Artikels

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Waaraan erken ons ‘n volk?

Die ene sê taal, die andere kultuur, filosofie, politiek, nog ene ras of bloed, en dan ook gesamentlike woongebied of landskap, geloof,...  Waardeur word nie-lede onderskei? Ras, bloed, taal, geloof, politiek, filosofie, ruimtelike afstand uitmekaar,... Ongeveer die­selfde. Hoe sê ons vir iemand wat moeilik sosialiseerbaar is en nie maklik in sy eie volk opgeneem word nie? By hom vermis ons die „stomme wete” die „implisiete kennis”.
   Hoe meer ek hieroor nadink en lees, hoe meer begrippe meld hulle by my aan. Die storie kry skynbaar geen einde nie. Onlangs het iemand iets gesê wat my laat dink het dat al die los aartappels hierbo ‘n skottel nodig het om saam te vat. Die begrip wat ek teëgekom het, is die „
kollektiewe herinnering”. Of dit as skottel kan dien?
.
Alle mense wat hulle as toebehorig tot ‘n volk voel, neem aan die kollektiewe herin­nering deel, put daaruit en dra hul skerfie daartoe by, meestendeels onbewus; die ene meer op die vlak van kuns, letterkunde, musiek, skildery en gelyksoortiges. Sommige weer op die gebied van geskiedenis – tradisies, fabels, ballades en ander historiese gegewens. Andere stel belang in handwerk en tegniek tot die moderne nywerheids­beskawing. Nog andere in politiese, religieuse, filo­sofiese gegewens. Die ene is meer prakties, dink nie lank oor hierdie dinge na nie, doen wat te doen is en basta. Die andere meer teoreties. Almal het van alles ‘n bietjie, en van sy eie interessegebied soveel as wat hy kan of wil opneem: Buite skool­onderwys en beroeps­opleiding: Dit wat „in die lug sweef”.
   Dis ‘n poel waaruit elkeen soveel neem as wat hy benodig, soveel as wat hom gelukkig en georiënteerd laat voel. Soveel mense, soveel interesse­gebiede. Soveel mense, soveel intelligensiepeile, soveel kuns- of politiek- of handwerk-neiging. Soveel mense, soveel sielsdiepte, grade van hartlikheid, ensovoort...
   MAAR almal skep uit dieselfde gemeensame herinnering. Dis die stomwete wat sommige lede van die volk nie het of nie wil hê nie.
   En elkeen word beïnvloed deur reklame en ander propaganda, oftewel sosiale druk, wat uit verskillende rigtings op enkelinge inskiet, en waarmee hulle moet klaarkom.
.

Onderwysers sê:

Geen kind het meer 'n normale, onbedorwe kindheid nie – babas word saamgesleep om inkopies te doen, bioskooptoe, kermistoe; in motors en vliegtuie dwars oor die land, selfs na oorsee gekarwei. En later word hulle volgeprop met „hoognoodwendige informasie”, wat hulle „moet weet as hulle in hierdie wêreld wil oorleef”.¹*) Dog vroeër, voor hul geboorte nog, moes hulle invloede van die „omwêreld” inneem: Fisiese gif deur die moeder se kos, bestraling en ander gifstowwe vir gees en siel. Vroeër was kinders in die baarmoeder deur 'n soort filter teen gif beskut, maar in ons tyd word babas heroïnsugtig gebore.
.

Wanneer gaan ek dít ooit benodig?

Meneer, vir wat sal ek algebra leer; ek sal dit mos nooit gebruik nie? Juffrou, hoekom moet ek strik/hekel/naaldewerk doen; ek's mos 'n seun / ek wil 'n emansipeerde vrou wees / dit kom spotbillig uit Thailand? Hannes, waarom moet ek houtwerk doen, saag en rasper en vyl en lym, ek gaan mos universiteit toe? Hierjy, hoekom het ons 'n vak tuinbou in hierdie skool; ons het bediendes wat by ons die blombeddings hark?
   Ons sogenoemde kultuurtegnieke.
   In elke onderwysstelsel is dit bekend dat die kind díé kos moet kry vir sy stand van ont­wikkeling: Geen vleis vóór die tande daar is nie; lalla-loelie-la-liedjies en vinger­oefeninkies tot die kind homself kan oprig, hop-en-skiep-en-hol-speletjies minstens deur die laerskool; éérs die letters en syfers vóór opstelle en wiskundige opgawes,...  Eers kruip, dan loop, dan hardloop, dan rugbyspeel, dan formule-een-motorrenne... Nie omgekeerd nie.
   Moderne kinders word 'n onreg aangedoen wanneer hulle soos die groen avokado's op Agmat se karretjie rypgedruk word, en hulle word benadeel wanneer hulle nie die voedsel vir lyf, siel en gees op die regte tyd kry nie. Hulle word verkrag wanneer hulle die dinge moet doen wat nie aan die beurt is nie, en hulle word verwaarloos wanneer hulle nie die dinge mag doen wat vir hulle ouderdom passend is nie.
   Alle onderwysstelsels beweer dat hulle „kindoriënteerd” is, dat die kind middelpunt van hul strewe is. Maar alte dikwels, met al hoe meer geweld, word hul pogings deur politici, nywerheids-„bosse” en finansiële interesse tot niet gemaak. Getorpedeer.
.

Dis 'n egte vraag:

Hoeveel kinders kom saans vuil en moeg huistoe met 'n verslete broek, 'n flenters knie, 'n verskriklike sonbrand? Hoeveel kinders steel nog perskes uit ou Hansdons se tuin en kry  as beloning 'n pak slae (van Oom Hans) voor hulle huistoe draf, om dáár nog 'n loesing (van Pa) kry? A-nee-a! Ek is nie daarvoor dat allerhand bosaardiges aan kinders uitgeoefen word nie! Maar dis jawel 'n feit dat in-watte-verpakte kinder­tjies, wat slegs in sekere gebiede met bepaalde sekerheidsmaatreëls en -voorkeringe mag beweeg, 'n hele wavrag ondervindings versuim, dat hulle waardevolle lewenslesse ont­beer. Lesse wat slegs die lewe as sulks hulle kan bybring, wat nie-ofte-nimmer deur  'n Tamaghoetsjie-onderwys­stelsel aan die man (of kind) gebring kan word nie²*).
   Ouere kollegas vra mekaar of hulle rêrig die laaste geslag is wat 'n kind se kindheid beleef het, wat kaalvoet oor die klipkoppies geklouter, pennies op die spoorlyn gelê of hulle disnis uit die vyeboom geval het, wat met poppe uit lap gespeel het (liefs deur Ouma gestik en gestop, en Ta' Mattie het dit met stofoorblyfsels aangetrek), en dokter gespeel het met 'n ou roomys­stokkie as spatel ...
   Vyftig, sestig jaar gelede al het ons van plaasvervanger-ondervinding gewéét: Dat die tamatiesousbloed en kamtige geslagsverkeer op die silwerdoek (Nouja, gesoen en gevry, destyds) of die geskree by 'n internasionale toetswedstryd, en gelyksoortige as „stoom­kleppe” vir 'n onrustige bevolking ingesit word: Internasionale sokker as „ersatz-oorlog” byvoorbeeld!
   Is die televisie-reekse „Ons kinders uit Bullerbü”,  „Heidi”, „Emil op Lönneberga”, „Ons Huisie op die Prêrie” ersatz-kindheid geword? Met ludi et panem, „spele en brood”, het die Romeinse patrisiërs duisende jare gelede al geweet hoe om hul „plebs” gerus te stel. So word ons nog altyd aan die slaap gesus. Gehipnotiseer.
     Om nie eers te praat van die massiewe geestige bedreiging uit die geldwêreld nie!  Hy wat werk, is ryk, níé hy wat geld en goed besit en nie hoef te werk nie! Arm beteken arm aan gees, en iemand wat finansieel ryk is, kan rêrig arm wees. Die Pruisiese landadelikes het van vroegdag tot laat geswoeg, méér as hul Poolse plaaswerkers, en vergeleke met burgerlikes op die dorp was hulle „arm”. Maar aan gees, tradisie en kultuur was hulle ryk. In ons hedendaagse opset sou hulle nêrens inpas nie.
.

Sosiale druk

Teen die beïnvloeding deur reklame en ander propaganda moet iets gestel word, iets wat die ongehoorsame, traak-my-nie, jy's-nie-my-baas-nie kinders daartoe kan verhelp om hulsélf te help, om eiestandige mense te word wat met altwee voete op die aarde staan, wat met hul hande kan werk, met hul kop kan verstaan en met hul hart en hele wese kan ondervind, kan liefhê. Wat veral uit eie dryfkrag iets sinvols kan onderneem, en nie gedurig hupstootjie-vir-hupstootjie vorentoe beweeg moet word nie. Want dis die koll­ektiewe herinnering wat doelbewus geblus en verniel en verwyder word, in so 'n mate dat daar al hoe minder stomme, implisiete kennis meer naspeurbaar is. Het ons 'n IKEA-aanlei­ding nodig vir álles wat ons doen? Het ons al soveel kultuurtegniek vergeet? Lees gerus die gedigte, artikels en rubrieke wat by Woescoza onder >TOENTERTYD< verskyn het om te sien wat ek meen met kollektiefherinnering en stomwete wat verlore gaan.*³)

Voorbeelde

Ons geëerde, demokratiese voorlopers en voorbeeldige helde in Noord-Amerika wil alle boeke wat vóór 1953 gedruk is, vernietig: Weens hoog-giftige bestanddele – in die ink of papier -- wat destyds wel onder die lesers sou gewoed het! (?) [Buitendien is daar dinge in wat nie meer alte waar sou wees nie. (Aha!)] 'n Boek uit daardie tyd wat werklikwaar die moeite werd is om te lees, kan natúúrlik nogeens (ordentlik geredigeer) uitgegee en gedruk word. Natuurlik. En dít in ons voorwys­demokrasie, die wêreld se tentoonstelling­stuk! Bietjie meer as 'n halwe eeu gelede het Duitsers met verligting en vreugde ervaar dat die bevryders uit oorsee hulle gaan verlos. 'n Tydjie gelede is 'n ministerin sonder versuim ontslaan, en moes oornag haar lessenaar ontruim omdat sy dit gewaag het om in 'n bysin twyfel uit te spreek dat die VSA-droom nog gedroom word.
   Dit gaan mense wees wat nie deur propaganda ingesluk is nie wat oorleef. Mense wat hul gemeensame herinnering nog intak behou het. En waar moet ons hulle soek?
.

Maplotties

Daar's mense wat glo dat die veiligste plek in Europa na die „groot kollaps” die bergagtige omgewing van die Bodensee, of lac du Constance (Konstansmeer), tussen Switserland, Frankryk en Duitsland gaan wees. Almiskie. Vroeër was in die Knysnabos „eilande”, lig­tings waar mense gewoon het, puntjies van beskawing in die oerwoud. En sulke eilandjies kan oorleef, nie noodwendig in woude of vérafgeleë bergvalleie nie. Miskien gelyk­gesinde mense in wyke in of om 'n dorp: 'n Voorstad of klein­hoewe­aanleg, mense met natuurlike vaardig­hede en kennis.
   Dit gaan waarskynlik in die tyd van ons kinders of kinderssekinders wees. En daarom moet ons huidige volwassenes sorg dat hulle „sielvoedsel” kry om van te lewe. Nie net tegnies/meganiese vaardighede nie, maar 'n deel van daardie stomme of „implisiete wete”, daardie gemeensame of „kollektiewe herinnering”, mits hulle nie weer by Adam en Eva moet begin nie, of, soos baie modern-denkendes glo, by die Neandertalers of glad by Australo­pithicus. Die kultuur wat besig is om te verdwyn moet gered en opgegaar word in die mense se herinnering, in hulle binneste, in hulle hart.
_____________________
   [*¹ Lees my Artikel TAAL EN VOLK 8, Waarom draai die wêreld: Die eerste afdeling handel ondermeer oor lewensnoodsaaklikhede of basiese benodigdhede.
    *² Lees my resensie van MONSIEUR LAZHAR. Of beter, soek die film uit en gaan kyk self wat bedoel word wanneer ek daar sê: „die ysige, nie-kind-geregte manier om kinders intellektueel uit die hoë, uit die verte te bedien, soos ‘n TV of outomatiese garagedeur.
    *³ So byvoorbeeld Waldor se bydrag: NOSTALGIE EN WAARDE DAARVAN. Maar ook ander staaltjies en verhaaltjies, soos Elise Breytenbach se MONDSTORIES.
    (Die tyd sal aanhou draai, en die mensdom sal aanhou leef.  Lees my artikels getiteld Die ALLERHOOGSTE,  TEENOORGESTELDES SAAMBRING? en WIE skryf WAT, HOE maar veral HOEKOM?)]

Wie praat saam?

©,2013._________________________________.c]:o).________________________________________.tje



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Insiggewend
Dankie, Toom. Ek stem volkome met jou saam.
6 jaar 6 maande 1 dag 9 ure oud


Taal
'n properse mondvol! Dankie lekker gelees.
6 jaar 6 maande 2 dae 10 ure oud


Taal
Dankie Toom dis baie interessant en ja kinders leef absoluut in 'n ander wêreld deesdae.
6 jaar 6 maande 2 dae 11 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar