Verkeerd, hierdie twee en nog 'n hele paar tydgenote het die grondlae gelê vir die taal wat Leibniz en Kant en Novalis en Schopenhauer en Einstein en die von Humboldts en Werner von Braun en die von Weizsäckers en andere dit moontlik gemaak het om hulle wêreldvernuwende gedagtes te dink, ja TE DINK. En uit te spreek. En dan uit te voer. Dis 'n bietjie anders as die cool, hip tipes wat gou quickcheck of hul mails downgeload is voor hulle offroad êrens hulle thing gaan do.

     Afrikaans het nie 'n duisendjarige geskiedenis nie. Nie openbaar nie. Maar hy het die duisendjarige geskiedenis van Hollands, Vlaams, Frans, Duits, SKOTS(!), Iers en die Skandinawiese tale om van te teer; om nie van die druppeltjies-druppeltjies toevoer vanuit Hongarye, Tsjeggië, Rusland ensovoort te praat nie, of van die Maleise en Khoi- en Bantoe-invloede nie. Almal stampvol met spraakvitamiene (lewensopkikkers) wat kan verhoed dat ons doodse trekke aanneem, dat ons verstof, dat ons verengels, oftewel veramerikaniseer.

      In haar baie interessante artikel IS DAAR ‘N TOEKOMS VIR AFRIKAANS? van 6e. Mei 2011 op woes.co.za skryf Riana (nadat sy berig het dat ongeveer 20 miljoen mense oor die wêreld Afrikaans kan praat) ten slot: „Solank ons nog in Afrikaans kan dink, in Afrikaans kan droom en Afrikaans kan praat is daar ‘n toekoms vir ons taal in hierdie land.” En ek voeg daartoe, „...en kan voel...”

Want dit ís ‘n gevoelsaangeleëntheid, ‘n hartaangeleëntheid wat die polsende bloedstroom, taal, aan die loop hou en wat die leefwese, volk, laat lewe.

[Soos altyd nooi ek bendelede uit om, deur kommentaar te lewer, die gesprek warm te hou]

©,2012.______________________________...ooÖoo...__________________________________.tje



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Taal
Nee wat,
Ek lees nêrens dat jy enigiemand iets verkeerd aangesê het nie. Dus is die laaste sin irrelevant en oorbodig. Die hele bespreking is nutvol en vrugbaar. Ek bedoel ook maar net dat 'n taal nie kan uitsterf nie. Verander miskien wel.
Maar: Dit is nie my Punt nie
Ek wend my na jou kleurvolle, pragtige opbouende vertelling en vra die vraag:
Hoekom jy so skaars is met sulke omraamde vertellings. Sulke geskiedkundige verhale waarvan daar in daardie mooie land van jou talle is.
Hoe gaan ek daarvan weet sou jy dood?
Dit, my vriend, kan wel gebeur.
Daarom is daar groter kwellinge as oor 'n taal wat vervorm, verdraai of verdun word.
Daardie wonderlike verhale sal dan vir my total en totaal verlore wees!

Gooi dedelik daardie skrywe as 'n artikel sodat almal dit kan waardeer en geniet.
Met groot asseblief en waardering -veral met jou kleurvolle pragtige taal en woorde.
7 jaar 7 maande 2 weke 2 ure oud


Taalontwikkeling

‘n Suid-Afrikaanse mynigenieur (my boetie) besoek Salzburg en is verbaas om te sien dat oor die verkeerstonnel deur die berg die datum 1756 gebeitel is. Binne-in die tonnel erken hy aan die beitelkerwe hoe die mense dit uitgehol het, „netsoos by ons!” ‘n Paar honderd meter verder kom ons op die ou katakombe agter die katedrale waar die Christene, in die Christianiseringstyd meer as duisend jaar gelede, in die steilwand van die berg, onsigbaar vir hul heidense vyande, ‘n kapèl uitgehol het. Geen beitelkerwe nie: „Hulle het water in splete in die rots gedrup, en toe dit vries, het die klip uitmekaar gebars,” sê die gids. So twintig kilometers verder in die Alpe in, is ‘n soutmyn. Toeriste kan sommige tonneltjies sien wat van die hoof deurgangstonnel aftak. Groot genoeg vir ‘n terrierhond om deur te kruip, is dit in die wynvattegniek gebou met sestien planke waarvan die kante met ‘n gegewe winkel afgefyl is („Nes by ons aan die Kaap!”) en daaruit ‘n lang pyp uit aanmekaar gelegde vate gebou as deurgangstonnel. „Vroeër was dit groot genoeg vir ‘n mens om regop deur te loop,” verklaar die gids, „maar die klip het die gange saamgedruk. Meer as tweeduisend jaar gelede gebou, lank vóór die geboort van die Here.”
My betoog is dat die wêreld nie vier-en-sewentig jaar gelede ontstaan het nie – op my geboortsdag – maar dat ek en ‘n menigte ondergrondwerkers, my broer ingsluit, dank verskuldig is aan ‘n lang ry van anonieme voorgangers wat ons die weg tot die moderne tegniek gebaan het. Die verlede voed die toekoms.
Op taalgebiet betoog ek om nie in die takke van ‘n wortellose boom te wil klim nie, maar om die nog verblywende wortels te sien en te pleeg, sodat die boom „op vaste voet” kan staan, sodat nog meer, groter takke kan ontstaan en sodat ons die bloeisels en die vrug daarvan kan geniet. Die taal, enige taal, elke taal is ‘n leefwese en moet voeding kry om te kan bestaan. ‘n Hond of ‘n roosboompie wat nie gekoester word nie, verwilder en word ongenietbaar. Ek ken mense – moderne, vol megani-, tegni-, outomati-seerde volwasse burgers – wat slegs dudes en chicks sê asof hulle nooit boys en girls geleer het nie. Ek word bang.
Maar my doel was geensins om mense wat ‘n ander uitgangspunt of opvatting het, te na te kom nie. Êrens het ek geskryf dat elkeen na sy eie vermoeë, soos hy dit verstaan, tot die vrugting bydra. As ek iemand beledig het, vra ek beleefd om verskoning vir my eie slordige uitdruksvermoeë. Of onvermoeë.
Groetnis vanToom

7 jaar 7 maande 2 weke 3 ure oud


Taal . . .
In dien hierdie sin, woorde, oordeel, twak, op enige wyse ingespan, gebesig word, op welke wyse ookal, met dieselfde betekenis, bedoeling, sygestie, vingerwysing, verdoemenis soos:
"IS DAAR 'N TOEKOMS IN AFRIKAANS?"
DAN:
Gaan my kring spiere in spastiese trekkings, die peristaltiese bewegings in my derms vat spoed en my diafragma begin met onbeheersde tril bewegings en die tot barstens opbou van drukking in my bloedstroom, verlos die drukking op my brein veroorsaak deur die versameling van die beskermde laag Purity baba ekscreta om my brein; simptomaties aan die term: Malaki, want;

TAAL:
Al wat vas is, is:
Morse kode
Braille
Vingertaal

Die res is LEWEND en KAN NIE TOT NIET GAAN NIE.

Dit kan en MAG verbuig, verklank, vervorm -selfs tot verwarrende bedoelling. Verkort, selfs vermeerder met byvoegings - Maar sterf ?
NEVER!
7 jaar 7 maande 2 weke 10 ure oud


Kom ons chat hieroor
Van die puikste gedagtes wat ek nog raakgeloop het is al duisende jare gelede in Sanskrit bedink en heelwat van daai denke het selfs vername Duitsdenkendes, soos Einstein, beïnvloed. Sou die hele string ouens wat jy as voorbeelde van puik denkers noem heeltemal onnosel gewees het as hulle in 'n meer cool taal gedink en gechat het as in outydse Duits? Dis een ding om trots te wees op jou taal se herkoms maar 'n gans andere ding om dit te probeer verhef bo ander tale op grond van die denke van 'n paar mense wat dit as moedertaal gehad het.

Verder was meertaligheid en taalvermenging vir lank onderwerp aan die mite dat om in meer as een taal te dink en te praat nadelig is vir mense weens dit skynbaar verwarring veroorsaak (dit veroorsaak wel verwarring en selfs agressie by die wat net een taal kan verstaan) maar onlangse navorsingsresultate stel dit duidelik dat meertaligheid mense selfs ook beter laat dink oor onderwerpe wat skynbaar geen verband met taalvaardigheid te doene het nie.

Natuurlik staan ek nie 'n totale Anglisering van Afrikaans voor nie maar ek staan ook nie 'n verouderde ou pseudo Hollandse Afrikaans wat soos Latyn lankal gevrek het as spreektaal voor nie. Ek like my lewendige taal.

Taalgebruik en sake van die hart loop voorwaar hand aand hand. In my ervaring is die hoogsprekende Afrikaners ook gewoonlik hooghartig, koulik en selfgesentreerd en die meer commin tipe Afrikaanssprekendes meer huislik, menslik en heelwat nicer geselskap.
7 jaar 7 maande 2 weke 14 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Kruispad

deur Manie Jackson

Toe Luzette en Manie se paaie gekruis het, en die lewe daarna.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar